God het ons aan ons vyande oorgegee


Foto: https://www.frontlinemissionsa.org/news/die-95-stellings-vir-hervorming-vandag

Eens op ʼn tyd (1948 tot 1966) het ons probeer leef volgens morele beginsels. Ons wou seker wees dat alles wat ons doen, moreel reg was. Ons was gesteld op ons waardes en was nie bereid om dit prys te gee nie. Al kos dit ook wat. Toe het dit goed met ons gegaan en ons het op baie gebiede presteer.

Toe kry ons die wêreld lief en wil vir die wêreld aanvaarbaar wees. Die wêreld sê toe ons moet bietjie skiet gee en ʼn paar toegewings doen. Ons doen dit toe, maar die wêreld was nog nie tevrede nie en ons moes nog verdere toegewings maak. Uiteindelik het ons aan alles toegegee en alles verloor wat vir ons belangrik was. Nou verkeer ons in ʼn uiters benarde situasie. Ons is nou soos slawe in ons eie land en ons vyande regeer oor ons en sê openlik dat hulle ons wil uitwis.

Hoe het dit gebeur? Wat sê ons het verkeerd gegaan? Een verduideliking is dat dit iemand anders se skuld is. Ons leiers het ons verraai en uitverkoop. Dit is nie ons skuld dat ons hulle gekies het as leiers nie, dit is ook nie ons wat hulle blindelings gevolg het nie. Dit is nie ons wat nie na waarskuwings geluister het nie. Die fout lê nie by ons nie.

Vandag roem ons daarop dat ons kranige soldate was toe ons jonk was. Laat die vyand weet ons sal hulle aanvat en wys waar Dawid die wortels begrawe het. Ons het genoeg gehad. Pasop ons gaan dit nie langer vat nie. So sê ons elke nou en dan en die vyand skrik nog nie en wil nie toegee nie.

Ons sê ook ons moet net saamstaan, dan sal ons iewers kom. Kan mens ʼn os en ʼn perd in dieselfde juk inspan? Kan ʼn Christen en ʼn ateïs saamstaan? Of ʼn Christen en ʼn afgodsdienaar? Kan hulle saam in ʼn Bloedrivier-laer wees? Die Wenkommando van Bloedrivier moet nie onthou word vir hulle dapperheid of krygsvernuf nie. Hulle moet onthou word vir hulle vertroue op God. Ons kan nie vandag se stryd voer sonder God nie.

Party sê God help ons altyd en sal nou weer. Regtig? Kan ons doen wat ons wil en God sal ons steeds help? Laat vaar daardie houding. Baie sê ons moet bid. Sal God luister as ons bid? Is ons gebede aanvaarbaar vir Hom? Wie almal moet saambid? Enige een of slegs die persone na wie God sal luister?

Die kerke het ook verwêrelds. Is daar iewers nog ʼn predikant of twee wat die waarheid verkondig? Dan hoor ons hulle nie. Het hulle al in die moeilikheid daaroor gekom? As hulle nie het nie, waarom nie? Ons kan nie op kerke en predikante staatmaak nie.

Hoe lyk die godsdiens van ons gewone mense? Dit lyk vir my of elkeen sy eie godsdiens opmaak soos hy aangaan. Lei alle paaie na die ware God? Nie volgens God self nie, by Hom is daar net een pad. Daar is die wat reken ons moet die Ou Testamentiese wette nakom. As nakoming van die wet die weg was, dan het Christus verniet gesterf en opgestaan.  Ons moet weer ontdek dat slegs Christus redding gee, niks en niemand anders nie. Om die korrekte Hebreeuse name van God te gebruik, is goed. Tog het ons voorouers dit nie geken nie en nogtans vir God aanvaarbaar gewees. Baie van ons is nuuskierig en lees allerlei godsdienstige boeke wat hulle dan as gesaghebbend beskou. Ons moet weer besef dat God alleen besluit wat gesaghebbend is en wat nie.

Daar is ook die wat meen ons kan nie net wil glo nie, ons moet iets doen ook. Het God ons hulp nodig? In alles kom eer en dank net aan Hom toe. Ons moet weer die beginsels van slegs Christus, slegs geloof, slegs genade, slegs die Heilige Skrif, slegs God moet geëer word, ontdek.

Daar is net mooi niks aan onsself wat God beïndruk nie. Ons het van Hom af weggedwaal en die wêreld liefgekry. Daar is vyandskap tussen God en die wêreld. Mens kan nie albei gelyk dien nie, jy moet kies.

Soos ons God verlaat het, so het Hy Sy rug op ons gedraai. Hy het ons oorgegee aan ons eie dwaasheid. Daarmee saam het Hy ons oorgegee in die hande van ons vyande. Ons pluk nou die vrugte van ons afdwaling.

Kan die verhouding tussen ons, die inheemse blankes in Suidelike Afrika, en God reggemaak word? Ek sal graag wil hoor hoe. Om sake met Hom reg te maak, sal ons dapper en gehoorsaam moet wees. Dit sal moeiliker wees as enige iets wat ons ons kan voorstel.

Tensy Hy ons, sonder dat ons dit verdien, genadig sal wees. Eers sal ons Hom moet smeek om vergifnis en pleit vir Sy genade.

GRATIS e-boeke

My e-boeke word aan die regterkant vertoon. Om ‘n gratis e-boek te bekom, stuur ‘n e-pos aan: Buitepos@minderheidsverslag.co.za met die naam van die boek en die formaat wat u verkies. Die beskikbare formate is PDF en EPUB.

Indien u ons werk wil ondersteun, gebruik asseblief hierdie skakel:

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

2 thoughts on “God het ons aan ons vyande oorgegee”

  1. Soos gewoonlik is jy reg in die kol Wilco.
    Ons eens brawe volk het afgewater tot `n verwarde spul selfsugtige lamsakke. Dit ten spyte van die opofferings van ons voorouers.
    Ons kerke het sosiale klubs begin word waar jy jou suksesse en belangrikheid vertoon. Welvaart het ons vernietig toe ons ons eie belang eerste begin stel het. FW is `n goeie voorbeeld daarvan.
    Deur ons blinde optrede bespot, martel en kruisig ons weer vir Christus.
    God is altyd regverdig. Hy sal sy kinders straf as hulle enige-iets voor Hom stel want Hy is lief vir ons en sal ons nie laat begaan nie.
    Ons moet egter afsien van ons wêreldse liefde en ons sonde bely en Hom eerste stel in alles. Sy genade is groot maar Hy haat sonde.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui