Afgeskafte feeste

Illustrasie: https://www.boeredansgroep.co.za/wgallerydisplay.php?album_id=252282#gallery-16

Een van die gevolge van die 1994 oorgawe was dat al die openbare vakansiedae wat op ons volksfeeste betrekking het, afgeskaf is. Slegs 16 Desember het as openbare vakansiedag bly voortbestaan, maar nie meer as Geloftedag nie.

Die eiesoortigheid van ons volksfeeste voor 1994

Daar is ʼn merkwaardige eiesoortigheid in ons volk se gebruike met feeste. Daar is sekere elemente wat by elke volksfees voorkom. Verder is dit merkwaardig dat hierdie gebruike regdeur die land voorkom het.

Daar is altyd ʼn godsdienstige element by volksfeeste. Opening word met skriflesing en gebed gedoen en op dieselfde manier afgesluit. Baie feeste het ook ʼn soort kerkdiens as ʼn belangrike item op die program. Meestal was dit susterkerklik van aard met ʼn preek en godsdiensliedjies.

...

Toesprake by ʼn volksfees bring ʼn boodskap wat gepas is by die geleentheid. Dikwels is die spreker welsprekend en praat op ʼn hoogdrawende manier. Ons as volk het ʼn neiging om van ʼn leier te verwag om ʼn goeie spreker te wees en om van ʼn goeie spreker te verwag om ʼn goeie leier te wees. Daar het ook ʼn gewoonte ontstaan dat politici gekies word as sprekers en dat politiek ingesleep word by suiwer kultuursake.

ʼn Tekortkoming van ons volk is dat ons stilbly en luister en dit wat ons hoor as reg en goed aanvaar. Ons praat nie terug nie en vra ook nie vrae nie. Ons is deur die kerk, politiek en kultuur gekondisioneer om so te wees.

Musiek en sang het nog altyd gesukkel om by volksfeeste ʼn regmatige plek te kry. Ons mense het nie ʼn spontane sanglus nie en verkies om luisteraars te wees.

Feeskomitees streef daarna om feeste by monumente en gedenktekens te hou. ʼn Monument of gedenkteken is ʼn sigbare teken van dit waaroor die fees gaan. Ons het twee soorte monumente en gedenktekens: eerstens die wat ons herinner aan belangrike geskiedkundige gebeurtenisse en tweedens die wat ter ere van “groot manne” opgerig is.

Feeste wat in 1994 afgeskaf is

Majubafees op 27 Februarie. Nadat Brittanje die ZAR beset het, was daar groot ontevredenheid onder die burgers van die ZAR. Daar is ʼn groot vergadering by Paardekraal gehou en op 16 Desember 1880 het hulle die Bloedrivier Gelofte herbevestig en trou aan mekaar gesweer. Die burgers het ʼn groot klipstapel daar opgerig as getuienis van hulle erns.

Op 27 Februarie 1881 het hulle met die Britse magte slaags geraak by die berg Majuba. Die Slag van Majuba was die grootste nederlaag tot daardie datum toe in Groot Brittanje se militêre geskiedenis. Op 31 Mei 1882 het die nuwe Volksraad van die ZAR die erkenning vir die oorwinning aan ons hemelse Vader te gee. Hulle het ook onderneem om dit aan die nageslag bekend te maak en om die dag as ʼn openbare vakansiedag te proklameer. Sedert1888 is Majubadag op groot skaal gevier. In 1994 is hierdie herdenking deur die nuwe regering afgeskaf. Sedertdien word dit nog deur kultuurorganisasies gevier en daar is elke jaar ʼn fees by Majubaberg.

Die feesprogram kan bestaan uit die sing van volksliedere, vlaghysing, optogte en vlae, godsdiens oefening, toespraak, boeresport en skyfskiet.

Stigtingsdag op 6 April. Met die opkoms van Afrikaner-Nasionalisme is daar doelbewus gesoek na geskiedkundige gebeure wat feestelik herdenk kon word. Jan van Riebeeck het op 6 April 1652 aan wal gestap. Die eerste herdenking van 6 April was in 1933 en dit is in 1938 as volksfees aanvaar.

Op 6 April 1952 was dit die 300-jarige herdenking van die van Riebeeck landing. Die hooffees was in Kaapstad, maar daar was ook kleiner feeste in talle dorpe regdeur Suid-Afrika. Hierdie herdenkings het geskiedkundige opvoerings en godsdienstige byeenkomste ingesluit. Van Riebeeckdag het van 1952 af ʼn openbare vakansie dag geword.

In 1980 is die naam van die fees verander na Stigtingsdag. Dit is in 1994 deur die nuwe regering afgeskaf. Die sogenaamde van Riebeeck gelofte was ʼn voorgeskrewe gebed van die VOC wat deur van Riebeeck gelees was. Daar was op daardie stadium geen gedagte aan volksplanting nie.

Hemelvaart, gewoonlik in Mei. Hemelvaart is ʼn kerkfees wat in verskeie lande gevier was. Dit herdenk die hemelvaart van Jesus Christus, toe Hy opgevaar het na die hemel om aan die regterhand van die hemelse Vader te gaan sit. Volgens die berekeningsmetode wat in Westerse kerke gebruik word, val Hemelvaart veertig dae na Eerste Paasdag en 10 dae voor Pinkster. Hemelvaart val altyd op ʼn Donderdag.

In baie lande is dit ʼn openbare vakansiedag wat met ʼn kerkdiens gevier word. In Suid-Afrika is hierdie vakansiedag in 1994 afgeskaf. Hemelvaart word nog hier en daar as ‘n kerkdiens gehou.

Republiekdag op 31 Mei. Daar het drie belangrike gebeure op 31 Mei plaasgevind: Op 31 Mei 1902 het die Bittereinders vrede met Groot Brittanje gesluit, op 31 Mei 1910 het die Unie van Suid-Afrika ontstaan en op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika ontstaan. Op 1 Mei 1994 het Suid-Afrika weer tot die Statebond toegetree en is die 1961 uittrede ongedaan gemaak.

31 Mei 1902 kan Bittereinder-dag genoem word. Aangesien slegs Bittereinders betrokke was, sluit dit hanskakies en hensoppers uit. Dit was ʼn droewige geleentheid, want toe het ons ons vryheid en eie vaderland verloor. (Dit is in 1994 weer verloor.) Dit was nie ʼn openbare vakansiedag nie en sou dit gevier gewees het, sou dit vir ons volk ʼn dag van hartseer gewees het.

Op 31 Mei 1910 is verskeie lande en gebiede wat deur Brittanje verslaan is, saamgevoeg in ʼn nuwe Britse kolonie, die Unie van Suid-Afrika. Daarmee het ʼn multi-etniese staat tot stand gekom wat meer probleme geskep het as wat daar voorheen was. Uniedag was ʼn openbare vakansiedag tot en met 1960. Die dag was ʼn feestelike geleentheid vir Engelse en die hanskakies en hensoppers.

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 ontstaan en geduur tot 1994 toe. Die koms van ʼn republiek was ʼn blye dag en is op groot skaal en met groot vreugde gevier. Ons volk het gemeen dat dit die verlies van 1902 sal herstel en ʼn nuwe toekoms sal inlei. Hierdie dag was gevier as Republiekdag en was ʼn openbare vakansiedag. Die ouer garde onthou nog die Republikeinse Ideaal en het dit aan hulle nasate oorgedra. Dit was ʼn minder gelukkige dag vir Britsgesindes. Ongelukkig was die Republiek steeds ʼn voortsetting van die multi-etniese Unie en het daar geen Volksrepubliek tot stand gekom nie.

Skynbaar word hierdie dag nie meer gevier nie.

Heldedag op 10 Oktober. In die Boererepublieke was daar feesdae op die President se verjaardag. Dit is sedert 1861 in die OVS gedoen en vanaf 1874 in die ZAR (met President Burgers se verjaardag). Op so ʼn dag was daar vlae, saluutskote, partytjies en danse. In 1882 is daar begin met die viering van Paul Kruger se verjaardag en ʼn vakansiedag is ingestel. Paul Kruger was toe nog nie president nie maar was toe reeds ʼn besondere simbool vir sy volk. Die dag was bekend as Landsvaderfees. In 1888 was daar ʼn groot fees met boeresport en toesprake.

Na 1902 was daar pleidooie om 10 Oktober ʼn openbare vakansiedag te maak, dit het eers in 1948 gebeur. Die dag was eers bekend as Krugerdag en later as Heldedag ter ere van alle volkshelde van die verlede. President Steyn en genl. Christiaan de Wet het ook in Oktober verjaar. 10 Oktober 1899 was die datum waarop die Anglo-Boereoorlog begin het.

Die Krugerfees van 1949 het saamgeval met die vyftigjarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. In 1994 is hierdie dag afgeskaf en word tans nog steeds onder ons volk gevier. ʼn Onlangse fees het die volgende items ingesluit: verootmoedigingsdiens, toesprake, boeresport, skyfskiet en tradisionele eetgoed.

Al hierdie feeste was belangrik vir ons volk. Dit was nie belangrik vir die ander etniese en multikulturele mense in Suid-Afrika nie en is gevolglik afgeskaf as openbare vakansiedae. Om nog steeds ons volksfeeste te handhaaf hang nou van onsself af. Ons kan kies tussen die voortbestaan van feeste of ons kan dit ook in die asblik gooi. Volksfeeste kan ʼn goeie geleentheid wees om ons as volk bymekaar te bring.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

1 thought on “Afgeskafte feeste”

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui