Volkslied of Nasionale lied

Illustrasie: https://www.grafika24.com/die-stem-gedig-word-n-eeu-oud/

Die woord “volkslied” verwys gewoonlik na wat in Engels ʼn “folk song” genoem word. Verder word die woord ook gebruik om die patriotiese lied van ʼn volk of land te beskryf. ʼn Volkslied is die patriotiese lied van ʼn volk of ʼn land wat gesing word om ʼn eie identiteit te bevestig.

Die Volkslied het gewild geword met die opkoms van nasiestate in die 19de en 20ste eeue. ʼn Nasiestaat is waar ʼn sekere volk ʼn eie grondgebied het en ʼn eie regering het wat oor daardie gebied regeer, met ander woorde ʼn volkstaat. Talle Europese lande was nasiestate, sommige is nog steeds. Wanneer ʼn land nie ʼn nasiestaat is nie, het hy streng gesproke nie ʼn Volkslied nie maar ʼn Nasionale Lied.

Groot Brittanje se Nasionale Lied is “God save the King / Queen”, maar Wallis se Volkslied is “Land of our Fathers”. Ons het dus die verskynsel by multikulturele state dat die staat se amptelike lied verskil van die patriotiese lied wat deur een van die minderheidsgroepe gesing word.

...

Die Republiek van die Oranje-Vrystaat was die eerste land in Suidelike Afrika om ʼn eie Volkslied in gebruik te neem. Dit was van 1854 tot 1902 in gebruik en die lirieke was geskryf deur HAL Hamelberg en die musiek was gekomponeer deur WFG Nicolai. Die eerste vers is:

Heft, Burgers, ’t lied der vrijheid aan
En zingt ons eigen volksbestaan!
Van vreemde banden vrij,
Bekleedt ons klein gemenebest,
Op orde, wet en recht gevest,
Rang in der Staten rij.
Rang in der Staten rij.

Die Zuid-Afrikaansche Republiek het ʼn eie Volkslied gehad van 1875 tot 1902. Dit was geskryf deur Catharina van Rees en staan bekend as: “Kent gij dat volk”. Die eerste vers, in Afrikaans, is:

Ken jy die Volk vol heldemoed
en tog so lank verkneg
Hy het geoffer goed en bloed
vir Vryheid en vir reg
Kom burgers! laat die vlae wapper
Ons lyding is verby
Roem in die sege van onse dapp’res
‘n Vrye volk is ons!
‘n Vrye volk, ‘n Vrye volk
‘n Vrye, Vrye volk is ons!

Albei liedere spreek van volk en vryheid.

Die Unie van Suid-Afrika het in 1910 ontstaan as ʼn Britse kolonie onder die Britse vlag en met die Nasionale Lied “God save the King / Queen”, CJ Langenhoven het in 1918 die eerste drie verse van “Die Stem” gedig. In 1921 het ML de Villiers die gedig getoonset. Die Hertzog-regering het hierdie lied gekies om met die vlaghysing van die nuwe Unievlag (Die Ou Suid-Afrikaanse vlag) gesing te word. Dit was in 1928. In 1931 het die FAK begin met die hou van “Volksliedvergaderings” en ook ʼn wedstryd uitgeskryf. Die keurkomitee het eenparig “Die Stem” aanbeveel. In 1938 het die parlement besluit dat “Die Stem” en “God save the king” albei by formele geleenthede gespeel sal word. In 1952 is ʼn Engelse vertaling van “Die Stem” goedgekeur. In 1957 het die parlement “Die Stem” tot enigste amptelike lied van Suid-Afrika aanvaar. Dit is in 1996 vervang met die huidige Suid-Afrikaanse Nasionale Lied (“Nkosi Sikelel Afrika”).

Die eerste vers van “Die Stem” is:

Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons ver verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe
Ons vir jou, Suid-Afrika

Skynbaar spreek die lied van ʼn land en nie van ʼn volk nie.

Is “Die Stem” ʼn Volkslied of is dit ʼn Nasionale Lied? Is dit die lied van die Blanke bevolking of was dit die lied van die staat voor 1994? ʼn Groot gedeelte van ons volk het geen ander patriotiese lied geken nie. Tydens die Bosoorlog was dit die lied wat gesing is deur alle Suid-Afrikaanse troepe. Baie lede van ons volk beskou “Die Stem” as ons eie Volkslied. Daar word steeds ʼn gevoel van patriotisme opgewek deur die sing van “Die Stem” en die vertoon van die Ou Suid-Afrikaanse vlag.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Volksmuseums en -monumente

Foto: Vryheidsmonument in Vereeniging

Ons volk het heelwat monumente en gedenkwaardighede opgerig. Hierdie monumente herinner ons aan die lotgevalle van ons voorgeslagte. Ons het ook museums gestig om items uit ons geskiedenis te bewaar. In 1994 het ons ʼn groot deel van ons erfgoed aan die nuwe regering oorgedra vir bewaring en instandhouding.

Monumente, standbeelde en gedenkstene is opgerig om geskiedkundige gebeure, plekke en mense te herdenk. Hierdie monumente en gedenkwaardighede is deel van ons volk se bouwerk en is ʼn sigbare bevestiging van ons volk se aanspraak op eiesoortigheid. Monumente is dikwels kunstig ontwerp sodat dit ook die voorkoms van die omgewing kon verbeter.

Verskeie gedenkplate is opgerig om die Slagtersnek rebellie van 1815-1816 te herdenk. Naby Cookhouse is ʼn gedenknaald opgerig om die  teregstelling van die vyf vryheidsvegters in gedagte te roep. Dit is opgerig met bydraes deur die publiek en is in 1916 onthul.

...

Daar is verskeie monumente en standbeelde opgerig vir Voortrekkerleiers. Die Voortrekkermonument naby Pretoria is ʼn indrukwekkende gebou wat uittroon oor die omgewing en van ver af gesien kan word. Die gebou is omring met ʼn laer van 64 kakebeenwaens van graniet. By die ingang is daar ʼn groot standbeeld van ʼn Voortrekkermoeder met 2 kinders. Die “grondvloer”, waar die ingang is, staan bekend as die Heldesaal. Die mure daarvan is bedek met ʼn fries van 27 marmerpanele wat die geskiedenis van die Groot Trek uitbeeld. Die Senotaafsaal in die “kelder” bevat die Senotaaf van graniet en ʼn museum met items uit die Groot Trek. Heel bo op die gebou is daar uitkykplekke vanwaar die omgewing besigtig kan word. Buitekant, op elke hoek van die gebou, is daar 4 standbeelde van Voortrekkerleiers.

Behalwe vir die Britse Setlaars was daar ook Duitse Setlaars wat hulle in die Oos-Kaap gevestig het. In 1857 is ʼn Duitse legioen tussen die Amatolaberge en die see gevestig om ʼn buffer tussen die Xhosas en blankes te vorm. Nog 450 families, meeste uit Pommere, het hulle ook aan die Oos-Kaap gevestig. In Oos-Londen is ʼn beeld opgerig van ʼn setlaar, sy vrou en hulle dogter. Brons plate beeld die afskeid uit Duitsland, die reis na Afrika, en die begin van ʼn nuwe boerdery  uit.

Die Paardekraal-monument is geleë in Krugersdorp. Nadat die Britte die ZAR beset het, is ʼn volksvergadering op Paardekraal gehou. Die burgers het ʼn klipstapel opgerig om aan hulle vasbeslotenheid uitdrukking te gee. Dit is gevolg deur die Slag van Majuba waarmee die ZAR weer sy onafhanklikheid herwin het. ʼn Monument is daarna oor die klipstapel opgerig en dit is in 1891 onthul. Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britte die klippe onder die monument verwyder en in die Vaalrivier gegooi.

Die Ou Raadsaal was die Volksraadsgebou van die ZAR en is geleë op Kerkplein, Pretoria. Die styl is Italiaanse Renaissance, met gepleisterde baksteen mure wat geverf is om soos sandsteen te lyk. Daar is ʼn kloktoring met ʼn beeld van ʼn vrou bo-op. Dit is in 1891 voltooi en word tans beskerm as ʼn erfenisterrein.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het ʼn groot aantal gewone burgers helde geword. Daar is verskeie standbeelde en gedenktekens vir hulle opgerig. Een van hierdie groot helde was die baasverkenner Danie Theron. Die Danie Theron-monument is ʼn indrukwekkende gedenknaald aan die Gatsrand, vyftig meter vanwaar hy gesneuwel het. Die Voortrekkerbeweging het ʼn belangrike rol gespeel in die oprigting van die monument en hulle het ʼn landswye fondsinsameling gehou. Die monument is in 1950 onthul. Die simboliek stel die eenvoud, krag en vryheidsin van Danie Theron voor.

Talle Europeërs het saam met die Boeremagte teen Groot Brittanje geveg. Een so ʼn groep was Iere. Die Ierse Vrywilligersmonument is in Johannesburg opgerig om aan hulle hulde te bring. Die monument het verwaarloos en moes gesloop word. Vier pilare is gered en is in Orania heropgerig.

Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein is opgerig om die 27 000 Boerevroue en –kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het te onthou. Oud President MT Steyn, sy vrou Tibbie en Emily Hobhouse het ʼn belangrike rol gespeel by die oprigting van die monument. Die beeldegroep is die herinnering van iets wat Emily Hobhouse in ʼn konsentrasiekamp ondervind het en wat sy nie kon vergeet nie. Dit is van ʼn vrou sonder ʼn kappie wat haar uitgeteerde sterwende kind vashou, met ʼn tweede vrou wat God aanroep. Sedert die 1960’s is standbeelde van burgers, krygsgevangenes en bittereinders op dieselfde terrein opgerig.

Die Vryheidsmonument in Vereeniging se naam is om politieke redes na 1994 verander na die Vredesmonument. Dit is ook verskuif van sy oorspronklike plek in ʼn parkie tot by die munisipale kompleks en is so geplaas dat die bewoording daarop nie deur verbygangers gesien kan word nie. Die monument is van ʼn jong gewonde boerekryger in graniet met ʼn simboliese vlekvrye staal figuur wat uit hom oprys. Die woorde daarop is: “Gewond maar onoorwonne, Vereeniging 31 Mei 1902”. Dit verwys na die Vrede van Vereeniging. Die boodskap is dat hoewel die Boerevolk oorwin is, daar steeds  ʼn vryheidsgees bestaan wat tot ʼn nuwe opstanding sal lei.

Die Dorslandtrekmonument by Swartbooisdrif in Namibië herdenk die terugtrek van Dorslandtrekkers uit Angola na Namibië. Daar het hulle ʼn klipstapel gepak. Die eerste Swartbooisdrif fees is in 1953 gehou.

Die Trekmonument 1904-1954 herdenk lede van ons volk wat hulle na die Anglo-Boereoorlog in Tanganjika (Tanzanië) gaan vestig het. Dit is opgerig op die plaas Kampfontein in Tanzanië. ʼn Replika daarvan is by die Voortrekkermonument in Pretoria opgerig.

Die Afrikaanse Taalmonument by Paarl is opgerig om die taalstryd te herdenk wat in 1925 tot die erkenning van Afrikaans as selfstandige taal gelei het. Die sin “Dit is ons erns” is ontleen aan Gustav Preller se artikels “Laat ‘t Ons Toch Ernst Wezen”.

ʼn Museum is ʼn gebou waarin goed versamel en uitgestal word sodat besoekers dit kan besigtig. ʼn Volksmuseum versamel goed wat op ʼn sekere volk betrekking het.

Die Hugenote-gedenkmuseum by Franschhoek gedenk die Hugenote wat hulle aan die Kaap gevestig het. Die museum beskik oor meubels, eetgerei, kombuisgereedskap, dokumente en Bybels.

Die Pionier-opelugmuseum in Pretoria vertoon die lewensstyl van die Voortrekkers. Die opstal is in 1848 gebou van klei en plaaslike materiaal, met ʼn grasdak en grondvloer. Die meubels is van die 19de eeuse plattelandse styl. Aktiwiteite sluit in die maak van tradisionele brood en botter en demonstrasies met voorlaaiers.

Boekenhoutfontein was die plaas van pres. Paul Kruger naby Rustenburg. Hy het ʼn verdiepinghuis gebou in dieselfde styl as wat die Karoo huise van daardie tyd was. Eenvoudige boumetodes met plaaslike materiaal is gevolg. Daar is ook ʼn waenhuis, buitegeboue, ʼn varkhok en ʼn lemoenboord. Die huis is gemeubileer met meubels uit daardie jare. Daar is ook ʼn huisorrel, pres. Kruger se geweer en ander items.

Krugerhuis was die privaat woning van pres. Kruger in Pretoria wat ook as presidensie gedien het. Die huis se boustyl bestaan uit ʼn mengsel van style, dit het twee ontvangsvertrekke aan die voorkant en ʼn groot stoep. Die president het gereeld soggens op die stoep gesit en besoekers ontvang. Die oorspronklike meubels, geskenke en aandenkings word vertoon. Van die items wat daar bewaar word, is geskenke wat aan pres. Kruger se volk gegee is en deur hom bewaar is namens sy volk. Tans bestuur die staat die museum.

Fort Klapperkop was een van drie forte wat deur die ZAR om Pretoria opgerig is. Dit is in 1963 in ʼn militêre museum omskep. Dit bevat ʼn uitstalling van gewere en ander items uit die Anglo-Boereoorlog.

Daar is nog  museums en gedenkplekke wat deur ons volk opgerig is en op ons betrekking het. Sommige is in privaatbesit, sommige behoort aan kultuurorganisasies en sommige behoort nou aan die Suid-Afrikaanse staat. Daar is tans ʼn verwoede aanslag teen ons erfgoed en verskeie gedenkwaardighede is deur oproeriges beskadig. Verskeie daarvan moes van hulle oorspronklike plekke na Orania verskuif word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Ons Volksweermag

Illustrasie: Boerekommando op Spionkop tydens die Tweede Boereoorlog (Foto: Howard C. Hillegas / Wikimedia Commons)

Die kommandostelsel is eie aan ons volk en is deel van ons kultuur. Die woord “commando” in Engels is ʼn leenwoord uit Afrikaans. In die militêre magte van die meeste lande is kommando’s eenhede wat spesialiseer in aanvalle op onkonvensionele teikens. Ons Boerekommando’s was iets heel anders, dit was altyddeur ʼn doeltreffende metode van plaaslike beveiliging.

Die VOC kon nie ʼn groot garnisoen aan die Kaap bekostig nie. Die garnisoen is toe aangevul deur ʼn Burgermilisie. Die Burgermilisie moes die garnisoen aanvul in geval van buitelandse aanvalle en plaaslike misdade soos veediefstal. Reeds in 1658 is die weerbare burgers in ʼn kompanie skutters met dieselfde struktuur as die garnisoen georganiseer. Die Burgermilisie het sy eie offisiere gehad maar was onder die beheer van die kaptein van die garnisoen. Die Burgermilisie het bestaan uit dragonders (berede soldate) en infanteriste (voetsoldate). Simon van der Stel het ʼn jaarlikse kermis op Stellenbosch ingestel. Die papegaaiskiet item was om die burgers aan te moedig om met hulle wapens te oefen. Vir die duur van die kermis moes die hele Burgermilisie op die dorp wees om militêre oefeninge te doen. Die Politieke Raad het gratis ammunisie verskaf.

Toe die vryburgers al verder die binneland intrek, het die behoefte verander na meer dragonders en minder infanteriste. Later het die burgers net as perderuiters opgetree. Hulle het verskil van die tradisionele kavallerie in ander lande. Hulle was eintlik berede infanteriste want hulle het te perd rondbeweeg en te voet geveg. In 1676 word  die naam “kommando” vir die eerste keer gebruik. In 1715 word die Burgermilisie afgeskaf en die kommandostelsel ingestel. In 1739 word kommandodiens verpligtend vir almal in die buitedistrikte. In 1774 word ʼn hoër offisiersrang ingestel, naamlik die veldkommandant (of veldkornet) wat bevel voer oor die veldkorporale. In 1795 met die Eerste Britse Besetting en in 1806 met die Tweede Britse Besetting was kommando’s opgeroep om die Kaap te help verdedig.

...

Na die Tweede Britse Besetting het die Britte steeds die kommandostelsel gehandhaaf en is kommando’s saam met Britse troepe en hulle Burgermag in die grensoorloë gebruik. Die Burgermag het uit vrywilligers bestaan. Die ligte, beweeglike Boerekommando’s was meer geskik vir plaaslike oorlogvoering as die stadig bewegende Britse Troepe.

Tydens die Groot Trek was kommando’s steeds in gebruik. Met die stigting van die Boererepublieke is die kommandostelsel gereguleer met kommandowette. Alle mans tussen 16 en 60 was verplig om kommandodiens te doen. Elke kommando was verbonde aan ʼn dorp, elke dorp was verantwoordelik vir ʼn distrik en elke distrik was verdeel in wyke. Die wyk het bestaan uit korporaalskappe van omtrent 20 burgers. Die kommando van die distrik was onder die bevel van ʼn kommandant en elke wyk was onder die bevel van ʼn veldkornet. Elke burger was verplig om wanneer hy vir kommandodiens opgeroep was, homself met perd, saal, geweer, ammunisie en proviand aan te meld. Kommandolede het nie uniforms gedra nie, hulle was in hul eie burgerlike drag geklee.

Die republikeinse stelsel wat in die Boererepublieke gegeld het, was soortgelyk aan die Amerikaanse republikeinse stelsel van daardie tyd. Daar was ʼn sterk beginsel dat die staat nie ʼn sterk staande weermag mag hê nie. Die rede was dat die staat dit teen sy eie burgers kan gebruik. Deur die kommandostelsel was die burgers medeverantwoordelik vir die handhawing van veiligheid en orde. Die Veldkornet was verantwoordelik vir die oproep van burgers, die polisiëring van sy wyk, vordering van belastings en uitreiking van wapens en ammunisie. Die Veldkornet was onder die bevel van die Kommandant, die Kommandant was onder die bevel van die Generaal, die Generaal was onder die bevel van die Hoofkommandant (Vrystaat) of Kommandant-Generaal (Transvaal). Die Hoofkommandant of Kommandant-Generaal het direk aan die President gerapporteer.

Die kommando se offisiere is verkies deur die lede van die kommando en is nie deur die regering aangestel nie. Dit het soms gebeur dat onbekwame persone as offisiere verkies is. Aan die anderkant het dit ook gebeur dat bekwame leiers, wat nie bekend was vir leierseienskappe nie, ontdek is en groot roem behaal het. Dissipline was moeilik afdwingbaar en leiers moes opgewasse wees om dit te hanteer.

Net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is die range van offisiere verander. In die ZAR was daar assistent-veldkornet, veldkornet, kommandant en kommandant-generaal. Daar is ook as oorlogsmaatreël assistent-kommandante-generaal aangestel vir die verskillende gevegsfronte. Daar is ook veggeneraals aangestel in gevalle waar verskillende kommando’s as ʼn leërafdeling moes optree. In die Vrystaat kon elke leërafdeling sy eie kommandant-generaal kies wat sy opdragte van die Staatspresident sou ontvang. Die Staatspresident was die opperbevelvoerder. Die ander range was assistent-veldkornet, veldkornet en kommandant.

Na die Vrede van Vereeniging in 1902 is die kommandostelsel afgeskaf. In 1912 is die Burgermag ingestel  as ʼn komponent van die Unie-Weermag. Die Unieweermag was die staande professionele weermag. Die Burgermag was die voortsetting van die Britte se vrywilliger mag. Vorige lede van die Boerekommando’s kon by skietverenigings aansluit. In 1940 het die kommando’s onder beheer van die Vrywillige Reserwemag gekom. In 1948 is die Kommando’s weer geaktiveer as ʼn onderdeel van die Suid-Afrikaanse Weermag.

Onder beheer van die Suid-Afrikaanse Weermag, was die kommando’s nie meer selfstandig nie. Hulle het SAW uniforms en kentekens gedra en het ander range gekry. Die SA Leër was saamgestel uit ʼn voltydse mag en ʼn deeltydse mag. Die Voltydse Mag was die Staande Mag en Dienspligtiges. Die Deeltydse Mag het bestaan uit die Burgermag en die Kommando’s. Die Gebiedsmag was ʼn samestelling van gebiedsgebonde Kommando’s en die Burgermag wat operasioneel aangewend kon word. Die Kommando’s is as ligte infanterie toegerus en is opgelei vir teeninsurgensie. Dit het ingesluit die voorkoming van insypeling deur terroriste en gebiedsbeskerming teen terreur en sabotasie. Hulpverlening in tye van nood en na natuurrampe was ook deel van hulle verantwoordelikhede.

In 1960 was die bevelvoerder van ʼn plaaslike kommando ʼn kommandant. Hy was bygestaan deur ʼn kaptein / adjudant en ʼn administratiewe sersant. Daar was twee of meer veldkornetskappe in elke kommando, elk onder die bevel van ʼn kaptein. Die sterkte van ʼn veldkornetskap was 6 offisiere en 205 onderoffisiere en burgers. Kommando’s was in groepe ingedeel op grond van geografiese gebiede. Die aanvoerder van ʼn groep was ʼn groepkommandant. Die rang van groepkommandant is later verander na kolonel.

Onder die ANC bewind is die Kommando’s in 2003 afgeskaf. Dit sou vervang word met gespesialiseerde polisie eenhede.

Die Boerekommando’s was ons volksweermag en kon vinnig plaaslik optree indien ons veiligheid bedreig word. Vandag is daar baie van ons volksgenote wat meen dat ons weer kommando’s benodig. Dit wil voorkom asof hulle die SAW se kommandostelsel met Boerekommando’s verwar.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin