Sedeloosheid by ons volk

Illustrasie: https://anethadewet.wordpress.com/2013/10/27/n-verlore-wereld/

Na die Tweede Wêreldoorlog het daar sedelike verval in die Westerse wêreld ingetree. Dit was ʼn geleidelike proses en vooroorlogse sedes is stuk-stuk afgebreek. Dit het oor die wêreld versprei deur publikasies, rolprente en musiek. Ons volk was nie immuun daarteen nie en het dit mettertyd nagevolg.

In 1963 is die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede aanvaar om ons sedes te beskerm. Die doel was om publikasies ongewens te verklaar wat onbetaamlik of onwelvoeglik is, godslasterlik is of enige godsdiens aanstoot gee, wat enige bevolkingsgroep belaglik of veragtelik maak en wat nadelig is vir veiligheid of vrede. In 1974 is hierdie wet vervang met ʼn nuwe wet. Die redes vir die nuwe wet was dat die publiek nie meer vertroue in die bestaande stelsel gehad het nie en dat die vervlakking van die volk se moraal en goeie sedes kommunisme kon bevorder. Hierdie wet was drakonies en is veral deur Afrikaanse skrywers en kunstenaars gekritiseer. In 1995 is weer ʼn nuwe wet aanvaar wat groter verdraagsaamheid wou skep vir sedeloosheid. Die wet het die begrip sosiaal aanvaarbaar vervang met die begrip skadelik. Met ander woorde, dit maak nie saak of iets sosiaal onaanvaarbaar is nie, solank dit net die skadelik is nie. Of enige van hierdie wette tot verbetering van sedes gelei het, is te betwyfel. Ten spyte van sensuur, het die algemene sedes vervlak en verval. Verder het sensuur tot inperking van vryheid van spraak, wat ʼn hoeksteen van republikanisme is, gelei.

Ons sedelike verval hou ook verband met die ideologiese veranderinge tussen 1948 en 1994 binne die regerende Nasionale Party. Die tydperk van 1948 tot 1966 was gekenmerk deur die ideologie van Afrikaner-Nasionalisme, die jare van 1966 tot 1979 was gekenmerk deur Verligtheid, van 1979 tot 1989 was gekenmerk deur Hervorming en van 1989 tot 1994 was gekenmerk deur Magsdeling.

Tydens die tydperk van Afrikaner-Nasionalisme het ons steeds die tradisionele sedes van ons voorgeslagte gevolg. Tydens Verligtheid het ons geleidelik moderne Westerse liberalisme begin navolg. Hierdie soort liberalisme moet nie met klassieke liberalisme verwar word nie. Gedurende die tydperk van Hervorming was daar groot druk en protes om toe te gee aan moderne Westerse liberalisme. Onder Magsdeling is toegegee aan al die eise wat gestel is. Die volk het die owerheid gekies wat oor hom regeer het. Gevolglik is ons self medeverantwoordelik vir ons sedelike verval. Ons het veranderinge goedgekeur en sonder kritiek nagevolg, die minderheid het probeer wal gooi maar kon nie daarin slaag om die hele volk te oortuig nie.

...

Suid-Afrika het in 1976 televisie gekry. Aanvanklik was goeie programme uitgesaai, maar in later jare het dit verswak en uiteindelik net dit ʼn wegbereider vir moderne Westerse liberalisme geword. Televisie het so populêr geword dat mense hulle aandetes voor die televisie genuttig het. Dit het die samesyn en gemeenskaplikheid van die gesin grootliks vernietig. Indirek het dit ook die gesin se godsdiensbeoefening laat skipbreuk lei. Dit het ook sosiale verkeer benadeel, soveel so dat jy amper ‘n tyd moes bespreek om vir vriende en familie te gaan kuier.

ʼn Baken in ons sedelike verval was die Egskeidingswet van 1979. Van antieke tye af, was die basiese  regsbeginsel die skuldbeginsel: in geval van egskeiding was een party skuldig en die ander party was onskuldig. (Dit was ook moontlik dat albei partye skuldig was). Onder die ou egskeidingswet was die hoofgronde van egskeiding owerspel en kwaadwillige verlating. Regsgeleerdes, predikante en sosioloë het gemeen dat die ou wet hervorm moet word. Die 1979 wet het die skuldbeginsel afgeskaf en vervang met ʼn moderne beginsel: onherstelbare verbrokkeling van die huwelik (niemand het skuld daaraan nie, dit is ʼn normale ding dat huwelike misluk). Die gevolg was nie dat egskeidings verminder het nie, maar dat egskeiding makliker geword het en vermeerder het. Die verandering in die wet het verder veroorsaak dat die huwelik self nie meer so belangrik is nie, en beslis ook nie heilig is nie. Mense het, in navolging van Westerse tendense, begin om saam te woon sonder dat hulle getroud is. Hele gesinne het verbrokkel en kinders het sonder een ouer grootgeword. Die gesin en gesinslewe het in baie gevalle in duie gestort en dit het ook godsdiensonderrig benadeel.

Binne ʼn betreklike kort tyd het daar by ons ‘n toegeeflikheid en verdraagsaamheid ten opsigte van seksuele sake ingetree. Kinders en jongmense het meer selfstandig teenoor hulle ouers geword en respek vir hulle meerderes, ook buite die gesin, het verdwyn. Skoolgaande kinders het swanger geword en buite-egtelike kinders het algemeen geword. Die vrou het geëmansipeerd geword, baie moes weens ekonomiese behoeftes voltydse betrekkings aanvaar. In vaderlose gesinne het die vrou die broodwinner geword. Dit alles het die rol van die vader afgebreek en die tradisionele gesinslewe benadeel.

Wanneer is goed goed en sleg sleg? Die moderne mens vind dat hy nie ‘n vaste fondament het waarop hy die vraag kan beantwoord nie en dit skep by hom verwarring en onsekerheid oor sy sedelike oortuigings en oor die goed-of-kwaad van sy doen en late. Die resultaat is dat hy sy sedelikheid of onsedelikheid as sy private saak beskou en dat hy kan doen wat hy wil. Sy standpunt is dat hy nie skuldig aan enige iets is nie, want sedes is in die moderne lewe nie meer geldig nie, goed en kwaad bestaan nie meer nie.

Die werklikheid is egter dat goedheid, geregtigheid en liefde wel bestaan, maar dat boosheid, haat en wreedheid ook bestaan. Daar is ‘n inherente boosheid in die mens wat hom die kwade laat doen. Dit is nie God wat boosheid pleeg nie, dit is die mens wat dit doen. Die mens is nou eenmaal ‘n sedelike wese en word gekonfronteer met die keuse tussen wat sedelik goed en wat sedelik sleg is.

Die mens wat dink dat sy onsedelikheid en losbandigheid sy private saak is, maak ʼn fout. Sy doen en late het gevolge vir ander mense. Dit is nie net dat hulle sy gedrag afkeurenswaardig vind nie, dit het ʼn praktiese uitwerking op hulle eie, hul gesinne en hul gemeenskap, se lewens. Dit is opmerklik dat  etniese en godsdienstige gemeenskappe nie sulke gedrag spontaan goedkeur nie maar dat hulle op een of ander manier gedwing moet word om dit te doen.

Dit is verblydend dat nie almal van ons volk die hedendaagse sedeloosheid aanvaarbaar vind nie. Daar is nog van ons mense wat sedelik leef en wil leef. Die probleem is daardie lede van ons volk wat sedeloos geword het. Kan dit omgekeer word?

Dit is duidelik dat die agteruitgang van sedes saamgaan met ʼn oortuiging van skuldloosheid. Dit lei daartoe dat mense verskonings gebruik om hulleself te regverdig. Dit is iemand of iets anders se skuld, almal doen dit en daarom is dit nie verkeerd nie, dit is die moderne manier, teenstaanders is net veroordelend, ensovoorts. Om sedes te herstel sal mense ʼn skuldbesef moet ontwikkel. Sonder erkenning van skuld is vergifnis onmoontlik en kan die kwade nie oorwin word nie. As iemand skuldloos is, het hy nie vergifnis en verlossing nodig nie en het Christus tevergeefs vir hom gesterf.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui