Wie was die eerste mense?


Prent: https://reasonsforhopejesus.com/pre-adamite-heaven-and-earth-gap-theory/

Somtyds kom mens af op ʼn godsdienstige siening wat jy nog nie voorheen teengekom het nie. Selfs na 40 jaar se bestudering van die Heilige Skrif en baie dik teologiese boeke, het ek nog nie voorheen gehoor van pre-Adamiete nie. Mens is nooit te oud om te leer nie, gevolglik het ek gaan oplees hieroor. Daar is ʼn menigte geskrifte wat hieroor handel.

Die pre-Adamiete word beskryf as mense wat voor die skepping van Adam geleef het. Die siening was nodig om te verduidelik waar die seuns van Adam vroue gekry het. Sommige 17de-eeuse Europeërs kon die volke, stamme en tale van Asië en Amerika nie uit die Bybelse geskiedenis verklaar nie. Hulle het gevolglik die stelling dat alle mense afstam van ‘n eerste mensepaar op logiese en taalkundige gronde verwerp. Dit het gelei tot die teologiese hipotese dat daar nog mense voor Adam en Eva geskape was, genaamd pre-Adamiete.

Daar is tot vandag toe, vreeslik baie verskillende aanhangers van hierdie sienings. Elkeen het ook ʼn eie standpunt en verduideliking hieromtrent. George Dickison het “The Mosaic Account of Creation, As Unfolded in Genesis, Verified by Science” in 1902 geskryf. Die boek het wetenskap gemeng met ‘n wetenskaplike lees van Genesis en bevat ‘n lys van geologiese ontdekkings wat getoon het dat mense bestaan het voordat Adam geskep is en dat die aarde baie ouer as 6000 jaar is. Dickison het wetenskaplike ontdekkings uit fossiele en die paleontologie gebruik as bewyse vir pre-Adamiete. ʼn Ander siening het pre-Adamiete beskou as ‘n ras van minderwaardige wesens of ook as minderwaardige rasse. Adam, was die eerste witman en gevolglik die eerste seun van God. Verder word slegs witmense (Kaukasiërs)  as afstammelinge van Adam beskou. In hierdie weergawe verlei Satan vir Eva, en die gevolglike nageslag is ‘n basterwese, Kain. R. A. Torrey (1856–1928), wat in die “Gap Theory” geglo het, het geglo dat dit moontlik was om evolusie sowel as Bybelse onfeilbaarheid te aanvaar, met die pre-Adamiete as die brug tussen godsdiens en wetenskap.

Ek beskou myself as In Evangelikaalse (Evangelic) Christen. Ondermeer onderskryf ek die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif en die beginsel van Sola Scriptura (Slegs die Skrif).  Die Heilige Skrif is deur God geïnspireer en is die enigste betroubare verduideliking van waar mense vandaan kom. Daar is vrae wat mense vra wat nie in die Skrif beantwoord word nie want God het dit nie belangrik geag om dit te antwoord nie. Die leer van pre-Adamiete is nie in die Skrif te vinde nie, dit vermeng die Skrif met ander sienings wat buite die Skrif voorkom: of die nou wetenskaplik is of nie. Dit verbreek die beginsel dat niks bygevoeg of weggelaat mag word nie.

Is pre-Adamiete geskep deur God? Het God dan minderwaardige wesens geskep? Indien nie, hoe het hulle ontstaan? Evolusie is ʼn teorie wat hoofsaaklik deur ongelowiges aangehang word. Dit is nie iets wat deur Evangelikaalse Christene as onbetwisbaar waar beskou word nie. Die vermenging van Skrif en wetenskap is spekulasie. As mens een spekulasie aanvaarbaar vind, maak dit die deur oop vir allerlei ander spekulasies ook.

Die Skrif praat slegs van een mensdom. Handelinge 17:26: En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, …

As Kain deur Satan by Eva verwek is, dan is dit teenstrydig met wat Jesus gesê het van die engele. Wat het met Noag se vloed gebeur? Is die pre-Adamiete nie ook dood nie? Of was sommige kinders van Noag Adamiete en die ander pre-Adamiete? So kan mens een vraag na die ander vra en daaroor spekuleer.

Joh. 1:1-4: In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Daar is egter ʼn nog groter probleem. Hoe pas pre-Adamiete in by die verlossing deur Jesus Christus (Yeshua die Gesalfde)?  Joh. 14:6: Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Die skepping van die mens en die sondeval wys heen na die Nuwe Testament  en die redding van verlore mense deur Jesus Christus. Die nuwe lewe in Christus is waarmee ons onsself moet besig hou. As die teorie van pre-Adamiete belangrik was, moes dit kon inpas by die heel belangrikste van alles: Jesus Christus.

Niemand word met God versoen op grond van enige iets of iemand anders as Jesus Christus nie. Dit maak dus nie saak of iemand ʼn Adamiet is of nie. Die redding is nie beperk tot Adamiete nie, almal wat sy vertroue stel op Jesus Christus word gered.

Rom. 3:9-12: Wat dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

Adamiete is almal skuldig voor God, dus is hulle niks beter as pre-Adamiete nie. Almal is ewe veel verlore. ʼn Siening dat Adamiete beter is as pre-Adamiete is dus ongeldig. Daarmee saam is die spekulasie oor pre-Adamiete ook ongeldig.

Hoe het dit dan gebeur dat ek nooit voorheen gehoor het van Adamiete en pre-Adamiete nie? Ek het my oë gevestig op Jesus Christus. Daar is niks belangriker as Hy en Sy verlossingswerk nie. Allerlei ander redenasies en spekulasies lei ons aandag van Hom af en veroorsaak dat ons nie vorder in die nuwe lewe nie.

My boek “Die Regte Weg” kan gratis bestel word by:

buitepos@minderheidsverslag.co.za

of by

http://gesellig.co.za/t/26266-Gratis_Afrikaanse_E-Boeke/

Versprei asseblief

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui