Seuns van God en dogters van mense

Illustrasie: https://e-watchman.com/noahs-flood-and-kangaroo-migration/

Genesis 6 verse 1 tot 8 vertel van hoe יהוה spyt was dat Hy mense geskape het en hoe Hy toe alle lewende wesens op aarde – behalwe Noag, sy gesin en die diere op die ark – uitgewis het deur middel van die vloed. Hierdie gedeelte is baie kort, uiters kompleks en moeilik om te verstaan.

Volgens die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) vertaling, lees Gen. 6:1-8 soos volg: Dit het gebeur dat die mense oor die oppervlakte van die aarde begin vermeerder het en toe daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was en hulle het vir hulle almal wat hulle verkies het, as vroue gevat. יהוה het gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie omdat hy ook vlees is; laat sy tyd een honderd en twintig jaar wees.” Daardie dae was daar reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit. יהוה het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde en dat elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, altyddeur boos was en יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. יהוה sê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het van die aarde af vernietig, die mens sowel as die diere, die reptiele en die voëls van die hemel; Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.” Noag het egter guns gevind in die oë van יהוה.

Die eerste probleem is: wie is die seuns van God en wie is die dogters van mense? Die persoonlike naam יהוה word deurgaans in die teks gebruik, hoekom is vers 2 anders deur van “seuns van God” te praat – beteken dit hulle is nie seuns van יהוה nie? יהוה se eerste reaksie was om Sy Gees in mense te beperk en die mens se leeftyd te verminder. Die kinders van die seuns van God en die dogters van mense was reuse. Wat presies was hierdie reuse? Was net hierdie vermenging die groot boosheid in die mens, of was daar ander dinge ook? Wat het die diere, die reptiele en die voëls met die mens se boosheid te doen?

...

Die goue reël met die verstaan van die Bybel is dat die Skrif die Skrif verklaar. Met ander woorde, as jy ʼn gedeelte nie verstaan nie, moet jy ʼn ander gedeelte raadpleeg wat meer lig op dieselfde saak werp. Ongelukkig kan ons dit nie doen met hierdie gedeelte nie want daar is nie elders in die Bybel meer inligting oor hierdie saak nie. Daar is wel ʼn paar tekste wat na iets hiervan verwys, maar dit verklaar nie hierdie gedeelte nie. Dit as asof יהוה nie dink ons hoef meer te weet nie. As gevolg hiervan word verklarings op ander maniere gesoek. Een metode is om apokriewe boeke te raadpleeg. ʼn Ander is om ʼn studie van die Hebreeuse woorde te maak. Daar is selfs pogings om Hollywood flieks te gebruik as verklaring (dat die seuns van God  ruimtewesens was).

Die gewildste verklarings van die “seuns van God” is dat hulle gevalle engele is, of dat hulle magtige menslike regeerders was of dat hulle die afstammelinge van Adam se seun Set was. Die “dogters van mense” word gesien as menslike vrouens in die algemeen of dan die vroulike nageslag van Adam se seun Kain. Die reuse word gesien as werklike reuse wat bestaan het, of as net baie groot mense, of as magtige mense. Die verdeeldheid hieroor is baie groot, vir elke standpunt wat geopper word, is daar ʼn sterk beswaar daarteen.

Die argument vir engele as die “seuns van God” berus daarop dat die “seuns van God” en die “dogters van mense” twee verskillende wesens beskryf, naamlik nie-menslike wesens en menslike wesens. Hulle kinders is ʼn vermenging van die twee soorte wesens. Satan sou op hierdie manier gepoog het om te verhoed dat die Gesalfde gebore kan word. Die apokriewe boek van Henog volg hierdie siening. Besware hierteen is dat daar nooit in die verdere geskiedenis van die mensdom so iets gebeur het nie, elders in die Bybel word engele beskryf as geestelike wesens wat geslagloos is, dit is nie vir een spesie moontlik om met ʼn heeltemal ander spesie te vermeng nie en Hebreeuse Ou Testamentiese geleerdes het dit heeltemal verwerp. In Lukas 3:38 word Adam beskryf as die seun van God en Jesus word in Lukas ook die Seun van God genoem.

ʼn Baie ou siening onder Joodse en Christelike geleerdes is dat die “seuns van God” die afstammelinge van Adam se seun Set is wat met Adam se seun Kain se nageslag ondertrou het en wie se kinders reuse was. As Adam die seun van God is, dan is al sy kinders dit ook. Kain het wel eenmaal gesondig, maar dit maak hom nie ʼn ander spesie as sy broer Set nie. Gevolglik kan daar niks verkeerd wees as hulle nageslag met mekaar ondertrou nie.

Die Hebreeuse woord nephilim word dikwels vertaal as “reuse”. In Genesis 6 is dit nie baie duidelik of die reuse die seuns van God is en of dit hulle kinders is nie. Hierdie reuse is met die vloed uitgewis en gevolglik kan die Enakiete nie hulle afstammelinge wees nie. In Numeri 13:32-33 rapporteer die 12 spioene dat die Enakiete reuse (nephilim) is, dit beteken waarskynlik buitengewoon groot en sterk mense waarvoor hulle bang is. In Esegiël 32:27 word indirek na nephilim verwys met die woorde “gevalle helde”. Een vertolking van hierdie vers uit Esegiël lees: They lie with the warriors, the Nephilim of old, who descended to Sheol with their weapons of war. They placed their swords beneath their heads and their shields upon their bones, for the terror of the warriors was upon the land of the living. (Ronald S Hendel). Dit wil dus voorkom of die reuse die persone is wat beskryf word as: Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit.

In die tydperk voor Noag het mense baie oud geword, baie het 900 jaar gehaal. Dit het beteken dat iemand ʼn verskriklike groot nageslag gehad het toe hy gesterf het. Meer nog, wat het so ʼn persoon alles in sy lewe vermag? As hy hom dit ten doel gestel het om goeie dinge te doen, moes hy verskriklik baie goeie dinge in sy leeftyd gedoen het. As hy egter net boosheid nagejaag het, moes hy ontsettend baie bose dinge gedoen het, die een erger as die ander. Dit is waarom יהוה besluit het om die mens se leeftyd korter te maak, ʼn persoon van 120 jaar kan nie soveel boosheid pleeg as wat ʼn persoon van 900 jaar kon nie.

Van Adam tot die vloed was omtrent 2,500 jaar en van die vloed tot vandag toe omtrent 3,500 jaar. Die 2,500 jaar was ʼn baie lang tyd waarin die mens enorme vooruitgang kon gemaak het en ook enorme boosheid kon gepleeg het. Die populêre siening van die eerste mense as grotbewoners wat moes leer om vuur te maak is in stryd met die Bybel. ʼn Paar terloopse opmerkings in Genesis 4 dui daarop dat daar ʼn groot beskawing voor die vloed was. Hoeveel mense daar op aarde was en waar hulle gewoon het, weet ons nie. Om hierdie lang tydperk te verstaan kan ons dit vergelyk met die geskiedenis van 500 voor Christus tot vandag. Ons kan sien hoe bevolkingsgetalle toegeneem het, hoe die wetenskap gevorder het, ensovoorts.

Wat die presiese boosheid van die mens voor die vloed was, weet ons nie. Dit was duidelik baie erg. יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. Daar is ook ʼn aweregse verklaring van Gen. 6:1-8 wat nie veel steun het nie. Dit sien die “seuns van God” as mense wat deur God geskape is en die “dogters van mense” as wesens wat deur mense “geskep” is. Daar was ʼn gepeuter met mense, diere, reptiele en voëls se DNA en daar het wesens ontstaan wat teen יהוה se skeppingsorde ingedruis het. In die proses het mensagtige wesens ontstaan. In vandag se lewe is daar reeds cyborgs en word daar gestreef na die verbetering van die mens en onsterflikheid. Wetenskapfiksie wat waar word. ‘n Groot boosheid in ons tyd.

Daar is nie ʼn verklaring vir hierdie gedeelte waaroor almal saamstem nie, en elke verklaring is eintlik maar net ʼn opinie. Die feit is dat יהוה alles voor Hom uitgewis het en van voor af begin het met die nageslag van Noag.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Onveranderbare Getuienis

Behalwe vir Johannes, is al die Apostels dood voor die vernietiging van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. Hulle was ‘n unieke groep mense wat Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) persoonlik geken het, eerstehandse getuies van Sy woorde en dade was, spesifiek deur die Heilige Gees toegerus is om gemeentes (die Vergadering van Uitgeroepenes) tot stand te bring, en is as Yeshua se verteenwoordigers uitgestuur in al die windrigtings in om die getuienis van verlossing te lewer.

Wat het gebeur na hulle dood is? Wie het die Apostels se werk oorgeneem? Hoe is die redding wat Yeshua bewerk het verder bekend gemaak? Daar is kerke wat glo dat daar ‘n opvolging van die Apostels was, maar dit is volgens hulle selfgemaakte tradisie. Die Apostels het wel ouderlinge in die plaaslike gemeentes aangestel, maar hulle is nie Apostels genoem nie en het ook nie die werk van Apostels gedoen nie. Hierdie ouderlinge was reeds volwassenes toe hulle, nog voor die dood van die Apostels, aangestel is. Hulle moes dus in die eerste eeu geleef en gesterf het. In die tweede eeu het daar nuwe leiers gekom. Die Apostoliese Vaders was leidende ouderlinge en skrywers. Hulle word so genoem want hulle het, toe hulle nog kinders was, van die Apostels persoonlik geken. Die Apologete was skrywers wat valse leerstellings en kettery bestry het. Hulle was goed belese en het ‘n belangrike funksie verrig.

Daar was ‘n gaping van etlike jare tussen die Apostels en die Apostoliese Vaders. Die Apostels het dus nie menslike opvolgers gehad nie. Die Heilige Gees het iets anders in gedagte gehad: die Nuwe Testament. Die Apostels en hul medewerkers het hul herinneringe op skrif gestel. In 2 Petrus 1:14-15 gee die Apostel die rede waarom hy die brief skryf: omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.

Daar is verskriklik baie godsdienstige geskrifte geskryf in die tyd na Yeshua die Gesalfde se hemelvaart. Net 27 van hulle word in die Nuwe Testament ingesluit. Waarom net hierdie 27, waarom nie die ander ook nie?

Die kerk wil graag die krediet daarvoor neem dat hulle die “kanon” (die 27 boeke) saamgestel het. Hulle het nie. Die aanvaarding en verwerping van godsdienstige geskrifte het lank voor die ontstaan van die kerk (in 325 n.C.) plaasgevind. Die amptelike kerklike “kanon” was eers in 397 n.C. Voor die ontstaan van die kerk was daar net plaaslike gemeentes en elkeen het sy eie besluite geneem. Dit was eintlik as gevolg van ‘n groep ketters dat daar onderskei moes word tussen die baie geskrifte wat in omloop was.

Soos die Apostels gewaarsku het, het dit nie lank geneem voor valse profete en valse leraars hulle verskyning gemaak het nie. Gnostisisme het in die eerste eeue na Christus baie volgelinge gehad en het tot ‘n magtige beweging ontwikkel. Later het die kerk dit tot kettery verklaar en onderdruk. Gnostiese Christene het nie ‘n eie kerkorganisasie gehad nie, hulle het binne die bestaande christelike gemeentes gebly. Hulle godsdiens beskouing was dat mense goddelike siele is wat in ‘n stoflike wêreld vasgevang is. Gnostici het geglo dat die stoflike wêreld deur ‘n bose skeppergod geskep en oorheers word. Daar bestaan ‘n ander, hoër God, wat die goeie beliggaam. Maar hy is moeilik om te ervaar want hy het ‘n onkenbare natuur. Om jou van die stoflike wêreld te bevry benodig ‘n mens gnosis of versteekte kennis wat net vir ‘n geleerde elite beskikbaar is. Hulle het baie boeke geskryf wat skynbaar wyd gelees is. Baie Gnostiese boeke is gevind in die Nag Hammadi Biblioteek wat in 1945 ontdek is. Baie daarvan handel oor Yeshua wat esoteriese vrae van Sy dissipels antwoord. Die oudste Gnostiese boeke is uit die tweede eeu afkomstig, dus lank na Yeshua en die Apostels.

Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke is opgestel deur die ketter Marcion in omtrent 140 n.C. Marcion het onderskeid gemaak tussen die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament. Hy het die hele Ou Testament as Skrif verwerp en alles wat vir hom “Joods” geklink het, uit die Nuwe Testament gehaal. Sy Nuwe Testament het bestaan uit ‘n deel van Lukas se evangelie en 10 briewe van Paulus.

Voor Marcion se lys was daar al ‘n proses aan die gang om te besluit watter geskrifte gelees moet word en watter nie. Sy lys het veroorsaak dat die proses versnel het en dat christene meer bewus geword van die waarde van die Apostels se geskrifte. Vir Apologete was dit nodig om te weet watter boeke die korrekte christelike leer bevat sodat dit gebruik kan word as verdediging teen die groot getal ketters. Dit moes boeke wees wat dieselfde gesag as die Ou Testament het.

Justinus die Martelaar het omstreeks 150 n.C. geskryf dat die “Herinneringe van die Apostelsˮ saam met die Profete in die byeenkomste van christene gelees is. Die Khabouris Kodeks is ‘n afskrif van die oudste Aramese Bybel (dit word Peshitta genoem). Dit bevat ‘n getekende sertifikaat wat bevestig dat dit ‘n afskrif is van ‘n Aramese Nuwe Testament van 164 n.C. Hierdie Nuwe Testament bevat 22 van die boeke wat in ons Nuwe Testament is. Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke wat deur christene gebruik is, is die Fragment van Muratori. Dit word gedateer in die omgewing van 170 n.C. Die begin en einde is beskadig, maar die lys bevat 22 van ons 27 Nuwe Testamentiese boeke. Daar is ook boeke op die lys wat nie in die Nuwe Testament is nie. Dit blyk dus dat christene teen 170 n.C. reeds ‘n kerngroep boeke gehad het wat hulle as die Nuwe Testament beskou het.

Vandag word die 27 boeke die “kanon” genoem, dit wil sê die finale lys wat nie weer verander nie. Maar daar is nog boeke wat hoog aangeskryf word – Protestante noem dit Apokriewe Boeke en Katolieke noem dit Deuterokanonieke boeke. Hierdie boeke word gesien as nuttig om te lees, maar dit word nie as geïnspireerd erken nie. Die Deuterokanonieke boeke is ingesluit in Katolieke en Ortodokse Bybels, maar nie in Protestantse Bybels nie.

Apokriewe boeke is dikwels pseudepigrafiese boeke, dit wil sê dit word valslik aangebied as die werk van ‘n apostel of ‘n ander bekende persoon. Die werklike skrywer was iemand anders en gebruik die apostel se naam om die boek geloofwaardig te laat lyk. In die Nuwe Testament word min vertel van Yeshua se kinderdae. Baie mense het hierin belang gestel. Ondernemende persone het dan boeke daaroor geskryf wat graag gelees en geglo is, terwyl daar nie werklike bevestiging daarvoor was nie. Daar was ook mense wat ‘n gnostiese boodskap wou verkondig en het dit dan verbloem as ‘n werk van ‘n Apostel.

Die christelike standpunt is dat die Nuwe Testament deur die Heilige Gees geïnspireer is, dat dit die Woord van God is en dat dit onfeilbaar en onveranderbaar is. Dit is belangrik om te kan onderskei tussen ‘n geïnspireerde boek en ‘n ander boek. Is daar riglyne wat gebruik kan word om te weet wat is geïnspireerd en wat nie? Die eerste riglyn is dat die boek deur ‘n Apostel, of in samewerking met ‘n Apostel, geskryf is. Al die Apostels (behalwe Johannes) het voor 70 n.C. gesterf, gevolglik sal so ‘n geskrif ook voor 70 n.C. geskryf moes gewees het. Die vernietiging van Jerusalem en die Tempel was so ‘n traumatiese gebeurtenis dat dit moeilik sal wees om dit nie te noem nie. Nie een van die Nuwe Testamentiese boeke maak melding daarvan nie, dus is hulle voor 70 n.C geskryf. Die Nuwe Testament haal die Ou Testament aan en gee verdere verduideliking – dit weerspreek nie die Ou Testament nie. Die Apostels was self bewus daarvan dat hulle besig was om Heilige Skrif te skryf. ‘n Laaste riglyn is dat gewone christene hierdie boeke aanvaar as die Woord van God.

Die Apostels het nie menslike opvolgers gehad nie. Hulle was die eerstes en die laastes. Die Heilige Gees het gesorg dat ons vandag deur die Nuwe Testament alles het wat ons nodig het. Die Nuwe Testament het die Apostels opgevolg en het hulle getuienis verseël. Die lees en bestudering van die Nuwe Testament behoort een van ons hoogste prioriteite te wees.

Wees op jou hoede vir valse leraars en profete. Hulle is tussen ons.

 

 

 

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Makkabeërs en die vagevuur

Die Makkabeërs was ‘n dapper Israelse priesterlike familie wat vir hulle volk in die bres getree het. Hulle het nie bedoel om ‘n oorlog te begin nie, hulle het net geweier om afgode te dien. Daarom was hulle lewens in gevaar en moes hulle die wildernis invlug. Daar in die wildernis het ander wat ook geweier het om afgodery te aanvaar by hulle aangesluit. Saam het hulle ‘n rebellemag op die been gebring om die Griekse afgodery en die Griekse kultuur teen te staan. Keer op keer het hulle teen ‘n groot oormag te staan gekom en oorwin. Voor elke geveg het hulle YHWH se hulp gevra en na die tyd het hulle Hom gedank.

Die eerste leier van die familie was Mattathias. Na sy dood is hy opgevolg deur sy seun Judas. Judas is opgevolg deur sy broers Simon en Jonathan. Die boek 1 Makkabeërs vertel die volledige geskiedenis van die “Makkabeër-familie” (al die broers) terwyl die boek 2 Makkabeërs hoofsaaklik handel oor Judas die Makkabeër. Die familie was leiers in Israel van 167 vC tot 63 vC. Dit was die tyd tussen die Ou en Nuwe Testamente.

Dit wat in hierdie tydperk sou gebeur, is lank voor die tyd aan die Profeet Daniël geopenbaar. Daniël 8, 10 en 11 verwys na die ontstaan van die Griekse Ryk en hoe dit later in vier verdeel sou word. Alexander die Grote, koning van Masedonië, het in ‘n kort tydjie ‘n groot gebied verower, maar sy ryk het ook net ‘n kort tydjie geduur. Na sy dood is sy ryk deur sy vier generaals onder mekaar verdeel en het elkeen van hulle ‘n deel gekry om oor te regeer. Die generaal wat Babilonië gekry het se naam was Seleucus I en die generaal wat Egipte gekry het se naam was Ptolemaeus I. Die ander 2 generaals (wat nie in die Bybel genoem word nie) was Lysimachus wat Thrakië gekry het, en Kassander wat Masedonië gekry het. In Daniël 11 word daar gepraat van die “Koning van die Noorde” en die “Koning van die Suide”. Die Koning van die Noorde was die regeerder van Babilonië en die Koning van die Suide was die regeerder van Egipte. Die oorloë tussen die konings van die Noorde en Suide het 200 jaar geduur en Israel was in die middel daarvan vasgevang.

Een van die konings van die Noorde, Antiochus IV Epiphanes, was ‘n tipe van die Antichris en het die tempel in Jerusalem onteer. Sommige Israelse leiers in Judea wou graag die Griekse lewenswyse hul eie maak en die Griekse gode aanbid. Antiochus IV Epiphanes was ingenome hiermee en het die Israelse godsdiens verbied. Hy het, onder andere, die skatte van die tempel gesteel en varke op die altaar geoffer. Hy het ook beveel dat die Israelse volk offers aan afgode moet bring, varkvleis moet eet en dat besnydenis met die dood strafbaar sal wees. Dit het daartoe gelei dat ‘n plattelandse priester (dus ‘n Leviet), met die naam Mattathias, hierteen in verset gekom het. Mattathias se seun Judas se bynaam was Makkabeus en dit is waar die naam Makkabeërs vandaan kom. Die geskiedenis van Mattathias en sy seuns is opgeteken in die boeke 1 en 2 Makkabeërs.

Die twee boeke volg nie op mekaar nie, dit is 2 heeltemal verskillende boeke. Albei word as deuterokanoniek beskou deur die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse Kerke. Protestante en Judaïsme dink nie hierdie boeke behoort in die Bybel te wees nie. 1 Makkabeërs is meer van ‘n geskiedenisboek, daar is nie veel godsdiens daarin nie. 2 Makkabeërs is ‘n godsdiensboek wat ook geskiedenis in het. Ander bronne bevestig dat albei boeke ‘n betroubare weergawe van die geskiedenis gee.

Ten opsigte van 2 Makkabeërs bestaan daar ‘n leerstellige geskil. Die Rooms-Katolieke Kerk het ‘n lering wat bekend is as die “vagevuur”. Na die dood gaan die siele van afgestorwenes na die “vagevuur” om daar gelouter te word. Dit wil sê dit is geredde mense wie se sondes nog nie deur die bieg, voor hulle dood, verwyder is nie. Hierdie siele moet dan gesuiwer word. Die persoon se familie en vriende kan sy verblyf in die “vagevuur” verkort deur gebede en goeie dade. 2 Makkabeërs 12 word gebruik as ‘n bevestiging van hierdie leer.

Daar is interessante inligting in 2 Makkabeërs wat nie in die Bybel voorkom nie. 2 Mak 1:18-36 vertel van hoe die vuur van die altaar, wat voor die ballingskap weggesteek was, verander het in ‘n vloeistof (nafta). In 2 Mak 2:1-8 word vertel hoe die profeet Jeremia die tent en die verbondsark in ‘n grot weggesteek het en die ingang verseël het. Die marteldood van die bejaarde Eleazar, omdat hy geweier het om die varkvleis wat geoffer was, te eet, word verhaal in 2 Mak 6:18-31. Hoofstuk 7 gaan oor ‘n moeder wie se 7 seuns, een na die ander, voor haar oë dood gemartel is. Hulle wou ook nie die geofferde vark eet nie. 2 Mak 12:39-45 vertel die volgende van gebede vir gevalle vegters: On the next day, as by that time it had become necessary, Judas and his men went to take up the bodies of the fallen and to bring them back to lie with their kinsmen in the sepulchres of their fathers. Then under the tunic of every one of the dead they found sacred tokens of the idols of Jamnia, which the law forbids the Jews to wear. And it became clear to all that this was why these men had fallen. So they all blessed the ways of the Lord, the righteous Judge, who reveals the things that are hidden; and they turned to prayer, beseeching that the sin which had been committed might be wholly blotted out. And the noble Judas exhorted the people to keep themselves free from sin, for they had seen with their own eyes what had happened because of the sin of those who had fallen. He also took up a collection, man by man, to the amount of two thousand drachmas of silver, and sent it to Jerusalem to provide for a sin offering. In doing this he acted very well and honorably, taking account of the resurrection. For if he were not expecting that those who had fallen would rise again, it would have been superfluous and foolish to pray for the dead. But if he was looking to the splendid reward that is laid up for those who fall asleep in godliness, it was a holy and pious thought. Therefore he made atonement for the dead, that they might be delivered from their sin.

Dit is die aangehaalde gedeelte in hoofstuk 12 wat vir Rooms-Katolieke die regverdiging vir die leer van die “vagevuur” gee. ‘n Heel ander interpretasie is ook moontlik. Die marteldood van Eleazar en die moeder en haar 7 seuns het in die middeleeue mense se verbeelding aangegryp en hulle is tot heiliges verklaar. Daar is ‘n mening dat Hebreërs 11:35 na hierdie persone se marteldood verwys.

Die Makkabeërs het daarin geslaag om te verhoed dat hulle volk vergrieks. Hulle het die afgodery in Israel uitgeroei. Hulle het, nadat Antiochus IV Epiphanes die tempel ontheilig het, weer die tempel gereinig.

Moet 1 en 2 Makkabeërs in die Bybel ingesluit word? Vir my klink 1 Makkabeërs nie na ‘n Bybelboek nie, maar dit is die moeite werd om gelees te word. 2 Makkabeërs is ‘n perd van ‘n ander kleur. Vir my klink dit na ‘n Bybelboek. As ons Ester insluit in die Bybel, hoekom dan ook nie vir 2 Makkabeërs nie? Die bid vir afgestorwenes in hoofstuk 12 het, ten regte of onregte, gebeur. Beteken dit dat ons dit moet sien as ‘n opdrag of voorbeeld om te volg? Ek dink nie so nie.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is die Boek van Jubileë gesaghebbend?

Ek het so pas die Boek van Jubileë gelees. In Engels. Die boek is ook bekend onder die name Klein Genesis, Apokalips van Moses en nog meer. Die boek word as ‘n gesaghebbende Bybelboek beskou deur Beta Israel (die swart Jode wat oorspronklik van Ethiopië afkom) en die Ethiopiese Ortodokse Kerk. Die oudste en beste manuskripte is vertalings in die Ge’ez taal van Ethiopië.

Die boek word ‘n pseudepigrafiese geskrif genoem. Dit verwys na ‘n ou geskrif, wat tussen omtrent 200 v.C. en 200 n.C. ontstaan het en wat ten onregte aan ‘n bekende persoon toegeskryf is. Dit was die tydperk van die opkoms van die skrifgeleerdes waartydens Judaïsme wetties geword het. Die naam “pseudepigrafies” beteken “onder ‘n vals naam” geskryf. Waar dit op die Ou Testament betrekking het, verwys dit na ‘n Joodse godsdienstige geskrif. Sulke geskrifte moet onderskei word van kanonieke, deuterokanonieke en apokriewe geskrifte.

Oor presies wanneer die Boek van Jubileë geskryf is, kan ons nie seker wees nie. Sommige geleerdes meen tussen 150 en 160 v.C. Dit is geskryf nadat die Ou Testament in Grieks vertaal is (die Septuagint). Die boek self beweer dat ‘n engel dit dikteer het, en dat Moses dit neergeskryf het. Dit het gebeur terwyl Moses op die berg Sinaï was (meer as ‘n duisend jaar voor Christus). Geleerdes dink dat dit in werklikheid geskryf is deur ‘n Fariseër in die tyd van die Makkabeërs.

Dit is interessant hoe die boek ooreenstemming toon met die Bybelboek Genesis. Die manier hoe dit geskryf is, is soortgelyk aan hoe die Bybelboeke geskryf is. Vir die leser klink dit gesaghebbend. Dit voorsien meer besonderhede oor sekere sake wat nie in Genesis is nie, byvoorbeeld die name van die vroue van Bybelse persone.

Die benaming “Jubileë” kom daarvan dat die boek die geskiedenis van Genesis 1 af tot by Moses, interpreteer in veelvoude van sewe. ‘n Jubilee is ‘n tydperk van 7 sabbatsjare of 49 jaar. Die Boek van Jubileë gebruik ‘n heel ander kalender en berekening van tyd as wat Moses ingestel het. Die boek gee die lengte van ‘n jaar aan as 364 dae, volgens die son, en nie die Hebreeuse kalender volgens die maan nie.

Die boek gee ook bykomende inligting oor die engele. Vier klasse engele word genoem. Henog was die eerste skrywer en hy is deur engele geleer om te kan skryf. Die Ethiopiese weergawe vertel dat, voor die vloed van Noag, die kinders van Set en die kinders van Kain vermeng het en reuse verwek het. Ander weergawes volg die Boek van Henog wat beweer dat engele en mense vermeng het en reuse verwek het.

Volgens die Boek van Jubileë is Hebreeus die taal wat in die hemel gepraat word. Dit was die oorspronklike taal van die mensdom. Na die spraakverwarring by die toring van Babel, het Hebreeus verlore gegaan en het die mense net hul eie nuwe tale geken. Gevolglik moes engele vir Abraham leer om Hebreeus te praat en skryf.

Daar is ‘n paar leerstellige probleme tussen die Boek van Jubileë en die kanonieke Bybelboeke. Volgens Jubileë was die gevolge van die Sondeval beperk tot Adam en die diere (die diere het die vermoë om te praat, verloor) Die gevalle toestand van die mens word eerder toegeskryf aan die dade van die gevalle engele voor die vloed.

Die (Ou Testamentiese) wet is op tablette in die hemel geskryf en is vir ewig vas. Die wet word deur engele aan mense geopenbaar. Daar is dus nie profesie of verdere openbaring moontlik nie.

Die Boek van Jubileë het die Islamitiese boek, die Koran, beïnvloed. Dit het dieselfde siening van hoe openbaring plaasvind: Hemelse geskrifte wat deur engele bekend gemaak word. Daar is ooreenkoms tussen Jubileë en Koran oor die rol van Abraham. Die Koran noem Bybelse persone profete, ook vanuit Jubileë. Verskeie ander sake is ook deur die Koran ontleen uit Jubileë.

Die boek maak weinig melding van die Messias en niks belangriks word aan Hom toegeskryf nie. Die Messiaanse ryk sal geleidelik tot stand kom. Soos die mens ten goede verander, sal die natuur ook verander totdat daar ‘n nuwe hemel en aarde is. Dan sal mense 1 000 jaar oud word en na hul liggaamlike dood onsterflik wees in die geesteswêreld. (Daar is dus nie ‘n liggaamlike opstanding uit die dood nie.)

Wat my nogal interesseer is die indeling van die geskiedenis in jubilee tydperke. Kan daar ‘n patroon wees? Sover kon ek nog nie voldoende bevestiging vind dat dit wel so is nie. Nogtans is Daniël se 70 x 7 sewes (=490) gelyk aan 10 jubilee jare van 49 jaar elk.

Die Boek van Jubileë, buiten in Ethiopië, was nog nooit ingesluit by die Bybel nie. Dit is sekerlik nie ‘n Goddelik geïnspireerde boek nie. Die bykomende inligting wat dit bevat, kan nie bevestig word nie.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Moet die boek van Serubbabel in die Bybel wees?

Het jy al gehoor van die boek van Serubbabel? Jy weet, dáárdie Serubbabel, die man aan wie die reg op die koningskap van Dawid gegee is. Daar waar die verloop van die geskiedenis verander het. Die vriend van Koning Darius van die Perse. Die man wat die tempel in Jerusalem herbou het. Daar is ‘n paar dinge omtrent hierdie man wat interessant is.

Ek dink dit is ‘n boek wat saam met die Bybel gelees behoort te word. Die boek van Serubbabel is my naam vir die Derde Boek van Esra, ook bekend as 1 Esdras of 2 Esdras, afhangende van wie praat. Ek sal dit verder 1 Esdras noem want dit begin by gebeure voor die Bybelboek Esra. Die grootste deel van die inhoud van hierdie boek is identies aan gedeeltes in drie ander boeke van die Ou Testament. Die res, dit wat oorspronklik is en slegs in hierdie boek voorkom, gee inligting wat nie in die Ou Testament is nie.

Hoofstuk 1 = 2 Kronieke 35:1 tot 36:21. Dit is van Koning Josia van Juda se dood af tot met die verwoesting van Jerusalem. Hoofstuk 2:1-14 = Esra 1:1-11. Dit handel oor die edik van Koning Kores om die tempel te herbou en die opdrag aan Sesbassar, vors van Juda. Hoofstuk 2:15-26 = Esra 4:7-24. Dit was die eerste poging om Jerusalem en die tempel te herbou en die verydeling daarvan van Koning Kores se tyd af tot Koning Darius se tyd.

Hoofstukke 3 en 4 is oorspronklik. Dit kom slegs voor in die Derde Boek van Esra. Dit vertel hoe Serubbabel ‘n vriend van Koning Darius geword het en gestuur word om die tempel in Jerusalem te herbou. Hoofstuk 5:4-6 is oorspronklik.

Hoofstuk 5:7-73 = Esra 2:1-4:5. Dit is ‘n lys van ballinge wat teruggekeer het na Jerusalem en Juda. Hoofstuk 6 tot 7:9 = Esra 5:1 tot 6:18. Dit vertel van nog ‘n poging om die bou van die tempel te verhinder en van die voltooing van die tempel. Hoofstuk 7:10-15 = Esra 6:19-22. Die viering van die Pasga. Hoofstuk 8:1 tot 9:36 = Esra 7:1 tot 10:44. Die ballinge wat saam met Esra teruggekeer het. Hoofstuk 9:37 tot vers 55 = Nehemia 7:73-8:12. Esra lees die Wet voor.

Die eerste vraag oor Serubbabel is: Wie was Sesbassar, die vors van Juda? In Esra 1 word die taak om die tempel voorwerpe terug te neem na Jerusalem toe opgedra aan Sesbassar. In Esra 5:16 word gesê Sesbassar het die fondamente van die tempel gelê. Daarna word sy naam nie weer genoem nie. Maar verderaan in Esra, word gesê dat dit Serubbabel was wat die tempel se fondament gelê het. In 1 Esdras 6:18-19 word Serubabbel en Sesbassar in dieselfde sin as dieselfde persoon beskryf. Die kort antwoord is, volgens 1 Esdras, dat Sesbassar en Serubbabel dieselfde persoon was.

Die tweede vraag oor Serubbabel is of hy die kleinseun van Koning Jegonja was. Die kinkel in die kabel is in Jeremia 22:28-30 waar die profeet sê Jegonja sal as kinderloos opgeskryf word en sy nageslag sal nie op die troon van Dawid sit nie. In Mattheus 1:12 is Sealtiel die seun van koning Jegonja en die vader van Serubbabel. Maar in Lukas 3:27-28 word gesê Sealtiel was die seun van Neri en die vader van Serubbabel.  Effektief hou die koninklike geslag op by Jegonja – maar die huis van Dawid kan nie ophou voor die Gesalfde nie gekom het nie. Die oplossing lê daarin dat Jegonja die laaste koning uit die nageslag van Salomo was, maar dat Neri, Sealtiel en Serubbabel uit die nageslag van Nathan (Dawid se ander seun) was. Serubbabel was die “kleinseun” van Jegonja in erfopvolging en die kleinseun van Neria uit die bloedlyn van Nathan.

Die derde vraag is: hoekom het Koning Darius van die Perse besluit dat die tempel in Jerusalem herbou moet word? Hoekom het die Persiese konings ‘n goeie gesindheid teenoor die Judeërs gehad? Koning Ahasveros was met Ester getroud en Mordechai het ‘n vertroueling van die koning geword. Koning Kores het opdrag gegee dat die tempel in Jerusalem herbou moet word. Koning Darius het dit bevestig. Koning Artasasta gee aan Nehemia toestemming om die mure van Jerusalem te herbou.

1 Esdras vertel hoe dit gebeur het dat Serubbabel hoë aansien by Koning Darius gekry het. Drie lyfwagte van die koning het debat gevoer na aanleiding van die vraag: “wie of wat is die sterkste?” Serubbabel se antwoord was vir die koning en sy raadgewers die beste en die koning verhef Serubbabel tot “bloedverwant”. Serubabbel vra die koning dat hy die tempel in Jerusalem mag herbou. Die koning gee toestemming.

Hierdie Serubbabel word die vors van Juda en ‘n direkte voorouer van Yeshua, die gesalfde. In hom kom die geslagsregisters van Mattheus en Lukas bymekaar uit. Volgens die kanonieke boeke van die Bybel alleen, is die geskiedenis van Serubbabel nie heeltemal duidelik nie. Uit die deuterokanonieke boek 1 Esdras leer ons meer van hierdie persoon.

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boek van die Opregte – wat daarvan?

Die Boek van die Opregte (ook genoem Die Boek van Jasher) word beskryf as ‘n belangrike geskrif wat betroubaar en feitelik is, dat dit verkeerdelik uit die Bybel weggelaat is en dat die Bybel op twee plekke daaruit aanhaal. Is dit waar of nie?

Daar is eintlik twee boeke met dieselfde naam. Die eerste daarvan (ook genoem Pseudo-Jasher) is in 1751 deur Jacob Ilive uitgegee. Daar is gou vasgestel dat hierdie ‘n vervalsing is en die uitgewer het 3 jaar tronkstraf gekry. Indien jy Die Boek van die Opregte wil lees, maak seker dat dit nie hierdie een is nie.

Die tweede Boek van die Opregte is ook bekend as Sefer ha Yasher en is ‘n Hebreeuse midrash (‘n rabbynse geskrif wat die geskrewe en mondelingse Torah interpreteer). Die eerste uitgawe van hierdie boek was in 1552. Hoewel vertalings van hierdie boek dit beskryf as die “oorspronklike” Boek van die Opregte, is dit nie ‘n aanspraak wat in Rabbynse Judaïsme gemaak word nie. Dit word ook die “antieke” Boek van die Opregte genoem, wat dit wel is.

Van die 1552 uitgawe kan geen afskrif gevind word nie, die oudste bestaande manuskrip kom uit 1625. In die voorwoord word vertel dat die oorspronklike brondokument in 70 n.C. in die verwoeste Jerusalem gevind is. Behalwe vir dit wat in die voorwoord staan, kon geen bewyse gevind word wat dit bevestig nie. Daar is twyfel oor die boek se ouderdom aangesien die name van die lande waar Noag se afstammelinge hulle gevestig het, name is wat eers in die Middeleeue ontstaan het. Rabbi Leon Modena het hom sterk teen hierdie geskrif uitgespreek.

Die boek vertel die geskiedenis van Adam en Eva af tot en met die verowering van die Beloofde Land aan die begin van Rigters. Dele van die boek stem ooreen met wat in die Ou Testament vertel word. Ander dele klink of dit bykomende inligting tot die Ou Testament verskaf. Daar is stellings wat onwaarskynlik klink: sneeu voor die vloed, ‘n wolf wat praat en ‘n elf maande oud baba wat praat. Daar is verskeie plekke waar Jasher en die Ou Testament van mekaar verskil. Die grootse probleem met Jasher is dat daar gedeeltes is wat onbybels is. Ragel praat vanuit die graf met Josef. Dit word deur YHWH verbied. Benjamin praktiseer sterrewiggelary, ook verbode. Gebeure in ander gedeeltes van die boek verskil heeltemal van die Ou Testament.

Die sterkste argument vir die Boek van die Opregte voer aan dat daarna verwys word in die Ou Testament. Daar is twee plekke waar daar na hierdie boek verwys word. Joshua 10:12-13 “Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie?” 2 Samuel 1:18-27 “… dit is geskrywe in die Boek van die Opregte.” Volgens die Ou Testament klink dit of daar wel ‘n boek met die naam “Boek van die Opregte” bestaan het en dat dit selfs ouer as 2 Samuel moet wees. Indien dit so is, is die vraag of die boek wat ons het dieselfde boek is as wat in die Ou Testament vermeld word.

‘n Groter probleem is die vraag of die tekste in die Ou Testament korrek is. En, sowaar as wat padda manel dra, hierdie twee tekste in ons Ou Testament verskil van die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat omtrent 300 jaar voor Christus gedoen is). Ons het al voorheen aangetoon dat die Masoretiese Teks (wat die grondteks van ons vertalings van die Ou Testament is) verskil van die Septuagint en die Oorspronklike Ou Testament wat deur Yeshua (Jesus) en Sy apostels gebruik is.

Verder is die Boek van die Opregte nie deel van die Ou Testamentiese boeke wat in die Septuagint is nie. Dit beteken dat die boek nie in 300 voor Christus bestaan het nie, of andersins dat dit nie as geïnspireerde Skrif beskou is nie.

Die Boek van die Opregte wat tans in omloop is, kan nie gereken word as ‘n belangrike boek nie. Dit mag interessant wees om te lees, maar die leser moet bedag wees op dwalinge daarin. Dit is sekerlik nie feitelik of betroubaar nie. Dit word verder betwyfel of daar na so ‘n boek in die Oorspronklike Ou Testament verwys was.

Hierdie is duidelik ‘n boek wat eerder te doen het met Rabbynse Judaïsme as met die christendom. Dit is slegs die Mormoonse kerk wat die boek erken. Daar is selfs ‘n vermoede dat Rabbi Akiba en die Raad van Jamnia betrokke kon wees by die ontstaan van hierdie boek.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin