Wie nie wil hoor nie, sal voel

Hoeveel keer moet dieselfde boodskap herhaal word voordat dit gehoor word? Hoeveel keer moet iemand skree “brand” voordat die mense daarop reageer? Is eenkeer nie genoeg nie?

As iemand die straat afhardloop en skree “vlug, vlug, die Filistyne is op ons!” is dit mos voldoende waarskuwing. Die wat gehoor het en nie gevlug het nie, het die ramp oor hulleself gebring. Hoekom het hulle nie reageer nie? Die persoon wat geskree het, het sy plig nagekom. Hy het sy bes gedoen om almal te waarsku.

So gaan dit met die Boerevolk vandag. Wie weet nog nie van die plaasmoorde nie? Wie weet nog nie van onteiening sonder vergoeding nie? Wie weet nog nie van die grootskaalse armoede onder blankes nie? Wie weet nog nie van die aftakeling van ons taal en kultuur nie? Wie weet nog nie van die volksmoord op blankes nie? As daar regtig iemand is wat niks hiervan weet nie, wat meer kan gedoen word om dit aan hom te vertel?

Daar is mense wat dit wel gehoor het, maar hulle ontken dat dit so is. Hoe is dit moontlik? Kan dit wees dat hulle nie familie en vriende het wat op plase woon nie? Het hulle nog nooit ‘n toevlugsoord vir blankes besoek nie? Ken hulle niemand op skool of universiteit nie? Niemand wat graag ‘n vakleerlingskap wil doen nie? Besoek hulle nie museums en monumente nie?

Dan is daar die wat nie wil weet nie want hulle wil graag “gematig” wees. Die hoofstroommedia behoort aan die staat of groot korporasies en hulle het ‘n vyandige agenda ten opsigte van ons. Hulle beeld mense wat van hierdie dinge praat uit as ekstremiste. Dit is effektiewe intimidasie. Daar is mense wat bang is om ‘n ekstremis genoem te word. Hulle vrees veroorsaak dat hulle aandadig is aan die leuens wat versprei word. Ondervinding leer dat gematigdes altyd die vyand ondersteun en hulle eie mense verraai.

Die slegte nuus is dat alles wat genoem is die werklikheid is. Om die ore toe te druk, laat dit nie weggaan nie. Om te bang te wees om ‘n standpunt in te neem, verander niks nie. Die nog slegter nuus is dat al hierdie verskrikkinge ook by die ontkenner se adres gaan uitkom. Binnekort. Daar is nou nog tyd om voor te berei, om jou en jou huis so goed as wat binne jou perke is te beskerm. Daar is nog tyd om jou familie en vriende in te lig. Al ontstel dit jou, kan jy nou nog iets doen. As jy bang is, is daar nog tyd om dapper te word.

Dan is daar mense wat dit uit kwaadwilligheid ontken. Hulle vind dit goed dat daar ‘n volksmoord moet wees, hulle wil ons uitroei. Ons praat nie van vreemdelinge nie, ons praat van ons eie mense. Vriende, familie, kollegas. Mense wat wil hê dat ons as ‘n volk moet ophou om te bestaan. Dit is mense wat hulle eie mense haat.

Wanneer die Oomblik van Krisis kom, gaan die wat voorbereid is nie net hulleself help nie, hulle gaan ook probeer om ander te help. Hierdie mense wat bereid is om ander te help, gaan mense help wat hulle ken. Omstandighede sal so wees dat dit nie moontlik sal wees om almal te help nie. Hulle gaan ook dubbel versigtig moet wees om onbekendes te help, want onder hulle mag daar vyande wees. Maak dus nou al seker dat jy die mense om jou ken, wie is vriende en wie is vyande. Die wat nou nie wil weet wat aan die gang is nie, moet daarop let dat hulle heel moontlik as vyande geïdentifiseer kan word. Die luukse van onpartydigheid gaan nie bestaan nie.

Hierdie situasie waarin die Boerevolk verkeer, dien as ‘n voorbeeld vir die situasie waarin die volgelinge van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) verkeer. Wie het nog nie die boodskap van redding gehoor nie? Is dit moontlik dat daar tussen ons mense is wat dit nog nie gehoor het nie? As daar is, laat ons hulle dadelik besoek en vertel.

Hoe gemaak met die wat nie wil hoor nie? In Matteus 10:14 gee Yeshua die opdrag: Wanneer iemand julle nie ontvang en nie na julle boodskap luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. (PWL-vertaling). Hulle het een kans gehad om te hoor, as hulle nie wou nie het hulle daardie kans verbeur. Niemand loop agter hulle aan en smeek hulle om te luister nie.

Paulus het as Apostel by ‘n vreemde stad aangekom, die evangelie verkondig, die wat geglo het as ‘n gemeente gevestig en vertrek (dikwels uit die stad gedryf). Dit alles het hy reg gekry in ‘n paar weke of maande. Met sy vertrek was alles verkondig wat verkondig moes word en was alles gedoen wat gedoen moes word. (Vandag sal ‘n predikant of sendelinge baie jare op een plek bly en nog nie klaar wees met die verkondiging van die evangelie nie). Dikwels is daar vir mense net een kans om te hoor en daarop te reageer.

Wat maak dat mense volstrek weier om inligting te ontvang? Gratis inligting. Waarskynlik omdat jy, wanneer jy ingelig is, ‘n keuse moet maak. Die maak van ‘n keuse is ontstellend. Mense verkies inligting waarvoor hulle betaal en wat nie van hulle verwag om te kies nie. Dit is vermaaklikheid. Vermaaklikheid sus jou en hou jou in ‘n toestand van gemak. Geen wonder dat sommige kerke eerder vermaaklikheidsentrums is nie.

Dan is daar die wat omgee oor wat mense van hulle sê. Om te hoor en te verander mag maak dat jy vriende verloor, dat daar oor jou geskinder word, dat mense met jou spot. Dis jou keuse. Wat is die belangrikste? Lewe of dood, waarheid of leuen? Jou keuse gaan jou behoud of jou ondergang wees.

Daar is mense wat ‘n gees van teenstand het. Hulle is die vyand. As jy aan Yeshua behoort, soek hulle jou ondergang.  Ek dink nie hulleself weet hoekom nie. Sodra hulle van Yeshua hoor ervaar hulle ‘n gevoel van wrewel en teenstand.  Yeshua sê in Johannes 15:20: Onthou die boodskap wat Ek vir julle gebring het: ‘Daar is nie ‘n slaaf wat groter is as sy meester nie.’ As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My boodskap gehoorsaam het, sal hulle julle s’n ook gehoorsaam.

Sommige volgelinge van Yeshua word ook ekstremiste genoem.  Of fundamentaliste, of dwepers. Dit is nou daardie volgelinge wat nie net godsdiens beoefen nie, maar vir wie Yeshua alles is. Hoe belangrik is dit wat mense sê? Jou keuse, jou lewe.

Wat sê ons vir mense aan wie die boodskap oorgedra is, maar wat dit nie ingeneem het nie? ‘n Boodskap hoef net eenkeer oorgedra word, niemand kan dieselfde boodskap tot in lengte van dae oor en oor bly herhaal nie. Daar is ‘n volgende boodskap wat wag om afgelewer te word. Ons kan nie net op een plek bly stilstaan nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die soektog na ‘n eerbare lewe

Word mense nog skaam? Rooi in die gesig, verleë. Is daar vandag nog iets om oor skaam te word? Is daar nog skaam mense? Wat beteken die woord “skaam”? Iemand kan ‘n skaam persoon wees, dit wil sê iemand is bedees of skugter. Om skaam te kry beteken jy voel verleë of verneder omdat jy iets verkeerd gedoen het. Of jy kry skaam omdat jy in ‘n situasie van oneer verkeer. Om skaam te wees is nie noodwendig ‘n skande nie.

As daar nie skaamte is nie, is daar nie oneer nie. As daar nie oneer is nie, is daar nie eer nie. As daar nie skaamte is nie, is daar nie ‘n besef dat daar verkeerd gedoen is nie. As niemand iets verkeerd doen nie, is daar nie skuld en onskuld nie. As niemand skuldig is nie, het niemand vergifnis nodig nie.

Skaamte is nie presies die teenoorgestelde van eer nie, maar is naby verwant daaraan. Skaamte is nou verwant aan skande en blootstelling. Skande is wanneer goedkeuring, status en respek verloor word. Sommige dinge is nie bedoel om in die openbaar vertoon te word nie, en blootstelling daarvan lei tot skaamte. Skaamte kan verwoestend wees en lei tot gevoelens van waardeloosheid. Daar moet onderskei word tussen skaamte en skuld. Iemand mag onskuldig wees en nogtans onder skaamte ly.

Die moderne Westerse wêreld verstaan nie meer die konsep van eer nie. Ook nie van skaamte nie. Hoofsaaklik omdat hulle nie meer die tradisionele christelike moraliteit erken nie. Verder erken hulle ook nie meer verskillende groepe en kulture nie. Elkeen van ons behoort aan een of meer groepe en elke groep maak aanspraak op ‘n goeie naam en reputasie. Daar is ook individue wat hulle eie persoonlike kode van eer het en nastreef. By so ‘n persoon is die verkryging van eer en skaamte ‘n privaat saak.

Eer gaan oor respek en ordentlikheid. Iets of iemand is eerbaar en kan aangeprys word. Eer verwys na ‘n groep se gedeelde moraliteit. Dit moedig die nakoming van algemeen aanvaarde gedragstandaarde aan. Eer is ‘n manier waarmee ‘n groep sy goeie naam handhaaf. Dit is ook, deur middel van skaamte en skande, ‘n manier hoe ‘n groep dissipline toepas.

Eer kan toegeskryf of verwerf word. Eer word toegeskryf aan persone wat tot ‘n sekere stand of status behoort, op grond van die posisie wat hulle in die samelewing beklee. Dit is waarom ouer mense en meerderes geëer word. Sommige mense streef na ‘n hoër status want dan kan hulle aanspraak maak daarop dat ander mense hulle moet eer. Ander persone verwerf eer op grond van sy gedrag in uitdagende omstandighede. So word iemand dan geëer vir byvoorbeeld dapperheid. Eer word verwerf by minderes, gelykes en meerderes.

Die ridders in die middeleeue het ‘n kode van eer gehad. Ondermeer moes ‘n ridder die swakkes en weerloses beskerm, weduwees en wese help, nie moedswillig aanstoot gee nie, nie hulp verleen teen betaling nie, gehoorsaam wees aan diegene wat in gesag geplaas is, onbillikheid en bedrog vermy, altyd die waarheid te praat, volhard tot die einde toe. Om dapper te wees het groot eer ingehou, maar om nie dapper te wees nie was nie ‘n skande nie. Lafhartigheid was wel ‘n groot skande.

‘n Ware heer (gentleman) tree ridderlik op. Hy behandel vroue en ouer persone met respek ongeag hoe hulle hulself gedra. Hy is altyd beleefd en geduldig. Hy praat nie heeltyd oor homself nie, en kan in ‘n gesprek gemene grond met ander vind en iets opbouend bydra. Hy vind nie fout met ander nie want hy onderskryf die standpunt van “niemand kwaad aandoen nie”. Hy sal aan ander die voordeel van twyfel gee. Hy skinder nie en hou intieme sake privaat. Hy is betroubaar en kom sy verpligtinge na. Hy bied, sonder om gevra te word, aan om te help.

Sommige akademiese instellings het ‘n kode waarmee studente onderneem om nie te lieg, kul, steel of te bedrieg nie.

Die christelike konsep van die bewys van eer is dat dit nie ‘n plig is nie, maar ‘n keuse is om ander persone goed te behandel. Om mense selfs met meer respek te behandel as wat hulle verdien. Indien nederigheid die manier is hoe ons ons eie reputasie moet benader, dan is eer die manier hoe ons ander mense se reputasie moet benader. Ons eer ook ander persone deur diskreet te wees. Eerstens omdat die ander persoon ook na die beeld van God geskape is. Tweedens omdat dit ‘n liefdesdaad is om iemand anders te beskerm teen die wat liefdeloos teenoor hom of haar optree.

Ou verhale vertel hoe die hoofkarakter op ‘n soektog vertrek om iets te vind. Iets soos die Heilige Graal of sy fortuin of homself. Daar is avonture om te beleef, vyande om te verslaan, ‘n mooi meisie om te ontmoet. Voor hy kon vertrek, moes hy twee vrae kon beantwoord: Waarna soek hy? Wat is sy Kode van Eer? Die Kode van Eer is die padkaart wat hy volg. In werklikheid is sy soektog eintlik na homself en na die doel waarvoor hy lewe. ‘n Kode van Eer is daardie morele of etiese beginsels wat ‘n individu sy lewe mee inrig. Dit is daardie persoon se vrywillige keuse of hy ‘n eerbare of eerlose mens wil wees.

Hierdie persoonlike beginsels neem hy met hom saam op sy reis deur die lewe. As hy daarin slaag om getrou aan sy beginsels te wees, is sy lewe in sy eie oë ‘n sukses. As hy nie daarin slaag nie, is hy in sy eie oë ‘n mislukking, sy persoonlike skande. Die vraag is of hy getrou aan homself kan wees. Kan hy die tipe mens wees wat hy graag wil wees?

Dit mag wees dat ‘n indiwidu se Kode van Eer, wat vir hom onbreekbaar en ononderhandelbaar is, verskil van die norme van die samelewing waarbinne hy leef. Daar is ‘n botsing tussen die eer wat hy nastreef en die leefwyse van ander mense met wie hy te doen kry. Hy sal dan die innerlike krag moet hê om nie net sy eie kode na te kom nie, maar ook om dit wat daarmee bots teen te staan. Dit is waar sy karakter getoets word, waar hy gemeet en geweeg word.

Uiteindelik is die soektog om ‘n mens van eer te wees, ‘n eensame pad. Jy sal mense op die pad ontmoet wat jou goedgesind is en wil help. Maar jy sal ook vyande ontmoet wat jou ondergang wil bewerk. Jou sukses of mislukking is in jou hande.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin