Tradisionele volksdrag

Illustrasie: http://mirageswar.com/uploads/posts/1206108333_w861.gif

Indien jy ʼn geleentheid moet bywoon geklee in tradisionele drag, wat gaan jy aantrek?

Kakieklere is nie tradisioneel nie, kort broeke en lang kouse ook nie, tweekleurhemde ook nie. Ontspanningsdrag is ook nie tradisionele drag nie.

Daar is skynbaar geen konsensus oor wat ons volksdrag is nie. Sommiges sê Voortrekkerdrag is tradisioneel, ander sê die drag tydens die Anglo-Boereoorlog is tradisioneel, en daar mag nog ander menings ook wees. Tradisionele drag is dit wat tydens ʼn heroïese tydperk in ʼn volk se geskiedenis gedra is.

...

Die Volkspelebeweging se kleredrag is gebaseer op die kleredrag van die Voortrekkers, maar is nie identies daaraan nie. Omdat dit gedra word by opvoerings is dit meer swierig as wat gewone drag sou wees. Volkspele was in 1938 gewild, maar belangstelling het sedertdien afgeneem. Die drag van volkspelers het ook nie algemene inslag by die volk gevind nie.

Een beskrywing van kleredrag direk na die Groot Trek vertel dat daar twee soorte kleredrag was: Kisklere en alledaagse klere. Kisklere was spesiale drag vir kerk en spesiale geleenthede, alledaagse klere was vir werk. Daar was verskille tussen persone en hulle kleredrag het van mekaar verskil volgens vermoë en smaak. Dorpe is min besoek en baie klere was tuisgemaak.

Mans se kisklere het bestaan uit broeke met ʼn groen- of donkergeelbaadjie met ʼn ry knope van bo tot onder. saam met ʼn onderbaadjie. Daarmee saam het hulle kouse en handgemaakte velskoene gedra, met ʼn smalrand bolhoed op die kop. Hulle het ook molvelpakke, velpakke en fluweelpakke met velskoene of velstewels gedra. Vrouens se kisklere was tabberds met wye moue en wye rompe wat versier was met valletjies. Rokke was lank met net die skoene wat wys. Tjalies en mantels was gewild en skoene was netjiese velskoene. Vir handskoene is moffies gedra. Hare was lank en is met houthaarnaalde of skilpaddopkamme vasgesteek. Vir hoofbedekkings het hulle veelkleurige kappies gedra. Seuns- en dogtersklere was soortgelyk aan die klere van volwassenes.

Daar is ook beskrywings van die kleredrag wat net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gedra is. Die burgers van die republieke het ʼn beter lewenstandaard as die Voortrekkers gehad en kon ook beter aantrek as voorheen. Party was meer welgesteld as ander en gevolglik het kleredrag verskil van persoon tot persoon. Plaaslike kleremakers en winkels se klere was volgens die heersende Europese modes.

Die snit van manspakke en baadjies was eenvoudig. Manspakke het bestaan uit ʼn baadjie, ʼn onderbaadjie en ʼn langbroek. Baadjies was langer en het geronde punte voor gehad. Die dra van kruisbande was algemeen. Hemde was van eenvoudige snit met hoë, gestyfde boortjies. Strikdasse of wye losgeknoopte dasse is gedra. Bykomstighede was horlosiekettings, wandelstokke en sambrele. Mans het gewoonlik hoed gedra: strooihoede, panamas, stetsons en pette. Fabrieks en ingevoerde skoene was geredelik beskikbaar, maar velskoene was ook populêr. Meeste mans se hare was kort en hulle het ʼn snor of baard gedra. Seuns onder tien het kniebroeke gedra, daarna dieselfde klere as volwassenes. Al die klere was in ʼn verskeidenheid van gedempte kleure, effe en gestreep, beskikbaar. Formele klere vir spesiale geleenthede het van deftige drag verskil.

Dames wou graag mooi aantrek en het oorsese tydskrifte geraadpleeg. Die tydskrifte was al oud toe dit die republieke bereik het, en was eintlik reeds oudmodies. Damesklere kon in winkels gekoop word of dit kon by ʼn kleremaakster laat maak word. Die rompgedeelte van die rok het uit ʼn aantal bane bestaan, nousluitend om die middel en heupe, en het uitgeklok tot op die grond. Die lyfie is versier, dit was nousluitend en die neklyn was hoog. Die fokus was op die dame se dun middel en dit is deur ʼn gordel of versiering beklemtoon. Die rok is dikwels vervang met ʼn afsonderlike romp en bloes in dieselfde styl as die rok. Moue was groot en gepof van die skouer tot die elmboog en van elmboog tot pols nousluitend. Strooihoede met ʼn wye rand of kleiner hoede met ʼn smal rand was gedra. (Kappies is meestal tuis gedra as beskerming teen die son.) Die hoede is versier met ʼn lint of veer. Dames het meestal swart kouse onder die rokke gedra met stewels wat met veters of knopies vasgemaak word. Bykomstighede was serpe, handskoene en juweliersware. Dogters het jurkrokke met ʼn voorskoot gedra.

Die drag tydens die Anglo-Boereoorlog was onderhewig aan spesiale omstandighede. Burgers op kommando se drag was skynbaar die beter drag wat hulle sou gedra het in vredestyd, maar dit moet in gedagte gehou word dat klere verslete geraak het en nie behoorlik versorg kon word nie. Op ʼn stadium het hulle die Britte se klere gebuit omdat hul eie klere nie meer geskik was nie. Die vrouens in die konsentrasiekampe het slegs die klere gehad wat hulle kon saambring. Vrouens wat in swart geklee was, kon moontlik in rou gewees het.

Daar is talle swart-en-wit foto’s uit die tydperk voor en na die oorlog. Daar is tans ʼn persoon wat die ou foto’s op ʼn professionele manier inkleur. Dit gee aan ons pragtige voorbeelde van die tipe drag wat in daardie tyd gedra is.

In die besluit oor wat tradisionele volksdrag moet wees, sal die volgende riglyne van hulp kan wees. Dit moet die volkskarakter weerspieël, dit moet nie duur spesiaal gemaakte klere wees nie (dit moet bekostigbaar wees), dit moet daarvoor voorsiening maak dat elke persoon ook sy eie smaak kan volg, dit moet aantreklik lyk en dit moet aanpasbaar wees. Moontlik kan moderne klere relatief maklik aangepas word na die styl en voorkoms van volksdrag.

Wat dink jy? Hoe gaan jy aantrek?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui