Gister se sondes en vandag se sondes

Eens op ‘n tyd was jy jonk en rebels. Toe rebelleer jy teen die establishment van daardie dae. Die hele spul met hulle outydse sienings en met al die onreg wat hulle pleeg. Hoewel jy toe nog jonk was, kon jy onreg op ‘n myl raaksien. Jy kon ook sien wat gedoen moet word om hierdie onreg uit te roei. As jy dit kon sien, hoekom kon hulle nie?

Intussen het die horlosie aangestap. Jy is ouer, jy is wyser, en o wee, jy is nou die establishment. Want jy is ‘n ouer, jy is dalk ‘n onderwyser, jy is ‘n leidende persoon in jou gemeenskap, jy het stemreg en jy stem in verkiesings. Jy het gehelp om die huidige situasie tot stand te bring. Die verantwoordelikheid is joune.

So, hoe het dit toe gegaan met jou rebellie? Is die wêreld nou ‘n beter plek? Is al die onreg toe uitgeroei? Was jou rebellie toe die moeite werd?

Hier, in my omgewing, is daar ‘n omroeper wat gereeld oor die radio dit het teen die verstokte verkramptes. Hy vat hulle gereeld aan oor daardie selfde goed waaroor hy in sy jong dae hulle ook aangevat het. Die probleem is dat die verstoktes van vandag nie meer die verstoktes van gister is nie. Die goed waaroor hy baklei is lankal nie meer omstrede kwessies nie. Another Brick in the Wall is regtig nie meer verbode of ‘n treffer nie. Saambly (onder andere) is nou outyds, dit was ‘n omstrede saak in die jaar toet. Die goed wat in sy jeug warm geskille was, is nou koud.

Dan is daar die blanke anti-apartheid brigade. Eens op ‘n tyd was daar ‘n politieke ideologie wat “apartheid” geheet het. Hulle het gemeen dit is ‘n ideologie van groot onreg en het dit toe hand-en-tand beveg. Toe was hulle dapper stryders teen daardie onreg. Hulle het opgeoffer vir die goeie saak. Maar nou, helaas, bestaan apartheid nie meer nie. Hulle het gewen. Na hulle gewen het, toe weet hulle nie wat nou verder nie. Daar het hulle toe vasgeval. Die arme drommels weet nie wat om nou te doen nie, nou hou hulle maar aan baklei teen die oorlede vyand, apartheid.

Die rebelle wat gewen het, is die establishment van vandag. Hulle dra nou die verantwoordelikheid. In plaas van aan te hou veg teen die verslane vyand, moet hulle kyk na wat hulle vermag het. Die ongeluk is dat die onreg van apartheid vervang is met ‘n groter onreg. Hierdie groter onreg is die resultaat van die blanke anti-apartheid brigade se rebellie. Dit is die vrug van hulle arbeid. Hulle ontken dat daar tans groter onreg gepleeg word en was hul hande in onskuld.

In die wêreld van weleer, was die verkrampte establishment gesien as regs, konserwatief, uit pas en outyds. Hulle was kapitaliste wat nie omgegee het vir hulle medemens nie. Die rebelle was links, liberaal, besorg oor die omgewing en die welstand van die armes en verdruktes. Toe het hulle gewen en aan bewind gekom. Nou is die linkse liberales die nuwe establishment. Doen hulle beter as hulle voorgangers? Die nuwe wêreld wat hulle geskep het, is nog slegter as die vorige wêreld wat hulle beveg het. Daar is meer onreg, daar is minder vryheid, daar is meer verdruktes.

Ons sien dit nou in Amerika, en binnekort, in Europa. Die publiek verwerp nou die links-liberale heerskappy. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Nou doen hulle maar wat hulle voorheen ook gedoen het. Hulle betoog, brand en gebruik geweld.

Wie se skuld is dit dat die wêreld van vandag slegter en boser is as voorheen? Is dit nie juis die oorwinnaars se skuld nie? Maar wat nou as jy weier om skuld te aanvaar? As jy aanhou om te ontken dat jy verkeerd was en steeds is? Wel, dan pak jy die skuld op iemand anders, natuurlik. Dan hou jy aan om te praat van die goed wat lankal verby is en die mense wat lank gelede onreg gepleeg het. Daarom moet die geskiedenis herskryf word, iemand anders moet beskuldig word.

Is dit normaal om nooit te erken dat jy verkeerd was nie? Dat dit altyd iemand anders is wat skuldig is?

“Die vaders het suur druiwe geëet en die tande van die seuns het stomp geword” (Jer 31:29). So het die kinders van Jakob hulleself probeer verontskuldig.

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Kan jy die pyp rook?

Adam Tas (die eerste een) was so gaaf om ‘n dagboek te hou. Daarin vertel hy van hoe hy en sy vriende tabak gerook het. Mens kry die indruk dat die rokery eintlik ‘n kuier was. Daar is ietsie gedrink, kaart gespeel, gesels en natuurlik tabak gerook. Dit was in die vroeë 1700’s.

Die mans van die Boerevolk word dikwels voorgestel as pyprokers. Soveel so, dat vertel word dat Keyser pype spesiaal (in Londen) vir hulle gemaak is. Die meerderheid mans het pyp gerook, die pa’s, die ooms, die neefs. Die president, die generaal en die dominee. Sarel Cilliers het ‘n kalbaspyp gehad, President Paul Kruger het ‘n kromsteel gehad. Ons het ook ‘n paar uitdrukkings in ons taal oor tabak en pype. ‘n Lelike pyp rook, Sal hy die pyp rook?, Stop van myne, Twak praat, Jou twak is nat. Dit sê vir ons dat pyp rook deel van ons kultuur is.

Pyprook was nie net by ons gewild nie, dit was oorsee ook so. ‘n Pyp was gesien as deel van ‘n man se noodsaaklike benodigdhede. Van die duur klerewinkels het ook pype verkoop as ‘n mode item, met ander woorde dat die man cool kan lyk. ‘n Pyp is ook gekies om by jou gesigstruktuur te pas. ‘n Goedgeklede man het ‘n pyp gehad. Beroemde akteurs het poseer met ‘n pyp (Cary Grant, Clark Gable, Tom Selleck). Daar was ook vroulike pyprokers soos Koningin Victoria, Gertrude Stein en Greta Garbo.

Jong mans het begin rook wanneer hulle universiteit toe gaan. Pyprook was iets wat geassosieer is met intellektualisme. Albert Einstein, CS Lewis, Bertrand Russell, Mark Twain, Jacques Cousteau, Henry Mancini was almal pyprokers. Soos Einstein dit gestel het: “I believe that pipe smoking contributed to a somewhat calm and objective judgement in all human affairs.”

Die hele proses van keuse van pyp, keuse van tabak, die stop van die pyp, die aansteek daarvan, die eerste trekke, is alles ‘n ritueel. Vir mense is sulke rituele nuttig om insig te vind en om orde uit chaos (in denke en emosies) te skep. Dit kan ook dien as viering van iets, ‘n sukses wat behaal is. Derhalwe is die pyproker veronderstel om geordende gedagtes en emosies te hê en om 00r goeie oordeel te beskik.

Die rook van ‘n pyp en die rook van ‘n sigaret is twee verskillende dinge.  Die rook van ‘n sigaret is geriefliker. Dis maklik om ‘n pakkie in jou sak te dra, dis maklik om aan te steek, dis maklik om dood te druk as jy klaar is. Die pyproker het sy pyp, sy tabaksak en sy stopgereedskap om saam te karwei. Om te stop en aan te steek vat ‘n rukkie en as jy klaar gerook het, vat dit weer ‘n rukkie om uit te klop en skoon te krap. Met sigarette is daar nie onderhoud betrokke nie. Met die pyp is daar ‘n hele skoonmaakproses en gereelde onderhoud nodig. Pyprook is goedkoper. Hoewel ‘n pyp relatief duur is om aan te koop, is die pyptabak heelwat goedkoper as sigarette. Die pyproker trek ook minder rook in as die sigaretroker. Met ‘n pyp is dit skuif, skuif, trek in (puff, puff, inhale). Met die sigaret is elke trek ‘n intrek.

Dit word vertel dat, in 1964, die Surgeon General van die V.S.A. bevind het dat pyprokers langer leef as mense wat nie rook nie. Daarvolgens blyk dit dat mense wat wel rook, eerder pyp moet rook, aangesien dit ‘n meer gesonde manier is om tabak te geniet. Tabak is ‘n natuurlike produk, ‘n kruie, organies, en eko-vriendelik. Dit help ook teen lastige goggas.

Dit was seemanne wat in die 1500’s tabak in Europa bekend gestel het. Na bewering het hulle vertel dat die rook van tabak help vir honger en dors, dat dit kalmerend is en dat dit ‘n gevoel van vreugde gee.

Onthou ook dat jy 18 moet wees voor jy mag pyp rook en op elke pakkie tabak is al die gesondheidswaarskuwings wat jy  moet lees. Sommige mense beskou rook as ‘n sonde en derhalwe moet jy ook ekstra belasting daarop betaal.

(Foto uit: Gentlemans Gazette, Guide to Tobacco Pipes and Pipe Smoking, 5 March 2014)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Veels geluk, liewe maatjie

Is daar by die Boerevolk enige unieke gebruike ten opsigte van verjaardae? Gebruike of tradisies wat nie onder ander volke voorkom nie, gebruike en tradisies wat deur ons voorouers begin is. As daar is, kon ek dit nie opspoor nie. Dit lyk of ons verjaardae vier op dieselfde wyse as in Engeland en Europa. Die koek met kersies en geskenke aan die een wat verjaar.

Verjaardagviering by klein kindertjies, by tieners en by volwassenes verskil van mekaar. By die kleintjies word maatjies genooi en, behalwe die koek en lekkernye, is daar ook speletjies om almal besig te hou. Dit alles word deur die ouers gereël. Tieners reël hulle eie partytjies met tienermusiek en dans. Afhangende van ouerlike toesig, mag daar ook aktiwiteite wees wat andersins ontoelaatbaar sal wees. Volwassenes se verjaardagvieringe wentel dikwels om ‘n ete. Dit kan ‘n braai wees of ‘n ete vir die genooide familie en vriende.

Die Bybel het nie riglyne oor verjaardae nie. Slegs een verjaardagviering word vermeld, die verjaardag van die Egiptiese Farao in Gen 40:20. Die Bybel se stilswye hieroor is vermoedelik omdat die Bybelse kalender op die maan se siklus bereken is. Die Romeine (ons gebruik hulle kalender) het verjaardae met rowwe partytjies en groot geskenke gevier. Van die vroeë kerkvaders het verjaardagvieringe afgekeur. In die middeleeue het die Europese adel hulle geboorteherdenkings gevier, die gewone mense het die Heiliges se geboortes herdenk. Vandag vier christene oor die algemeen wel verjaardae, hoewel daar sekere godsdiensgroepe is wat dit nie doen nie.

‘n Deurgangsrite is wanneer ‘n indiwidu die status van een ouderdomsgroep verlaat om die status van ‘n ander ouderdomsgroep te betree. Deurgangsrites verskil van een etniese groep na die ander. By ons is byvoorbeeld mondigwording en kerklike “aanneming” sulke rites. By die Boerevolk, was die “aanneming” in die kerk ‘n baie belangrike saak. Sou ‘n jong persoon nie slaag om “aangeneem” te word nie, was dit ‘n groot skande vir die familie. Die eintlike proses was die deurloping van “kategese”. Wanneer dit voltooi was, kon die jongeling “belydenis van geloof aflê”. Hierna was die jongeling ‘n volwasse lidmaat van die kerk.

Nie alle verjaardae is gelyk nie, sommiges is meer belangrik as ander. Wanneer volwassenes ‘n sekere mylpaal bereik, soos om 40 jaar oud te word, is dit ‘n groter geleentheid as sê 39. Daar is ook ander belangriker verjaardae soos aftree-ouderdom (wat ook die oorgang van een status na ‘n ander is) en ouderdomme soos 70, 80, 9o en 100.

Mondigwording is wanneer ‘n jong persoon oorgaan van kind tot volwassene. Die ouderdom van mondigwording word deur die betrokke land se regstelsel bepaal, dit is dus nie ‘n etniese aangeleentheid nie. Om ‘n sekere ouderdom te behaal gee aan daardie persoon sekere regte en verantwoordelikhede. Afhangende van die toepaslike regstelsel kan dit die reg gee om skool te verlaat, of om militêre diens te doen, of om in te stem tot seksuele omgang. Mondige persone mag ook die reg hê om sonder ouerlike toestemming in die huwelik te tree. Hulle mag ook stem in verkiesings, hulle mag alkohol en tabak koop, hulle mag lotery kaartjies koop of hulle mag ‘n bestuurderslisensie kry. Hulle is dan nie meer kinders nie en mag hulle eie besluite neem en kontrakte sluit. Daarmee saam is hulle ten volle aanspreeklik vir hulle dade en moet hulle verantwoordelikheid daarvoor neem. In sommige lande is daar meer as een ouderdom waarop hierdie regte en verantwoordelikhede oorgedra word, byvoorbeeld op 16 een ding, op 18 ‘n ander ding en op 20 die res.

In die dae van die V.O.C. was 25 die ouderdom van mondigwording. Tydens die pionierstydperk was dit van meer belang dat die kinders in staat moes wees om ‘n selfstandige boerdery te behartig. Dit word vertel dat ‘n seun met sy 16de verjaardag ‘n geweer en pyp present gekry het. Meisies was al van 14 af hubaar.

In ‘n groot deel van die wêreld, word verjaardae gevier met ‘n spesiaal gebakte koek waarop iets geskryf is en die persoon se ouderdom aangedui word. Gewoonlik is daar soveel kerse as die persoon se ouderdom, of alternatiewelik ‘n nommerkers. Die persoon wat verjaar moet die kerse doodblaas en ‘n wens maak. Dan is dit gebruiklik om aan die indiwidu wat verjaar, ‘n geskenk te gee wat pas by sy ouderdom. Daar mag ook ‘n heildronk ingestel word. Die stuur van verjaardagkaartjies het betreklik onlangs in gebruik gekom. Vandag word gelukwense ook deur telefoonoproepe en teksboodskappe gestuur.

Partytjies het dikwels ook ‘n tema. Die gaste trek so aan dat dit by die tema pas. Kunstenaars word ook soms gehuur om die partytjie op te vrolik, byvoorbeeld ‘n nar of ‘n orkes.

Daar is heelwat volwassenes wat sê dat hulle nie hul eie verjaardae belangrik ag nie en dit vergeet. Nogtans is dit lekker as jou geliefdes jou verjaardag onthou en jou bederf. ‘n Suksesvolle verrassingspartytjie se geheim is dat die persoon wat verjaar nie daarvan uitvind nie. Verkieslik moet hy die indruk kry dat sy familie en vriende sy verjaardag vergeet het. Die oorgang van teleurgesteldheid na blydskap is iets kosbaars om te beleef.

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Dit maak ‘n sterk man swak en ‘n swak man sterk

Lank gelede het my een oupa ‘n buurman gehad met die naam Gert Briers. Oom Gert het ‘n stooklisensie gehad en was bekend vir sy perskemampoer. Ek het nou nog ‘n botteltjie van sy mampoer uit 1974 (of dit dalk al verslaan het, weet ek nie). My ander oupa het uit sy oorskot druiwe een keer per jaar soetwyn gemaak. Toe ek ‘n jong volwassene was, was dit die “inding” om rooiwyn, whiskey en konjak te drink. Jy moes aanleer hoe om dit te doen, kon jy dit reg doen was jy beskou as iemand met “kultuur”. Het ons, die Boerevolk, ‘n eiesoortige kultuur ten opsigte van alkoholiese drank?

Ons voorsate uit Europa het die maak van wyn en brandewyn in Suidelike-Afrika gevestig. Die eerste wyn is gemaak in 1659. Die Franse Hugenote word ook erken vir hulle bydrae tot die wynbedryf. Die maak van brandewyn is byna so oud soos die maak van wyn. Hoewel wyn en brandewyn die oudste alkoholiese dranke in ons geskiedenis is, is dit van die begin af kommersieël geproduseer. Sodra iets kommersieël gemaak word, is dit nie meer ‘n eiesoortige produk van ‘n sekere etniese groep nie.

Ons voorgeslagte, wat nie wynboere was nie, het die geheim van brandewynstook gebruik om tuisgemaakte drank te maak. (Terloops, die brand in brandewyn is ‘n ou woord vir stook.) In die Kaap word dit witblits genoem en in Transvaal is dit bekend as mampoer. Dit is identies aan Europese vrugteschnapps (onversoet). Is dit waar die uitdrukking “neem ‘n snapsie” vandaan kom?

Mampoer / witblits word gemaak van vrugte wat beskikbaar is. Die mees algemene vrugte is appelkose, kersies, lemoene, pruime, pere, vye en geelperskes. Ek het ook ‘n bottel kareebessie mampoer. Gesinne wat tuisgemaakte brandewyn maak, het hulle eie geheime resepte, vuurmaakmetodes en stookprosedures. Sulke gesinne doen dit al lank en die kuns word van een geslag na die ander oorgedra.

In 1924 het die Kaapse Wijnbouwersvereniging (KWV) ‘n monopolie vir die maak van brandewyn by die staat verkry. Mampoerstokers was toegelaat om steeds hulle produkte te maak, maar hulle mag dit nie verkoop het nie. Hierdie stokers moes by die staat registreer en ‘n lisensie bekom. Die kostes was hoog en boonop het die staat toesig gehou oor mampoerstokers.

In 1982 is die Kultuur Stokers Gilde gestig om die stooktradisie te bewaar en is die oordrag van stooklisensies van vader na seun goedgekeur. Sedert 2007 word mampoerstook wettiglik toegelaat, maar dit mag net verkoop word deur persone met ‘n kommersiële lisensie. Lisensies kos R 1 per jaar. Die lisensie bepaal dat slegs vrugte wat op die plaas groei, gebruik mag word.

Die stookproses behels ‘n paar verskillende prosesse. Eerstens moet die vrugte gis. Die vrugte word fyn gemaak om die gisting te verhaas. In die verlede is beesvel kuipe gebruik om die vrugte in te gis. Deesdae word hout-, sement- of staalvate hiervoor gebruik. Wanneer die vrugte begin gis, word dit warm en dryf dit na bo.

Dan moet die mos getoets word om vas te stel wanneer met stook begin kan word. Daar is drie maniere wat stokers gebruik om te besluit: die borrels in die gistingproses word minder, die mos word geproe of dit oorgaan van soet na suur, die gedrag van insekte word dopgehou. In die algemeen word gesê dat hoe meer suiker daar is hoe meer drank word verkry. Indien dit suur word, word dit asyn.

Na die gisting voltooi is, gaan die mos stookketel toe. Die stookketel is van rooikoper en word in ‘n baksteenoond toegebou. Vuur word in die oond gemaak. Aan die bokant van die ketel is ‘n gat waarin die helm pas. Die helm is verbind aan ‘n spiraalpyp wat in ‘n afkoelvat, waarin koue water sirkuleer, afgaan. Damp vergader in die helm en spiraalpyp, waar dit kondenseer en in ‘n opvangemmer inloop.

Die eerste stooksels wat opgevang word, het ‘n lae alkoholinhoud en word die voorloop genoem. Dit is vol onsuiwerhede. Wanneer die vloeistof helder pêreltjies begin vorm met die uitloop, is die produk reg vir verdere verwerking. Die hartgedeelte in die eerste stook word eenkant gehou vir die oorhaal, die tweede stookproses. Die naloop is wanneer die alkohol begin flou word. Verskillende stooksels se hartgedeeltes word gemeng om die produk en sterkte te verkry wat die stoker verlang.

In die ou dae was die alkohol gemeet deur ‘n stukkie vet in te gooi. Wanneer dit sterk genoeg was, het die vet bo die vloeistof uitgesteek. Deesdae word alkoholtoetsers gebruik.

Brandewyn, en dus ook mampoer, word tradisioneel erken vir sy gesondheidseienskappe. Dit gee glo verligting van verkoue, griep, sinus en maak die asemhalingstelsel oop. Dit help ook vir spysvertering en is ‘n bloedverdunner. Daar is nie preserveermiddels in mampoer nie.

Mampoer word gestook vir die liefde van die saak en die behoud van ons eie volkskultuur. Die stokers bring hulle kant, is dit dan nie ons plig om hulle te ondersteun nie? So wanneer jy volgende keer ‘n kultuurgeleentheid het, vergeet die rooiwyn en skink ‘n snapsie.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Uit met die oue, in met die nuwe

Alle mense wat kalenders het, vier die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar. Wat mense sonder kalenders doen, weet ek nie. Die wat wel kalenders het, het nie dieselfde kalenders nie en gevolglik word nuwejaar nie wêreldwyd op dieselfde dag gevier nie. Ons gebruik die Romeinse kalender en die Romeine het besluit die ou jaar eindig op 31 Desember en die nuwe jaar begin op 1 Januarie, vir wat dit werd is.

In die vroeë jare van die Boerevolk, was die viering van Nuwejaar belangriker as die viering van Kersfees. Die maniere waarop Nuwejaar in Europa gehou is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. ‘n Ander faktor in hoe die fees gevier was, was die Boerevolk se godsdienssin, sobere lewenswyse en die ylbevolkte binneland.

Aanvanklik is Nuwejaar gevier met ‘n militêre parade en kerkdiens. Eers van 1698 af, het dit in Kaapstad die gebruik geword om met middernag kanonskote, geweervuur en vuurwerke die Nuwejaar in te lei. Op die platteland was Nuwejaarsdag ‘n gesinsdag met ‘n feesmaaltyd.

Om goeie wense vir die nuwe jaar oor te dra, is ‘n gebruik wat reeds deur die Romeine gedoen is. By ons voorouers was dit die gebruik om Nuwejaarskaarte uit te stuur aan vriende en familie. Die kaartjie is met die hand uitgeskryf en persoonlik afgelewer. ‘n Tipiese Nuwejaarswens was: “Baie heil en seën in die nuwe jaar”. Meer onlangs is gedrukte kaartjies gestuur wat goeie wense vir beide Kersfees en Nuwejaar oordra. Ek vermoed die meeste mense stuur deesdae hulle goeie wense boodskappe elektronies.

Die Boerevolk het in vroeër jare geskenke op Nuwejaar, nie Kersfees nie, gegee. Geskenke is nie net aan familie en vriende gegee nie, maar ook gegee aan nie-blanke werknemers.

Vuur en geraas met die oorgang na die nuwe jaar, word teruggevoer na oud-Germaanse gebruike. Vir die Germane was vuur ‘n simbool van nuwe lewe en is groot vure gemaak om “die son te help”. Lawaai moes bose geeste verdryf sodat hulle nie die nuwe jaar kon bederf nie. Die rondgooi van vuurballe was uit Nederland afkomstig. Ou lappe is in bondels gebind, in lampolie gedoop, aan die brand gesteek en die lug ingegooi. In groter dorpe en stede is lawaai gemaak deur op blikke te slaan en gillend en skreeuend deur die strate te hardloop. Vandag word toeters geblaas, klokke gelui, en fluite geblaas wanneer die horlosie oorslaan na die nuwe jaar. Die gebruik om vuurwerke te skiet word hewig teengestaan deur dierebeskermingsgroepe.

Dit was ook gebruiklik om kwajongstreke op Oujaarsaand aan te vang. Op Oujaarsnag moes die werf skoon en netjies wees want dan loop bose geeste rond om kwaad aan te rig.

Die oudste gebruik by die Boerevolk was om Oujaarsaand as ‘n gesinsfees te vier. Dit was ‘n Nederlandse tradisie wat ook hier nagevolg is. Met die “sit die oujaar uit” is die tyd tot middernag verdryf met speletjies en lekkernye. Wanneer geskenke nie met Kersfees gegee word nie, word dit op Oujaarsaand gegee.

Een van die twee unieke inheemse gebruike is die Boeredans op Oujaarsaand. By die dans is daar ‘n Boereorkes wat Boeremusiek maak. Kenmerkend van Boeremusiek is die speel van die konsertina. Die vrouens het gesorg vir melktert, tertjies, en allerlei ander gebak. Sterk drank sal ook beskikbaar wees. Die volgende dag, Nuwejaarsdag, was ‘n dag vir piekniek, Boeresport en perderesies.

Die ander inheemse gebruik is om die jaarsoorgang kerklik te vier met middernagdienste. Die middernagdiens is ‘n mensgemaakte tradisie en is nie gegrond op ‘n Bybelse voorskrif nie. Die diens strek gewoonlik vanaf die laaste gedeelte van die ou jaar tot die eerste deel van die nuwe jaar. Daar was ook ‘n plegtige aflees van die name van almal wat in die ou jaar oorlede is. By die geleentheid word gelowig teruggekyk na die afgelope jaar en met vertroue uitgesien na die komende jaar.

Baie etniese groepe verloor hulle eie tradisies en gebruike voor die aanslag van internasionalisme, ons ook. Die handlanger van internasionalisme is televisie. Hierdie aanslag raak ook ons feeste en ons maniere van feesvier. Dit is hoofsaaklik plattelandse gebiede wat nog bestand is hierteen en waar eiesoortige gebruike nog gehandhaaf word.

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk en Kersfees

Die viering van Kersfees onder die Boerevolk is nie baie oud nie en daar is ook geen eie tradisie daaromtrent nie. Dit het eers laat in die negentiende eeu inslag gevind, veral as gevolg van Duitse en Engelse invloed. Aanvanklik was dit suiwer ‘n kerklik-godsdienstige fees sonder uiterlike vertoon. Tot omstreeks 1825 was Kersfees ‘n gewone werksdag en is die dag stil by die huis deurgebring.

Engeland het in 1834 Kersfees amptelik erken. Die Calvinistiese kerke in Suidelike-Afrika het die voortou geneem om Kersfees en die geboorte van Christus amptelik erken te kry. In 1865 het die ZAR en in 1891 het die Vrystaat Kersfees amptelik erken. Vir ‘n ruk was dit die gebruik om Kersfees as Nagmaal te vier. Op sommige plekke is pieknieks gehou. Dit het ook ‘n gesellige gesins- en familiefees geword.

Die kersboom het uit Duitsland na die res van Europa versprei. In Engeland het dit in 1841 gewild geword. In 1855 is die eerste kersboom in Kaapstad opgerig. Die Afrikaanse kerke het die kersboom van 1888 af begin goedkeur, hulle het nie ‘n probleem met die boom of geskenke gehad nie, wel met Kersvader.

Die gee van kersgeskenke was algemene gebruik onder Engelssprekendes in Suidelike-Afrika. Die Boerevolk het op Nuwejaar geskenke gegee, nie op Kersfees nie. Dit was in ooreenstemming met die gebruik in verskillende Europese lande.

Die kersmaal het in 1890 gewild geword by Afrikaanssprekendes. Op plekke was daar ook perderesies, skyfskiet en vuurwerke op die dag voor Kersfees. Die sing van kersliedere en die stuur van kerswense is twee ou Engelse gebruike. Die eerste kerskaartjie dateer uit 1846 in Engeland. Die eerste Afrikaanse kerskaartjie verskyn in 1916. In 1949 het “Kersliedere by kerslig” uit Australië oorgewaai. Dit is aanvanklik deur die kerke afgekeur. Vandag is daar ‘n hele bedryf vir kersfeesmusiek.

Aanvanklik het die Afrikaanse kerke hulle verset teen Kersvader / Sinterklaas. Vandag is Kersvader oral te vinde. Die kerskous het nie onder die Boerevolk navolging gekry nie.

Vandag is daar drie verskillende Kersfeeste: die kerklik-godsdienstige model, die heidense model en die geldmaak model. Al drie is dikwels ineengestrengel.

Onder die Boerevolk is die kerklik-godsdienstige Kersfees nog steeds die belangrikste en daar word steeds kerkdienste op kersdag gehou. Die Boerevolk het geen eie tradisies en gebruike omtrent Kersfees nie. Alles is die navolging van gebruike in Westerse lande soos Duitsland, Brittanje en Amerika.

Kerklik-godsdienstig is nie sinoniem met Christelik of Bybels nie. Daar is natuurlik geen regverdiging uit die Bybel vir Kersfees of die vier van Christus se geboorte nie. Dit is ‘n mensgemaakte instelling waarmee simboliese betekenis gegee word aan gebruike en voorwerpe wat ook ander betekenisse kan hê.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die bou van Hoofrifweg

800px-main_reef_roodepoortIn die tydperk 1890 tot 1896 in die Zuid-Afrkaansche Republiek, kon geen Boer, Hollander of Duitser werk kry by die myne of by die Engelse aan die Rand nie. Pas aangekome Uitlanders kon ‘n beter bestaan maak as Boere omdat hulle geskoold was, Engels kon praat en ‘n beter aanvoeling vir die bedryfslewe gehad het. Werkloses van die Boerevolk het verwag dat die regering hulle moet help aangesien hulle burgers van die land was.

In 1896 het ’n ekonomiese ramp ’n groot deel van Suidelike-Afrika getref. Dit is veroorsaak deur die runderpes (die Nederlandse woord vir beeste is “runderen”). ’n Jong veearts van Switserse afkoms, dokter Arnold Theiler van Pretoria, is deur president Kruger geraadpleeg oor stappe wat geneem kon word om die runderpes te bestry. (Theiler was ’n Transvaalse burger wat in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg het). Die Transvaal was te groot en dit was moeilik om effektief op te tree. In April het runderpes in ’n swart gebied in die Marico-omgewing uitgebreek. Binne ’n paar maande het dit deur Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie versprei. Die verliese was enorm. Twee-derdes van die Transvaalse veestapel is binne maande verloor. Die verlies van soveel beeste, wat baie mense se enigste bron van rykdom was, het baie veeboere swaar getref.

Net die volgende jaar, 1897, was daar ‘n ekonomiese insinking. Die Boere aan die Rand is besonder hard getref. Teen 1897 was die vraag na arbeid versadig en werkgewers het die lone van hulle werkers verlaag. Kapitaalinvloei uit Europa het afgeneem of is onttrek. Selfs die geskoolde Uitlanders het gesukkel om werk te kry. Werkloosheid het ‘n krisis geword.

In Augustus 1897 is die Rand Hulp Komitee gestig. Hulle besluit op die bou van Hoofrifweg (ook bekend as Main Reef Road) sodat arm Boere werk kan kry. Die mense was gretig om te werk, hulle was stiptelik, hulle het nie siekverlof misbruik nie. Binne ‘n jaar is bykans 48 kilometer voltooi. Die projek moes gestaak word met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899.

‘n Ander projek van die Rand Hulp Komitee was om openbare washuise op te rig om werk aan vroue te voorsien. Die ZAR volksraad het 2 morg grond in Braamfontein beskikbaar gestel. Die projek kon nie uitgevoer word nie weens die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

Die Sendingsusters van die kerke het gekonsentreer op die uitdeel van kos en klere en het ook Sopkombuise in 1898 gestig. Ongelukkig het hulle nie die probleem werklik verstaan nie en het nie werkverskaffing as oplossing gesien nie.

Privaat firmas het probeer om Boereseuns as bodes te gebruik, maar dit het misluk. Volgens hulle was die seuns “badly educated, practically useless, utterly unreliable”. ‘n Soortgelyke poging deur die Engelse aan die Rand om Boeremeisies as diensmeisies te gebruik het ook misluk: “they knew more about inspanning oxen than about domesticity”.

Dit is op hierdie treurige noot wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Dit was die begin van die armblankevraagstuk wat vir dekades voortgeduur het.

Hier het die Boerevolk hulle eie land gehad met hulle eie regering en hulle eie staatsbestel. Die volk het verwagtinge van hulle regering gehad en die regering het verantwoordelikhede teenoor die volk gehad. Was die ZAR-regering sosialisties? Ek is nie ‘n ekonoom nie, maar vir my klink dit nie sosialisties nie. Die regering het ‘n komitee aangestel om die probleem aan te spreek. Die ZAR-regering (en vermoedelik die publiek) het middele aan die komitee voorsien om te kan optree. Die komitee het die oplossing in werkskepping gesien, nie in die gee van korttermyn hulp nie.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerebruilof

proposal-of-marriage-1724676_960_720In wese is die huwelik ‘n kontrak tussen ‘n man en ‘n vrou waarin hulle plegtige beloftes aan mekaar maak. Hierdie beloftes is lewenslank en handel oor getrouheid en saamstaan in alle omstandighede. Die huwelik is die tweede van die drie groot lotsgebeurtenisse (geboorte, huwelik en dood) in elke mens se lewe. Die proses van die huwelik sluit in hofmaak, verlowing en huwelik.

Die tipiese huwelik van vandag is grootliks volgens die Britse tradisie (of is dit Hollywoodtradisie?), dit is dan ook hierdie tradisie wat in tydskrifte bespreek word. Die Oud-Germaanse huwelik was heelwat anders, byvoorbeeld die bruid sou ‘n groen (teken van vrugbaarheid) rok dra. Die huweliksfees sou drie dae duur en iewers tydens die fees sou die bruidspaar aankom. Hulle het ook nie ‘n formulier gehad nie.

Eers was daar die Oud-Germaanse huwelik, toe het dit verchristelik en daarna het dit ‘n Nederlandse karakter gekry. Die huwelik wat van Nederland na die Kaap gebring is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. Die Boerebruilof is daardie gebruike, seremonies en tradisies wat deur die Boerevolk ontwikkel is tydens die pionierstydperk.

‘n Jong kêrel kon na sy aanneming (in die kerk) begin kuier. Meisies het van omtrent 14 jarige ouderdom “oor die onderdeur begin loer”. Daar was verskeie bygelowe en gebruike om vas te stel wie die meisie se “toekomstige deel” sal wees. Jongmense het mekaar leer ken by feesdae, verjaarsdae, nagmaal, pieknieks en Saterdagmiddae. Die ouers van die jongmense het ook belang gestel in die toekomstige skoonfamilies, want ‘n huwelik bring ‘n bloedband tot stand.

As ‘n jongman sy ouers se goedkeuring het, kan hy begin om ‘n sekere meisie se hand te verower. Tussengangers is gebruik om “die water te toets”. Die meisie se gesin (nie syself nie) wag die vryer in en laat hom tuis voel. Hy moet dan hulle toestemming kry om met haar te gesels. Die ouers het vroeg gaan slaap terwyl die paartjie “opsit”. Die ouers het deur die gebruik van die “opsitkers” probeer sorg dat die vryery nie hande uitruk nie. Die jongman het gekyk vir tekens of die meisie van hom hou en of daar mededingers is.

‘n Meisie was hubaar as sy al die take van ‘n boervrou kon doen. ‘n Jongman moes al selfstandig geword het en ‘n eie boerdery kon behartig. Albei ouerpare moes toestemming gee (“ouersvra”) dat die paartjie verloof kan word. Hulle moes skriftelike “consent” kry. Die moeder van die meisie het eerste gehoor en sy moes die vader dan voorberei. Die vader het dan die kêrel ondervra en die leviete voorgelees. Die verlowing het geduur vanaf “consent” tot die huwelik. Die “gebooie” is vir drie Sondae afgekondig in die kerk. Die doel daarmee was dat die algemene publiek kan kennis neem en besware indien. Die kêrel moes persoonlik aan die naaste bloedverwante die nuus gaan oordra. Die kêrel moes op die naaste dorp “die kaart” gaan haal om die meisie se vinger te meet vir die ring. Die verlowing was ‘n ernstige saak en die verbreking daarvan net so ernstig as egskeiding.

Aanvanklik was die troudag Sondae. Daar was strooimeisies, blommemeisies, hofknape en seremoniemeesters. Die bruidsrok was volgens die heersende mode, die bruidegom het ‘n manelpak gedra. Die troukoek was ‘n drielaag vrugtekoek. Die bruid se familie sit links in die kerk, die bruidegom se familie aan die regterkant. Aanvanklik het die bruid op die arm van die bruidegom die kerk ingekom, later op die arm van die strooijonker en nog later op die arm van haar vader. Na die lees van die huweliksformulier is die trouring aangesteek.

Op plase was die bruilofstoet ‘n skouspel met ‘n orkes op ‘n wa en ‘n vlagryer. Sarsies skote is in die lug afgevuur. Daar was ook ‘n ereboom en blomme. Na die feesmaal was daar ‘n dans. Indien daar nie gedans word nie, is daar speletjies gespeel. Behalwe ‘n bruidskat het gaste ook geskenke gebring. Die Wittebrood was onbekend voor die 20ste eeu.

‘n Wewenaar kon na 3 maande hertrou en ‘n weduwee na 5 maande. Egskeidings het min voorgekom.

Volgens die Nederlandse tradisie was die huwelik ‘n burgerlike saak met kerklike inseëning opsioneel. Volgens die Britse tradisie is die huwelik ‘n staatsaangeleentheid en kan slegs ‘n staatsaangestelde bevestiger huwelike voltrek (dit sluit predikante in). Die Boererepublieke het die Nederlandse tradisie gevolg. Later het die staat die huwelikswet ingestel.

Voorhuwelikse seks is nie gesien as ‘n huwelik nie, maar die ouers en gemeenskap het vereis dat verantwoordelikhede nagekom moet word. Wanneer ‘n man en vrou saamgewoon het asof hulle getroud is, was dit ‘n redelike afleiding dat hulle wel getroud is volgens die gemene reg. Hulle is dus getroud geag, al het hulle nie formeel in die kerk of voor die magistraat getrou nie.

Omdat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis is, is die keuse van ‘n lewensmaat een van die heel belangrikste besluite wat iemand kan neem. Daarom is van jongs af daaroor gedink, gepraat en gedroom.

Waar geboorte die begin van iemand se lewe is, is die huwelik die begin van ‘n gesin. Indien jy ‘n kind sou vra: “Wat gaan jy eendag word as jy groot is?” Dan was die antwoord: “‘n pappa of ‘n mamma”. Van kleins af is kinders voorberei vir die huwelik en die gesinslewe. ‘n Kind se toekoms was nie sy beroep nie, dit was sy gesin.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wat is in ‘n naam?

65cf6508740529f3c69c37181e412405Volgens die woordeboek, beteken die woord naam twee dinge: (1) dit dui ‘n saak of persoon aan en (2) dit dui bekendheid of reputasie aan. Ons kan ook sê dit identifiseer en onderskei.

Eeue gelede het kinders name gekry wat iets beteken het. Die ouers het met die naamgewing ‘n wens uitgespreek dat die kind mag wees soos sy naam is. So beteken Hendrik “heerser oor die tuisland”. In die Bybel het name ook betekenis. Jonatan beteken “Jahweh het gegee”. Die naam minderheidsverslag beteken ook iets. Ons volk is ‘n minderheid, ons taal word deur ‘n minderheid gepraat en die Bybel word deur ‘n minderheid gelees. Dan volg ekself nie die hoofstroom nie en is ek ‘n minderheid van ‘n minderheid!

Sommige mense voel sterk daaroor dat ons volk se naam Afrikaners is. Ander voel sterk dat ons Boere genoem moet word. Ek het groot geword met die begrip dat Afrikaner en Boer sinonieme is – albei name verwys na dieselfde groep mense. Hierdie meningsverskille het my laat besluit om vas te stel watter naam volkskundig korrek is. Met ander woorde, watter naam beskryf ons as behorende tot ‘n spesifieke kultuurgroep.

My woordeboeke beskryf Afrikaner as iemand wat deur geboorte of afstamming Afrikaans is – bedoelende afstam van Nederlanders, Duitsers en Hugenote. Daar is ook Afrikaner-Nasionalisme, ‘n ideologie wat eiesoortig aan Afrikaners is.

Boer word beskryf as ‘n lid van die Afrikanervolk of as Suid-Afrikaner van Hollandse afkoms. Boer word ook gekoppel aan ander name soos Boerboel, boerebeskuit, boerebedrieër, Boerehater, boeremusiek, boerematriek, boereraat, boerewysheid, Boeretaal, Boerevrou. Hierdie woorde verwys na ‘n sekere kultuurgroep.

Daar word gesê dat boer na landbou verwys. Byvoorbeeld, boerewors is tuisgemaakte plaaswors en word onderskei van slagterswors. Dit mag lank gelede so gewees het, nou is dit nie meer so nie. Boerewors word onderskei aan sy resep en bestanddele. Die produk se ontstaan is eie aan ons volk en word na ons vernoem. ‘n Boerehater is iemand wat Suid-Afrikaners van Hollandse afkoms haat. Boererate en Boerewysheid is kennis wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Dit is ook onderdele van ons volkskunde.

Uit ‘n volkskundige oogpunt is Boer en Boerevolk die korrekte naam vir ons. Afrikaner is eerder ‘n politieke en taalkundige benaming.

 

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin