Die invloed van Protestantisme op ons volk

Illustrasie: https://stad.gent/bibliotheek/dossiers/vroeger-en-nu/500-jaar-protestantisme

Daar is hoofsaaklik drie groot vertakkinge in die Christelike geloof: die Ortodokse siening, die Rooms-Katolieke siening en die Protestantse siening.

Ons stamouers was die nageslag van die oorspronklike wegbrekers uit die Rooms-Katolieke Kerk. Ons stamouers het groot geword as Protestante en hulle nageslag ook so opgevoed. Die een geslag het die volgende geslag, tot betreklik onlangs toe, ook so opgevoed. Die Protestantisme is so geheel en al deel van ons volksaard dat ons nie onsself kan verstaan of beskryf daarsonder nie. Protestantisme het nie net ons geloof bepaal nie, dit het ook ʼn invloed op ons kultuur uitgeoefen.

Daar was nog nooit net een Protestantse kerk nie, daar was nog altyd verskillende strominge binne die Protestantisme. Van die strominge wat by ons voorkom is die Gereformeerde, Baptistiese, en Pinkster strominge. Ten opsigte van kerkregering kan ons onderskei tussen die Presbiteriaanse, die Kongregasionalistiese en die Episkopaalse vorms. Die Anabaptisme (Wederdopers) het glad nie by ons voorgekom of invloed uitgeoefen nie.

...

As daar dan soveel verskille tussen Protestante bestaan, wat het hulle dan in gemeen? Die Protestantse leiers het oorspronklik nie bedoel om ʼn nuwe kerk te stig nie, hulle wou die Rooms-Katolieke Kerk van binne af hervorm. Dit het gelei tot konflik tussen hulle en die Rooms-Katolieke Kerk, dit weer het gelei tot vervolging en godsdiensoorloë. Protestante se een gemeenskaplike ooreenkoms is hulle teenstand teen die Roomse kerk. Ondermeer het hulle nie die oppergesag van die Pous erken nie, hulle het nie die verering van Moeder Maria en kerklike heiliges erken nie, hulle het slegs twee sakramente (die doop en nagmaal) as Bybels korrek erken en hulle het nie met die Roomse kerkregering saamgestem nie.

Dit wat alle Protestante onderskryf word saamgevat in vyf Latynse uitsprake, naamlik Sola Christus, Sola Scriptura, Sola Fide, Sola Gratia en Soli Deo Gloria. Hierdie vyf uitsprake is die kernbeginsels van die Protestantisme.

Met Sola Christus word bevestig dat Jesus Christus die enigste middelaar tussen God en mens is. Daarmee verwerp hulle die Roomse sienings ten opsigte van die Pous as Christus se verteenwoordiger, die belangrikheid van kerklike tradisies en kerklike heiliges.

Sola Scriptura is die standpunt dat slegs die Heilige Skrif as gesaghebbend erken word. Sola Scriptura bevat vier belangrike leerstellings: dat die onderrig van die Heilige Skrif noodsaaklik is, dat die Heilige Skrif voldoende is, dat alles in die Heilige Skrif korrek is en dat gelowiges self die Heilige Skrif kan lees en met die hulp van die Heilige Gees kan verstaan. Die Rooms-Katolieke Kerk se siening was dat slegs sekere persone, die ingewydes, ʼn spesiale status het om die Heilige Skrif te kan interpreteer. Leke kon nie. Hulle het ook geglo dat idees wat baie oud is die Heilige Skrif verklaar. Verder het die Roomse kerk boeke in hulle Bybel ingesluit wat Protestante nie as Goddelik geïnspireerd erken het nie.

Sola fide beteken dat die mens slegs deur geloof in Jesus Christus gered kan word. Daar is geen ander manier nie. Hulle het die Roomse stelsel van goeie werke, boetedoening, kwytskelding deur priesters en die vagevuur verwerp.

Met Sola gratia word gesê dat verlossing slegs deur genade geskied. Verlossing kan nie verdien word nie en goeie werke het geen invloed op verlossing nie.

Die uitspraak Soli Deo Gloria beteken dat aan God al die eer toekom vir die redding van mense. Verlossing word slegs deur Sy wil en handelinge bewerk. Dit sluit in die gawe van geloof. Mense, soos die Pous en die kerklike heiliges is nie eer waardig nie.

Die Protestantse lewensuitkyk het die huwelik en gesin, opvoeding, geesteswetenskap en natuurwetenskap, die sosiale en politieke orde, die ekonomie en die kunste ten goede beïnvloed. Protestante se kultuur het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van die Westerse Beskawing.

Omdat hulle mense aangemoedig het om self die Heilige Skrif te lees, het Protestante onderwys op alle vlakke bevorder deur skole en universiteite te stig. Die Protestantse konsep van God en mens het gelowiges toegelaat om al hul Godgegewe fakulteite en talente te gebruik, hulle kon God se skepping verken en verantwoordelik gebruik. Gelowiges is aangemoedig om hardwerkend te wees. Daar word gepraat van die spesifieke werksetiek wat by Protestante voorkom. Die Protestantse morele kode het die luukse afgekeur en spaarsamigheid en verstandigheid aangemoedig. Gevolglik het vakmanne, nyweraars en ander sakelui die grootste deel van hulle winste herbelê in beter gereedskap, beter masjinerie, beter produksiemetodes en beter lone vir hulle werkers. Wetenskaplike navorsing is gestimuleer en verskeie baanbreker uitvindings was deur Protestante gedoen. Dit was Protestante wat die republikeinse ideaal ontwikkel en ondersteun het. Hulle het die konsep van ʼn staatskerk verwerp en geglo daar moet skeiding tussen kerk en staat wees. Protestante was vervolg weens hulle geloof en was voorstanders van godsdiensvryheid. Protestante het ook hospitale, tehuise en ander instellings gestig. Prominente komponiste, skilders en skrywers kon uitstaande werk lewer danksy hulle Protestantse agtergrond.

Dit is ons erfenis en het ons volk gevorm. Dit verhoed nie iemand wat nie ʼn Protestant is om deel van ons volk te wees nie, solank hy aanvaar dat die res van sy volksgenote wel Protestante is. Hy is dus ʼn uitsondering en moet homself sonder kritiek daarby neerlê. Dit beteken ook dat hy die volk se erfenis sal respekteer en nie sal probeer aftakel nie.

Ons moet ons erfenis in stand hou en dit oorlewer aan ons nageslag. Dit moet onthou word dat die Gelofte deur Protestante afgelê is.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Ons latere stamouers

Illustrasie: Duitse Setlaarsmonument, Wikipedia

Sedert 1652, toe van Riebeeck aan die Kaap geland het, tot en met die Groot Trek, was die blanke bevolking aan die Kaap van Goeie Hoop hoofsaaklik Nederlanders, Nederduitsers, Franse Hugenote en 1820-Setlaars. Daar was ook enkelinge en gesinne uit ander Europese lande wat hulle ook hier kom vestig het. Ondermeer uit Portugal, Swede en Oostenryk. Uit hulle het daar ook Boerefamilies ontstaan.

Na die Groot Trek het daar nog nuwe bloed bygekom. Daar is doelbewuste pogings deur die Britse kolonies en die Boererepublieke aangewend om nog blankes uit Europa in Suidelike Afrika te vestig. Daar was ook individue en gesinne wat hierheen gekom en wat nie deel was van die groter groepe nie. Met die ontdekking van minerale het nog blankes van oraloor gekom as fortuinsoekers op veral die diamant- en goudvelde.

Na die Anglo-Boereoorlog het sommige van die Britse soldate agterbly en hulle permanent hier gevestig. Gedurende die tydperk 1910 tot 1961, die tydperk van die Unie van Suid-Afrika, het nog individue en gesinne hulle hier kom vestig.

Nadat Europese lande sedert 1960 hulle Afrika-kolonies prys gegee het, was daar burgeroorloë in hierdie lande en moes van die blankes, wat geslagte lank daar gewoon het, vir hulle lewens vlug. Talle vlugtelinge het na Suid-Afrika gekom, veral vanaf Britse en Portugese kolonies. Tydens die Koue Oorlog was daar ook vlugtelinge uit kommunistiese Oos-Europa wat ook hier ʼn veilige hawe gevind het.

...

Britse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In die jare na die 1820 setlaars na die Kaap gekom het, was daar nog  Britse immigrante wat hulle in Suidelike Afrika kom vestig het.

Tussen 1825 en 1845 was daar geen aanmoediging en hulp vir Britte om na Suidelike Afrika te kom nie. Nogtans het meer as 5 000 op eie koste gekom. Tussen 1847 en 1866 het 11 000 Britse immigrante met hulp van die Britse regering en privaat beleggers hulle in die Kaap en Natal gevestig. Pogings om hierdie mense in die landbou te plaas, het misluk en hulle het later in die stede ‘n heenkome gevind.

In 1857 het 1 000 arm jong ongetroude Ierse vroue met staatshulp na Suidelike Afrika gekom om huisbediendes te wees. Ander skemas het die immigrasie van vroue bevorder om as sendelinge en onderwyseresse te werk.

Tussen 1873 en 1883 het meer as 22 000 Britte met immigrasieskemas na Suidelike Afrika gekom. Van hulle was kunshandwerkers, ambagsmanne, spoorwegwerkers, mynwerkers en ongeskoolde werkers. In 1891 was daar 188 000 mense wat in Brittanje gebore is.

In Suidelike Afrika het ‘n nuwe klasse onderskeid tussen die Britsgebore bevolking ontstaan. Die mynbase en senior bestuurders het ‘n elite gevorm.

Duitse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In 1857 is 2 000 Duitse Setlaars in Brits-Kaffraria  gevestig om ‘n buffer teen die Xhosas te wees. Uiteindelik het omtrent 4 000 Duitsers hulle in die Oos-Kaap gevestig. Hulle is deur die Britse regering ondersteun. Hierdie groep staan bekend as “die Eerste Golf” van Duitse setlaars.

In 1877 – 1878 is die “Tweede Golf” Duitse setlaars deur ‘n immigrasieprojek op die Kaapse Vlakte gevestig. Nog ‘n groep het in 1883 opgedaag. Hulle was groenteboere. Die meeste was arm kleinboere en ambagsmanne uit Noord-Duitsland.

Die Natal Cotton Company het in Duitsland geskikte immigrante verkry om in Natal met katoen te boer. In 1848 arriveer 35 gesinne en vestig hulle in wat vandag Westville en New Germany is. Die katoenboerdery het misluk en hulle gaan toe oor na groente en suikerriet. Later het ‘n groep van hulle weggetrek en in New Hanover gaan woon.

Die Hermannsburg Sendinggenootskap het ‘n sendingstasie op die grens tussen Natal en Zoeloeland gestig. Saam met sendelinge stuur die genootskap ook koloniste wat by sendingstasies sou help. Die meeste van hulle is Platduitsers. ‘n Hele klomp Afrikaanse vanne is van hulle afkomstig.

In 1853 het die ZAR die Morawiese sendinggenootskap versoek om sendelinge te stuur om onder die Tswanas te werk. In 1857  is die Hermannsburg Genootskap gevra om die Londense Genootskap se ontruimde stasies oor te neem.

In 1882 het ‘n klein groepie Noorse setlaars hulle in Natal gevestig.

Immigrante na die Anglo-Boereoorlog

Tussen 1946 en 1961 het 115 000 Britse burgers hulle in Suid-Afrika gevestig.

Reeds in 1958 het die Viljoen-kommissie bevind dat die ekonomiese groeikoors van daardie tyd net volgehou sal kan word as 25 000 geskoolde immigrante per jaar gewerf kan word. Die Nasionale Party regering het ‘n organisasie gestig met die doel om immigrasie te bevorder. In 1961 is ‘n skema geloods wat finansiële bystand gegee het aan geskoolde immigrante uit Europa.

Tussen 1964 en 1972 was die jaarlikse ekonomiese groei tussen 6 en 8 persent. Gekwalifiseerde persone uit Europa was noodsaaklik. Die jaarlikse aantal Immigrante het van minder as 10 000 in 1960 toegeneem tot 48 000 in 1966.

Amper die helfte van die blanke bevolkingsaanwas tussen 1961 en 1977 was as gevolg van immigrasie.

Blankes in Namibië

In 1884 het Duitsland die gebied wat vandag Namibië genoem word, gekoloniseer as Duits-Wes Afrika. Die nuwe kolonie het immigrante uit Duitsland gelok. Die meeste Afrikaanssprekende blankes is afstammelinge van die Dorslandtrekkers. Die Dorslandtrek was ‘n reeks trekke uit Transvaal na Angola en Duits-Wes wat tussen 1874 en 1927 plaasgevind het. Die Portugese bevolking was vlugtelinge uit Angola.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin