Die ware Boerekerk

Illustrasie: http://www.volkstaat.org/index.php?option=com_content&view=article&id=1137:boere-kerk-werner-kruger&catid=59:laaste&Itemid=109

Toe die VOC moes besluit wie Vryburgers mag word, is daar gelet op goeie sedelike gedrag, voorbeeldige karakter en Protestantse christelikheid. Hierdie kriteria is streng toegepas tot en met 1806, toe die Britte die Kaap beset het. Dit was die karakter van ons voorgeslagte en hierop is ons volk gebou.

Ons stamouers was baie gesteld op ʼn christelike leefwyse en het ʼn patroon ontwikkel waar daar binne die gesin ʼn tafelgebed met elke ete was. Toe hulle na 1715 begin het om die binneland in te trek, het dit moeilik geword om gereeld kerkdienste by te woon. Dit is waar Boekevat en Huisgodsdiens begin het.

Elke aand, na die aandete, was die hele gesin, die kuiermense en huisbediendes teenwoordig. Die vader van die huis het dan die Familiebybel geneem en oopgemaak by ʼn gedeelte wat hy wou lees. Van die kinders is verwag om op te let en na die voorlesing vrae daaroor te kan antwoord. Daarna sluit die vader dit af met gebed en ʼn paar godsdiensliedere word gesing. Dit is wat Boekevat genoem word. Boekevat was tot in die 20ste eeu nog op plase gehou, maar nie meer in die stede nie.

...

Op die voorposte het die werksweek omstreeks 12 uur op die Saterdag geëindig. Die boerderywerk word gestaak, die gereedskap word gebêre en die werf word skoongemaak. Die week se roetine is verbreek, daar word gebad en skoon klere aangetrek. Teen 4 uur drink die gesin koffie. Saterdagaand word daar gekuier of die gesin vermaak hulleself. Indien daar ʼn dans in die omgewing is, was dit bygewoon. Die kinders kon tot donker speel. Die Sondagoggend word begin deur noodsaaklike take te doen, dan word Sondagdrag aangetrek en om 10 uur die oggend kom die gesin bymekaar in die voorkamer vir Huisgodsdiens en die voorlees van ʼn preek. (In later jare kon na ʼn preek oor die radio geluister word). Die res van die dag was rustig, die kinders moes stil wees. Daar was ʼn groot middagmaal en daarna word daar eers gerus. Later die middag word saam met bure en ander mense gekuier. Almal dra hul Sondagklere, drink koffie en gesels.

Mense wat ver van die naaste dorp was, kon maar selde ʼn kerk besoek. Hulle het moeite gedoen om minstens 1 nagmaal per jaar by te woon. Hierdie was ʼn groot geleentheid, die wa moes in gereedheid gebring word, kos moes voorberei word vir die reis en die beddegoed en klere moes nagesien word. Daar moes voorberei word vir alle sake wat op die dorp gedoen moet word. Produkte om verkoop te word (huide, velle, kerse en seep) moes reggekry en gelaai word. Alle kerklike sake sal op die dorp gedoen moet word (soos doop, katkisasie, aanneming, voorstelling en huwelik). Die waens en tente is op die kerkplein opgeslaan. By die nagmaal was daar ʼn blye weersiens van familie en vriende. Jongmense kry kans om lede van die teenoorgestelde geslag te leer ken. In die 20ste eeu het hierdie manier van nagmaalviering verander weens beter vervoer en verstedeliking. Vandag is nagmaal deel van die gewone eredienste en is dit vir almal moontlik om dit gereeld by te woon.

In die 20ste eeu kon selfs die mense op plase Sondae die kerk besoek. Saterdag het ʼn dag van inkopies en georganiseerde sport geword. Voor 1994 was daar Sondagwette wat bepaal het dat slegs noodsaaklike werk op Sondae gedoen mag word. Die meeste mense het nie op Sondae gewerk nie en was tuis by hulle gesinne. Hulle kon nie op Sondae gaan inkopies doen nie want die winkels was toe. Dit was ʼn goeie geleentheid om dorp toe te gaan en te sien wat in die winkelvensters uitgestal word. Voor die koms van televisie was kuier by vriende en familie gewild. Daar was parke waar mense kon gaan piekniek hou en ontspan. Aangesien die regering al die burgers van die land se belange moes behartig en godsdiensvryheid moes waarborg, was wetgewing nie gemik daarop om gewetensvryheid te beperk nie. Sport op Sondae is toegelaat ten spyte van die teenkanting van kerke. Vandag is dit iemand se eie keuse hoe hy Sondae wil deurbring.

In die 20ste eeu het ouers die volle godsdienstige opvoeding van hulle kinders in die hande van die kerk en skool geplaas. Kinders het voor 1994 ʼn Bybelperiode in die skool gehad, Sondae is die kinders Sondagskool en kategese toe. Daar was ook die kinderkrans en KJV. In later jare het kerke jeugbedienings ingestel. Kinders en jongmense is nie meer slegs in die ouerhuis opgevoed nie. Daar was bitter min gesinne wat nog Boekevat gehou het, en nog minder wat Huisgodsdiens gehou het.

Weens die huidige omstandighede is die christelike opvoeding van kinders terug in die ouers se hande, soos dit hoort. Baie mense het die kerkgenootskappe verlaat, baie kerke verkondig dwalinge en die staatskole bied nie ʼn christelike opvoeding aan nie.

Die ware Boerekerk was die gesin wat hulle godsdiens saam tuis of op die wapad beoefen het. Die gesin is die beginpunt waarop ware christelike gemeentes vandag gebou kan word. Verskillende gesinne wat Huisgodsdiens hou kan periodiek bymekaarkom en as ʼn Bybelse gemeente funksioneer, onafhanklik van kerk en staat.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Hoe ons die Boeretaal “gooi”

Illustrasie: https://www.wendymaartens.co.za/kinderboeke/afrikaans/

Ons volkstaal, Boere-Afrikaans, is  ʼn aanpassing van 17de eeuse Nederlands (voordat Standaard-Nederlands ontstaan het). Die veranderinge wat hier plaasgevind het, was dat Boere-Afrikaans ʼn vereenvoudiging van Nederlands geword het. Woordgeslag het verdwyn, daar is nie meer persoonsvorms van die werkwoord nie, daar word nie meer onderskei tussen sterk en swak werkwoorde nie, buigingsuitgange van selfstandige naamwoorde het afgeslyt, werkwoordvorms is vereenvoudig en die lidwoord “het” word nie meer gebruik nie. Afrikaanse leenwoorde kom meestal uit Engels, Maleis en Afrikatale terwyl moderne Nederlandse leenwoorde meestal uit Engels en Frans kom.

Ons het ʼn tradisie om nuwe woorde te skep eerder as om vreemde woorde te leen by ander tale. Voorbeelde van meer onlangse nuwe skeppings is megagreep en skootrekenaar.

Ons naamgewing van plante, insekte en diere toon ons skeppingsvermoë met ons taal. Dit toon ook die stadiums van naamgewing waardeur ons voorgeslagte gegaan het. Aanvanklik is name gekies vanuit ons voorouers se Europese agtergrond, byvoorbeeld vaderlandswilg. Latere name het ʼn Afrika agtergrond, soos kafferboom (“kaffer” beteken van Afrika, nie van Europa nie). Daar is ook leenwoorde uit Afrikatale soos boegoe en koedoe. Daarna word name gegee op grond van die eienskappe daarvan, soos byvoorbeeld tolbos.

...

Sommige plekname kom uit stamlande, ander kom uit die Bybel. Eie skeppinge van plekname eindig dikwels met -pan, -vlei, -spruit, -fontein, -rivier. Ander spreek van nood, soos Welgevonden en Moedverloren. Daar is ook name uit geskiedkundige wedervarings soos Vegkop en Weenen. Daar het ook vernoeming van persone plaasgevind, byvoorbeeld Pretoria en Stellenbosch.

Die gee van byname aan mense is ʼn ou volksgebruik. Dit is meestal gegee om persone met dieselfde name van mekaar te onderskei. Liggaamlike en geestelike kenmerke is gebruik vir die vind van byname. Persone se beroepe, gewoontes en ander unieke eienskappe is ook gebruik. Party byname was om ʼn persoon te spot en ander om iemand te huldig.

Ons het ook ons eie gesegdes geskep. Die ouer gesegdes handel hoofsaaklik oor die ossewa, jag, landbou, veeteelt en die omgewing. Byvoorbeeld: Soos ‘n os neerslaan.

Volksverhale is mondelings oorgelewerde stories en moet onderskei word van letterkunde. ʼn Volksverhaal is kultuurbesit en word oorvertel deur een geslag aan die volgende. Daar is verskillende soorte volksverhale wat oorvertel word.

In volksverhale is daar allerlei wonderlike dinge wat nie in die werklikheid gebeur nie. Diere en ander dinge tree op soos mense en kan ook praat. Ouer verhale vertel van dinge van lank gelede. Voorbeelde van verskillende soorte volksverhale is sprokies, spookstories, liegstories en nog meer.

Ons het ʼn tradisie van storievertellers. ʼn Goeie storie kan ʼn ware verhaal wees wat vermaaklik aangebied word. Dit kan ook grootliegstories, jagverhale, en bangmaakstories wees. Stories word vertel om kampvure, op stoepe en oral waar mense op iets wag en die tyd probeer omkry. Ingesluit hierby is ook die vertel van grappe. Ons het ʼn eie onderskeibare sin vir humor.

Humor is ʼn integrale deel van ons volkstaal. As ons ongelukkig is met iets, skerts ons oor dit om van stres ontslae te raak en ons misnoeë met iets aktueel uit te spreek. Taalvaardigheid word gebruik om iemand te vermaak en te laat lag, selfs wanneer daar slegte nuus of ander negatiewe gebeure is. Dit help ons om nie in sak en as te verval nie.

Daar is ʼn verskil tussen ʼn mite en ʼn volksverhaal. In mites word gepoog om verklarings te vind vir onverstaanbare verskynsels en daar is altyd iets bonatuurliks, soos gode, by betrokke. Volksverhale kom voor by plattelanders en poog om samelewingskwessies aan te spreek

ʼn Legende is ʼn verhaal wat binne die geskiedenis plaasvind. Dit kan dalk waar wees of dalk nie. Dit vertel van gebeure wat moontlik kon gebeur het maar wat nie bevestig kan word nie. Die legendes wat by ons bekend is, sluit in Antjie Somers, Die Vlieënde Hollander en Racheltjie de Beer.

ʼn Fabel is ʼn kort storie met ʼn sedeles. Mense se deugde en ondeugde word uitgebeeld met diere as die karakters. Van die bekendste fabels is Die skilpad en die haas en Die wolf en die skaapwagter.

ʼn Sprokie is ʼn storie oor mense en fantastiese wesens soos feetjies, hekse, reuse, kabouters en mense. Dit is kinderverhale en sluit in Rooikappie, Sneeuwitjie en Die drie varkies. Die bekendste sprokies is van Europese herkoms. Hulle het ʼn drieledige bou met die klem in die derde afdeling.

Raaisels was hoog aangeskryf in die kultuur van die Germane. Dit word gebruik om die hoorders se skerpsinnigheid te toets. Vir die persoon wat eerste die raaisel oplos, was daar ʼn beloning. Allerlei kunsgrepe word in raaisels gebruik: beeldspraak, teenstelling, verswyging, verkorting, woordspeling en dubbelsinnigheid.

ʼn Rympie vertel ʼn eenvoudige verhaal en maak gebruik van rym, ritme en klankherhaling. Dit kom uit ons stamlande maar ons het ook ons eie skeppings. Daar is verskillende soorte rympies, soos wiegrympies, minnerympies, babarympies en speletjierympies.

Sommige van ons volksliedjies is gegrond op Engelse modelle (Sarie Marais). Volksliedjies het behoue gebly by Nuwejaarsaand, bruilof en verjaarsdag geleenthede. Daar word onderskei tussen dansliedjies, piekniekliedjies en minneliedjies. Die volkslied se voortbestaan word bevorder by die boeredans, kinderkrans, piekniek en volkspele. Verstedeliking, kultuurbotsing en kommersiële vermaak is nadelig vir volksliedjies.

Volkstoneel het in die verlede ʼn belangrike rol gespeel op die platteland. Om die gehoor te boei was dit nodig dat die toneel die volkstaal moet gebruik. Daar was ook vroeër debatsverenigings wat gedien het as ʼn intellektuele sentrum vir jongmense.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

2019 Verkiesing – ʼn Raaisel

Illustrasie: https://www.litnet.co.za/verkiesing-2019-vir-wie-om-te-stem/

Waar ek woon is ʼn 95% (ek skat) wit woonbuurt. Hoeveel Afrikaanssprekend is weet ek nie, maar dit moet by ver die meerderheid wees. Die meeste Engelssprekendes kan Afrikaans praat. Verder val ons onder ʼn DA munisipaliteit. Ons het gevolglik baie beter dienslewering as wat die naburige ANC munisipaliteit lewer. Met die laaste munisipale verkiesing was die blankes se argument dat hulle DA stem ter wille van munisipale dienste.

Op ʼn plaaslike geselsgroep spog ʼn DA-ondersteuner vanoggend dat 79% van die wyk DA gestem het. Die goeie nuus is dat 21% nie vir die DA gestem het nie. Ek vra toe hierdie persoon of hulle AA, BEE, EWC ondersteun. Die persoon se antwoord was: “He?”. Ek antwoord dit is mos DA beleid? Ek het nie eers aborsie genoem nie.

Wat kan mens hieruit leer? Hoekom dink hulle die uitslag in die wyk is belangrik? Dink hulle dit het iets met plaaslike regering te doen gehad? Tweedens weet hulle skynbaar nie wat hulle party se beleid is nie. Hierdie wit mense stem vir wit werkloosheid, wit besighede se ondergang, wit mense se besittings wat sonder vergoeding afgevat gaan word. Ek dink nie dit is wat hulle regtig wil hê nie.

Wat is fout met hierdie witmense wat DA stem? Is dit ʼn kwessie van ondergemiddelde IK? Weet hulle nie wat om hulle aangaan nie? Stel hulle nie belang om te weet wat om hulle aangaan nie? Is hulle gebreinspoel?

Nog iets wat ek agterkom is dat van hierdie mense bang is om uit te vind wat om hulle aangaan. ʼn Paar weke terug was daar twee ontploffings hier naby. ʼn Paar mense het paniekerig geword. Die snaakse is dat niemand verder probeer uitvind het waar dit was en wat dit was nie. As jy probeer vra kry jy die antwoord dat dit verby is en dat jy nie ou koeie uit die sloot moet grawe nie. Die ander populêre antwoord is dat hulle nie politiek praat nie.

Wat dink jy? Hoe verstaan mens die witmense en hoe gaan hulle ooit bykom?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk se eie wetenskap

Illustrasie: https://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/oom-herrie-se-kerrie-waterwys/

Kultuur kan ook die beskawingstoestand van ʼn volk beskryf. Volkswetenskap beskryf hoe ons volk sy eie natuurkunde ontwikkel het voordat die moderne wetenskap tot stand gekom het. Dit beskryf die kennis en kundigheid wat tradisioneel eie aan ons volk is en van een geslag na die ander oorgedra is. Volkswetenskap kom tot stand uit waarneming van die natuur. Die moderne wetenskaplike metode gebruik waarneming, eksperimentering, meting, wiskunde en herhaling om kennis te verkry.

Ons stamouers kon nie die waarnemings en kennis wat hulle in Europa gehad het, gebruik nie want die omstandighede in die Kaap was baie anders. Hulle was wel goeie waarnemers van die natuur. Hulle het die grond, die plante, die insekte en die diere se aard en gedrag geken. Die moderne wetenskap het toe nog nie bestaan nie. Natuurlik is daar foute gemaak, maar daar was ook baie korrekte gevolgtrekkings gemaak. Die moderne wetenskap kon van dit later bevestig, alhoewel die metode om daarby uit te kom verskil het.

Ons voorouers was oplettende mense. Jy moes weet wat in die natuur om jou aangaan en dit wat jy oplet, moes jy onthou. Mettertyd kom jy agter dat iets wat jy opgelet het by herhaling gebeur. Jou waarneming is dan dat indien een saak teenwoordig is, dit beteken dat iets anders daarmee verbind kan word. Die versameling van al hierdie gegewens gee dan aan jou natuurkennis wat jy dan weer aan jou kinders kan oordra.

...

Hulle moes hulle goggas ken. Wat is hulle funksies, veroorsaak hulle peste en plae, kan hulle jou wys waar water is en of dit gaan reën? Wat van die voëls? As jy hulle dophou sal een jou wys waar daar heuning is en die kwêvoël sal jou waarsku. Jy moes die wilde diere se gewoontes ken as jy gaan jag vir die pot. Party wilde diere se gedrag kan jou waarsku dat dit gaan reën. Die veeboer moes natuurlik ook sy eie vee goed ken. Hy moes ook veesiektes ken en behandel.

Die beskikbare weiding kan goed of sleg wees vir jou vee. Een soort grond is goed vir ʼn sekere gewas maar sleg vir ʼn ander gewas. Plante kan ook aandui waar daar ondergrondse waterare is. Jy moet weet watter bome se hout jy kon gebruik en natuurlik ook waarvoor jy dit kan gebruik.

Daar was ook ʼn geloof dat vure rondom gesaaides en binne vrugteboorde beter oeste tot gevolg het. Die rook het blykbaar teen ryp en insekte gehelp. Daar word gesê dat muggies nie tussen bloekombome voorkom nie en dat kakiebos ook goggas verdryf.

Die maan speel ʼn belangrike rol in die natuurmens se lewe. Daar word geglo dat die maan alles op aarde beïnvloed, ook die plante, diere en mense. Een waarneming het te doen met die beste tye om te plant, ʼn ander met wanneer die beste snoeityd is. Daar word ook geglo dat die maan ʼn invloed uitoefen op die bloedsomloop van lewende wesens. Met volmaan is die bloed glo op “hoogwatermerk” en met nuwemaan op “laagwatermerk”. Hiervolgens moes jy nooit vee kastreer met volmaan nie en was dit beter om met nuwemaan te slag. Daar is ook geglo dat die maan ook die beste visvangtye aandui.

Die natuurmens glo dat die maan ʼn invloed het op die weer. Kennis van maansveranderinge help met die voorspelling van weersveranderinge. Daar word gelet op die fases van die maan. Sommiges meen dat die halfmaan wat “skep” beteken dat dit nie gaan reën nie en dat die halfmaan wat “gooi” beteken dat dit gaan reën. Daar word geglo dat dit die meeste ryp op maanligaande.

Vir die pioniers in die binneland was die beskikbaarheid van water krities. Die Karoo is droë wêreld, en noord van die Oranje is daar ook dikwels droogtetoestande. Die pioniers het die weer dopgehou en dan waarnemings gemaak. Een metode is om die gesteldheid van die lug waar te neem. Kennis van die wolke is belangrik want dit dui op watter weer later verwag kan word. Hoe hoog die wolke is kan toon of die wolke naby ʼn versadigingspunt is en of reënweer verwag kan word. Die kleur van die hemelruim is ook belangrik. Indien die lug in die oggend rooi is, kan reënweer dieselfde dag verwag word. Indien die lug met sononder rooi is, kan mooiweer verwag word. Weerlig in die middel van die nag voorspel reën vir ʼn paar dae.

Die voorkoms van droogtes het ons protestantse voorouers leer bid vir reën, want hulle het hulle totale afhanklikheid van God besef. Biddae en dankdae is steeds deel van ons kultuur.

As daar nie genoeg bogrondse water beskikbaar is nie, en die reën bly weg, dan moet daar gesoek word na ondergrondse water. Dit word gedoen deur waterwysers. Sommige persone, miskien een uit honderd, het die vermoë om ondergrondse water op te spoor. Daar word gemeen dat die beweging van die water wrywing veroorsaak. Die wrywing veroorsaak dan ʼn magnetiese of elektriese uitstraling wat deur sensitiewe persone aangevoel word. Die waterwyser moet ook kennis van waterare en kruispunte hê.

Meeste waterwysers gebruik apparate in hul soeke na water. Meestal word ʼn mikstok gebruik, die mikstok beweeg wanneer oor die aar geloop word. ʼn Ander apparaat is L-vormige drade wat ook in die waterwyser se hande beweeg wanneer daar oor are geloop word. Nog ʼn apparaat is om ʼn bottel vol water op die handpalm te dra. Daar is ook sekere persone wat met die blote oog water kan opspoor.

Om ondergrondse water op te spoor is reeds ʼn groot hulp. Dit is ʼn verdere hulp om te weet hoe diep en sterk die water is. Sommige waterwysers het vir hulleself tegnieke ontwikkel waarmee hulle diepte en sterkte kan bepaal.

Daar is ʼn minderheid mense wat waterwys as towery of iets dergeliks beskou. Ondervinding toon egter dat waterwysers meer betroubaar is as geoloë.

Die moderne stedeling het nie die voorgeslagte se natuurkennis meer nodig nie want hy het toegang tot die moderne wetenskap. Landbouers het ook toegang tot die moderne wetenskap en gebruik dit ook. Nogtans is daar nog steeds mense wat natuurkennis gebruik om te weet wat die weer gaan doen. Daar is nog steeds waterwysers wat gebruik word.

Die voorgeslagte se natuurkennis is nie vergete en verlore nie, dit word nog steeds oorgedra en gebruik.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is Volksgeloof?

Illustrasie: https://nl.wikipedia.org/wiki/Spook#/media/File:William_Hope_001.png

Volksgeloof en kerkgeloof is twee heeltemal verskillende sake. Volksgeloof is nie ’n godsdienstige of wetenskaplike oortuiging nie. Sommige mense verkeer onder die indruk dat iets deur bonatuurlike magte of kragte veroorsaak word. Hierdie mense poog dan om hierdie magte of kragte te benut of teen te werk. Meestal is dit om geluk te bekom en ongeluk te vermy.

Baie lank gelede was ons Germaanse voorgeslagte heidene. Nadat hulle gekersten is, was hulle vir eeue Christene, waarskynlik Rooms-Katoliek. Ons direkte voorgeslagte het, as Protestante, met die Rooms-Katolieke Kerk gebreek. Ons stamouers was stoere Calviniste wat hulle nie met  òf heidense òf katolieke praktyke opgehou het nie. Ons sou dus kon dink dat ons geen volksgeloof erfenis het nie.

Het jy al gehoor dat die getal 13 ongelukkig is?  Dat ’n gebreekte spieël sewe jaar van ongeluk veroorsaak? ’n Hoefyster aan die deur is ’n gelukbringer? ’n Swart kat bring ongeluk en ’n molpootjie bring geluk? Al hierdie goed is bygelowe wat ons vandag nog teenkom. Waar kom dit vandaan as dit nie van ons stamouers af  kom nie?

...

Almal het seker gehoor van dwergies, feetjies, kabouters en elwe. Ook van meerminne en weerwolwe. Dwergies is aardmannetjies wat snags uitkom. Feetjies is vriendelik en beskerm mense. Kabouters bly in die dakstrooi en is aan daardie huis verbonde. Elwe is die siele van afgestorwenes wat in bosse, berge en riviere woon. Dan is daar is ook nog Klaasvakie, die tandemuis en die ooievaar wat babas bring. Vandag weet ons van hulle uit kinderstories. Ons weet hulle bestaan nie regtig nie.

Paaiboelies (kinderskrikke) se doel is om kinders se gehoorsaamheid te bevorder of om hulle van gevaarlike plekke af weg te hou. Paaiboelies kan mense, halfmense, diere of leweloses wees. Antjie Somers is een.

Die moderne wetenskap het betreklik onlangs tot stand gekom. Voor dit was daar geglo dat die aarde plat is, dat die maan geestesversteurings veroorsaak, dat die sien van ʼn verskietende ster jou wense sal bewaarheid. Die eet van geelwortels gee krulhare, klawervier is ʼn gelukbringer. Daar was geglo in fabelagtige diere soos die griffioen en eenhoring – dit word nog steeds in heraldiek gebruik. ʼn Uil is ʼn onheilsbode en vlermuise sit vas in mens se hare. Vandag is daar beter kennis beskikbaar en is hierdie gelowe net vir vermaak.

Die geloof in spoke is oeroud en kom voor in meeste kulture. Die mens se gees is ’n aparte innerlike wese wat met iemand se dood sy liggaam verlaat. ’n Spook is dan hierdie gees van ’n afgestorwene wat nie tot rus kom nie en ronddwaal. Spookgestaltes is soms sigbaar en soms onsigbaar. Hulle is plekgebonde en moet ’n mens kry om hulle te help. ’n Hemeling is ’n plaagsugtige of bose gees. ʼn Goeie spookstorie is goeie vermaak. Maar wie weet verseker dat daar nie spoke is nie?

Hekse ken ons net uit storieboeke en flieks. Blanke towenaars is hoofsaaklik daar om siektes te genees of boosdoeners aan die pen te laat ry. Hulle word “besprekers” genoem. Goëlery is waar een persoon deur ʼn ander geteister word deur bonatuurlike magte. Afweermiddels wat gebruik word is ʼn perdeskoen, knoffel, ʼn Bybel, ensovoorts. Die dinge is vreemd aan ons Protestantse erfenis en het vanuit ander oorde by ons aangekom. Tog is daar individue wat dit glo en beoefen. Spiritisme kom nie in ons kultuur voor nie. Hierdie goed is nie onskuldig nie en moet vermy word.

ʼn Nagmerrie in volksgeloof is iets anders as ʼn slegte droom, dit is ʼn nagbeklemming wat feitlik tasbaar is. Soms word ʼn gestalte gesien, die gestalte beklem die bors en asemhaling word berem. Dit is ʼn boosaardige aanval en bestaan regtig en kan ook as geestelike oorlogvoering gesien word. Daar word gemeen dat iemand van gedaante verander om snags boosheid te pleeg. Perde word ook aangeval en is die volgende oggend natgesweet en ontsteld.

Mense wil graag weet wat in die toekoms gaan gebeur. Gaan die ongetroude ʼn lewensmaat vind, gaan die sieke genees word, gaan geldsake verbeter? Waarsêers gebruik die sterre, die lees van handpalms en tarot kaarte om die toekoms te voorspel. Swart toordokters gooi dolosse. Protestante keur hierdie praktyke af, en meeste mense dink dit is bog. Nogtans is daar tog mense wat hulle hiermee ophou.

Voorbodes of voorspooksels is ʼn aanvoeling van naderende onheil, byvoorbeeld sterftes. Drome word gesien as boodskappers van God. Hemelse gesigte se doel is bekering of ʼn boodskap aan iemand wat op sterwe lê. Daar is ook persone wat as “eie profete” beskou word. Hierdie sake kom ook in ʼn Christelike konteks voor maar is nie noodwendig deel van kerkgeloof nie. Ons volksgeskiedenis het verskeie voorbeelde van besluite wat geneem is op sterkte van drome en die woorde van profete. Maak seker dat dit eg is voor jy keuses maak en besluite neem.

Daar is ook “christelike” bygelowe. Die duiwel word voorgestel met bokhorings, bokpote, drietand vurk en ʼn pylstert. Engele word voorgestel om soos mense met vlerke te lyk. Die vrug wat Adam en Eva geëet het was ʼn appel. Vermoedelik is hierdie van Rooms-Katolieke oorsprong. Hierdie sienings is foutief, maar daar is tog mense wat dit glo.

Kersfees en Paasfees is oorspronklik nie deur ons stamouers gevier nie. Dit het eers na die Britse besetting in 1806 ingesluip. Albei feeste bestaan gedeeltelik uit Bybelse en gedeeltelik uit heidense gebruike. Dit is nie suiwer Christelike of Bybelse feeste nie en behoort gesien te word as volksfeeste.

Ons Protestantse voorouers was sterk gekant teen onbybelse gelowe en praktyke, hulle het dit as afgodery gesien. Nogtans het sommige van hierdie bygelowe oorgebly uit die Oud-Germaanse tyd, miskien omdat dit hoofsaaklik vir kindervermaak is. Die Engelse kultuur was minder streng en ons het van die Oud-Germaanse gelowe by hulle oorgeneem. In ʼn minder mate, maar meer skadelik, het ons sommige gelowe en praktyke by Maleiers en Bantoes geleer.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Taal van digters, vakmanne en geleerdes

Illustrasie: https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_Afrikaanse_vakwoordeboeke_en_terminologielyste

Na die Anglo-Boereoorlog het Lord Alfred Milner sy pogings om die Boerevolk te verengels verskerp. Hy wou graag hê al die Blankes moes goeie Britse onderdane wees en Engels praat, lees en skryf. Om dit te doen het hy gratis onderwys in Engels aangebied. Onderwys in Hollands was net in privaatskole beskikbaar wat die verarmde Boere nie kon bekostig nie. Hy was ook van plan om Engelse Nedersetters in te voer om die Boerevolk te verswelg met getalle. Dit het tot groot ontevredenheid gelei.

Die Boerebevolking het lank reeds twee tale gebruik: Boere-Afrikaans was hulle alledaagse spreektaal (volkstaal) en Nederlands was die geskrewe taal (kultuurtaal). Die ontwikkeling van Boere-Afrikaans tot ʼn volwaardige taal, wat gelykstaande aan Nederlands en Engels sou wees, het begin met die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Kort na die einde van die oorlog begin ʼn nuwe geslag taalstryders te werk vir die erkenning van Afrikaans. Daar was geen spesifieke leier nie, maar die voortou is geneem deur Gustav Preller in Pretoria en JHH de Waal in Kaapstad. Ander persone wie ook genoem moet word, is Johannes Visscher en ds. Willem Postma in Bloemfontein, Johannes SM Rabie in Pietermaritzburg en DP du Toit in Cradock.

In 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) in Pretoria en in 1906 die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Kaap gestig. Gustav Preller het die voortou geneem met ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die titel Laat’t Ons Toch Ernst Wezen. Dit word beskou as die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Preller se standpunt was dat Afrikaans ʼn beter  kans op voortbestaan het as Nederlands, dat daar geen vyandigheid teen Nederlands is nie en dat daar so na as moontlik gehou moet word aan die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS). Hy het heelwat ondersteuning gekry en dit lei tot die stigting van die ATG in Pretoria en Bloemfontein. Die ATV het hulle beywer vir Afrikaans as skryf- en spreektaal en samewerking met ander liggame wat Afrikaans wou bevorder.

...

Daar was hewige teenstand teen die bevordering van Afrikaans deur De Zuid Afrikaansche Taalbond, predikante, die Afrikaanssprekende elite en Onze Jan Hofmeyr. Die Taalbond het Nederlands as volkstaal beskou. Die teenstanders se argument was dat die Afrikaanssprekendes saam met die Nederlanders en Vlaminge ʼn groter kultuurgroep kon vorm wat beter kultuurprodukte sou kon lewer. Die voorstanders van Afrikaans as kultuurtaal het aangevoer dat Afrikaans sterk van Nederlands afwyk en dat hulle volksgenote nie regtig Nederlands magtig was nie. ʼn Volkstaal word nie bepaal deur die elite nie, dit word bepaal deur die gewone mense.

Die Taalbeweging het dadelik steun gekry deur letterkundige werk van kwaliteit deur persone soos Gustav S Preller, Eugene N Marais, Jan FE Celliers, Totius en C Louis Leipoldt. Van die groepe wat hulle beywer het vir Afrikaans het saamgewerk en die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 gestig. Die Akademie het begin werk aan ʼn Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hierna kon Afrikaans as skryftaal vooruit gaan. In 1914 is Afrikaans erken as skooltaal in die Kaap, Transvaal en Vrystaat. In 1916 word Afrikaans as kerktaal erken. In 1918 het die staat Afrikaans erken, maar nie in wette en amptelike dokumente nie. Van 1925 af erken die staat Afrikaans ook in wette. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is in 1929 gestig.

Die Nederduitse kerke was aanvanklik sterk gekant teen Afrikaans as kultuurtaal. Predikante is opgelei in Nederlands, hulle het ook in Nederlands gepreek. Hulle het Afrikaans as ʼn “barbaarsch patios” beskou. Nadat die staat Afrikaans erken het, is daar in 1919 deur die kerke aanvaar dat Afrikaans naas Nederlands erkenning moes kry. Daar was ook verset teen ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans, maar uiteindelik het daar in 1933 die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit is gevolg deur die Psalmboek in 1937 en die Gesangeboek in 1944.

Die Boere van die 19de eeu was selfonderhoudend en het al die werk self gedoen, hulle moes feitlik alle beroepe beoefen. Hy was veeboer, akkerbouer en veearts. Dan was hy ook smid, wamaker, messelaar en skoenmaker. Verder was hy ʼn jagter, ʼn handelaar en soms ʼn krygsman. Sy vrou was die kok, die kleremaakster, verpleegster en dikwels die onderwyseres. Die vakwoorde van al hierdie beroepe het hulle geken. Hulle het ook die kerk se taal geken. Die Republieke se administrasie en wette was in Nederlands en die Boere het dit ook geken. Afrikaans was ʼn ryk volkstaal met ʼn reeds bestaande en uitgebreide woordeskat.

Nadat Afrikaans staatstaal in 1925 geword het, is besef dat daar baie vertaalwerk gedoen sal moet word. Die wette en staatsdokumente sal nou ook in Afrikaans beskikbaar moes wees. Baie Boere het verstedelik en in die stede was daar gespesialiseerde beroepe met Engelse terminologie. In 1930 word die Sentrale Vaktaalburo gestig. Aanvanklik is staat gemaak op Nederlandse woordeboeke. Vandag is dit moeilik om te onderskei tussen woorde wat reeds in die volkstaal was, woorde wat uit Nederlands geneem is en vindingryke skeppings deur vertalers. In 1948 word die verskillende woordelyste verenig en in 1951 kom die Vaktaalburo tot stand. Hulle koördineer alle terminologiese werk. Hulle gebruik ʼn nuwe werkswyse deurdat die vakman betrek word en medeverantwoordelik word vir die vaktaal. Hulle het ook die publiek en ander taalgebruikers betrek hierby. Sedertdien het daar talle woordelyste en woordeboeke verskyn wat elke vakgebied dek. Boere-Afrikaans het Standaard-Afrikaans geword.

Vandag beskik Afrikaans oor ʼn vakterminologie vir haas elke bedryf en aktiwiteit. Behalwe die terminologie, is ook handboeke van elke beroepsrigting en studierigting beskikbaar. Of dit letterkunde is, of meganika is, of wiskunde is – dit kan in Afrikaans gedoen word. Afrikaans is in staat om in die moderne wêreld alles te doen wat Nederlands en Engels kan doen.

Dit is tragies dat al hierdie werk wat gedoen is, weggesmyt is deur politieke dwaasheid. Weer word Afrikaans bedreig en word die opofferings en werk van vorige geslagte ongedaan gemaak. Dit is ʼn groot skande wat oor ons gekom het en weer reggemaak sal moet word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die stamboom van Afrikaans

Illustrasie: http://www.oocities.org/hugenoteblad/geskSA.htm?201921

Ons taal word weereens aangeval en verneder, dikwels ook deur Afrikaanssprekende taalkundiges. Dit het mode geword om Afrikaans die skuld te gee vir politiek van die verlede deur dit politiek van die hede te maak. Daarom is dit nodig dat ons weer onsself moet herinner oor waar ons taal vandaan kom.

Dit is nie net mense wat stambome het nie, tale het dit ook. Afrikaans is ʼn Germaanse taal wat familie is van al die ander Germaanse tale. Germaanse tale is weer familie van ander tale en die stamboom gaan ver terug in die geskiedenis.

...

Hier aanvaar ons die Bybel as gesaghebbend en ons beginpunt is Genesis 10:2-5: Die seuns van Yefet was: Gomer, Magog, Madai, Yavan, Tuval, Meshekh en Tiras. Die seuns van Gomer was: Ashkenaz, Rifat en Togarmah. Die seuns van Yavan was: Elíshah, Tarshish, die Kittiërs en Dodaniete. Vanuit hierdie is die streke van die nasies verdeel in hulle lande, elkeen volgens sy taal, volgens hulle families, volgens hulle nasies. (PWL).

Noag het drie seuns (Sem, Gam en Jafet) gehad waaruit alle mense op aarde afstam. Jafet se afstammelinge het hulle gevestig aan die noordelike kant van die Middellandse See, die hele Europa, die Britse eilande, Skandinawië en die grootste deel van Rusland. Dieselfde familie het hulle ook in Persië en tot in Indië gevestig. Die verwantskap tussen al hierdie volke uit Jafet word bevestig deur die tale wat hulle praat. Aanvanklik het vakkundiges die groep tale Indo-Germaans of Aries genoem. Later is die naam verander na Indo-Europees. Die gemeenskaplike voorouerlike taal word Proto-Indo-Europees (PIE) genoem.

Indo-Europees bestaan uit omtrent 443 tale en dialekte. Dit sluit die meeste van die groot taalfamilies in Europa en westelike Asië in. Indo-Europees bestaan uit twee subgroepe: ʼn Satem- of ‘n Kentumgroep. Die groepe is vernoem na die woord vir 100: centum in Latyn (as ‘kentum’ uitgespreek) en satem in Avesties. Oor die algemeen is die “oostelike” tale Satemtale (Indo-Irans, Balto-Slawies), en die “westelike” tale Kentumtaal (Germaans, Italies, Kelties). Voorbeelde van moderne Satemtale is Hindi, Persies en Russies. Voorbeelde van moderne Kentumtale is Grieks, Spaans en Duits.

Die gemene voorouer van Germaans is Proto-Germaans. Een unieke eienskap van Proto-Germaans is die Tweede Germaanse klankverskuiwing wat tot die totstandkoming van Hoog-Duits gelei het. Die grootste Germaanse tale is Engels en Duits, met onderskeidelik ongeveer 400 en 100 miljoen moedertaalsprekers. Nederlands en Afrikaans is ook Germaanse tale.

Daar is twee groepe Germaanse tale: Wes-Germaans en Noord-Germaans. Wes-Germaans sluit Engels, Duits en Nederlands in. Noord-Germaans is die Skandinawiese tale Deens, Noors en Sweeds. Daar is omtrent 53 verskillende Germaanse tale en dialekte.

Die naam Nederduits of Platduits verwys na dialekte wat in Noord-Duitsland en Nederland deur omtrent 5 miljoen mense gepraat word. Mennoniete-gemeenskappe in Noord- en Suid-Amerika praat nog steeds Nederduitse dialekte wat as Plautdietsch bekend staan. Vroeër is die term Nederduits dikwels ook in Nederland gebruik as sinoniem vir Nederlands.

Nederfrankies is die tale en dialekte wat in Nederland, België, Suriname en Suidelike-Afrika gepraat word. Dit word ook in ʼn deel van Duitsland gepraat. Die moderne Nederfrankiese tale is Standaard-Nederlands en Standaard-Afrikaans. Nederfrankiese dialekte is Brabants, Hollands, Seeus, Suid-Gelders, Limburgs, Wes-Vlaams en Oos-Vlaams.

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was die lingua franca van die slawe. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ʼn skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ʼn vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ʼn kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ʼn nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Nederlandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenwerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ʼn voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Terloops: die name Diets, Duits, Duuts, en Dutch kom van die woord Germaanse woord “diet” wat volk beteken.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Van Bittereinders en Onversetlikes

Dit is nie presies seker hoeveel Boere aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het nie. Daar word bereken dat met die uitbreek van die oorlog die Republieke 55 000 man onder wapen gehad het. Daar het omtrent 13 000 rebelle uit die Britse kolonies en 2 000 Europeërs by hulle aangesluit. In totaal was daar dan 70 000 man aan Boerekant.

Omtrent 4 000 het gesneuwel en omtrent 1 000 het weens siekte gesterf. Tussen 20 000 en 30 000 Boere is gevange geneem en na kampe vir Krygsgevangenes gestuur. Ongeveer 5 500 Boere het as Joiners oorgeloop na die Britte toe en ʼn verdere 15 000 het as Hensoppers oorgegee. Die oorblywendes wat aanhou veg het, is Bittereinders genoem. Daar was 20 000 Bittereinders oor met die Vrede van Vereeniging.

In die Krygsgevangenekampe het daar later twee faksies ontstaan, die Onversetlikes (of Onversoenbares) en die Inskiklikes. Die Britte het groot druk op die Krygsgevangenes uitgeoefen om ʼn eed van getrouheid aan die Britse Koning af te lê. Die wat nie wou nie was die Onversetlikes, die wat wou was die Inskiklikes. Die wortel wat die Britte voor die Boere se neuse gehou het, was dat diegene wat die eed neem, sou kon huis toe gaan. Dit het tot groot onmin tussen die Krygsgevangenes gelei. Dit was ʼn gewetensvraag oor lojaliteit en elkeen moes in homself die antwoord kry.

...

Die Joiners het verraad gepleeg deur na die vyand oor te loop. Was dit omdat hulle hulself as Britte beskou het of was dit vir eie gewin? Die Hensoppers het die wapen neergelê en nie verder aan die oorlog deelgeneem nie. Die meerderheid het dit gedoen vir eie voordeel. Hulle was nie lojaal aan die land waarvan hulle burgers was nie. Hulle was ook nie lojaal aan hulle volk nie. Hulle eie belange en gerief het die swaarste geweeg.

Die Kaapse en Natalse Rebelle was nie lojaal aan Brittanje nie, maar was wel lojaal aan hulle volk. Hulle het geen voordeel daaruit getrek nie, net nadeel. By hulle was daar geen eie gewin nie.

Bykans een derde van die republikeinse Boere, die Joiners en Hensoppers, was ontrou aan hulle eie mense. Dink daaraan: een derde van die mense in die kerk, een derde van die ouers by die skool, een derde van die bure, een derde van die vriende en familie. Een derde van die bekendes voor die oorlog was dislojaal en kon nie vertrou word nie. Voor die oorlog was dit nie bekend wie hulle was nie.

Wat van iemand wat bang geword en weggehardloop het? Al was hy lafhartig, was hy nie dislojaal nie. En ʼn pasifis? Hy hoef nie dislojaal te wees nie.

Lojaliteit, in alledaagse gebruik, beteken toewyding en getrouheid aan ʼn volk, land, groep of persoon. Dit is nie getrouheid aan ʼn ideaal of ideologie nie. Ook nie aan ʼn politieke party of staat nie. ʼn Kind moet van kleins af leer om lojaal aan sy gesin, familie en vriende te wees. Later in sy lewe moet hy dit ontwikkel tot waardes en deugde. Lojaliteit – of die gebrek daaraan – is ʼn karaktereienskap. Dit is ʼn goeie karaktertrek om lojaal te wees, dit is ʼn waarde waarvolgens iemand leef, dit is ʼn deug waaroor hy beskik.

Die groot Boerehelde van die Anglo-Boereoorlog was die Bittereinders op kommando, die Onversetlikes in die Krygsgevangenekampe en die Rebelle. Hulle het volksbelang bo eiebelang gestel. Daarvoor het hulle persoonlik ʼn prys betaal en geen voordeel ontvang nie. Was hulle nie dalk dwaas nie? As lojaliteit ʼn karaktereienskap geword het, kan daardie persoon nie anders nie. As hy dislojaal optree, verraai hy nie net ander mense nie, maar ook homself.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was daar geen middeweg nie. Jy was of ʼn Bittereinder of jy was ʼn Hensopper. Jy was of ʼn Onversetlike of ʼn Inskiklike. Daar was nie ʼn grys gebied nie. Jy kon nie op die draad sit nie. Jy is of lojaal of jy is dislojaal. Jy kan nie jou keuse geheim hou nie, almal gaan weet. Jyself gaan ook weet.

Vandag is ons weer daar waar ons voorouers was. Weer word ons getoets oor lojaliteit. Wie gaan die inbors hê om by sy volk te staan? Wie gaan die innerlike krag hê om staande te bly? Wie gaan vir homself voordeel soek ten koste van sy volk? Wie is die koring en wie is die kaf?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Word die Boerevolk deur God gestraf?

Illustrasie: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/soveel-sterf-al-vanjaar-in-plaasaanvalle/

Ek het die afgelope week vir die eerste keer gehoor van ʼn prediker met die naam Roger Teale. Daar word gesê dat hy ʼn profeet is. Hy het Suid-Afrika in 1993 of 1994 besoek en voorspel dat daar groot moeilikheid kom. Sy besoek was dus tussen die 1992 ja-stem referendum en die 1994 “eerste demokratiese verkiesing”. Die ja-stemmers sou beslis nie met hom saamgestem het nie, hulle het toe vertel van die groot voorspoed wat kom, die regverdigheid wat kom, en sulke dinge.

Roger Teale het twee punte gemaak in sy voorspelling. Eerstens het hy gesê dat die moeilikheid wat kom God se oordeel oor ons is. Tweedens het hy twee tekens gegee wat sal gebeur: alles sal brand en niemand sal kan vlug nie want binnelandse vliegtuie sal nie vlieg nie. Deesdae sien ons heelwat brande orals.

Wat my pla is die stelling dat dit God se oordeel is. Veral ten opsigte van die Boerevolk. Kan dit wees dat God die Boerevolk straf? Indien wel, waarvoor?

...

Blykbaar is daar baie mense wat nie daarvan hou as mens sulke vrae vra nie. Hulle voel ongemaklik daarmee. Daar is ook baie mense wat meen dat dit vanselfsprekend is dat God aan ons kant is. Dit is ondenkbaar dat God teen ons is. Nog ʼn standpunt is dat God die wat Hy liefhet, tugtig. Dit is waar, God dissiplineer die wat aan Hom behoort, maar tugtiging en straf is twee heeltemal verskillende sake. Tugtiging is om op te voed, om reg te stel, dit is dissipline. Straf is oordeel en wraak.

Die wat bekend is met die Ou Testament, sal weet dat God die “uitverkore volk” Israel eers getugtig het en uiteindelik gestraf het. Vir tugtiging het God droogtes en ander rampe gebruik om hulle na Hom toe terug te bring. Hy het ook profete gestuur, maar hulle is doodgemaak. Om hulle te straf het Hy hulle land en eie regering weggevat, Hy het hulle in ballingskap laat wegvoer, net die heel armstes het in die land oorgebly. God het hulle oorgegee in die hande van hulle vyande. Hy het toegelaat dat hulle vyande, heidene wat afgode dien, sterker en ryker kan word sodat hulle Israel kan verpletter. Israel het hulle taal, Hebreeus, verloor en Arameessprekend geword.

As ek hieraan dink, kry ek ʼn hol kol op my maag en ʼn koue rilling gaan langs my ruggraat af. Word ons, die Boerevolk, deur God gestraf? Is dit wat aan die gang is?

Ek kan niks sê oor Roger Teale nie want ek weet niks van hom af nie. Maar indien God ons straf, moet ons weet waaroor ons gestraf word. Dan was daar sekerlik ook waarskuwings aan ons gerig waarna ons nie geluister het nie.

Daar mag dalk nog ʼn verdwaalde linkse wees wat sal sê dat Apartheid ons groot sonde was. Maar ek dog dan ons het amper 30 jaar gelede dit self afgeskaf. Dit kan nie die groot sonde wees nie. Dalk was die afskaffing van Apartheid die groot sonde? Dit kan wees dat God ons wou straf en toe iemand gestuur het om ons te mislei sodat ons aan ons vyande oorgelewer kan word. In hierdie geval sou ons sonde verder terug in die geskiedenis moet wees.

Ons kan met veiligheid sê dat God by Bloedrivier met ons was en ons gehelp het. Ons sonde of sondes moes dan iewers tussen 1838 en 1990 plaasgevind het. Ons weet dat die kerk niks met die Voortrekkers te doen wou hê nie en gevolglik niks met Bloedrivier of die Gelofte te doen het nie. Dit is eers nadat die Voortrekkers ʼn eie land kon bekom dat die kerk in hulle begin belangstel het. Dalk was dit ons sonde dat ons kerke toegelaat het om hulle neuse in volksake te steek.

Ek het ook al gewonder oor die Anglo-Boereoorlog. Het ons die oorlog verloor weens sonde by ons? Tot dusver kon ek geen inligting kry wat aantoon dat daar so ʼn groot sonde by ons aanwesig was nie. Sover ek kan sien moes dinge tussen 1902 en 1990 verkeerd gegaan het.

Die Afrikaner-Broederbond het in 1918 ontstaan in Johannesburg. Dit is nie vir my duidelik of hulle ʼn afdeling van die Vrymesselaars is en of hulle ʼn losstaande organisasie is nie. Ek het ook al gewonder oor die stigters se herkoms. Meeste van ons mense was erg verarmd en ook nie geleerd nie. Die meer welvarendes was dikwels die Hensoppers en Joiners. In ieder geval, die Broederbond het ongelooflike groot invloed binne ons volk verkry en hulle tentakels was orals.

Daar word vermoed dat die Broederbond ʼn leidende rol gespeel het in die verandering van die bewoording van die Gelofte, die ontwerp van die Voortrekkermonument as ʼn tempel, die moord van Dr. Verwoerd. Wat waar is en wat nie, weet ek nie. Hulle het sedert 1968 beheer oor die regering gekry en selfs beleid begin bepaal. Die eerste daarvan was die nuwe sportbeleid. (Dit moet in gedagte gehou word dat die Apartheidswandade wat tussen 1968 en 1990 plaasgevind het, die Broederbond se eie beleid en wandade was.) Hulle het ook die Nasionale Persgroep help opbou. Verder het hulle agter die skerms gewerk vir die afskaffing van Apartheid en om van PW Botha ontslae te raak. Dit was hulle, dit was nie ek nie en miskien ook nie jy nie. Word ons gestraf vir al die sondes van die Broederbond?

Wat ek wel van kan praat is dat ons volk sedert 1968 sportbeheb geword het. Ek weet nie presies hoe dit gebeur het nie. Voorheen was sport ontspanning, toe word dit vermaak en nou gaan dit oor geld. Na my mening het sport ʼn afgod geword, sportliefhebbers is bereid om enige iets op te offer vir die behoud daarvan. As dit nie ʼn afgod is nie, moes sportliefhebbers lankal ʼn streep getrek het en gesê het: tot hiertoe en nie verder nie.

Ek en my tydgenote kan nog ons ouers en grootouers se doen en late onthou. Hulle was eerlik, jy kon hulle woord neem, moraliteit was hulle riglyn in hulle daaglikse omgang met ander. Egskeidings en buite-egtelike kinders was skaars. Ons geslag was nie meer so nie. Die geslag na ons het nog verder verval. Daar is ʼn reg en verkeerd en dit word nie meer toegepas nie.

Dan is daar die liefde vir geld. Ons voorouers was arm in wêreldsgoed en het geld en besittings nie te hoog geag nie. Die Voortrekkers het dit wat hulle nie op ʼn wa kon laai nie, so te sê verniet weggegee. Met die Anglo-Boereoorlog was die makliker en meer voordeliger weg om nie oorlog te verklaar teen die magtige Britse Ryk nie. Maar vryheid en onafhanklikheid was vir hulle meer werd. Sedert ons verstedelik het, is ons nie meer so nie. Geld gee aan ons goeters en gerief, maar dit gee ook aan ons aanvaarding en status. Maar dit is nie die besit van geld wat ons probleem is nie, die probleem is dat ons nie bereid is om daarvan afstand te doen nie. Nie vir vryheid nie, nie vir selfbeskikking nie, nie vir moraliteit nie, nie vir dit wat reg is nie.

Die ergste is die afvalligheid van God af. Ja, daar is kerke en daar is mense op die kerkbanke, maar kerke is nie God nie. In plaas van “wat moet ek vir God doen?” vra ons “wat kan God vir my doen?”. God vra jou alles, jy kan nie met Hom onderhandel nie, jy kan nie met Hom redeneer nie. Jy kan Hom vra, maar Hy kan jou weier. Solank ons saak met Hom nie reg is nie, gaan Hy ons nie help nie. Hy sal ook nie Sy straf opskort nie.

Is die Boerevolk voor 1992 gewaarsku? Ek meen so. Die meerderheid het nie geluister nie Maar daar was tog ander wat gehoor het en magteloos moes toekyk hoe ons die afgrond ingelei word. Die wat ons gewaarsku het, was dikwels Engelssprekendes wat Afrikaans met ʼn Engelse aksent gepraat het. Onder ons eie mense is die wat gewaarsku het, verguis. Wie was toe uiteindelik reg: Terre’Blanche of de Klerk?

In die lig hiervan, wat is jou gevolgtrekking? Is dit God wat die Boerevolk straf? Of is dit iemand anders se skuld?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Monument of tempel?

Illustrasie: https://www.wereldwyd.co.za/en/fact-flash-voortrekker-monument/

Wat maak die Voortrekkermonument naby Pretoria anders as ander monumente?

Die Voortrekkermonument is ʼn goeie plek om te besoek as jy jou wil verfris in jou volk se geskiedenis. Die monument is nie die enigste besienswaardigheid nie, daar is op dieselfde terrein ook Fort Schanskop, die Muur van Herinnering (Bosoorlog) en uitstallings en voorwerpe wat met ons geskiedenis en kultuur verband hou.

Dit is ʼn indrukwekkende gebou wat uittroon oor die omgewing en van ver af gesien kan word. Die gebou is omring met ʼn laer van 64 kakebeenwaens van graniet. By die ingang is daar ʼn groot standbeeld van ʼn Voortrekkermoeder met 2 kinders. Die “grondvloer”, waar die ingang is, staan bekend as die Heldesaal. Die mure daarvan is bedek met ʼn fries van 27 marmerpanele wat die geskiedenis van die Groot Trek uitbeeld. Die Senotaafsaal in die “kelder” bevat die Senotaaf van graniet en ʼn museum van items uit die Groot Trek. Heel bo op die gebou is daar uitkykplekke vanwaar die omgewing besigtig kan word. Buitekant, op elke hoek van die gebou, is daar 4 standbeelde van Voortrekkerleiers. Dit alles is die uiterlike van die monument en dit is wat die meeste besoekers raaksien.

Behalwe die uiterlike voorkoms, is daar ook simbole wat in die monument ingebou is. Verskeie navorsers het die teenwoordigheid van hierdie simbole bevestig. Dit is Vrymesselaarsimbole. My vraag is: wat maak dit daar, hoe het dit daar gekom, wat beteken dit en wat is die werklike doel van die Voortrekkermonument.

Die bou van ʼn monument vir die Voortrekkers is grootliks te danke aan minister E.G. Jansen. In 1931 is die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) gestig. Dit was die SVK wat uiteindelik oor die ontwerp van die monument besluit het. Die SVK het in sy manifes verklaar: Daar is by die volk ‘n algemene begeerte na ‘n georganiseerde uiting van kollektiewe hulde en bewondering ter ere van die Voortrekkers en niemand twyfel aan die vaste volkswil om elke moeilikheid te oorwin ter bereiking van die uniforme wens, nl. om vir die huidige en latere geslagte ‘n indrukwekkende monument op te rig wat in lengte van dae sal getuig van die stoere en sielsverheffende deugde van die Voortrekkers. Of daar werklik so ʼn algemene begeerte was, weet ek nie. Die regering van die dag het wel belang gestel en wou die monument nog groter en nog meer indrukwekkend hê en het besluit om met die koste daarvan te help. Die SVK het die argitek Gerhard Moerdyk aangestel as boumeester.

Gerhard Moerdyk het verduidelik dat die Voortrekkers nie ʼn argitektoniese erfenis nagelaat het nie, maar as hulle het, sou dit Bybels gewees het. Hy was van mening dat, net soos Abraham in die Bybel, ʼn altaar gebou moet word om die Voortrekkers se opofferings te huldig. Hy het dit as ʼn heiligdom gesien. Die SVK se opdrag aan Moerdyk was dat dit soortgelyk aan die Völkerschlactdenkmal in Leipzig, Duitsland moet wees. Die Völkerschlactdenkmal is deur Vrymesselaars opgerig en het selfs ʼn Vrymesselaarstempel in die kelder.

Die uitstaande kenmerk van die Voortrekkermonument is die son wat op die Senotaaf skyn. In 1936, voor hy sy ontwerp voltooi het, besoek Gerhard Moerdyk Egipte. Daar het hy die Karnak-tempelkompleks en die Benben-klip besigtig. Dit was sy inspirasie vir die Senotaaf. Die Senotaaf is ʼn heldegraf ter ere van Piet Retief wat deur Dingaan vermoor is. In die koepeldak van die monument is ʼn ronde opening waardeur die son skyn. Op die “grondvloer” (die Heldesaal) is ʼn opening waardeur afgekyk kan word op die Senotaaf. Op die Senotaaf is die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika”. Op 16 Desember elke jaar (Geloftedag) skyn die son op die woorde op die Senotaaf.

Die Senotaaf het godsdienstige simboliek. In Egipte was die son die Songod wat met die mens kommunikeer deur op die senotaaf te skyn. By die Voortrekkermonument verteenwoordig die koepeldak die hemel met die lig van God wat daardeur skyn. Die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” is die sentrale fokuspunt. Die sonstraal simboliseer ʼn kommunikasie tussen God en mens. (Dit moet onthou word dat Israel se Goue Kalf simbolies vir YHWH moes voorstel).

Bouwerk het op 13 Julie 1937 begin. Die hoeksteen is op 16 Desember 1938 gelê deur kleindogters van drie van die Voortrekkerleiers. Die monument is op 16 Desember 1949 ingewy deur Dr. D.F. Malan, wat toe Eerste Minister was. Die totale boukoste was omtrent £ 360,000. Daar was ook ʼn amfiteater gebou wat omtrent 20,000 sitplekke het. Drie dokumente is onder die hoeksteen begrawe: ʼn afskrif van die Gelofte, ʼn afskrif van Piet Retief se ooreenkoms met Dingaan en ʼn afskrif van “Die Stem” (wat vir die eerste keer in 1928 gesing is).

Daar is ʼn paar goed aan die monument wat my persoonlik hinder. Die standbeeld van die Voortrekkermoeder: is daar ʼn rede waarom ʼn Engelse dogter en ʼn Joodse seun die modelle vir die kinders was? Die standbeelde van Voortrekkerleiers is van Piet Retief (ʼn Vrymesselaar), Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en ʼn “onbekende” wat die ander leiers verteenwoordig. Hoekom is Gerrit Maritz nie daar nie? Die Gelofte wat in die monument uitgebeeld word, verskil van die Voortrekker-Volksraad se amptelike weergawe. Wie het die woorde van die Gelofte verander en wanneer is dit gedoen?

Hoekom is “Ons vir jou Suid-Afrika” gekies as die woorde op die Senotaaf? Dit is lynreg in stryd met die doel van die Groot Trek. Suid-Afrika het nog nie bestaan nie en die lied “Die Stem” was nog nie geskryf nie. Die Voortrekkers was separatiste wat uit “Suid-Afrika” pad gegee het om hulle eie volkstaat te stig.

Die woord “senotaaf” beteken “leë graf”. Die Senotaaf in die monument simboliseer Piet Retief se graf. Vir Christene is daar net een leë graf en dit is die een waaruit Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) uit die dood opgestaan het.

Moerdyk se oorspronklike idee was om volgens Abraham se voorbeeld ʼn altaar die sentrale fokus van die monument te maak. Dit moes ʼn heiligdom wees. Die Senotaaf is dus in werklikheid ʼn altaar waarop geoffer word. Wie of wat is die offerande? Was dit Piet Retief wat geoffer is vir “Suid-Afrika”? Is die son wat op 16 Desember daarop skyn dan simbolies van aanvaarding van die offerande deur ʼn Opperwese?

Klaarblyklik was daar met die bou van die Voortrekkermonument ʼn godsdienstige motief gewees. Dit maak daarvan ʼn tempel.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin