Die verlore Sabbat

Foto: https://www.worldslastchance.com/yahuwahs-calendar/die-skepper-se-kalender-a.html

Mense wat die Bybel glo, weet waarom daar weke is. Gen 2:2-3: En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. (Alle aanhalings is uit die AOV.) Die naam Sabbat beteken rus.

Mense wat nie die Bybel glo nie, weet nie waar weke vandaan kom nie. Die week het niks met sterrekundige of natuurlike verskynsels te doen nie en daar is ook geen ander rede waarom daar weke moet wees nie. Ten spyte daarvan was daar deur die geskiedenis heen pogings (deur mense wat nie die Bybel glo nie) om weke in te stel. Party weke was vyf dae lank, ander was ses dae of agt dae lank. Blykbaar wou nie een van hierdie mensgemaakte weke goed werk nie.

Dit is nie seker of die mensdom in die 2500 jaar voor Moses die sewende dag as rusdag onderhou het nie. Daar is geen melding in die boek Genesis wat toon dat mense die Sabbat onderhou het nie. Dit is eers wanneer die volk Israel ter sprake kom dat daar van Sabbat gepraat word. Die Vierde Gebod, in Eks 20:8-11, het dit ingestel: Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Die Sabbat was deel van die verbond wat YHWH met die volk Israel gesluit het, Eks 31:13-17: Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik. Die onderhouding van die Sabbat was ook ‘n verpligting vir elke individuele lid van die volk Israel. ‘n Persoon wat dit nie onderhou het nie, moes die doodstraf ontvang.

Presies wanneer dit die sewende dag was, was vir Israel baie belangrik. In die Ou Testament het Israel ‘n lunisolêre kalender gebruik, soos hulle dit van Moses ontvang het. Kalendermaande het met die nuwe maan begin. Van een nuwe maan tot die volgende duur 29.5 dae, gevolglik het kalendermaande altyd 29 of 30 dae. In ‘n jaar is daar dan 354 dae, 11 dae minder as die sonkalender se 365 dae. Die belangrike Pesagfees moes in die lente plaasvind en die Loofhuttefees in die herfs. ‘n Regstelling vir die 11 dae was gedoen deur ‘n skrikkelmaand by te voeg. Elke maand begin met die nuwe maan (wat ‘n aanbiddingsdag van sy eie is), dan volg 6 werksdae en daarna die Sabbat op die agste dag van die maand. Sabbat val dus altyd op die 8ste, 15de, 22ste en 29ste van elke maand. In die vierde eeu n.C. word die Voorsitter van die Sanhedrin, Hillel II, deur die Romeine gedwing om die lunisolêre kalender te laat vaar en om voortaan die Juliaanse kalender te gebruik.

In Judaïsme is die onderhouding van die Sabbat op die sewende dag van die week ‘n verpligting. Die oorgang na die Juliaanse kalender het beteken dat niemand meer geweet het wanneer die Ou Testamentiese sewende dag was nie. Sedert Konstantyn se hervorming van die Juliaanse kalender onderhou Judaïsme die Romeinse sewende dag, Saterdag, as die Joodse sewende dag. Nog ‘n belangrike gevolg van die kalender verandering was dat weke nou aaneenlopend geword het. Die eerste dag van ‘n nuwe maand (sê maar Woensdag) volg nou direk op die laaste dag van die vorige maand (sê maar Dinsdag). Dit was ‘n totale afwyking van die Ou Testamentiese kalender.

Die moderne sewedag week het ons by die Romeinse Keiser Konstantyn gekry. Hy het in 321 n.C. die Juliaanse kalender verander van ‘n agt dae week na ‘n sewe dae week. Hy het daarin geslaag om met sy hervorming die meerderheid van sy onderdane tevrede te stel. Elke dag van die week is na een van die heidene se gode vernoem, in volgorde van belangrikheid. Vir Christene het hy die eerste dag van die week, die Songod se dag, gegee as ‘n spesiale dag. Vir die Jode het hy die sewende dag van die week, die god Saturnus se dag, gegee as hulle Sabbat. Let wel: die eerste en sewende dae van die Romeine se week – nie die Bybelse week nie.

Die grootste deel van die Christendom het nooit gedink dat Sondag die Ou-Testamentiese Sabbat is nie. Hulle het gemeen die eerste dag van die week is die dag waarop Yeshua opgestaan het uit die dood en het dit die “dag van die Here” genoem en as ‘n heilige dag beskou. Die opstanding van Yeshua was immers die belangrikste dag in die geskiedenis van die mensdom. Verder het hulle op die eerste dag van die Joodse week byeengekom en dit as ‘n dag van aanbidding beskou. Na die kalenderhervorming het hulle ook die Romeinse eerste dag gebruik.

In die Christendom is daar van vroeg af vertoë tot die staat gerig om Sondag ‘n rusdag te maak. Dit het algemeen geword in lande wat nominaal christelik was dat die staat Sondagwette gemaak het. Tot betreklik onlangs was daar in Suid-Afrika ook sulke wette en het kerke gereeld met die regering van die dag oor hierdie wette beraadslaag. Of hierdie wette sedertdien afgeskaf is en of dit net nie meer toegepas word nie, weet ek nie. Slegs noodsaaklike werk is op Sondae gedoen, die meeste mense het nie op Sondae gewerk nie en was tuis by hulle gesinne. Jy kon nie op Sondae gaan inkopies doen nie want die winkels was toe. Dit was ‘n goeie geleentheid om dorp toe te gaan en te sien wat in winkelvensters uitgestal word. Voor die koms van televisie was kuier by vriende en familie gewild. Daar was parke waar mense kon gaan piekniek hou en ontspan. Aangesien die regering al die burgers van die land se belange moes behartig en godsdiensvryheid moes waarborg, was wetgewing nie gemik daarop om gewetensvryheid te beperk nie. Sport op Sondae is toegelaat ten spyte van die teenkanting van kerke.

Alhoewel die meeste Christene die eerste dag van die week, Sondag, as ‘n rusdag gesien het, was daar ook Christene wat gemeen het dat die Ou-Testamentiese Sabbat steeds onderhou moet word. Hulle word dikwels Sewedaags-Sabbatariërs genoem. Vir hulle is Sondag as rusdag nie Bybels korrek nie. Hulle siening is dat die Ou-Testamentiese Sabbat nie net vir Israel bedoel is nie, maar vir alle mense. In navolging van Judaïsme, onderhou hulle ook Saterdae as Sabbat. Kritici sien dit as ‘n vermenging van Judaïsme met die Christendom.

Talle Christene wat Sondag as rusdag toepas, raak verward en dink verkeerdelik dat Sondag die Sabbat is. Hulle wil die eerste dag op dieselfde wyse onderhou as die Bybelse Sabbat.

Die Fariseërs het gereeld strikke vir Yeshua probeer stel. In een so ‘n geval het Hy (Mark 2:27-28) hulle geantwoord: En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.

In Hebreërs 4:3-11 word die betekenis van die Sabbat soos volg gegee: Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. 

Die weergawe van die Bloedrivier Gelofte wat sedert die 1930’s algemeen gebruik word, is foutief. Daarin word ondermeer gesê: “ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring”. In die amptelike notule van die Volksraad word niks gesê van Sabbat nie. Die amptelike notule het gesê: “dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden”.

(Met dank aan Sousiewa wat my aandag hierop gevestig het)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

God se Toorn is onafwendbaar

Ons gebruik nie gereeld die woord  “toorn” nie. Ons word gereeld kwaad, ons word woedend, maar ons word nie dikwels toornig nie. Ons gebruik “toorn” so min, dat ons nie presies seker is wat dit beteken nie.  “Toorn” is ‘n sterk verontwaardiging wat veroordeling en wraak tot gevolg het. Die persoon wat toornig is, voel dat hy met reg toornig mag wees en dat die persoon wat hom toornig gemaak het, verdien om gestraf te word.

Die woord  “toorn” kom ook in die Bybel voor. Daar word gepraat van die Toorn van God. Ten opsigte daarvan is daar goeie nuus en slegte nuus. Die slegte nuus is dat mense wat God se vyande is, die volheid van Sy toorn sal ontvang. Die goeie nuus is dat diegene wie deur Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) gered is, nie net die toorn sal vryspring nie, maar die volheid van Sy vryspraak sal ontvang. Dit is soos die twee kante van dieselfde munt. Twee persone sal saam wees, een gaan die Toorn van God vryspring, die ander gaan God se wraak en woede ontvang.

Die persone wat in die regte verhouding met die Gesalfde is, wag op God om op te tree teen Sy vyande – gevalle mense en gevalle engele. Dan sal geregtigheid geskied, dan sal boosheid vernietig word. Soos Psalm 5:8-11 dit stel: HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg. Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ‘n oop graf; hulle maak hul tong glad. Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U. Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.

In Openbaring 5:1-4 lees ons hoe Johannes geween het: En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Wat was in die boek geskrywe? Dit beskryf die Dag van die HERE, wanneer Sy toorn oor die mensdom gaan kom. Waarom ween Johannes? Die Dag van die HERE kan nie plaasvind nie. Want die boek is geslote. Eers as die boek oopgemaak is, kan die Toorn van God begin. Johannes sien uit daarna dat God Sy toorn moet uitgiet.

Die moderne Westerlinge (christene en nie-christene) vind die Toorn van God ontstellend. Hulle meen God is onverdraagsaam, wreedaardig, onregverdig en altyd kwaad. Veral in die Ou Testament. Baie kerke sien God in die Nuwe Testament as sagmoedig, liefdevol en verdraagsaam teenoor alle mense. Deur wat God van Homself openbaar te ignoreer en hulle eie interpretasie van Sy karakter te maak, tree hulle op asof hulle God se meerderes is en oor Hom kan oordeel. Die mens dink God is aan hom verantwoording verskuldig! Baie kerke verkondig ‘n oppervlakkige sentimentele evangelie waarin alles om die mens draai. Kerke wil die wêreld ter wille wees, hulle wil polities korrek wees, hulle wil graag aanvaarbaar wees vir die heersers van die wêreld en wil tred hou met die tydsgees. Dit is ‘n vals evangelie wat deur valse leraars verkondig word.

God is heilig, dit beteken Hy is afgesonderd, Hy is anders. Hy is nie ‘n mens nie en Hy is nie soos ‘n mens nie. Hy is ver verhewe bo Sy skepping en Sy skepsels. Sy skepsels het in sonde verval en van Hom vervreemd geraak. God distansieer Homself van sonde, boosheid en korrupsie. Dit is nie hoe Hy is nie. Hy is in alle opsigte rein en verwerp alles wat onrein is. Hy is liefde, maar Sy liefde is nie die liefde van die vlees nie. Hy verwerp alles wat Sy heiligheid, Sy reinheid en Sy liefde aftakel en aanval. Sy reaksie daarop is ontevredenheid, verontwaardiging, woede en toorn. Die gevolge van Sy toorn is wraak, straf en dood. Daar is geen ruimte vir onderhandeling nie. Diegene wat nie daarvan hou nie, wat nie daarmee saamstem nie, wat dit wreed en onverdraagsaam vind, het geen invloed by God nie. Dit wat hulle dink en sê is van geen belang nie en gaan nie die werklikheid verander nie.

God het ‘n ewige en absolute afkeur in alles wat strydig is met Sy persoon en karakter. Hy het ‘n afsku in onreg, onwaarheid en onreinheid. Wanneer mense onreg pleeg, is hulle strafbaar. Wanneer mense leuens en valsheid toepas, is hulle strafbaar. Wanneer mense immoreel lewe, is hulle strafbaar. Hulle slagoffers is geregtig daarop dat God toornig moet wees.

Die gevalle wêreld word regeer en beheer deur gevalle mense wat in opstand teen God is. God se Toorn is teen hulle gerig. Matteus 24:4-13 gee vir ons ‘n voorbeeld van die wêreld waarin ons leef: En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

God is ook nie verdraagsaam teenoor mense wat volgens die vlees lewe nie – al is hulle ook christene. Galasiërs 5:19-21: En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

Vir die mense wat hulle liefde, hoop en vertroue op Yeshua die Gesalfde stel, is die Toorn van God reeds afgehandel. Op Golgota. Die gevalle toestand van die mens, die sondes wat deur alle mense gepleeg is en die boosheid van die mensdom is deur God gestraf. Sy eise is nagekom en Sy reg is gepleeg. Yeshua, die onskuldige, het die straf wat ons moes ontvang namens ons gedra sodat ons, die skuldiges, onskuldig verklaar kon word.

Die straf van Yeshua was fisies en geestelik. Sy fisiese lyding was erg, maar Sy geestelike lyding was erger. Jesaja 53:5: maar Hy is deurboor vir ons oortredinge van die wet, Hy is vergruis vir ons onregverdighede; die tugtiging was op Hom sodat dit goed kan gaan met ons en deur Sy kastyding is ons genees. (PWL-vertaling).

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Gesalfde Lewe

As jy vir my wil vertel dat Yeshua, die Gesalfde (Jesus Christus), nie bestaan nie, moet jy dit liewers vir iemand anders gaan vertel. Ek weet Hy bestaan net so seker as wat ek weet my eie broer bestaan. As jy vir my wil vertel dat die Bybel nie die geïnspireerde Woord van God is nie, moet jy dit ook vir iemand anders gaan vertel. Ek weet net so seker as wat ek weet dat die HAT ‘n woordeboek is, dat die Bybel die Woord van God is. Kan ek dit bewys? Moet ek? Moet ek ook bewys dat die son vanoggend opgekom het?

As ‘n reël is dit nutteloos om in redenasies betrokke te raak met mense wat vyandig is teenoor Yeshua en diegene wat op Hom vertrou. Dit is nutteloos want sulke persone kan en wil nie oortuig word nie, ongeag wat jy sê of doen. Daardie persoon kan nie oortuig word tot ‘n ander standpunt nie, en hy kan die volgeling van Yeshua ook nie oortuig van sy standpunt nie. Waarop hy ookal sy argument baseer, wetenskap of filosofie of religie of wat ook al, dit is nie relevant nie. Vertroue op Yeshua is gebou op ‘n persoonlike verhouding met Yeshua.

Dit is iets anders wanneer iemand deur sulke redenasies op soek is na antwoorde. Dan is daar vrae wat gevra word om inligting te bekom of om iets te verstaan. In so ‘n geval is dit moontlik om ‘n sinvolle gesprek te hê, al sou daardie persoon ook nie jou siening of antwoorde  aanvaar nie. Dan is dit ‘n debat en nie ‘n argument nie.

Die mens is nie net ‘n liggaam nie. Daar is iets binne hom wat meer is as sy liggaam, hyself. Van oudsher af word hierdie self die siel genoem. Van nog altyd af weet mense dat hulle ‘n siel is wat in ‘n liggaam woon. Hulle het ook nog altyd geweet dat daar ‘n skeiding kom wanneer die liggaam sterf. Weet jy dit of weet jy dit nie? Die vraag wat mense nog altyd gevra het, was: wat gebeur met die siel wanneer die liggaam sterf?

Daar is nog iets in die mens, iets wat diep binne in sy self is. Dit is ‘n bewussyn dat daar iets groter en meer as die mens is. Ek vermoed meeste mense is nie bewus van hierdie bewussyn nie, jy moet eers iets uitsonderlik beleef om daarvan bewus te word. Hierdie bewussyn word gees genoem en dit is waar sommige mense bewus word van iets groters as hulleself.

Wat beteken dit alles? Dat daar meer aan die mens is as wat die oog kan sien. Jy kan dit aanvaar of verwerp. Jou keuse.

Wanneer iemand op die punt kom waar hy Yeshua aanvaar, gebeur daar iets. Daar kom ‘n groot vrede binne daardie persoon, ‘n vrede wat die verstand te bowe gaan. As jy dit nie wil glo nie, gaan vra daardie persoon, gaan vra almal wat op Yeshua vertrou. Almal sal dieselfde ding sê. Dit is maar die begin, daarna sal daar nog goed gebeur. Onder andere sal daardie persoon ‘n ongekende blydskap ervaar. Nou kan jy op en af spring, jy kan spoeg en skree, maar wat hierdie persoon ondervind is werklik en direk as gevolg van sy aanvaarding van Yeshua.

Die van ons wat op Yeshua vertrou, het ‘n verhouding met hom. Nie in ons verbeelding nie, in ons binneste, in ons gees. Sien, in jou gees het iets gebeur – dit het lewend geword. Yeshua het deur die Heilige Gees binne in jou gees kom woon. Nou leef Hy Sy lewe in en deur jou. Dit is ‘n realiteit, ‘n daaglikse belewing, ‘n praktiese werklikheid.

Dit is nie al nie, dit is nog net die begin. Hierdie gees in jou wat lewend geword het, is by wyse van spreke nog ‘n baba. Hy moet nog groot gemaak word en ‘n volwassene word. Hoe gebeur dit?

Die handboek wat jy in jou opvoeding nodig het is die Bybel. Kom ons noem dit jou akademiese onderrig. Ek weet nie of dit verpligtend is om die Bybel te bestudeer nie, maar dit is definitief wys. Jy kan ander christelike boeke ook gebruik, maar slegs indien hulle die Bybel korrek verstaan en oordra. Ongelukkig is baie van hierdie boeke net goed om jou te mislei. Om een of meer te kry wat die moeite werd is, is nie maklik nie. Jy moet persone soek wat betroubaar is en wat jou raad kan gee.

Vir jou praktiese opleiding het jy die hulp van die Heilige Gees nodig. Hierdie praktiese opleiding kan vergelyk word met vakleerlingskap. Jy moet leer om dinge te kan doen. In die proses moet iemand jou sê wat jy moet doen en jou dan wys hoe om dit te doen. Daarna moet jy dit self doen. Die eerste paar pogings mag jy dalk misluk, maar uiteindelik kry jy dit reg. Wat presies is dit wat jy moet leer om te doen? Wel dit is geestelike dinge. Soos hoe om YHWH te vertrou. Hoe jou karakter verander moet word. Om op te hou om verkeerde dinge te doen (soos om ongeduldig te wees) en om regte dinge te doen (soos om geduldig te wees). Natuurlik ook om op te hou slegte dinge te doen (soos om selfsugtig te wees) en om goeie dinge te doen (om ander mense bo jouself te stel). Ensovoorts.

Die leerproses word aangehelp deur swaarkry en beproewings. Om in swaarkry standvastig te wees is nie ‘n kleinigheid nie. Beproewinge en teenspoed maak jou sterker. Maar daar is ook vervolging.

Jou Meester, Yeshua, was nie populêr nie. Hy het die mense, insluitend die godsdienstige leiers, teengestaan. Die meeste mense het hom gehaat hoewel hy niks gedoen het om dit te verdien nie. Jy is nie belangriker as jou Meester nie. As hy vervolg was, sal jy ook vervolg word. Bloot omdat jy Hom volg en vertrou. Vir my lyk dit of selfs vreemde mense wat jou nie ken en niks van jou weet nie, op ‘n manier besef jy is anders as hulle. Sommige vind jou afstootlik maar ander voel aangetrokke tot jou. Dit nog voor jy iets gesê of gedoen het.

Om Yeshua te vertrou is nie ‘n ideologie nie. Jou opinie tel nie. Vat dit of los dit. Niemand is verleë oor jou nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die weg van die vlees of die weg van die Gees

Keer op keer beland mens in ‘n moeilike situasie waarop jy moet reageer. Hoe jy reageer is vir jou om te besluit. As jy op Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) vertrou en jy het die Heilige Gees ontvang, hoef jy nie meer op te tree soos voorheen nie. Jy kan nou optree en reageer op ‘n manier wat Yeshua vir jou moontlik gemaak het.

Jy kan kies of jy volgens die vlees reageer of volgens die Gees reageer. Dit is ‘n keuse. Maar hoe doen jy dit? Yeshua het ‘n voorbeeld vir ons gestel. Om Sy voorbeeld te volg is moeilik want Hy is sondeloos, ons is sondig. In die Bybel word daar vertel van gewone sondige mense soos ons wat dit reggekry het. Nie altyd nie, maar meestal. Ons kan sekerlik ook na hulle kyk en by hulle leer. Maar as dit net ‘n geval is van probeer om ‘n voorbeeld te volg, dan is dit nog steeds in ons eie krag.

Wat is die vlees en wat is die weg van die vlees? Vlees is vleis, die liggaam. Die vlees is iets anders. Dit is die menslike natuur, die ou sondige natuur. Dit is die deel van die mens wat opstandig is, hardnekkig is, weier om gekorrigeer te word, beterweterig, selfsugtig en wil self in beheer wees. Die weg van die vlees is om op eie krag en wysheid staat te maak.

Die Bybel beskryf die mens as bestaande uit ‘n liggaam, ‘n siel en gees. Die gees van die mens is die gedeelte waar daar ‘n bewustheid van God moet wees. Dit is daar waar die mens besef dat daar iets groter en meer aan menslike lewe is as die liggaamlike. Maar die gevalle mens se gees is beperk tot die dinge van die mens en is nie in staat om die dinge van God te ken nie. Dit is eers wanneer die mens se wil dit toelaat dat die Heilige Gees in die mens se gees kom woon. Die weg van die Gees is die weg van die Heilige Gees. Die weg van die Gees is om God te vertrou.

Van die eerste dag af wat jy die pad van Yeshua die Gesalfde volg, ondervind jy moeilikheid. Dit is asof daar ‘n woede teen jou uitbreek. Asof iets of iemand jou wil verhinder om voort te gaan. Op hierdie pad van Yeshua kan jy seker wees dat jy gereeld sulke moeilikheid gaan kry.

Miskien het jy al agtergekom dat wanneer daar by jou geestelike vordering is, dan tref teenspoed en teenstand jou. Uit die bloute, sonder dat jy bewus is van enige iets wat jy kon gedoen het om dit te veroorsaak. Is daar ‘n rede of is dit toevallig? Nog meer, wanneer jy regtig besig is met iets wat werklik tot eer van Yeshua is, dan is daar mense wat vyandig word teenoor jou. Daar is geen direkte verband tussen wat jy doen en die persone wat vyandig is nie. Is dit toevallig? Hierdie vyandigheid kan wees by jou familie, jou vriende of by jou werk.

Die teenstand wat jy beleef is nie in die eerste plek teen jou as persoon nie, dit is eintlik teen Yeshua, die Gesalfde. Jy is in ‘n oorlog, ‘n geestelike oorlog. Die eerste doelwit is om te verhoed dat jy deur Yeshua gered word. As dit misluk, moet daar gekeer word dat jy in die nuwe lewe vordering maak. Jy moet nie groei nie en jy moet nie oorwin nie.

Min mense het soveel moeilikheid en teenstand gehad as Paulus, die apostel. In 2 Korintiërs 11:24-30 (PWL) vertel hy van dit: Vyf maal het ek veertig houe op een na van die Jode gekry. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek sonder ‘n skip op die diepsee deurgebring, gereeld op reis in gevaar van riviere, in gevaar van rowers, in gevaar van my eie mense, in gevaar van die ander nasies, in gevaar in die stad, in gevaar in die wildernis, in gevaar op see, in gevaar onder vals broers, in harde werk en in uitputting, gereeld in slapeloosheid, in honger en dors, dikwels sonder kos, in koue en naaktheid, behalwe dit alles en die skares wat om my is, my daaglikse bekommernisse en die omgee vir al die gemeentes. Wie ly en ek ly nie ook nie? Vir wie word ‘n struikelblok in die pad gesit en ek is nie aan die brand (woedend) nie? As daar geroem moet word, sal ek in my swakheid roem. Nadat hy hierdie brief geskryf het, het hy nog verdere moeilikheid beleef. Al hierdie dinge het een ding bewys: Paulus was ‘n ware volgeling van Yeshua, hy was nie ‘n valse apostel nie. Niemand sal dit alles beleef net om iets voor te gee nie.

Indien Paulus die weg van die vlees gevolg het, wat sou hy gedoen het? Hy sou bang geword het, hy sou toegegee het aan intimidasie, hy sou ‘n lae profiel gehandhaaf het. Hy sou sekerlik nie kon doen wat hy wel gedoen het nie. Maar hy het die weg van die Gees gevolg. Sonder vrees, altyd gedryf deur hoop en liefde, altyd vertrouend op sy Meester.

Hy het nog ‘n probleem gehad, ‘n probleem wat nog groter as al sy beproewinge was. Hy vertel daarvan in 2 Korintiërs 12:7-9 (PWL): ’n Doring is vir my in die vlees gegee sodat ek nie grootkop sou kry oor die uitermatige grootheid van die openbaringe nie, ’n boodskapper van die teëstander, om my met die vuis te slaan sodat ek nie grootkop sou kry nie. Hieroor het ek drie maal van my Meester gevra om dit van my weg te vat en Hy het vir my gesê: “My onverdiende guns is vir jou genoeg, want my wonderwerkende krag word in swakheid volmaak gemaak.” Ek sal daarom met blydskap in my swakhede roem sodat die krag van Die Gesalfde Een op my kan rus. Die doring was waarskynlik ‘n persoon, iemand wat iets persoonlik teen hom gehad het en orals gegaan het en hom probeer afbreek het. Aan hierdie persoon kon hy niks doen nie, hy was magteloos. Maar Paulus se beloning was die buitengewone openbaringe wat hy ontvang het. Wat sou ek en jy kies: die openbaringe met die doring of geen doring en geen openbaringe nie?

Die weg van die Gees was vir Paulus om stil te bly. Hy het nooit hierdie persoon se naam genoem nie, hy het beslis ook nie homself verdedig nie. Hy het hieroor gebid en hom by sy Meester se besluit neergelê. Dit hom swak gemaak dat hy niks kon doen nie, maar dit het die Gesalfde sterk gemaak in hom.

Die weg van die vlees is die eie ek, die eie krag, die eie wysheid. Die weg van die Gees is Yeshua die Gesalfde, Sy krag en Sy wysheid.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die moeilikheid met christene

Daar is ‘n probleem met die naam christen. Ten eerste is daar mense wat hulleself christene noem, maar dit nie is nie. Daarmee ontstaan daar die persepsie by buitestaanders dat almal wat hulleself christene noem dieselfde is en dat daar geen verskille tussen hulle is nie. As gevolg hiervan is daar mense wat waarlik op Yeshua, die Gesalfde, (Jesus Christus) vertrou en verkies om hulleself iets anders as christene te noem en hulle op hierdie manier te onderskei van die wat nie op Yeshua vertrou nie.

Die oorspronklike naam christene het ontstaan in Handelinge 11:26: En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem. (AOV) In die Nuwe Testament, voor die naam christen in gebruik gekom het, was die volgelinge van Yeshua bekend as Dissipels en mense van die Weg. Hulle was ook bekend as die Nasareners en die Sekte.

‘n Algemene kort beskrywing van christene is: Hulle glo in ‘n God wat die Skepper van hemel en aarde is en dit ook onderhou. Reg aan die begin het die mens God verwerp (die sondeval) en het daar ‘n verwydering tussen God en mens gekom. God reik egter uit na die mens en openbaar Homself in die Bybel. Hierdie openbaring vertel van Yeshua, die Gesalfde, wat omtrent 2000 jaar gelede deur die mense van daardie tyd doodgemaak is. Maar Hy het uit die dood opgestaan en aan baie mense verskyn. Hierna het hy opgevaar na die hemel, waar Hy vandaan gekom het, en sal daarvandaan terugkeer om die mensdom te oordeel. Slegs deur Hom kan mense God ken en met God versoen word. Wanneer iemand sy vertroue op hierdie Yeshua plaas, vind daar ‘n wedergeboorte in daardie persoon plaas en word hy vervul met die Heilige Gees. Hierdie persoon ontvang ‘n nuwe lewe en het die vooruitsig op nog groter dinge wanneer Yeshua terugkeer.

Almal wat aan hierdie beskrywing voldoen is dus die ware christene. Diegene wat nie hieraan voldoen nie is vals christene. Daar is baie mense wat hulleself christene noem, maar wat op een of meer maniere nie voldoen aan bogenoemde beskrywing nie en in werklikheid vals christene is.  Dit word vererger deur die bestaan van kerkgenootskappe. Sommige kerkgenootskappe se leer en dade is in stryd met bogenoemde beskrywing, maar hulle noem hulleself christelik en hulle lidmate noem hulleself christene. Ander kerkgenootskappe se leer mag ooreenstem met bogenoemde beskrywing, maar hulle lidmate voldoen nie noodwendig daaraan nie. Daar is dan ‘n onskeibare vermenging van ware christene en vals christene. Dit veroorsaak groot verwarring.

Ten einde hierdie verwarring teë te werk, gebruik ware christene dikwels ‘n byvoeglike naamwoord om hulleself te beskryf: wedergebore christene, evangeliese christene, Bybelgelowige christene en nog meer. Mense van Hebreeuse afkoms wat op Yeshua vertrou, noem hulleself Hebreeuse christene of Messiaanse Jode om hulle te onderskei van nie-Hebreeuse christene.

Omdat buitestaanders nie ware christene en vals christene kan onderskei nie, veronderstel hulle dat almal dieselfde is. Hulle veroordeel die onskuldige saam met die skuldige. Volgens hulle is christene mense wat voorgee om beter as ander te wees (met die Bybel onder die arm), maar dit nie is nie. Hulle aanvaar dat almal wat waarlik op Yeshua, die Gesalfde, vertrou ook vals en skynheilig is. Dit hinder die ware christene en maak hulle getuienis tot niet. Dit is hier waar daar ‘n behoefte aan ‘n ander naam ontstaan.

Die ware christen beoefen nie ‘n godsdiens nie. Hy het ‘n persoonlike verhouding met Yeshua, die lewende Gesalfde. Die ware christen getuig daarvan dat daar in sy gees ‘n nuwe geboorte plaasgevind het. Iets tasbaar en daadwerklik het in hom gebeur. Dit waarvan hy getuig is hier en nou en nie iets wat eers aan die einde van tyd gaan gebeur nie. ‘n Godsdiens se hoofkenmerke is reëls en rituele. Die reëls is dit wat die mens moet nakom om in die regte verhouding met sy god te wees. Die rituele is die seremonies wat nagekom moet word om die god tevrede te stel. Die ware christen het ‘n verhouding met God wat berus op liefde en vertroue en nie op nakoming van reëls en rituele nie.

Die ware christen is nie volmaak nie en is nie sonder sonde nie. Dit is maklik om die vinger na hulle te wys en verkeerde dinge by hulle te vind. Die ware christen is in ‘n proses van verandering wat begin op die dag wat hy in ‘n verhouding met Yeshua kom. Dan begin Yeshua, deur die Heilige Gees, met hierdie persoon werk. Mettertyd verander hierdie persoon innerlik en word hierdie verandering merkbaar by hom. Elke verandering is ‘n oorwinning oor die ou gevalle menslike natuur. Angs en woede verdwyn en word vervang met vrede en blydskap. So word hy stap vir stap verander. Dit gebeur nie alles oornag nie, dit neem tyd en dit duur lewenslank. Op enige gegewe oomblik mag die ware christen nog steeds ‘n sekere sonde doen, maar dit is tydelik en sal nog aangespreek word.

Waar sal jy ‘n ware christen raakloop? Hy kan in ‘n kerk wees, maar hy kan ook in ‘n kroeg wees. Waaraan kan jy ‘n ware christen uitken? Aan sy getuienis.

Wat kan ‘n ware christen doen om hom te onderskei van ‘n vals christen? Ek weet nie of ‘n ander naam sal werk nie. Nie lank nie dan word die nuwe naam ook verkeerd gebruik. Ek meen deur sy leefwyse. Hy moet weet dat hy ‘n verantwoordelikheid het om ‘n betroubare getuie van Yeshua te wees. Hy moet let op sy woorde en dade en homself dissiplineer. Dit is belangrik om eg en opreg te wees. Sal Yeshua kan trots wees op hom, of sal Hy hom skaam?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wie se skuld is dit?

Stel jou die volgende situasie voor. Ons is by iemand, kom ons noem hom Piet, se begrafnis. ‘n Fratsongeluk, of ‘n ongeneeslike siekte, het Piet se dood veroorsaak. Die oorledene het niks gedoen om self sy dood te veroorsaak nie, daar was ook nie ‘n ander persoon by sy dood betrokke nie. Niemand kan beskuldig word nie. Miskien het Piet ‘n blink toekoms gehad. Ons verstaan nie hoe dit kan wees nie, ons soek ‘n verduideliking. Ons probeer dit verwerk en sê vir mekaar “dit was God se wil”. Of ons sê “die Here het hom kom haal”. Of iets dergeliks.

Wat ons sê, is onwaar.  Piet se dood was nie God se wil nie. God het nie opdrag gegee dat Piet moet sterf nie. Piet het gesterf as gevolg van ‘n siekte of ‘n ongeluk, die Here wou nie gehad het dat hy moet sterf nie. Dit wat ons sê om te verstaan en te verwerk is nie net onwaar nie, dit is lasterlik. Ons beskuldig God dat Hy verantwoordelik is vir Piet se onnodige dood.

Hoekom dink ons so? Want ons dink dat God Piet se dood moes verhoed het. God moes geweet het dat Piet gaan doodgaan en moes iets gedoen het om dit te keer. Dit is nie God se wil waarvan ons praat nie, dit is ons wil want ons wou nie hê dat Piet moet sterf nie.

Wat is God se wil? Dat daar nie ‘n sondeval moes wees nie. Hy het nie die mens geskep sodat die mens Hom moet verwerp nie.  Wat die mens geword het, is nie Sy wil nie. Hy is nie tevrede daarmee nie, Hy aanvaar dit nie so nie. As ‘n mens deur God aanvaar wil word, sal dit nie God wees wat moet verander nie, dit sal die mens wees wat moet verander.

Hoekom dink mense dat God nie mense mag laat doodgaan nie? Natuurlik mag Hy, Hy het hulle geskep. Hy mag iets skep en dan weer vernietig, dit is Syne om mee te maak soos Hy wil. Maar dit is nie waar die dood vandaan kom nie. Die dood is die resultaat van die sondeval. Die skuld vir die dood is die mens s’n. Ons probleem is nie dat mense doodgaan nie, maar dat ‘n sekere persoon dood gegaan het. Vir hierdie persoon moes ‘n uitsondering gemaak geword het.

Wat van siektes, peste en rampe? Dit het nie met die Skepping ontstaan nie. Die mens se rebellie teen God het dit veroorsaak. Wat van lyding? Is dit nie dalk God se skuld nie? In die boek Job lees ons van Job se verskriklike lyding en die rampe wat hom getref het. Job en sy vriende voer lang gesprekke oor wat die oorsaak daarvan kon wees. Maar die leser van die boek weet iets wat Job en sy vriende nie weet nie. Die leser weet, reg van die begin van die boek af, dat Job se lyding direk veroorsaak is deur Satan. God het dit wel toegelaat, want God het ‘n spesiale doel met Job gehad.

Wat is wreed en volgens wie se definisie is iets wreed? Wat is onmenslik? Eintlik is dit net mense wat wreed kan wees. Wreedheid is wanneer niks ontsien word om leed aan ‘n ander lewende wese aan te doen nie.  God weet alles hiervan want Hy was self die slagoffer van die mens se wreedheid. In Yeshua, die Gesalfde, het God ‘n mens geword en is wreedaardig deur mense doodgemaak. Die dood van Yeshua bewys die mens se onreg en dat dit die mens is wat skuldig is.

Word gebede dan nie beantwoord nie? Miskien was daar ‘n gebedsaksie terwyl Piet op sy laaste was. Maar ten spyte daarvan, is Piet toe nogtans dood. Was God verplig om ons gebede te gehoorsaam? Daar is baie mense wat kan getuig dat God hulle gebede beantwoord het. Maar God beantwoord nie alle gebede nie, soms sê hy nee. Vir seker vind daar wonderwerke plaas. ‘n Wonderwerk is wanneer God ingryp en die natuurlike verloop van sake verander. Dit is wanneer God Sy eie natuurwette tydelik in ‘n sekere situasie opskort om Sy eie doelwitte te bereik. Hy doen nie wonderwerke elke keer wanneer ons dit wil hê nie nie, Hy doen dit slegs wanneer dit Hom behaag en Hy ‘n spesifieke doelwit wil bereik.

Die fout wat ons maak, is dat ons nie reg verstaan Wie God is en wie ons is nie. God skuld ons niks en is nie verleë oor ons nie.  Al wat God ons wel skuld is die oordeel, die straf, die ewige dood.

Die begin van wysheid is om te weet wie Hy is. Hy is nie ons maatjie nie, Hy is God. Wanneer jy dit besef, val jy voor Hom neer want jy besef jy is verlore.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die getuienis van ‘n sondaar

Ek is ‘n sondaar. As jy ook ‘n sondaar is, dan het ons heelwat in gemeen. Waarskynlik verskil my sondes en jou sondes van mekaar. My sondes is dalk erger as jou sondes, daarom moet ek liewer stilbly oor jou sondes. Oor my eie sondes moet ek ook stilbly want ek skaam my daaroor.

Mens kan op ‘n algemene manier weet jy is ‘n sondaar. Jy weet dit want die Bybel sê so. Of iemand anders sê so. Dan is daar ‘n ander manier hoe jy weet jy is ‘n sondaar. Diep binne in jou is jy bewus daarvan dat daar iets verkeerd is binne in jou wese. Daar is in jou iets wat nie so moet wees nie. As jy in jou siel inkyk, sien jy ‘n verskrikking. Dit is oor hierdie soort sondaar waaroor dit hier gaan. By hierdie sondaar is daar ‘n besef van verlorenheid. Daar is ook ‘n worsteling oor doelloosheid. Is dit moontlik dat dinge anders kan wees? Dat ‘n mens anders kan wees as wat hy nou is?

Ek het ‘n storie gehoor van ‘n sendeling wat gesukkel het om die evangelie aan heidene te verkondig. Hy verander toe van taktiek. Hy vra die mense wie, volgens hulle, is die grootste sondaar van almal. Hulle gee toe ‘n naam en adres. Die sendeling gaan soontoe en vra die man of dit waar is dat hy die grootste sondaar is. Die man bars in trane uit en erken dat hy die grootste sondaar is. Hy was die sendeling se eerste sukses en as gevolg van hom het baie ander gevolg.

Die sondaar moet weet hy is ‘n sondaar. Hy moet weet hy is verlore. Hy weet nie of hy uit sy ellende bevry kan word nie. Hy weet ook nie wat bevryding hom gaan kos nie. Gaan bevryding die moeite werd wees? Die sondaar sal baie desperaat moet wees om gered te word.

Sonde is nie net dat jy vloek, steel of seksueel losbandig is nie. Sulke goed is net simptome van ‘n groter probleem. Die groot probleem is die verwydering tussen jou en YHWH, jou Skepper. Jy is vervreemd van Hom, jy ken Hom nie, jy respekteer Hom nie. Hierdie verwydering geld vir elke mens vanaf sy geboorte. Dit het ontstaan by die eerste mense, by die sondeval van Adam en Eva. Toe het daar vyandskap tussen die mens en YHWH gekom. Die sondaar se groot probleem is dat hy ‘n vyand van YHWH is.

Wanneer die sondaar tot die besef kom van die duisternis en vuilheid binne in homself, dan eers word hy bereid om gered te word. Want sien, iemand kan net gered word as hy gered wil word. As hy nie gered wil word nie, dan kan niks vir hom gedoen word nie. Die sondaar moet op sy knieë neerval en smeek om gered te word want dan wys hy dat hy dit opreg bedoel. Dit is die begin.

Die vyandskap tussen die sondaar en YHWH moet beëindig word en vervang word met ‘n nuwe verhouding. Die nuwe verhouding sal gebou moet word op die besef van Wie en Wat YHWH is. YHWH is nie ‘n mens nie, die sondaar moet voor Hom neerval en in ontsag Sy gesag erken. Maar die mens is ‘n bedrieglike wese. Hy sal vandag in sy nood enige iets sê en doen om gered te word, môre het hy dit vergeet en val weer terug in sy vorige manier. Daarom sal die sondaar wat smeek om gered te word ook getoets moet word of hy in die nuwe verhouding kan volhard. Die pad van redding is nie maklik nie, dit was duur om daar te stel.

Redding is nie vanselfsprekend nie. YHWH stel vereistes wat nagekom moet word. Daar is net een pad wat gevolg kan word. Vir die wat eerlik en ernstig is, is die beloning groot. In die eerste plek word die sondaar se vyandskap met YHWH beëindig. Die resultaat daarvan is dat die sondaar innerlike vrede ontvang. Wat voorheen onmoontlik was, word nou moontlik. Nou word dit moontlik dat hy sy privaat sondes kan oorwin en laat vaar.

Die pad van redding is ook die pad van lewe. Redding lei tot ware lewe en ware lewe is om in die regte verhouding met YHWH, jou Skepper, te wees. Dan kry jou lewe doel en betekenis. Dan eindig alles nie in die graf nie, die graf word die begin van iets nuuts. YHWH is nie ver weg nie, Hy is naby en Hy wil hê dat sondaars, soos ek, Hom moet vind. YHWH word gevind in Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus). Hy is die Pad van Lewe. In Hom is daar redding vir sondaars. In Hom word die gyselaars van die sondeval vrygelaat.

Wat beleef die sondaar wanneer hy gered word? Eerstens is hy gevul met ‘n groot vreugde. Dan beleef hy ‘n innerlike vrede wat nie beskryf kan word nie. Die groot las wat op hom was, het verdwyn. Die groot duisternis binne hom is nou lig. Die gevoel van verlorenheid is nie meer daar nie. Sy lewe kry nou betekenis. Hierdie verandering binne hom is so groot dat dit ondenkbaar is dat hy sy ou lewe sal wil terug hê.

Nadat die sondaar gered is, is hy nog steeds sondig. As hy voorheen gevloek, gesteel en seksueel losbandig was, is hy nog steeds so. Vir YHWH is dit onaanvaarbaar. Gevolglik begin daar nou ‘n proses om hierdie sondigheid uit te roei. Met wortel en tak, net soos onkruid. Stukkie vir stukkie, stap vir stap, word die geredde sondaar verander. Die vieslikheid en vuilheid moet weg.

Al het die sondaar ‘n godsdienstige agtergrond, moet hy nuut begin. Hy word nou ‘n student en moet onderrig word in die nuwe lewe. Dit is praktiese kennis wat opgedoen moet word. Die onderrig is nie net vir ‘n rukkie nie, dit is lewenslank. Die sondaar gaan ook nie ‘n kwalifikasie kry nie, en van ‘n salaris is daar geen sprake nie. Die leerplan is om sy Redder en sy Skepper persoonlik te leer ken.

Moet nie dink dat almal verheug is wanneer ‘n sondaar gered word nie. In die hemel is daar wel groot blydskap, maar nie op aarde nie. Die geredde sondaar moet weet dat hy teenstand gaan kry. Teenstand uit alle oorde. Hy gaan nou in ‘n groot oorlog wees en hy sal krag en deursettingsvermoë nodig hê.  In hierdie oorlog sal daar nederlae en oorwinnings wees. Maar hy sal hulp kry wanneer dit nodig is. Sy redding is te belangrik om prys te gee.

Die probleem van die mens is geleë in die diepste wese van die mens. Dit is waar sonde is. Redding moet daar plaasvind. Die stryd vind daar plaas. Die oorwinning word daar behaal. Die beloning is daar. Die sondaar se getuienis is van dit wat daar, in sy diepste wese, gebeur het en nog steeds gebeur.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die onkruid in jou en my

Almal wat al tuin gemaak het, sal weet van onkruid. Onkruid moet uitgeroei word, verkieslik permanent. Skoffel help nie, die wortels en saad bly agter. Onkruid moet uitgetrek word en dan verkieslik verbrand word. Daar moet niks – nie wortels, saad of klein plantjies – agterbly nie. Jy kan onkruiddoder probeer, pas net op dat jy nie jou goeie plante ook uitroei nie.

Boosheid in die mens is soos onkruid.

Die sondeval van Adam en Eva in die Tuin van Eden het niks met seks te doen gehad nie. Ook nie met appels nie. In Genesis 2:16-17 word beskryf waarmee dit wel te doen gehad het: En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Wat gebeur toe? Adam en Eva eet van die verbode boom se vrugte. Eerstens was dit ongehoorsaamheid. Tweedens het hulle nou kennis van goed en kwaad gekry. Hierdie “kennis van goed en kwaad” was die oorsprong van boosheid in die mens. Dit word die erfsonde genoem want Adam en Eva se nageslag het dit geërf . Ons almal het dit.

Die eerste demonstrasie van boosheid was in Adam en Eva se seun Kain. Genesis 4:6-7 vertel daarvan: En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers. Kain kon nie daaroor heers nie en vermoor sy broer Abel.

Kan enige mens heers oor die boosheid binne hom? Mense het wette gemaak om boosheid te verban. Oortree iemand die wet, sal hy of sy gestraf word. Los dit die probleem op? As daar ‘n wet teen diefstal is, hou mense dan op om te steel? Sal vrees vir die straf maak dat daar nie meer diewe sal wees nie? Boosheid is binne die mens, in sy gedagtes en sy gevoelens, in sy diepste wese. Yeshua (Jesus) stel dit so in Markus 7:18-23: En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.

Wette, reëls en regulasies is veronderstel om te sorg dat daar ‘n ordelike samelewing is waar niks verkeerd gedoen word nie. Oortreders sal gestraf word. Die straf is veronderstel om ‘n afskrikmiddel te wees. As dit werk en niemand oortree nie, lyk alles mooi van buite. Maar nie van binne nie. Die probleem van boosheid in die mens is nie opgelos nie. Boosheid is nie net moets en moenies nie, dit is die hele vrot gevalle toestand van die mensdom. Geen wette kan hierdie toestand oplos nie.

In Psalm 5:4-7 word YHWH se standpunt gestel: Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE ‘n afsku. Mense verkeer dikwels onder ‘n misverstand. Hulle dink liefde en haat kan nie gelyk bestaan nie. YHWH het die mens lief, maar terselfdertyd haat Hy die “werkers van ongeregtigheid”.

YHWH haat nie net die mense wat boosheid doen nie, hy haat die bestaan van boosheid. YHWH is nie verdraagsaam met boosheid nie. Hy wil boosheid, soos met onkruid, uitroei en verbrand. Hy soek dit nie in Sy skepping nie.

Dit is die mens se skuld dat daar boosheid in hom is. Maar die mens kan niks doen om van die boosheid ontslae te raak nie. Wette, en ook nie iets anders nie, help nie.

YHWH het wel ‘n oplossing. In Markus 10:26-27 staan die volgende: En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

Dit kan gedoen word. YHWH kan dit doen. Maar hoe? Jy moet Hom vra om die boosheid uit jou uit te haal. Dit beteken jy moet die knie voor Hom buig, jy moet Hom erken vir Wie Hy is, jy moet Hom respekteer. Dit is waar dit begin. Solank mense sonder Hom wil regkom, sal niks gebeur nie.

Dink daaraan. Mense wat nie boosheid in hulle het nie. Hoe sal dit wees?

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Profeet te Huur. Billike Tariewe. Kontak Bileam.

God’s Angels: The Angel in the Path. Artwork for the illustration on p9 of Treasure no. 251.

Wie wil nie ‘n profeet wees nie? Dit moet koel wees om ‘n profeet te wees. ‘n Profeet is iemand wat sê wat God aan hom gesê het. Met ander woorde, God praat met die profeet en maak dinge aan hom bekend wat ander mense nie weet nie. Wie wil nie hê dat God direk met hom praat nie?

Profete in die Bybel het dit nie so maklik gehad nie. Hulle het nie vriende gehad nie, hulle eie gesinne was teen hulle, hulle is gemartel en doodgemaak. Dan was daar ook die groot verantwoordelikheid wat op hulle gerus het om die boodskap van YHWH oor te dra – en korrek oor te dra.

Daar is ‘n verskil tussen ‘n siener en ‘n profeet. ‘n Siener sien iets in ‘n visioen of in ‘n droom wat hy dan oordra. ‘n Profeet is iemand wat hoor wat YHWH sê. Presies hoe dit gebeur dat ‘n profeet kan hoor is iets waaroor baie mense wonder, dikwels die profeet self ook.

Daar is ‘n hele paar dinge omtrent Bileam wat anders is as wat ons verwag. Bileam word in die Bybel beskryf as ‘n waarsêer. Dit wat hy gesê het, het waar geword. Hy het ook nie net uit sy eie gesê nie, YHWH het vir hom gesê wat hy moet sê. Hy was nie ‘n Israeliet nie, tog het hy YHWH geken. Hy was ‘n Midianiet en was wyd bekend as ‘n profeet in die gebied oos van die Jordaanrivier. Midian was een van Abraham se seuns by Ketura. Abraham het waarskynlik sy kinders groot gemaak om YHWH te aanbid. Eeue later was daar, behalwe Israel, ook ander mense wat YHWH geken en aanbid het. Onder andere Job, hy was blykbaar ‘n Edomiet.

Numeri 22 tot 24 vertel van Bileam. (Hy is ook die enigste profeet wat in ‘n buite Bybelse teks vermeld word. Dit is in ‘n teks wat in 1967 ontdek is.) Balak, koning van Moab, het ‘n groot probleem gehad en hy het gemeen Bileam sal kan help.

Omtrent 40 jaar vantevore het Israel uit Egipte getrek. By Sinai het YHWH ‘n verbond met hulle gesluit. YHWH wou hulle toe na die Beloofde Land neem, maar Israel wou nie gaan nie. Die gevolg was dat hulle vir 40 jaar moes ronddwaal. Toe het hulle ingestem om die land te gaan inneem en nou is hulle op die grens van Moab. Die bekommernis van Moab se koning is dat hierdie groot getal Israeliete sy land se ekonomie gaan vernietig. Heel moontlik het hy en sy raadgewers alle moontlike opsies oorweeg, maar kon geen ander oplossing kry nie. Sy laaste opsie was Bileam. Balak wou hê Bileam moet kom en Israel vervloek, want almal weet dat wat Bileam sê, gebeur. Om Bileam te oorreed, het Balak ‘n stewige vergoeding aangebied.

Bileam het YHWH geraadpleeg, maar Hy wou nie toestemming gee nie. Balak het toe ‘n tweede afvaardiging gestuur met ‘n nog groter beloning. Bileam het weer vir YHWH geraadpleeg. Bileam kry nou toestemming om te gaan, maar hy mag slegs sê wat YHWH sê. Toe Bileam saam met Balak se mense vertrek, het die Engel van YHWH hom voorgekeer. Dit was hier waar Bileam se donkie met hom gepraat het om hom te waarsku.

Balak het Bileam drie keer geleentheid gegee om Israel te vervloek, maar elke keer het hy hulle, in opdrag van YHWH, geseën. Balak het geweier om Bileam te betaal vir sy dienste. Toe gee Bileam ‘n vierde profetiese uitspraak gratis en verniet. Dit is oor die Gesalfde, Num 24:17. Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver. Dit is die ster wat die wyse manne uit die ooste gevolg het toe Yeshua gebore is.

Tot hier is dit moeilik om met Bileam fout te vind. Dit is hierna wat hy ‘n slegte naam gekry het.

Blykbaar het hy aan Balak advies gegee hoe om Israel te kry om ‘n vloek oor hulleself te bring. Num 25:1-3 beskryf wat gebeur het: Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete— dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. YHWH het ‘n plaag oor Israel laat kom waarin 24 000 omgekom het. Moses kry opdrag om wraak te neem teen die Midianiete en Bileam is een van die wat sneuwel.

Op drie plekke in die Nuwe Testament word ongunstig na Bileam verwys. 2 Petrus 2:15-16: Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het, maar die bestraffing van sy eie oortreding ontvang het: die stom lasdier het met die stem van ‘n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder. Judas 1:11:  Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom. Openbaring 2:14: Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.

Bileam was nie ‘n valse profeet nie. Wat hy geprofeteer het, het waar geword. Sy probleem was geld. Deur te sê wat YHWH gesê het, het hy nie ‘n sent gekry nie. Maar hy kon aan koning Balak advies gee, bose advies, hoe om Israel te laat struikel. As adviseur kon hy sy waarsêersloon verdien.

Die verhouding tussen YHWH en ‘n profeet berus op ‘n persoonlike verhouding. Die profeet het nie ‘n maklike lewe nie. Die profeet moet YHWH blindelings vertrou, hy moet van YHWH afhanklik wees, hy moet op YHWH staatmaak. Die wêreld en wêreldse dinge moet geen invloed of houvas op hom hê nie, sy integriteit moet bo verdenking wees. Hy tree op as YHWH se verteenwoordiger tussen die mense, wat hy doen of nie doen nie reflekteer op YHWH. Die profeet stel ‘n voorbeeld om nagevolg te word.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die twee verbonde by Sinai en die Wet van Moses

YHWH het nie ‘n verbond met Israel gesluit omdat hulle spesiaal of besonders was nie. Dit is as gevolg van Abraham, wat YHWH vertrou het, dat daar ‘n verbond met Israel gesluit was. YHWH het aan Abraham, toe hy nog geen kind gehad het nie, belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê en dat hulle die land wat YHWH aan Abraham gewys het, sal bewoon. Hierdie belofte is aan Abraham se seun, Isak, en sy kleinseun, Jakob, oorgedra. Uiteindelik het Israel, die nageslag van Jakob, die land ontvang en bewoon. Hierdie verbond wat YHWH met Abraham gesluit het, het nie voorwaardes gehad nie.

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of kontrak. Anders as die verbond met Abraham, het die Eerste Verbond met Israel ‘n voorwaarde gehad. Hulle kon dit aanvaar of nie aanvaar nie. Indien Israel die bepalings daarvan nakom, was daar vir hulle ‘n beloning. Indien Israel dit nie nakom nie, was daar vir hulle ‘n straf. Nadat hulle die Eerste Verbond verbreek het, was die Tweede Verbond verpligtend. Hulle het nie meer ‘n sê gehad nie.

Dit gaan oor die verbonde wat by Sinai, ook bekend as Horeb, tot stand gekom het. Hierdie verbonde word uiteengesit in die Bybelboeke Eksodus, Levitikus en Numeri. Hierdie 3 boeke is eintlik een boek, maar dit was te groot vir een boekrol en is toe in 3 boekrolle verdeel. Die gebeure wat ter sprake is, strek oor al 3 boeke.

Die Eerste Verbond word in Eksodus 19 – 24:11 gevind. Die bepalings daarvan was die grondbeginsels van die verbond tussen YHWH en Israel (ook bekend as die Tien Gebooie). Dan volg daar instruksies oor hoe YHWH aanbid moet word. Daar is ook instruksies oor slawe, geweld, ongelukke, skade, uitbuiting en korrupsie. Watter feeste deur Israel gehou moet word, word ook uiteengesit. Ook word bepaal hoe hulle YHWH se boodskapper moet hanteer. Indien hulle al die bepalings nakom, sal hulle ‘n eie land kry en voorspoedig wees. Israel het die verbond met sy bepalings aanvaar in Eksodus 24:3: Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.

Hierna het YHWH vir Moses die besonderhede vir die bou van die tabernakel gegee. Hy het ook die twee kliptafels waarop die getuienis (vermoedelik die Tien Gebooie) geskryf was aan Moses gegee. Vir Israel vat YHWH toe te lank om vir Moses te wys en te sê wat gedoen moet word. Hulle was haastig. Toe maak hulle vir hulle ‘n afgod, ‘n goue kalf. Daarmee het Israel die verbond verbreek. YHWH was woedend en wou die hele Israel uitwis. Moses pleit vir sy volk en YHWH begenadig hulle en besluit om hulle nog ‘n kans te gee.

Die Tweede Verbond is te vinde in Eks 34:10-27.  Eksodus 34:27 lui so: Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek ‘n verbond gesluit met jou en met Israel. Die bewoording van hierdie verbond verskil van die vorige.

Hierna word die tabernakel gebou volgens YHWH se instruksies. Dan gee YHWH opdragte oor wie die priesters mag wees en wat hulle werk sal wees. Hierna gee YHWH breedvoerige opdragte oor offerhandes. Dit is die eerste keer dat YHWH opdragte oor offerhandes gee. Daar sal net een sentrale plek van aanbidding wees en daar was slegs sekere offerhandes wat op ‘n voorgeskrewe manier gebring moes word. In die Nuwe Testament word aangetoon dat die offerhandes na die Gesalfde gewys het. Die verskillende soorte offers wat gebring moes word, was brandoffers, graanoffers, vredesoffers, sondoffers en oortredingsoffers.

Dan volg daar opdragte oor rituele reinheid. Die Dag van Versoening word ingestel. Dit is die heiligste dag in die Ou Testamentiese kalender en is ‘n dag van versoening met YHWH. Die Dag van Voorsiening hou nie verband met enige bekende historiese gebeure nie en daar word gemeen dat dit ‘n profetiese betekenis het. Daarna volg opdragte oor afgesonderdheid, die belangrikheid van bloed en oor seksuele gedrag. Hierna volg strafbepalings oor verbreking van die opdragte oor afgesonderdheid. Die afgesonderdheid van priesters en offers sonder gebrek word aangespreek.

Die laaste opdragte wat YHWH gee, is vasgestelde tye. Die Shabbat, die Pesag (paasfees) en die fees van ongesuurde brode, die eerste vrugte (pinkster), die blaas van die ramshorings (trompette), die Dag van Versoening), die Huttefees, die Sabbatsjaar en die Jubeljaar. Heel laaste word die beloning en straf in terme van die verbond uitgespel. Voorspoed in die land of teenspoed in die land. Dit vind ons in Levitikus 26.

Hier is vir ons ‘n vraag. Is hierdie twee verbonde een verbond of is dit twee? Die meerderheid kommentators meen daar is net een verbond, maar die teks sê daar is twee.

Meeste mense verwar verbond en wet. Verbond sluit in die wette, die bou van die tabernakel, wie as priesters mag dien, die offerhandes wat gebring moet word en die feeste wat gehou moet word. Volgens Judaisme is daar nie net 10 gebooie nie, daar is meer as 600.

Op wie is hierdie verbond of verbonde van toepassing? Volgens die teks, Israel en slegs Israel. Daar is nie ‘n “sendingopdrag” aan Israel om die heidene te bekeer nie. (Heidene is die ander volke, almal wat nie Israel is nie). Inteendeel, Israel moet die ander volke uitdryf om die Beloofde Land te ontvang. As volk wat vir YHWH afgesonder was, mag hulle nie met die heidene gemeng het nie.

Waarom het YHWH een volk bo die ander volke uitgekies?  YHWH wou een volk afsonder om Hom te ken en ‘n getuie vir Hom te wees. Dit beteken hulle moes anders as die ander volke wees. Deur hierdie een volk het hy Homself aan alle mense bekend gemaak.

Die nakoming van die verbond en wet het nie vergifnis van sonde bewerk nie. Yeshua, die Gesalfde, het vergifnis bewerk – net Hy. (Hebreërs 10). Ook het die nakoming van die verbond en wet niemand regverdig verklaar nie. Dit kan net gebeur deur vertroue op Yeshua. (Hebreërs 11). Die wet het gewys wat vir YHWH aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Galasiers 3:24: Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Die verbond tussen YHWH en Israel het ‘n verbondsverhouding tot stand gebring. Dit is iets anders as ‘n persoonlike verhouding. ‘n Israeliet, sê maar Dawid, se verhouding met YHWH was tweeledig: as lid van die volk was hy in ‘n verbondsverhouding met YHWH, en as indiwidu was hy in ‘n persoonlike verhouding met YHWH. ‘n Ander Israeliet wat nie ‘n persoonlike verhouding met YHWH gehad het nie, sal steeds in ‘n verbondsverhouding met Hom gewees het.

Die verbond en die wet het nie die ewige lewe gegee aan die wat dit nakom nie. Daar kan ook nie gesê word dat iemand hemel toe gaan omdat hy die verbond nagekom het nie. Ware lewe kom slegs deur Yeshua, die Gesalfde. Johannes 1:4: In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Die enigste metode vir mense om met YHWH versoen dit word, is deur Yeshua, die Gesalfde.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin