Ons en die Dag van Moeilikheid

Wie weet nog nie dat ons in ernstige moeilikheid is nie? Indien daar sulkes is, sal niks en niemand hulle meer kan help nie. Hulle is op hul eie. Onder die van ons wat weet, is daar die versugting dat daar ‘n manier gevind kan word om eenheid tussen ons te bewerkstellig. Want ons is min en verdeeldheid is duur.

Wie is die “ons” waarvan ons praat? Dit is ‘n vraag oor identiteit. Om dit te weet mag polities nuttig wees, maar ons praat nie oor politiek nie. Ons praat oor volkskunde want daarin is daar ‘n meer nugter benadering. Dit is nodig om te weet wie ons mense is en waaraan ons uitgeken kan word. Dit is ook nodig om te weet wie nie ons mense is nie en waarom nie. Dit is ook van belang in ons betrekkinge met vreemdelinge – hulle wil weet met wie hulle te doen het. Veral vandag in die Dag van Moeilikheid.

Ons is burgers van Suid-Afrika en gevolglik Suid-Afrikaners. Maar nie alle Suid-Afrikaners is deel van ons nie, die oorweldigende meerderheid is vir ons vreemde volke en groepe. Ons is maar ‘n klein en onbenullige minderheidsgroepie in Suid-Afrika. Maar nie almal van ons is Suid-Afrikaners nie, daar is van ons wat burgers van ander lande is – soos Namibië. In elk geval is Suid-Afrika, streng gesproke, ‘n staat en nie ‘n land nie. Daar is ‘n verskil en verskillende lojaliteite. Die staat Suid-Afrika het in 1910 ontstaan as ‘n Britse kolonie en het in 1961 ‘n republiek geword. Vir ons om te sê ons is Suid-Afrikaners is maar ‘n dun draadjie om aan vas te hou. Indien jy hiervan verskil, is jy welkom om vir ons te vertel wat die Suid-Afrikaners se geskiedenis en kultuur is. Want daar is nie so-iets nie.

Ons velle is wit, oftewel ons is blankes. Word die “ons” van wie ons praat Wit Suid-Afrikaners genoem? Het al die blankes in Suid-Afrika dieselfde geskiedenis en kultuur? Nie waarvan ek weet nie. Daar is dus blankes en blankes. Al hierdie blankes verskil boonop op ander maniere ook. Van hierdie blankes is nie in dieselfde moeilikheid as ons nie, tewens hulle is medewerkers aan ons moeilikheid. Die “ons” is dus net sommige van die blankes in Suid-Afrika. Om ‘n wit vel te hê is nie voldoende om ons mee te identifiseer nie. Die Whiteys as ‘n gemeenskaplike groep is ‘n hersenskim. En ‘n hersenskim kan beskryf word as: ‘n bedenksel wat lank gelede versin is, wat nou aanvaar word as waarheid, terwyl dit so ver van die werklikheid verwyderd is dat dit nie waar kan wees nie.

Die “ons” is dus net ‘n gedeelte van die Wit Suid-Afrikaners (en Wit-Namibiërs en andere). Dit help ons net mooi niks as ons onsself wil identifiseer nie. Ons het iets meer spesifiek nodig. Dit bring ons by die benaming Afrikaners.

Die meerderheid Wit Suid-Afrikaners is Afrikaanssprekend – of as eerste taal of as tweede taal. Maar die naam Afrikaners verwys nie net na taal nie, dit word ook as ‘n volksnaam gebruik. Die gebruik van die naam Afrikaners word dikwels gebruik as ‘n sinoniem vir Boere. Die naam Afrikaners het veral prominent geword in die twintigste eeu met die ontwikkeling van die ideologie van Afrikaner-Nasionalisme. Hierdie ideologie het sekere kenmerke aan Afrikaners toegeskryf: wit, Afrikaanssprekend, Calvinisties. Daar is ‘n paar probleme met die gebruik van hierdie naam. Die “ons” wat in die moeilikheid is, is nie slegs Afrikaanssprekendes nie. Die wat nie is nie, voel hulleself uitgesluit as hierdie benaming gebruik word. Nogtans is daar ‘n gedeeltelike gesamentlike geskiedenis en kultuur wat ‘n groot aantal Wit Suid-Afrikaners deel. Verder is die “onsˮ lankal ook nie meer Calvinisties nie en weereens voel mense hulle uitgesluit deur die besluitnemers.

Is daar een groep Afrikaners of is daar twee? Na die Britse besetting van die Kaap, het van die Afrikaanssprekendes Britsgesind geword en die Britse kultuur en gewoontes begin navolg. Die res van die Afrikaanssprekendes, woonagtig in die binneland en grensgebiede, het hul eie kultuur en gewoontes behou. Die verwydering tussen die twee groepe het met die Groot Trek sigbaar geword en in die Anglo-Boereoorlog het dit vyandig geword. Die Britsgesindes het die Britte se kant in die oorlog gesteun. Afrikaner-Nasionalisme wou hierdie verwydering beëindig. Aanvanklik was Afrikaner-Nasionalisme se magsbasis in die Transvaal en Vrystaat, maar sedert die laat 1960’s het die Britsgesindes (vanuit die Weskaap) ‘n aanslag daarteen uitgevoer en mettertyd die mag van binne af oorgeneem. Dit blyk dus dat die verwydering en vyandigheid tussen Britsgesindes en Boeregesindes toe nog lewend was. Die Britsgesindes is dus Afrikaners met ‘n Anglo-Amerikaanse kultuur en lojaliteit. Die Boeregesindes is Afrikaners met ‘n eie inheemse kultuur en lojaliteit. Kan ons dus aanvaar dat daar hedendaagse Britsgesinde Afrikaners is wat nie deel van die “ons” is nie?

Behalwe die benaming Afrikaner word die benaming Boer gebruik vir ‘n sekere deel van die Wit Suid-Afrikaners. Die benaming Boer word ook gekoppel aan meeste eie kultuurgoed soos Boerekos en Boeremusiek. Die mense wat hulleself identifiseer as Boere, assosieer hulleself met geskiedkundige gebeurtenisse soos die Groot Trek, die Bloedrivier-gelofte en die Anglo-Boereoorlog. Daar is nie ‘n kopiereg op die naam Boer nie, gevolglik is daar mense wat hulleself Boere noem maar dit nie is nie. Verder het baie van die Boere sedert die 1960’s gewaarsku dat die Dag van Moeilikheid gaan kom, maar die meerderheid blankes het nie belanggestel om te luister nie. Inteendeel het veral die Britsgesindes moeite gedoen om die Boere te diskrediteer en verguis. Hierdie aanslag vind vandag nog plaas. Sou ons kan sê dat die Boere definitief deel van die “ons” is? Miskien selfs die hele “ons”?

Die Dag van Moeilikheid is op ons en ons verkeer in groot gevaar. Ons is ‘n piepklein minderheid teen ‘n massale meerderheid. Dit sal help as ons kan verenig, maar in werklikheid word die verdeeldheid net meer. Behalwe die ouer en bekender organisasies en groepe, lyk dit of daar daagliks nuwe groepe gestig word. Party slegs op sosiale media as ‘n organisasielose groepering. Eenheid tussen organisasies en groepe sal slegs haalbaar wees as almal ontbind en een nuwe organisasie stig. Wat na alle waarskynlikheid nie sal gebeur nie.

Eenheid en saamstaan is nie dieselfde ding nie. Is dit moontlik dat “ons” wat in die moeilikheid is, kan saamstaan en saamwerk? Elke groep bly op sy eie voortbestaan maar is in ‘n verbond met die ander groepe om ‘n gemeenskaplike doel na te streef. Elke deelnemer moet bereid wees om sy eie aktiwiteite tydelik af te skaal. Elkeen sal gewillig moet wees om die mindere te wees ter bereiking van die gemeenskaplike doel: om uit die moeilikheid uit te kom. Al die groepe kommunikeer met mekaar en ondersteun mekaar se individuele aksies. Ter wille van oorlewing. Dalk gebeur dit, wie weet?

Wie is dit wat moet verenig of saamwerk? Net die wat deel is van die “ons”. Sekerlik nie die wat ons wil vernietig nie. Wat sal ons onsself noem? Met watter kultuur en geskiedenis wil ons assosieer?

Is jy ‘n Wit Suid-Afrikaner? Of ‘n Afrikaner? Dalk ‘n Boer? Miskien ‘n Boere-Afrikaner? Die tyd om te besluit is min. Is jy van “ons”, of nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk en sy handewerk

Jy weet hoe dit is met toeriste. Mens wil graag ‘n aandenking koop van die plek waar jy was of van die mense wat jy daar ontmoet het. Is daar toeriste wat aandenkings van die Boerevolk wil hê? Is daar iewers plekke waar sulke aandenkings te koop is? Ons praat nie van Suid-Afrikaanse aandenkings nie, ons praat van Boerevolk aandenkings.

Hier en daar is daar lede van die Boerevolk wat tradisionele handwerk doen, handgemaakte items uit ons eie kultuur. Nogtans kom dit my voor asof ons nie ‘n eie volwaardige handwerkkultuur ontwikkel het nie. Niks waaraan ons uitgeken kan word nie. Daar is vandag winkels wat handwerk benodigdhede verkoop en kunsmarkte waar handwerk produkte verkoop word, maar dit is nie noodwendig tradisionele produkte van die Boerevolk nie. Niks vergelykbaar met die kantbereiding van die Faroërs nie. Ook niks soos die Afrikavolke se handwerk wat by toeristeplekke verkoop word nie.

Ons kultuur is op die voorposte van die Kaap van Goeie Hoop gevorm. Op die voorposte moes ons voorgeslagte selfonderhoudend wees. Hulle moes velle brei, rieme maak, velskoene maak en swepe vleg. Dit was alles alledaagse gebruiksitems en daar was nie versiering en kunstigheid by betrokke nie. Hulle het self tabakpype gemaak en die vrouens het soms mooi tabaksakkies vir die mans gemaak, maar dit het verlore gegaan. Die meubels en huisraad was meestal eenvoudig en funksioneel. Tuisgemaakte klere was alledaagse werksklere, kisklere was aangekoop.

‘n Pionier moes noodgedwonge vele ambagte beoefen. Hy moes boer en het van sy gereedskap self gemaak, hy moes ook self alle herstelwerk doen. Tot om en by 1920 was landbouwerktuie van hout. ‘n Ploeg sal van hout wees, maar die skare van yster. Hooivurke is self gesny. Die regte hout kan heelwat slyt voordat dit onbruikbaar word. Hy was ook ‘n bouer, klipwerker, smit en leerlooier. Hy moes ook koeëls giet en brandewyn (mampoer) stook. Die pionier se vrou moes broodbak, konfytkook, bottermaak, kerse maak en koskook. Mure afwit, patrone maak met blousel, misvloere smeer, naaldwerk en velwerk is ook gedoen. Vrugte is ingelê en gedroog.

Die pionier moes meestal sy eie meubels maak, van melkstoeltjie tot katel. Sulke tuisgemaakte meubels was eenvoudig en funksioneel. Dikwels was dit opvoubaar sodat dit saam geneem kan word as getrek word. Sitplekke was met riempies gevleg. Indien meubels versier word, was inlegwerk gewild. Daar was ‘n voorliefde, saamgebring uit die stamlande, om ligkleurige en donkerkleurige hout saam te gebruik. Verskeie soorte kiste is as huisraad gebruik: meelkiste op hoë pote wat ook as tafel diens gedoen het, wakiste vir pakplek (in die huis en op die wa) en voetstofies van hout. Kuipe en balies is vir verskillende gebruike gemaak. Botterbakke is met ‘n knipmes uitgekerf.

Om al hierdie dinge te kon doen moes die pionier vindingryk wees. Dit is waar ons idioom ‘n Boer maak ‘n plan vandaan kom.

Die ontwikkeling van die kakebeenwa was ‘n besonderse prestasie. Die Nederlandse boerewa was nie opgewasse vir die plaaslike omstandighede nie. Die kakebeenwa was so ontwerp dat dit uitmekaar gehaal kon word en weer aanmekaargesit kon word. Dit het ‘n kaptent gehad en die uitleg was met die oog op praktiese behoeftes. Dit was groter en sterker as die boerewa. Dit was moontlik die sterkste en duursaamste wa wat in daardie tyd gebou is. ‘n Wa het maklik 50 jaar gehou. Die kakebeenwa was vir 200 jaar sonder verandering gemaak en het eers met die opkoms van transportry in onbruik geraak. Niemand weet wie se idee die kakebeenwa oorspronklik was nie, maar dit was sekerlik een van ons belangrikste kultuurprodukte.

In Europa, en in Amerika, was waens getrek deur perde. Aan die Kaap was daar te min perde en moes osse noodgedwonge as trekdiere gebruik word. ‘n Bulkalf is in die eerste winter na sy geboorte geknip. Op 3 jaar is daar begin met die leerproses. Osse moes geleer word om hulle name te ken, elkeen het ‘n spesifieke plek in die span gehad en elkeen was met ‘n ander os gepaar. ‘n Span osse se uithouvermoë was 4 ure sonder vrag, hulle het 5 kilometer per uur beweeg en met 2 spanne kon 32 kilometer per dag getrek word. Ook die os het deel van ons kultuur geword.

Sonder water kan niemand nie. Die selfonderhoudende pionier kon ‘n put grawe, studamme en keerwalle bou en waterkanale en besproeingsvore grawe. In later jare het die windpomp gehelp met watervoorsiening.

Daar is vandag nog mense wat belangstel om meer selfonderhoudend te wees. Voordat daar elektrisiteit was, het mense ‘n houtskool koelkas gebou om voedsel langer te bewaar. Inderwaarheid moes daar minstens 2 wees: een vir suiwel en ‘n ander vir vleis. Die vleishuisie was met stene gebou met openinge tussenin vir ventilasie. Die openinge is met houtskool gevul en met sifdraad bedek. Die huisie word dan natgehou deur water van bo af te laat drup. Nadat staaldromme beskikbaar geword het, is ‘n donkie gebou vir verwarming van water. ‘n Struktuur is gebou waarop ‘n staaldrom gemonteer is en ‘n vuur is daaronder gemaak. Pype is aangelê om die warm water binnenshuis te gebruik.

Die selfonderhoudende pionier het oor die vaardighede beskik om ‘n groot verskeidenheid dinge te kon doen. Voordat daar by die Boerevolk ‘n eie vakmanskap kon ontwikkel, het die Britte gekom met hulle stelsel van vakleerlinge, gildes en vakunies. Mens kan net wonder hoe ‘n eie ontwikkelde vakmanskap sou gelyk het.

Hierdie selfonderhoudendheid het by baie lede van die Boerevolk oorgegaan in ‘n doen-dit-self kultuur. Een rede waarom mens die doen-dit-self opsie kies kan as gevolg van die produk self wees: dit is te duur, dit is nie beskikbaar nie, of dit voldoen nie aan die vereistes waarvoor dit benodig word nie. ‘n Ander rede is vir persoonlike bevrediging: iemand het ‘n skeppende drang, dit is ‘n uitdaging om iets self te kan doen, of dit is inherent aan iemand se eie aard. Baie verskillende aktiwiteite kan as doen-dit-self beskryf word: Verbeterings en instandhouding in en om die huis en ook verskillende soorte handwerk. Die “gereedskap” van die doen-dit-self praktisyn bestaan uit inligtingsbronne (boeke, video’s, kursusse) en gespesialiseerde gebruiksitems (handgereedskap, kraggereedskap, kombuisgereedskap, kunsgereedskap, ensovoorts).

By doen-dit-self gaan dit om eie gebruik, om eie behoeftes. By handwerk gaan dit om produkte te maak om te verkoop of om as geskenke te gee.

Kultuurprodukte word gemaak vir kommersiële winsbejag of om tradisie en kultuur te bewaar. So kan een persoon mampoer stook om aan drankwinkels te verkoop terwyl ‘n ander persoon mampoer stook om op volksfeeste te verkoop. Dieselfde produk maar met verskillende motiewe. Daar is fabrieke wat produkte, wat kultuurprodukte was, op groot skaal vervaardig en verkoop. Kommersiële produkte voldoen ook aan ander vereistes (byvoorbeeld wetgewing) en dit veroorsaak dat dit nie meer ‘n kultuurproduk is nie.

So gebeur dit dat jy ‘n plek soos Krugerhuis besoek en daar allerlei Suid-Afrikaanse goedjies kan koop. Jy kan net nie enige iets van jou eie kultuur daar kry nie – want jy het jou eie museums weggegee. Andersins kan jy by die supermark van jou eie kultuurprodukte koop – onder ‘n Engelse naam en volgens ‘n aangepaste resep. Maar alles is nie verlore nie – miskien is daar iewers ‘n tannie wat waatlemoenkonfyt kook of ‘n oom wat ‘n karwats vleg. Maar miskien ook nie, dalk is hulle al oorlede.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Is Boerekos superieur?

Deesdae is alles net teorie en niks praktyk nie. Ek het ook ‘n teorie. My teorie is dat die Boerevolk se kultuur superieur is want dit word deur die sogenaamde “Blanke Suid-Afrikaners” nagevolg. Almal braai, almal eet biltong, almal gebruik blatjang. Maar dit is alles die Boerevolk se kultuurgoed – Boerekos – wat deur hulle “Tradisionele Suid-Afrikaanse Kos” genoem word.

Nou weet ons dat niemand die Boerevolk sy eie goed gun nie. Een van die aanslae teen ons kultuur is om ons eiegoed toe te skryf aan iemand anders. Byvoorbeeld dat van ons Boerekos geregte van Oosterse slawe afkom. Hierdie fiksie is gepopulariseer in sekere tydskrifte en kookboeke. En moenie die politici vergeet nie.

Die Europeërs wat van 1652 af hulle aan die Kaap kom vestig het, was reeds bekend met die gebruik van speserye in kos. Hulle koskultuur, hoofsaaklik van Hollandse oorsprong, is verder versterk deur die Hugenote en die Mogol politieke gevangenes. Teen 1725 het die eiesoortige Kaapse koskultuur sy beslag gekry. Hierdie vroeë Kaapse koskultuur is dieselfde as wat vandag as Boerekos bekendstaan.

Die eerste Europeërs het aanvanklik gesukkel om te oorleef. Hulle was noodgedwonge verplig om te leer jag en veldkosse te gebruik. Luukses was daar nie en hulle moes leer om met minder verskeidenheid klaar te kom. Vleis was skaars en hulle moes staatmaak op die eet van groente. Dit het tot gevolg gehad dat dit ‘n kenmerk van Boerekos geword het dat daar verskeie groentes op tafel was.

Slawe het uit verskeie kontinente en lande gekom. In hulle lande van herkoms was hulle van die armste van die armstes en het slegs oorlewingskos geken. Hulle het moontlik ‘n bydrae tot Boerekos gemaak deur die gee van name aan geregte. Indien die name wel van hulle af gekom het, het die oorspronklike betekenis in hulle lande van herkoms iets heel anders gewees as wat die Kaapse gereg was. Die Kaapse geregte self het al bestaan voordat daar slawe aan die Kaap was. Die enigste nuwe invloed van buite was hoe om korrelrige rys te kook.

Die Britse anneksasie van die Kaap in 1806 het ‘n groot invloed gehad op ons koskuluur. Sommige Kapenaars het ‘n voorliefde vir alles wat Engels was, gehad. Hulle het dus die Engelse kookkuns slaafs nagevolg en hulle eie kultuur prysgegee. (Dit ten spyte daarvan dat die Engelse nog nooit bekend was vir lekker kos nie.) Nie almal was ingenome met die Engelse nie en sommige “Dutchmen” het die Groot Trek onderneem om van hulle af weg te kom. Die Voortrekkers kon eers nadat hulle gevestig was, begin om groente, kruie en speserye te kweek. Na die Anglo-Boere Oorlog was baie van die Boerevolk erg verarm en het gesukkel om te oorleef. Gevolglik het hul eie Boerekos van hulle tafels af verdwyn. Dit was eers later in die twintigste eeu dat die Boerevolk weer op die been kon kom en weer hulle eie koskultuur kon beoefen.

As ek ‘n koskenner was, sou ek Boerekos in twee afdelings gegroepeer het: kos wat dadelik geëet word en kos wat vir latere gebruik bewaar moes word. Kosse wat dadelik geëet word sou mens dan verder kan verdeel in kos wat in die kombuis berei word, en potjiekos en braaivleis wat buite berei word.

Dit was van oudsher af noodsaaklik om kossoorte te kan bewaar. Dit is gedoen op verskeie maniere soos pekel, droging, beroking, inlê en verwerking in iets anders soos souse, asyn en konfyt. Die Boerevolk is veral bekend vir biltong, Boerebeskuit, blatjang ensovoorts.

Veeboere in die Swellendam en Graaff-Reinet distrikte het, ten spyte van groot veekuddes, ‘n harde bestaan gevoer. Die opset by so ‘n plaas was om baie groente en vrugtebome te plant. Die lae reënval het veroorsaak dat min graan geplant is.  Deur vee van die hand te sit kon koffie, suiker, en speserye gekoop word. Ander produkte wat verkoop of verruil kon word was botter en velle. Ander produkte wat aangekoop moes word was kledingstowwe, kruit en gereedskap. Onder hulle het ‘n eiesoortige koskultuur ontstaan waarin vleis die stapelvoedsel was. Vars vleis is verkry deur vee te slag of deur wild te jag. Wanneer vars vleis nie beskikbaar was nie, het die veeboere soms maande lank van biltong gelewe. Hierdie voorliefde vir vleis bestaan vandag nog by die Boerevolk.

Op lang reise moes kos by die huis voorberei en saamgeneem word. Dit is padkos genoem. Tot onlangs toe was daar nie eetplekke langs snelweë nie en is padkos saamgeneem wanneer met vakansie gegaan is.

Bobotie is van Europese oorsprong en het saam met Van Riebeeck na die Kaap gekom. Die naam bobotie is al vroeg in die Kaap gebruik. Die Verenigde Volke se internasionale resepboek verkeer onder die verkeerde indruk dat bobotie van die slawe af kom en dat dit ‘n “tipies Suid-Afrikaanseˮ gereg is. Sosaties word ook verkeerdelik as afkomstig van slawe beskou. Frikkadelle het ‘n baie ou geskiedenis en het van Europa af gekom. In ‘n tipiese bredie word skaapvleis stadig geprut tot dit sag is en daarna word groente en speserye bygevoeg. Potbraai is ‘n metode om taai vleis sag te maak. Dit kom oorspronklik uit Brabant.

Daar is geen ander Boerekos produk wat so gewild soos Boerewors is nie. Die maak van wors bestaan al duisende jare. Elke worsmaker van Van Riebeeck tot vandag het gehelp om Boerewors te ontwikkel. Daar is ook ‘n wetlike vereiste dat Boerewors uit minstens 90% vleis en 10% speserye en ander middels moet bestaan en dat nie meer as 30% vet mag bevat nie. Gewoonlik word koljander en naeltjies in die speserye gebruik. Goeie Boerewors word van die beste vleissnitte gemaak en die speserye word so vermeng dat daar nie een smaakmiddel is wat oorheers nie. Boerewors is baie gewild by die Boerevolk en ook by baie ander Suid-Afrikaners en uitgewekenes.

Potjiekos is ‘n eg Boerekos gereg en word saam met boerewors, biltong, melktert, koeksisters en bobotie as tipiese Boerevolk geregte beskou. Die pot is oorspronklik afkomstig van die Nederlandse hutspot (ook genoem “dutch-oven”) en is van gietyster. ‘n Tipiese potjiekosresep het een of ander vleis as basis saam met groente en sous. Gewoonlik word die bestanddele in lae geplaas en glad nie geroer nie. Dit is baie gewild by die Boerevolk.

Om vleis te braai is baie oud en het uit Europa hierheen gekom. Braai hier by ons het by die Boerevolk begin, maar het ook gewild geword by ander Suid-Afrikaners. Dit is ‘n sosiale tradisie waartydens (meestal) vleis op ‘n rooster of ander braaier gaar gemaak word. Bykosse sluit in broodjies, slaai, aartappels of patats. Mieliepap is dikwels ook ‘n bykos. Daar is verskillende metodes van braai: oor oop kole, met ‘n ketelbraaier, met ‘n spitbraai, met ‘n gasbraaier of met ‘n skottelbraai. ‘n Braai is ‘n sosiale geleentheid wat spesifieke tradisies en norme het.

Daar is drie gebiede waar ander kultuurgroepe met Boerekos verbind word. Een is die vergissing by sommige persone dat Europese geregte wat deur Van Riebeeck saamgebring is, eintlik by die Maleier slawe ontstaan het. Tweedens is die populariteit van Boerekos by blanke nie-etniese Suid-Afrikaners. (Het blanke nie-etniese Suid-Afrikaners ‘n kultuur?) My gevolgtrekking is dat ten spyte van propaganda, die Boerevolk se kultuur sterker is as hulle “kultuur”. In die derde plek sien ons dat baie produkte wat vroeër tuisgemaak was, nou kommersieel vervaardig en bemark word – met Engelse handelsname. Dit wil klink of hierdie vervaardigers wil voorgee dat hierdie egte Boerekos-produkte geskep of vervolmaak is deur Engelse.

Gewoonlik neem die verowerdes die kultuur van die veroweraars aan – byvoorbeeld die Kapenaars na die Britse besetting. Ten opsigte van Boerekos werk dit anders. Die Boerevolk is die verowerdes en hulle koskultuur word oorgeneem deur die veroweraars. Kan dit wees dat die Boerevolk ‘n beter en sterker kultuur het as wat die veroweraars het?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Waarom is die woorde van die Gelofte verander?

Oor die laaste klompie jare het ek Geloftefeeste op 5 verskillende plekke bygewoon. Volgens die organiseerders groei die bywoning en is daar elke jaar meer mense as die vorige jaar. Interessant ook is die groot getalle jongmense, met klein kindertjies, wat dit bywoon. Nog iets wat ek waarneem is die Boerestyl kleredrag van die jonger manne.

Mens wonder of daar ‘n oplewing in belangstelling is. Sedert die Groot Verraad was daar ‘n groot aanslag teen die Gelofte en Geloftedag. Die groter kerkgenootskappe, kultuurorganisasies en politici het hulle gedistansieer van hierdie dag. Diegene wat deur die Boerehaat geïntimideer was, het nie meer die dag ondersteun nie. Wat het verander? Moontlik het die besef begin deurdring dat ons as volk tans in ‘n soortgelyke situasie verkeer as waarin die Voortrekkers was by Bloedrivier.

Geloftefeeste was sedert 1838 nog altyd jaarliks gevier. Wat wel verskil het, is die aard van die feeste. Sommige was tuis as ‘n familiefees gevier. Ander was as groot volksfeeste gevier. Daar was ook die wat as kerkdienste gevier was. Die bywoning van feeste het ook gewissel. Soms min mense, ander kere enorme skares.

Die meeste Geloftefeeste word gereël deur ‘n plaaslike Feeskomitee. Die Feeskomitee bestaan uit vrywilligers wat alles beplan en organiseer. Landwyd is daar, volgens een webwerf, meer as 70 onafhanklike Geloftefeeskomitees. Sover ek kan vasstel, is daar nie een saambindende Geloftefees organisasie nie. Die feeste waar ek was, het 4 verskillende elemente: daar is ‘n soort kerkdiens, daarna volg ‘n feesrede, die Gelofte word voorgelees en daar is verskillende kultuuraktiwiteite. Die komitee benodig dus ‘n predikant, iemand wat die feesrede kan lewer, mense wat die verversings verskaf en mense om die kultuuraktiwiteite te behartig. Die aktiwiteite moet ook vir kleiner kinders voorsiening maak. ‘n Perseel word benodig. Sommige komitees beskik oor hul eie persele maar ander moet ‘n plek huur. Alles kos geld en fondse moet verkry word. Om die fees by te woon, is gewoonlik gratis, maar daar word wel ‘n kollekte opgeneem.

Die hou van ‘n kerkdiens as deel van die fees het in 1864 in Natal ontstaan. Van 1910 tot omstreeks 1990 het die groter kerkgenootskappe toenemend betrokke geraak by Geloftefeeste. Sedert 1990 het van die groter kerkgenootskappe hulle onttrek aan Geloftefeeste. Die kerkdiens as deel van die fees het nogtans bly voortbestaan as ‘n tradisie. Derhalwe is dit vir die Geloftefeeskomitees nodig om ‘n predikant te soek wat bereid is om die diens te behartig. Baie predikante stel nie belang nie of dalk verbied hulle kerkgenootskappe dit. Blykbaar is predikante van die Evangelies Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Vrye Gereformeerde Kerk meer gewillig om die diens by Geloftefeeste te lei.

In die tydperk na 1880 het die lewering van ‘n feesrede gebruiklik geword. Op 16 Desember is volksvergaderings gehou en het bespreking van aktuele sake plaasgevind. Die gedagte van die feesrede is dat die spreker die eietydse situasie en die gebeure by Bloedrivier met mekaar moet verbind. Om sin en betekenis aan die Gelofte te gee. Om vandag ‘n geskikte spreker te kry is moeilik. Eerstens moet dit iemand wees wat bereid is om dit te doen. Daar is heelwat persone wat bang is om in die openbaar standpunt in te neem. Die spreker moet ook in staat wees om ‘n toepaslike boodskap oor te dra. Hy sal ook interessant moet wees en dit sal help as hy ‘n redelik bekende persoon is. Die feesrede moet nie net nog ‘n vervelige toespraak wees nie, maar dit moet mense kan trek en iets gee om oor te dink.

Die kultuuraktiwiteite wissel volgens die bronne en talente wat plaaslik beskikbaar is. ‘n Boerekommando in tradisionele drag met historiese vlae is altyd gewild. Sommige komitees het ‘n kanon wat gevuur word. Op een plek is daar ‘n demonstrasie van skiet met ‘n voorlaaier, by ‘n ander een ‘n demonstrasie van sweepslaan. Partykeer is daar tradisionele eet- en drinkgoed beskikbaar. Daar is ook Boeresport wat aangebied word. ‘n Ander een het ‘n interessante museum. Baie van die aktiwiteite is in die buitelug. As dit reën moet daar ‘n ander plan gemaak word. Dit is waarskynlik die pret van die kultuuraktiwiteite wat die grootste trekpleister na Geloftefeeste is.

Een item wat by alle Geloftefeeste teenwoordig is, is die lees van die Gelofte. Die weergawe van die Gelofte wat vandag algemeen gebruik word (die Moderne Gelofte), is in die begin van die 20ste eeu inmekaargeflans uit die vier oorspronklike Geloftebeskrywings. Die eerste beskrywing is die amptelike notulering van die Boere Volksraad (Oorspronklike Gelofte), soos opgeteken deur J.G. Bantjes (klerk van die Volksraad) tydens die gebeure by Bloedrivier. Die tweede is die Kommandantsverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad twee weke na die Slag van Bloedrivier. Die derde is die brief van die Volksraad aan ‘n Kaapse koerant. Die vierde is die herinneringe van Sarel Cilliers 30 jaar later op sy sterfbed. Die eerste drie stem ooreen met mekaar, Sarel Cilliers se herinneringe verskil daarvan.

Die Oorspronklike Gelofte lui soos volg: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Die Moderne Gelofte is so bewoord: Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n Huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Soos gesien kan word is daar verskille tussen die Oorspronklike Gelofte en die Moderne Gelofte. Die eerste groot verskil is dat die oorspronklike beloof om ‘n huis te stig (instel of vestig) tot God se gedagtenis, terwyl die moderne ‘n huis wil oprig (bou) tot God se eer. Die betekenis van “huis” is ‘n woonplek, “stig” is om tot stand te bring. Die bedoeling was klaarblyklik dat die Voortrekkers beloof het om ‘n volk tot stand te bring tussen wie daar ‘n woonplek vir God sou wees. Daar is dus nie verwys na die bou van ‘n kerkgebou nie. Ten tyde van die Gelofte was al die Voortrekkers in elk geval onder tug en kerkloos. Hulle het ook nie ‘n predikant gehad nie, ‘n leek het die dienste gelei. Die gebeure van 16 Desember 1838 was nie net die redding van een groepie Voortrekkers nie, dit was ook die geboorte van ‘n volk. Om ‘n volk te wees wat deur ‘n Gelofte tot stand gekom het, is nie ‘n geringe saak nie. Minagting of losmaking van die Gelofte bring die volk se bestaansreg in gedrang.

Die moderne weergawe het die woorde: ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring. Dit staan glad nie in die oorspronklike nie. Dit kan seker nie kwaad doen om Geloftedag as ‘n afgesonderde dag te vier nie. Maar dit is nie beloof nie en word nie vereis nie. Die aard van Geloftedag is ‘n dag van dankbaarheid en blydskap, derhalwe ‘n feestelike geleentheid. In die oorspronklike is die voorneme om die gebeure in ‘n boek op te teken (die Volksraad se Joernaal?), terwyl die moderne weergawe dit weglaat.

Hoe het dit gebeur dat die Gelofte wat voorgelees word (Moderne Gelofte), verskil van die amptelike beskrywing (Oorspronklike Gelofte)? Die een moontlikheid is dat daar mense was wat verkeerdelik vir J.G. Bantjes as ‘n kleurling aangesien het. Gevolglik is die Volksraad se amptelike beskrywing verander omdat die sekretaris as ‘n kleurling aangesien is. Let wel, die Volksraad was self ooggetuies van alles en het die beskrywing van die Gelofte goedgekeur. ‘n Ander moontlikheid is dat daar in die twintigste eeu persone was wat die bewoording verander het om met hul eie ideologie ooreen te stem. Indien dit die geval was, sou dit skandalig wees.

Die Gelofte en die gebeure by Bloedrivier was in meer as een opsig ‘n keerpunt in die geskiedenis. Die militêre oorwinning oor Dingaan het die Zoeloes se tirannie (Mfecane) in Suidelike-Afrika finaal gebreek. Daarna kon ander swart volke bly voortbestaan. Ten spyte van die werk van sendelinge, was daar voor Bloedrivier geen bekeerlinge tot Christus onder die Zoeloes nie. Bloedrivier het die deur tot die kerstening van die Zoeloes oopgemaak. Na Bloedrivier het die meerderheid Nederlandssprekendes van Suidelike-Afrika besef dat hulle ‘n gesamentlike lotsverbondenheid het. 16 Desember 1838 was die geboortedag van die Boerevolk.

Die gebed was om te bly voortbestaan. Die belofte was dat ons onderneem om vir God ‘n woonplek tussen ons te maak. Die nakoming van die Gelofte bepaal of die Boerevolk ‘n toekoms het, of daar ‘n rede is dat ons mag bly voortbestaan.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

‘n Boererepubliek op wiele

Die oomblik toe die Voortrekkers op die oorkantste wal van die Oranje was, dink ek, het hulle seker ‘n groot fees gehou. Hulle was, moes hulle gedink het, uit die kloue van die Britte. Die ding wat hulle wel gedoen het, was om hulle eie regeringstelsel in te stel, ‘n republiek. Hulle het nog nie ‘n grondgebied gehad nie, hulle kon nie eers saamstem oor waar ‘n grondgebied moes wees nie, maar hulle het ‘n eie regering ingestel. Daar is ‘n les of twee wat ons by die Voortrekkers kan leer.

Die Boerevolk was die eerste republikeine in Afrika. Die republikeinse ideaal het hulle in Nederland gekry. Hulle denke kon ook deur die Amerikaanse Revolusie aangevul gewees het. Voor die Groot Trek was daar al pogings in Swellendam en Graaff-Reinet om republieke te stig. Op 2 Desember 1836 het die Voortrekkers hulle eerste republiek gestig op Marokashoek, naby Thaba Nchu. Hierdie republiek is gestig deur die trekgeselskappe van Maritz en Potgieter. Kort daarna het die trekgeselskappe van Uys en Retief ook opgedaag en is daar ‘n nuwe verkiesing gehou. Op 6 Junie 1837 is Piet Retief verkies as Goewerneur (President) en Gerrit Maritz as Regter-President. Die naam van die republiek was De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost Afrika.

Die Voortrekkers het nie die uitvoerende gesag aan net een persoon opgedra nie, maar aan ‘n Raad van Politie. Hulle het ook die uitvoerende en wetgewende funksies geskei. Die beginsels wat by Morakashoek neergelê was, was dat die volkswil deur stemming deurslaggewend sou wees. Hierdie beginsels was die grondslag waarop die latere Boererepublieke gevestig is. Dit het ook later tot gevolg gehad dat die Vrystaat ‘n modelrepubliek genoem is. Dit was ‘n republiek wat nog op pad was na ‘n eie land toe. Dit was ‘n republiek van mense en nie van grond nie. Die republiek se hoofstad en kantore was op ossewaens, die raadsaal was in ‘n tent of onder ‘n boom. Ons van vandag moet oplet. Hulle was nie meer onder vreemde heerskappy nie, dit was ‘n regering uit die volk en vir die volk.

Soos dit met die Boerevolk gaan, was daar onderlinge twiste en faksies oor waarheen hulle moet trek. Potgieter was ten gunste van die binneland en betrekkinge met die Portugese hawe in Mosambiek. Die res was ten gunste van Natal met Port Natal as hawe. Na ‘n ruk is besluit om eers na Natal te trek en daar ‘n gebied te verseker. Potgieter het saam getrek maar het nie sy gekose gebied prys gegee nie. Terwyl Retief sy mense Natal ingelei het, het Potgieter die Matabeles verslaan en Transvaal en Noord-Vrystaat vir bewoning beveilig. In Natal is Retief deur die Zoeloes vermoor, Maritz is dood weens siekte en Uys het by Italeni gesneuwel. Andries Pretorius het hierna in Natal aangekom en is gevra om die leierskap op hom te neem.

Na die Slag van Bloedrivier word die Republiek van Natalia gestig. Hierdie tweede republiek het nou aanspraak gemaak op ‘n definitiewe grondgebied. Die Volksraad het die hele gemeenskap van Voortrekkers as een volk gereken en het nie net aanspraak gemaak op ‘n gedeelte van Natal nie, maar ook op die gebied wat deur Potgieter beveilig is. Die Volksraad het nie in Potgieter se gebied ingemeng nie. Daar was dus twee gebiede binne die een republiek: Winburg-Potchefstroom en Pietermaritzburg. Die Volksraad het 24 lede gehad en het ‘n grondwet opgestel. Die hoofstad was Pietermaritzburg.

Toe die Voortrekkers oor die Oranje was, het hulle gedink hulle is nou verlos van die Britte. Maar die Britte het nie so gedink nie. Hulle het steeds die Voortrekkers as hulle onderdane beskou en in 1836 die Cape of Good Hope Punishment Act uitgevaardig. Hiervolgens sou Britse magistrate steeds jurisdiksie hê oor  “onderdane” in gebiede wat nie deur Brittanje beset was nie. Een van die eerste probleme wat die Republiek van Natalia gekry het, was die Britse besetting van die Port Natal hawe. Dit is gedoen op bevel van die Kaapse Goewerneur Napier, sonder magtiging uit Engeland. Die Volksraad het protesteer, maar die Britte het hulle nie daaraan gesteur nie. Hiermee het die Voortrekkers die beginsel neergelê dat hulle vreemde onderdaanskap verwerp. Hierdie standpunt is volgehou tot by die Konvensie van Sandrivier in 1852. Napier se besettingsmag het ‘n jaar later onttrek.

Die tweede probleem wat dringend deur die Volksraad hanteer moes word, was die onenigheid tussen die Natallers en Potgieter. Hierdie onenigheid kon die voortbestaan van die republiek in gevaar stel. Die President, Andries Pretorius, het dit self hanteer en daarin geslaag om die Voortrekkers te verenig. Pietermaritzburg sou die hoofstad van die Verenigde Burgerij wees. Die Potchefstroom-trekkers sou 12 volksraadslede hê. Hulle sou ook ‘n adjunkraad op Potchefstroom  hê wat hulle plaaslike sake sal hanteer, dit was gesien as ‘n komitee van die Volksraad en nie as ‘n aparte liggaam nie. Dieselfde vlag sal oor al die Voortrekkers waai. Ons merk dat desentralisasie toe die antwoord was, en vandag nog steeds is.

Die Republiek van Natalia het nie lank bestaan nie en het in 1843 ontbind. Die Britte was nie bereid om die Republiek van Natalia te erken nie en Napier het weer in 1842 ‘n besettingsmag na Port Natal gestuur. Andries Pretorius het sy land verdedig en by Congella die Britse mag verslaan. Die Britte het versterkings gestuur en Port Natal verower. In Mei 1843 het die Britte Natal geannekseer. Die Adjunkraad van Potchefstroom het nie die oorgawe onderteken nie en hulle nie aan Britse gesag onderwerp nie. Die Adjunkraad is omskep in ‘n Burgerraad en het weer die Voortrekkerrepubliek ingestel en ‘n grondwet opgestel. Die meeste Voortrekkers in Natal, ook Andries Pretorius, het tussen 1842 en 1847 na die Vrystaat en Transvaal verhuis.

In 1848 slaan die Britte weer toe en annekseer die Vrystaat onder die naam Oranjerivier Soewereiniteit. Nie al die inwoners van die Vrystaat was Voortrekkers nie, sommiges was Trekboere wat hulleself as Britse onderdane gesien het. Daar was ook Griekwas en Basoetoes in die gebied en hulle was verdragstate van Brittanje. Die Voortrekkerrepubliek van Potchefstroom-Winburg is in twee verdeel. Andries Pretorius het probeer om die gebied te herower maar is op Boomplaas verslaan.

In Transvaal was daar verdeeldheid onder die Voortrekkers. Daar was drie hoofsentra: Potchefstroom, Ohrigstad en Zoutpansbergdorp. Pogings om die drie groepe te verenig het aanvanklik misluk. In Mei 1849 is daar ‘n groot deurbraak gemaak met die stigting van die Verenigde Bond onder ‘n verteenwoordigende volksraad. Hiermee is almal Noord van die Vaalrivier verenig.

Die Britte het ernstige probleme uit verskeie oorde gekry. In Brits Kaffraria het die Agste Grensoorlog uitgebreek, die Khoi in die Kaapkolonie was opstandig en die Britte is deur die Basoetoes verslaan. Hierdie situasie was voordelig vir die Vrystaatse Voortrekkers en hulle vra Andries Pretorius om met die Britte ‘n goeie verstandhouding aan te gaan. Die Britte was nou bereid om te onderhandel en hulle ontmoet Pretorius by die Sandrivier. Hier is die belangrike Sandrivier Konvensie onderteken op 17 Januarie 1852. Met hierdie ooreenkoms is die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Voortrekkers Noord van die Vaal deur Groot Brittanje erken. Ongelukkig wou die Britte nie die Voortrekkers in die Oranjerivier Soewereiniteit se onafhanklikheid ook toestaan nie.

Nadat die Britte weereens deur die Basoetoes verslaan is, het hulle genoeg gehad. Op 23 Februarie 1854 word die Bloemfontein Konvensie onderteken. Daarin het die Britte die staatkundige onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en Vaalriviere erken. Die Voortrekkers wou oorspronklik net een republiek gehad het. In later jare was daar ‘n ideaal om die twee republieke en die Kaapse binneland te verenig.

Die Groot Trek het in 1835 begin met die trekke van Louis Trichardt en Lang Hans van Rensburg. Die Groot Trek het geëindig toe die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat tot stand gekom het. Vir omtrent 20 jaar het die Voortrekkers gesoek na ‘n eie land en is telkens verhinder. Maar al het hulle nie ‘n eie land gehad nie, wou hulle steeds oor hulleself regeer. ‘n Republiek wat op trek was, maar wat as regering gefunksioneer het.

Blykbaar was meeste van die Voortrekkerleiers nog jong manne in hulle laat dertigs toe die Groot Trek begin het. Met die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat 20 jaar later, het hulle die leierskap oorgedra na die volgende geslag toe.

Hierdie drang na ‘n eie land en ‘n eie republiek leef nog steeds in die harte van die Voortrekkers se nasate. Die beginsel dat hulle nie onderdane van vreemdes wil wees nie, is uitgebrei met die beginsel dat hulle nie vreemdes as hulle onderdane wil hê nie. Dit word genoem die reg op selfbeskikking. Dit is waarheen ons op pad is. Die wiele draai en die osse beur vorentoe.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Het die Boerevolk ‘n eie vlag?

Daar is ‘n verskil tussen ‘n landsvlag en ‘n volksvlag. In die ou dae toe Europa nog uit volkstate bestaan het, was die volk se vlag en die land se vlag dieselfde. Hier by ons was dit nie so nie. Al die Boererepublieke het hul eie vlae gehad, maar nie een was die volk se vlag nie. Het die Boerevolk ‘n eie volksvlag? Is daar ‘n vlag uit ons geskiedenis wat ons volksvlag is of kan wees? Waar pas die Bloedvlag in?

Is die Prinsevlag die eerste vlag wat in Afrika gehys is? Op grond van ‘n seinbrief van Jan van Riebeeck, is vasgestel dat hy die Prinsevlag gehys het met sy aankoms aan die Kaap. Die Prinsevlag, ook bekend as die Oranje-Blanje-Blou, is die eerste vlag in die wêreld met drie ewewydige kleurstroke. Hierdie vlag was so mooi dat dit as inspirasie vir ander vlae gedien het. Die eerste verwysing na hierdie vlag was in 1572 toe die Watergeuse die stad Den Briel ingeneem het. Vermoedelik het hulle die Hollandvlag se rooi vervang met oranje ter ere van Willem die Swyer, Prins van Oranje. Gedurende die Tagtigjarige Oorlog was dit die Protestante se vlag.

In Nederland was nie almal gelukkig met die oranje nie. Teen 1796, toe die VOC op sy laaste bene was, het die rooi, wit en blou die stryd gewen en word dit die Nederlandse vlag. Toe die Koninkryk in 1806 tot stand kom, word die rooi, wit en blou behou as Nederlandse vlag. Die Huis van Oranje, die Nederlandse koningshuis, is van dieselfde familie as Willem die Swyer, maar is nie direkte afstammelinge van hom nie. Die naam  “Oranje“ verwys nie na die kleur nie, dit is van Franse herkoms. Die Nederlandse rooi, wit en blou het nie oor die Kaap gewapper nie, wel die Oranje-Blanje-Blou.

Na 1806 het die Kaap ‘n Britse kolonie geword en het die Union Jack die Prinsevlag vervang. Die Union Jack is saamgestel uit die volksvlae van die Engelse, die Skotte en die Iere. Die Walliese volksvlag is nie ingesluit nie.

Die Voortrekkervlag van A.H. Potgieter was moontlik die eerste ander vlag wat deur ons voorgeslagte gebruik was. Dit was die Kruisvlag van die Hertog van Boergondië en het ‘n rooi oorhoekse St. Andrews kruis op ‘n blou agtergrond.

Kort na die slag van Bloedrivier, is die Republiek van Natalia gestig. Hierdie republiek het van 1839 tot 1843 bestaan. Die Nataliavlag was die Nederlandse rooi, wit en blou, maar in die vorm van drie driehoeke. Die republieke van Goosen en Stellaland het ook ‘n kortstondige bestaan gehad. Die Goosenvlag se vlag het soos die Transvaalvlag gelyk, behalwe dat die blou met swart vervang is. Die swart was afkomstig van die Duitse vlag want daar was ‘n ideaal om Duits-Wes-Afrika en die ZAR nader aan mekaar te bring. Die Stellalandvlag was ‘n wit ster op ‘n groen agtergrond.

Die Republiek van die Oranje Vrystaat se vlag (die Vrystaatvlag) is ontwerp deur die Nederlandse Koning Willem III. Die Nederlandse vlag was in die inkwartier en verder was daar drie oranje en vier wit horisontale strepe aan die buitekant. Die republiek het bestaan van 1857 tot 1902.

Die Nederlands gebore Ds. Dirk van der Hoff het die Transvaalvlag (ook bekend as die Vierkleur), die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ontwerp. Hierdie vlag het van 1858 tot 1902 oor die republiek gewapper. Die vlag bestaan uit die Nederlandse vlag met ‘n vertikale groen streep aan die linkerkant. Die rede vir die groen streep is nie bekend nie.

Na die Anglo-Boere Oorlog word die Unie van Suid-Afrika in 1910 gestig as ‘n Britse Kolonie. Die Unie het bestaan uit die twee Boererepublieke, die Kaapkolonie en swart gebiede wat deur Brittanje verower is. Van 1910 tot 1928 was die Britse vlag, bekend as die Union Jack, die Unie van Suid-Afrika se enigste vlag.

Die Boerevolk was bitter ongelukkig met hierdie vlag, dit was die vyand se vlag en ‘n simbool van hulle vernedering. In 1925 is daar begin, deur veral Afrikaanssprekende blankes, om aanvoering te doen vir ‘n eie Suid-Afrikaanse vlag. Dit het groot teenstand uitgelok by Engelssprekende blankes. Vir drie jaar het kommissies en organisasies gesoek na ‘n vlag wat albei groepe sou tevrede stel. As ‘n kompromie is die Prinsevlag as basis aanvaar. Dit was die oranje, wit en blou vlag wat die eerste vlag in Suidelike Afrika was. Dit was ook ‘n politiek neutrale vlag. Op die wit baan is drie klein vlaggies aangebring: die Union Jack, die Vrystaatvlag en die Transvaalvlag. In 1928 is hierdie vlag (die Unievlag) as landsvlag saam met die Union Jack aanvaar. Suid-Afrika was die enigste land met twee nasionale vlae. Eers in 1957 het die Union Jack sy status verloor en het die Unievlag die enigste vlag geword. Met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 is slegs die een vlag behou as nasionale vlag. Die naam is toe verander na Republiekvlag.

Die Ou Suid Afrikaanse vlag is in 1994 vervang met die huidige vlag. Die nuwe vlag was ‘n politieke kompromie tussen die destydse Nasionale Party en die African National Congress. Hierdie nuwe vlag het geen verbintenis met die Boerevolk se kultuur en geskiedenis nie. Die Ou Suid-Afrikaanse vlag was in gebruik tydens die Tweede Wêreldoorlog en die Bosoorlog en baie blankes beskou dit nog steeds as hulle vlag.

In Nederlands beteken bloedvlag ‘n rooi aanvalsvlag wat gehys word voor ‘n sekere taktiese handeling. Dit is rooi met ‘n arm met swaard embleem. By ons word bloedvlag gebruik in die visioene van Siener van Rensburg. Hierdie visione is opgeteken voor die ontwerp van die Ou Suid-Afrikaanse vlag. Siener het die volgende gesê: Die volk sal dinge in sy eie hande neem, en die wat nie wil padgee nie, trap hulle dood. Dan sal daar ‘n groot stilte heers net voor die storm wat geweldig maar kort van duur sal wees. Daar sal een emmer bloed omval en daarin sal ons vlag gedoop word en die bloedvlag sal dan wapper oor ‘n vrye volk. Hier beteken bloedvlag dus ‘n vlag wat in die toekoms die volksvlag gaan wees.

Nog ‘n visioen van Siener word soos volg verhaal: Toe sien oom Niklaas weer die vark hang in Engeland aan die haak – klaar afgeskraap met ‘n vlek aan hom. Ek vra toe aan oom Niklaas wat die vlek dan sou beteken. Toe sê hy dit is nou die Engelse vlek in ons Suid-Afrikaanse vlag. Toe sien oom Niklaas weer die vark hang in Bloemfontein sonder die vlek aan die haak. Dit beteken dat ons vlag weer skoon sal hang oor die Unie van Suid-Afrika. Hy sê toe aan my: “Of ek en jy nog sal leef weet ek nie, want dit sal nog lank wees, want ek sien nog moeilikheid hier in ons land ook met die swartes en wittes hier en daar, maar ons eintlike doel sal bereik word, dat ons vlag weer skoon sal hang oor ons land met ‘n republiek in Suid-Afrika.” (Die Republiek van 1961 het die Unievlag sonder verandering behou.)

Vir my klink dit of Siener gepraat het van die Ou Suid-Afrikaanse vlag (voordat dit nog bestaan het) en dat die verwydering van die vlaggies op die wit baan dit die volksvlag sal maak. Met ander woorde, die Prinsevlag gaan die volksvlag word. Interresant dat die eintlike doel met ‘n eie vlag ‘n “skoon” vlag was sonder die klein vlaggies en veral sonder die Union Jack.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Het die Boerevolk nog deugde?

Eens op ‘n tyd was die Boerevolk aangeprys vir ondermeer die deugde van dapperheid, vryheidsliewendheid, pligsgetrouheid en lojaliteit. Westerlinge het toe ander waardes gehad as wat hulle vandag het. Toe was sulke deugde bewonderenswaardig en ‘n voorbeeld om na te streef. Dit was een van die hoofredes waarom daar soveel mense in Europa was wat die Boeresaak tydens die Anglo-Boereoorlog ondersteun het. ‘n Klein volkie was in ‘n desperate stryd teen ‘n oormag gewikkel vir die behoud van hulle deugde en waardes.

Hoe staan sake vandag? Het ons as volk nog deugde? Wat presies is deugde en is daar in die moderne wêreld nog tyd en plek vir deugde?

In die Westerse wêreld is die denke oor deugde te danke aan wysgere uit die antieke tyd. Dit het gelei tot die formulering van die vier kardinale deugde. Die woord “kardinaal” kom van die Latynse woord vir  “skarnier”. Alle ander deugde wentel om hierdie vier. Hierdie deugde is ‘n voorvereiste vir elke ander deug om te bestaan. Hierdie vier is: Prudentia (versigtigheid, verstandigheid, wysheid), Iustitia (regverdigheid, regskapenheid), Fortitudo (moed, sterkte) en Temperantia (gematigheid, matigheid, selfbeheersing).

Met die koms van die christendom, is daar drie teologiese deugde bygevoeg, naamlik geloof, hoop en liefde. Saam met die kardinale deugde vorm dit die Sewe Deugde. Vir elke deug is daar ook ‘n ondeug. Die sewe ondeugde is hoogmoed, afguns, woede, luiheid, gierigheid, gulsigheid en onkuisheid. Dit word ook die Sewe Hoofsondes genoem. In die klassieke deugetiek is gemeen dat die besit van deugde tot die geluk sou lei, waar hulle gemeen het dat geluk die hoofdoel van die lewe is. Vir die kerk was deugde ten nouste verbonde aan goeie werke en sonde.

Die Protestants-Calvinistiese siening van deugde word ook die Pruisiese deugde genoem. Hierdie siening is sedert Frederik Wilhelm I van Pruise se bewind verkondig en bevorder. Hierdie deugde sluit in: opregtheid, beskeidenheid, eerlikheid, fluksheid, reglynigheid, geregtigheid, pligsgetrouheid, pligsbewussyn, ordelikheid, stiptelikheid, redelikheid, netheid, spaarsamigheid, onkreukbaarheid, betroubaarheid, dapperheid, selfdissipline, gehoorsaamheid en doelgerigtheid. Ook die Boerevolk het hierdie eienskappe as deugde beskou.

In Galasiërs 5:19-26 word die gevolge van die sondige natuur vergelyk met die gevolge van ‘n lewe wat deur die Heilige Gees beheers word: … maar julle ken die dade van die menslike natuur; dit is: seksuele oortredings, onreinheid, wellustigheid, aanbidding van afgode, towery, vyandskap, tweedrag, jaloesie, woede, hardkoppigheid, misleiding, valse leringe, afguns, moord, dronkenskap, orgies en soortgelyke dinge en dat die wat hierdie dinge doen, soos ek vroeër gesê het en nou weer sê, nie die Koninkryk van God sal erf nie. Die vrugte van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, sagte omgee, goedheid, vertroue, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet in plek nie, maar dié wat aan Die Gesalfde Een behoort, het die menslike natuur met al sy passies en begeertes gekruisig. Ons moet daarom in die Gees leef en aan die Gees oorgee en laat ons nie sonder lof en eer wees nie; mekaar slegmaak en jaloers wees op mekaar nie. (PWL). Alhoewel hierdie eienskappe soortgelyk is aan deugde en ondeugde, is daar een groot verskil. Deugde is van toepassing op almal, ook heidene, maar die vrugte van die Gees is slegs van toepassing op persone wat die Pad van Lewe volg.

Ons eerste waarneming is dat deugde en ondeugde van toepassing is op individue. ‘n Groep sal sulke deugde en ondeugde slegs kan vertoon indien die meeste lede van die groep dit vertoon. Byvoorbeeld: die Japannese is bekend vir netheid. Dit is slegs moontlik omdat die meeste Japannese netheid beoefen. Daar is seker lui Duitsers ook, maar as volk is hulle bekend vir hul hardwerkendheid. In die geval van die Boerevolk beteken dit dat wanneer die meerderheid lede van die volk ‘n bepaalde deug vertoon, daar gesê sal kan word dat dit ‘n deug van die volk is.

Hoe gebeur dit dat iemand deugde het? Jy word nie daarmee gebore nie, jy moet dit aanleer. Meestal begin die leerproses van kindsbeen af by jou ouers en die gemeenskap waarin jy groot word. Aanvanklik sal dit dalk moeilik gaan en sal jou boude dikwels brand. Later kom dit vanself, dit het deel geword van wie jy is. Die volwassenes sal doelbewus deugde moet bevorder en ondeugde moet afkeur.

Kan mens ondeugde afleer? Ek is seker daarvan, maar dit sal moeilik wees. Mens sal eers jouself moet ken, iets wat nie vanselfsprekend is nie. Meeste mense sal nie sukkel om hul sterkpunte te ken nie, maar dit is makliker om iemand anders se swakpunte raak te sien as jou eie. Om jou swakpunte te herken en erken kan net gebeur indien jy brutaal eerlik met jouself is. Gewoonlik moet daar eers ‘n krisis wees wat jou dwing om jouself te ondersoek.

Mens kan ook kies om deugde aan te leer en ondeugde af te leer. Sommige persone volg ‘n program van selfverbetering waarmee daar gepoog word om ‘n beter mens te word.

Het die Boerevolk nog dieselfde deugde as wat ons voorouers met die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog gehad het? Of het ons dit op die platteland agtergelaat toe ons verstedelik het? Sedert 1902 het ons baie veranderinge beleef. Ons staan dikwels verslae as ons lelike goed in ons eie geledere oplet. Waar kom dit vandaan?

Om Boer en Boerevolk te wees is nie net iets uiterlik nie, dit is ook innerlik. Ons het nie net ‘n stoflike kultuur nie, ons het ook ‘n geestelike kultuur. Ons geestelike kultuur sluit deugde en ondeugde in. Ons behoort, soos van ouds, herkenbaar te wees aan ons deugde.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Ander Wit Suid-Afrikaners

Daar is ten minste twee verskillende groepe blankes in Suid-Afrika. Die een is die Boerevolk, die ander een is …? Die Boerevolk is ‘n eiesoortige etniese groep met ‘n eie taal, kultuur en geskiedenis. Die ander blankes noem ons voorlopig die Ander Wit Suid-Afrikaners. Is hierdie Ander Wit Suid-Afrikaners ‘n etniese groep of is hulle ‘n rasgroep? Wêreldwyd word erken dat etniese groepe regte het, maar daar is geen erkenning van regte vir rasgroepe nie.

Die Boerevolk se stamouers uit Europa het veral uit drie groepe gekom: Nederlanders, Nederduitsers en Hugenote. Daar was ook ‘n vierde groep uit Europa wat hulle aan die Kaap kom vestig het, die 1820 Setlaars uit Brittanje. ‘n Minderheid van hulle het ook stamouers van die Boerevolk geword. Hulle is ook as pioniers aan die Oosgrens gevestig. Hulle was aan dieselfde omgewing en omstandighede blootgestel as die Boere pioniers. Blykbaar het die twee groepe ook goed met mekaar oor die weg gekom. Nogtans was daar groot onderlinge taal, kultuur en godsdiensverskille wat veroorsaak het dat hulle nie in een groep saamgesmelt het nie.

Die Setlaars was Brits en het uit verskillende dele van die Verenigde Koninkryk gekom. Uit ‘n etniese oogpunt was hulle Engelse (Anglo-Saksers), maar daar was ook minderhede Walliesers, Iere en Skotte. Die Anglo-Saksers was verwant aan die Nederduitsers. Hulle het uit verskillende distrikte gekom en het ook aan verskillende Britse Protestantse kerke behoort. Die een gemeenskaplike eienskap wat hulle wel gehad het, was dat hulle Engelssprekend was. Hulle het gekom uit ‘n tradisie van individualisme waar die individu belangriker is as die groep.

Hulle en hulle nageslag het nooit ‘n eie afsonderlike identiteit ontwikkel nie. Aanvanklik het hulle hulself beskryf as Britte of Engelse. Van vroeg in die 20ste eeu af word hulle gesamentlik as Engelssprekende Suid-Afrikaners beskryf. Die Boere het hulle Britte of Engelse genoem. Deesdae word daar gepraat van Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners – oftewel Wesas.

Na 1820 het nog nuwe immigrante uit die Britse Ryk hulle in Suidelike Afrika kom vestig. Hulle het aansluiting gevind met die reeds bestaande Britse bevolking. Nie almal was etnies Engels nie, daar was ook mense van ander etnisiteite wat verkies het om Engelstalig en Brits te wees.

Die Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners het hiernatoe gekom met ‘n nostalgiese idee van “home” en hulle omgewing Brits gemaak deur middel van argitektuur, meubels en plante. Hulle het hulle sportsoorte, politieke stelsel, feeste en lewenswyse gevestig. Hulle was trots daarop om Brits te wees. Hierin is hulle versterk deur Brittanje se invloed op Suid-Afrika. Die Engelssprekendes was lojaal aan hulle vors en aan die Britse Ryk. Begrippe soos “home” en “King and country” was algemeen gebruik.

Anders as by die Boerevolk, was etnisiteit en godsdiens nie so belangrik vir Engelssprekendes nie. Om Brits te wees, moes jy lojaal wees aan die Kroon, die Ryk en die Britse kultuur. Jy moes ook aan Engels voorkeur gee. Afrikaanssprekendes kon ook Brits wees as hulle angliseer. So ook mense uit ander wit volke, byvoorbeeld Jode.

Britsheid het nie die Engelssprekendes verhinder om terselfdertyd Suid-Afrikaners te wees nie. Daar was by hulle geen konflik tussen hierdie twee identiteite nie. Suid-Afrikanisme is aangemoedig deur sosiale kontak tussen Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes. Onder andere kon hulle saam sport beoefen onder die naam Springbokke. Oorwinnings in die twee Wêreldoorloë het Suid-Afrikanisme versterk. Hierdie ideologie se groot vyand was Afrikaner-Nasionalisme en het groot terugslae beleef met die verkiesing van 1948 en Republiekwording van 1961.

Na Republiekwording het daar ‘n vervreemding tussen Engelssprekende Suid-Afrikaners en Brittanje ontstaan. Brittanje moes haar leierskap in die Engelssprekende wêreld afstaan aan die Verenigde State. Verder het die gevoel ontstaan dat Brittanje die koloniale Engelssprekendes in die steek gelaat het, soos gedemonstreer met Rhodesië. Die Engelssprekendes het hulle veiligheid en lewenswyse so belangrik geag dat hulle gewillig was om die Bosoorlog te ondersteun. Met die Bosoorlog het ‘n nuwe verhouding tussen Afrikaanssprekendes en Engelssprekendes ontstaan. Tweetaligheid het algemeen geword en daar was meer huwelike tussen die twee groepe. Nog Engelssprekendes het verafrikaans.

Vandag is daar min Engelssprekendes wat hulle groep se identiteit kan omskryf en ‘n visie vir hulle as ‘n eiesoortige groep kan uitspel. In Suid-Afrika is Engels nie meer hulle eie taal nie, hulle is nou ‘n minderheid onder die Engelssprekende bevolking. Hulle sien Suid-Afrika steeds as ‘n eenheidstaat volgens die oorspronklike Britse koloniale grense. Dit is hulle land. Na 1994 was hulle eufories oor die ekonomiese welvaart wat hulle verwag het. Nou het hulle sinies geword oor die verswakkende ekonomie, toenemende misdaad en korrupsie. Hulle leef hulle uit in besigheid, sport en buitelug aktiwiteite.  Emigrasie na ander, hoofsaaklik wit, Engelssprekende lande vind ook plaas.

Die Wit Engelssprekende Suid-Afrikaners het ‘n groot invloed op die kultuur en lewenswyse van die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners uitgeoefen. Sommige Engelssprekendes het deel van die Boerevolk geword. Sommige Afrikaanssprekendes het verengels en Engelssprekende Suid-Afrikaners geword. As gevolg van Suid-Afrikanisme het baie Afrikaanssprekende blankes vervreemd geraak van hulle etniese bande. Van die vele dinge wat uit die Britse kultuur ontleen is, sluit in die viering van Kersfees, die tradisies rondom huwelike, ‘n politieke stelsel met politieke partye, ensovoorts.

Is die Wit Engelssprekendes ‘n volk?  Of moet ons eerder vra: is die Ander Wit Suid-Afrikaners ‘n volk? Die Boerevolk het ‘n eie taal ontwikkel, ons het ‘n eie geskiedenis, ons het die trauma van nederlaag en vernedering, ons het ‘n eie stoflike kultuur geskep, ons het ‘n eie geestelike kultuur. Die Ander Wit Suid-Afrikaners het dit nie. Die grootste saambindende eienskap van die Ander Wit Suid-Afrikaners is die ideologie van Suid-Afrikanisme.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Daar staan ‘n huis op die voorposte

Die Boerevolk het allerlei goed wat eie aan ons is en waarna ons met trots kan wys. Die vraag is of die Boerevolk ook ‘n eie huisbou-styl ontwikkel het as deel van ons kultuur. Het ons ‘n eie unieke boustyl wat nêrens anders voorkom nie? Die probleem is dat die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n groot deel van ons erfenis afgebrand het. Gevolglik is daar min voorbeelde in die Vrystaat en Transvaal van ‘n eiesoortige huisbou-styl.

Hoe ‘n volk se bouwerk lyk, wys ook iets van die volk se karakter – wie hy is en waar hy vandaan kom. ‘n Volksboustyl het uit ‘n sekere volk ontwikkel om aan praktiese behoeftes, in ‘n bepaalde tydvak en omstandighede, te voldoen. Dit volg nie die style wat elders in gebruik is nie, dit volg ook nie die modes nie, en dit volg ook nie die nuutste boumetodes nie. Daar is ‘n verskil tussen welgestelde mense se argiteksontwerpte huise en huise wat self gebou word met materiaal wat plaaslik beskikbaar is.

Die eerste huise aan die Kaap was tydelike plankhuise. Later was daar Kaapse kothuise met een deel die kombuis en sitkamer en die ander deel die slaapvertrek. Dit was van klei of klip, het dik mure gehad met rietdakke. Hierdie styl was die voorloper vir die Kaaps-Hollandse styl. Die Kaaps-Hollandse styl het teen die einde van die Kompanjiestydperk ontwikkel. Welvarende mense aan die Wes-Kaap het argitekte gehuur en swierige wonings opgerig. Kenmerkend van hierdie styl is die Nederlandse gewel, groot vensters met klein ruite, bolig, staldeur, luike, houtwerk groen geverf, staandak en die huis naby aan die hoofweg.

Op die voorposte in die binneland is hierdie styl nie nagevolg nie. Die pioniers het, by aankoms op ‘n nuwe plek, net tydelike huisvesting opgerig – hulle het nie eiendomsreg op die grond gehad nie. Aanvanklik was die wa die woning. Dan is ‘n kookskerm gebou met pale in die grond en toegemaak met lang gras en velle. Binnekant die skerm is klei teen die pale gegooi en glad gepleister. Droë velle is gebruik vir die deur.

Wanneer hulle lank op een plek gebly het, het hulle hartbeeshuise gebou. (Die naam kom waarskynlik van harde+bies+huis). Die afmetings van die beplande huis is op die grond geteken, dan is vore al met die buitelyn gegrawe. Binne die vore is lang slap pale geplant. Die twee rye pale se bopunte is na mekaar toe gebuig en aan mekaar vasgemaak. Dit was die kantmure en dak. Tussen die pale is kleiner latte ingevleg om die mure te vorm. Dit is dan met klei bedek. Bolangs is harde biesies en gras gebruik as dekking. Sommige hartbeeshuise het regop mure gehad met ‘n aparte gras- of rietdak. Binne is dit dan verdeel in slaapkamers en voorhuis, met die kookskerm buite. ‘n Hartbeeshuis was vinnig om te bou maar nie baie sterk nie.

Wat maak mens as jy op ‘n plek is waar daar nie bome en biesies is nie? Dan bou jy ‘n kleihuis. Daar word ‘n voor gegrawe vir die fondament, dit word met klippe opgevul. Die mure word bo-op met klein klippe en klei gebou. ‘n Alternatiewe boumetode was om lae klei bo-op die fondament te bou. Die klei is gemaak van grond en beesmis en word getrap tot dit soos ‘n deeg is. Miershope is gebruik om ‘n klei te maak vir die vloer. Die vloer is dan met beesmis gesmeer. As daar nie gras vir ‘n grasdak was nie, is ‘n platdak opgesit. Die platdak het ‘n helling gehad sodat reënwater kan afloop. Die platdak is gemaak van pale wat teen mekaar gepak is en toegesmeer is met klei. Nog ‘n manier was om roustene te maak en daarmee te bou. Houtkissies word gemaak waarin gebreide klei gedruk is. Dit word dan gelos tot dit goed droog is en gebruik om mure te bou.

Sommige pioniers het dadelik ‘n permanente huis gebou. Die ander het eers vir ‘n ruk in ‘n tydelike huis gebly en dan later ‘n permanente huis gebou. Die boumateriaal het gewissel volgens wat in die omgewing beskikbaar was. Gewoonlik het die eienaar self die huis ontwerp en gebou.

Voordat ‘n plaashuis gebou kon word, moes daar besluit word waar op die plaas die werf gaan wees. Die werf bestaan nie net uit die huis nie, maar daar is ander geboue – soos waenhuis en skure – ook nodig. Die beskikbaarheid van water was die belangrikste oorweging van waar die werf uitgelê gaan word. Die helling van die grond was ook belangrik vir die afloop van reënwater. Dikwels is die geboue op die werf so geplaas dat dit vir verdediging gebruik kon word.

Die Diepkloof Plaasmuseum (Suikerbosrand Natuurreservaat, Heidelberg, Transvaal) is die oorspronklike werf en geboue wat ‘n Marais-gesin in die 1850’s opgerig het. Die plaas was een van die min wat nie tydens die Anglo-Boere Oorlog afgebrand is nie. Dit is gerestoureer tot so na moontlik aan die oorspronklike. Die geboue is die hoofhuis, ‘n tweede huis vir die oudste seun, ‘n skool en ‘n waenhuis met ‘n werkswinkel. Voor die geboue is ‘n stroompie met ‘n klein dammetjie. Daar is ‘n tuin, ‘n vrugteboord en krale – almal met klipmure rondom. Vir my onkundige oog lyk die boustyl soos die Karoo-boustyl.

Omtrent 1873/74 het Paul Kruger, die latere president van die ZAR, ‘n verdiepinghuis op sy plaas Boekenhoutfontein (naby Rustenburg) gebou. Eenvoudige boumetodes en materiaal uit die omgewing is gebruik. Die mure is dik en ru afgewerk, die vloere was perskepitte en in ‘n ander deel beesmis en bloed. Die huis het ‘n portaal, voorhuis, kombuis, drie slaapkamers, kelder en solder. Ander geboue was ‘n waenhuis, buitegeboue, varkhok en lemoenboord. Die huis word beskryf as Karoo-styl en is vandag ook ‘n museum.

Vir ‘n dorpshuis was leiwater belangrik. Daarvoor is kanale aangelê en was daar ‘n waterfiskaal aangestel om leibeurte te administreer.  ‘n Dorpshuis het gewoonlik aan die straat gegrens en die groot agterplaas was gebruik vir tuine. Die sakedeel was uitgelê op die droë erwe. Daar was plek gemaak vir ‘n kerk, winkel, poskantoor, polisie, landdros en skool. Daar was ook ‘n kerkplein waar waens parkeer kon word. Die markplein was vir produkverkope en die dorpsmeent was die openbare weiveld.

Die Karoo het nie deurgeloop onder die verskroeide aarde taktiek van die Britte nie. Daar staan nog baie ou huise wat deur pioniers gebou is. Hierdie huise is van natuurlike materiale soos roustene, klei en klippe gebou. Die vloere was ondermeer met perskepitte gemaak. Die vensters het skuiframe en hortjies. Die deure is “kruisdeure”. Die plafonne is hoog en die stoepdakke is geboë. Die huise is aangenaam om in te woon en is aantreklik vir die oog. Dit is dieselfde soort huise as wat op Diepkloof en Boekenhoutfontein gebou is. Blykbaar staan hierdie boustyl bekend as die Karoo-styl. In Oranië word nuwe huise en woonstelle in hierdie styl gebou met groen dakke en wit mure.

Die Kaaps-Hollandse styl is te danke aan Wes-Kaapse patrisiërs. Die Karoo-styl is ontwikkel deur die Oos-Kaapse pioniers en saam met die Groot Trek geneem. Die Karoo-styl is die volksboustyl van die Boerevolk.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Volkloses stig ‘n volk

Hoe het dit gebeur dat ons Duitse stamouers hulle aan die Kaap van Goeie Hoop kom vestig het? Wou hulle ‘n kolonie vir Duitsland kom oprig? Was dit so beplan of was dit toevallig? Of was daar vir hulle geen ander keuse nie?

Die wêreld van 1652 het heeltemal anders gelyk as wat dit vandag lyk. Die moderne staat Duitsland het eers in 1871 tot stand gekom toe Otto von Bismarck daarin geslaag het om ‘n klomp kleiner state te verenig. Voor 1871, het “Duitsland” bestaan uit ‘n klomp vorstedomme wat onafhanklik van mekaar was. Die mense van die vorstedomme het kultureel, godsdienstig en taalgewys van mekaar verskil.

Die eerste verskil tussen die noordelike en die suidelike Duitse state was taal. Die Hoogduitse klankverskuiwing het tot gevolg gehad dat die noord-westelike state Nederduits gepraat het en dat die suid-oostelike state Hoogduits gepraat het. Nederduits, ook bekend as Platduits, is naby aan Nederlands. Van hierdie gebiede waar Nederduits gepraat was, sluit in Neder-Sakse, Noordryn-Wesfale, Lippe, Hamburg, Bremen, Schleswig-Holstein, Mecklenburg, Wes-Pommeranië, Sakse-Anhalt, Brandenburg en Pruise. Daar was ook minderhede in Hesse, Nassau, Rynland-Palts wat Nederduits gepraat het. Selfs buite die huidige Duitsland is Nederduits gepraat in Poland, Oos-Pruise, Latvië en Estonië.  Indien ‘n stamouer uit een van hierdie gebiede gekom het, was hy of sy vir alle praktiese doeleindes Nederlands-sprekend.

‘n Tweede verskil tussen die noordelike en suidelike Duitse vorstedomme was godsdiens. Die noordelike state het Protestants geword en die suidelike state het Katoliek gebly. Die Protestante het bestaan uit Lutherane, Calviniste, Mennoniete en Arminiane. Daar was ook minderhede Protestante in Katolieke state. Daar was aanvanklik relatiewe vrede tussen Katoliek en Protestant na die Godsdiensvrede van Augsburg in 1555. Mettertyd het die verhoudings versleg en tot spanning tussen die twee groepe gelei.

Die Dertigjarige Oorlog begin in 1618 en eindig met die vrede van Wesfale in 1648. Die meeste Europese moondhede was betrokke. Die hoofoorsaak was die spanning wat tussen Duitse Katolieke en Duitse Protestantse state geheers het. Die Protestante het hul verenig in die Protestantse Unie en die Katolieke het hulle verenig in die Katolieke Liga. Die Katolieke aanslag was gelei deur die Oostenrykse en Spaanse Ryke teen die Protestantse state. Denemarke, Swede en Frankryk het die Protestante gesteun.

Oorlog het uitgebreek nadat Ferdinand II, koning van Bohemië en toekomstige keiser van die Heilige Romeinse Ryk, probeer het om Katolisisme af te dwing op sy onderdane. Die Protestantse adel in Bohemië het hierteen in opstand gekom en die koning se verteenwoordigers gedefenestreer (by die venster uitgesmyt).

Die Dertigjarige Oorlog was een van die mees verwoestende godsdiensoorloë in Europa, tussen ses en twaalf miljoen mense het gesterf. Hele streke se bevolkings is deur hongersnood en siektes uitgewis. Die soldate, waarvan baie huursoldate was, is gefinansier deur plundery en afpersing. Dit het enorme swaarkry en lyding vir die burgerlikes veroorsaak. Gesinne en hele families is uitgewis. Plase en dorpe was onbewoonbaar. Baie mense het nie meer huise gehad nie, hulle was sonder enige heenkome. Die oorlog het geëindig met die verdrae van Osnabrück en Münster, wat deel was van die Vrede van Wesfale.

Terwyl die Duitse state in ellende gedompel is, het dit met Nederland aansienlik beter gegaan. Die Nederlandse Goue Eeu het in 1648 begin. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie is al in 1602 gestig en was die grootste maatskappy in die wêreld. Die Kompanjie het werksgeleenthede gebied oral waar hulle bedrywig was, ook aan die Kaap van Goeie Hoop.

Baie Duitsers het na die Kaap gekom, maar nie almal het gebly nie. Die wat hulle aan die Kaap gevestig het, het nie net uit die noordelike state gekom het nie, ‘n minderheid het uit die suidelike state gekom. Daar was ook ‘n paar Duitse predikante wat na die Kaap gekom het. Die stamvaders van sommige bekende families was afkomstig uit Noordryn-Wesfale, Hesse, Schleswig-Holstein, Hamburg, Bremen, Magdeburg, en Hameln – dus van die noordelike state.

Die eerste Duitsers aan die Kaap was soldate in diens van die Kompanjie. So gou moontlik het hulle vryburgers geword. Nie almal was landbouers nie. Baie van hulle het ambagte beoefen. Hulle was kleremakers, messelaars, skrynwerkers, skoenmakers, smitte, meulenaars, bakkers, en tuiniers.   Daar was ook dokters en aptekers.  Omtrent die helfte van die onderwysers aan die Kaap was Duitsers.

Dit was meestal Duitse mans wat na die Kaap gekom het. Hier het hulle ondertrou met meisies van Nederlandse en Franse afkoms. Taal was nie ‘n probleem nie, Nederduits en Nederlands (die amptelike taal van die Kompanjie) was baie na aan mekaar. Die Kompanjie het nie godsdiensvryheid toegelaat nie, daar was net een kerk – die Nederduitse Hervormde Kerk wat Calvinisties was. Baie van die Duitsers was waarskynlik reeds Calviniste sodat daar nie ‘n probleem hiermee was nie. Die Duitsers het verspreid tussen die Nederlanders en Franse gewoon en het dieselfde omstandighede en omgewing gedeel. Enige ander kultuurverskille het of aanvaarding by almal gevind, of dit het uitgesterf.

Ons merk dus dat ons vroeë stamouers, hoewel hulle van verskillende streke in Europa gekom het, heelwat eienskappe in gemeen gehad het. Net sommige Franse moes Nederlands leer, die res was eintlik eentalig. Al hierdie stamouers was Calviniste. Normaalweg sal ons Calvinisme as ‘n teologiese stroming beskou, maar in hierdie verband het dit ‘n kulturele rol gespeel. Die lewensbeskouing en waardestelsel van ons stamouers was almal dieselfde en dit was wat hulle aan hulle nageslagte oorgedra het. Verder is dit opmerklik dat hulle almal duur betaal het vir hulle godsdienstige oortuigings.

Dit wil amper lyk asof ons stamouers nie op ‘n lukraak wyse in die Kaap beland het nie. Vir elkeen van hulle was dit uitkoms uit verskrikking, ‘n redding uit nood. Is dit toevallig dat ons wesenlik uit ‘n eensoortige groep mense ontstaan het?  Is daar voorbeelde van ander volke wat so ontstaan het?

Ons stamouers en ook hulle nageslagte het deur groot beproewings gegaan. Dit het hulle gevorm en hulle taai gemaak. Was hulle lyding en standvastigheid vergeefs? Sal die volk wat uit hulle ontstaan het, bly voortbestaan?

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin