Kan ons nog werk?

Ek het al verskeie kere, uit verskillende bronne, gehoor dat lede van die Boerevolk wat in die buiteland werk, ‘n goeie naam het as werkers. Hulle is hoog in aanvraag. Hulle is ou skool: goed opgelei, het goeie ondervinding en hulle skrik nie vir harde werk en lang ure nie. Hierdie mense is meestal van die ouer garde wat nog diensplig verrig het. Dit is nie noodwendig waar van almal nie, tog is dit die indruk wat by buitestaanders gewek word. Dit is goed om te hoor dat die Boerevolk nie net ‘n plan kan maak nie, maar ook goeie werk kan lewer.

Die toekoms van die Boerevolk kan deur ons werkvermoë gemaak of gebreek word. Wanneer ‘n volkstaat realiseer, sal die sukses en voortbestaan daarvan bepaal word deur volkseie arbeid en selfwerksaamheid. As ons dit kan regkry, sal dit ‘n ingrypende verandering in ons volksaard veroorsaak. Dit sal heel moontlik ook traumaties wees.

Die gebruik van goedkoop vreemde arbeid is by ons so ingeburger dat dit moeilik gaan wees om daarvan af te sien. Reeds van vroeg in ons geskiedenis af was die gebruik van vreemde arbeid algemeen. Die Khoi en die San wou nie eintlik arbeiders wees nie, gevolglik moes die Kompanjie slawe invoer. Later, na die vrystelling van slawe, het ons voorouers swart arbeiders begin gebruik. Een van die nadele daarvan was dat daar ‘n houding by ons ontstaan het dat sekere soorte werk benede ons is. Ons eie mense het nie meer ongeskoolde werk verrig nie, dit was gegee aan vreemdes wat bereid was om vir minimum lone te werk.

Volkseie arbeid sal ‘n grondbeginsel moet wees met die stigting van ‘n volkstaat. Heel moontlik iets wat in die volkstaat se grondwet verskans sal moet word. Die regering van daardie volkstaat sal streng wetgewing in plek moet hê en dit doeltreffend moet kan toepas. Die gebruik van vreemde arbeid sal op een of ander manier gepenaliseer moet word. Terselfdertyd sal gebruik van volkseie arbeid en selfwerksaamheid beloon moet word. Hoekom? Want as jy vreemde arbeid toelaat, verswak jy die samestelling van die bevolking en laat jy vreemde kulture toe in jou eie land. Dit lei ook tot toelating van vreemdes om in jou land te woon en jy sal behuising moet voorsien. Dit sal ook die brood uit jou volksgenote se monde neem want werkgewers gaan goedkoper werkers verkies. Dit is presies wat voorheen gebeur het.

Die gebruik van vreemde arbeid het ook ekonomiese implikasies. Die probleem is die koste van arbeid. Om winsgewend te wees, moet ondernemings hulle salarisse en lone so laag as moontlik hou. Vir ‘n onderneming is goedkoop vreemde arbeid die oplossing vir sy probleme. Daar sal dus ‘n konflik tussen die volkstaat se regering en die ondernemings binne die volkstaat wees – veral groot ondernemings – wat dan weer nadelig kan wees vir noodsaaklike buitelandse beleggings.

Selfwerksaamheid beteken dat elkeen sy eie vuilwerk self sal moet doen. Veral gesinne moet sonder bediendes klaarkom en alles in en om die huis self kan doen. Dit sal ook op plase en besighede toegepas moet word. Daar is ook metodes, soos meganisasie, wat gebruik kan word om selfwerksaamheid te bevorder. Dit mag egter duur wees.

Om oor te skakel na volkseie arbeid sal ‘n revolusie moet plaasvind. Beide werkgewer en werknemer sal ‘n groot verandering in denke moet maak. Die werkgewer, wat ‘n volksgenoot is, sal nie sy werknemer, wat ook ‘n volksgenoot is, dieselfde kan behandel as wat hy ‘n vreemde werker behandel nie. Die afstand tussen werkgewer en werknemer sal baie nader wees. Aan die ander kant, sal die werknemer moet besef dat daar meer van hom verwag sal word. Natuurlik is daar ook die kwessie van vergoeding. Werknemers uit die Boerevolk sal voel dat hulle ‘n gepaste lewenspeil moet kan handhaaf.

Terwyl ek hier skryf, is daar derduisende volksgenote wat werkloos is. Talle het geen heenkome nie. Daar is verskeie redes wat hiertoe aanleiding gegee het. Voor die huidige bedeling was daar maatreëls wat blanke werkers beskerm het en was werkloosheid minimaal. Laag geskoolde blankes kon ‘n leefbare loon verdien. Ander het om een of ander rede hulle werk verloor en kan nie ‘n ander aanstelling kry nie. Nog ander is ongeskik verklaar en mag nie meer werk nie. Daar is ook ‘n gedeelte wat nie wil werk nie en van welsyn afhanklik wil wees.

Ons sal ‘n nuwe werkkultuur moet ontwikkel. Harde werk alleen sal nie die wa deurtrek nie. Soos die Duitsers, sal ons moet werk maak van deeglikheid. Ons sal die trots op goeie vakmanskap moet bevorder. Ons sal slegs die pyp kan rook as ons produkte en dienste van die beste is.

Hierdie veranderings lê tans in die toekoms en dit gaan hoofsaaklik deur die jonger garde beleef word. Dit is hulle wat moet leer om hard te werk. Hulle sal moet kies om gehalte werk te lewer. Hulle sal moet gewoond raak om sonder goedkoop ongeskoolde werkers klaar te kom. Sal die jonger garde opgewasse wees? Hulle sal nou al moet begin om voor te berei. Hulle sal vaardighede moet bemeester. Dit is immers hulle en hulle kinders se toekoms wat op die spel is.

Ons, die Boerevolk, moet ons voorberei op ‘n ingrypende verandering in ons houding en benadering oor werk. Die toekoms gaan heel anders wees as die verlede en die hede. Jy kan dit sien as ‘n ramp of jy kan dit sien as ‘n uitdaging. Feit is, as daar vir ons volk ‘n toekoms is, sal hierdie verandering onafwendbaar wees.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk van Rhodesië

Ek was nog nooit in Zimbabwe nie, maar ek was al in Rhodesië. Dit wil sê Suid-Rhodesië. Eens op ‘n tyd was daar ‘n deel van die Boerevolk wat in Suid-Rhodesië gewoon het. Hulle het Afrikaans gepraat, was lidmate van die drie Susterkerke, het hul eie kultuurverenigings gehad en het selfs hulle eie Afrikaanse koerante gehad. Dit was, maar is nie meer nie.

Lede van die Boerevolk was die eerste blankes wat die gebied verken het. Die Voortrekkers het in 1836 ondersoek ingestel na ‘n moontlike vestigingsgebied noord van die Limpopo. Hierna het Boerejagters al verder die gebied binnegedring totdat die Zambesirivier en die Victoria-waterval bereik is. Dit was voor Livingstone dit “ontdek” het. Daar was ook ‘n goeie verhouding tussen die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) en swart stamme wat daar gewoon het. Onder andere het die Banjaistamme in 1880 die ZAR gevra vir beskerming teen die Matabeles. In Augustus 1890 het Louis Adendorff en ander ‘n konsessie van die Banjaihoofmanne gekry om daar te gaan woon. Dit kon nie uitgevoer word nie want Cecil John Rhodes het hulle voorgespring.

Rhodes se maatskappy, BSAC (British South Africa Company), het reeds in Januarie 1890 ‘n kontrak met die Sjonas gesluit wat hulle sou toelaat om Masjonaland binne te gaan. Die Sjonas het gedink hulle wil net kom prospekteer. Rhodes se doelwit was die uitbreiding van die Britse Ryk en hy wou die hele gebied annekseer. Die BSAC het pionierskolonne gebruik om blankes daar gevestig te kry. Die pionierskolonne het hulle voorgedoen as trekgeselskappe. Daar aangekom, het hulle 5 forte gebou. Die aankoms van die kolonne was ‘n verrassing vir die Sjonas. Die gebied is Rhodesië genoem (vernoem na Rhodes) en die belangrikste fort se naam was Salisbury. Spoelgoud neerslae is ontdek en dit het goudkoors laat opvlam. Daar was ook avonturiers wat na die verlore stad Monomotapa wou soek. Die gebied was die BSAC se besitting tot Britse anneksasie in 1923.

Rhodes het advertensies in koerante geplaas om mense aan te moedig om daarnatoe te verhuis. Daar was belangstelling onder lede van die Boerevolk om soheentoe te trek. Afgevaardigdes uit die ZAR en Oranje-Vrystaat het kontak met Rhodes gemaak. Die voorwaardes van Rhodes was aantreklik. Anders as die goudsoekers, het die Boere in landbou geleenthede belang gestel. Alhoewel hulle burgers van die Boere republieke was, was daar tog ook ontevredenheid met hulle regering oor verskeie sake. Ten spyte daarvan dat die pionierstydperk verby was, was daar nog mense wat kans gesien het om pioniers te wees. Verskillende trekgeselskappe is georganiseer en in 1891 het die eerstes vertrek na die onbekende.

Die Boere het saam met Engelssprekendes Rhodesië ingetrek. Die meerderheid was Engels en daar was net een amptelike taal, naamlik Engels. Die Boere was ‘n minderheidsgroep onder die blankes, net soos die Grieke. Nogtans het hulle nie verengels nie, maar hulle eie taal en kultuur behou. Die onderrigtaal in hulle skole was wel Engels, maar Afrikaans kon as ekstra vak aangebied word. Hulle het ook hulle eie kerke gehad. Die Boere was oorwegend landbouers van beroep. Die Boere het hulle in net ‘n paar distrikte gevestig met die gevolg dat hulle hul eie volkskarakter kon behou. In Enkeldoorn was 85% van die mense Afrikaanssprekend. Hulle het ook hul eie kultuurorganisasies gehad wat saamgewerk het as AKUR (Afrikaanse Kultuurunie van Rhodesië). In 1965 het die GRA (Genootskap van Rhodesiese Afrikaners) tot stand gekom.

Dit wil voorkom asof daar in Rhodesië nie die probleem van Boerehaat, soos in Suid-Afrika, was nie. Miskien omdat die Boere min was en nie veel invloed gehad het nie.

Hoewel die Boere onder die blankes ‘n minderheidsgroep was, was hulle ten volle betrokke by hulle land se sake. So was daar van hulle wat staatsamptenare was, sommiges in senior poste. Hulle was lede van die polisie, hulle het deel gevorm van hul land se weermag en het in oorloë hulle deel gedoen. Hulle het ook in die sakewêreld en landbou hulle bydraes gebring. Ook op sportgebied het hulle hul land verteenwoordig. Hulle was lojale Rhodesiërs maar steeds ook lojale lede van die Boerevolk.

Rhodesië het bekwame leiers gehad en die land het op ekonomiese gebied floreer. Veral na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n groot ekonomiese oplewing plaasgevind en het heelwat blankes uit ander lande immigreer na Rhodesië. In 1953 het Brittanje die Federasie van Rhodesië en Njassaland gestig. Dit het bestaan uit Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), Noord-Rhodesië (vandag Zambië) en Njassaland (vandag Malawi). Die plan wou Swart aspirasies, Blanke belange en koloniale behoeftes akkommodeer. Dit misluk en word in 1964 ontbind. Suid-Rhodesië het ‘n groter blanke bevolking gehad as die ander en hierdie blankes was permanente inwoners met eiendomme. In 1965 verklaar Suid-Rhodesië UDI (Unilateral Declaration of Independence) wat beteken dat hulle nie meer ‘n Britse kolonie was nie. Die Rhodesiese Bosoorlog breek uit tussen die blankes en die kommunistiese swart “bevrydingsbewegings”. Dit lei tot internasionale sankies. Nogtans bly hulle staande met die hulp van die Suid-Afrikaanse Regering. Uiteindelik gee die Suid-Afrikaners toe aan die buiteland en in 1980 kom Mugabe aan bewind. Dit was die einde van Rhodesië en die begin van Zimbabawe.

Vir amper 90 jaar was daar ‘n aansienlike aantal lede van die Boerevolk wat Rhodesiërs was. Ons kan ons indink hoe moeilik dit vir hulle as pioniers was om ‘n beskawing in ‘n wildernis te skep. Alles wat bereik was, was kosbaar en die moeite werd. Hulle het hulle plig nagekom, hulle het hul beste gedoen. Dit was alles tevergeefs. Hulle was net ‘n pion in die groter geo-politieke spel.

Die Rhodesiese leier in 1980 was Ian Smith. ‘n Beginselvaste persoon wat nie van sy beginsels afgewyk het nie. Kort voor sy dood het hy na bewering gesê: “Suid-Afrika het Rhodesië as offerlam gegee om vir homself tyd te koop. En daardie geleende tyd sal ook uitloop en dan sal die geskiedenis hom hier ook herhaal.”

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Voortrekker met die baie boeke

Gerrit Maritz was nie sommer enige hierjy nie. Voor die Groot Trek was hy ‘n gerespekteerde persoon in Graaff-Reinet. Hy was bekend by die sendelinge en het die sendingwerk onder die Khoi en San ondersteun. Hy was ook veldkornet en wykmeester en die owerheid wou graag ‘n goeie verhouding met hom handhaaf. By sy eie mense was hy bekend as ‘n godvresende persoon wat ander gehelp het waar hy kon. Verder was hy ‘n belese persoon, ‘n ware demokraat en gesteld op die handhawing van wet en orde. Dit word vertel dat hy ‘n goeie grap kon waardeer en dat hy lekker kon lag. Maar Gerrit Maritz was ook ‘n Boer: hardwerkend, ongeduldig en kort van draad. Hy was presies met sy werk en het ‘n kreatiewe gees gehad.

Gerhardus Marthinus Maritz (noemnaam Gert of Gerrit) is in 1797 gebore in die Suurveld, Graaff-Reinet distrik. Gedurende sy kinderjare het die Suurveld die aanvalle van Xhosas en Khoi (Hottentotte) beleef. In 1811 het sy vader hom op Graaff-Reinet gevestig as baaspadmaker en timmerman. Gerrit Maritz het hier homself as wamaker bekwaam en ‘n suksesvolle onderneming gevestig. Mettertyd het hy een van die vermoëndste persone op Graaff-Reinet geword. Dit word vertel dat sy waens van die beste kwaliteit was en ook baie mooi was. Waar ander waens groen geskilder was, het hy syne blou geskilder. Ander waens het ronde tente gehad, die Maritzwaens het kaptente gehad.

Op 22 het Gerrit in die huwelik getree met die vyftienjarige Angenitha Olivier. Hulle het 4 seuns en 2 dogters gehad. Hy koop ‘n huis in Caledonstraat vir 2700 riksdaalders en betaal dit kontant in 2 paaiemente. Teen 1830 is die huis te klein en hy bou ‘n groter huis in Noordekantstraat. Hy bekom ook die plaas Welgevonde aan die voet van die Ouberg.

Dit is nie bekend wat die redes was wat Gerrit Maritz laat besluit het om te trek nie. Sy trekgeselsskap het uit 100 waens en 700 mense bestaan. Sy broer het met ‘n tweede groep getrek. Hyself het met 7 waens getrek. Behalwe dat sy mooi waens uitgestaan het, het hy ‘n verskeidenheid goedere saamgeneem. Daar was, onder andere, 2 kanonne en baie boeke. Hy het ‘n verskeidenheid teologiese boeke, woordeboeke en boeke oor die regte saamgeneem.

Die Maritz-trek vertrek September 1836 uit Graaff-Reinet en bereik Sanddrif aan die Oranjerivier in November. Hier verneem hy van die moord op die Liebenbergs aan die Vaalrivier. Daarna ontmoet hy Andries Hendrik Potgieter en verneem van die slag by Vegkop in Oktober. Hierdie skokkende nuus oortuig hom om vinniger te trek en hulp te verleen aan die mense wat in nood is.

In Desember 1836 is ‘n groot groep Voortrekkers bymekaar by Thaba Nchu en verkies hulle hul eerste bestuur. Maritz word verkies as voorsitter en hoof van die bestuur, Potgieter word verkies as laerkommandant. Hulle onderneem ‘n aksie teen die Matabeles en behaal ‘n oorwinning by Mosega in Januarie 1837. In Maart het Piet Retief en sy trek by hulle aangesluit en in April word ‘n nuwe bestuur verkies. Retief word “goewerneur” en Maritz “magistraat”.

Vyf maande later trek Retief na Natal terwyl die res ‘n suksesvolle tweede ekspedisie teen die Matabeles onderneem. Maritz was ook ten gunste daarvan om sy mense in Natal te vestig. In Noord-Natal beplan Maritz en Retief om ‘n sending te stuur na die Zoeloe-koning, Dingane. Hulle het groot meningsverskille hieroor: Retief wil met ‘n groot kommando gaan maar Maritz wil dat net ‘n klein groepie moet gaan. Maritz het nie vir Dingane vertrou nie. Maritz word reg bewys en Retief en sy manne word vermoor in Februarie 1838. Net meer as ‘n week later vind die Groot Moord by Bloukrans en Moordspruit plaas. Maritz se laer word ook aangeval, maar hulle slaag daarin om dit af te slaan. C.R. Swart het vertel van die dapperheid van Maritz se kinders tydens hierdie aanval.

In Mei 1838 gaan Maritz en Karel Landman (die nuwe Hoofkommandant) met 150 man na Port Natal om die Britse Setlaars teen Dingane te help. In Junie vestig Maritz sy laer aan die Klein-Tugela en dit word bekend as Sooilaer en later Saailaer.

Maritz, hoewel nog ‘n jong man, sukkel geruime tyd met sy gesondheid. Middel September 1838 word hy ernstig siek en sterf op 23 September. Hy is aanvanklik by Maritzdam begrawe, maar op Geloftedag 1895 herbegrawe by die Bloukrans-monument. Net voor sy afsterwe, het hy gesê: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Die doel van die Groot Trek was om ‘n nuwe land te stig. ‘n Beskaafde land met goeie bestuur en wet en orde. Hulle het ‘n republiek in gedagte gehad, ‘n beter regering as wat in die Britse kolonie was. Gerrit Maritz se pligte as Voortrekkerleier was juis die bestuur, administrasie en regspraak. Dit het hy met bekwaamheid uitgevoer. Deel daarvan was om voorgenome huwelike te ondersoek, boedels te beredder en as regter op te tree – dinge wat wysheid geverg het. Vir sy mede-Trekkers was hy ‘n bron van krag. Hy het die noodlydendes gehelp en die mismoediges moed ingepraat. Hy het ook, toe dit nodig was, belangrike militêre suksesse behaal.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is in ‘n naam?

65cf6508740529f3c69c37181e412405Volgens die woordeboek, beteken die woord naam twee dinge: (1) dit dui ‘n saak of persoon aan en (2) dit dui bekendheid of reputasie aan. Ons kan ook sê dit identifiseer en onderskei.

Eeue gelede het kinders name gekry wat iets beteken het. Die ouers het met die naamgewing ‘n wens uitgespreek dat die kind mag wees soos sy naam is. So beteken Hendrik “heerser oor die tuisland”. In die Bybel het name ook betekenis. Jonatan beteken “Jahweh het gegee”. Die naam minderheidsverslag beteken ook iets. Ons volk is ‘n minderheid, ons taal word deur ‘n minderheid gepraat en die Bybel word deur ‘n minderheid gelees. Dan volg ekself nie die hoofstroom nie en is ek ‘n minderheid van ‘n minderheid!

Sommige mense voel sterk daaroor dat ons volk se naam Afrikaners is. Ander voel sterk dat ons Boere genoem moet word. Ek het groot geword met die begrip dat Afrikaner en Boer sinonieme is – albei name verwys na dieselfde groep mense. Hierdie meningsverskille het my laat besluit om vas te stel watter naam volkskundig korrek is. Met ander woorde, watter naam beskryf ons as behorende tot ‘n spesifieke kultuurgroep.

My woordeboeke beskryf Afrikaner as iemand wat deur geboorte of afstamming Afrikaans is – bedoelende afstam van Nederlanders, Duitsers en Hugenote. Daar is ook Afrikaner-Nasionalisme, ‘n ideologie wat eiesoortig aan Afrikaners is.

Boer word beskryf as ‘n lid van die Afrikanervolk of as Suid-Afrikaner van Hollandse afkoms. Boer word ook gekoppel aan ander name soos Boerboel, boerebeskuit, boerebedrieër, Boerehater, boeremusiek, boerematriek, boereraat, boerewysheid, Boeretaal, Boerevrou. Hierdie woorde verwys na ‘n sekere kultuurgroep.

Daar word gesê dat boer na landbou verwys. Byvoorbeeld, boerewors is tuisgemaakte plaaswors en word onderskei van slagterswors. Dit mag lank gelede so gewees het, nou is dit nie meer so nie. Boerewors word onderskei aan sy resep en bestanddele. Die produk se ontstaan is eie aan ons volk en word na ons vernoem. ‘n Boerehater is iemand wat Suid-Afrikaners van Hollandse afkoms haat. Boererate en Boerewysheid is kennis wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Dit is ook onderdele van ons volkskunde.

Uit ‘n volkskundige oogpunt is Boer en Boerevolk die korrekte naam vir ons. Afrikaner is eerder ‘n politieke en taalkundige benaming.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin