Die Voortrekker met die baie boeke

Gerrit Maritz was nie sommer enige hierjy nie. Voor die Groot Trek was hy ‘n gerespekteerde persoon in Graaff-Reinet. Hy was bekend by die sendelinge en het die sendingwerk onder die Khoi en San ondersteun. Hy was ook veldkornet en wykmeester en die owerheid wou graag ‘n goeie verhouding met hom handhaaf. By sy eie mense was hy bekend as ‘n godvresende persoon wat ander gehelp het waar hy kon. Verder was hy ‘n belese persoon, ‘n ware demokraat en gesteld op die handhawing van wet en orde. Dit word vertel dat hy ‘n goeie grap kon waardeer en dat hy lekker kon lag. Maar Gerrit Maritz was ook ‘n Boer: hardwerkend, ongeduldig en kort van draad. Hy was presies met sy werk en het ‘n kreatiewe gees gehad.

Gerhardus Marthinus Maritz (noemnaam Gert of Gerrit) is in 1797 gebore in die Suurveld, Graaff-Reinet distrik. Gedurende sy kinderjare het die Suurveld die aanvalle van Xhosas en Khoi (Hottentotte) beleef. In 1811 het sy vader hom op Graaff-Reinet gevestig as baaspadmaker en timmerman. Gerrit Maritz het hier homself as wamaker bekwaam en ‘n suksesvolle onderneming gevestig. Mettertyd het hy een van die vermoëndste persone op Graaff-Reinet geword. Dit word vertel dat sy waens van die beste kwaliteit was en ook baie mooi was. Waar ander waens groen geskilder was, het hy syne blou geskilder. Ander waens het ronde tente gehad, die Maritzwaens het kaptente gehad.

Op 22 het Gerrit in die huwelik getree met die vyftienjarige Angenitha Olivier. Hulle het 4 seuns en 2 dogters gehad. Hy koop ‘n huis in Caledonstraat vir 2700 riksdaalders en betaal dit kontant in 2 paaiemente. Teen 1830 is die huis te klein en hy bou ‘n groter huis in Noordekantstraat. Hy bekom ook die plaas Welgevonde aan die voet van die Ouberg.

Dit is nie bekend wat die redes was wat Gerrit Maritz laat besluit het om te trek nie. Sy trekgeselsskap het uit 100 waens en 700 mense bestaan. Sy broer het met ‘n tweede groep getrek. Hyself het met 7 waens getrek. Behalwe dat sy mooi waens uitgestaan het, het hy ‘n verskeidenheid goedere saamgeneem. Daar was, onder andere, 2 kanonne en baie boeke. Hy het ‘n verskeidenheid teologiese boeke, woordeboeke en boeke oor die regte saamgeneem.

Die Maritz-trek vertrek September 1836 uit Graaff-Reinet en bereik Sanddrif aan die Oranjerivier in November. Hier verneem hy van die moord op die Liebenbergs aan die Vaalrivier. Daarna ontmoet hy Andries Hendrik Potgieter en verneem van die slag by Vegkop in Oktober. Hierdie skokkende nuus oortuig hom om vinniger te trek en hulp te verleen aan die mense wat in nood is.

In Desember 1836 is ‘n groot groep Voortrekkers bymekaar by Thaba Nchu en verkies hulle hul eerste bestuur. Maritz word verkies as voorsitter en hoof van die bestuur, Potgieter word verkies as laerkommandant. Hulle onderneem ‘n aksie teen die Matabeles en behaal ‘n oorwinning by Mosega in Januarie 1837. In Maart het Piet Retief en sy trek by hulle aangesluit en in April word ‘n nuwe bestuur verkies. Retief word “goewerneur” en Maritz “magistraat”.

Vyf maande later trek Retief na Natal terwyl die res ‘n suksesvolle tweede ekspedisie teen die Matabeles onderneem. Maritz was ook ten gunste daarvan om sy mense in Natal te vestig. In Noord-Natal beplan Maritz en Retief om ‘n sending te stuur na die Zoeloe-koning, Dingane. Hulle het groot meningsverskille hieroor: Retief wil met ‘n groot kommando gaan maar Maritz wil dat net ‘n klein groepie moet gaan. Maritz het nie vir Dingane vertrou nie. Maritz word reg bewys en Retief en sy manne word vermoor in Februarie 1838. Net meer as ‘n week later vind die Groot Moord by Bloukrans en Moordspruit plaas. Maritz se laer word ook aangeval, maar hulle slaag daarin om dit af te slaan. C.R. Swart het vertel van die dapperheid van Maritz se kinders tydens hierdie aanval.

In Mei 1838 gaan Maritz en Karel Landman (die nuwe Hoofkommandant) met 150 man na Port Natal om die Britse Setlaars teen Dingane te help. In Junie vestig Maritz sy laer aan die Klein-Tugela en dit word bekend as Sooilaer en later Saailaer.

Maritz, hoewel nog ‘n jong man, sukkel geruime tyd met sy gesondheid. Middel September 1838 word hy ernstig siek en sterf op 23 September. Hy is aanvanklik by Maritzdam begrawe, maar op Geloftedag 1895 herbegrawe by die Bloukrans-monument. Net voor sy afsterwe, het hy gesê: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Die doel van die Groot Trek was om ‘n nuwe land te stig. ‘n Beskaafde land met goeie bestuur en wet en orde. Hulle het ‘n republiek in gedagte gehad, ‘n beter regering as wat in die Britse kolonie was. Gerrit Maritz se pligte as Voortrekkerleier was juis die bestuur, administrasie en regspraak. Dit het hy met bekwaamheid uitgevoer. Deel daarvan was om voorgenome huwelike te ondersoek, boedels te beredder en as regter op te tree – dinge wat wysheid geverg het. Vir sy mede-Trekkers was hy ‘n bron van krag. Hy het die noodlydendes gehelp en die mismoediges moed ingepraat. Hy het ook, toe dit nodig was, belangrike militêre suksesse behaal.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is in ‘n naam?

65cf6508740529f3c69c37181e412405Volgens die woordeboek, beteken die woord naam twee dinge: (1) dit dui ‘n saak of persoon aan en (2) dit dui bekendheid of reputasie aan. Ons kan ook sê dit identifiseer en onderskei.

Eeue gelede het kinders name gekry wat iets beteken het. Die ouers het met die naamgewing ‘n wens uitgespreek dat die kind mag wees soos sy naam is. So beteken Hendrik “heerser oor die tuisland”. In die Bybel het name ook betekenis. Jonatan beteken “Jahweh het gegee”. Die naam minderheidsverslag beteken ook iets. Ons volk is ‘n minderheid, ons taal word deur ‘n minderheid gepraat en die Bybel word deur ‘n minderheid gelees. Dan volg ekself nie die hoofstroom nie en is ek ‘n minderheid van ‘n minderheid!

Sommige mense voel sterk daaroor dat ons volk se naam Afrikaners is. Ander voel sterk dat ons Boere genoem moet word. Ek het groot geword met die begrip dat Afrikaner en Boer sinonieme is – albei name verwys na dieselfde groep mense. Hierdie meningsverskille het my laat besluit om vas te stel watter naam volkskundig korrek is. Met ander woorde, watter naam beskryf ons as behorende tot ‘n spesifieke kultuurgroep.

My woordeboeke beskryf Afrikaner as iemand wat deur geboorte of afstamming Afrikaans is – bedoelende afstam van Nederlanders, Duitsers en Hugenote. Daar is ook Afrikaner-Nasionalisme, ‘n ideologie wat eiesoortig aan Afrikaners is.

Boer word beskryf as ‘n lid van die Afrikanervolk of as Suid-Afrikaner van Hollandse afkoms. Boer word ook gekoppel aan ander name soos Boerboel, boerebeskuit, boerebedrieër, Boerehater, boeremusiek, boerematriek, boereraat, boerewysheid, Boeretaal, Boerevrou. Hierdie woorde verwys na ‘n sekere kultuurgroep.

Daar word gesê dat boer na landbou verwys. Byvoorbeeld, boerewors is tuisgemaakte plaaswors en word onderskei van slagterswors. Dit mag lank gelede so gewees het, nou is dit nie meer so nie. Boerewors word onderskei aan sy resep en bestanddele. Die produk se ontstaan is eie aan ons volk en word na ons vernoem. ‘n Boerehater is iemand wat Suid-Afrikaners van Hollandse afkoms haat. Boererate en Boerewysheid is kennis wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Dit is ook onderdele van ons volkskunde.

Uit ‘n volkskundige oogpunt is Boer en Boerevolk die korrekte naam vir ons. Afrikaner is eerder ‘n politieke en taalkundige benaming.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin