Die Boerevolk se eie wetenskap

Illustrasie: https://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/oom-herrie-se-kerrie-waterwys/

Kultuur kan ook die beskawingstoestand van ʼn volk beskryf. Volkswetenskap beskryf hoe ons volk sy eie natuurkunde ontwikkel het voordat die moderne wetenskap tot stand gekom het. Dit beskryf die kennis en kundigheid wat tradisioneel eie aan ons volk is en van een geslag na die ander oorgedra is. Volkswetenskap kom tot stand uit waarneming van die natuur. Die moderne wetenskaplike metode gebruik waarneming, eksperimentering, meting, wiskunde en herhaling om kennis te verkry.

Ons stamouers kon nie die waarnemings en kennis wat hulle in Europa gehad het, gebruik nie want die omstandighede in die Kaap was baie anders. Hulle was wel goeie waarnemers van die natuur. Hulle het die grond, die plante, die insekte en die diere se aard en gedrag geken. Die moderne wetenskap het toe nog nie bestaan nie. Natuurlik is daar foute gemaak, maar daar was ook baie korrekte gevolgtrekkings gemaak. Die moderne wetenskap kon van dit later bevestig, alhoewel die metode om daarby uit te kom verskil het.

Ons voorouers was oplettende mense. Jy moes weet wat in die natuur om jou aangaan en dit wat jy oplet, moes jy onthou. Mettertyd kom jy agter dat iets wat jy opgelet het by herhaling gebeur. Jou waarneming is dan dat indien een saak teenwoordig is, dit beteken dat iets anders daarmee verbind kan word. Die versameling van al hierdie gegewens gee dan aan jou natuurkennis wat jy dan weer aan jou kinders kan oordra.

...

Hulle moes hulle goggas ken. Wat is hulle funksies, veroorsaak hulle peste en plae, kan hulle jou wys waar water is en of dit gaan reën? Wat van die voëls? As jy hulle dophou sal een jou wys waar daar heuning is en die kwêvoël sal jou waarsku. Jy moes die wilde diere se gewoontes ken as jy gaan jag vir die pot. Party wilde diere se gedrag kan jou waarsku dat dit gaan reën. Die veeboer moes natuurlik ook sy eie vee goed ken. Hy moes ook veesiektes ken en behandel.

Die beskikbare weiding kan goed of sleg wees vir jou vee. Een soort grond is goed vir ʼn sekere gewas maar sleg vir ʼn ander gewas. Plante kan ook aandui waar daar ondergrondse waterare is. Jy moet weet watter bome se hout jy kon gebruik en natuurlik ook waarvoor jy dit kan gebruik.

Daar was ook ʼn geloof dat vure rondom gesaaides en binne vrugteboorde beter oeste tot gevolg het. Die rook het blykbaar teen ryp en insekte gehelp. Daar word gesê dat muggies nie tussen bloekombome voorkom nie en dat kakiebos ook goggas verdryf.

Die maan speel ʼn belangrike rol in die natuurmens se lewe. Daar word geglo dat die maan alles op aarde beïnvloed, ook die plante, diere en mense. Een waarneming het te doen met die beste tye om te plant, ʼn ander met wanneer die beste snoeityd is. Daar word ook geglo dat die maan ʼn invloed uitoefen op die bloedsomloop van lewende wesens. Met volmaan is die bloed glo op “hoogwatermerk” en met nuwemaan op “laagwatermerk”. Hiervolgens moes jy nooit vee kastreer met volmaan nie en was dit beter om met nuwemaan te slag. Daar is ook geglo dat die maan ook die beste visvangtye aandui.

Die natuurmens glo dat die maan ʼn invloed het op die weer. Kennis van maansveranderinge help met die voorspelling van weersveranderinge. Daar word gelet op die fases van die maan. Sommiges meen dat die halfmaan wat “skep” beteken dat dit nie gaan reën nie en dat die halfmaan wat “gooi” beteken dat dit gaan reën. Daar word geglo dat dit die meeste ryp op maanligaande.

Vir die pioniers in die binneland was die beskikbaarheid van water krities. Die Karoo is droë wêreld, en noord van die Oranje is daar ook dikwels droogtetoestande. Die pioniers het die weer dopgehou en dan waarnemings gemaak. Een metode is om die gesteldheid van die lug waar te neem. Kennis van die wolke is belangrik want dit dui op watter weer later verwag kan word. Hoe hoog die wolke is kan toon of die wolke naby ʼn versadigingspunt is en of reënweer verwag kan word. Die kleur van die hemelruim is ook belangrik. Indien die lug in die oggend rooi is, kan reënweer dieselfde dag verwag word. Indien die lug met sononder rooi is, kan mooiweer verwag word. Weerlig in die middel van die nag voorspel reën vir ʼn paar dae.

Die voorkoms van droogtes het ons protestantse voorouers leer bid vir reën, want hulle het hulle totale afhanklikheid van God besef. Biddae en dankdae is steeds deel van ons kultuur.

As daar nie genoeg bogrondse water beskikbaar is nie, en die reën bly weg, dan moet daar gesoek word na ondergrondse water. Dit word gedoen deur waterwysers. Sommige persone, miskien een uit honderd, het die vermoë om ondergrondse water op te spoor. Daar word gemeen dat die beweging van die water wrywing veroorsaak. Die wrywing veroorsaak dan ʼn magnetiese of elektriese uitstraling wat deur sensitiewe persone aangevoel word. Die waterwyser moet ook kennis van waterare en kruispunte hê.

Meeste waterwysers gebruik apparate in hul soeke na water. Meestal word ʼn mikstok gebruik, die mikstok beweeg wanneer oor die aar geloop word. ʼn Ander apparaat is L-vormige drade wat ook in die waterwyser se hande beweeg wanneer daar oor are geloop word. Nog ʼn apparaat is om ʼn bottel vol water op die handpalm te dra. Daar is ook sekere persone wat met die blote oog water kan opspoor.

Om ondergrondse water op te spoor is reeds ʼn groot hulp. Dit is ʼn verdere hulp om te weet hoe diep en sterk die water is. Sommige waterwysers het vir hulleself tegnieke ontwikkel waarmee hulle diepte en sterkte kan bepaal.

Daar is ʼn minderheid mense wat waterwys as towery of iets dergeliks beskou. Ondervinding toon egter dat waterwysers meer betroubaar is as geoloë.

Die moderne stedeling het nie die voorgeslagte se natuurkennis meer nodig nie want hy het toegang tot die moderne wetenskap. Landbouers het ook toegang tot die moderne wetenskap en gebruik dit ook. Nogtans is daar nog steeds mense wat natuurkennis gebruik om te weet wat die weer gaan doen. Daar is nog steeds waterwysers wat gebruik word.

Die voorgeslagte se natuurkennis is nie vergete en verlore nie, dit word nog steeds oorgedra en gebruik.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Groot Droogtes

obwizpc

Ons in Suidelike-Afrika behoort gewoond te wees aan droogtes, in ons geskiedenis was daar al heelwat droogtes. Daar is tans (2016) ook ‘n ernstige droogte aan die gang.

As iemand praat van “die Groot Droogte”, dink mens eerste aan die tydperk 1932-1933. Voor dit en daarna was daar ook droogtes. Meer onlangs was daar droogtes in die jare 1966-1968, in 1982-1984, weer in 1989-1991 en ook in 2003-2004.

Oor die 1932-1933 Groot Droogte is heelwat bekend. Veeboere het enorme hoeveelhede vee verloor. Die droogte het boonop saamgeval met die Groot Depressie. Die ekonomiese krisis is vergroot omdat Suid-Afrika die goudstandaard verlaat het. Waar daar reeds kapitaal uit die land onttrek was, word toe nog meer onttrek. Dit alles het die armblanke vraagstuk ‘n hupstoot gegee. Dit weer het tot ‘n politieke krisis gelei. Die uiteinde was dat Genl Hertzog en Genl Smuts saam die Verenigde Party gestig het. As gevolg van dit het Dr DF Malan, Adv Hans Strijdom en Adv CR (Blackie) Swart weggebreek van Genl Hertzog af.

‘n Ooggetuie het vertel dat by hom die veld soos woestyn gelyk het. Die vee het oraloor gevrek en die wat oorleef het, was verswak. In Julie 1933 het sterk winde begin waai en in November was daar ‘n verskriklike stofstorm. Dit het begin reën op 13 November 1933, teen middel Desember het die gras sigbaar geword en teen Februarie 1934 het alles herstel. Vir hom was dit ‘n wonderwerk wat hy aanskou het.

Tydens 2003-2004 was daar veral in Wes-Transvaal (tans Noordwes) en Wes-Vrystaat ‘n ernstige droogte. Oppervlaktes waar mielies aangeplant word, het aansienlik verminder. Te min grondvog was ook ‘n probleem. Van 1994 af het die staat langtand geword om die landbou te ondersteun.

Die droogte van 1989-1991 het Suid-Afrika se kwesbaarheid ten opsigte van voedselvoorsiening onderstreep. In die Klein-Karoo was daar geen besproeingswater vir lusern- en groenteboere nie. Verskeie gebiede in die Karoo is tot rampgebiede verklaar. 75% van die graanoes is vernietig. Die destydse staat het ‘n hulpskema vir landbou ingestel en ‘n rekord hoeveelheid mielies moes ingevoer word.

1982-1984 se droogte was beskou as die ergste in 200 jaar. Groot getalle beeste het gevrek en weiding was uitgeput. Die mielieoes en grondbone-oes is verwoes. Omtrent 70% van die boere in die Vrystaat het geen oes gehad nie. Die Hardapdam (Namibië) se waterstand was net 12% en die Vaaldam se invloei het ‘n rekordlaagtepunt bereik. Ander rampe in hierdie tydperk was die vloedramp in Laingsburg in 1981 en die sikloon Demoina in 1984.

Die droogte van 1966-1968 is die Swartdroogte genoem. Verskeie getuies, ekself ook, onthou dit soos gister. Die regering van destyds het ‘n nasionale biddag uitgeroep. Besighede het toegemaak en hulle personeel toegelaat om te gaan bid. Terwyl ons in die kerk sit en bid, het dit begin reën. Nie net by ons nie, maar op verskeie plekke dwarsoor Suid-Afrika.

Droogtes raak natuurlik nie net die mens nie. Die aarde, die plante, die insekte, die diere word daardeur getref. Sulke rampe raak in die eerste plek die indiwidu en sy gesin. Groot getalle mense se lewens word verwoes, baie word in armoede gedompel. Die belangrikste is wat dit aan die binneste van mense doen, daar is geestelike gevolge.

Alhoewel ekself getuig dat gebede beantwoord word, en beleef het dat dit begin reën het terwyl ons gebid het vir reën, dink ek nie dat gebedsveldtogte vandag die regte ding is nie. In die 1960’s het meeste mense nog vertrou op God, ek dink nie dit is vandag nog so nie. Daar het ‘n groot afvalligheid plaasgevind. Die destydse regering het nog bestaan uit morele mense, vandag is dit meer waar nie. Sal vandag se regering ‘n biddag uitroep? Sal die sakesektor hulle besighede toemaak en hulle personeel afgee? Om slegs gebedsveldtogte uit te roep in tye van nood is ook nie reg nie. Wat van tye wanneer daar nie nood is nie?

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin