Hoe ons die Boeretaal “gooi”

Illustrasie: https://www.wendymaartens.co.za/kinderboeke/afrikaans/

Ons volkstaal, Boere-Afrikaans, is  ʼn aanpassing van 17de eeuse Nederlands (voordat Standaard-Nederlands ontstaan het). Die veranderinge wat hier plaasgevind het, was dat Boere-Afrikaans ʼn vereenvoudiging van Nederlands geword het. Woordgeslag het verdwyn, daar is nie meer persoonsvorms van die werkwoord nie, daar word nie meer onderskei tussen sterk en swak werkwoorde nie, buigingsuitgange van selfstandige naamwoorde het afgeslyt, werkwoordvorms is vereenvoudig en die lidwoord “het” word nie meer gebruik nie. Afrikaanse leenwoorde kom meestal uit Engels, Maleis en Afrikatale terwyl moderne Nederlandse leenwoorde meestal uit Engels en Frans kom.

Ons het ʼn tradisie om nuwe woorde te skep eerder as om vreemde woorde te leen by ander tale. Voorbeelde van meer onlangse nuwe skeppings is megagreep en skootrekenaar.

Ons naamgewing van plante, insekte en diere toon ons skeppingsvermoë met ons taal. Dit toon ook die stadiums van naamgewing waardeur ons voorgeslagte gegaan het. Aanvanklik is name gekies vanuit ons voorouers se Europese agtergrond, byvoorbeeld vaderlandswilg. Latere name het ʼn Afrika agtergrond, soos kafferboom (“kaffer” beteken van Afrika, nie van Europa nie). Daar is ook leenwoorde uit Afrikatale soos boegoe en koedoe. Daarna word name gegee op grond van die eienskappe daarvan, soos byvoorbeeld tolbos.

...

Sommige plekname kom uit stamlande, ander kom uit die Bybel. Eie skeppinge van plekname eindig dikwels met -pan, -vlei, -spruit, -fontein, -rivier. Ander spreek van nood, soos Welgevonden en Moedverloren. Daar is ook name uit geskiedkundige wedervarings soos Vegkop en Weenen. Daar het ook vernoeming van persone plaasgevind, byvoorbeeld Pretoria en Stellenbosch.

Die gee van byname aan mense is ʼn ou volksgebruik. Dit is meestal gegee om persone met dieselfde name van mekaar te onderskei. Liggaamlike en geestelike kenmerke is gebruik vir die vind van byname. Persone se beroepe, gewoontes en ander unieke eienskappe is ook gebruik. Party byname was om ʼn persoon te spot en ander om iemand te huldig.

Ons het ook ons eie gesegdes geskep. Die ouer gesegdes handel hoofsaaklik oor die ossewa, jag, landbou, veeteelt en die omgewing. Byvoorbeeld: Soos ‘n os neerslaan.

Volksverhale is mondelings oorgelewerde stories en moet onderskei word van letterkunde. ʼn Volksverhaal is kultuurbesit en word oorvertel deur een geslag aan die volgende. Daar is verskillende soorte volksverhale wat oorvertel word.

In volksverhale is daar allerlei wonderlike dinge wat nie in die werklikheid gebeur nie. Diere en ander dinge tree op soos mense en kan ook praat. Ouer verhale vertel van dinge van lank gelede. Voorbeelde van verskillende soorte volksverhale is sprokies, spookstories, liegstories en nog meer.

Ons het ʼn tradisie van storievertellers. ʼn Goeie storie kan ʼn ware verhaal wees wat vermaaklik aangebied word. Dit kan ook grootliegstories, jagverhale, en bangmaakstories wees. Stories word vertel om kampvure, op stoepe en oral waar mense op iets wag en die tyd probeer omkry. Ingesluit hierby is ook die vertel van grappe. Ons het ʼn eie onderskeibare sin vir humor.

Humor is ʼn integrale deel van ons volkstaal. As ons ongelukkig is met iets, skerts ons oor dit om van stres ontslae te raak en ons misnoeë met iets aktueel uit te spreek. Taalvaardigheid word gebruik om iemand te vermaak en te laat lag, selfs wanneer daar slegte nuus of ander negatiewe gebeure is. Dit help ons om nie in sak en as te verval nie.

Daar is ʼn verskil tussen ʼn mite en ʼn volksverhaal. In mites word gepoog om verklarings te vind vir onverstaanbare verskynsels en daar is altyd iets bonatuurliks, soos gode, by betrokke. Volksverhale kom voor by plattelanders en poog om samelewingskwessies aan te spreek

ʼn Legende is ʼn verhaal wat binne die geskiedenis plaasvind. Dit kan dalk waar wees of dalk nie. Dit vertel van gebeure wat moontlik kon gebeur het maar wat nie bevestig kan word nie. Die legendes wat by ons bekend is, sluit in Antjie Somers, Die Vlieënde Hollander en Racheltjie de Beer.

ʼn Fabel is ʼn kort storie met ʼn sedeles. Mense se deugde en ondeugde word uitgebeeld met diere as die karakters. Van die bekendste fabels is Die skilpad en die haas en Die wolf en die skaapwagter.

ʼn Sprokie is ʼn storie oor mense en fantastiese wesens soos feetjies, hekse, reuse, kabouters en mense. Dit is kinderverhale en sluit in Rooikappie, Sneeuwitjie en Die drie varkies. Die bekendste sprokies is van Europese herkoms. Hulle het ʼn drieledige bou met die klem in die derde afdeling.

Raaisels was hoog aangeskryf in die kultuur van die Germane. Dit word gebruik om die hoorders se skerpsinnigheid te toets. Vir die persoon wat eerste die raaisel oplos, was daar ʼn beloning. Allerlei kunsgrepe word in raaisels gebruik: beeldspraak, teenstelling, verswyging, verkorting, woordspeling en dubbelsinnigheid.

ʼn Rympie vertel ʼn eenvoudige verhaal en maak gebruik van rym, ritme en klankherhaling. Dit kom uit ons stamlande maar ons het ook ons eie skeppings. Daar is verskillende soorte rympies, soos wiegrympies, minnerympies, babarympies en speletjierympies.

Sommige van ons volksliedjies is gegrond op Engelse modelle (Sarie Marais). Volksliedjies het behoue gebly by Nuwejaarsaand, bruilof en verjaarsdag geleenthede. Daar word onderskei tussen dansliedjies, piekniekliedjies en minneliedjies. Die volkslied se voortbestaan word bevorder by die boeredans, kinderkrans, piekniek en volkspele. Verstedeliking, kultuurbotsing en kommersiële vermaak is nadelig vir volksliedjies.

Volkstoneel het in die verlede ʼn belangrike rol gespeel op die platteland. Om die gehoor te boei was dit nodig dat die toneel die volkstaal moet gebruik. Daar was ook vroeër debatsverenigings wat gedien het as ʼn intellektuele sentrum vir jongmense.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

2019 Verkiesing – ʼn Raaisel

Illustrasie: https://www.litnet.co.za/verkiesing-2019-vir-wie-om-te-stem/

Waar ek woon is ʼn 95% (ek skat) wit woonbuurt. Hoeveel Afrikaanssprekend is weet ek nie, maar dit moet by ver die meerderheid wees. Die meeste Engelssprekendes kan Afrikaans praat. Verder val ons onder ʼn DA munisipaliteit. Ons het gevolglik baie beter dienslewering as wat die naburige ANC munisipaliteit lewer. Met die laaste munisipale verkiesing was die blankes se argument dat hulle DA stem ter wille van munisipale dienste.

Op ʼn plaaslike geselsgroep spog ʼn DA-ondersteuner vanoggend dat 79% van die wyk DA gestem het. Die goeie nuus is dat 21% nie vir die DA gestem het nie. Ek vra toe hierdie persoon of hulle AA, BEE, EWC ondersteun. Die persoon se antwoord was: “He?”. Ek antwoord dit is mos DA beleid? Ek het nie eers aborsie genoem nie.

Wat kan mens hieruit leer? Hoekom dink hulle die uitslag in die wyk is belangrik? Dink hulle dit het iets met plaaslike regering te doen gehad? Tweedens weet hulle skynbaar nie wat hulle party se beleid is nie. Hierdie wit mense stem vir wit werkloosheid, wit besighede se ondergang, wit mense se besittings wat sonder vergoeding afgevat gaan word. Ek dink nie dit is wat hulle regtig wil hê nie.

Wat is fout met hierdie witmense wat DA stem? Is dit ʼn kwessie van ondergemiddelde IK? Weet hulle nie wat om hulle aangaan nie? Stel hulle nie belang om te weet wat om hulle aangaan nie? Is hulle gebreinspoel?

Nog iets wat ek agterkom is dat van hierdie mense bang is om uit te vind wat om hulle aangaan. ʼn Paar weke terug was daar twee ontploffings hier naby. ʼn Paar mense het paniekerig geword. Die snaakse is dat niemand verder probeer uitvind het waar dit was en wat dit was nie. As jy probeer vra kry jy die antwoord dat dit verby is en dat jy nie ou koeie uit die sloot moet grawe nie. Die ander populêre antwoord is dat hulle nie politiek praat nie.

Wat dink jy? Hoe verstaan mens die witmense en hoe gaan hulle ooit bykom?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk se eie wetenskap

Illustrasie: https://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/oom-herrie-se-kerrie-waterwys/

Kultuur kan ook die beskawingstoestand van ʼn volk beskryf. Volkswetenskap beskryf hoe ons volk sy eie natuurkunde ontwikkel het voordat die moderne wetenskap tot stand gekom het. Dit beskryf die kennis en kundigheid wat tradisioneel eie aan ons volk is en van een geslag na die ander oorgedra is. Volkswetenskap kom tot stand uit waarneming van die natuur. Die moderne wetenskaplike metode gebruik waarneming, eksperimentering, meting, wiskunde en herhaling om kennis te verkry.

Ons stamouers kon nie die waarnemings en kennis wat hulle in Europa gehad het, gebruik nie want die omstandighede in die Kaap was baie anders. Hulle was wel goeie waarnemers van die natuur. Hulle het die grond, die plante, die insekte en die diere se aard en gedrag geken. Die moderne wetenskap het toe nog nie bestaan nie. Natuurlik is daar foute gemaak, maar daar was ook baie korrekte gevolgtrekkings gemaak. Die moderne wetenskap kon van dit later bevestig, alhoewel die metode om daarby uit te kom verskil het.

Ons voorouers was oplettende mense. Jy moes weet wat in die natuur om jou aangaan en dit wat jy oplet, moes jy onthou. Mettertyd kom jy agter dat iets wat jy opgelet het by herhaling gebeur. Jou waarneming is dan dat indien een saak teenwoordig is, dit beteken dat iets anders daarmee verbind kan word. Die versameling van al hierdie gegewens gee dan aan jou natuurkennis wat jy dan weer aan jou kinders kan oordra.

...

Hulle moes hulle goggas ken. Wat is hulle funksies, veroorsaak hulle peste en plae, kan hulle jou wys waar water is en of dit gaan reën? Wat van die voëls? As jy hulle dophou sal een jou wys waar daar heuning is en die kwêvoël sal jou waarsku. Jy moes die wilde diere se gewoontes ken as jy gaan jag vir die pot. Party wilde diere se gedrag kan jou waarsku dat dit gaan reën. Die veeboer moes natuurlik ook sy eie vee goed ken. Hy moes ook veesiektes ken en behandel.

Die beskikbare weiding kan goed of sleg wees vir jou vee. Een soort grond is goed vir ʼn sekere gewas maar sleg vir ʼn ander gewas. Plante kan ook aandui waar daar ondergrondse waterare is. Jy moet weet watter bome se hout jy kon gebruik en natuurlik ook waarvoor jy dit kan gebruik.

Daar was ook ʼn geloof dat vure rondom gesaaides en binne vrugteboorde beter oeste tot gevolg het. Die rook het blykbaar teen ryp en insekte gehelp. Daar word gesê dat muggies nie tussen bloekombome voorkom nie en dat kakiebos ook goggas verdryf.

Die maan speel ʼn belangrike rol in die natuurmens se lewe. Daar word geglo dat die maan alles op aarde beïnvloed, ook die plante, diere en mense. Een waarneming het te doen met die beste tye om te plant, ʼn ander met wanneer die beste snoeityd is. Daar word ook geglo dat die maan ʼn invloed uitoefen op die bloedsomloop van lewende wesens. Met volmaan is die bloed glo op “hoogwatermerk” en met nuwemaan op “laagwatermerk”. Hiervolgens moes jy nooit vee kastreer met volmaan nie en was dit beter om met nuwemaan te slag. Daar is ook geglo dat die maan ook die beste visvangtye aandui.

Die natuurmens glo dat die maan ʼn invloed het op die weer. Kennis van maansveranderinge help met die voorspelling van weersveranderinge. Daar word gelet op die fases van die maan. Sommiges meen dat die halfmaan wat “skep” beteken dat dit nie gaan reën nie en dat die halfmaan wat “gooi” beteken dat dit gaan reën. Daar word geglo dat dit die meeste ryp op maanligaande.

Vir die pioniers in die binneland was die beskikbaarheid van water krities. Die Karoo is droë wêreld, en noord van die Oranje is daar ook dikwels droogtetoestande. Die pioniers het die weer dopgehou en dan waarnemings gemaak. Een metode is om die gesteldheid van die lug waar te neem. Kennis van die wolke is belangrik want dit dui op watter weer later verwag kan word. Hoe hoog die wolke is kan toon of die wolke naby ʼn versadigingspunt is en of reënweer verwag kan word. Die kleur van die hemelruim is ook belangrik. Indien die lug in die oggend rooi is, kan reënweer dieselfde dag verwag word. Indien die lug met sononder rooi is, kan mooiweer verwag word. Weerlig in die middel van die nag voorspel reën vir ʼn paar dae.

Die voorkoms van droogtes het ons protestantse voorouers leer bid vir reën, want hulle het hulle totale afhanklikheid van God besef. Biddae en dankdae is steeds deel van ons kultuur.

As daar nie genoeg bogrondse water beskikbaar is nie, en die reën bly weg, dan moet daar gesoek word na ondergrondse water. Dit word gedoen deur waterwysers. Sommige persone, miskien een uit honderd, het die vermoë om ondergrondse water op te spoor. Daar word gemeen dat die beweging van die water wrywing veroorsaak. Die wrywing veroorsaak dan ʼn magnetiese of elektriese uitstraling wat deur sensitiewe persone aangevoel word. Die waterwyser moet ook kennis van waterare en kruispunte hê.

Meeste waterwysers gebruik apparate in hul soeke na water. Meestal word ʼn mikstok gebruik, die mikstok beweeg wanneer oor die aar geloop word. ʼn Ander apparaat is L-vormige drade wat ook in die waterwyser se hande beweeg wanneer daar oor are geloop word. Nog ʼn apparaat is om ʼn bottel vol water op die handpalm te dra. Daar is ook sekere persone wat met die blote oog water kan opspoor.

Om ondergrondse water op te spoor is reeds ʼn groot hulp. Dit is ʼn verdere hulp om te weet hoe diep en sterk die water is. Sommige waterwysers het vir hulleself tegnieke ontwikkel waarmee hulle diepte en sterkte kan bepaal.

Daar is ʼn minderheid mense wat waterwys as towery of iets dergeliks beskou. Ondervinding toon egter dat waterwysers meer betroubaar is as geoloë.

Die moderne stedeling het nie die voorgeslagte se natuurkennis meer nodig nie want hy het toegang tot die moderne wetenskap. Landbouers het ook toegang tot die moderne wetenskap en gebruik dit ook. Nogtans is daar nog steeds mense wat natuurkennis gebruik om te weet wat die weer gaan doen. Daar is nog steeds waterwysers wat gebruik word.

Die voorgeslagte se natuurkennis is nie vergete en verlore nie, dit word nog steeds oorgedra en gebruik.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is Volksgeloof?

Illustrasie: https://nl.wikipedia.org/wiki/Spook#/media/File:William_Hope_001.png

Volksgeloof en kerkgeloof is twee heeltemal verskillende sake. Volksgeloof is nie ’n godsdienstige of wetenskaplike oortuiging nie. Sommige mense verkeer onder die indruk dat iets deur bonatuurlike magte of kragte veroorsaak word. Hierdie mense poog dan om hierdie magte of kragte te benut of teen te werk. Meestal is dit om geluk te bekom en ongeluk te vermy.

Baie lank gelede was ons Germaanse voorgeslagte heidene. Nadat hulle gekersten is, was hulle vir eeue Christene, waarskynlik Rooms-Katoliek. Ons direkte voorgeslagte het, as Protestante, met die Rooms-Katolieke Kerk gebreek. Ons stamouers was stoere Calviniste wat hulle nie met  òf heidense òf katolieke praktyke opgehou het nie. Ons sou dus kon dink dat ons geen volksgeloof erfenis het nie.

Het jy al gehoor dat die getal 13 ongelukkig is?  Dat ’n gebreekte spieël sewe jaar van ongeluk veroorsaak? ’n Hoefyster aan die deur is ’n gelukbringer? ’n Swart kat bring ongeluk en ’n molpootjie bring geluk? Al hierdie goed is bygelowe wat ons vandag nog teenkom. Waar kom dit vandaan as dit nie van ons stamouers af  kom nie?

...

Almal het seker gehoor van dwergies, feetjies, kabouters en elwe. Ook van meerminne en weerwolwe. Dwergies is aardmannetjies wat snags uitkom. Feetjies is vriendelik en beskerm mense. Kabouters bly in die dakstrooi en is aan daardie huis verbonde. Elwe is die siele van afgestorwenes wat in bosse, berge en riviere woon. Dan is daar is ook nog Klaasvakie, die tandemuis en die ooievaar wat babas bring. Vandag weet ons van hulle uit kinderstories. Ons weet hulle bestaan nie regtig nie.

Paaiboelies (kinderskrikke) se doel is om kinders se gehoorsaamheid te bevorder of om hulle van gevaarlike plekke af weg te hou. Paaiboelies kan mense, halfmense, diere of leweloses wees. Antjie Somers is een.

Die moderne wetenskap het betreklik onlangs tot stand gekom. Voor dit was daar geglo dat die aarde plat is, dat die maan geestesversteurings veroorsaak, dat die sien van ʼn verskietende ster jou wense sal bewaarheid. Die eet van geelwortels gee krulhare, klawervier is ʼn gelukbringer. Daar was geglo in fabelagtige diere soos die griffioen en eenhoring – dit word nog steeds in heraldiek gebruik. ʼn Uil is ʼn onheilsbode en vlermuise sit vas in mens se hare. Vandag is daar beter kennis beskikbaar en is hierdie gelowe net vir vermaak.

Die geloof in spoke is oeroud en kom voor in meeste kulture. Die mens se gees is ’n aparte innerlike wese wat met iemand se dood sy liggaam verlaat. ’n Spook is dan hierdie gees van ’n afgestorwene wat nie tot rus kom nie en ronddwaal. Spookgestaltes is soms sigbaar en soms onsigbaar. Hulle is plekgebonde en moet ’n mens kry om hulle te help. ’n Hemeling is ’n plaagsugtige of bose gees. ʼn Goeie spookstorie is goeie vermaak. Maar wie weet verseker dat daar nie spoke is nie?

Hekse ken ons net uit storieboeke en flieks. Blanke towenaars is hoofsaaklik daar om siektes te genees of boosdoeners aan die pen te laat ry. Hulle word “besprekers” genoem. Goëlery is waar een persoon deur ʼn ander geteister word deur bonatuurlike magte. Afweermiddels wat gebruik word is ʼn perdeskoen, knoffel, ʼn Bybel, ensovoorts. Die dinge is vreemd aan ons Protestantse erfenis en het vanuit ander oorde by ons aangekom. Tog is daar individue wat dit glo en beoefen. Spiritisme kom nie in ons kultuur voor nie. Hierdie goed is nie onskuldig nie en moet vermy word.

ʼn Nagmerrie in volksgeloof is iets anders as ʼn slegte droom, dit is ʼn nagbeklemming wat feitlik tasbaar is. Soms word ʼn gestalte gesien, die gestalte beklem die bors en asemhaling word berem. Dit is ʼn boosaardige aanval en bestaan regtig en kan ook as geestelike oorlogvoering gesien word. Daar word gemeen dat iemand van gedaante verander om snags boosheid te pleeg. Perde word ook aangeval en is die volgende oggend natgesweet en ontsteld.

Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan gebeur. Gaan die ongetroude ʼn lewensmaat vind, gaan die sieke genees word, gaan geldsake verbeter? Waarsêers gebruik die sterre, die lees van handpalms en tarot kaarte om die toekoms te voorspel. Swart toordokters gooi dolosse. Protestante keur hierdie praktyke af, en meeste mense dink dit is bog. Nogtans is daar tog mense wat hulle hiermee ophou.

Voorbodes of voorspooksels is ʼn aanvoeling van naderende onheil, byvoorbeeld sterftes. Drome word gesien as boodskappers van God. Hemelse gesigte se doel is bekering of ʼn boodskap aan iemand wat op sterwe lê. Daar is ook persone wat as “eie profete” beskou word. Hierdie sake kom ook in ʼn Christelike konteks voor maar is nie noodwendig deel van kerkgeloof nie. Ons volksgeskiedenis het verskeie voorbeelde van besluite wat geneem is op sterkte van drome en die woorde van profete. Maak seker dat dit eg is voor jy keuses maak en besluite neem.

Daar is ook “christelike” bygelowe. Die duiwel word voorgestel met bokhorings, bokpote, drietand vurk en ʼn pylstert. Engele word voorgestel om soos mense met vlerke te lyk. Die vrug wat Adam en Eva geëet het was ʼn appel. Vermoedelik is hierdie van Rooms-Katolieke oorsprong. Hierdie sienings is foutief, maar daar is tog mense wat dit glo.

Kersfees en Paasfees is oorspronklik nie deur ons stamouers gevier nie. Dit het eers na die Britse besetting in 1806 ingesluip. Albei feeste bestaan gedeeltelik uit Bybelse en gedeeltelik uit heidense gebruike. Dit is nie suiwer Christelike of Bybelse feeste nie en behoort gesien te word as volksfeeste.

Ons Protestantse voorouers was sterk gekant teen onbybelse gelowe en praktyke, hulle het dit as afgodery gesien. Nogtans het sommige van hierdie bygelowe oorgebly uit die Oud-Germaanse tyd, miskien omdat dit hoofsaaklik vir kindervermaak is. Die Engelse kultuur was minder streng en ons het van die Oud-Germaanse gelowe by hulle oorgeneem. In ʼn minder mate, maar meer skadelik, het ons sommige gelowe en praktyke by Maleiers en Bantoes geleer.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin