Ons Volksweermag

Illustrasie: Boerekommando op Spionkop tydens die Tweede Boereoorlog (Foto: Howard C. Hillegas / Wikimedia Commons)

Die kommandostelsel is eie aan ons volk en is deel van ons kultuur. Die woord “commando” in Engels is ʼn leenwoord uit Afrikaans. In die militêre magte van die meeste lande is kommando’s eenhede wat spesialiseer in aanvalle op onkonvensionele teikens. Ons Boerekommando’s was iets heel anders, dit was altyddeur ʼn doeltreffende metode van plaaslike beveiliging.

Die VOC kon nie ʼn groot garnisoen aan die Kaap bekostig nie. Die garnisoen is toe aangevul deur ʼn Burgermilisie. Die Burgermilisie moes die garnisoen aanvul in geval van buitelandse aanvalle en plaaslike misdade soos veediefstal. Reeds in 1658 is die weerbare burgers in ʼn kompanie skutters met dieselfde struktuur as die garnisoen georganiseer. Die Burgermilisie het sy eie offisiere gehad maar was onder die beheer van die kaptein van die garnisoen. Die Burgermilisie het bestaan uit dragonders (berede soldate) en infanteriste (voetsoldate). Simon van der Stel het ʼn jaarlikse kermis op Stellenbosch ingestel. Die papegaaiskiet item was om die burgers aan te moedig om met hulle wapens te oefen. Vir die duur van die kermis moes die hele Burgermilisie op die dorp wees om militêre oefeninge te doen. Die Politieke Raad het gratis ammunisie verskaf.

Toe die vryburgers al verder die binneland intrek, het die behoefte verander na meer dragonders en minder infanteriste. Later het die burgers net as perderuiters opgetree. Hulle het verskil van die tradisionele kavallerie in ander lande. Hulle was eintlik berede infanteriste want hulle het te perd rondbeweeg en te voet geveg. In 1676 word  die naam “kommando” vir die eerste keer gebruik. In 1715 word die Burgermilisie afgeskaf en die kommandostelsel ingestel. In 1739 word kommandodiens verpligtend vir almal in die buitedistrikte. In 1774 word ʼn hoër offisiersrang ingestel, naamlik die veldkommandant (of veldkornet) wat bevel voer oor die veldkorporale. In 1795 met die Eerste Britse Besetting en in 1806 met die Tweede Britse Besetting was kommando’s opgeroep om die Kaap te help verdedig.

...

Na die Tweede Britse Besetting het die Britte steeds die kommandostelsel gehandhaaf en is kommando’s saam met Britse troepe en hulle Burgermag in die grensoorloë gebruik. Die Burgermag het uit vrywilligers bestaan. Die ligte, beweeglike Boerekommando’s was meer geskik vir plaaslike oorlogvoering as die stadig bewegende Britse Troepe.

Tydens die Groot Trek was kommando’s steeds in gebruik. Met die stigting van die Boererepublieke is die kommandostelsel gereguleer met kommandowette. Alle mans tussen 16 en 60 was verplig om kommandodiens te doen. Elke kommando was verbonde aan ʼn dorp, elke dorp was verantwoordelik vir ʼn distrik en elke distrik was verdeel in wyke. Die wyk het bestaan uit korporaalskappe van omtrent 20 burgers. Die kommando van die distrik was onder die bevel van ʼn kommandant en elke wyk was onder die bevel van ʼn veldkornet. Elke burger was verplig om wanneer hy vir kommandodiens opgeroep was, homself met perd, saal, geweer, ammunisie en proviand aan te meld. Kommandolede het nie uniforms gedra nie, hulle was in hul eie burgerlike drag geklee.

Die republikeinse stelsel wat in die Boererepublieke gegeld het, was soortgelyk aan die Amerikaanse republikeinse stelsel van daardie tyd. Daar was ʼn sterk beginsel dat die staat nie ʼn sterk staande weermag mag hê nie. Die rede was dat die staat dit teen sy eie burgers kan gebruik. Deur die kommandostelsel was die burgers medeverantwoordelik vir die handhawing van veiligheid en orde. Die Veldkornet was verantwoordelik vir die oproep van burgers, die polisiëring van sy wyk, vordering van belastings en uitreiking van wapens en ammunisie. Die Veldkornet was onder die bevel van die Kommandant, die Kommandant was onder die bevel van die Generaal, die Generaal was onder die bevel van die Hoofkommandant (Vrystaat) of Kommandant-Generaal (Transvaal). Die Hoofkommandant of Kommandant-Generaal het direk aan die President gerapporteer.

Die kommando se offisiere is verkies deur die lede van die kommando en is nie deur die regering aangestel nie. Dit het soms gebeur dat onbekwame persone as offisiere verkies is. Aan die anderkant het dit ook gebeur dat bekwame leiers, wat nie bekend was vir leierseienskappe nie, ontdek is en groot roem behaal het. Dissipline was moeilik afdwingbaar en leiers moes opgewasse wees om dit te hanteer.

Net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is die range van offisiere verander. In die ZAR was daar assistent-veldkornet, veldkornet, kommandant en kommandant-generaal. Daar is ook as oorlogsmaatreël assistent-kommandante-generaal aangestel vir die verskillende gevegsfronte. Daar is ook veggeneraals aangestel in gevalle waar verskillende kommando’s as ʼn leërafdeling moes optree. In die Vrystaat kon elke leërafdeling sy eie kommandant-generaal kies wat sy opdragte van die Staatspresident sou ontvang. Die Staatspresident was die opperbevelvoerder. Die ander range was assistent-veldkornet, veldkornet en kommandant.

Na die Vrede van Vereeniging in 1902 is die kommandostelsel afgeskaf. In 1912 is die Burgermag ingestel  as ʼn komponent van die Unie-Weermag. Die Unieweermag was die staande professionele weermag. Die Burgermag was die voortsetting van die Britte se vrywilliger mag. Vorige lede van die Boerekommando’s kon by skietverenigings aansluit. In 1940 het die kommando’s onder beheer van die Vrywillige Reserwemag gekom. In 1948 is die Kommando’s weer geaktiveer as ʼn onderdeel van die Suid-Afrikaanse Weermag.

Onder beheer van die Suid-Afrikaanse Weermag, was die kommando’s nie meer selfstandig nie. Hulle het SAW uniforms en kentekens gedra en het ander range gekry. Die SA Leër was saamgestel uit ʼn voltydse mag en ʼn deeltydse mag. Die Voltydse Mag was die Staande Mag en Dienspligtiges. Die Deeltydse Mag het bestaan uit die Burgermag en die Kommando’s. Die Gebiedsmag was ʼn samestelling van gebiedsgebonde Kommando’s en die Burgermag wat operasioneel aangewend kon word. Die Kommando’s is as ligte infanterie toegerus en is opgelei vir teeninsurgensie. Dit het ingesluit die voorkoming van insypeling deur terroriste en gebiedsbeskerming teen terreur en sabotasie. Hulpverlening in tye van nood en na natuurrampe was ook deel van hulle verantwoordelikhede.

In 1960 was die bevelvoerder van ʼn plaaslike kommando ʼn kommandant. Hy was bygestaan deur ʼn kaptein / adjudant en ʼn administratiewe sersant. Daar was twee of meer veldkornetskappe in elke kommando, elk onder die bevel van ʼn kaptein. Die sterkte van ʼn veldkornetskap was 6 offisiere en 205 onderoffisiere en burgers. Kommando’s was in groepe ingedeel op grond van geografiese gebiede. Die aanvoerder van ʼn groep was ʼn groepkommandant. Die rang van groepkommandant is later verander na kolonel.

Onder die ANC bewind is die Kommando’s in 2003 afgeskaf. Dit sou vervang word met gespesialiseerde polisie eenhede.

Die Boerekommando’s was ons volksweermag en kon vinnig plaaslik optree indien ons veiligheid bedreig word. Vandag is daar baie van ons volksgenote wat meen dat ons weer kommando’s benodig. Dit wil voorkom asof hulle die SAW se kommandostelsel met Boerekommando’s verwar.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui