Aksie, spanning, avontuur

In my kinderjare was daar ‘n reisende biblioteek. Dit was ‘n bus wat in ‘n biblioteek omskep was en ‘n sateliet van die dorpsbiblioteek was. Die bus het ons elke tweede week kom besoek. Die bus was goed toegerus met Afrikaanse storieboeke. So kon ek as kind kennis maak met Die Drie Musketiers, Skateiland en nog ander klassieke verhale, in Afrikaans vertaal.

In daardie jare was daar ook ‘n groot aantal eg Afrikaanse aksieverhale. Sommige was hardeband en ander was slapband. Van hierdie boeke was as reekse geskryf en het soos soetkoek verkoop. Verkope was so goed dat van die skrywers ‘n bestaan kon maak deur voltyds te skryf. Hoewel die goue era van die Afrikaanse avontuurreekse van die laat 1940’s tot die vroeë 1960’s was, was daar tot in die 1980’s nog nuwe uitgawes. Dit was voor die opkoms van fotoverhale en televisie.

Rooi Jan was ‘n besonder sterk man met rooi hare en baard. Met sy perd en hond het hy heldedade gedoen tydens die Oosgrensoorloë en die Groot Trek. Die Buiter was ‘n ryk Franse edelman wat ‘n soort Robin Hood aan die Kaap was. Die Swart Luiperd was ‘n Boerseun wat in die wildernis groot geword het. Hy dra ‘n swart luiperd kop as masker en het twee mak luiperds wat hom help. Die Maagd van die See vertel van die stryd teen seerowers in die vroeë dae van die Kaap. Die Temmers van die Woestyn het verskillende hoofkarakters gehad en het in die tyd van die pioniers afgespeel.

Die grootste aantal boeke is deur slegs vier skrywers geskryf. Braam le Roux het in ‘n tydperk van 10 jaar 101 boeke geskryf. Meiring Fouche het 79 geskryf, R Hendriks het 76 geskryf en Gerrie Radlof het 71 geskryf. Ander skrywers was Andreas du Plessis, Frans Gericke, Anton Koch en Hermie Hendriks. Ela Spence en Mary Sadler kan ook genoem word. Daar was nog vele meer. Van die skrywers het van verskillende skrywersname gebruik gemaak.

Braam le Roux is in 1918 gebore as Abraham le Roux Botha. Hy was ‘n joernalis voordat hy voltyds begin skryf het. Hy kon nie sy linkerhand gebruik nie en kon met net een hand tik. Hy was in die 1950’s die enigste Afrikaanse skrywer wat ‘n goeie inkomste verdien het deur voltyds te skryf. Hy het ‘n vaste kontrak gehad om twee boeke per maand te lewer. Hy het sy eerste boek in 1946 geskryf en met sy dood in 1956 het hy meer as 100 boeke geskryf. Braam le Roux het oorspronklik losstaande verhale geskryf maar toe begin om reekse te skryf: Die Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, Die SA Polisie, Die Swerwerspeurder en Die Woeste Laeveld.

F.A. Venter het onder die name F.A. Venter, Meiring Fouché, René Stegmann, Marius de Jongh en Elske te Water geskryf. Hy was in 1916 gebore en skryf sedert 1944 tot 1996. Omstreeks 1960 begin hy om voltyds te skryf. Onder sy eie naam skryf hy jeugverhale en romans. Hy wen die Hertzogprys vir Swart Pelgrim en Geknelde Land. Hy skryf ook oor die Groot Trek: Geknelde Land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde Land. Onder die naam Meiring Fouché maak hy bydraes tot die reekse Swart Luiperd, Temmers van die Woestyn, S.A. Polisie, Swerwerspeurder, en Sahara Avontuur. Sy eie reekse was Maagd van die See, Baanbrekers, Ryk Schoonraad, en Fabel Retief.

Reinhardt (Hein) Hendriks het speur- en avontuurverhale geskryf onder die name R. Hendriks, André Murat en Casper H. Marais. Hy was in 1911 gebore en sy broer was die skrywer Hermie Hendriks. Hein Hendriks probeer om voltyds te skryf, maar kon dit nie regkry nie. As R. Hendriks skryf hy ‘n aantal boeke in die Temmers van die Woestyn reeks. (Hierdie reeks is begin deur Braam le Roux maar van die verhale is ook geskryf deur Meiring Fouché en R. Hendriks.) As Casper H. Marais skryf hy Rooi Jan en Mank Mannetjie.

Gerrit Lubbe van Zyl skryf onder die name Gerrie Radlof en Dirk Lubbe. Hy was in 1923 gebore en sterf in ‘n motorongeluk in 1971. Aanvanklik het hy deeltyds begin skryf om meer geld te verdien maar later begin hy voltyds skryf en werk ook as vryskutskrywer. As Gerrie Radlof skep en skryf hy die reekse Die Buiter, Oloff die Seerower en Ramala. Hy lewer ook bydraes vir die reekse S.A. Polisie en Swerwerspeurder. As Dirk Lubbe skryf hy die spioenasiereeks Profeet. Hy skep ook die fotoverhaalreekse Mark Condor en Saboteur.

Deesdae is dit boeke wat versamel word. Daar is ook iemand wat die buiteblaaie restoureer. Die kopiereg op vele van hierdie reekse het nou verval en heruitgawes is moontlik. Van hierdie boeke word nou weer uitgegee in gedrukte vorm en in e-boek formaat.

Hierdie reekse was geskryf vir, en is gelees deur, Blanke Afrikaanssprekendes. Hierdie reekse avontuurverhale kan waarskynlik gesien word as ‘n kultuurproduk. Iets wat eie aan ons was. Dit is werd om onthou en bewaar te word.

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Boeke met prentjies

9567c980c14becf977328a5e91d5b296

Die ouer mense sal dit nog onthou, maar die jongeres het moontlik nog nooit daarvan gehoor nie.

Fotoverhale was vir meer as 20 jaar baie gewilde leesstof in Suid-Afrika. Die verhaal is vertel met fotos wat die aksie uitbeeld, byskrifte onder die fotos en die dialoog was in spraakborrels. Elke boekie was tussen 80 en 100 bladsye, lank genoeg om ‘n volle storie te vertel. Die buiteblad was in kleur maar die verhaal self was swart en wit fotos. Daar was verskillende reekse verhale elkeen met sy eie held of heldin. Elke uitgawe binne ‘n reeks was ‘n splinternuwe verhaal met dieselfde hoofkarakter maar met verskillende bykarakters.

Die karakters (of helde) was huishoudelike name. Almal het geweet van Mark Condor, Ruiter in Swart, Suster Louise en die ander. Die akteurs was ook baie bekend, byvoorbeeld Danie van Rensburg en Martin Pols. Die skrywers het nie net fotoverhale geskryf nie, maar het ook ander ontspanningslektuur geskryf, soos Gerrit van Zyl wat ook bekend was as Gerrie Radlof. Fotoverhale het baie goed verkoop. Mark Condor se gemiddelde sirkulasie was 180,000 en het vir 23 jaar onafgebroke verskyn. Republikeinse Pers was die grootse uitgewer en het behalwe fotoverhale ook tydskrifte, soos Keur, gepubliseer. So suksesvol was hierdie maatskappy dat dit in 1979 61% van Suid-Afrika se advertensiebegroting getrek het. Fotoverhale is in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale gepubliseer.

Die “vader” van die fotoverhaal was Hint Hyman, ‘n boer van die Vrystaat. Hy het op sy plaas daarmee begin en toe later na Durban verhuis. Fotoverhale het ook ‘n inkomste gebied aan skrywers, fotograwe, akteurs, modelle en studente. Die gemiddelde loon per dag was R40, na belasting R30. In daardie jare, nie iets om te versmaai nie. Die akteurs het hulle eie kostuums verskaf. Die akteurs was dikwels ook hulle eie waaghalse.

Vandag word hierdie boekies as Africana beskou en is dit gesogte versamelaarsitems. Blykbaar word sulke boekies vir tussen R5 en R10,000 verkoop.

Daar word beweer dat die boekies verbode lektuur in sommige huise was. As mens die sukses van die boekies in ag neem, moes die verbod nie baie doeltreffend gewees het nie. Mens kan jou indink dat sommige ouers en onderwysers dalk nie fotoverhale as opvoedkundig beskou het nie. Dit was ook nie bedoel om opvoedkundig te wees nie, dit was ontspanningslektuur. Daar word  geglo dat kinders wat nie anders sou lees nie, tog baat gevind het deur die lees van fotoverhale.

Die fotoverhaal was nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel nie. In Engels word dit ‘n photonovel of fumetti genoem. Sommige Hollywood akteurs, soos Sophia Loren, het in fotoverhale verskyn. In die VSA is films en televisiereekse aangepas en gepubliseer as fotoverhale, byvoorbeeld Buck Rodgers en Star Trek. Nogtans was die oorsese fotoroman nie presies dieselfde ding as die Suid-Afrikaanse weergawe nie.

Alhoewel daar ooreenkomste was tussen die fotoverhaal en strokiesprente (comic books), was daar ook groot verskille. Hierdie boekies was gewild in die tydperk voor Suid-Afrika televisie gehad het. Ons kan dit sien as ‘n oorgang tussen die goedkoop slapbandboek en televisie. Nou se dae kyk almal die sepies op TV en lees minder as voorheen.

Maar wees nie bevrees nie, Ruiter in Swart ry nog steeds. In 2015 het daar weer ‘n Ruiter in Swart boek verskyn. Laat die skurke kennis neem en vlug! En dan – dan is daar Malboer. Laat die skurke sidder!

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Dis storietyd!

lot-of-30-louis-l-amour-lamour-vintage-western-books-free-shipping-92389a90af0c94004491b388e5c16c18

Hier gaan dit oor storieboeke, of genrefiksie as jy wil.

Daar is mense wat lief is vir lees en daar is mense wat nie belangstel in lees nie. Boekwurms, vermoed ek, word gebore en nie gemaak nie. Dalk is dit ‘n oorerflike toestand.

Populêre fiksie word geskryf om soveel boeke as moontlik te verkoop en om vir ontspanning gelees te word. Die storielyn is baie belangrik, die karakters is minder gekompliseerd, die plekke waar die gebeure plaasvind is interessant, die taalgebruik is eenvoudiger, die dialoog klink soos die alledaagse manier van praat en die tema is nie ‘n preek nie.

Gewilde fiksie het iets vir almal. Daar is kinderboeke, tienerboeke en boeke vir volwassenes. Sommige boeke is meer in die smaak van manlike lesers, terwyl ander weer gerig is op die vroulike geslag.

Daar is verskillende genres of soorte verhale. Daar is misdaadverhale, liefdesverhale, inspirerende verhale, verhale van pioniers (byvoorbeeld die wilde weste), wetenskapfiksie, fantasie en gruwelverhale.

Die storie kan plaasvind in die verlede of hede of toekoms. Die verhaal kan ‘n realistiese agtergrond hê, dit kon regtig so gewees het. Dit kan ook onrealisties wees, glad geen verbintenis met die werklikheid hê nie.

Mens leer ook jou skrywers ken. Jy lees graag die boeke van die een, maar nie van die ander een nie. Elke skrywer het sy eie suksesresep, ‘n formule wat vir hom en sy lesers werk. Sommige boeke word soos ou vriende. Jy onthou dit, dit beteken iets vir jou en jy lees dit meer as een keer.

Die beste deel van ‘n goeie storieboek is dat dit nie vir jou preek nie. Dit probeer jou nie oortuig om een of ander iets te doen of te glo nie. Jy word nie aangespoor om die wêreld te red van gewisse ondergang nie, een van die karakters kan dit vir jou doen. Die karakters hoef ook nie polities korrek te wees nie. Hulle kan praat en doen soos wat die leser in sy binneste graag sou wou praat en doen.

Een van my gunsteling genres is die western. Dit is stories van pioniers, van eerbaarheid, van reg en verkeerd. Dit was ‘n uiters gewilde genre tot omstreeks 1980, daarna het dit getaan. Die redes wat aangevoer word oor hoekom die gewildheid daarvan afgeneem het, is onduidelik. My vermoede is dat daar probeer is om hedendaagse politiek korrekte sienings oor te dra op die western en dat dit nie werk nie. Dit kan ook wees dat daar nog nie ‘n opvolger vir Louis L’Amour gevind is nie (Peter Grant mag dit dalk wees). Moet nie met ‘n suksesresep peuter nie!

Daar is moderne “ernstige” skrywers wat poog om die wêreld te verbeter. Hulle wil ‘n bepaalde siening of ideologie verkondig en die leser bekeer tot hulle lewensuitkyk. Natuurlik was daar, deur die eeue heen, skrywers wat dit nie gedoen het nie. Hulle werke is nog steeds bekombaar by biblioteke en tweedehandse boekwinkels.

‘n Ander probleem is dat die groot uitgewerye ‘n monopolie het en dat hulle bepaal watter boeke gepubliseer mag word en watter nie. Mens sou dink dat hulle weet wat hulle doen, maar tog nie. Dit word vertel dat nie een van die groot uitgewers Frederick Forsyth se Day of the Jackal wou publiseer nie. Gelukkig is daar ook kleiner onafhanklike uitgewers wat kwaliteit boeke publiseer.

My gunsteling boek van alle tye is Jan de Hartog se Stuurman van die Furie (Hollands Glorie). Wat is joune?

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin