Die gratis Afrikaanse Bybel: die PWL

Foto: Pad van Waarheid tot die Lewe

Drie jaar gelede het iets ongewoons met my gebeur. Ek het uit die bloute ‘n tablet as ‘n geskenk ontvang. Ek het nie geweet wat om daarmee te doen nie. In die proses van soek na ‘n nut vir hierdie toestel, het ek gaan kyk of dit vir Bybelstudie gebruik kan word. So het dit gebeur dat ek Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) ontdek het. Dit het toe pas verskyn.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe is ‘n Afrikaanse vertaling van die Heilige Skrifte wat sedert 2015 beskikbaar is. Die Kopiereg behoort aan die Lewende, Skepper God. Hierdie Bybel is gratis en mag nie verkoop word nie. Soos dit hoort. Verder is dit ‘n letterlike vertaling uit Hebreeus en Aramees in Afrikaans. Dit bevat, nes die meeste ander Afrikaanse vertalings, slegs die 66 kanonieke boeke.

In die afgelope drie jaar het ek hierdie nuwe vertaling van begin tot einde deurgewerk. Ek wou slegs die teks bestudeer. Ek het van verklarings gebruik gemaak om my verstaan van die teks te kontroleer. Ek het die beste verklarings wat ek kon kry gebruik. Hierdie verklarings is in Engels en die verklaarders gebruik die mees gerespekteerde Engelse vertalings van die Bybel. Hierdie manier van werk sou, indirek, ook verskille met die PWL kon uitwys.

Wat met die eerste oogopslag vreemd is, is dat die spelling van name anders is. Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) het die Hebreeuse en Aramese name getranslitereer. Derhalwe is Kain en Abel nou Kayin en Hevel, Abraham is Avraham, Moses is Moshe, Johannes is Yoganan, Paulus is Sha‘ul, ensovoorts. Jesus se regte Naam is Y‘shua (uitgespreek as Yeshua). Die standpunt van die PWL is dat sy naam ‘n persoon se karakter verteenwoordig en dus betekenis het. Die herstel van die oorspronklike name was om die betekenisse van name duideliker te maak.

Dit mag wees dat daar mense is wat nie God se eienaam ken nie. In die PWL word dit uit respek in die Hebreeuse skrif geplaas. Dit is die naam YAHUAH, wat dikwels uitgespreek word as Yahweh, met die betekenis EK IS, WAS, SAL WEES WIE EK IS, WAS, SAL WEES. Die Hebreeuse Eloha/Elohim word in die PWL vertaal as “Godˮ.

Dit is van groot belang om te vra watter bronne vertalings gebruik. Die Massoretiese Teks (MT) is die algemene bron vir die meeste moderne vertalings van die Ou Testament. Die nadele van die MT is dat dit eers in die elfde eeu na Christus voltooi is, dat dit foute bevat en dat die Joodse rabbi’s wat dit opgestel het, veranderings aan Messiaanse profesieë gedoen het. Gelukkig is die Oorspronklike Ou Testament nog voor die geboorte van Christus vertaal in Aramees en Grieks. Hierdie vertalings gee ‘n indikasie van wat die teks van die Oorspronklike Ou Testament was. Ek het ‘n aantal Nuwe Testamentiese aanhalings uit die Ou Testament ondersoek en gesien hoe die MT die teks verander het. Die PWL is in hierdie opsig meer akkuraat.

Die grootste verskil tussen die PWL en ander vertalings is die bronne wat vir die Nuwe Testament gebruik word. Die oorgrote meerderheid vertalings is uit Grieks vertaal. Die PWL is vertaal uit Aramees. Daar word gemeen dat die Aramese bronne meer betroubaar is omdat Aramees die skryf- en spreektaal van Jesus en die Apostels was. Daar word verder geglo dat die Aramese bronne ouer en meer betroubaar as die Griekse bronne is. Ek het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die idee dat die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf was, word hoofsaaklik in die Westerse kerke gehuldig.

Verskille in die vertaling van die Ou Testament begin by Genesis 1:1. In die oorspronklike Hebreeus is daar nie die woord “die” in “in die begin” nie. Die “die” is vir taalkundige redes ingevoeg. “In begin”, soos die PWL dit vertaal, dui aan dat dit nie die begin van alles was nie, maar eerder dat dit vir God self die begin van ‘n nuwe tydperk was. Met die ballingskap is die gebruik van Hebreeus deur Israel vervang met die gebruik van Aramees. Die vermoede is dat die boeke wat na die ballingskap geskryf is, oorspronklik in Aramees (nie Hebreeus nie) geskryf is.

In die Nuwe Testament is die naam Here/Heer vervang met die Hebreeuse YHWH (in Hebreeuse skrif). Idiome is letterlik vertaal. Die woord “geloof”  is vervang met “vertroue”. Die verduideliking is dat geloof is om te weet, maar vertroue is om te doen. “Heilig” word vervang met “afgesonderd”, “geregtigheid” word vervang met “reg volgens die wet” (onskuldig), “dissipel” word vervang met “studentevolgeling”, ensovoorts.

Die vertalingsverskille is dus nie as gevolg van swak vertaling nie, maar is doelbewus en na deeglike oorweging gedoen. Vir my is dit verfrissend. As ons dieselfde woorde by herhaling hoor, raak ons afgestomp en word dit geykte woorde en uitdrukkings. Wat beteken “genade” nou eintlik? Is “onverdiende guns” nie beter nie?

Ek het ook die kritiek van die akademikus Professor Chris de Wet gelees. Ongelukkig is dit nie ‘n evaluasie van die PWL nie maar ‘n aanval op die PWL, die vertaler en die gebruikers van die PWL. Ek is oortuig dat elke werk wat tot eer van Yeshua is, teenstand uitlok. Vir my is die aanval ‘n bevestiging dat die PWL op die regte pad is.

Daar is verskeie ander vertalings van die Bybel in Afrikaans. Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) is in 1933 gedoen en in 1953 hersien (Bybelgenootskap). Dit is ‘n letterlike vertaling. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) is in 1983 gedoen en is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling (Bybelgenootskap) . Die Boodskap het in 2002 verskyn (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n parafrase. Die Nuwe Lewende Vertaling het in 2006 beskikbaar geword (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling. Die Bybel vir Almal het in 2008 uitgekom (Bybelgenootskap). Blykbaar in eenvoudige Afrikaans.  Die Bybel: ‘n Direkte Vertaling is in proses van vertaling en sal blykbaar in 2020 verskyn (Bybelgenootskap). Dan het die Jehovah Getuies hulle eie Nuwe Wêreld-Vertaling. Daar is ook die Dogter van Sion se Boek van Herinnering. Die meerderheid lê die klem op die verstaanbaarheid in moderne Afrikaans en nie die getrouheid aan die teks nie.

My behoefte is aan ‘n letterlike vertaling. In Engels is daar ‘n paar vertalings wat ek al gebruik het, maar dan moet ek woordeboeke byderhand hou. Die PWL het aan my behoeftes voorsien en ek is tevrede daarmee. ‘n PWL-AOV parallel Bybel sal vir my interessant wees.

Die PWL is beskikbaar in verskillende formate. Dit is ingesluit op verskeie elektroniese Bybelstudie hulpmiddels. Daar is ook gedrukte Bybels gratis beskikbaar. Volle besonderhede is op die PWL-webwerf.

Daar is organisasies soos die Gideons en Geopende Deure wat gratis Bybels versprei. Daar is ook elektroniese weergawes van sommige vertalings wat gratis is – mits dit slegs vir persoonlike gebruik is.  Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) is nie net gratis vir eie gebruik nie, maar is ook gratis vir wyer gebruik. Nog meer: die PWL verbied die verkoop van hierdie vertaling, dit mag slegs gratis versprei word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Om die Bybel te lees

Prent vanaf: Jesus se Kindertjies Blog

Voor die uitvinding van die drukpers (deur Johannes Gutenberg in 1440) was boeke met die hand geskryf en gekopieer. Daar was nie baie boeke nie, min mense het boeke besit, die belangrikste boeke was geskryf in Latyn, Grieks en Hebreeus. Die Heilige Skrif was nie algemeen beskikbaar nie en kon nie deur gewone mense gelees word nie. Die drukwese het vir die eerste keer die Heilige Skrif beskikbaar gestel in ‘n formaat waarin dit rondgedra kon word en op enige plek gelees kon word. Die volgende stap was om dit te vertaal in die Europese volkstale. Dit alles het daartoe gelei dat gewone mense die Bybel kon lees in hulle eie taal en kon sien hoeveel die kerk van die waarheid afgewyk het. Dit is hoe Protestantisme ontstaan het en hoe daar weggebreek is van die Roomse Kerk.

Die Heilige Skrif, ook bekend as die Bybel, was onlosmaaklik deel van die Boerevolk se geskiedenis. Elke huis het minstens een Bybel gehad, soms was dit die enigste boek in die huis. Dit was daagliks gelees tydens Boekevat en ook gebruik om kinders te leer lees en skryf. Die Bybel was met die Groot Trek in die wakis, op kommando was die Bybel in die saalsak.

Mense wat ‘n verhouding met Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) het, het die behoefte om Hom beter te ken en verstaan. Die Bybel is die boek waarin jy kan lees Wie Hy Is, wat Hy al gedoen het en wat Hy nog gaan doen.

Die Bybel is ‘n dik boek met baie bladsye. Die lees van die Bybel is ‘n formidabele taak. Dit maak dat mense na ‘n makliker uitweg soek, ‘n opsomming, ‘n video of so iets. Ongelukkig is daar nie ‘n maklike uitweg nie, die lees van die Bybel verg dissipline, toewyding en deursettingsvermoë. Elke indiwidu moet self besluit of hy daarvoor kans sien. As jy nie vir Yeshua ernstig opneem nie, waarom moet Hy jou ernstig opneem? As jy die Bybel net oppervlakkig ken, ken jy vir Yeshua ook oppervlakkig, en mag Yeshua ook net oppervlakkig in jou belangstel. Wat jy insit bepaal wat jy uitkry. Daar is nie plek vir ligsinnigheid nie, dit is ‘n ernstige saak. Indien jy wel ernstig is met Yeshua, sal jy bereid wees om opofferings te maak vir Hom. As die lees van die Bybel vir jou moeilik is, sal jy moet plan maak, vasbyt en deurdruk.  Jy sal daarby baat.

Wat bedoel word met die lees van die Bybel is dat jy by bladsy een begin en dat jy alles lees tot by die laaste bladsy. Die hele Bybel moet gelees word, nie net hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie nie. Dit wat jy Sondag in die kerk hoor, is net kort gedeeltes van die Bybel. Dit wat jy by jou Bybelstudie hoor is ook net gedeeltes van die Bybel. Hierdie dele wat jy hoor mag van waarde wees, maar dit vervang nie dat jy die Bybel self moet lees nie.

Wanneer jy deur die Bybel blaai, sal jy sien dat daar hoofstukke en verse is. Dit was nie in die oorspronklike manuskripte nie en is later bygevoeg om soek en verwysings makliker te maak. Somtyds is dit in ooreenstemming met die teks, maar nie altyd nie. Sommige Bybels het opskrifte in die teks as hulpmiddel tot die inhoud. Hierdie dinge kan nuttig wees, maar is nie noodwendig korrek nie. Elke boek in die Bybel het sy eie struktuur. Dit is nodig om op te let dat daar verskillende onderwerpe binne dieselfde boek kan wees.

Die boeke wat in die Bybel is, volg nie noodwendig chronologies op mekaar nie. Die Ou Testament  het eers geskiedenisboeke, dan wysheidsboeke en laastens profetiese boeke. Die Nuwe Testament het eers geskiedenisboeke, dan omsendbriewe en laastens ‘n profetiese boek. Hierdie indeling is mensgemaak en jy hoef dit nie na te volg nie. Waar daar in die Ou Testament twee boeke met dieselfde naam is (bv. 1 Samuel en 2 Samuel), beteken dit dat dit oorspronklik een boek was en moet dan as een boek gelees word. Waar daar in die Nuwe Testament twee verskillende briewe met dieselfde naam is, beteken dit nie dat dit na mekaar geskryf is nie, of dat dit oor dieselfde onderwerp handel nie, dit beteken dat die briewe aan dieselfde mense gerig is.

Die inhoud van die Bybel strek oor ‘n lang tyd. Daar kon honderde jare verloop het tussen een gebeurtenis en die volgende gebeurtenis. In die verloop van hierdie geskiedenis het baie dinge verander. Taal kon verander het, skrif kon verander het. Omstandighede het verander. Kultuur kon verander het, mense en volke het verander.

Die Bybels wat ons gebruik is vertaal uit antieke tale wat nie meer gebruik word nie. Daar is twee tale betrokke by ‘n vertaling: die antieke taal waarin geskryf is en die moderne taal waarin gelees word. Daar is verskillende vertaalmetodes en gevolglik verskil vertalings van mekaar. Een vertaalmetode probeer die oorspronklike taal so akkuraat moontlik vertaal en dit word ‘n letterlike vertaling genoem. Die klem val op die oorspronklike taal. Ek is bekend met twee sulke vertalings: die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van 1933/53 en die Pad van Waarheid na Lewe (PWL). ‘n Ander vertaalmetode word ‘n ekwivalente vertaling genoem en probeer om die vertaling meer verstaanbaar te maak. Die klem is op die moderne taal. Twee voorbeelde is die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van 1983 en die Nuwe Lewende Vertaling (NLV). Die vertalers gebruik nie noodwendig dieselfde brondokumente nie en dit kan ook tot verskille tussen vertalings lei.

Daar is ‘n verskil tussen die lees van die Bybel en die bestudering van die Bybel. Om net die Bybel te lees vat nie so lank nie. Een berekening sê daar is 929 hoofstukke in die Ou Testament, indien jy net 3 hoofstukke ‘n dag lees kan jy in 10 maande klaar wees. Om die Bybel deeglik en intensief te bestudeer, sal ‘n paar jaar neem. Indien jy vir die eerste keer die hele Bybel aanpak, sal dit beter wees om net te lees.

Wanneer jy die hele Bybel vir die eerste keer deurlees, sal dit goed wees as jy jou vorige kennis van die Bybel kan vergeet. Alles sal vars en nuut wees. Dit sal ‘n avontuur wees om dinge uit te vind wat jy nie voorheen geweet het nie. Jy sal ook uitvind dat dinge wat jy voorheen nie verstaan het nie, nou sin maak. Dit sal ‘n goeie fondament wees waarop jy dan kan voortbou. Wanneer jy die Bybel ‘n tweede keer deurlees, gaan jy vind dat jy baie leer wat jy die eerste keer gemis het. Elke keer wat jy die Bybel deurwerk ontdek jy iets nuuts en opbouend. Met die eerste deurlees, probeer om niemand te raadpleeg oor die betekenis van wat jy lees nie, probeer net om in te neem wat geskrywe is.

Daar is vreeslik baie verskillende interpretasies van die Bybel. Daar is ook baie verdraaiings en baie dwalinge. Dit is hoofsaaklik so omdat die Bybel nie in konteks gebruik word nie. Hoe lees mens binne konteks? Jy interpreteer nie een vers op sy eie nie. Wanneer jy ‘n teks lees, neem jy die vers voor en die vers daarna in ag. Jy moet ook let op die paragrawe voor en na die vers wat jy lees. Jy moet ook die vorige en volgende hoofstukke in gedagte hou. Daar is vier beginsels wat gevolg moet word: wat is die letterlike betekenis van die gedeelte, wat is die agtergrond (die gebeure, wie praat en wie moet luister), taalgebruik en deur dit met ander gedeeltes (wat oor dieselfde saak handel) te vergelyk. Neem ook die kultuur van die tyd in berekening.

Die grootste gedeelte van die Bybel moet letterlik verstaan word. Wanneer dit nie letterlik verstaan moet word nie, sal dit duidelik uit die teks self blyk. Sommige dinge kan nie letterlik beskryf word nie, dan word daar figuurlike taal gebruik. Om beelde en simbole te herken is belangrik, selfs al verstaan jy nie dadelik wat dit beteken nie. Dit is nie God se bedoeling dat ons nie moet verstaan wat Hy aan ons bekend wil maak nie. Wanneer ons ernstig is om Hom te verstaan, sal Hy ons daarmee help.

Daar is ‘n paar benaderings tot die verstaan van die Heilige Skrif wat vermy moet word. Rasionalisme verhef geleerdheid of wetenskap tot die finale gesag by die verstaan van die Bybel. Mistisisme verhef mistiese ervarings (geestelike belewenisse) tot finale gesag en bykomend tot die Bybel. Kerklikheid verhef die kerk tot enigste vertolker van die Skrif en ag kerklike besluite bykomend tot die Skrif. Die moderne neiging is om te sê dat die Bybel deur mense geskryf is en dat dit feilbaar is.

Ons Protestantse voorouers het die Sola Scriptura beginsel nagevolg. Die Bybel is die onfeilbare Woord van God, die oorspronklike geskrifte is deur die Heilige Gees geïnspireer en is die finale gesag in lering en praktyk.

Dit is die Boerevolk se erfenis.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Waar kom witmense vandaan?

Almal weet dat Adam die eerste mens was en dat alle mense van hom afstam. Maar alle mense stam ook van Noag af. Genesis 7:21-23: Alle vlees wat op die aarde beweeg: die voëls, die vee, alle lewende en kruipende diere wat op die aarde wemel en al die mense is dood. Alles wat die asem van die gees van lewe in sy neusgate gehad het, alles wat op die oppervlak van die grond was, is dood. Al die lewende wesens wat op die aarde was, is vernietig; die mens, sowel as die vee, die kruipende diere en selfs die voëls van die hemel; hulle is afgevee van die aarde af en net Noag en die wat saam met hom in die ark was, het oorgebly. (PWL-vertaling).

Noag het drie seuns gehad. Alle mense op aarde stam dus van Noag se drie seuns af. Genesis 10:1: Hierdie is die nageslag van die seuns van Noag: Shem, Gam en Yefet; daar is vir hulle seuns gebore ná die vloed. (PWL). Dan volg die Volkelys waarin die name van die drie seuns se kinders gegee word, waar hulle gewoon het en watter volke uit hulle ontstaan het. Dit was nie breedvoerige inligting nie, maar dit was genoeg om sekere afleidings te kon maak. Dit was die stand van sake tot betreklik onlangs toe. Sedertdien is daar groot vordering met navorsing hieroor gemaak en is daar nou groter sekerheid oor watter volke en tale uit hierdie seuns voortgekom het.

Die Bybel handel in hoofsaak oor die nageslag van Sem. Een van sy nakomelinge was Heber (of Ever) uit wie die Hebreërs stam. Hy was ‘n voorouer van Abraham. Abraham se nageslag sluit die Israeliete en Arabiere in. Gam se nageslag sluit die Egiptenare en Ethiopiërs in. Jafet word beskou as die vader van die Indo-Europeërs.

Jafet het sewe seuns gehad uit wie verskillende volke ontstaan het. Genesis 10:2-5: Die seuns van Yefet was: Gomer, Magog, Madai, Yavan, Tuval, Meshekh en Tiras. Die seuns van Gomer was: Ashkenaz, Rifat en Togarmah. Die seuns van Yavan was: Elíshah, Tarshish, die Kittiërs en Dodaniete. Vanuit hierdie is die streke van die nasies verdeel in hulle lande, elkeen volgens sy taal, volgens hulle families, volgens hulle nasies. (PWL). Uit die verspreiding van Jafet se nageslag ontstaan daar ‘n redelik duidelike prentjie van hoe een gesin oor die jare heen vermeerder het. Jafet se afstammelinge het hulle gevestig aan die noordelike kant van die Middellandse See, die hele Europa, die Britse eilande, Skandinawië en die grootste deel van Rusland. Dieselfde familie het hulle ook in Persië en tot in Indië gevestig. Geïsoleerde groepe van dieselfde mense het blykbaar ook verder Ooswaarts, tot in Japan, beweeg.

Die verdeling van Jafet se nageslag in twee groepe het baie vroeg gebeur. Albei groepe het Jafet se naam in hulle oorlewerings bewaar. Die Grieke, byvoorbeeld, voer hulleself terug na ‘n voorvader Japetos. Japetos is ook deur die Grieke beskou as die vader van die mensdom. Die Indiese tak van hierdie familie het hulleself ook teruggevoer na dieselfde man. In die Indiese weergawe van die vloed staan Noag bekend as Satyaurata, hy het drie seuns gehad en die oudste se naam was Jyapeti. Noag se profesie was dat God Jafet sou uitbrei (Genesis 9:27). Die afstammelinge van Jafet het aanvanklik vermeerder en versprei ten koste van Sem en Gam se nageslagte.

Die verwantskap tussen al hierdie volke uit Jafet word bevestig deur die tale wat hulle praat. Die Nederlander Marcus Zuerius van Boxhorn was die eerste om ‘n verwantskap tussen uiteenlopende tale voor te stel. Hy het Latyn, Russies, Persies en Turks bestudeer. Die Engelsman Sir William Jones het ooreenkomste in die vier oudste tale wat toe bekend was, opgemerk. Dit was Latyn, Grieks, Sanskrit en Persies. Aanvanklik het vakkundiges die groep tale “Indo-Germaans” of “Aries” genoem. Later is die naam verander na Indo-Europees. Die gemeenskaplike voorouerlike taal word Proto-Indo-Europees (PIE) genoem.

Die Indo-Europese taalfamilie sluit die volgende groepe in: Anatoliese tale, Indo-Iranse tale, Grieks, Italiese tale, Keltiese tale, Germaanse tale, Armeens en Balto-Slawiese tale. Daar is ook Indo-Europese tale wat spoorloos verdwyn het. Indo-Europees bestaan uit twee subgroepe: ‘n Satem- of ‘n Kentumgroep. Die groepe is vernoem na die woord vir 100: centum in Latyn (as ‘kentum’ uitgespreek) en satem in Avesties. Oor die algemeen is die “oostelike” tale Satemtale (Indo-Irannees, Balto-Slawies), en die “westelike” tale Kentumtale (Germaans, Italies, Kelties). Voorbeelde van Satemtale is Hindi, Persies en Russies. Voorbeelde van Kentumtale is Grieks, Spaans en Duits.

Die meeste gesproke Europese tale behoort tot die Indo-Europese familie. Daar is ook tale wat nie daaraan behoort nie. Voorbeelde is Hongaars, Estnies en Fins. Die Baskiese taal is ongewoon in die sin dat dit nie aan enige bekende lewendige taal verwant is nie.

Jafet se oudste seun, Gomer, word beskou as die voorvader van die Kelte (Galasiërs, Walliesers ens.). Sy seun Askenas (sy tweede naam was Tuizo die Reus) word gesien as die voorvader van die Germane. Die name Scandia en Skandinawië is afkomstig van Askenas, terwyl die name Duits/Diets afkomstig is van Tuizo. Die naam Sakse kom glo ook van Askenas. Gomer se seun Rifat (of Difat) word verbind met ‘n bergreeks wat moontlik die Oeralgebergte (in Rusland) kan wees. Daar word gemeen dat hy die vader van die Kelte was. In die tyd van Esegiël die Profeet het die nageslag van Togarma in die verre Noorde gewoon. Hulle word beskryf as bondgenote van Tubal, Jawan, en Meseg. Togarma word verbind met die stad Tegarama in Anatolië.

Magog was Jafet se tweede seun. Sy naam word in Esegiël genoem en verbind met Meseg en Tubal. Magog word gesien as die voorvader van die Skittiërs, ‘n nomadiese volk van ruiters wat op die steppe tussen die Swartsee en Kaspiese See gewoon het. Artefakte van hulle is in Oekraïne en Suid-Rusland gevind.

Jafet se derde seun was Madai. Hy was die voorvader van die Mede. Die hedendaagse Koerde sien hulleself as afstammelinge van Madai. Die Mede was bondgenote van Persië (Wet van Mede en Perse) en het Noord van Persië (hedendaagse Iran) gewoon. Die Perse was ook afstammelinge van Jafet.

Jawan was die vader van Elisa, Tarsis, die Kittiërs en die Dodaniete (Rodaniete). Jawan is die voorvader van die Grieke. Die naam Ioniërs is afkomstig van die naam Jawan. Die naam Elisa kan moontlik verband hou met name soos Lusitanië en Lissabon (Portugal). Tarsis word verbind met die stad Tarsus in Silesië. Daar word gemeen dat hulle ‘n tweede stad Tartessos in suidelike Spanje gestig het. Die Kittiërs word verbind met Siprus en ander eilande in die oostelike deel van die Middellandse See.Daar was ‘n stad met die naam Kittion in Siprus. Dodan (Rodan) word verbind met die eiland Rhodes en twaalf ander eilande aan die kus van Anatolië. Mense met ‘n soortgelyke naam was ook deel van die Seevolke.

Tubal word verbind met Tabal, ‘n streek in Anatolië. Hulle bure was die Mushki, wat verbind word met Meseg. Een groep het later noordwaarts en ‘n ander groep het weswaarts verhuis. Hulle gebied was bekend as Iberië en stem ooreen met die hedendaagse land Georgië, wie se hoofstad Tbilisi is. Hierdie groep is vandag moontlik ‘n deel van die Russiese volk. Die westelike groep het hulle gevestig in die Iberiese skiereiland in Spanje.

Meseg se nageslag was bekend as die Mushki of Moshki. Hulle het eers in Anatolië gewoon as bure en bondgenote van Tubal. Later het Meseg en Tubal se afstammelinge saam noordwaarts getrek. Meseg het hulle toe in die hedendaagse Rusland gevestig en was bekend vir hulle wreedaardigheid. Daar word gemeen dat die stad Moskou na hulle vernoem is.

Jafet se jongste seun was Tiras. Daar word vermoed dat hy die voorvader van die Tirasiërs (Thrasiërs) was. Tiras se nageslag kon ook die Minoïese beskawing op die eiland Kreta gevestig het. Die Tirasiërs het rooi velle gehad en hulleself getatoeëer. Hulle het ook ‘n eiesoortige kultuur gehad. Die beskrywing van die Tirasiërs, die Kretensers, die Illiriërs en die Pikte van Skotland is soortgelyk.

Ons sien dus dat die meeste afstammelinge van Noag se seun Jafet wit velle gehad het. Die Europeërs stam van Jafet af. Die Boerevolk stam ook van Jafet af.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wie nie wil hoor nie, sal voel

Hoeveel keer moet dieselfde boodskap herhaal word voordat dit gehoor word? Hoeveel keer moet iemand skree “brand” voordat die mense daarop reageer? Is eenkeer nie genoeg nie?

As iemand die straat afhardloop en skree “vlug, vlug, die Filistyne is op ons!” is dit mos voldoende waarskuwing. Die wat gehoor het en nie gevlug het nie, het die ramp oor hulleself gebring. Hoekom het hulle nie reageer nie? Die persoon wat geskree het, het sy plig nagekom. Hy het sy bes gedoen om almal te waarsku.

So gaan dit met die Boerevolk vandag. Wie weet nog nie van die plaasmoorde nie? Wie weet nog nie van onteiening sonder vergoeding nie? Wie weet nog nie van die grootskaalse armoede onder blankes nie? Wie weet nog nie van die aftakeling van ons taal en kultuur nie? Wie weet nog nie van die volksmoord op blankes nie? As daar regtig iemand is wat niks hiervan weet nie, wat meer kan gedoen word om dit aan hom te vertel?

Daar is mense wat dit wel gehoor het, maar hulle ontken dat dit so is. Hoe is dit moontlik? Kan dit wees dat hulle nie familie en vriende het wat op plase woon nie? Het hulle nog nooit ‘n toevlugsoord vir blankes besoek nie? Ken hulle niemand op skool of universiteit nie? Niemand wat graag ‘n vakleerlingskap wil doen nie? Besoek hulle nie museums en monumente nie?

Dan is daar die wat nie wil weet nie want hulle wil graag “gematig” wees. Die hoofstroommedia behoort aan die staat of groot korporasies en hulle het ‘n vyandige agenda ten opsigte van ons. Hulle beeld mense wat van hierdie dinge praat uit as ekstremiste. Dit is effektiewe intimidasie. Daar is mense wat bang is om ‘n ekstremis genoem te word. Hulle vrees veroorsaak dat hulle aandadig is aan die leuens wat versprei word. Ondervinding leer dat gematigdes altyd die vyand ondersteun en hulle eie mense verraai.

Die slegte nuus is dat alles wat genoem is die werklikheid is. Om die ore toe te druk, laat dit nie weggaan nie. Om te bang te wees om ‘n standpunt in te neem, verander niks nie. Die nog slegter nuus is dat al hierdie verskrikkinge ook by die ontkenner se adres gaan uitkom. Binnekort. Daar is nou nog tyd om voor te berei, om jou en jou huis so goed as wat binne jou perke is te beskerm. Daar is nog tyd om jou familie en vriende in te lig. Al ontstel dit jou, kan jy nou nog iets doen. As jy bang is, is daar nog tyd om dapper te word.

Dan is daar mense wat dit uit kwaadwilligheid ontken. Hulle vind dit goed dat daar ‘n volksmoord moet wees, hulle wil ons uitroei. Ons praat nie van vreemdelinge nie, ons praat van ons eie mense. Vriende, familie, kollegas. Mense wat wil hê dat ons as ‘n volk moet ophou om te bestaan. Dit is mense wat hulle eie mense haat.

Wanneer die Oomblik van Krisis kom, gaan die wat voorbereid is nie net hulleself help nie, hulle gaan ook probeer om ander te help. Hierdie mense wat bereid is om ander te help, gaan mense help wat hulle ken. Omstandighede sal so wees dat dit nie moontlik sal wees om almal te help nie. Hulle gaan ook dubbel versigtig moet wees om onbekendes te help, want onder hulle mag daar vyande wees. Maak dus nou al seker dat jy die mense om jou ken, wie is vriende en wie is vyande. Die wat nou nie wil weet wat aan die gang is nie, moet daarop let dat hulle heel moontlik as vyande geïdentifiseer kan word. Die luukse van onpartydigheid gaan nie bestaan nie.

Hierdie situasie waarin die Boerevolk verkeer, dien as ‘n voorbeeld vir die situasie waarin die volgelinge van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) verkeer. Wie het nog nie die boodskap van redding gehoor nie? Is dit moontlik dat daar tussen ons mense is wat dit nog nie gehoor het nie? As daar is, laat ons hulle dadelik besoek en vertel.

Hoe gemaak met die wat nie wil hoor nie? In Matteus 10:14 gee Yeshua die opdrag: Wanneer iemand julle nie ontvang en nie na julle boodskap luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. (PWL-vertaling). Hulle het een kans gehad om te hoor, as hulle nie wou nie het hulle daardie kans verbeur. Niemand loop agter hulle aan en smeek hulle om te luister nie.

Paulus het as Apostel by ‘n vreemde stad aangekom, die evangelie verkondig, die wat geglo het as ‘n gemeente gevestig en vertrek (dikwels uit die stad gedryf). Dit alles het hy reg gekry in ‘n paar weke of maande. Met sy vertrek was alles verkondig wat verkondig moes word en was alles gedoen wat gedoen moes word. (Vandag sal ‘n predikant of sendelinge baie jare op een plek bly en nog nie klaar wees met die verkondiging van die evangelie nie). Dikwels is daar vir mense net een kans om te hoor en daarop te reageer.

Wat maak dat mense volstrek weier om inligting te ontvang? Gratis inligting. Waarskynlik omdat jy, wanneer jy ingelig is, ‘n keuse moet maak. Die maak van ‘n keuse is ontstellend. Mense verkies inligting waarvoor hulle betaal en wat nie van hulle verwag om te kies nie. Dit is vermaaklikheid. Vermaaklikheid sus jou en hou jou in ‘n toestand van gemak. Geen wonder dat sommige kerke eerder vermaaklikheidsentrums is nie.

Dan is daar die wat omgee oor wat mense van hulle sê. Om te hoor en te verander mag maak dat jy vriende verloor, dat daar oor jou geskinder word, dat mense met jou spot. Dis jou keuse. Wat is die belangrikste? Lewe of dood, waarheid of leuen? Jou keuse gaan jou behoud of jou ondergang wees.

Daar is mense wat ‘n gees van teenstand het. Hulle is die vyand. As jy aan Yeshua behoort, soek hulle jou ondergang.  Ek dink nie hulleself weet hoekom nie. Sodra hulle van Yeshua hoor ervaar hulle ‘n gevoel van wrewel en teenstand.  Yeshua sê in Johannes 15:20: Onthou die boodskap wat Ek vir julle gebring het: ‘Daar is nie ‘n slaaf wat groter is as sy meester nie.’ As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My boodskap gehoorsaam het, sal hulle julle s’n ook gehoorsaam.

Sommige volgelinge van Yeshua word ook ekstremiste genoem.  Of fundamentaliste, of dwepers. Dit is nou daardie volgelinge wat nie net godsdiens beoefen nie, maar vir wie Yeshua alles is. Hoe belangrik is dit wat mense sê? Jou keuse, jou lewe.

Wat sê ons vir mense aan wie die boodskap oorgedra is, maar wat dit nie ingeneem het nie? ‘n Boodskap hoef net eenkeer oorgedra word, niemand kan dieselfde boodskap tot in lengte van dae oor en oor bly herhaal nie. Daar is ‘n volgende boodskap wat wag om afgelewer te word. Ons kan nie net op een plek bly stilstaan nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

God se Toorn is onafwendbaar

Ons gebruik nie gereeld die woord  “toorn” nie. Ons word gereeld kwaad, ons word woedend, maar ons word nie dikwels toornig nie. Ons gebruik “toorn” so min, dat ons nie presies seker is wat dit beteken nie.  “Toorn” is ‘n sterk verontwaardiging wat veroordeling en wraak tot gevolg het. Die persoon wat toornig is, voel dat hy met reg toornig mag wees en dat die persoon wat hom toornig gemaak het, verdien om gestraf te word.

Die woord  “toorn” kom ook in die Bybel voor. Daar word gepraat van die Toorn van God. Ten opsigte daarvan is daar goeie nuus en slegte nuus. Die slegte nuus is dat mense wat God se vyande is, die volheid van Sy toorn sal ontvang. Die goeie nuus is dat diegene wie deur Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) gered is, nie net die toorn sal vryspring nie, maar die volheid van Sy vryspraak sal ontvang. Dit is soos die twee kante van dieselfde munt. Twee persone sal saam wees, een gaan die Toorn van God vryspring, die ander gaan God se wraak en woede ontvang.

Die persone wat in die regte verhouding met die Gesalfde is, wag op God om op te tree teen Sy vyande – gevalle mense en gevalle engele. Dan sal geregtigheid geskied, dan sal boosheid vernietig word. Soos Psalm 5:8-11 dit stel: HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg. Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ‘n oop graf; hulle maak hul tong glad. Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U. Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.

In Openbaring 5:1-4 lees ons hoe Johannes geween het: En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Wat was in die boek geskrywe? Dit beskryf die Dag van die HERE, wanneer Sy toorn oor die mensdom gaan kom. Waarom ween Johannes? Die Dag van die HERE kan nie plaasvind nie. Want die boek is geslote. Eers as die boek oopgemaak is, kan die Toorn van God begin. Johannes sien uit daarna dat God Sy toorn moet uitgiet.

Die moderne Westerlinge (christene en nie-christene) vind die Toorn van God ontstellend. Hulle meen God is onverdraagsaam, wreedaardig, onregverdig en altyd kwaad. Veral in die Ou Testament. Baie kerke sien God in die Nuwe Testament as sagmoedig, liefdevol en verdraagsaam teenoor alle mense. Deur wat God van Homself openbaar te ignoreer en hulle eie interpretasie van Sy karakter te maak, tree hulle op asof hulle God se meerderes is en oor Hom kan oordeel. Die mens dink God is aan hom verantwoording verskuldig! Baie kerke verkondig ‘n oppervlakkige sentimentele evangelie waarin alles om die mens draai. Kerke wil die wêreld ter wille wees, hulle wil polities korrek wees, hulle wil graag aanvaarbaar wees vir die heersers van die wêreld en wil tred hou met die tydsgees. Dit is ‘n vals evangelie wat deur valse leraars verkondig word.

God is heilig, dit beteken Hy is afgesonderd, Hy is anders. Hy is nie ‘n mens nie en Hy is nie soos ‘n mens nie. Hy is ver verhewe bo Sy skepping en Sy skepsels. Sy skepsels het in sonde verval en van Hom vervreemd geraak. God distansieer Homself van sonde, boosheid en korrupsie. Dit is nie hoe Hy is nie. Hy is in alle opsigte rein en verwerp alles wat onrein is. Hy is liefde, maar Sy liefde is nie die liefde van die vlees nie. Hy verwerp alles wat Sy heiligheid, Sy reinheid en Sy liefde aftakel en aanval. Sy reaksie daarop is ontevredenheid, verontwaardiging, woede en toorn. Die gevolge van Sy toorn is wraak, straf en dood. Daar is geen ruimte vir onderhandeling nie. Diegene wat nie daarvan hou nie, wat nie daarmee saamstem nie, wat dit wreed en onverdraagsaam vind, het geen invloed by God nie. Dit wat hulle dink en sê is van geen belang nie en gaan nie die werklikheid verander nie.

God het ‘n ewige en absolute afkeur in alles wat strydig is met Sy persoon en karakter. Hy het ‘n afsku in onreg, onwaarheid en onreinheid. Wanneer mense onreg pleeg, is hulle strafbaar. Wanneer mense leuens en valsheid toepas, is hulle strafbaar. Wanneer mense immoreel lewe, is hulle strafbaar. Hulle slagoffers is geregtig daarop dat God toornig moet wees.

Die gevalle wêreld word regeer en beheer deur gevalle mense wat in opstand teen God is. God se Toorn is teen hulle gerig. Matteus 24:4-13 gee vir ons ‘n voorbeeld van die wêreld waarin ons leef: En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

God is ook nie verdraagsaam teenoor mense wat volgens die vlees lewe nie – al is hulle ook christene. Galasiërs 5:19-21: En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

Vir die mense wat hulle liefde, hoop en vertroue op Yeshua die Gesalfde stel, is die Toorn van God reeds afgehandel. Op Golgota. Die gevalle toestand van die mens, die sondes wat deur alle mense gepleeg is en die boosheid van die mensdom is deur God gestraf. Sy eise is nagekom en Sy reg is gepleeg. Yeshua, die onskuldige, het die straf wat ons moes ontvang namens ons gedra sodat ons, die skuldiges, onskuldig verklaar kon word.

Die straf van Yeshua was fisies en geestelik. Sy fisiese lyding was erg, maar Sy geestelike lyding was erger. Jesaja 53:5: maar Hy is deurboor vir ons oortredinge van die wet, Hy is vergruis vir ons onregverdighede; die tugtiging was op Hom sodat dit goed kan gaan met ons en deur Sy kastyding is ons genees. (PWL-vertaling).

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Onveranderbare Getuienis

Behalwe vir Johannes, is al die Apostels dood voor die vernietiging van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. Hulle was ‘n unieke groep mense wat Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) persoonlik geken het, eerstehandse getuies van Sy woorde en dade was, spesifiek deur die Heilige Gees toegerus is om gemeentes (die Vergadering van Uitgeroepenes) tot stand te bring, en is as Yeshua se verteenwoordigers uitgestuur in al die windrigtings in om die getuienis van verlossing te lewer.

Wat het gebeur na hulle dood is? Wie het die Apostels se werk oorgeneem? Hoe is die redding wat Yeshua bewerk het verder bekend gemaak? Daar is kerke wat glo dat daar ‘n opvolging van die Apostels was, maar dit is volgens hulle selfgemaakte tradisie. Die Apostels het wel ouderlinge in die plaaslike gemeentes aangestel, maar hulle is nie Apostels genoem nie en het ook nie die werk van Apostels gedoen nie. Hierdie ouderlinge was reeds volwassenes toe hulle, nog voor die dood van die Apostels, aangestel is. Hulle moes dus in die eerste eeu geleef en gesterf het. In die tweede eeu het daar nuwe leiers gekom. Die Apostoliese Vaders was leidende ouderlinge en skrywers. Hulle word so genoem want hulle het, toe hulle nog kinders was, van die Apostels persoonlik geken. Die Apologete was skrywers wat valse leerstellings en kettery bestry het. Hulle was goed belese en het ‘n belangrike funksie verrig.

Daar was ‘n gaping van etlike jare tussen die Apostels en die Apostoliese Vaders. Die Apostels het dus nie menslike opvolgers gehad nie. Die Heilige Gees het iets anders in gedagte gehad: die Nuwe Testament. Die Apostels en hul medewerkers het hul herinneringe op skrif gestel. In 2 Petrus 1:14-15 gee die Apostel die rede waarom hy die brief skryf: omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.

Daar is verskriklik baie godsdienstige geskrifte geskryf in die tyd na Yeshua die Gesalfde se hemelvaart. Net 27 van hulle word in die Nuwe Testament ingesluit. Waarom net hierdie 27, waarom nie die ander ook nie?

Die kerk wil graag die krediet daarvoor neem dat hulle die “kanon” (die 27 boeke) saamgestel het. Hulle het nie. Die aanvaarding en verwerping van godsdienstige geskrifte het lank voor die ontstaan van die kerk (in 325 n.C.) plaasgevind. Die amptelike kerklike “kanon” was eers in 397 n.C. Voor die ontstaan van die kerk was daar net plaaslike gemeentes en elkeen het sy eie besluite geneem. Dit was eintlik as gevolg van ‘n groep ketters dat daar onderskei moes word tussen die baie geskrifte wat in omloop was.

Soos die Apostels gewaarsku het, het dit nie lank geneem voor valse profete en valse leraars hulle verskyning gemaak het nie. Gnostisisme het in die eerste eeue na Christus baie volgelinge gehad en het tot ‘n magtige beweging ontwikkel. Later het die kerk dit tot kettery verklaar en onderdruk. Gnostiese Christene het nie ‘n eie kerkorganisasie gehad nie, hulle het binne die bestaande christelike gemeentes gebly. Hulle godsdiens beskouing was dat mense goddelike siele is wat in ‘n stoflike wêreld vasgevang is. Gnostici het geglo dat die stoflike wêreld deur ‘n bose skeppergod geskep en oorheers word. Daar bestaan ‘n ander, hoër God, wat die goeie beliggaam. Maar hy is moeilik om te ervaar want hy het ‘n onkenbare natuur. Om jou van die stoflike wêreld te bevry benodig ‘n mens gnosis of versteekte kennis wat net vir ‘n geleerde elite beskikbaar is. Hulle het baie boeke geskryf wat skynbaar wyd gelees is. Baie Gnostiese boeke is gevind in die Nag Hammadi Biblioteek wat in 1945 ontdek is. Baie daarvan handel oor Yeshua wat esoteriese vrae van Sy dissipels antwoord. Die oudste Gnostiese boeke is uit die tweede eeu afkomstig, dus lank na Yeshua en die Apostels.

Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke is opgestel deur die ketter Marcion in omtrent 140 n.C. Marcion het onderskeid gemaak tussen die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament. Hy het die hele Ou Testament as Skrif verwerp en alles wat vir hom “Joods” geklink het, uit die Nuwe Testament gehaal. Sy Nuwe Testament het bestaan uit ‘n deel van Lukas se evangelie en 10 briewe van Paulus.

Voor Marcion se lys was daar al ‘n proses aan die gang om te besluit watter geskrifte gelees moet word en watter nie. Sy lys het veroorsaak dat die proses versnel het en dat christene meer bewus geword van die waarde van die Apostels se geskrifte. Vir Apologete was dit nodig om te weet watter boeke die korrekte christelike leer bevat sodat dit gebruik kan word as verdediging teen die groot getal ketters. Dit moes boeke wees wat dieselfde gesag as die Ou Testament het.

Justinus die Martelaar het omstreeks 150 n.C. geskryf dat die “Herinneringe van die Apostelsˮ saam met die Profete in die byeenkomste van christene gelees is. Die Khabouris Kodeks is ‘n afskrif van die oudste Aramese Bybel (dit word Peshitta genoem). Dit bevat ‘n getekende sertifikaat wat bevestig dat dit ‘n afskrif is van ‘n Aramese Nuwe Testament van 164 n.C. Hierdie Nuwe Testament bevat 22 van die boeke wat in ons Nuwe Testament is. Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke wat deur christene gebruik is, is die Fragment van Muratori. Dit word gedateer in die omgewing van 170 n.C. Die begin en einde is beskadig, maar die lys bevat 22 van ons 27 Nuwe Testamentiese boeke. Daar is ook boeke op die lys wat nie in die Nuwe Testament is nie. Dit blyk dus dat christene teen 170 n.C. reeds ‘n kerngroep boeke gehad het wat hulle as die Nuwe Testament beskou het.

Vandag word die 27 boeke die “kanon” genoem, dit wil sê die finale lys wat nie weer verander nie. Maar daar is nog boeke wat hoog aangeskryf word – Protestante noem dit Apokriewe Boeke en Katolieke noem dit Deuterokanonieke boeke. Hierdie boeke word gesien as nuttig om te lees, maar dit word nie as geïnspireerd erken nie. Die Deuterokanonieke boeke is ingesluit in Katolieke en Ortodokse Bybels, maar nie in Protestantse Bybels nie.

Apokriewe boeke is dikwels pseudepigrafiese boeke, dit wil sê dit word valslik aangebied as die werk van ‘n apostel of ‘n ander bekende persoon. Die werklike skrywer was iemand anders en gebruik die apostel se naam om die boek geloofwaardig te laat lyk. In die Nuwe Testament word min vertel van Yeshua se kinderdae. Baie mense het hierin belang gestel. Ondernemende persone het dan boeke daaroor geskryf wat graag gelees en geglo is, terwyl daar nie werklike bevestiging daarvoor was nie. Daar was ook mense wat ‘n gnostiese boodskap wou verkondig en het dit dan verbloem as ‘n werk van ‘n Apostel.

Die christelike standpunt is dat die Nuwe Testament deur die Heilige Gees geïnspireer is, dat dit die Woord van God is en dat dit onfeilbaar en onveranderbaar is. Dit is belangrik om te kan onderskei tussen ‘n geïnspireerde boek en ‘n ander boek. Is daar riglyne wat gebruik kan word om te weet wat is geïnspireerd en wat nie? Die eerste riglyn is dat die boek deur ‘n Apostel, of in samewerking met ‘n Apostel, geskryf is. Al die Apostels (behalwe Johannes) het voor 70 n.C. gesterf, gevolglik sal so ‘n geskrif ook voor 70 n.C. geskryf moes gewees het. Die vernietiging van Jerusalem en die Tempel was so ‘n traumatiese gebeurtenis dat dit moeilik sal wees om dit nie te noem nie. Nie een van die Nuwe Testamentiese boeke maak melding daarvan nie, dus is hulle voor 70 n.C geskryf. Die Nuwe Testament haal die Ou Testament aan en gee verdere verduideliking – dit weerspreek nie die Ou Testament nie. Die Apostels was self bewus daarvan dat hulle besig was om Heilige Skrif te skryf. ‘n Laaste riglyn is dat gewone christene hierdie boeke aanvaar as die Woord van God.

Die Apostels het nie menslike opvolgers gehad nie. Hulle was die eerstes en die laastes. Die Heilige Gees het gesorg dat ons vandag deur die Nuwe Testament alles het wat ons nodig het. Die Nuwe Testament het die Apostels opgevolg en het hulle getuienis verseël. Die lees en bestudering van die Nuwe Testament behoort een van ons hoogste prioriteite te wees.

Wees op jou hoede vir valse leraars en profete. Hulle is tussen ons.

 

 

 

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Joodse geloof en Yeshua die Gesalfde

Mens kan nie die godsdiens van Ou Testamentiese Israel Judaïsme noem nie. Die naam Judaïsme kan streng gesproke eers gebruik word nadat Jerusalem die hoofstad van hulle godsdiens geword het. Die godsdiens wat hulle toe beoefen het, was ook nie dieselfde as die Judaïsme van vandag nie. Dit behoort iets anders genoem te word, kom ons noem dit maar die Joodse Geloof.

Na die Vloed van Noag en die Toring van Babel, het God met ‘n nuwe werk onder die mense begin. Daar was ‘n man met die naam Abraham. Hy het God geken en Hom vertrou. Dit was op grond van hierdie man se vertroue op Hom dat God ‘n nuwe rigting met die mens ingeslaan het. YHWH het aan Abraham ‘n nageslag en ‘n eie land beloof en dit bevestig deur ‘n verbond (kontrak) met hom te sluit. By hierdie verbond het YHWH ingesluit dat daar uit Abraham se nageslag ‘n Loskoper sal kom.

Hier is nou iets om te bepeins. Dit is welbekend dat Yeshua die Gesalfde (Jesus die Christus) Homself geïdentifiseer het as YHWH. Eerstens let op Johannes 8:56-59: Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek. Die Jode was ontsteld want Yeshua het gesê dat Hy YHWH (EK IS) is. Let ook op Galasiërs 3:7-9: Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. Al die volke is die heidenvolke wat nooit Moses se Wet ontvang het of daarvan geweet het nie.

Van Abraham af tot en met Moses (omtrent 430 jaar), was die godsdiens van Israel: Vertrou YHWH. Die Wet van Moses het eers later gekom. Ek wonder hoe hulle godsdiens gelyk het terwyl hulle slawe in Egipte was. Van waar af het Moses die Wet gekry? In Eksodus 3:14 is die antwoord: En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. In Johannes 18:4-6 lees ons: En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasarener. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.  Yeshua die Gesalfde is EK IS, dit wil sê YHWH. Toe Hy dit sê het hulle terug gedeins en neergeval. Die PWL-vertaling gee Johannes 18:4-6 so weer: Omdat Yeshua alles geweet het wat met Hom sou gebeur, het Hy uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Yeshua, van Natzeret.” Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees.” Y’hudah, die een wat Hom sou oorgee, het by hulle gestaan. Toe Yeshua vir hulle sê: “ אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees,” het hulle agteruit beweeg en op die grond neergeval.

EK IS WAT EK IS het die Wet aan Moses gegee op die berg Sinai. Yeshua die Gesalfde is EK IS WAT EK IS. Derhalwe: Yeshua het die Wet aan Moses gegee.

Israel het die Wet van Moses net nou en dan nagekom. Dit het so gegaan vir omtrent 900 jaar, toe het YHWH genoeg gehad en die Babiloniërs gestuur om Jerusalem en die Tempel te vernietig en die volk in ballingskap weg te voer. Dit word die Eerste Tempel Tydperk genoem. Eers was daar die tydperk voor die tempel gebou is van omtrent 480 jaar. Israel het die tabernakel verwaarloos, die verbondsark gebruik as ‘n gelukbringer en toe veroorsaak dat die Filistyne dit buit. Van die eerste koning af tot die koninklike opvolging beëindig is, was Israel se geloof beïnvloed deur wie aan bewind was. Wanneer die koning YHWH gedien het, het Israel dit ook gedoen. Wanneer die koning afgode gedien het, het die volk dieselfde gedoen.

Na die ballingskap het Israel die Tempel herbou en het sommige van hulle probeer om ernstig oor hulle godsdiens te wees. Die tydperk tussen die vernietiging van die eerste en tweede tempels word die Tweede Tempel Tydperk genoem. Na die ballingskap het Israel teruggekeer na Juda. Die tempel en stad is herbou en daar is gepoog om die volk te suiwer. Daar is besef dat die ramp wat hulle getref het, van God kom. Die Wet van Moses is van toe af met meer erns gelees. Dit is in hierdie tydperk dat die Skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs ontstaan het. Die studie van die Wet en die interpretasie daarvan het aandag gekry. Dit is hierdie mense se interpretasies waaroor Yeshua met hulle gebots het. Hulle het ‘n mensgemaakte godsdiens ingestel.

Nadat Israel vir Yeshua die Gesalfde verwerp het, is die tempel en stad deur die Romeine vernietig. Met die vernietiging van die tempel, het die bring van offerandes onmoontlik geraak. Daar was nie meer priesters nodig nie. Dit was nie meer moontlik om alles wat die Wet van Moses vereis het na te kom nie. Die invloed van Skrifgeleerdheid het toegeneem en teen die 6de eeu na Christus het die Rabbynse Judaïsme ontstaan. Rabbynse Judaïsme is vandag die hoofstroom in die Joodse geloof. Volgens hulle is daar ‘n geskrewe Wet en ‘n mondelingse Wet en hulle erken albei. Voorheen het groepe soos die Sadduseërs en Hellenistiese Judaïsme die bestaan van ‘n mondelingse Wet teengestaan.

Yeshua die Gesalfde het dikwels met die Joodse voormanne gebots oor hulle interpretasie van die Wet. In Sy Bergpredikasie het Hy Sy verduideliking gegee van wat die Wet eintlik beteken. Verder sê Hy in Matteus 5:17: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Wat het Hy daarmee bedoel? Hy het die Wet gegee, die Wet het na Hom verwys, Hy het alles gedoen wat die Wet vereis. Met Sy dood en opstanding is al die vereistes van die Wet nagekom. Hy het die Wet vervul. Vir diegene wat Hom vertrou, is die Wet nagekom in Hom en deur Hom. Nou is dit slegs Hy op wie ons ons oë moet rig.

Daar is ‘n wydverspreide siening onder Jode en Christene dat Yeshua die Wet afgeskaf of verander het. Yeshua het wel met die godsdienstige leiers se interpretasies verskil, maar Hy het nie met die Ou Testament verskil nie. Dit is belangrik om te onderskei tussen wat Yeshua regtig gesê het en dit wat mense dink Hy gesê het.

Vroeg in die Nuwe Testament lees ons van die Judaïseerders. Hulle was Christene wat Joodse gebruike en praktyke in die gemeentes wou inbring. Spesifiek wou hulle hê dat Christene wat nie Jode was nie (dus uit die heidenvolke) die Jode se godsdienspraktyke moes navolg. Onder meer wou hulle vereis dat gelowiges uit die heidenvolke besny moes word. Hulle wou die Wet van Moses en die Evangelie van Christus verenig. Vir hulle was die kruisiging en opstanding van die Gesalfde nie voldoende nie, hulle wou iets daarby voeg. Yeshua kon op Sy eie nie die mens red nie, die mens kon nie net deur vertroue op Yeshua gered word nie, die mens moes self daarvoor werk deur ook iets te doen.

Die waarheid is dat die wat Yeshua vertrou, die Heilige Gees ontvang. Die Heilige Gees gee aan die mens ‘n nuwe natuur wat in staat is om God tevrede te stel. Lewe in die Gees is vry van wettisisme en wetteloosheid. Die Gees van God is in die mens en produseer die vrugte van die Gees. Die mens wat onder beheer van die Heilige Gees is, het nie die geskrewe Wet nodig nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Jannes en Jambres in die laaste dae

Daar is mense wat glo dat alles in die wêreld net beter word en gaan aanhou beter word. Die Bybel sê die teenoorgestelde. As mens die Bybel lees, verneem jy dat daar ‘n tyd sal kom wanneer alles ‘n toppunt van slegtheid gaan bereik. Dit word genoem  die laaste dae.

Daar word in die Bybel verwys na tekens wat sal aandui dat dit die laaste dae is. Een van hierdie tekens is hoe die mense in daardie tyd gaan wees. Dit vind ons in 2 Timoteus 3:1-9: Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof. Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het. (OAV)

Die PWL-Vertaling praat van  “harde tye”, die King James van  “perilous times”. Buitengewoon moeilike tye wat sal kom. Moeilik om ‘n egte christen te wees.

Die Apostel sê die laaste dae sal uitgeken word aan hoe sleg mense gaan word en dan noem hy die eienskappe wat die slegte mense sal hê. Dit begin met: mense sal liefhebbers van hulleself wees. Die res van die slegte eienskappe vloei hieruit voort. Wanneer mense se eie belange, hulle eie begeertes, hulle eie menings meer sal saak maak as enige iets anders. Hulle sal geen gevoel vir ander hê nie, geen empatie hê nie. Mense sal meen dat hulle altyd reg is, nooit verkeerd is nie, nie nodig het om skuld te erken nie, nie nodig het om vergifnis te vra nie. Hulle sal selfs dink hulle is belangriker as God.

Eintlik was hierdie kenmerke nog altyd teenwoordig by die ganse mensdom. Die van ons wat langer in die tand is, meen ons kan sien hoe die mensdom agteruitgaan. Mense is nie meer soos vroeër nie. Die wêreld is slegter as voorheen. Wat veroorsaak dit? Daar word alhoemeer aan mense gesê: dit is nie jou skuld as jy sleg is nie. Dit is iemand anders of iets anders se skuld. Dit is jou ouers se skuld, dit is iets wat in jou kleintyd gebeur het se skuld, dis ‘n aangebore toestand wat jy het, dit is iemand wat iets aan jou gedoen het, dit is die omgewing, dit is die onreg van die gemeenskap, ensovoorts. Die slegte mens het ‘n verskoning vir hoekom hy sleg is: dit is nie sy skuld nie. Hy het nie nodig om ‘n beter mens te word nie. Derhalwe het hy ook nie nodig om te verander nie, hy het nie genade en vergifnis nodig nie, hy het nie nodig om ‘n goeie verhouding met God te hê nie.

Maar die Apostel skryf nie aan die mensdom nie, hy skryf ook nie van die ganse mensdom nie. Hy skryf aan sy vriend en helper oor hoe dit binne die christendom sal word. Sommige christene sal in die laaste dae ‘n vorm van godsdiens hê, maar hulle sal ver van God se krag af wees. Dit is vanselfsprekend dat as iemand meen hy is altyd reg, dan sal selfs God verkeerd wees. Die krag van God werk om slegte mense te red, los te koop, te bevry uit die mag van die bose. Iemand kan slegs vergewe word vir iets as hy erken dat hy verkeerd is. As hy nie skuld erken nie, waarvoor moet hy dan vergewe word? Dit sal mense wees wat hulleself christene noem en wat dink hulle kan voor God staande bly, dat hulle mag besluit wat reg en verkeerd is en dat God daarby moet inval. Christene wat ontken dat God die gesag het om aan hulle voor te skryf.

Paulus sê aan Timoteus om waaksaam te wees. Hy moet bedag wees op die werkswyse van hierdie slegte mense in die christendom. Hulle wil graag die ander gelowiges oorhaal om soos hulle te wees. Hulle teiken die vroue van die gemeente. Sommige vroue is goedgelowig en word maklik vasgevang in die leuens wat verkondig word. Timoteus moet daarop let dat daar christene is wat leer en leer en niks vorder nie. Dit wat hulle leer sink nie in nie en hulle lewenswyse verander nie. Hulle beoefen nie dit wat hulle leer nie, hulle dink geestelike groei het met vermeerdering van kennis te doen, of hulle dink dit is ‘n emosionele belewenis. Dit is alles tekenend van hoe die laaste dae sal wees.

Om Timoteus te help om beter te verstaan, noem Paulus die voorbeeld van Jannes en Jambres. Net hier hak ons vas. Wie was Jannes en Jambres? Hulle word nêrens elders in die Bybel genoem nie. Timoteus het sekerlik geweet van wie Paulus praat, maar ons weet nie. As hulle as voorbeeld gegee word, moet ons ten minste weet wie hulle was en wat hulle gedoen het. Is daar dalk buite die Bybel enige inligting oor hulle?

Daar is inderdaad brokkies inligting oor hulle in Judaïstiese legendes. Sommige daarvan is redelik vergesog. Plinius die Ouere, die Romeinse geskiedkundige, maak melding van Moses, Jannes en Lotapea as Joodse towenaars uit die ou tyd. Die christelike teoloog Origenes het verwys na ‘n boek oor Jannes en Jambres wat Paulus se bron kon gewees het. Meer onlangs is daar fragmente van ‘n ou manuskrip gevind wat bekend staan as: The Apocryphon of Jannes and Jambres the magicians, vertaal deur Albert Pietersma.

Blykbaar was hierdie Jannes en Jambres twee van die towenaars of wyse manne wat vir die Farao van Egipte gehelp het om Moses teen te staan. Volgens Plinius was hulle, nes Moses, Israeliete. Hulle het nie net vir Moses teengestaan nie, hulle het ook hul eie volk teengestaan en het uiteindelik vir YHWH teengestaan. Paulus sê dat in die laaste dae daar mense soos Jannes en Jambres onder die christene sal wees: so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof.

Paulus se raad aan Timoteus is: Keer jou ook van hierdie mense af. Wie is hierdie mense? Hulle is nie politici, bankiers of die mafia nie. Hulle is christelike predikers en leiers wat verskillende titels gebruik. Hulle verkondig nie ‘n ander godsdiens nie, hulle verkondig ‘n verdraaide vorm van die christelike geloof. Hulle is soos geheime agente, insypelaars wat voorgee om eg te wees. Hulle is lief vir die kalklig, vir geld en vir invloed. Hulle maak aanspraak daarop dat hulle wonderwerke kan doen. Hulle verkondig die dinge van die gevalle wêreld. Hulle verkondig sukses in die wêreld, en sukses word gemeet aan geld en roem. Dit is ‘n vals en verdraaide evangelie. Hulle is die Jannes en Jambres van die laaste dae.

 

 

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Nuwe Testamentiese gemeente en die hedendaagse kerk

Wanneer mens die Nuwe Testament lees, word jy getref deur hoeveel die Nuwe Testamentiese gemeentes verskil het van die hedendaagse kerk. Soos dag by nag. Hoe het so ‘n groot afwyking gebeur? Ons vra dit nie bloot uit nuuskierigheid nie, ons vra dit want dit is wesentlik om te verstaan wat gebeur het en wat vandag van ons verwag word. Die verlede verklaar die hede.

Die tydperk direk na die Apostels en tot die Eerste Konsilie van Nicea word die pre-Niceaanse tydperk genoem. Dit word onderverdeel in die tydperk van die Apostoliese Vaders (skrywers wat tussen ongeveer 90 en 160 n.C. geskryf het) en die Pre-Niceaanse Kerkvaders (skrywers wat tussen ongeveer 120 en 325 n.C. geskryf het). Die Eerste Konsilie van Nicea, in 325 na Christus, was die finale doodskoot van die gemeentes wat deur die Apostels tot stand gebring was. Dit was toe daar ‘n verenigde kerk (kerkgenootskap of kerkorganisasie) ontstaan het. Hierdie kerkgenootskap is terselfdertyd deur die staat erken en die vervolging van christene het opgehou. Die proses van verandering het dus al voor 325 n.C. begin.

Die Nuwe Testament is geskryf deur persone wat Yeshua (Jesus) persoonlik geken het en daarna deur die Heilige Gees geïnspireer was om alles wat die volgelinge van Yeshua sal nodig hê op skrif te stel. Na die Apostels nie meer daar was nie, moes vasgestel word watter geskrifte geïnspireerd was en watter nie. Van hierdie pre-Niceaanse skrywers het lyste gemaak van geskrifte wat deur christene in hulle omgewing gebruik was. Dit was geskrifte wat deur die gelowiges self as geïnspireerd beskou was. Dit is aan hierdie skrywers te danke dat ons weet watter geskrifte van vroeg af gebruik was. Die Fragment van Muratori dateer uit ongeveer 170 n.C. en bevestig dat 22 geskrifte as betroubare Apostoliese geskrifte gereken was. In 185 n.C. het Irenaeus (Frankryk) na 21 boeke verwys. Hippolytus (Italië) het in 220 n.C. ook ‘n lys van boeke opgestel. Origenes (Egipte) het in 225 n.C. 27 boeke uitgewys. Eusebius (Palestina) het 26 boeke in 324 n.C. genoem. Deur vas te stel watter boeke as geïnspireerd beskou is, kon ook vasgestel word watter boeke nie geïnspireerd was nie. Die latere besluite oor die kanonieke boeke het slegs bevestig wat reeds praktyk was.

Die Apostels het al te doen gekry met dwaalleringe. Hulle grootste probleem was die Judaïseerders, christene wat Judaisme wou toepas binne die liggaam van Christus. Ketterse groepe het, volgens die pre-Niceaanse geskrifte, eers in die tweede eeu na Christus ontstaan. Kettery is ‘n bewustelike en opsetlike afwyking van die fundamentele geloofsleer. ‘n Groot probleem met hulle was dat hulle dieselfde boeke gebruik het as wat die gemeentes gebruik het. Die pre-Niceaanse skrywers het gevolglik aandag gegee aan die verwerping van ketterse leerstellings, geskrifte wat nie geïnspireerd was nie en die verdediging van die christelike geloof.

Docetisme was een van die eerste ketterse groepe. Hulle het geleer dat Yeshua (Jesus) nie ‘n fisiese liggaam gehad het nie, dit het net gelyk of Hy een het. Ignatius van Antiogië het hulle weerlê. Marcionisme was die leer van ‘n sekere Marcion. Vir Marcion was die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament twee verskillende gode. Hy het die hele Ou Testament verwerp en het slegs Lukas en dele van Paulus se briewe as Heilige Skrif erken. Verskeie van die vroeë skrywers het teen sy leerstellings geskryf. Vroeg in die tweede eeu het die Gnostisisme ontstaan. Die naam kom van ‘n Griekse woord wat  “kennisˮ beteken. Dit was ‘n mengsel van die christelike leer en ander heidense gelowe en filosofieë.

Dit het by sommige christelike gemeentes gebeur dat hulle nie meer die leiding van die Heilige Gees gevolg het nie. Hulle het al meer vertrou op menslike leiers. Hulle het ook nie meer as die liggaam van Christus gefunksioneer nie. Dit het die Heilige Gees bedroef. Sulke gemeentes het geestelik “doodˮ geword. Iewers in die 160’s het ‘n sekere Montanus getuig dat hy ‘n besoek van die Heilige Gees ontvang het en dat hy geroep is om te profeteer. Twee vroue het ook ‘n roeping as profetesse gekry. By die Montaniste was profesie meer gesaghebbend as uitsprake van menslike leiers. Die pre-Niceaanse skrywer Tertullianus het later by die Montaniste aangesluit. Hoewel hulle ketters genoem was, sou hulle vandag waarskynlik deel van die pinksterbeweging gewees het.

Die versterking van menslike leierskap is voorgestaan deur Ignatius van Antiogië (35 – 107 n.C.). Hy was ‘n Apostoliese Vader, dit wil sê hy het een of meer van die Apostels persoonlik geken. Hy het homself as ‘n opvolger van die Apostels beskou. Hy was Biskop van Antiogië en het 7 briewe geskryf. In die Nuwe Testament is ‘n ouderling en biskop dieselfde amp. Ignatius was die eerste persoon wat geleer het dat elke gemeente ‘n biskop moet hê en dat dit ‘n hoër amp as ouderling is. Hierdie leer het eers laat in die 2de eeu algemeen geword. Hy was ook die eerste persoon wat van ‘n “katolieke kerkˮ gepraat het.

Hierdie leer van Ignatius was die begin van die agteruitgang binne die christelike gemeentes. Een mens het nou die hoofleier in die gemeente geword, Yeshua was nie meer die hoofleier nie. Die gemeente het ‘n gewone menslike instelling geword. Die kerkgenootskap wat in die 4de eeu tot stand gekom het, was georganiseer volgens die model van die Romeinse Ryk – hierargies. Die kerkgenootskap was nou ‘n “regspersoonˮ en kon grond besit vir kerkgeboue, begraafplase en kerklike amptenare. Die biskoppe was gesien as die direkte opvolgers van die Apostels. In Later jare het die kerkgenootskap betrokke geraak by die burgerlike administrasie en het biskoppe ‘n belangrike politieke rol vervul.

Die volgende stap agteruit was dat sommige leiers hulle heil in geleerdheid gesoek het. Die opvolgers van die Apostoliese Vaders, word Kerkvaders genoem. Dit was vanuit die geledere van die pre-Niceaanse Kerkvaders wat die eerste teoloë gekom het. Clemens van Alexandrië (150 – 215 n.C.) het gewerk daaraan om die christelike leer en die Griekse wysbegeerte met mekaar te versoen. Origenes van Alexandrië (185 – 254 n.C.) het die eerste filosofiese uiteensetting van christelike leerstellings gemaak. Van sy sienings was so onbybels dat hy as ketter verklaar is. Athanasius van Alexandrië (293 – 373 n.C.) word onthou vir sy rol in die Eerste Konsilie van Nicea. Oor die algemeen word teologie gesien as soortgelyk aan filosofie, ‘n intellektuele besinning oor God en mens. Dit het gelei daartoe dat daar ‘n skeiding gekom het tussen geleerdes (ingewydes wat hul eie “taalˮ praat) en leke (buitestaanders) wat aangewese is op wat aan hulle gesê word. Leke het meestal nie ‘n Bybel besit nie, kon niks vir hulleself vasstel nie en was geestelik afhanklik van die kerkgenootskap.

En dit is die tragiese verhaal van hoe die liggaam van Christus, wat ‘n organisme is, die kerk, wat ‘n organisasie is, geword het. Maar alles was nie verlore nie. Regdeur die geskiedenis was daar groepe buite die kerkgenootskappe wat waarlik die Nuwe Testamentiese gemeente was. Die betroubare getuienis was en word steeds gelewer.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Gesalfde Lewe

As jy vir my wil vertel dat Yeshua, die Gesalfde (Jesus Christus), nie bestaan nie, moet jy dit liewers vir iemand anders gaan vertel. Ek weet Hy bestaan net so seker as wat ek weet my eie broer bestaan. As jy vir my wil vertel dat die Bybel nie die geïnspireerde Woord van God is nie, moet jy dit ook vir iemand anders gaan vertel. Ek weet net so seker as wat ek weet dat die HAT ‘n woordeboek is, dat die Bybel die Woord van God is. Kan ek dit bewys? Moet ek? Moet ek ook bewys dat die son vanoggend opgekom het?

As ‘n reël is dit nutteloos om in redenasies betrokke te raak met mense wat vyandig is teenoor Yeshua en diegene wat op Hom vertrou. Dit is nutteloos want sulke persone kan en wil nie oortuig word nie, ongeag wat jy sê of doen. Daardie persoon kan nie oortuig word tot ‘n ander standpunt nie, en hy kan die volgeling van Yeshua ook nie oortuig van sy standpunt nie. Waarop hy ookal sy argument baseer, wetenskap of filosofie of religie of wat ook al, dit is nie relevant nie. Vertroue op Yeshua is gebou op ‘n persoonlike verhouding met Yeshua.

Dit is iets anders wanneer iemand deur sulke redenasies op soek is na antwoorde. Dan is daar vrae wat gevra word om inligting te bekom of om iets te verstaan. In so ‘n geval is dit moontlik om ‘n sinvolle gesprek te hê, al sou daardie persoon ook nie jou siening of antwoorde  aanvaar nie. Dan is dit ‘n debat en nie ‘n argument nie.

Die mens is nie net ‘n liggaam nie. Daar is iets binne hom wat meer is as sy liggaam, hyself. Van oudsher af word hierdie self die siel genoem. Van nog altyd af weet mense dat hulle ‘n siel is wat in ‘n liggaam woon. Hulle het ook nog altyd geweet dat daar ‘n skeiding kom wanneer die liggaam sterf. Weet jy dit of weet jy dit nie? Die vraag wat mense nog altyd gevra het, was: wat gebeur met die siel wanneer die liggaam sterf?

Daar is nog iets in die mens, iets wat diep binne in sy self is. Dit is ‘n bewussyn dat daar iets groter en meer as die mens is. Ek vermoed meeste mense is nie bewus van hierdie bewussyn nie, jy moet eers iets uitsonderlik beleef om daarvan bewus te word. Hierdie bewussyn word gees genoem en dit is waar sommige mense bewus word van iets groters as hulleself.

Wat beteken dit alles? Dat daar meer aan die mens is as wat die oog kan sien. Jy kan dit aanvaar of verwerp. Jou keuse.

Wanneer iemand op die punt kom waar hy Yeshua aanvaar, gebeur daar iets. Daar kom ‘n groot vrede binne daardie persoon, ‘n vrede wat die verstand te bowe gaan. As jy dit nie wil glo nie, gaan vra daardie persoon, gaan vra almal wat op Yeshua vertrou. Almal sal dieselfde ding sê. Dit is maar die begin, daarna sal daar nog goed gebeur. Onder andere sal daardie persoon ‘n ongekende blydskap ervaar. Nou kan jy op en af spring, jy kan spoeg en skree, maar wat hierdie persoon ondervind is werklik en direk as gevolg van sy aanvaarding van Yeshua.

Die van ons wat op Yeshua vertrou, het ‘n verhouding met hom. Nie in ons verbeelding nie, in ons binneste, in ons gees. Sien, in jou gees het iets gebeur – dit het lewend geword. Yeshua het deur die Heilige Gees binne in jou gees kom woon. Nou leef Hy Sy lewe in en deur jou. Dit is ‘n realiteit, ‘n daaglikse belewing, ‘n praktiese werklikheid.

Dit is nie al nie, dit is nog net die begin. Hierdie gees in jou wat lewend geword het, is by wyse van spreke nog ‘n baba. Hy moet nog groot gemaak word en ‘n volwassene word. Hoe gebeur dit?

Die handboek wat jy in jou opvoeding nodig het is die Bybel. Kom ons noem dit jou akademiese onderrig. Ek weet nie of dit verpligtend is om die Bybel te bestudeer nie, maar dit is definitief wys. Jy kan ander christelike boeke ook gebruik, maar slegs indien hulle die Bybel korrek verstaan en oordra. Ongelukkig is baie van hierdie boeke net goed om jou te mislei. Om een of meer te kry wat die moeite werd is, is nie maklik nie. Jy moet persone soek wat betroubaar is en wat jou raad kan gee.

Vir jou praktiese opleiding het jy die hulp van die Heilige Gees nodig. Hierdie praktiese opleiding kan vergelyk word met vakleerlingskap. Jy moet leer om dinge te kan doen. In die proses moet iemand jou sê wat jy moet doen en jou dan wys hoe om dit te doen. Daarna moet jy dit self doen. Die eerste paar pogings mag jy dalk misluk, maar uiteindelik kry jy dit reg. Wat presies is dit wat jy moet leer om te doen? Wel dit is geestelike dinge. Soos hoe om YHWH te vertrou. Hoe jou karakter verander moet word. Om op te hou om verkeerde dinge te doen (soos om ongeduldig te wees) en om regte dinge te doen (soos om geduldig te wees). Natuurlik ook om op te hou slegte dinge te doen (soos om selfsugtig te wees) en om goeie dinge te doen (om ander mense bo jouself te stel). Ensovoorts.

Die leerproses word aangehelp deur swaarkry en beproewings. Om in swaarkry standvastig te wees is nie ‘n kleinigheid nie. Beproewinge en teenspoed maak jou sterker. Maar daar is ook vervolging.

Jou Meester, Yeshua, was nie populêr nie. Hy het die mense, insluitend die godsdienstige leiers, teengestaan. Die meeste mense het hom gehaat hoewel hy niks gedoen het om dit te verdien nie. Jy is nie belangriker as jou Meester nie. As hy vervolg was, sal jy ook vervolg word. Bloot omdat jy Hom volg en vertrou. Vir my lyk dit of selfs vreemde mense wat jou nie ken en niks van jou weet nie, op ‘n manier besef jy is anders as hulle. Sommige vind jou afstootlik maar ander voel aangetrokke tot jou. Dit nog voor jy iets gesê of gedoen het.

Om Yeshua te vertrou is nie ‘n ideologie nie. Jou opinie tel nie. Vat dit of los dit. Niemand is verleë oor jou nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin