Watter Afrikaans praat jy?

germaanse_boom2

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan en daar is nie net een Afrikaanse taal nie.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was ‘n lingua franca. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ‘n skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ‘n vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ‘n kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ‘n nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Hollandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenswerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ‘n voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Na die Anglo-Boere Oorlog is daar begin om Boere-Afrikaans te ontwikkel tot ‘n standaardtaal wat met Engels kon meeding. Daarmee is groot sukses behaal. Mettertyd is die naam van die taal verander van Afrikaans-Nederlands na net Afrikaans toe. Die indruk bestaan nou dat die twee tale, Kaapse-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans, dialekte van Standaard-Afrikaans is.

Boere-Afrikaans is die moedertaal van die meerderheid van ons volk. Daar is wel ook lede van ons volk wat nie Boere-Afrikaans as huistaal gebruik nie. Terselfdertyd is daar baie mense wat Boere-Afrikaans as huistaal het, maar wat nie deel van ons volk is nie.

Boere-Afrikaans (of Standaard-Afrikaans) kan dus etnies gekoppel word, maar kan nie as ‘n etniese verpligting gesien word nie. Daar is baie meer aan etnisiteit as net taal.

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Stamboek mense

images-duckduckgo-com

Wat besiel iemand om familiegeskiedenis na te vors? Is hulle van lotjie getik? Ja, nogal. Dit is ‘n gogga wat jou byt, ‘n ongeneeslike siekte, ‘n verslawing.

Die meeste mense kry nie hierdie siekte nie, hulle stel nie belang in geslagsregisters nie, hulle vind dit vervelig. Dit is vir hulle net ‘n lys name en datums wat niksseggend is. Hulle sal wel vaagweg belangstel indien  daar ‘n interessante storie is om te vertel.

Daar is slegs enkele persone wat genealogiese navorsing doen as ‘n beroep. Die oorweldigende meerderheid is amateurs, hulle doen dit op eie koste en in hulle vryetyd vir die liefde vir die saak. Hulle het geen vooraf opleiding gehad nie, hulle leer soos hulle aangaan. Die amateur moet nuwe vaardighede aanleer, hy moet geskiedenis en aardrykskunde leer, hy moet leer hoe om geslagsregisters te skryf. Hy moet weet hoe en waar om navorsing te doen, hy moet konferensies bywoon, begraafplase besoek, hy moet foto’s kan neem. Hy moet sy familie besoek en ondervra en weet hoe en wat om te vra.

Die genealogie navorser se werk is om dokumente en ander bewysstukke te soek en op grond daarvan die familiegeskiedenis op te teken. Onbevestigte inligting en hoorsê is nie aanvaarbaar nie. Navorsing het reëls en metodes.

Daar is ‘n verskeidenheid redes waarom familiegeskiedenis nagevors word. Die hoofrede is om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom. Nog ‘n rede is dat jy dit vir jou kinders en kleinkinders se onthalwe doen. Dit is ook ‘n manier om geskiedenis te bestudeer. (Die geskiedenis wat jy op skool leer is nie die geskiedenis van gewone mense nie.) Nog ‘n rede is dat jy daarvan hou om legkaarte te bou, geheime te ontrafel en speurder te speel.

Een van die instansies wat oor enorme databasisse beskik, is die Mormoonse Kerk (LDS – Latter Day Saints). Hulle glo in die doop van die afgestorwenes en sien dit as hulle plig om hierdie navorsing te doen.

Dan is daar etniese-genealogie. Dit is waar geslagsregisters en familiegeskiedenis ten nouste saamhang met etnisiteit. Dit is van toepassing op ons volk. Die mense wat hulle na 1652 aan die Kaap van Goeie Hoop kom vestig het, was individue en gesinne. Hierdie mense het met mekaar ondertrou en so het families ontstaan. In ons volk het families (uitgeken deur familiename of vanne) die funksie van etniese stamme.

Indien jy jou familiegeskiedenis wil navors, is daar ‘n menigte hulpmiddels en bronne tot jou beskikking. Die beste raad is om by ‘n genealogie-vereniging in jou omgewing aan te sluit.  Dit verskaf groot plesier om die legkaart te voltooi.

 

 

 

 

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is in ‘n naam?

65cf6508740529f3c69c37181e412405Volgens die woordeboek, beteken die woord naam twee dinge: (1) dit dui ‘n saak of persoon aan en (2) dit dui bekendheid of reputasie aan. Ons kan ook sê dit identifiseer en onderskei.

Eeue gelede het kinders name gekry wat iets beteken het. Die ouers het met die naamgewing ‘n wens uitgespreek dat die kind mag wees soos sy naam is. So beteken Hendrik “heerser oor die tuisland”. In die Bybel het name ook betekenis. Jonatan beteken “Jahweh het gegee”. Die naam minderheidsverslag beteken ook iets. Ons volk is ‘n minderheid, ons taal word deur ‘n minderheid gepraat en die Bybel word deur ‘n minderheid gelees. Dan volg ekself nie die hoofstroom nie en is ek ‘n minderheid van ‘n minderheid!

Sommige mense voel sterk daaroor dat ons volk se naam Afrikaners is. Ander voel sterk dat ons Boere genoem moet word. Ek het groot geword met die begrip dat Afrikaner en Boer sinonieme is – albei name verwys na dieselfde groep mense. Hierdie meningsverskille het my laat besluit om vas te stel watter naam volkskundig korrek is. Met ander woorde, watter naam beskryf ons as behorende tot ‘n spesifieke kultuurgroep.

My woordeboeke beskryf Afrikaner as iemand wat deur geboorte of afstamming Afrikaans is – bedoelende afstam van Nederlanders, Duitsers en Hugenote. Daar is ook Afrikaner-Nasionalisme, ‘n ideologie wat eiesoortig aan Afrikaners is.

Boer word beskryf as ‘n lid van die Afrikanervolk of as Suid-Afrikaner van Hollandse afkoms. Boer word ook gekoppel aan ander name soos Boerboel, boerebeskuit, boerebedrieër, Boerehater, boeremusiek, boerematriek, boereraat, boerewysheid, Boeretaal, Boerevrou. Hierdie woorde verwys na ‘n sekere kultuurgroep.

Daar word gesê dat boer na landbou verwys. Byvoorbeeld, boerewors is tuisgemaakte plaaswors en word onderskei van slagterswors. Dit mag lank gelede so gewees het, nou is dit nie meer so nie. Boerewors word onderskei aan sy resep en bestanddele. Die produk se ontstaan is eie aan ons volk en word na ons vernoem. ‘n Boerehater is iemand wat Suid-Afrikaners van Hollandse afkoms haat. Boererate en Boerewysheid is kennis wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Dit is ook onderdele van ons volkskunde.

Uit ‘n volkskundige oogpunt is Boer en Boerevolk die korrekte naam vir ons. Afrikaner is eerder ‘n politieke en taalkundige benaming.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin