Taal van digters, vakmanne en geleerdes

Illustrasie: https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_Afrikaanse_vakwoordeboeke_en_terminologielyste

Na die Anglo-Boereoorlog het Lord Alfred Milner sy pogings om die Boerevolk te verengels verskerp. Hy wou graag hê al die Blankes moes goeie Britse onderdane wees en Engels praat, lees en skryf. Om dit te doen het hy gratis onderwys in Engels aangebied. Onderwys in Hollands was net in privaatskole beskikbaar wat die verarmde Boere nie kon bekostig nie. Hy was ook van plan om Engelse Nedersetters in te voer om die Boerevolk te verswelg met getalle. Dit het tot groot ontevredenheid gelei.

Die Boerebevolking het lank reeds twee tale gebruik: Boere-Afrikaans was hulle alledaagse spreektaal (volkstaal) en Nederlands was die geskrewe taal (kultuurtaal). Die ontwikkeling van Boere-Afrikaans tot ʼn volwaardige taal, wat gelykstaande aan Nederlands en Engels sou wees, het begin met die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Kort na die einde van die oorlog begin ʼn nuwe geslag taalstryders te werk vir die erkenning van Afrikaans. Daar was geen spesifieke leier nie, maar die voortou is geneem deur Gustav Preller in Pretoria en JHH de Waal in Kaapstad. Ander persone wie ook genoem moet word, is Johannes Visscher en ds. Willem Postma in Bloemfontein, Johannes SM Rabie in Pietermaritzburg en DP du Toit in Cradock.

In 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) in Pretoria en in 1906 die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Kaap gestig. Gustav Preller het die voortou geneem met ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die titel Laat’t Ons Toch Ernst Wezen. Dit word beskou as die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Preller se standpunt was dat Afrikaans ʼn beter  kans op voortbestaan het as Nederlands, dat daar geen vyandigheid teen Nederlands is nie en dat daar so na as moontlik gehou moet word aan die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS). Hy het heelwat ondersteuning gekry en dit lei tot die stigting van die ATG in Pretoria en Bloemfontein. Die ATV het hulle beywer vir Afrikaans as skryf- en spreektaal en samewerking met ander liggame wat Afrikaans wou bevorder.

...

Daar was hewige teenstand teen die bevordering van Afrikaans deur De Zuid Afrikaansche Taalbond, predikante, die Afrikaanssprekende elite en Onze Jan Hofmeyr. Die Taalbond het Nederlands as volkstaal beskou. Die teenstanders se argument was dat die Afrikaanssprekendes saam met die Nederlanders en Vlaminge ʼn groter kultuurgroep kon vorm wat beter kultuurprodukte sou kon lewer. Die voorstanders van Afrikaans as kultuurtaal het aangevoer dat Afrikaans sterk van Nederlands afwyk en dat hulle volksgenote nie regtig Nederlands magtig was nie. ʼn Volkstaal word nie bepaal deur die elite nie, dit word bepaal deur die gewone mense.

Die Taalbeweging het dadelik steun gekry deur letterkundige werk van kwaliteit deur persone soos Gustav S Preller, Eugene N Marais, Jan FE Celliers, Totius en C Louis Leipoldt. Van die groepe wat hulle beywer het vir Afrikaans het saamgewerk en die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 gestig. Die Akademie het begin werk aan ʼn Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hierna kon Afrikaans as skryftaal vooruit gaan. In 1914 is Afrikaans erken as skooltaal in die Kaap, Transvaal en Vrystaat. In 1916 word Afrikaans as kerktaal erken. In 1918 het die staat Afrikaans erken, maar nie in wette en amptelike dokumente nie. Van 1925 af erken die staat Afrikaans ook in wette. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is in 1929 gestig.

Die Nederduitse kerke was aanvanklik sterk gekant teen Afrikaans as kultuurtaal. Predikante is opgelei in Nederlands, hulle het ook in Nederlands gepreek. Hulle het Afrikaans as ʼn “barbaarsch patios” beskou. Nadat die staat Afrikaans erken het, is daar in 1919 deur die kerke aanvaar dat Afrikaans naas Nederlands erkenning moes kry. Daar was ook verset teen ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans, maar uiteindelik het daar in 1933 die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit is gevolg deur die Psalmboek in 1937 en die Gesangeboek in 1944.

Die Boere van die 19de eeu was selfonderhoudend en het al die werk self gedoen, hulle moes feitlik alle beroepe beoefen. Hy was veeboer, akkerbouer en veearts. Dan was hy ook smid, wamaker, messelaar en skoenmaker. Verder was hy ʼn jagter, ʼn handelaar en soms ʼn krygsman. Sy vrou was die kok, die kleremaakster, verpleegster en dikwels die onderwyseres. Die vakwoorde van al hierdie beroepe het hulle geken. Hulle het ook die kerk se taal geken. Die Republieke se administrasie en wette was in Nederlands en die Boere het dit ook geken. Afrikaans was ʼn ryk volkstaal met ʼn reeds bestaande en uitgebreide woordeskat.

Nadat Afrikaans staatstaal in 1925 geword het, is besef dat daar baie vertaalwerk gedoen sal moet word. Die wette en staatsdokumente sal nou ook in Afrikaans beskikbaar moes wees. Baie Boere het verstedelik en in die stede was daar gespesialiseerde beroepe met Engelse terminologie. In 1930 word die Sentrale Vaktaalburo gestig. Aanvanklik is staat gemaak op Nederlandse woordeboeke. Vandag is dit moeilik om te onderskei tussen woorde wat reeds in die volkstaal was, woorde wat uit Nederlands geneem is en vindingryke skeppings deur vertalers. In 1948 word die verskillende woordelyste verenig en in 1951 kom die Vaktaalburo tot stand. Hulle koördineer alle terminologiese werk. Hulle gebruik ʼn nuwe werkswyse deurdat die vakman betrek word en medeverantwoordelik word vir die vaktaal. Hulle het ook die publiek en ander taalgebruikers betrek hierby. Sedertdien het daar talle woordelyste en woordeboeke verskyn wat elke vakgebied dek. Boere-Afrikaans het Standaard-Afrikaans geword.

Vandag beskik Afrikaans oor ʼn vakterminologie vir haas elke bedryf en aktiwiteit. Behalwe die terminologie, is ook handboeke van elke beroepsrigting en studierigting beskikbaar. Of dit letterkunde is, of meganika is, of wiskunde is – dit kan in Afrikaans gedoen word. Afrikaans is in staat om in die moderne wêreld alles te doen wat Nederlands en Engels kan doen.

Dit is tragies dat al hierdie werk wat gedoen is, weggesmyt is deur politieke dwaasheid. Weer word Afrikaans bedreig en word die opofferings en werk van vorige geslagte ongedaan gemaak. Dit is ʼn groot skande wat oor ons gekom het en weer reggemaak sal moet word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui