Seuns van God en dogters van mense

Illustrasie: https://e-watchman.com/noahs-flood-and-kangaroo-migration/

Genesis 6 verse 1 tot 8 vertel van hoe יהוה spyt was dat Hy mense geskape het en hoe Hy toe alle lewende wesens op aarde – behalwe Noag, sy gesin en die diere op die ark – uitgewis het deur middel van die vloed. Hierdie gedeelte is baie kort, uiters kompleks en moeilik om te verstaan.

Volgens die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) vertaling, lees Gen. 6:1-8 soos volg: Dit het gebeur dat die mense oor die oppervlakte van die aarde begin vermeerder het en toe daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was en hulle het vir hulle almal wat hulle verkies het, as vroue gevat. יהוה het gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie omdat hy ook vlees is; laat sy tyd een honderd en twintig jaar wees.” Daardie dae was daar reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit. יהוה het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde en dat elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, altyddeur boos was en יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. יהוה sê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het van die aarde af vernietig, die mens sowel as die diere, die reptiele en die voëls van die hemel; Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.” Noag het egter guns gevind in die oë van יהוה.

Die eerste probleem is: wie is die seuns van God en wie is die dogters van mense? Die persoonlike naam יהוה word deurgaans in die teks gebruik, hoekom is vers 2 anders deur van “seuns van God” te praat – beteken dit hulle is nie seuns van יהוה nie? יהוה se eerste reaksie was om Sy Gees in mense te beperk en die mens se leeftyd te verminder. Die kinders van die seuns van God en die dogters van mense was reuse. Wat presies was hierdie reuse? Was net hierdie vermenging die groot boosheid in die mens, of was daar ander dinge ook? Wat het die diere, die reptiele en die voëls met die mens se boosheid te doen?

...

Die goue reël met die verstaan van die Bybel is dat die Skrif die Skrif verklaar. Met ander woorde, as jy ʼn gedeelte nie verstaan nie, moet jy ʼn ander gedeelte raadpleeg wat meer lig op dieselfde saak werp. Ongelukkig kan ons dit nie doen met hierdie gedeelte nie want daar is nie elders in die Bybel meer inligting oor hierdie saak nie. Daar is wel ʼn paar tekste wat na iets hiervan verwys, maar dit verklaar nie hierdie gedeelte nie. Dit as asof יהוה nie dink ons hoef meer te weet nie. As gevolg hiervan word verklarings op ander maniere gesoek. Een metode is om apokriewe boeke te raadpleeg. ʼn Ander is om ʼn studie van die Hebreeuse woorde te maak. Daar is selfs pogings om Hollywood flieks te gebruik as verklaring (dat die seuns van God  ruimtewesens was).

Die gewildste verklarings van die “seuns van God” is dat hulle gevalle engele is, of dat hulle magtige menslike regeerders was of dat hulle die afstammelinge van Adam se seun Set was. Die “dogters van mense” word gesien as menslike vrouens in die algemeen of dan die vroulike nageslag van Adam se seun Kain. Die reuse word gesien as werklike reuse wat bestaan het, of as net baie groot mense, of as magtige mense. Die verdeeldheid hieroor is baie groot, vir elke standpunt wat geopper word, is daar ʼn sterk beswaar daarteen.

Die argument vir engele as die “seuns van God” berus daarop dat die “seuns van God” en die “dogters van mense” twee verskillende wesens beskryf, naamlik nie-menslike wesens en menslike wesens. Hulle kinders is ʼn vermenging van die twee soorte wesens. Satan sou op hierdie manier gepoog het om te verhoed dat die Gesalfde gebore kan word. Die apokriewe boek van Henog volg hierdie siening. Besware hierteen is dat daar nooit in die verdere geskiedenis van die mensdom so iets gebeur het nie, elders in die Bybel word engele beskryf as geestelike wesens wat geslagloos is, dit is nie vir een spesie moontlik om met ʼn heeltemal ander spesie te vermeng nie en Hebreeuse Ou Testamentiese geleerdes het dit heeltemal verwerp. In Lukas 3:38 word Adam beskryf as die seun van God en Jesus word in Lukas ook die Seun van God genoem.

ʼn Baie ou siening onder Joodse en Christelike geleerdes is dat die “seuns van God” die afstammelinge van Adam se seun Set is wat met Adam se seun Kain se nageslag ondertrou het en wie se kinders reuse was. As Adam die seun van God is, dan is al sy kinders dit ook. Kain het wel eenmaal gesondig, maar dit maak hom nie ʼn ander spesie as sy broer Set nie. Gevolglik kan daar niks verkeerd wees as hulle nageslag met mekaar ondertrou nie.

Die Hebreeuse woord nephilim word dikwels vertaal as “reuse”. In Genesis 6 is dit nie baie duidelik of die reuse die seuns van God is en of dit hulle kinders is nie. Hierdie reuse is met die vloed uitgewis en gevolglik kan die Enakiete nie hulle afstammelinge wees nie. In Numeri 13:32-33 rapporteer die 12 spioene dat die Enakiete reuse (nephilim) is, dit beteken waarskynlik buitengewoon groot en sterk mense waarvoor hulle bang is. In Esegiël 32:27 word indirek na nephilim verwys met die woorde “gevalle helde”. Een vertolking van hierdie vers uit Esegiël lees: They lie with the warriors, the Nephilim of old, who descended to Sheol with their weapons of war. They placed their swords beneath their heads and their shields upon their bones, for the terror of the warriors was upon the land of the living. (Ronald S Hendel). Dit wil dus voorkom of die reuse die persone is wat beskryf word as: Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit.

In die tydperk voor Noag het mense baie oud geword, baie het 900 jaar gehaal. Dit het beteken dat iemand ʼn verskriklike groot nageslag gehad het toe hy gesterf het. Meer nog, wat het so ʼn persoon alles in sy lewe vermag? As hy hom dit ten doel gestel het om goeie dinge te doen, moes hy verskriklik baie goeie dinge in sy leeftyd gedoen het. As hy egter net boosheid nagejaag het, moes hy ontsettend baie bose dinge gedoen het, die een erger as die ander. Dit is waarom יהוה besluit het om die mens se leeftyd korter te maak, ʼn persoon van 120 jaar kan nie soveel boosheid pleeg as wat ʼn persoon van 900 jaar kon nie.

Van Adam tot die vloed was omtrent 2,500 jaar en van die vloed tot vandag toe omtrent 3,500 jaar. Die 2,500 jaar was ʼn baie lang tyd waarin die mens enorme vooruitgang kon gemaak het en ook enorme boosheid kon gepleeg het. Die populêre siening van die eerste mense as grotbewoners wat moes leer om vuur te maak is in stryd met die Bybel. ʼn Paar terloopse opmerkings in Genesis 4 dui daarop dat daar ʼn groot beskawing voor die vloed was. Hoeveel mense daar op aarde was en waar hulle gewoon het, weet ons nie. Om hierdie lang tydperk te verstaan kan ons dit vergelyk met die geskiedenis van 500 voor Christus tot vandag. Ons kan sien hoe bevolkingsgetalle toegeneem het, hoe die wetenskap gevorder het, ensovoorts.

Wat die presiese boosheid van die mens voor die vloed was, weet ons nie. Dit was duidelik baie erg. יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. Daar is ook ʼn aweregse verklaring van Gen. 6:1-8 wat nie veel steun het nie. Dit sien die “seuns van God” as mense wat deur God geskape is en die “dogters van mense” as wesens wat deur mense “geskep” is. Daar was ʼn gepeuter met mense, diere, reptiele en voëls se DNA en daar het wesens ontstaan wat teen יהוה se skeppingsorde ingedruis het. In die proses het mensagtige wesens ontstaan. In vandag se lewe is daar reeds cyborgs en word daar gestreef na die verbetering van die mens en onsterflikheid. Wetenskapfiksie wat waar word. ‘n Groot boosheid in ons tyd.

Daar is nie ʼn verklaring vir hierdie gedeelte waaroor almal saamstem nie, en elke verklaring is eintlik maar net ʼn opinie. Die feit is dat יהוה alles voor Hom uitgewis het en van voor af begin het met die nageslag van Noag.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Afgeskafte feeste

Illustrasie: https://www.boeredansgroep.co.za/wgallerydisplay.php?album_id=252282#gallery-16

Een van die gevolge van die 1994 oorgawe was dat al die openbare vakansiedae wat op ons volksfeeste betrekking het, afgeskaf is. Slegs 16 Desember het as openbare vakansiedag bly voortbestaan, maar nie meer as Geloftedag nie.

Die eiesoortigheid van ons volksfeeste voor 1994

Daar is ʼn merkwaardige eiesoortigheid in ons volk se gebruike met feeste. Daar is sekere elemente wat by elke volksfees voorkom. Verder is dit merkwaardig dat hierdie gebruike regdeur die land voorkom het.

Daar is altyd ʼn godsdienstige element by volksfeeste. Opening word met skriflesing en gebed gedoen en op dieselfde manier afgesluit. Baie feeste het ook ʼn soort kerkdiens as ʼn belangrike item op die program. Meestal was dit susterkerklik van aard met ʼn preek en godsdiensliedjies.

...

Toesprake by ʼn volksfees bring ʼn boodskap wat gepas is by die geleentheid. Dikwels is die spreker welsprekend en praat op ʼn hoogdrawende manier. Ons as volk het ʼn neiging om van ʼn leier te verwag om ʼn goeie spreker te wees en om van ʼn goeie spreker te verwag om ʼn goeie leier te wees. Daar het ook ʼn gewoonte ontstaan dat politici gekies word as sprekers en dat politiek ingesleep word by suiwer kultuursake.

ʼn Tekortkoming van ons volk is dat ons stilbly en luister en dit wat ons hoor as reg en goed aanvaar. Ons praat nie terug nie en vra ook nie vrae nie. Ons is deur die kerk, politiek en kultuur gekondisioneer om so te wees.

Musiek en sang het nog altyd gesukkel om by volksfeeste ʼn regmatige plek te kry. Ons mense het nie ʼn spontane sanglus nie en verkies om luisteraars te wees.

Feeskomitees streef daarna om feeste by monumente en gedenktekens te hou. ʼn Monument of gedenkteken is ʼn sigbare teken van dit waaroor die fees gaan. Ons het twee soorte monumente en gedenktekens: eerstens die wat ons herinner aan belangrike geskiedkundige gebeurtenisse en tweedens die wat ter ere van “groot manne” opgerig is.

Feeste wat in 1994 afgeskaf is

Majubafees op 27 Februarie. Nadat Brittanje die ZAR beset het, was daar groot ontevredenheid onder die burgers van die ZAR. Daar is ʼn groot vergadering by Paardekraal gehou en op 16 Desember 1880 het hulle die Bloedrivier Gelofte herbevestig en trou aan mekaar gesweer. Die burgers het ʼn groot klipstapel daar opgerig as getuienis van hulle erns.

Op 27 Februarie 1881 het hulle met die Britse magte slaags geraak by die berg Majuba. Die Slag van Majuba was die grootste nederlaag tot daardie datum toe in Groot Brittanje se militêre geskiedenis. Op 31 Mei 1882 het die nuwe Volksraad van die ZAR die erkenning vir die oorwinning aan ons hemelse Vader te gee. Hulle het ook onderneem om dit aan die nageslag bekend te maak en om die dag as ʼn openbare vakansiedag te proklameer. Sedert1888 is Majubadag op groot skaal gevier. In 1994 is hierdie herdenking deur die nuwe regering afgeskaf. Sedertdien word dit nog deur kultuurorganisasies gevier en daar is elke jaar ʼn fees by Majubaberg.

Die feesprogram kan bestaan uit die sing van volksliedere, vlaghysing, optogte en vlae, godsdiens oefening, toespraak, boeresport en skyfskiet.

Stigtingsdag op 6 April. Met die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme is daar doelbewus gesoek na geskiedkundige gebeure wat feestelik herdenk kon word. Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 aan wal gestap. Die eerste herdenking van 6 April was in 1933 en dit is in 1938 as volksfees aanvaar.

Op 6 April 1952 was dit die 300-jarige herdenking van die van Riebeeck landing. Die hooffees was in Kaapstad, maar daar was ook kleiner feeste in talle dorpe regdeur Suid-Afrika. Hierdie herdenkings het geskiedkundige opvoerings en godsdienstige byeenkomste ingesluit. Van Riebeeckdag het van 1952 af ʼn openbare vakansie dag geword.

In 1980 is die naam van die fees verander na Stigtingsdag. Dit is in 1994 deur die nuwe regering afgeskaf. Die sogenaamde van Riebeeck gelofte was ʼn voorgeskrewe gebed van die VOC wat deur van Riebeeck gelees was. Daar was op daardie stadium geen gedagte aan volksplanting nie.

Hemelvaart, gewoonlik in Mei. Hemelvaart is ʼn kerkfees wat in verskeie lande gevier was. Dit herdenk die hemelvaart van Jesus Christus, toe Hy opgevaar het na die hemel om aan die regterhand van die hemelse Vader te gaan sit. Volgens die berekeningsmetode wat in Westerse kerke gebruik word, val Hemelvaart veertig dae na Eerste Paasdag en 10 dae voor Pinkster. Hemelvaart val altyd op ʼn Donderdag.

In baie lande is dit ʼn openbare vakansiedag wat met ʼn kerkdiens gevier word. In Suid-Afrika is hierdie vakansiedag in 1994 afgeskaf. Hemelvaart word nog hier en daar as ‘n kerkdiens gehou.

Republiekdag op 31 Mei. Daar het drie belangrike gebeure op 31 Mei plaasgevind: Op 31 Mei 1902 het die Bittereinders vrede met Groot Brittanje gesluit, op 31 Mei 1910 het die Unie van Suid-Afrika ontstaan en op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika ontstaan. Op 1 Mei 1994 het Suid-Afrika weer tot die Statebond toegetree en is die 1961 uittrede ongedaan gemaak.

31 Mei 1902 kan Bittereinder-dag genoem word. Aangesien slegs Bittereinders betrokke was, sluit dit hanskakies en hensoppers uit. Dit was ʼn droewige geleentheid, want toe het ons ons vryheid en eie vaderland verloor. (Dit is in 1994 weer verloor.) Dit was nie ʼn openbare vakansiedag nie en sou dit gevier gewees het, sou dit vir ons volk ʼn dag van hartseer gewees het.

Op 31 Mei 1910 is verskeie lande en gebiede wat deur Brittanje verslaan is, saamgevoeg in ʼn nuwe Britse kolonie, die Unie van Suid-Afrika. Daarmee het ʼn multi-etniese staat tot stand gekom wat meer probleme geskep het as wat daar voorheen was. Uniedag was ʼn openbare vakansiedag tot en met 1960. Die dag was ʼn feestelike geleentheid vir Engelse en die hanskakies en hensoppers.

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 ontstaan en geduur tot 1994 toe. Die koms van ʼn republiek was ʼn blye dag en is op groot skaal en met groot vreugde gevier. Ons volk het gemeen dat dit die verlies van 1902 sal herstel en ʼn nuwe toekoms sal inlei. Hierdie dag was gevier as Republiekdag en was ʼn openbare vakansiedag. Die ouer garde onthou nog die Republikeinse Ideaal en het dit aan hulle nasate oorgedra. Dit was ʼn minder gelukkige dag vir Britsgesindes. Ongelukkig was die Republiek steeds ʼn voortsetting van die multi-etniese Unie en het daar geen Volksrepubliek tot stand gekom nie.

Skynbaar word hierdie dag nie meer gevier nie.

Heldedag op 10 Oktober. In die Boererepublieke was daar feesdae op die President se verjaardag. Dit is sedert 1861 in die OVS gedoen en vanaf 1874 in die ZAR (met President Burgers se verjaardag). Op so ʼn dag was daar vlae, saluutskote, partytjies en danse. In 1882 is daar begin met die viering van Paul Kruger se verjaardag en ʼn vakansiedag is ingestel. Paul Kruger was toe nog nie president nie maar was toe reeds ʼn besondere simbool vir sy volk. Die dag was bekend as Landsvaderfees. In 1888 was daar ʼn groot fees met boeresport en toesprake.

Na 1902 was daar pleidooie om 10 Oktober ʼn openbare vakansiedag te maak, dit het eers in 1948 gebeur. Die dag was eers bekend as Krugerdag en later as Heldedag ter ere van alle volkshelde van die verlede. President Steyn en genl. Christiaan de Wet het ook in Oktober verjaar. 10 Oktober 1899 was die datum waarop die Anglo-Boereoorlog begin het.

Die Krugerfees van 1949 het saamgeval met die vyftigjarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. In 1994 is hierdie dag afgeskaf en word tans nog steeds onder ons volk gevier. ʼn Onlangse fees het die volgende items ingesluit: verootmoedigingsdiens, toesprake, boeresport, skyfskiet en tradisionele eetgoed.

Al hierdie feeste was belangrik vir ons volk. Dit was nie belangrik vir die ander etniese en multikulturele mense in Suid-Afrika nie en is gevolglik afgeskaf as openbare vakansiedae. Om nog steeds ons volksfeeste te handhaaf hang nou van onsself af. Ons kan kies tussen die voortbestaan van feeste of ons kan dit ook in die asblik gooi. Volksfeeste kan ʼn goeie geleentheid wees om ons as volk bymekaar te bring.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die ware Boerekerk

Illustrasie: http://www.volkstaat.org/index.php?option=com_content&view=article&id=1137:boere-kerk-werner-kruger&catid=59:laaste&Itemid=109

Toe die VOC moes besluit wie Vryburgers mag word, is daar gelet op goeie sedelike gedrag, voorbeeldige karakter en Protestantse christelikheid. Hierdie kriteria is streng toegepas tot en met 1806, toe die Britte die Kaap beset het. Dit was die karakter van ons voorgeslagte en hierop is ons volk gebou.

Ons stamouers was baie gesteld op ʼn christelike leefwyse en het ʼn patroon ontwikkel waar daar binne die gesin ʼn tafelgebed met elke ete was. Toe hulle na 1715 begin het om die binneland in te trek, het dit moeilik geword om gereeld kerkdienste by te woon. Dit is waar Boekevat en Huisgodsdiens begin het.

Elke aand, na die aandete, was die hele gesin, die kuiermense en huisbediendes teenwoordig. Die vader van die huis het dan die Familiebybel geneem en oopgemaak by ʼn gedeelte wat hy wou lees. Van die kinders is verwag om op te let en na die voorlesing vrae daaroor te kan antwoord. Daarna sluit die vader dit af met gebed en ʼn paar godsdiensliedere word gesing. Dit is wat Boekevat genoem word. Boekevat was tot in die 20ste eeu nog op plase gehou, maar nie meer in die stede nie.

...

Op die voorposte het die werksweek omstreeks 12 uur op die Saterdag geëindig. Die boerderywerk word gestaak, die gereedskap word gebêre en die werf word skoongemaak. Die week se roetine is verbreek, daar word gebad en skoon klere aangetrek. Teen 4 uur drink die gesin koffie. Saterdagaand word daar gekuier of die gesin vermaak hulleself. Indien daar ʼn dans in die omgewing is, was dit bygewoon. Die kinders kon tot donker speel. Die Sondagoggend word begin deur noodsaaklike take te doen, dan word Sondagdrag aangetrek en om 10 uur die oggend kom die gesin bymekaar in die voorkamer vir Huisgodsdiens en die voorlees van ʼn preek. (In later jare kon na ʼn preek oor die radio geluister word). Die res van die dag was rustig, die kinders moes stil wees. Daar was ʼn groot middagmaal en daarna word daar eers gerus. Later die middag word saam met bure en ander mense gekuier. Almal dra hul Sondagklere, drink koffie en gesels.

Mense wat ver van die naaste dorp was, kon maar selde ʼn kerk besoek. Hulle het moeite gedoen om minstens 1 nagmaal per jaar by te woon. Hierdie was ʼn groot geleentheid, die wa moes in gereedheid gebring word, kos moes voorberei word vir die reis en die beddegoed en klere moes nagesien word. Daar moes voorberei word vir alle sake wat op die dorp gedoen moet word. Produkte om verkoop te word (huide, velle, kerse en seep) moes reggekry en gelaai word. Alle kerklike sake sal op die dorp gedoen moet word (soos doop, katkisasie, aanneming, voorstelling en huwelik). Die waens en tente is op die kerkplein opgeslaan. By die nagmaal was daar ʼn blye weersiens van familie en vriende. Jongmense kry kans om lede van die teenoorgestelde geslag te leer ken. In die 20ste eeu het hierdie manier van nagmaalviering verander weens beter vervoer en verstedeliking. Vandag is nagmaal deel van die gewone eredienste en is dit vir almal moontlik om dit gereeld by te woon.

In die 20ste eeu kon selfs die mense op plase Sondae die kerk besoek. Saterdag het ʼn dag van inkopies en georganiseerde sport geword. Voor 1994 was daar Sondagwette wat bepaal het dat slegs noodsaaklike werk op Sondae gedoen mag word. Die meeste mense het nie op Sondae gewerk nie en was tuis by hulle gesinne. Hulle kon nie op Sondae gaan inkopies doen nie want die winkels was toe. Dit was ʼn goeie geleentheid om dorp toe te gaan en te sien wat in die winkelvensters uitgestal word. Voor die koms van televisie was kuier by vriende en familie gewild. Daar was parke waar mense kon gaan piekniek hou en ontspan. Aangesien die regering al die burgers van die land se belange moes behartig en godsdiensvryheid moes waarborg, was wetgewing nie gemik daarop om gewetensvryheid te beperk nie. Sport op Sondae is toegelaat ten spyte van die teenkanting van kerke. Vandag is dit iemand se eie keuse hoe hy Sondae wil deurbring.

In die 20ste eeu het ouers die volle godsdienstige opvoeding van hulle kinders in die hande van die kerk en skool geplaas. Kinders het voor 1994 ʼn Bybelperiode in die skool gehad, Sondae is die kinders Sondagskool en kategese toe. Daar was ook die kinderkrans en KJV. In later jare het kerke jeugbedienings ingestel. Kinders en jongmense is nie meer slegs in die ouerhuis opgevoed nie. Daar was bitter min gesinne wat nog Boekevat gehou het, en nog minder wat Huisgodsdiens gehou het.

Weens die huidige omstandighede is die christelike opvoeding van kinders terug in die ouers se hande, soos dit hoort. Baie mense het die kerkgenootskappe verlaat, baie kerke verkondig dwalinge en die staatskole bied nie ʼn christelike opvoeding aan nie.

Die ware Boerekerk was die gesin wat hulle godsdiens saam tuis of op die wapad beoefen het. Die gesin is die beginpunt waarop ware christelike gemeentes vandag gebou kan word. Verskillende gesinne wat Huisgodsdiens hou kan periodiek bymekaarkom en as ʼn Bybelse gemeente funksioneer, onafhanklik van kerk en staat.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin