
Wat is die waarheid oor die Paulisiane: was hulle volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, of was hulle ketters? Is dit wat die Kerk van hulle sê waar, of is dit ʼn verdigsel?
Die Paulisiane was ’n Christelike beweging wat in Kappadosië (Armenië) ontstaan het en wat uitgebrei het na ander lande, ondermeer Bulgarye. Tot die twintigste eeu was die enigste inligting oor hulle dit wat deur die Kerk van hulle gesê is. Sedert die ontdekking van die boek “Die Sleutel tot die Waarheid” in 1893, en die vertaling daarvan in Engels, het hulle eie weergawe van hulle leringe en gebruike bekend geword.
Die Bisantynse Kerk het die Paulisiane beskuldig dat hulle ʼn gnostiese beweging was (wat glo mense is goddelike siele wat in ʼn stoflike wêreld gevange is). Hulle is beskuldig dat hulle dualisme aanhang (twee gode – een goed en een kwaad). Hulle is ook manicheërs genoem (ʼn heidense godsdiens wat ʼn bietjie Christelikheid insluit). Verder was hulle beskuldig dat hulle die leer van docetisme volg (Christus het net skynbaar ʼn vleeslike liggaam gehad). Daar is ook gesê dat hulle die Ou Testament verwerp en net ʼn deel van die Nuwe Testament aanvaar. Hulle is tot ketters verklaar en vervolg.
Die bestaan van ʼn boek van die Paulisiane, “Die Sleutel tot die Waarheid”, was tot in die elfde eeu bekend, maar dit het verlore geraak. In 1893 is “Die Sleutel tot die Waarheid” in ʼn biblioteek in Armenië ontdek deur Frederick Cornwallis Conybeare. Die manuskrip is ʼn kopie van ʼn teks uit omstreeks 800 n.C. Hierdie teks gee ʼn heel ander weergawe van die Paulisiane se leringe en praktyke. Daar is geen sprake van enige iets wat op gnostiese of manichese opvattings dui nie. Die Ou Testament, die vier kanonieke Evangelies en die Briewe van Paulus word gebruik.
Daar word gemeen dat die Paulisiane uit die vroegste Apostoliese gemeentes gekom het. In 1 Petrus 1:1-2 word verwys na Kappadosië (die ou naam van Armenië): Petrus, ʼn apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Hulle was veral bekend tussen die middel van die sewende eeu en die einde van die negende eeu. Die naam Paulisiane is aan hulle gegee omdat hulle die briewe van die Apostel Paulus hoog geag het.
Die Paulisiane het bekend geword na die bekering in 660 n.C. van ʼn jong Armeniër met die naam Konstantyn. Hierdie Konstantyn was aanvanklik ʼn aanhanger van die heidense godsdiens manicheïsme. Op ʼn dag het ʼn Christen wat vir Moslems gevlug het, by hom skuiling teen sy agtervolgers gesoek. Uit dankbaarheid het die Christen ʼn afskrif van die vier evangelies en die briewe van die Apostel Paulus aan Konstantyn geskenk. Konstantyn (hy het sy naam verander na Silvanus) het hierdie boeke bestudeer en hom geroepe gevoel om die Christene te laat terugkeer na die oorspronklike leringe en praktyke van die Nuwe Testament. Hy was suksesvol en het ʼn probleem vir die Bisantynse Kerk geword omdat hy hulle leerstellings en praktyke verwerp het en as afgodery bestempel het. Hy is deur die kerk tot ketter verklaar en in 685 n.C. gevonnis tot steniging. Slegs een persoon kon gevind word wat bereid was om hom te stenig. Hierdie gebeure het daartoe gelei dat die keiserlike offisier, Simeon, tot bekering gekom het en later ʼn Paulisiaanse leier geword het.
Weens vervolging moes die Paulisiane vlug en het in Armenië verstrooid geraak. Ten spyte van vervolging, het hulle getalle steeds toegeneem omdat talle lidmate van die Kerk by hulle aangesluit het. In die negende eeu het vervolging so toegeneem dat die Paulisiane oorgegaan het tot gewapende verset. Die gevolg was dat die regentes Theodora II ʼn grootskaalse vervolging beveel het. 100,000 Paulisiane het omgekom en hulle grond en eiendom is deur die Bisantynse Ryk gekonfiskeer. Weer moes die Paulisiane na nuwe plekke toe vlug. Tussen die 7de en 12de eeue het die Paulisiane versprei in Armenië. In die 10de eeu het hulle ook versprei na Bulgarye en daarvandaan weswaarts. Aan die einde van die 17de eeu was daar nog Paulisiane wat in Bulgarye gewoon het.
In die teks van “Die Sleutel tot die Waarheid” word die Paulisiane se sedes en gebruike beskryf as soortgelyk aan dit wat in die eerste eeue by die meeste Christene voorgekom het. Uit die teks is dit ook duidelik dat hulle die doop van kinders verwerp. Slegs volwassenes wat tot geloof gekom het en gevra het om gedoop te word, is gedoop. Persone wat uit ʼn ander geloofsgroep (byvoorbeeld die Ortodokse Kerk) gekom het, is herdoop.
Hulle was hewig gekant teen die verering van ikone, relieke en heiliges. Die verering van hierdie voorwerpe en persone dateer uit die vierde eeu en kom voor by die Katolieke en Ortodokse Kerke. Die Paulisiane het dit as afgodery beskou.
Daar was nie verskillende klasse gelowiges nie. Hulle leiers was van dieselfde klas as die gewone lidmate en het nie titels of onderskeidende kleredrag gehad nie. Gemeentes was onafhanklik en het oor hulleself regeer. Omdat hulle as ʼn beweging nie eiendom kon besit nie, het hulle nie geboue opgerig nie. Hulle het nie instellings soos sinodes of konsilies gehad wat hoër as die gemeentes was nie.
Uit die beskrywings in die “Die Sleutel tot die Waarheid” kry mens die indruk dat die Paulisiane baie naby aan die Nuwe Testamentiese gemeentes was. Dit is heel moontlik dat toe Konstantyn op die toneel verskyn het, daar nog steeds ou gemeentes was wat nooit deel van die Kerke geword het nie. Indien dit waar is, het die oorspronklike Nuwe Testamentiese gemeentes nog steeds onafhanklik van die Kerke bestaan en ʼn suiwer getuienis vir Yeshua gelewer.
Die meerderheid kerkhistorici verbind die Paulisiane met die Bogomils, Kathare en Albigense. Al drie hierdie groepe word beskou as gnosties en is ook tot ketters verklaar. Die verbinding tussen hierdie groepe lyk onwaarskynlik want dit berus op aannames en veronderstellings.
Wat is die waarheid? Kerk en staat het saamgewerk om die Paulisiane te vernietig. Om dit te regverdig is allerlei vals aantygings teen hulle gemaak. Vandag kan ons sien dat hulle getuienis ʼn lamp was wat helder in die duisternis gebrand het.










