Ons latere stamouers

Illustrasie: Duitse Setlaarsmonument, Wikipedia

Sedert 1652, toe van Riebeeck aan die Kaap geland het, tot en met die Groot Trek, was die blanke bevolking aan die Kaap van Goeie Hoop hoofsaaklik Nederlanders, Nederduitsers, Franse Hugenote en 1820-Setlaars. Daar was ook enkelinge en gesinne uit ander Europese lande wat hulle ook hier kom vestig het. Ondermeer uit Portugal, Swede en Oostenryk. Uit hulle het daar ook Boerefamilies ontstaan.

Na die Groot Trek het daar nog nuwe bloed bygekom. Daar is doelbewuste pogings deur die Britse kolonies en die Boererepublieke aangewend om nog blankes uit Europa in Suidelike Afrika te vestig. Daar was ook individue en gesinne wat hierheen gekom en wat nie deel was van die groter groepe nie. Met die ontdekking van minerale het nog blankes van oraloor gekom as fortuinsoekers op veral die diamant- en goudvelde.

Na die Anglo-Boereoorlog het sommige van die Britse soldate agterbly en hulle permanent hier gevestig. Gedurende die tydperk 1910 tot 1961, die tydperk van die Unie van Suid-Afrika, het nog individue en gesinne hulle hier kom vestig.

Nadat Europese lande sedert 1960 hulle Afrika-kolonies prys gegee het, was daar burgeroorloë in hierdie lande en moes van die blankes, wat geslagte lank daar gewoon het, vir hulle lewens vlug. Talle vlugtelinge het na Suid-Afrika gekom, veral vanaf Britse en Portugese kolonies. Tydens die Koue Oorlog was daar ook vlugtelinge uit kommunistiese Oos-Europa wat ook hier ʼn veilige hawe gevind het.

...

Britse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In die jare na die 1820 setlaars na die Kaap gekom het, was daar nog  Britse immigrante wat hulle in Suidelike Afrika kom vestig het.

Tussen 1825 en 1845 was daar geen aanmoediging en hulp vir Britte om na Suidelike Afrika te kom nie. Nogtans het meer as 5 000 op eie koste gekom. Tussen 1847 en 1866 het 11 000 Britse immigrante met hulp van die Britse regering en privaat beleggers hulle in die Kaap en Natal gevestig. Pogings om hierdie mense in die landbou te plaas, het misluk en hulle het later in die stede ‘n heenkome gevind.

In 1857 het 1 000 arm jong ongetroude Ierse vroue met staatshulp na Suidelike Afrika gekom om huisbediendes te wees. Ander skemas het die immigrasie van vroue bevorder om as sendelinge en onderwyseresse te werk.

Tussen 1873 en 1883 het meer as 22 000 Britte met immigrasieskemas na Suidelike Afrika gekom. Van hulle was kunshandwerkers, ambagsmanne, spoorwegwerkers, mynwerkers en ongeskoolde werkers. In 1891 was daar 188 000 mense wat in Brittanje gebore is.

In Suidelike Afrika het ‘n nuwe klasse onderskeid tussen die Britsgebore bevolking ontstaan. Die mynbase en senior bestuurders het ‘n elite gevorm.

Duitse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In 1857 is 2 000 Duitse Setlaars in Brits-Kaffraria  gevestig om ‘n buffer teen die Xhosas te wees. Uiteindelik het omtrent 4 000 Duitsers hulle in die Oos-Kaap gevestig. Hulle is deur die Britse regering ondersteun. Hierdie groep staan bekend as “die Eerste Golf” van Duitse setlaars.

In 1877 – 1878 is die “Tweede Golf” Duitse setlaars deur ‘n immigrasieprojek op die Kaapse Vlakte gevestig. Nog ‘n groep het in 1883 opgedaag. Hulle was groenteboere. Die meeste was arm kleinboere en ambagsmanne uit Noord-Duitsland.

Die Natal Cotton Company het in Duitsland geskikte immigrante verkry om in Natal met katoen te boer. In 1848 arriveer 35 gesinne en vestig hulle in wat vandag Westville en New Germany is. Die katoenboerdery het misluk en hulle gaan toe oor na groente en suikerriet. Later het ‘n groep van hulle weggetrek en in New Hanover gaan woon.

Die Hermannsburg Sendinggenootskap het ‘n sendingstasie op die grens tussen Natal en Zoeloeland gestig. Saam met sendelinge stuur die genootskap ook koloniste wat by sendingstasies sou help. Die meeste van hulle is Platduitsers. ‘n Hele klomp Afrikaanse vanne is van hulle afkomstig.

In 1853 het die ZAR die Morawiese sendinggenootskap versoek om sendelinge te stuur om onder die Tswanas te werk. In 1857  is die Hermannsburg Genootskap gevra om die Londense Genootskap se ontruimde stasies oor te neem.

In 1882 het ‘n klein groepie Noorse setlaars hulle in Natal gevestig.

Immigrante na die Anglo-Boereoorlog

Tussen 1946 en 1961 het 115 000 Britse burgers hulle in Suid-Afrika gevestig.

Reeds in 1958 het die Viljoen-kommissie bevind dat die ekonomiese groeikoors van daardie tyd net volgehou sal kan word as 25 000 geskoolde immigrante per jaar gewerf kan word. Die Nasionale Party regering het ‘n organisasie gestig met die doel om immigrasie te bevorder. In 1961 is ‘n skema geloods wat finansiële bystand gegee het aan geskoolde immigrante uit Europa.

Tussen 1964 en 1972 was die jaarlikse ekonomiese groei tussen 6 en 8 persent. Gekwalifiseerde persone uit Europa was noodsaaklik. Die jaarlikse aantal Immigrante het van minder as 10 000 in 1960 toegeneem tot 48 000 in 1966.

Amper die helfte van die blanke bevolkingsaanwas tussen 1961 en 1977 was as gevolg van immigrasie.

Blankes in Namibië

In 1884 het Duitsland die gebied wat vandag Namibië genoem word, gekoloniseer as Duits-Wes Afrika. Die nuwe kolonie het immigrante uit Duitsland gelok. Die meeste Afrikaanssprekende blankes is afstammelinge van die Dorslandtrekkers. Die Dorslandtrek was ‘n reeks trekke uit Transvaal na Angola en Duits-Wes wat tussen 1874 en 1927 plaasgevind het. Die Portugese bevolking was vlugtelinge uit Angola.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui