Die Raaisel van die 1992 ja-stem

Illustrasie: https://artoffarstar88.wordpress.com/tag/1992-referendum/

Ons witmense is in die moeilikheid, baie diep moeilikheid. Hoe het dit gebeur? Het ons vyande ons oorwin of het ons dit oor onsself gebring?

Dit is moontlik dat daar van ons eie mense is wat dink dat ons nie in die moeilikheid is nie. Ek ken nie self so iemand nie, maar dit is teoreties moontlik dat iemand so kan dink. Ek weet nie wat om vir so ʼn persoon te sê nie, miskien net “rus in vrede”.

Daar is verskillende menings oor hoe dit gebeur het dat ons in hierdie situasie is. Een groep sal sê dat dit maar een van daardie dinge is, daar is geen spesifieke oorsaak daarvoor nie. ʼn Tweede groep sal meen dat dit iemand anders se skuld is, byvoorbeeld dat dit FW de Klerk se skuld is. Die derde groep, waarskynlik die minderheid, sal dink dat dit ons eie skuld is.

Die wat dink dat niks besonders ons moeilikheid veroorsaak het nie, maak ʼn fout. Daar is in elke situasie ʼn oorsaak en ʼn gevolg. Die gemors waarin ons verkeer is die gevolg van iets wat in die verlede gebeur het. Daardie iets is die oorsaak van ons probleem. Terselfdertyd is daardie iets wat in die verlede gebeur het, ook die gevolg van iets wat verder terug in die geskiedenis gebeur het. Elke gevolg is terselfdertyd die oorsaak van iets anders.

Dit is duidelik dat ons huidige probleem ontstaan het met die referendum van 1992. Die probleem was dat twee-derdes van die blankes aan FW de Klerk en sy trawante toestemming gegee het om te doen wat hulle goedvind. Hierdie toestemming was ʼn “blanko tjek”, dit was nie weer vir de Klerk nodig om kiesers te raadpleeg nie. De Klerk en kie het dit goed gevind om alle politieke mag te gee aan die ANC. Nie net dit nie, hulle het alles wat die blankes oor eeue opgebou het, ook weggegee. Hulle het selfs die seggenskap oor ons eie kultuurgoedere weggegee. Die skade wat hulle aangerig het, is onberekenbaar. Nou kan ons die skuld vir ons moeilikheid op FW de Klerk en trawante pak. Hulle was swak onderhandelaars, hulle was kop in een mus met Globaliste, hulle het ons bedrieg en verraai. Dit neem egter nie die feit weg dat die meerderheid blankes aan hom toestemming gegee het nie.

Die eintlike vraag is: wat het veroorsaak dat twee-derdes van die blankes in 1992 “ja” gestem het? Dit wil voorkom of ons volk blind en doof geword het. Ons eie geskiedenis het ons geleer dat ons dit nie mag doen nie. Die geskiedenis van ander Afrikalande sedert 1960 moes ons gewaarsku het. Ons het gesien wat in Rhodesië en elders gebeur het. Hoekom sou Suid-Afrika anders wees?

Die sterkste groep wat gewaarsku het teen ʼn “ja-stem” was die destydse Konserwatiewe Party. Net voor die referendum het hulle soveel steun gehad dat FW de Klerk se Nasionale Party die volgende verkiesing kon verloor. Baie ondersteuners van die Konserwatiewe Party het ook “ja” gestem. Hoe kan mens dit verklaar?

Die Nasionale Party het die propaganda beheer. Al die media, ook die Afrikaanstalige media, het die publiek aangemoedig om “ja” te stem. Bekende persone, soos sportsterre, het die publiek aangemoedig om “ja” te stem. Die kerke, in sommige gevalle van die preekstoel af, het hulle lidmate aangemoedig om “ja” te stem. Daar was ʼn totale propaganda aanslag op die kiesers. Dit is een van die oorsake waarom die “ja-stem” gewen het.

Waarom was die Nasionale Party, die media, die kerke en meningsvormers so desperaat dat die “ja-stem” moet wen? Het hulle bloot geglo dat dit die regte ding is om te doen of was daar iets meer sinister daaragter? Wat ook al die antwoord, dit verklaar nie hoekom die volk “ja” gestem het nie.

Is ons volk van nature naïef? Dink ons nie dinge deur nie, is ons so goedgelowig dat ons net glo wat ons vertel word, vra ons nie vrae nie? Blykbaar wel. Ons sien dit vandag nog steeds. Selfs die behoudendes is geneig om blindelings na te volg sonder dat hulle diep gedink het, die saak deeglik ondersoek het en dit getoets het. Dit maak dit maklik vir wolwe om hulleself as skape te vermom.

Ons het ook ʼn neiging om sentimenteel te wees – in die sin dat ons die waarheid ondergeskik stel aan sentiment. Ons het agteroor gebuig om ander mense ter wille te wees. Ons het ons misgis met ander mense se motiewe. Talle Nasionale Party ondersteuners het nie gedink dat die ANC die 1994 verkiesing sou wen nie. Hulle werksmense het vertel dat hulle of vir die NP of Inkatha sou stem. Hulle het bloot gesê wat die witmense wou hoor en nie wat hulle ware denke was nie.

Tot die moord op Dr. Verwoerd, het die Nasionale Party besluite geneem wat op beginsel gegrond was. Indien hulle ʼn nuwe probleem teengekom het, was daar ʼn oplossing gesoek wat met hulle beginsels ooreengestem het. Na Dr. Verwoerd se dood het daar ʼn verandering gekom, die NP het van toe af pragmaties geword. Elke nuwe beleid sou voortaan op sy eie meriete beoordeel word. Die ander groot verandering na 1966 was dat die Afrikaner-Broederbond baie meer mag gekry het en effektief regeringsbeleid bepaal het. Die eerste verandering in beleid wat die Broederbond bewerk het, was die sportbeleid.

Blankes het iewers sportbeheb geword. Tot onlangs toe was blankes bereid om groot opofferings te maak vir deelname aan internasionale sport. ʼn Tweede saak wat vir blankes belangrik geword het, was om internasionaal te kan reis en sake te doen. Blootstelling aan internasionale sake deur TV het ʼn invloed gehad. Daar is begin om vreemde gebruike soos Valentynsdag, Halloween en ander na te volg. Terselfdertyd het Afrikaanstalige media en meningsvormers die volkskultuur voorgestel as oudmodies en bekrompe.

Sedert die Nasionale Party aan bewind gekom het in 1948, het blankes se ekonomiese situasie verbeter. Die 1960’s word beskryf as die “goue jare” van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Blanke werkloosheid het bykans verdwyn. Soos dit beter met veral Afrikaanssprekende blankes gegaan het, so het hulle meer materialisties geword. Veral het lede van die Boerevolk meer welvarend geword as wat enige van hulle voorgeslagte ooit was.

Die tydperk van 1966 tot 1992 het gelei tot ʼn vervlakking by die blanke bevolking. Dit is hierdie vervlakking wat uiteindelik gelei het tot die 1992 ja-stem. Dit dan is die oorsaak waarom die blankes sonder slag of stoot toegestem het tot hul eie ondergang.

Sal die Boerevolk, as deel van die blanke bevolking, daarin slaag om te bly voortbestaan? Wil hulle bly voortbestaan as ʼn eie unieke volk? Hulle sal met alles weer voor moet begin. Hulle sal hulle denke moet verander. Veral sal hulle moet onthou dat hulle die Gelofte moet nakom – iets wat nog nie gedoen is nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk se Oos-Afrika eksperiment

Foto: Eldoret dorp in Kenia. Verkry by: www.businessdailyafrica.com

Kort na die Anglo-Boereoorlog het ‘n aantal gesinne, almal burgers van die Boererepublieke, na Oos-Afrika geëmigreer. Hulle het na twee Europese kolonies, Brits-Oos-Afrika (Kenia) en Duits-Oos-Afrika (Tanganjika – tans Tanzanië) verhuis. Hier het hulle gebly tot die kolonies in die 1960’s onafhanklik geword het – ‘n tydperk van omtrent 60 jaar.

Baie Boere het na die Anglo-Boereoorlog geweier om ‘n eed van getrouheid aan Brittanje af te lê. Van hulle het verkies om hulle in Duits-Oos-Afrika te gaan vestig. Die eerste Boerefamilies het, van die hawe af, met ossewaens getrek en is deur die Duitsers gevestig by Berg Meru, tussen Oldonyo Sambu (Kampfontein) en Engare Nanyuki in die Arusha gebied. Elke familie het plase van 1,000 hektaar ontvang. Die beroemde Boereheld, genl. Wynand Charl Malan, was deel hiervan en het sy lewe lank hier bly woon. Sommiges het in 1907 uit Tanganjika na Kenia getrek. In die dokumentêre rolprent Africa Addio is daar ‘n gedeelte wat wys hoe die Boere in die 1960’s Oos-Afrika met ossewaens verlaat het. Dit was ‘n simboliese daad: hulle het met ossewaens gekom en hulle het met ossewaens gegaan.

Die Boere wat hulle by Meru gevestig het, het ver uitmekaar gewoon en min kontak met mekaar gehad. Aanvanklik het hulle nie belang gestel in die vestiging van ‘n kerkgenootskap nie. ‘n Ouderling het gedoop en in die huwelik bevestig. Ds. AP Burger van die NG Kerk het in 1905 na Oos-Afrika gegaan en die NG Gemeente Meru in Duits Oos-Afrika gestig. In 1910 is daar ‘n Hervormde Kerk op Meru gestig. Daar word nie melding gemaak van ‘n eie skool nie. Die naaste Afrikaanse skool was in Kenia. Die skrywer Sangiro (AA Pienaar) het hier grootgeword.

Die Uasin Gishu hoogland in Kenia was onbewoond en niemand het daarop aanspraak gemaak nie. Die hoogland het ‘n matige klimaat gehad. Die Britse Koloniale regering het die gebied beskikbaar gestel aan blankes, Boere en Britte. Om by die Uasin Gishu uit te kom was nie maklik nie. Daar was nie paaie nie en in die nat seisoen het waens en osse in diep modder vasgeval, in die droë seisoen het geen wind gewaai nie en dan was die stof verstikkend. Die Britte het plase daar aan die Boere toegeken en elke plaas het ‘n nommer gekry. Die Boere het nie kennis van landbou in hierdie omgewing gehad nie en moes dit op die harde manier leer. Aanvanklik het hulle in bamboeshuise gewoon maar kon later kliphuise bou. Om die pot aan die kook te hou het hulle ook gejag, transport gery en ruilhandel beoefen.

Plaas 64 op Uasin Gishu was gereserveer vir ‘n dorp. Hier is Eldoret, ‘n tipiese Boeredorp, gevestig. Eldoret was Wes van die Skeurvallei. Aan die Oostekant van die Skeurvallei, in die omgewing van Thomson’s Falls, het nog ‘n Boeregemeenskap ontstaan. Eldoret was die hoofsentrum van die Boerevolk in Kenia. In 1908 is die NG Gemeente Vergenoeg gestig op Nakuru, halfpad tussen Eldoret en Thomson’s Falls. In 1909 is ‘n tweede gemeente naby Eldoret gestig. In 1945 is die NG Kerk se Loubser Gemeente by Thomson’s Falls gestig. Die Gereformeerde Kerke het twee gemeentes gestig, een by Eldoret en ‘n tweede by Thomson’s Falls. Die Hervormde Kerk het net een gemeente in Kenia gehad, die Gemeente Rensburgsrust. Daar was ook Afrikaanse skole opgerig, een in Eldoret (Highland) en een in Thomson’s Falls (die Van Riebeeck skool). Die mense het honderde kilometers gereis om Geloftefeeste by te woon.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Boerevolk in Oos-Afrika sy toppunt bereik. Die Boerebevolking was toe omtrent 3,000 sterk en het presteer met graanverbouing. In 1952 het die Mau-Mau aanslag teen die blankes, Boere en Britte, in Kenia begin. In 1961 het Tanganjika onafhanklik geword en in 1963 het Kenia onafhanklikheid verkry. Hierna het die meerderheid Boere Oos-Afrika verlaat en na Suid-Afrika geëmigreer.

In die 60 jaar in Oos-Afrika is die wildernis getem, landbou is op ‘n gesonde voet geplaas, huise is gebou, dorpe is aangelê, kerke en skole is opgerig. Die Boerevolk het hul eie kultuur behou, bande met die res van die volk behou, aangehou om Afrikaans te praat. Hulle het dit nie eers oorweeg om hulle eiegoed prys te gee en te verengels nie. Ten spyte daarvan was alles uiteindelik tevergeefs. Hulle het met min gegaan en met min teruggekom.

Die Trekboere van die Noord-Kaap het net getrek om weiding vir hulle vee te soek. Die Voortrekkers het getrek om ‘n eie land te kry waarin hulle hul kultuur kon uitleef en ‘n eie regering kon instel. Die Dorslandtrekkers het weens godsdienstige, politieke en ekonomiese redes getrek. Die trekkers na Oos-Afrika het nie vir enige van hierdie redes getrek nie. Hulle het willens en wetens getrek na lande wat reeds hul eie regerings gehad het. Hulle was nie ontevrede met hulle kerke en politieke partye nie. Hulle is nie soontoe om aardse besittings te verkry nie. Hulle het ook nie getrek net om te trek nie. Wat was hulle motivering?

Miskien was dit die versugting na die pionierslewe. Lewe in die wildernis, ver van die moderne lewe af, ongekompliseerd, terug na dit wat werklik saak maak. Die eerste geslag in Oos-Afrika het oorleef met jag en transport ry. Hulle het nie veel belang gestel in landbou nie. Dit was die tweede geslag wat op ‘n ander manier ‘n bestaan moes maak. Hulle moes wortel skiet en landbou beoefen. Hulle het naam gemaak as suksesvolle mielie- en koringboere.

Die Boerevolk is fisies verknog aan Afrika, ons voel tuis in Afrika, ons voel vreemd in Europa. Die landskap is oop en wyd, die klimaat is aangenaam. Afrika toets die Boer se karakter. Gevare moet trotseer word, daar is hindernisse en teenspoed wat uithouvermoë vereis. Vindingrykheid is nodig om hindernisse te oorkom. Aanpasbaarheid is nodig vir terugslae en teleurstellings. Die Boerevolk is bouers, nie afbrekers nie. Ons wil tem en mak maak. Ons floreer op Afrika se uitdagings.

Die Boerevolk is ook geestelik verknog aan Afrika. Dit is waar ons ons eie unieke aard verkry het. Ons klou hardkoppig vas aan ons eie goed. Ons godsdiens, ons taal, ons kultuur. Selfs die voortreflike Britse beskawing en kultuur kon ons nie oortuig om ons eie prys te gee nie. Selfs ver weg in Oos-Afrika, het die Boerevolk sy eie behou en geweier om tot niet te gaan. Hulle het gestaan waar hulle staan en niks kon hulle beweeg nie.

Die eksperiment in Oos-Afrika het uiteindelik nie geslaag nie. Die enigste tuisgebied wat sover vir die Boerevolk gevind kon word, is in Suidelike Afrika: Suid-Afrika en Namibië. Ook nie die hele Suid-Afrika en Namibië nie, net ‘n gedeelte. ‘n Gedeelte waar, volgens die Gelofte, ons ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen. Ons moet, voor ons weer iewers heen trek, uitvind “waar dit Hom behaag”.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die gratis Afrikaanse Bybel: die PWL

Foto: Pad van Waarheid tot die Lewe

Drie jaar gelede het iets ongewoons met my gebeur. Ek het uit die bloute ‘n tablet as ‘n geskenk ontvang. Ek het nie geweet wat om daarmee te doen nie. In die proses van soek na ‘n nut vir hierdie toestel, het ek gaan kyk of dit vir Bybelstudie gebruik kan word. So het dit gebeur dat ek Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) ontdek het. Dit het toe pas verskyn.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe is ‘n Afrikaanse vertaling van die Heilige Skrifte wat sedert 2015 beskikbaar is. Die Kopiereg behoort aan die Lewende, Skepper God. Hierdie Bybel is gratis en mag nie verkoop word nie. Soos dit hoort. Verder is dit ‘n letterlike vertaling uit Hebreeus en Aramees in Afrikaans. Dit bevat, nes die meeste ander Afrikaanse vertalings, slegs die 66 kanonieke boeke.

In die afgelope drie jaar het ek hierdie nuwe vertaling van begin tot einde deurgewerk. Ek wou slegs die teks bestudeer. Ek het van verklarings gebruik gemaak om my verstaan van die teks te kontroleer. Ek het die beste verklarings wat ek kon kry gebruik. Hierdie verklarings is in Engels en die verklaarders gebruik die mees gerespekteerde Engelse vertalings van die Bybel. Hierdie manier van werk sou, indirek, ook verskille met die PWL kon uitwys.

Wat met die eerste oogopslag vreemd is, is dat die spelling van name anders is. Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) het die Hebreeuse en Aramese name getranslitereer. Derhalwe is Kain en Abel nou Kayin en Hevel, Abraham is Avraham, Moses is Moshe, Johannes is Yoganan, Paulus is Sha‘ul, ensovoorts. Jesus se regte Naam is Y‘shua (uitgespreek as Yeshua). Die standpunt van die PWL is dat sy naam ‘n persoon se karakter verteenwoordig en dus betekenis het. Die herstel van die oorspronklike name was om die betekenisse van name duideliker te maak.

Dit mag wees dat daar mense is wat nie God se eienaam ken nie. In die PWL word dit uit respek in die Hebreeuse skrif geplaas. Dit is die naam YAHUAH, wat dikwels uitgespreek word as Yahweh, met die betekenis EK IS, WAS, SAL WEES WIE EK IS, WAS, SAL WEES. Die Hebreeuse Eloha/Elohim word in die PWL vertaal as “Godˮ.

Dit is van groot belang om te vra watter bronne vertalings gebruik. Die Massoretiese Teks (MT) is die algemene bron vir die meeste moderne vertalings van die Ou Testament. Die nadele van die MT is dat dit eers in die elfde eeu na Christus voltooi is, dat dit foute bevat en dat die Joodse rabbi’s wat dit opgestel het, veranderings aan Messiaanse profesieë gedoen het. Gelukkig is die Oorspronklike Ou Testament nog voor die geboorte van Christus vertaal in Aramees en Grieks. Hierdie vertalings gee ‘n indikasie van wat die teks van die Oorspronklike Ou Testament was. Ek het ‘n aantal Nuwe Testamentiese aanhalings uit die Ou Testament ondersoek en gesien hoe die MT die teks verander het. Die PWL is in hierdie opsig meer akkuraat.

Die grootste verskil tussen die PWL en ander vertalings is die bronne wat vir die Nuwe Testament gebruik word. Die oorgrote meerderheid vertalings is uit Grieks vertaal. Die PWL is vertaal uit Aramees. Daar word gemeen dat die Aramese bronne meer betroubaar is omdat Aramees die skryf- en spreektaal van Jesus en die Apostels was. Daar word verder geglo dat die Aramese bronne ouer en meer betroubaar as die Griekse bronne is. Ek het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die idee dat die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf was, word hoofsaaklik in die Westerse kerke gehuldig.

Verskille in die vertaling van die Ou Testament begin by Genesis 1:1. In die oorspronklike Hebreeus is daar nie die woord “die” in “in die begin” nie. Die “die” is vir taalkundige redes ingevoeg. “In begin”, soos die PWL dit vertaal, dui aan dat dit nie die begin van alles was nie, maar eerder dat dit vir God self die begin van ‘n nuwe tydperk was. Met die ballingskap is die gebruik van Hebreeus deur Israel vervang met die gebruik van Aramees. Die vermoede is dat die boeke wat na die ballingskap geskryf is, oorspronklik in Aramees (nie Hebreeus nie) geskryf is.

In die Nuwe Testament is die naam Here/Heer vervang met die Hebreeuse YHWH (in Hebreeuse skrif). Idiome is letterlik vertaal. Die woord “geloof”  is vervang met “vertroue”. Die verduideliking is dat geloof is om te weet, maar vertroue is om te doen. “Heilig” word vervang met “afgesonderd”, “geregtigheid” word vervang met “reg volgens die wet” (onskuldig), “dissipel” word vervang met “studentevolgeling”, ensovoorts.

Die vertalingsverskille is dus nie as gevolg van swak vertaling nie, maar is doelbewus en na deeglike oorweging gedoen. Vir my is dit verfrissend. As ons dieselfde woorde by herhaling hoor, raak ons afgestomp en word dit geykte woorde en uitdrukkings. Wat beteken “genade” nou eintlik? Is “onverdiende guns” nie beter nie?

Ek het ook die kritiek van die akademikus Professor Chris de Wet gelees. Ongelukkig is dit nie ‘n evaluasie van die PWL nie maar ‘n aanval op die PWL, die vertaler en die gebruikers van die PWL. Ek is oortuig dat elke werk wat tot eer van Yeshua is, teenstand uitlok. Vir my is die aanval ‘n bevestiging dat die PWL op die regte pad is.

Daar is verskeie ander vertalings van die Bybel in Afrikaans. Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) is in 1933 gedoen en in 1953 hersien (Bybelgenootskap). Dit is ‘n letterlike vertaling. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) is in 1983 gedoen en is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling (Bybelgenootskap) . Die Boodskap het in 2002 verskyn (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n parafrase. Die Nuwe Lewende Vertaling het in 2006 beskikbaar geword (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling. Die Bybel vir Almal het in 2008 uitgekom (Bybelgenootskap). Blykbaar in eenvoudige Afrikaans.  Die Bybel: ‘n Direkte Vertaling is in proses van vertaling en sal blykbaar in 2020 verskyn (Bybelgenootskap). Dan het die Jehovah Getuies hulle eie Nuwe Wêreld-Vertaling. Daar is ook die Dogter van Sion se Boek van Herinnering. Die meerderheid lê die klem op die verstaanbaarheid in moderne Afrikaans en nie die getrouheid aan die teks nie.

My behoefte is aan ‘n letterlike vertaling. In Engels is daar ‘n paar vertalings wat ek al gebruik het, maar dan moet ek woordeboeke byderhand hou. Die PWL het aan my behoeftes voorsien en ek is tevrede daarmee. ‘n PWL-AOV parallel Bybel sal vir my interessant wees.

Die PWL is beskikbaar in verskillende formate. Dit is ingesluit op verskeie elektroniese Bybelstudie hulpmiddels. Daar is ook gedrukte Bybels gratis beskikbaar. Volle besonderhede is op die PWL-webwerf.

Daar is organisasies soos die Gideons en Geopende Deure wat gratis Bybels versprei. Daar is ook elektroniese weergawes van sommige vertalings wat gratis is – mits dit slegs vir persoonlike gebruik is.  Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) is nie net gratis vir eie gebruik nie, maar is ook gratis vir wyer gebruik. Nog meer: die PWL verbied die verkoop van hierdie vertaling, dit mag slegs gratis versprei word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

‘n Groot Bybelse vertaalfout

Waar die woord kerk vandaan kom en wat sy oorspronklike betekenis was, is nie absoluut seker nie. Waarom die woord  kerk in die Bybel gebruik word, in plaas van die korrekte woord, is ‘n kwessie van bespiegeling. Waarom dit nie reggestel word nie, kan ek ook nie sê nie.

Die oorsprong van die woord kerk word gegee as afkomstig van dieselfde Germaanse woord waar sirkel ook vandaan kom. Alternatiewelik is dit van ‘n Griekse woord kyriakos wat die heer se huis beteken. Nog ‘n teorie is dat dit van die songodin Cirece afkom. Kom ons aanvaar dus dat kerk van kyriakos afkom want dit is uit Grieks en klink of dit Bybels kan wees.

Die slegte nuus is dat dit nie die woord kyriakos is wat as kerk vertaal word nie. Dit is die woord ekklesia wat as kerk vertaal word. Ekklesia beteken iets heel anders, dit beteken nie die heer se huis nie, dit beteken vergadering van uitgeroeptes. Nou hoekom sal sommige vertalings van die Bybel ekklesia nie vertaal as vergadering van uitgeroeptes nie maar as kerk?

Wat beteken die woord kerk? Taalkundig kan die woord kerk verwys na ‘n kerkgebou, ook na ‘n organisasie van Christene wat ‘n sekere denominasie verteenwoordig, dit kan ook verwys na ‘n sekere groep mense wat gereeld op ‘n plek bymekaar kom en gewoonlik ge-affiliëer is met ‘n sekere denominasie. In die Nuwe Testament was daar nie sulke geboue nie, ook nie denominasies nie en ook nie sulke groepe mense nie. Derhalwe, dit wat die woord kerk beskryf en beteken kom glad nie in die Nuwe Testament voor nie. Die woord kerk is ‘n vreemde woord en behoort nie in die Bybel te wees nie.

Hoe het dit gebeur dat hierdie vreemde woord in die Bybel gekom het? Die oorspronklike Protestantse vertalings was korrek en het ekklesia reg vertaal. Byvoorbeeld die Engelse vertaling van Tyndale het ekklesia vertaal as ”congregation”. Die woord ”congregation” beteken ”to gather into a body”. Die Statenvertaling het ekklesia vertaal as gemeente. Luther het ”gemeinde” gebruik. Die oorspronklike betekenis van gemeente in Nederlands en Duits is ‘n ”eenheid van openbare bestuur” (soos ‘n dorpsbestuur). Die woord ekklesia het in die Ou Testament verwys na ‘n vergadering van die volk. In die Griekse stadstate was dit ‘n vergadering van verteenwoordigers wat die stad bestuur.

Die woord  ”congregation” is in die King James Version vervang met die woord  ”church”. Koning James I van Engeland het opdrag gegee dat ‘n nuwe vertaling van die Bybel gedoen moet word. Hy het aan die vertalers 15 opdragte gegee waaraan die vertaling moes voldoen. Koning James I het vereis dat die nuwe vertaling moes ooreenstem met die ekklesiologie  van die Church of England (Anglikaanse Kerk). Dit moes die kerk se episkopaalse struktuur en ook die kerk se geloof in geordende ampte reflekteer. Gevolglik is die Bybel so vertaal dat dit ‘n kerkgenootskap moes pas. Die woord ”church” beteken dus in die eerste plek kerkgenootskap of denominasie.

Goed, maar dit is in Engels. Hoe raak dit Afrikaans? Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van 1933/1953 het, in die voetspore van die Statenvertaling, ekklesia as gemeente vertaal. Die afwyking in Afrikaans het met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van 1983 gekom. In hierdie vertaling word ekklesia vertaal as kerk. Effektief beteken dit dat die vergadering van uitgeroeptes verander is na die vergadering van die kerkgenootskap se geordende ampsdraers. Dit is ‘n wesentlike verandering van die Bybel.

Watter weergawe van Matteus 16:18 klink korrek: ”En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk (d.w.s. kerkgenootskap) bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (NAV). Of: ”en Ek sê verder vir jou: ‘Jy is Kefa. Op Hierdie Rots sal Ek My vergadering van uitgeroeptes bou en die hekke van Sh’ol sal nie daarteen kan staan nie.” (PWL).

Miskien kan die ekklesia met hierdie voorbeeld verduidelik word. Die Skaapwagter roep die skape wat aan Hom behoort om na Hom toe te kom. Daar is baie skape, maar nie almal behoort aan Hom nie. Die skape wat aan Hom behoort hoor Sy stem en hulle herken Sy stem. Die skape gaan na die Skaapwagter toe en versamel om Hom. Nou lei die Skaapwagter Sy skape na waar daar goeie weiding is.

Ons het tot dusver aanvaar dat die Germaanse woord kerk afkomstig is van die Griekse woord kyriakos wat huis van die heer beteken. Dit verklaar dalk hoekom daar na ‘n kerkgebou verwys word as die ”huis van die Here”. Dit is natuurlik ook foutief.

Indien die vertaling van ekklesia as kerk net ‘n fout was (almal maak foute), hoekom word dit dan nie reggestel nie?

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk van Suidwes

Een van my oumagrootjies was ‘n Dorslandtrekker. Ek het lank gesoek na inligting oor haar, en ek meen ek het haar opgespoor onder die oorlewendes van die rampspoedige tweede Dorslandtrek. Dit was die trek wat bestempel is as “the most painful chapter in the whole history of the Afrikaner race“.

Reeds in 1738 het die eerste blanke pioniers hulle oorkant die Oranje, in die latere Suidwes-Afrika, gevestig. In 1786 het sewe gesinne hulle naby Keetmanshoop gevestig. Ander klein groepe het voor 1870 hulle ook daar gevestig. Die Dorslandtrekkers het eers na Angola getrek, maar later verhuis na Suidwes-Afrika.

Wanneer daar van die Dorslandtrek gepraat word, word daar verwys na ‘n reeks trekke uit die Transvaal, deur die Kalahari, tot in Angola. Hierdie trekke het tussen 1874 en 1927 plaasgevind. Die “dorsland” is die sentrale deel van die Kalahari.

Een van die redes vir die trekke was godsdienstig van aard. President T.F. Burgers was ‘n Vrymesselaar en sy regering was gesien as ongodsdienstig en liberaal. Die predikante van veral die Gereformeerde Kerk se leierskap was gebrekkig en bedenklik. ‘n Gedeelte van die trekkers was “Jerusalemgangers” wat geglo het hulle moet aanhou trek totdat hulle Jerusalem bereik het. Profete, visioene en drome het ‘n belangrike rol gespeel in besluitneming. Nog ‘n rede was dat daar teen 1890 nie meer grond beskikbaar was in Transvaal nie. Daar word gesê die meerderheid Dorslandtrekkers was welaf en leiers in die gemeenskap, maar was ook bywoners as gevolg van die min grond.

Die eerste drie trekke was tussen 1874 en 1877 toe omtrent 700 mense plus hulle arbeiders die Transvaal verlaat het. In 1881 het hulle in Angola aangekom en hulle daar gevestig. Die eerste trek van 60 mense het groot veeverliese gelei. Die tweede trek was omtrent 600 mense. As gevolg van swak beplanning en twiste tussen leiers het alles verkeerd geloop en het hulle ongekende lyding beleef. Dors, malaria en tsetsevlieë het hulle geteister. Een van die probleme was dat hulle nie in klein groepe getrek het nie, en dus nie die waterputte toegelaat het om weer nuwe water te kry nie. Los beeste het weggehol en wanneer die mense by die putte kom, moes hulle eers dooie beeste uithaal voor hulle kon water kry. Party mense het skape keelafgesny om bloed vir hulle kinders te gee om hulle dors mee te les. Panne is deur die beeste tot modder getrap en die mense moes probeer om vog uit die modder te suig vir die dors. Sterftes was nie direk van dors nie maar hoofsaaklik weens malaria. Die derde trek het uit 40 mense bestaan. In 1878 het die drie groepe verenig. Na hulle ‘n ruk lank by Etoshapan en Kaokoland oorgestaan het, het hulle na Angola getrek. Slegs 370 persone het hul bestemming bereik. Omtrent 230 het gesterf en die res het teruggekeer Transvaal toe.

In 1884 het sommige Dorslandtrekkers besluit om Angola te verlaat. Dit was of terug Transvaal toe, of vestiging in Suidwes-Afrika. In 1885 het hulle grond in Grootfontein bekom. Hier het hulle die Republiek van Upingtonia gestig. Die mense het aanvanklik bymekaar gebly en hutte rondom die fonteine by Grootfontein bewoon. Later het hulle hartbeeshuisies gebou. In laagliggende gebiede het hulle koring, mielies en tabak verbou. Na ‘n aantal moorde deur Herero’s en voortdurende aanvalle deur Boesmans (San), is Upingtonia se naam verander na Lydensrust. Malaria was steeds ‘n probleem. Hoewel hulle in 1886 onder Duitse beskerming gekom het, het dit niks beteken nie omdat daar nog nie beskermingstroepe was nie. Teen 1887 het etlike mense Grootfontein verlaat. Sommiges het hulle op Omaruru gevestig as transportryers.

Die wat in Angola gebly het, het hulle op die waterryke hoogland by Humpata gevestig. In 1883 was daar 325 blankes en 43 swart arbeiders. Mettertyd het party hulle op ander plekke gaan vestig en klein Boeregemeenskappe gevorm. Hulle het ‘n bestaan uit landbou, transportry en jag gemaak.

Die vierde trek was ‘n klompie kleiner trekke wat verenig het en in 1892 in Humpata aangekom het. Die vyfde trek het in 1893 in Humpata aangekom.

Hoewel Upingtonia nie meer bestaan het nie, het Grootfontein die basis gevorm vir die vestiging van nog Boere. Die gebied het in 1892 behoort aan die Suidwes-Afrika Maatskappy. Die maatskappy was die Boere goedgesind en wou hulle graag daar hou. Die Boere was toegelaat om grond te koop en te betaal met kontant of plaasprodukte. Die Boere moes hulle verbind tot permanente vestiging, militêre diens en hulle moes Duitse burgers word. Nadat die moerasse gedreineer is, het Grootfontein meer geskik geword vir bewoning. In 1899 het Grootfontein ‘n eie distrik geword.

Die sesde trek het in 1893 begin. Een groep was onder die leierskap van die bekende kommandant J.M. Lombard. 100 gesinne het getrek, 70 na Angola en die res na Suidwes-Afrika. Die wat na Angola is, het in die sentrale dele gaan woon. Hulle het min kontak met die Boere in Humpata gehad. Die sewende trek was in 1905 en het uit 31 volwassenes en 27 kinders bestaan. Van 1880 tot 1927 was daar kleiner trekke en individue wat hulle by die Boere in Angola aangesluit het.

Na die Anglo-Boereoorlog het ‘n aantal individue na Angola verhuis. Hulle was meestal enkellopende mans wat alles in die oorlog verloor het. Van die Boere het na die oorlog nie kans gesien om Britse onderdane te wees nie. Hulle het hul in Suidwes-Afrika, wat toe ‘n Duitse kolonie was, hervestig. Een van hulle was genl. Andries de Wet. Hy het hom beywer vir ‘n georganiseerde vestiging van Boere in Duits-Suidwes-Afrika. Met die Eerste Wêreldoorlog het hy die Vrykorps gestig om Duits-Suidwes-Afrika teen die Britsgesinde  Suid-Afrika te beskerm. Die Vrykorps het dan ook met die leiers van die Rebellie saamgewerk. In later jare het hy hom beywer vir die repatriasie van die Boere in Angola na Suidwes-Afrika.

In 1928 het die Boerebevolking besluit om Angola te verlaat. In 1929 is die oorgrote meerderheid na Suidwes-Afrika gerepatrieer. Hulle word gevestig op plase in die omgewing van Gobabis, Aranos, Grootfontein en Otjiwarongo. Hulle was geprys vir hulle christelike lewenswaardes en die suiwer gebruik van hulle taal. Die omtrent 400 mense wat agtergebly het, is in 1958 na Suid-Afrika en Suidwes-Afrika gerepatrieer.

Die leiers van Suid-Afrika het die Boerevolk van Suidwes-Afrika in die steek gelaat en in 1990 word Suidwes-Afrika die onafhanklike staat Namibië. Afrikaanse kultuurorganisasies het oornag uit Suidwes-Afrika onttrek. Daar was nie meer Afrikaanse skole nie. Die getalle van die Boerevolk het erg gekrimp. Erfenisterreine het verlate geword.

Die oorblywende Boere in Namibië het daarop hul eie kultuurorganisasies gestig, hul eie erfenisplekke gebou en hul eie helde ontwikkel. Hulle het ook hul eie simbole. Hulle is nie meer die “vyfde provinsie” van Suid-Afrika nie, hulle staan op hul eie voete.

Dit is merkwaardig dat die Boerevolk, ten spyte van al die trekkery en die ver uitmekaar woon, bitter min van mekaar verskil. Uiterlik is daar verskille, maar innerlik is ons een volk. Indien dit sou gebeur dat die Boerevolk verenig word, sal ons oor heelwat sake moet herbesin. Byvoorbeeld, nie almal sal die ou ZAR-vierkleur as hulle vlag erken nie. Nie almal sal “Die Stem van Suid-Afrika” wil sing nie.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Lig jou glas vir die vertaler

Ek weet nie van jou nie, maar ek het grootgeword met die lees van talle klassieke verhale. Jy weet Die Avonture Van Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Die Swart Tulp deur Alexander Dumas, Die Kon-Tiki Ekspedisie deur Thor Heyerdahl, 20 000 Myl Onder Die See deur Jules Verne, Die Skarlaken Pipernel deur Barones Orczy, Die Gevangene van Zenda deur Anthony Hope en nog baie meer. In Afrikaans.

Nie net hierdie boeke nie, daar is talle meer. Die Tarzan boeke was ook in Afrikaans vertaal. Die boeke van skrywers soos Heinz G. Konzalik, Wilbur Smith, Ian Fleming en nog ander was ook in Afrikaans beskikbaar. Vandag is dit natuurlik nog steeds beskikbaar in biblioteke en tweedehandse boekwinkels. Daar is blykbaar sprake dat daar heruitgawes van sommige van hierdie boeke beplan word.

In daardie dae was daar nie Google Translate nie. Iemand het ‘n boek in ‘n vreemde taal woord vir woord en sin vir sin op ‘n tikmasjien oorgeskryf in Afrikaans. Uit al wat ‘n vreemde taal is. Dit moes ‘n groot werk gewees het. Om te vertaal, moes die vertaler sekerlik meer as net ‘n gangbare kennis van die vreemde taal en ook van Afrikaans gehad het. Wat van woorde in die vreemde taal wat nie in Afrikaans voorkom nie? Wat van vreemde woorde se spelling?

Dit is moontlik gemaak deur uitgewers. Maar wie was hierdie vertalers? Dit staan nie op die voorblad nie. Jy moet soek om die naam te kry, klein gedruk aan die binnekant. Dan as jy die naam het, wat dan? Jy het heel moontlik nog nooit van daardie persoon gehoor nie. Onbekend en onbemind.

Wie is of was A. Crafford? Hierdie persoon het uit Duits vertaal. Ek weet van boeke deur Heinz G. Konzalik en Herbert Kranz wat deur A. Crafford vertaal is. Frans van Zyl het Jan de Hartog se Hollands Glorie in Afrikaans vertaal as Stuurman van die Furie. Ek weet ook nie wie hy is of was nie. A.M. van Schoor onthou ek. Hy was redakteur van Die Vaderland en het ‘n program op die radio aangebied. Hy het die Tarzan boeke vertaal. Dr H.A. Steyn het Ben Hur vertaal. Ek vermoed hy was betrokke by die Skoolwoordeboek. H.J. Pama was blykbaar van Nederlandse afkoms en ‘n entoesiastiese leser van die Duitse skrywer Karl May. Hy het dan ook May se Winnetou in Afrikaans vertaal. S.G. Meiring het Die Kinders van die Groot Sneeuveld deur Laura Fitinghoff vertaal. Die Avonture van Sherlock Holmes en Die Gevangene van Zenda is deur iemand met die naam Jacques van Zijl vertaal. Ek vermoed die woordeboekmaker J. Kromhout was die vertaler van Paddeltjie (oorspronklik Paddeltje – De Scheepsjongen van Michiel de Ruyter), uit Nederlands. Frank S. Stuart se boek City of Bees is uit Engels vertaal deur ene H. v.d. Merwe Scholtz as Byestad. Is dit die bekende H. v.d. Merwe Scholtz wat ook as Merwe Scholtz bekend is?

Die bekende digter, dokter, kok en plantkenner C. Louis Leipoldt was ‘n besige man. Behalwe sy gedigte, toneelstukke, romans, kinderverhale en kookboeke het hy ook speurverhale geskryf. Sy speurder was ‘n afgetrede predikant en fynproewer wat deur navorsing die skuldige vastrek. Hy het ook onder verskeie skuilname geskryf soos Africanus, C.L.L., F.W. Bancombe, F.W. Baxter ensomeer. Leipoldt het ook Alexandre Dumas se Die Swart Tulp en Carl Ewald se Natuursprokies vertaal.

W.O. Kühne was van Duitse afkoms en het gewerk as onderwyser en joernalis. As joernalis was hy ondermeer betrokke by Die Jongspan. Hy is bekend as skrywer van kinderboeke, veral die Huppel boeke. Die karakter Huppel woon by sy Oupa en hy reis gereeld na die fantasiewêreld van Lekkerland. Kühne vertaal onder meer Die wonderbaarlike avonture van Baron von Münchhausen uit Duits. Hy vertaal ook Die Ou Huis deur Hans Christian Andersen en verhale oor persone in die Bybel.

Ray Knox het heelwat boeke vertaal uit Engels, boeke geskryf deur Desmond Bagley, Evelyn Anthony en Wilbur Smith. Onder die naam Johan Strydom het sy Westerns vertaal. Sy het ook haar eie boeke geskryf. Sy is getroud met die skrywer Derick Jacobs.

Derick Jacobs het al op skool begin skryf. Hy het van standerd 9 af sakgeld gemaak deur die skryf van opstelle. Hy sal drie tot vier opstelle skryf, die beste een vir homself hou en die ander aan klasmaats verkoop. Derick Jacobs het by verskillende tydskrifte en koerante gewerk. Die name waaronder hy boeke skryf is Stefan Radlof, Len Anthony, Rena de Kock, Henriette Fouché en Susan Maree. Van sy leermeesters was skrywers soos Dewald Brink, Gerrie Radlof, Adriaan Roodt, Basil Stoltz en Johan van der Post. Benewens sy eie werk, vertaal hy ook boeke van Ian Fleming, Louis L’Amour en nog ander.

Leon Rosseau het seker meer boeke in Afrikaans vertaal as enige iemand anders. Hy was van beroep ‘n skrywer en uitgewer. As skrywer is hy bekend vir sy biografie oor Eugene N Marais, Die Groot Verlange, so ook sy boek oor ‘n eie volkstaat, ‘n Toevlug in die Weste en die wetenskapfiksie reeks Fritz Deelman. As uitgewer was hy ‘n medestigter van Human & Rosseau in 1959. Hy en Gerrit van Zyl (Gerrie Radlof) het Uniale Persdiens saam begin. In 1979 begin hy Ibis-pers en in 1982 Rubicon Pers. Hy het ook in 1983 die Storieman reeks begin, kinderverhale met ‘n kasset (later ‘n CD) wat in die boek ingesluit was. As vertaler vertaal hy meer as ‘n honderd boeke in Afrikaans. Van dit was klassieke verhale soos “’n Reis na die middelpunt van die aarde” deur Jules Verne, “White Fang die wolfhond” van Jack London en “Die muitery op die Bounty” deur Charles Hall Nordhoff en James Norman. Hy het ook kinderverhale en jeugboeke vertaal.

Hierdie is maar enkele van die vertalers. Daar is nog vele ander. Die vertalers het aan ons van die beste en bekendste boeke uit die wêreld gebring in ons eie taal. Daarmee het die aantal Afrikaanse boeke op ons boekrakke vermeerder. Ek glo ook dat die hoë kwaliteit van die oorspronklike verhale aan ons ‘n standaard gestel het om na te volg – wat ons eie skrywers gedoen het.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk van Rhodesië

Ek was nog nooit in Zimbabwe nie, maar ek was al in Rhodesië. Dit wil sê Suid-Rhodesië. Eens op ‘n tyd was daar ‘n deel van die Boerevolk wat in Suid-Rhodesië gewoon het. Hulle het Afrikaans gepraat, was lidmate van die drie Susterkerke, het hul eie kultuurverenigings gehad en het selfs hulle eie Afrikaanse koerante gehad. Dit was, maar is nie meer nie.

Lede van die Boerevolk was die eerste blankes wat die gebied verken het. Die Voortrekkers het in 1836 ondersoek ingestel na ‘n moontlike vestigingsgebied noord van die Limpopo. Hierna het Boerejagters al verder die gebied binnegedring totdat die Zambesirivier en die Victoria-waterval bereik is. Dit was voor Livingstone dit “ontdek” het. Daar was ook ‘n goeie verhouding tussen die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) en swart stamme wat daar gewoon het. Onder andere het die Banjaistamme in 1880 die ZAR gevra vir beskerming teen die Matabeles. In Augustus 1890 het Louis Adendorff en ander ‘n konsessie van die Banjaihoofmanne gekry om daar te gaan woon. Dit kon nie uitgevoer word nie want Cecil John Rhodes het hulle voorgespring.

Rhodes se maatskappy, BSAC (British South Africa Company), het reeds in Januarie 1890 ‘n kontrak met die Sjonas gesluit wat hulle sou toelaat om Masjonaland binne te gaan. Die Sjonas het gedink hulle wil net kom prospekteer. Rhodes se doelwit was die uitbreiding van die Britse Ryk en hy wou die hele gebied annekseer. Die BSAC het pionierskolonne gebruik om blankes daar gevestig te kry. Die pionierskolonne het hulle voorgedoen as trekgeselskappe. Daar aangekom, het hulle 5 forte gebou. Die aankoms van die kolonne was ‘n verrassing vir die Sjonas. Die gebied is Rhodesië genoem (vernoem na Rhodes) en die belangrikste fort se naam was Salisbury. Spoelgoud neerslae is ontdek en dit het goudkoors laat opvlam. Daar was ook avonturiers wat na die verlore stad Monomotapa wou soek. Die gebied was die BSAC se besitting tot Britse anneksasie in 1923.

Rhodes het advertensies in koerante geplaas om mense aan te moedig om daarnatoe te verhuis. Daar was belangstelling onder lede van die Boerevolk om soheentoe te trek. Afgevaardigdes uit die ZAR en Oranje-Vrystaat het kontak met Rhodes gemaak. Die voorwaardes van Rhodes was aantreklik. Anders as die goudsoekers, het die Boere in landbou geleenthede belang gestel. Alhoewel hulle burgers van die Boere republieke was, was daar tog ook ontevredenheid met hulle regering oor verskeie sake. Ten spyte daarvan dat die pionierstydperk verby was, was daar nog mense wat kans gesien het om pioniers te wees. Verskillende trekgeselskappe is georganiseer en in 1891 het die eerstes vertrek na die onbekende.

Die Boere het saam met Engelssprekendes Rhodesië ingetrek. Die meerderheid was Engels en daar was net een amptelike taal, naamlik Engels. Die Boere was ‘n minderheidsgroep onder die blankes, net soos die Grieke. Nogtans het hulle nie verengels nie, maar hulle eie taal en kultuur behou. Die onderrigtaal in hulle skole was wel Engels, maar Afrikaans kon as ekstra vak aangebied word. Hulle het ook hulle eie kerke gehad. Die Boere was oorwegend landbouers van beroep. Die Boere het hulle in net ‘n paar distrikte gevestig met die gevolg dat hulle hul eie volkskarakter kon behou. In Enkeldoorn was 85% van die mense Afrikaanssprekend. Hulle het ook hul eie kultuurorganisasies gehad wat saamgewerk het as AKUR (Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië). In 1965 het die GRA (Genootskap van Rhodesiese Afrikaners) tot stand gekom.

Dit wil voorkom asof daar in Rhodesië nie die probleem van Boerehaat, soos in Suid-Afrika, was nie. Miskien omdat die Boere min was en nie veel invloed gehad het nie.

Hoewel die Boere onder die blankes ‘n minderheidsgroep was, was hulle ten volle betrokke by hulle land se sake. So was daar van hulle wat staatsamptenare was, sommiges in senior poste. Hulle was lede van die polisie, hulle het deel gevorm van hul land se weermag en het in oorloë hulle deel gedoen. Hulle het ook in die sakewêreld en landbou hulle bydraes gebring. Ook op sportgebied het hulle hul land verteenwoordig. Hulle was lojale Rhodesiërs maar steeds ook lojale lede van die Boerevolk.

Rhodesië het bekwame leiers gehad en die land het op ekonomiese gebied floreer. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n groot ekonomiese oplewing plaasgevind en het heelwat blankes uit ander lande immigreer na Rhodesië. In 1953 het Brittanje die Federasie van Rhodesië en Njassaland gestig. Dit het bestaan uit Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), Noord-Rhodesië (vandag Zambië) en Njassaland (vandag Malawi). Die plan wou Swart aspirasies, Blanke belange en koloniale behoeftes akkommodeer. Dit misluk en word in 1964 ontbind. Suid-Rhodesië het ‘n groter blanke bevolking gehad as die ander en hierdie blankes was permanente inwoners met eiendomme. In 1965 verklaar Suid-Rhodesië UDI (Unilateral Declaration of Independence) wat beteken dat hulle nie meer ‘n Britse kolonie was nie. Die Rhodesiese Bosoorlog breek uit tussen die blankes en die kommunistiese swart “bevrydingsbewegings”. Dit lei tot internasionale sankies. Nogtans bly hulle staande met die hulp van die Suid-Afrikaanse Regering. Uiteindelik gee die Suid-Afrikaners toe aan die buiteland en in 1980 kom Mugabe aan bewind. Dit was die einde van Rhodesië en die begin van Zimbabawe.

Vir amper 90 jaar was daar ‘n aansienlike aantal lede van die Boerevolk wat Rhodesiërs was. Ons kan ons indink hoe moeilik dit vir hulle as pioniers was om ‘n beskawing in ‘n wildernis te skep. Alles wat bereik was, was kosbaar en die moeite werd. Hulle het hulle plig nagekom, hulle het hul beste gedoen. Dit was alles tevergeefs. Hulle was net ‘n pion in die groter geo-politieke spel.

Die Rhodesiese leier in 1980 was Ian Smith. ‘n Beginselvaste persoon wat nie van sy beginsels afgewyk het nie. Kort voor sy dood het hy na bewering gesê: “Suid-Afrika het Rhodesië as offerlam gegee om vir homself tyd te koop. En daardie geleende tyd sal ook uitloop en dan sal die geskiedenis hom hier ook herhaal.”

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Aksie, spanning, avontuur

In my kinderjare was daar ‘n reisende biblioteek. Dit was ‘n bus wat in ‘n biblioteek omskep was en ‘n sateliet van die dorpsbiblioteek was. Die bus het ons elke tweede week kom besoek. Die bus was goed toegerus met Afrikaanse storieboeke. So kon ek as kind kennis maak met Die Drie Musketiers, Skateiland en nog ander klassieke verhale, in Afrikaans vertaal.

In daardie jare was daar ook ‘n groot aantal eg Afrikaanse aksieverhale. Sommige was hardeband en ander was slapband. Van hierdie boeke was as reekse geskryf en het soos soetkoek verkoop. Verkope was so goed dat van die skrywers ‘n bestaan kon maak deur voltyds te skryf. Hoewel die goue era van die Afrikaanse avontuurreekse van die laat 1940’s tot die vroeë 1960’s was, was daar tot in die 1980’s nog nuwe uitgawes. Dit was voor die opkoms van fotoverhale en televisie.

Rooi Jan was ‘n besonder sterk man met rooi hare en baard. Met sy perd en hond het hy heldedade gedoen tydens die Oosgrensoorloë en die Groot Trek. Die Buiter was ‘n ryk Franse edelman wat ‘n soort Robin Hood aan die Kaap was. Die Swart Luiperd was ‘n Boerseun wat in die wildernis groot geword het. Hy dra ‘n swart luiperd kop as masker en het twee mak luiperds wat hom help. Die Maagd van die See vertel van die stryd teen seerowers in die vroeë dae van die Kaap. Die Temmers van die Woestyn het verskillende hoofkarakters gehad en het in die tyd van die pioniers afgespeel.

Die grootste aantal boeke is deur slegs vier skrywers geskryf. Braam le Roux het in ‘n tydperk van 10 jaar 101 boeke geskryf. Meiring Fouche het 79 geskryf, R Hendriks het 76 geskryf en Gerrie Radlof het 71 geskryf. Ander skrywers was Andreas du Plessis, Frans Gericke, Anton Koch en Hermie Hendriks. Ela Spence en Mary Sadler kan ook genoem word. Daar was nog vele meer. Van die skrywers het van verskillende skrywersname gebruik gemaak.

Braam le Roux is in 1918 gebore as Abraham le Roux Botha. Hy was ‘n joernalis voordat hy voltyds begin skryf het. Hy kon nie sy linkerhand gebruik nie en kon met net een hand tik. Hy was in die 1950’s die enigste Afrikaanse skrywer wat ‘n goeie inkomste verdien het deur voltyds te skryf. Hy het ‘n vaste kontrak gehad om twee boeke per maand te lewer. Hy het sy eerste boek in 1946 geskryf en met sy dood in 1956 het hy meer as 100 boeke geskryf. Braam le Roux het oorspronklik losstaande verhale geskryf maar toe begin om reekse te skryf: Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die Woeste Laeveld.

F.A. Venter het onder die name F.A. Venter, Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water geskryf. Hy was in 1916 gebore en skryf sedert 1944 tot 1996. Omstreeks 1960 begin hy om voltyds te skryf. Onder sy eie naam skryf hy jeugverhale en romans. Hy wen die Hertzogprys vir Swart Pelgrim en Geknelde Land. Hy skryf ook oor die Groot Trek: Geknelde Land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde Land. Onder die naam Meiring Fouché maak hy bydraes tot die reekse Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, S.A. Polisie, Swerwerspeurder, en Sahara Avontuur. Sy eie reekse was Maagd van die See, Baanbrekers, Ryk Schoonraad, en Fabel Retief.

Reinhardt (Hein) Hendriks het speur- en avontuurverhale geskryf onder die name R. Hendriks, André Murat en Casper H. Marais. Hy was in 1911 gebore en sy broer was die skrywer Hermie Hendriks. Hein Hendriks probeer om voltyds te skryf, maar kon dit nie regkry nie. As R. Hendriks skryf hy ‘n aantal boeke in die Temmers van die Woestyn reeks. (Hierdie reeks is begin deur Braam le Roux maar van die verhale is ook geskryf deur Meiring Fouché en R. Hendriks.) As Casper H. Marais skryf hy Rooi Jan en Mank Mannetjie.

Gerrit Lubbe van Zyl skryf onder die name Gerrie Radlof en Dirk Lubbe. Hy was in 1923 gebore en sterf in ‘n motorongeluk in 1971. Aanvanklik het hy deeltyds begin skryf om meer geld te verdien maar later begin hy voltyds skryf en werk ook as vryskutskrywer. As Gerrie Radlof skep en skryf hy die reekse Die Buiter, Oloff die Seerower en Ramala. Hy lewer ook bydraes vir die reekse S.A. Polisie en Swerwerspeurder. As Dirk Lubbe skryf hy die spioenasiereeks Profeet. Hy skep ook die fotoverhaalreekse Mark Condor en Saboteur.

Deesdae is dit boeke wat versamel word. Daar is ook iemand wat die buiteblaaie restoureer. Die kopiereg op vele van hierdie reekse het nou verval en heruitgawes is moontlik. Van hierdie boeke word nou weer uitgegee in gedrukte vorm en in e-boek formaat.

Hierdie reekse was geskryf vir, en is gelees deur, Blanke Afrikaanssprekendes. Hierdie reekse avontuurverhale kan waarskynlik gesien word as ‘n kultuurproduk. Iets wat eie aan ons was. Dit is werd om onthou en bewaar te word.

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Hy was Swart, nie swart nie

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 tot stand gekom, nie in 1994 nie. Die eerste president van die republiek was Charles Robberts Swart, nie Nelson Mandela nie. In 1994 was daar ‘n magsoorname, daar was nie ‘n nuwe staat gestig nie. C. R. Swart het Elisabeth II van Brittanje opgevolg as staatshoof van Suid-Afrika.

Die eerste President was ‘n Boer. Charles Robberts Swart (of Oom Blackie soos die volk hom geken het) was in 1894 gebore in Winburg, Republiek van die Oranje-Vrystaat. Tydens die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902), was Oom Blackie in die Konsentrasiekamp op Winburg saam met sy moeder en ander familie en bure. Sy vader was krygsgevange geneem.

Oom Blackie was ‘n besonder skrander persoon. Hy begin skool op sewejarige ouderdom en behaal sy matriek op dertienjarige ouderdom. Hy was te jonk vir toelating tot die universiteit en begin as vyftienjarige werk as magistraatsklerk. In 1910 begin hy met sy studies by die Grey-universiteitskollege en in 1912 behaal hy sy B.A.-graad. Van 1914 tot 1915 was hy ‘n onderwyser op Ficksburg. Van 1915 tot 1918 studeer hy verder en behaal die LL.B graad. In 1918 werk hy as regsassistent by die Bloemfonteinse Munisipaliteit. Van 1918 tot 1948 was hy ‘n advokaat by die Hooggeregshof in Bloemfontein en ook deeltydse dosent in regte.

Met die Rebellie van 1914 was Oom Blackie in hegtenis geneem op aanklagte van spioenasie en dat hy by die rebelle wou aansluit.  Hy was vrygelaat en toegelaat om onderwys te gee, maar was heeltyd onder huisarres.

Gedurende 1921-1922 was hy in die VSA vir studie in joernalistiek. In hierdie tyd het hy op parkbankies geslaap, op straathoeke gesing vir geld en selfs in ‘n rolprent opgetree. Hy het ‘n studietoer onderneem in die VSA, Brittanje, Nederland en België. Later in sy lewe het hy as joernalis en redakteur gewerk.

Oom Blackie Swart het van jongs af in politiek belanggestel en was ‘n stoere republikein. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party in 1914 ‘n lid daarvan. Van 1923 tot 1933 was hy volksraadslid vir Ladybrand. Die smelting van Genl Herzog se Nasionale Party en Genl Smuts se Suid-Afrikaanse Party in 1933, was vir Oom Blackie totaal onaanvaarbaar. Hy sluit toe ook aan by die Gesuiwerde Nasionale Party van Dr D.F. Malan. In 1939 vind die skeuring tussen Hertzog en Smuts plaas en daarna het die Herenigde Nasionale Party tot stand gekom. Die verhouding tussen Oom Blackie en Genl Hertzog (albei Vrystaters) was nie goed nie. In 1941 word Oom Blackie deur Winburg weer tot die Volksraad verkies. Na die oorwinning van die Nasionale Party in 1948, stel Dr Malan hom aan as Minister van Justisie.

In 1939 het Oom Blackie by die Ossewa-Brandwag (OB) aangesluit en op die Groot Raad gedien. Hy het later daaruit bedank omdat die OB nie meer aan sy verwagtinge voldoen het nie. Na die koalisie het hy aangesluit by die Afrikaner-Broederbond (AB) want hy het gemeen hulle streef na volkseenheid.

C.R. Swart was gereken as ‘n besonder bekwame kabinetsminister. Van 1960 tot 1961 was hy die laaste Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika. Net soos sy voorganger, het hy geweier om ‘n eed van getrouheid aan die staatshoof, Elisabeth II van Brittanje, af te lê. Van 31 Mei 1961 af was hy die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika. In 1967 het hy afgetree en hom op sy plaas De Aap naby Brandfort gevestig. In 1982, toe hy 87 was, is Oom Blackie oorlede.

Oom Blackie was nie net in die politiek betrokke nie, hy het heelwat op kultuurterrein gedoen. Hy was betrokke by die Taalfees, FAK, Voortrekkers, Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Nasionale Vrouemonument, Afrikaanse Handelsinstituut en nog meer.

Oom Blackie was ook ‘n skrywer en joernalis. Hy het twee kinderboeke geskryf: Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939). Hy het ‘n aantal artikels vir tydskrifte en koerante geskryf. Hy het ook gedigte en liedere geskryf, ondermeer skoolliedere vir drie verskillende skole.

Verder het Oom Blackie rugby gespeel en was hy ‘n skeidsregter. Hy het ook van jukskei en rolbal gehou. Hy het ook met Afrikanerbeeste geboer. Hy was lank en skraal, meer as twee meter lank.

Oom Blackie was ‘n gewilde en geliefde persoon, altyd toeganklik en jonk van gees. Van die ouer geslag sal sy staaltjies en humorsin onthou. Een staaltjie wat hy vertel het, was van ‘n ernstige toespraak by ‘n volksfees. Hy noem toe die helde van Spioenkop. ‘n Oom wat nie goed kon hoor nie, spring op en skree “Hoor, hoor”. Na die tyd vertel die oom: “O, het jy gesê die helde van Spioenkop, ek het gedink jy sê te hel met die spietkops.” ‘n Ander staaltjie was oor die bewoording van ‘n naambord vir sy plaas. Moet dit lees: C.R. Swart – De Aap of De Aap – C.R. Swart?

Hy was ‘n veelsydige man. ‘n Beginselvaste persoon, hy het nie saam met die wind gedraai nie en nie sy oortuigings prys gegee om sy loopbaan of finansies te bevorder nie. ‘n Man van integriteit, ‘n man uit die volk en vir die volk. Hy het geleef en gestreef in die tyd tussen die generaals en die beroepspolitici, in die tyd van die republikeine.

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Skape, wolwe in skaapsklere en die skaapwagter

Christelike boeke is ‘n groot bedryf. Sekerlik is daar kwantiteit, die bekommernis is oor kwaliteit. Want sien, ons christene is goedgelowig en is geneig om te goeder trou na verkeerde stemme te luister.

Een van die gevaarligte wat flikker, is dat baie christene nie die Bybel goed ken nie, ook nie basiese kennis van geloofsake het nie en verder nie veel verskillend van nie-christene leef nie. Verder bly hulle, na bekering, onvolwasse in geestelike sake. Dit maak dat hierdie christene ‘n maklike prooi is van valse leringe en valse leraars.

Daar is volop valse leraars wie se boeke soos soetkoek verkoop. Hierdie boeke handel oor populêre onderwerpe wat die belangstelling prikkel. Die hoofdoel met hierdie boeke is om geld te maak en is nie gerig op die opbou en versterking van gelowiges nie.

Die christelike boekwinkel se probleem is dat hulle nie iedere boek wat publiseer word, kan lees nie. Die boekwinkel kan nie instaan vir die kwaliteit van elke boek op sy rakke nie. Die boekwinkel het natuurlik ‘n winsmotief en wil graag net boeke aanhou wat verkoopbaar is. Die verantwoordelike handelaar sal dus moeite doen om kwaliteit boeke, wat verkoopbaar is, aan te hou, maar kan geen waarborge oor inhoud gee nie. Die onus rus op die koper om sulke boeke te kies wat aan sy behoeftes sal voldoen.

Die koper van die christelike boek moet dus riglyne hê om tussen boeke – en leringe – te kan onderskei. Die Heilige Skrif, die Bybel, is die beste maatstaf waarteen ander boeke gemeet kan word. Alle ander christelike boeke is, gemeet aan die Skrif, onvolmaak en het gebreke en foute. Ons moet dus die boeke wat ons lees, deurgaans toets aan ons waterpas, die Skrif.

Een van die dinge wat die boekkoper kan doen, is om meer uit te vind van die skrywer. Daar is gewoonlik ‘n kort beskrywing van die skrywer in die boek. Indien dit onvoldoende is, doen ‘n soektog op die internet. Lees die voorwoord tot die boek. Daarin word meer vertel oor die boek, die doel daarmee, die tema, die gedagtes daaragter. Kyk binne die boek, en ook op die buiteblad, vir enige verdere inligting.

Vra jouself af of die boek getrou is aan die boodskap van die Bybel. Is dit nuttig om die boek te lees? Is die boek bevorderlik vir jou geestelike lewe? Hierdie, en ander, vrae gee aan jou ‘n maatstaf wat jy kan gebruik terwyl jy lees, en ook wanneer jy die boek klaar gelees het.

Bespreek die boek met ander mense. Deur daaroor te praat, verbeter jy jou begrip en insig oor die boek. Die kommentaar en kritiek van ander mense sal jou help om te sien of jy die sterk en swak punte van die boek kon raaksien.

Bespreek die boek met jou Vader in die hemel in jou gebede. Hy sal weet of die boek hom vereer of nie. Vra Hom om leiding nog voordat jy die boek gekoop het, en weer daarna wanneer jy die boek klaar gelees het.

Lees nog boeke oor dieselfde onderwerp. Dit is ‘n manier hoe jy jou kennis en insig oor die onderwerp kan vermeerder. Kerkgenootskappe sal verkies dat jy boeke lees wat ooreenstem met hulle leerstellings. Vir die beginner is dit ‘n veilige weg. Die meer ervare leser mag daarby baat om ook ander leerstellige sienings te ondersoek en te vergelyk. Die doel van die lees van christelike boeke is die soeke na onpartydige waarheid.

Ons verstaan dat skrywers, uitgewers en handelaars geregtig is om kostes te verhaal en ‘n wins te maak. Wanneer alles net oor geldmaak gaan, het ons ‘n probleem. Die leser van christelike boeke moet oplet of geldmaak ‘n prioriteit by die rolspelers is.

Groei in getalle en suksesverhale van groter en luukser kerke, is duidelik van die wêreld en nie van Christus nie. Daar is godsdiensgroepe wat ‘n boodskap verkondig wat nie met die christelike leer ooreenstem nie, maar hulleself nogtans as christene beskryf. Hulle slaag ook daarin om hulle werklike identiteit te verbloem. Daar is ook skrywers en boeke wat godslasterlik is. Boeke en skrywers wat die sogenaamde “New Age” bevorder, moet vermy word. Vandag is daar ‘n verwoede aanslag op die christelike kultuurbeskouing oor seksualiteit en die huwelik. Daar is ook die poging om “politieke korrektheid” af te dwing op christene. Boeke en skrywers wat dit ondersteun moet liefs vermy word.

Die woord “ekumenies” is grootliks ‘n kodewoord vir ‘n eenwêreld godsdiens. Dit is waar die christelike geloof, die Judaïsme en Islam (en ook ander godsdienste) gelyk gestel word. Christene behoort te weet dat Christus geen kompromie met die wêreld maak nie.

Onder teoloë en predikante, ook in die Afrikaanse kerke, is daar deesdae ‘n liefdesverhouding met die sogenaamde Hoër Kritiek. Hierdie benadering tot die Bybel poog om aan te dui dat die Bybel ‘n mensgemaakte geskrif is. Bly weg van boeke en skrywers wat sulke sienings verkondig.

Die lees van kwaliteit christelike boeke het groot waarde. Daar is uitstaande boeke geskryf, boeke wat van onskatbare belang is vir elke christen. Daar is boeke wat as klassieke christelike lektuur beskryf word, boeke wat die toets van tyd deurstaan het en wat bokant alle leerstellige verskille uittroon. Sulke boeke kan aanbeveel word en christene kan aangemoedig word om dit te lees.

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin