Nuwe woorde vir nuwe dinge

ba6de60f88c45f403b92d0e67319f107

Toe ek op skool was, was krieket nie een van die sportsoorte wat aangebied is nie. Krieket was wel gespeel by die groot Afrikaanse skole en by Engelse skole. Dit was toe nog hoofsaaklik ‘n Engelse sport.

Teen omtrent 1965, het Peter van der Merwe die kapteinskap van die Suid-Afrikaanse span oorgeneem en het hy en sy span (wat die Pollocks, Eddie Barlow en Dennis Lindsay ingesluit het), groot helde geword. Ewe skielik het die Boertjies begin belangstel. Nie lank nie, toe word krieket op die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai. Daar was net een klein probleemtjie: daar was geen krieketterminologie in Afrikaans nie.

Die Nederlanders het sommer die Engelse terminologie gebruik. Nie ons nie. Ons het ‘n volledige Afrikaanse krieketterminologie geskep. Persone soos Edwill van Aarde het gehelp om hierdie groot werk te doen. Ek kan onthou hoe die omroepers die luisteraars gevra het om voorstelle in te stuur. Die gevolg was dat krieket se gewildheid by Afrikaanssprekendes ontplof het.

Dit was nie net die geval met krieket nie. Ons het ons eie terminologie ontwikkel vir elke ding onder die son. Vandag het ons vaktaalwoordeboeke vir alles en nog wat. Jy kan blomme rangskik, sweiswerk doen, die sterre bestudeer, springstof gebruik, veesiektes behandel – alles in Afrikaans. Hierdie groot taak is gedoen deur toegewyde mense. Dit was nie maklik nie en dit het ‘n lang tyd geneem.

Danksy dit alles, kan Afrikaans op gelyke voet met die wêreldtaal Engels meeding. Daar is niks wat in Engels gesê kan word, wat ons nie ook in Afrikaans kan sê nie. Dikwels is Afrikaans ook meer beskrywend as Engels.

Mens kry die indruk dat Afrikaanssprekendes daarvan hou om nuwe woorde te skep en met woorde te speel. As iemand daarin slaag om ‘n nuwe woord daar te stel, voel hulle trots daarop.

Baie nuwe woorde is nie blywend nie, hulle word nie algemeen gebruik nie en dan verdwyn hulle in die vergetelheid. Dit is eers wanneer ‘n nuwe woord inslag vind by taalgebruikers dat dit in woordeboeke opgeneem word.

Van die bekendste woorde in Afrikaans, wat oorspronklik ‘n nuwe woord was, is onder andere kitskoffie, hysbak en slypskool. ‘n Negejarige dogter is trots daarop dat sy woorde ken wat haar maatjies nie ken nie, byvoorbeeld blaasroertjie en kolwyntjie (danksy ‘n paar ou Afrikaanse storieboeke).

Soos ons almal weet, is daar nou weer ‘n veldtog teen Afrikaans. Afrikaans word oral afgeskaf, selfs in tradisionele Afrikaanse skole en universiteite. Ook in die sakewêreld en werkplek. Hoewel Afrikaans gelyk aan Engels is, word Afrikaans verhinder om tot sy volle vermoë gebruik te word.

Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders ook erwe bly (Die Stem)

 

 

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Watter Afrikaans praat jy?

germaanse_boom2

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan en daar is nie net een Afrikaanse taal nie.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was ‘n lingua franca. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ‘n skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ‘n vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ‘n kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ‘n nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Hollandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenswerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ‘n voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Na die Anglo-Boere Oorlog is daar begin om Boere-Afrikaans te ontwikkel tot ‘n standaardtaal wat met Engels kon meeding. Daarmee is groot sukses behaal. Mettertyd is die naam van die taal verander van Afrikaans-Nederlands na net Afrikaans toe. Die indruk bestaan nou dat die twee tale, Kaapse-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans, dialekte van Standaard-Afrikaans is.

Boere-Afrikaans is die moedertaal van die meerderheid van ons volk. Daar is wel ook lede van ons volk wat nie Boere-Afrikaans as huistaal gebruik nie. Terselfdertyd is daar baie mense wat Boere-Afrikaans as huistaal het, maar wat nie deel van ons volk is nie.

Boere-Afrikaans (of Standaard-Afrikaans) kan dus etnies gekoppel word, maar kan nie as ‘n etniese verpligting gesien word nie. Daar is baie meer aan etnisiteit as net taal.

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin