Ons voorgeslagte en ons toekoms

Voorblad van een van my boeke

Is daar hoop vir ons as volk? Dink jy daaroor, sit jy op Moedverloor se vlakte. Ondersoek jy jou binneste, sien jy ʼn dowwe liggie voor in die wapad. Hoop word nie bepaal deur die huidige situasie nie. Ten spyte van die realiteit, ten spyte van die skynbaar onmoontlike, gee jy nie moed op nie, beur jy vorentoe, sien jy wat kan wees.

Ek het die laaste ruk heelwat tyd aan die afhandeling van geslagsregisters spandeer. Ek het die geleentheid gehad om dit waarmee ek al donkiejare besig was, nou te voltooi. Wat my vantevore gekortwiek het, was ʼn tekort aan inligting. Net een klein stukkie inligting en ek sou verder kon gaan. Intussen het dinge verander. Ander persone het met hulle navorsing voortgegaan en kon inligting bekom waaroor ek nie beskik het nie. Die internet het gekom en navorsers se inligting is daar beskikbaar gestel. Die hoop om hierdie geslagsregisters te voltooi het nie beskaam nie.

Wanneer jy ʼn geslagsregister opstel, doen jy dit want jy het hoop vir die toekoms. Jy hoop die nageslag sal belangstel om te weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom. Die familie wat jy navors se geskiedenis maak saak, op daardie geskiedenis moet die toekoms gebou word. Dit herinner jou aan die mense waaruit jy kom en wat hulle deurleef het.

My eie stamvader het daarin geslaag om uit die godsdienstige vervolging in Frankryk te ontsnap en veiligheid in Nederland te vind. Hier het hy ʼn heenkome gevind en is hy getroud en is sy kinders gebore. Na ʼn klompie jare het hy ʼn betrekking by die VOC gekry en is na Batavia gestuur. Aan boord die skip het hy ernstig siek geword en moes hy aan die Kaap van Goeie Hoop agtergelaat word. Sy siekte was van so ʼn aard dat hy nooit weer verder sou kon reis nie. Hy kon nie verder reis na Batavia toe nie, hy kon ook nie terugkeer na Nederland toe nie. Wat van sy vrou en kinders? Sal hy hulle ooit weer sien? Eers na sewe jaar kon sy gesin by hom aansluit. My familie het nie ontstaan uit fortuinsoekers of kolonialiste nie, ons is hier in Suidelike Afrika deur die Voorsienigheid geplant. Ons kon nêrens anders heengaan nie.

My vertakking van die familie was Voortrekkers. In Natal was een van my direkte voorouers saam met Piet Retief deur Dingaan vermoor. Genadiglik het sy gesin die daaropvolgende massamoorde vrygespring. Voor Bloedrivier was die oorblywendes oortuig dat hulle in ʼn onmoontlike situasie was. Op hulle eie sal hulle nie oorleef nie. Bloedrivier het letterlik my familie se voortbestaan verseker. As dit nie vir Bloedrivier was nie, was ek nooit gebore nie.

My een oumagrootjie het die Tweede Dorslandtrek oorleef. Sy was omtrent 13 jaar oud toe haar ouers die trek onderneem het. Sy het beleef hoe daar nie skoon water was nie en hoe daar nie genoeg kos was nie. Sy het gesien hoe mense sterf van malaria, gifappels, honger en dors. Net ʼn paar lede van die gesin het oorleef en het skuiling gevind by ʼn afgeleë sendingstasie in Namibië. Wat gaan nou van hulle word? Hulle kon nie terugkeer na hulle eie land, die Transvaal, toe nie. Hulle kon nie hulle familie laat weet dat hulle nog lewe nie. Die Kaapse regering het gehoor van die Dorslandtrekkers en het ʼn amptenaar gestuur om ondersoek in te stel. Die amptenaar, ʼn sekere Haybittel, het my oumagrootjie en die ander oorlewendes by die sendingstasie opgespoor en gehelp (op koste van die Kaapse regering) om na die Transvaal terug te keer.

My oupagrootjies het tydens die Anglo-Boereoorlog teen die Britse Ryk geveg. Een is as krygsgevangene dood op St. Helena. My stief-oupagrootjie was ook op St. Helena en was een van die onversetlikes wat nie ’n eed van getrouheid aan Brittanje wou aflê nie. Hulle gesinne was in konsentrasiekampe opgeneem. Daar was nie hensoppers en joiners in my familie nie. Na die oorlog, was die getroue burgers verarmd, hulle huise was afgebrand en hulle boerdery was vernietig. My een oupagrootjie het sy plaas verloor en sy kinders moes ongeskoolde arbeiders word. Weereens het voortbestaan onmoontlik gelyk. As jy nie eers weet of jy sal kan voortbestaan nie, is dit nutteloos om te dink hoe enige iets beter kan word. Nogtans het hulle daarin geslaag om uit ellende en vyandskap uit op te staan en het uiteindelik ʼn toekoms aan hulle nageslag gebied.

Baie mense se familiegeskiedenis is soortgelyk aan myne. Ander families se geskiedenis verskil van myne. Hulle het hul eie wel en weë deurleef. Deur met mekaar te ondertrou het uiteenlopende familiegeskiedenisse verenig. Al sou iemand se direkte voorouers nie Voortrekkers was nie, kon sy ouma aan moederskant van Voortrekkers afgestam het. Verskillende familiegeskiedenisse word saam een volksgeskiedenis.

Wat is die nut van geslagsregisters opstel en volksgeskiedenis bestudeer as ons nie gaan voortbestaan nie? Dit word nie gedoen ter wille van ons nuuskierigheid nie, dit word gedoen om ons te inspireer.

In die wêreldgeskiedenis was daar volke wat heeltemal verdwyn en opgehou bestaan het. Ek hoop nie dit gebeur met ons nie. Ek hoop ons sal bly voortbestaan. Dit sal vir my tragies wees as ons voorgeslagte se lyding, opofferings en strewe tevergeefs was.

Ek hoop ons en ons nageslag sal weer uitvind wie ons is en wat ons doel as volk is. Ek hoop dat ons weer sal terugkeer na onsself en ons eie toe en dat ons ons  roeping sal vervul. Al lyk dit nou onmoontlik.

SPESIALE AANBOD

My boeke verskyn aan die regterkant van hierdie bladsy.

Hierdie boeke kan gratis bestel word deur ‘n e-pos te stuur aan: Buitepos@minderheidsverslag.co.za

Die boeke is in beide PDF en EPUB beskikbaar. Noem asb. watter formaat verkies word.

 

 

 

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin