Dis tyd om te ween

Foto: https://en.wikipedia.org/wiki/Jeremiah

Jy word wakker in die oggend. Wat se nuus is daar? Belangrike goed soos Covid-19, BLM, die petrolprys. O ja, daar was ʼn plaasaanval ook.

Wat van die plaasaanval? Ons is ontsteld, ons het genoeg gehad, ons is gatvol, ons gaan dit nie meer vat nie. Pasop, die Boere gaan saamstaan. Ons is ʼn gedugte volk, jy kan nie met ons mors nie, ons sal julle aanvat.

Ons deel die nuus, foto’s en video’s met ander op sosiale media want die hoofstroom koerante en TV kanale verswyg sulke sake. Ons probeer soveel mense moontlik bewus maak. Hier en in die buiteland. Ons probeer beswaar maak, ons probeer optogte hou, ons skryf boeke, ons beroep ons op die hof. Ten spyte van dit alles, gaan daar vandag weer ʼn plaasaanval wees. Ons weet net nie waar en wie nie.

Die waarheid is dat niemand ons gaan help nie, ons is op ons eie. As ons eerlik is, sal ons erken dat ons magteloos is. Daar is niks wat ons, menslik gesproke, daaraan kan doen nie.

Ons het hulp nodig. Waar sal ons hulp vandaan kom? Die korrupte Weste? Daar is die wat sê ons moet bid. ʼn National Day of Prayer waar elkeen sy eie god kan aanbid? ʼn Kettinggebed sodat God kan sien hoe baie ons is. Sal dit Hom oorreed om iets te doen? Dalk moet ons hardop bid vir ingeval God nie goed kan hoor nie of dalk net ʼn power nap vat?

Vra jy, sal jy verneem dat ons almal Christene is. Ons glo dat God bestaan en dat Jesus vir ons sondes gesterf het. Ongelukkig glo die Satan dit ook. Ons dink dat as ons redelik ordentlike mense is en ons gaan kerk toe, dan is ons saak reg. Ons kan so eenkeer ʼn week ons sonde bely, dan is ons reg vir die volgende week.

Dit wil voorkom of ons dink dat sonde afgeskaf is. Elke diertjie het sy plesiertjie en solank ons nie iemand benadeel nie, is ons saak reg. Dit is ons, nie God nie, wat  wil besluit oor wat vir Hom aanvaarbaar moet wees.

Intussen wil ons graag blessings ontvang. Veral die wat finansieel is. Ons bou groot ouditoriums en pak duisende in om gebless te word. Die predikers moet gemaklik kan lewe en wys hoe suksesvol hulle is. Natuurlik dra ons ook ruimskoots by om ons kerk ʼn groot sukses te maak in die oë van mense. Want die kerk moet kompeteer met ander organisasies en groepe.

Hoe is dit dan moontlik dat dit so sleg met ons gaan? Hoekom laat God toe dat dit so met ons gaan? Die plaasmoorde is dan mos Sy skuld? As die fout nie by God is nie, dan het ons ʼn probleem, ʼn baie groot probleem.

Kan dit wees dat God nie tevrede met ons is nie? Dat Hy ons nie wil help nie? Dat ons eers die fout by onsself moet soek?

Die Ou Testamentiese Israel het in soortgelyke omstandighede hulle klere geskeur, as op hulle koppe gegooi en in die strate geweeklaag. Dit was nadat God se woede teen hulle ontketen was. Hy het hulle oorgegee aan hulle vyande en toegelaat dat die verskriklikste rampe oor hulle kom. Dit is baie soortgelyk aan wat ons beleef.

Nee, dit is nie die slagoffers se skuld en sonde wat dit veroorsaak nie. Dit is ons as volk se skuld en sonde wat dit veroorsaak. Ons het die wêreld liefgekry en wou die wêreld ter wille wees. Ons beoefen ʼn uiterlike godsdiens. ʼn Godsdiens wat ons pas en in ons smaak val. Solank dit so gaan, moet ons maar ophou bid en op ons eie kragte en vindingrykheid staatmaak.

Totdat ons tot besinning kom, moet ons rouklere aantrek en ween. Wanneer ons tot besinning gekom het, sal ons moet soebat vir vergifnis en genade. As iemand iets soek om te doen, dan is dit wat hy moet doen.

Spesiale aanbod: Gratis e-boeke

My e-boeke verskyn aan die regterkant van die bladsy. Indien u ‘n gratis e-boek wil ontvang, stuur ‘n epos na: buitepos@minderheidsverslag.co.za. Meld asb. die naam van die boek en of u dit in PDF of EPUB formaat wil hê.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin