Beter as Bybelstudie


https://kerkbode.christians.co.za/2019/10/02/is-die-bybel-n-gevaarlike-boek/

Daar is baie verskillende maniere om die Bybel te bestudeer. Al hierdie metodes is vrylik beskikbaar en kan aanbeveel word.

Daar is ʼn verskil tussen die lees van die Bybel en die bestudering van die Bybel. Met Bybelstudie, delf mens dieper. Jy kan verskeie hulpboeke gebruik: ʼn Agtergrond, ʼn verklaring, ʼn atlas, ʼn konkordansie, ensomeer. Jy kan die Bybel onderstreep, ʼn uitligter gebruik of notas maak. Jy werk met die detail.

As jy die Bybel lees, gebruik jy slegs die teks voor jou. Jy kan dalk twee of meer weergawes van die Bybel gebruik om te verseker dat jy reg verstaan, maar jy gebruik min, indien enige, ander hulpmiddels. Jy werk met die geheel.

Die Bybel bestaan uit verskillende literatuursoorte. Van Genesis tot Ester is hoofsaaklik geskiedenis. Van Job tot Hooglied word “Wysheidsliteratuur” genoem en bevat min geskiedenis. Van Jesaja tot Maleagi is die Profete. Die profete bevat ʼn bietjie geskiedenis met waarskuwings en teregwysings. Daniël bevat ook apokaliptiese dele. Van Matteus tot by Handelinge is geskiedenis. Van Romeine tot by Judas is briewe en bevat dele wat geskiedenis is, die res is leerstellig. Openbaring is heeltemal apokalipties. Die grootste deel van die Bybel is geskiedkundige materiaal en is verhalend geskryf.

Hoe lees mens ʼn geskiedenisboek? Net soos ʼn storieboek. Jy begin voor en lees deur tot op die einde. Indien moontlik, lees jy dit in chronologiese volgorde.  As jy dit nie so lees nie, gaan jy nie die Bybel reg verstaan nie.

Daar is ontelbare verskillende interpretasies van die Bybel. Dit is so omdat mense versies uit een deel byvoeg by versies uit ʼn ander deel. Die verhaal word nie gelees nie, temas word gelees. ʼn Preek kan ook nie die plek vat van om die Bybel as verhaal te lees nie. Die preek is ʼn verduideliking van ʼn sekere gedeelte in die Bybel en dek nie die hele Bybel nie.

Toe ek vir die eerste keer (ek was toe in my dertigs) een van die Evangelies self deurgelees het, was ek geskok. Die Jesus (Yeshua in Aramees) wat ek van gehoor het deur die kinderbybel, die Sondagskool en die eredienste was heeltemal anders as die Jesus (Yeshua) in die vier Evangelies. Toe lees ek nie net van Sy gelykenisse en wonderwerke nie, toe lees ek in konteks alles wat gebeur het en Sy interaksie met mense. Toe lees ek ook van Sy konflik met mense.

Dit geld ook ten opsigte van die res van die Bybel. Dit wat God self gesê het en dit wat mense dink Hy gesê het, verskil soos dag van nag.

Hordes hooggeleerde tekskritici het hulle al besig gehou met die soektog na “die ware Jesus”. Hulle kon dit nie regkry nie. Moet ook nie die volle waarheid in geleerdheid soek nie, dit is nie daar nie. Dit was juis die geleerdes met wie Jesus (Yeshua) gebots het.

Moet ook nie worstel met vrae wat nie beantwoord gaan word nie. God sê vir ons dit wat ons nodig het om te weet en nie dit wat ons dink ons wil weet nie. As jy iets vind waarop jy meer inligting wil hê, of waar jy ʼn vraag oor het, moet dan nie stop en eers probeer om dit op te los nie. Hou aan met lees. Dit wat jy oor wonder, mag later op ʼn ander plek vir jou opgeklaar word. Indien jou vraag nie beantwoord word nie, mag dit wees omdat God nie dink jy hoef dit te weet nie. Ons kan ook vasval in ontledings van sinne en woorde wat dalk interessant is en ons baie besig hou. Juis dit veroorsaak dat jy weggelei word van die eintlike boodskap wat jy moet hoor. Dit bring ons ook nie nader aan God nie.

Judaïsme sien die Ou Testament as ʼn wetboek en wil die Ou Testament op dieselfde manier hanteer as wat die wêreld hulle wette hanteer. Mag jy op die Sabbat skottelgoed was? Hulle Rabbyne interpreteer alles en stel die regulasies op wat nagekom moet word. Toe die langverwagte Messias kom, toe is hulle nie in staat om Hom te herken toe Hy voor hulle staan nie. Hulle onvermoë het gelei tot ʼn botsing met Jahweh wat hulle van Hom, tot vandag toe, vervreem het.

Onder Christene gaan dit ook so. Ons hou ons besig met allerlei ander argumente en redenasies dat ons nie regtig God hoor nie. Ons hoor nie wat Hy regtig sê nie. Ons is veral geneig om so te konsentreer op Israel dat ons nie hoor wat Jesus (Yeshua) gesê het nie. Wie of wat wil jy ken? Die letters op papier of God self?

Moenie vasval in die detail nie, let op die geheel. Die geheel ontdek jy deur die Bybel te lees as die verhaal van God se bemoeienis met die mens. Hoe Hy die gevalle mens probeer bereik en in ʼn verhouding met Hom wil plaas.

As jy ʼn ander  boek sou lees, lees jy nie eers hoofstuk 3, dan hoofstuk 10 en dan hoofstuk 5 nie. So verstaan jy niks van wat in daardie boek geskryf is nie. Jy weet nie hoe dit begin nie, jy weet nie hoe dit eindig nie en jy weet nie wat die volgorde van gebeure is nie. En jy weet ook niks van die karakters in die boek af nie.

Lees die Bybel soos jy ʼn storie sal lees. Indien moontlik, lees dit in chronologiese volgorde. Dan lees jy die volle verhaal as ʼn geheel.

SPESIALE AANBIEDING:

Bestel enige van my e-boeke (aan die regterkant) by buitepos@minderheidsverslag.co.za en ontvang dit gratis. Kies tussen ‘n EPUP of ‘n PDF weergawe.

Versprei asseblief

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui