Die Volksraad by Bloedrivier

“Ons kort ‘n leier”. Dit is die versugting by baie van ons. Alles sal regkom as ons net die regte persoon kan kry as leier. Ons soek na ‘n bekwame persoon, een man wat uitstaan bo die res. Het ons in ons geskiedenis voorbeelde van hoe so ‘n leier moet wees?

Andries Pretorius is ‘n goeie voorbeeld van ‘n bekwame leier. Hy was die held van Bloedrivier. Maar hy het nie alleen gestaan nie, hy het nie net gemaak soos hy goeddink nie. Die Volksraad was die hoogste gesag by Bloedrivier. Andries Pretorius is deur die Volksraad aangestel as Hoofkommandant. Hy moes aan hulle rapporteer en hulle goedkeuring kry. Dit was die Volksraad wat die verantwoordelikheid ten opsigte van die Gelofte gedra het. Dit was hoe die Boerevolk se republikeinse stelsel gewerk het.

‘n Republiek en ‘n demokrasie is nie dieselfde ding nie. ‘n Republiek bestaan uit burgers en nie onderdane nie. By ‘n republikeinse stelsel stem die burgers vir volksverteenwoordigers wat namens hulle staatsake moet hanteer. Indien die burgers meen dat die volksverteenwoordiger nie in hulle belang optree nie, mag hulle hom terugroep. Die uitvoerende gesag word gegee aan ‘n direk verkose President wat gewoonlik onafhanklik van die Volksraad is. In die Boererepublieke was daar geen politieke partye nie, die burgers het vir ‘n persoon en nie vir ‘n politieke party gestem nie.

‘n Demokrasie bestaan uit onderdane van die staat. Die demokratiese staat kan ook ‘n monargie wees, soos Groot Brittanje en Nederland. Die kiesers stem in verkiesings vir politieke partye. Die politieke partye besluit wie die kandidate en leiers is. Die politieke party wat die meeste stemme kry, stel ‘n regering saam. Die politieke partye het sitting in ‘n parlement.

Die Boerevolk se republikeinse sienings kom van ver af. Die kerkhervormer Johannes Calvyn het ‘n indirekte invloed daarop gehad. Volgens hom het mense die reg om gehoorsaamheid aan ‘n goddelose owerheid op te sê. Hierdie beginsel het gelei tot die Opstand van die Nederlande teen Spanje en die stigting van die Nederlandse Republiek in 1581. Dit is wat met die Groot Trek gebeur het, die Boerevolk het gehoorsaamheid aan die Britse owerheid opgesê.

In 1778 is daar ‘n vlugskrif deur Patriotte aan die Kaap versprei wat die vroeë denke oor ‘n geskikte staatsvorm weerspieël het. Een stelling het gelui: het heil des Volks de opperste wet is, dat de wesentlijkheid van het gesag bestaat in de handhawing der regten van de Onderdanen en van ’t gemeene best, dat de sorg der Regeerders meer over het geheel dan over de deelen moet loopen. ‘n Tweede stelling was dat ‘n volk het regt heeft om sig teegens Regeerders aan te kanten, denselven af, andere in de plaats te setten, wanneer men bespeurt dat de Maatschappij onder hunne Regeering te gronde gaat… (Aangehaal uit ‘n werk  “Die staatkundige erfenis en ontwikkeling van die Republiek van Suid-Afrika”. Ongelukkig het ek geen verdere inligting oor hierdie werk nie.)

Die Voortrekkers se siening oor ‘n nuwe staat blyk ook by monde van hulle leiers. Piet Retief het in sy manifes gemeld dat hulle besluit het dat hulle die grondreëls van vryheid in hulle nuwe staat sou toepas. Piet Uys het gepraat van dieselfde beginsels toepas as wat deur die Verenigde State van Amerika aangeneem is. Dit het hulle dan ook gedoen direk na hulle uit die Kaapkolonie was. ‘n Tydelike regering is gevorm om te duur solank as wat daar getrek word. Die lede van hierdie regering was die leiers van die trekgeselskappe. In 1838, voor Bloedrivier, is ‘n nuwe grondwet opgestel. Dit was vir Port Natal en die omliggende gebied. Die grondwet het ‘n wetgewende liggaam, bekend as die Volksraad, ingestel. Daar is ook verwys na ‘n President van Politie, maar dit was nie toe al ingestel nie.

Na die moorde op Piet Retief en die by Bloukrans en elders, asook die dood van Gerrit Maritz, moes die Volksraad stappe neem om hulle mense te beveilig. Die Volksverteenwoordigers was op daardie stadium JS Maritz (Voorsitter), L Meyer, J du Plessis, C Liebenberg, JH Labuschagne, PJ van Niekerk en CJ Labuschagne. Hulle moes ‘n bekwame militêre aanvoerder kry en het Andries Pretorius versoek om die pos te aanvaar. Op 25 November 1838 stel die Volksraad vir Pretorius aan as Hoofkommandant. By hierdie vergadering was die Kommandante en Veldkornette ook teenwoordig.

Volksverteenwoordiger Johannes Stephanus (Jan) Maritz (b1c8d1) was die ouer broer van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz. Hy is gebore in Maart 1794 te Graaff-Reinet en hy sterf op 4 November 1857 te Frischgewaagd, Weenen. Hy was een van 21 verkenners wat in 1834 die Noordelike binneland verken het. In 1836 het hy saam met sy broer se trekgeselskap die Kaapkolonie verlaat. In 1838 word hy deur die volk tot die Volksraad verkies en word deur die Volksraad tot Voorsitter verkies. Met die stigting van die Republiek van Natalia is hy ook verkies as Voorsitter van die Volksraad.

Volksverteenwoordiger Lucas Johannes Meyer (b1c6d2e6) is op 26 Februarie 1792 gebore aan die Oos-Kaap en is oorlede op 18 Mei 1864 te Boschhoek, Newcastle. Hy is in 1838 tot die Volksraad verkies. Hy moet nie verwar word met Lucas Meyer van die Nieuwe Republiek nie.

Volksverteenwoordiger Johannes (Jan) du Plessis (b6c1d10e1) is gebore op 29 Augustus 1801 te Graaff-Reinet. Hy is oorlede op 21 Februarie 1877 te Du Plessisdal, Harrismith, Vrystaat. Benewens Volksverteenwoordiger, was hy ook ‘n veldkornet en later kommandant. Jan du Plessis was ook een van die godsdiensleiers op die lys van deelnemers aan die Slag van Bloedrivier.

Daar was twee persone met presies dieselfde name teenwoordig by Bloedrivier. Ons is nie absoluut seker watter een die Volksverteenwoordiger was nie. Christiaan Jacobus Liebenberg Senior (b2c4d4e2) is gebore op 21 Februarie 1796 en is oorlede op 6 April 1873. Sy pa en twee van sy broers is deur Matabeles vermoor by Liebenbergkoppie. ‘n Neef van hom, Barend Johannes, is saam met Piet Retief vermoor. Christiaan Jacobus Liebenberg Junior (b2c2d2e2) is gebore op 15 Junie 1809 te Graaff-Reinet en is oorlede op 13 November 1884 te Hopetown, Bo-Karoo. Een van hulle het ook ‘n brief aan familie in die Kaapkolonie geskryf waarin van die Trekkerslewe vertel word.

Volksverteenwoordiger Jan Harm Labuschagne (bekend as Jan Groen) (b2c4d1e1) is gebore op 16 Desember 1792 te Cradock. (Die slag van Bloedrivier het op sy verjaardag plaasgevind). Hy is tussen 1844 / 1845 oorlede te Valschrivier, Agter-Drakensberg. (Daar was ook ‘n Jan Hendrik Labuschagne wat bekend was as Jan Groentjie).

Volksverteenwoordiger Pieter Johannes van Niekerk (b2c3d6e2) is op 27 Oktober 1799 gebore in die Graaff-Reinet distrik. Hy is oorlede in Oktober 1851 te Wolvepan, Winburg.

Volksverteenwoordiger Casper Jeremias Labuschagne (b2c4d3e4) is gebore op 15 Julie 1799 te Graaff-Reinet en is op 5 April 1872 oorlede te Vaalpoort, Harrismith. Hy was ook ‘n veldkornet.

Sittings van die Volksraad is dikwels bygewoon deur die kommandante. Die volgende kommandante was teenwoordig by die vergadering van 25 November 1838: Hoofkommandant Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (b3c1d5e11), Kommandant Karel Pieter Landman (b2c10) (hy was tweede in bevel), Kommandant Pieter Daniël Jacobs (b5c3d8e1), Kommandant Jacobus Christoffel (Koos Grootvoet) Potgieter (b7c8d6e4), Kommandant Johan Hendrik (Hans Dons) de Lange (b10c2) en Kommandant Stephanus Petrus Erasmus (b5c12d4). Die veldkornette wat hierdie vergadering bygewoon het was: Johannes C Steyn, C Viljoen, Gert Pretorius, Hercules Albertus (Bart) van Staden, Gert Lombard, Stephanus Scheepers, Jan Fourie, William Cowie en Jan Joubert. Die Sekretaris van die Volksraad was Jan Gerritze Bantjes.

Hierdie mense was die leiers by Bloedrivier. Die Hoofkommandant en sy offisiere het die militêre kant hanteer. Die Volksraad het gesorg dat die Gelofte nagekom word. Soos belowe, is dit in ‘n boek opgeskryf en gepubliseer.

Ons huidige situasie lyk baie na hoe die situasie net voor Bloedrivier was. Ons voorouers het nie net op een man staatgemaak nie. Ons moet begin by ‘n Volksraad. As ons bekwame volksverteenwoordigers het, sal hulle namens ons kan praat en besluite neem. Hulle sal verantwoordelik wees om bekwame mense te soek en aan te stel. Dit is die Boeremanier.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Ons en die Dag van Moeilikheid

Wie weet nog nie dat ons in ernstige moeilikheid is nie? Indien daar sulkes is, sal niks en niemand hulle meer kan help nie. Hulle is op hul eie. Onder die van ons wat weet, is daar die versugting dat daar ‘n manier gevind kan word om eenheid tussen ons te bewerkstellig. Want ons is min en verdeeldheid is duur.

Wie is die “ons” waarvan ons praat? Dit is ‘n vraag oor identiteit. Om dit te weet mag polities nuttig wees, maar ons praat nie oor politiek nie. Ons praat oor volkskunde want daarin is daar ‘n meer nugter benadering. Dit is nodig om te weet wie ons mense is en waaraan ons uitgeken kan word. Dit is ook nodig om te weet wie nie ons mense is nie en waarom nie. Dit is ook van belang in ons betrekkinge met vreemdelinge – hulle wil weet met wie hulle te doen het. Veral vandag in die Dag van Moeilikheid.

Ons is burgers van Suid-Afrika en gevolglik Suid-Afrikaners. Maar nie alle Suid-Afrikaners is deel van ons nie, die oorweldigende meerderheid is vir ons vreemde volke en groepe. Ons is maar ‘n klein en onbenullige minderheidsgroepie in Suid-Afrika. Maar nie almal van ons is Suid-Afrikaners nie, daar is van ons wat burgers van ander lande is – soos Namibië. In elk geval is Suid-Afrika, streng gesproke, ‘n staat en nie ‘n land nie. Daar is ‘n verskil en verskillende lojaliteite. Die staat Suid-Afrika het in 1910 ontstaan as ‘n Britse kolonie en het in 1961 ‘n republiek geword. Vir ons om te sê ons is Suid-Afrikaners is maar ‘n dun draadjie om aan vas te hou. Indien jy hiervan verskil, is jy welkom om vir ons te vertel wat die Suid-Afrikaners se geskiedenis en kultuur is. Want daar is nie so-iets nie.

Ons velle is wit, oftewel ons is blankes. Word die “ons” van wie ons praat Wit Suid-Afrikaners genoem? Het al die blankes in Suid-Afrika dieselfde geskiedenis en kultuur? Nie waarvan ek weet nie. Daar is dus blankes en blankes. Al hierdie blankes verskil boonop op ander maniere ook. Van hierdie blankes is nie in dieselfde moeilikheid as ons nie, tewens hulle is medewerkers aan ons moeilikheid. Die “ons” is dus net sommige van die blankes in Suid-Afrika. Om ‘n wit vel te hê is nie voldoende om ons mee te identifiseer nie. Die Whiteys as ‘n gemeenskaplike groep is ‘n hersenskim. En ‘n hersenskim kan beskryf word as: ‘n bedenksel wat lank gelede versin is, wat nou aanvaar word as waarheid, terwyl dit so ver van die werklikheid verwyderd is dat dit nie waar kan wees nie.

Die “ons” is dus net ‘n gedeelte van die Wit Suid-Afrikaners (en Wit-Namibiërs en andere). Dit help ons net mooi niks as ons onsself wil identifiseer nie. Ons het iets meer spesifiek nodig. Dit bring ons by die benaming Afrikaners.

Die meerderheid Wit Suid-Afrikaners is Afrikaanssprekend – of as eerste taal of as tweede taal. Maar die naam Afrikaners verwys nie net na taal nie, dit word ook as ‘n volksnaam gebruik. Die gebruik van die naam Afrikaners word dikwels gebruik as ‘n sinoniem vir Boere. Die naam Afrikaners het veral prominent geword in die twintigste eeu met die ontwikkeling van die ideologie van Afrikaner-Nasionalisme. Hierdie ideologie het sekere kenmerke aan Afrikaners toegeskryf: wit, Afrikaanssprekend, Calvinisties. Daar is ‘n paar probleme met die gebruik van hierdie naam. Die “ons” wat in die moeilikheid is, is nie slegs Afrikaanssprekendes nie. Die wat nie is nie, voel hulleself uitgesluit as hierdie benaming gebruik word. Nogtans is daar ‘n gedeeltelike gesamentlike geskiedenis en kultuur wat ‘n groot aantal Wit Suid-Afrikaners deel. Verder is die “onsˮ lankal ook nie meer Calvinisties nie en weereens voel mense hulle uitgesluit deur die besluitnemers.

Is daar een groep Afrikaners of is daar twee? Na die Britse besetting van die Kaap, het van die Afrikaanssprekendes Britsgesind geword en die Britse kultuur en gewoontes begin navolg. Die res van die Afrikaanssprekendes, woonagtig in die binneland en grensgebiede, het hul eie kultuur en gewoontes behou. Die verwydering tussen die twee groepe het met die Groot Trek sigbaar geword en in die Anglo-Boereoorlog het dit vyandig geword. Die Britsgesindes het die Britte se kant in die oorlog gesteun. Afrikaner-Nasionalisme wou hierdie verwydering beëindig. Aanvanklik was Afrikaner-Nasionalisme se magsbasis in die Transvaal en Vrystaat, maar sedert die laat 1960’s het die Britsgesindes (vanuit die Weskaap) ‘n aanslag daarteen uitgevoer en mettertyd die mag van binne af oorgeneem. Dit blyk dus dat die verwydering en vyandigheid tussen Britsgesindes en Boeregesindes toe nog lewend was. Die Britsgesindes is dus Afrikaners met ‘n Anglo-Amerikaanse kultuur en lojaliteit. Die Boeregesindes is Afrikaners met ‘n eie inheemse kultuur en lojaliteit. Kan ons dus aanvaar dat daar hedendaagse Britsgesinde Afrikaners is wat nie deel van die “ons” is nie?

Behalwe die benaming Afrikaner word die benaming Boer gebruik vir ‘n sekere deel van die Wit Suid-Afrikaners. Die benaming Boer word ook gekoppel aan meeste eie kultuurgoed soos Boerekos en Boeremusiek. Die mense wat hulleself identifiseer as Boere, assosieer hulleself met geskiedkundige gebeurtenisse soos die Groot Trek, die Bloedrivier-gelofte en die Anglo-Boereoorlog. Daar is nie ‘n kopiereg op die naam Boer nie, gevolglik is daar mense wat hulleself Boere noem maar dit nie is nie. Verder het baie van die Boere sedert die 1960’s gewaarsku dat die Dag van Moeilikheid gaan kom, maar die meerderheid blankes het nie belanggestel om te luister nie. Inteendeel het veral die Britsgesindes moeite gedoen om die Boere te diskrediteer en verguis. Hierdie aanslag vind vandag nog plaas. Sou ons kan sê dat die Boere definitief deel van die “ons” is? Miskien selfs die hele “ons”?

Die Dag van Moeilikheid is op ons en ons verkeer in groot gevaar. Ons is ‘n piepklein minderheid teen ‘n massale meerderheid. Dit sal help as ons kan verenig, maar in werklikheid word die verdeeldheid net meer. Behalwe die ouer en bekender organisasies en groepe, lyk dit of daar daagliks nuwe groepe gestig word. Party slegs op sosiale media as ‘n organisasielose groepering. Eenheid tussen organisasies en groepe sal slegs haalbaar wees as almal ontbind en een nuwe organisasie stig. Wat na alle waarskynlikheid nie sal gebeur nie.

Eenheid en saamstaan is nie dieselfde ding nie. Is dit moontlik dat “ons” wat in die moeilikheid is, kan saamstaan en saamwerk? Elke groep bly op sy eie voortbestaan maar is in ‘n verbond met die ander groepe om ‘n gemeenskaplike doel na te streef. Elke deelnemer moet bereid wees om sy eie aktiwiteite tydelik af te skaal. Elkeen sal gewillig moet wees om die mindere te wees ter bereiking van die gemeenskaplike doel: om uit die moeilikheid uit te kom. Al die groepe kommunikeer met mekaar en ondersteun mekaar se individuele aksies. Ter wille van oorlewing. Dalk gebeur dit, wie weet?

Wie is dit wat moet verenig of saamwerk? Net die wat deel is van die “ons”. Sekerlik nie die wat ons wil vernietig nie. Wat sal ons onsself noem? Met watter kultuur en geskiedenis wil ons assosieer?

Is jy ‘n Wit Suid-Afrikaner? Of ‘n Afrikaner? Dalk ‘n Boer? Miskien ‘n Boere-Afrikaner? Die tyd om te besluit is min. Is jy van “ons”, of nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die penvoerder van die Boek van die Gelofte

Hoekom is die Gelofte van Bloedrivier so ‘n groot probleem vir so baie mense? Dit lyk of alles moontlik gedoen word om dit te diskrediteer. Die rede is dat Bloedrivier ‘n getuienis is. Dit is die getuienis wat stil gemaak moet word. Ons het reeds gesien dat die bewoording van die Gelofte weens onbekende redes verander is.

Het jy byvoorbeeld geweet dat die Voortrekkers, as deel van die Gelofte van Bloedrivier, onderneem het om die oorwinning in ‘n boek op te teken? Is dit gedoen? Het hulle hierdie belofte nagekom? Dit is nagekom. Die boek staan bekend as: Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier en is in pdf-formaat beskikbaar by http://www.bloedrivier.org/gelofte/index.php/geskiedenis/die-bloedrivier-gelofte Die oorspronklike joernaal was ook in De Zuid-Afrikaan gepubliseer in Januarie en Februarie 1839.

Jan Gerritze Bantjes, wat die joernaal gehou het, is op 8 Julie 1817 in die Graaff-Reinet distrik gebore. Hy het op 1 Januarie 1837 by die Groot Trek aangesluit. Hy was toe 19 jaar oud en ongetroud. Dit wil voorkom of hy die enigste een van sy familie was wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Die leke-prediker Erasmus Smit het gemeen Bantjes is skrander en talentvol en het hom gevra om met die godsdiens-oefeninge te help. Bantjes was ook vaardig met die pen en was Gerrit Maritz se sekretaris. Hy het ook die verdrag tussen Retief en Dingaan opgestel.

Hierna het Bantjes sekretaris van Andries Pretorius geword en het ook vir die Boere-Volksraad ‘n joernaal bygehou. As gevolg van sy pligte, was hy teenwoordig by die vergaderings van die Volksraad en van die Hoof-Kommandant. Hy was ook teenwoordig toe die besluit oor die Gelofte geneem is. Hy was verder ook een van die manskappe in die Bloedrivier-laer wat teen die Zoeloes geveg het. Jan Gerritze Bantjes was gevolglik ‘n ooggetuie van alles. Die joernaal wat hy gehou het, was die amptelike dokument van die Volksraad en is deur hulle goedgekeur. Indien daar enige iets was wat hy neergeskryf het wat nie korrek was nie, was daar genoeg ander ooggetuies wat beswaar kon maak.

Na Bloedrivier was hy Klerk van die Volksraad en prokureur in Pietermaritzburg. In 1840 het hy na die Kaapkolonie teruggekeer en verskillende betrekkings op verskillende plekke beklee. Hy is in 1887 op Potchefstroom oorlede. Hy is omstreeks 1839 getroud met Matthysina Germina Clasina Knoedzen (weduwee van Jan Oosthuizen). Een van sy kinders, ook Jan Gerritze, was ‘n medeontdekker van die hoofgoudrif in Johannesburg. Daar was ook ‘n Bantjes wat op St Helena as krygsgevangene gesterf het, maar dit is tans onbekend of daar ‘n verwantskap was.

As jy nie die Gelofte en Bloedrivier kan stil maak nie, kan jy die probeer om die persoon wat alles neergeskryf het te diskrediteer. Met ander woorde, as jy nie iets aan die boodskap kan doen nie, dan kry jy iets teen die boodskapper. Daar word gesê dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was.

Hierdie aantyging word geïllustreer in die volgende 2 aanhalings. Die eerste aanhaling is ‘n verdraaiing in Afrikaans van Erasmus Smit se dagboek: Die Voortrekkers se dominee, Erasmus Smit, het in sy dagboek geskryf: “Mnr. De Klerk het ’n jong kleurlingman saam met hom gebring, en aangesien laasgenoemde sekere talente had, het ek hom versoek om ’n passasie te lees en te sing. Sy naam is Jan Bantjes.” Let op dat Erasmus Smit hier as ‘n dominee voorgestel word om gewig aan sy woorde te gee. Let verder daarop dat Erasmus Smit se woorde in aanhalingstekens gegee word. Die oorspronklike Nederlandse teks lees: In Erasmus Smit se Dagboek is daar op Zondag, 1 Jan. 1837 die volgende inskrywing: ‘De hr. De Klerk heeft ‘n schrander brein jonkman met zich medegebracht; en daar deze enige talenten heeft, verzocht ik hem in de kerk voor te lezen en te zingen. Hij voldeed mij zeer wel; zijn naam is Jan Bantjes; maar hij heeft zich binnenkort zelf aan deze diens onttrokken; en hij vond veel schrijfwerk bij de heren in dit leger. Let daarop dat die jongman ‘n skrander brein het en nie ‘n skrander bruinman is nie. Die gedeelte in aanhalingstekens verskil heeltemal van die vorige. Let ook op dat Bantjes hom van die godsdienstige pligte onttrek het omdat hy baie skryfwerk gekry het.

Nêrens elders word Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling genoem nie. Hy was nie gereken saam met die kleurlinge wat by Bloedrivier was nie. Hy is deurgaans deur die Voortrekkerleiers as ‘n gelyke behandel. Ook in sy huwelik en latere loopbaan het hy deurgegaan as ‘n blanke. Die foto van hom wat op die internet vertoon word, toon ook duidelik aan dat hy nie soos ‘n kleurling gelyk het nie.

Jan Gerritze Bantjes se stamvader (sy oupagrootjie) was Jan Gerrit Bantjes van Winschoten in Nederland. Hy het in 1755 met die skip “Stadwyk” in die Kaap aangekom. Hy tree, in Paarl, op 5 Maart 1758 in die huwelik met Hilletje Agnita Jacobsz. Sy was die dogter van Jan Jacobsz en Johanna Agnita (Pieterz) Jacobsz. In 1760 word hy ‘n burger en tree vir die tweede keer in die huwelik. Uit sy huwelik met Hilletje Agnita het hy net een seun gehad, hy was ook as Jan Gerrit gedoop. Hy was getroud met Maria Adriana Vermeulen. Hy was die oupa van Jan Gerritze van Bloedrivier. Bernhard Louis Bantjes (getroud met Isabella Johanna Adriana Swanepoel) was die vader van Jan Gerritze van Bloedrivier.

Daar was ‘n greintjie waarheid in die bewering dat Jan Gerritze Bantjes ‘n kleurling was. Sy een oumagrootjie was van gemengde afkoms. Van sy 8 grootjies was 1 van gedeeltelike slawe afkoms. Dit was Hilletje Agnita Jacobsz van de Caab, sy stammoeder. Die beskrywing “van de Caabˮ is gebruik waar iemand nie ‘n van gehad het nie en plaaslik gebore was. Hilletje Agnita het wel ‘n van gehad, dus is dit onduidelik hoekom sy as “van de Caabˮ beskryf is. Die meeste persone wat so beskryf was, was slawe – maar nie almal nie. Die meeste geslagsregisters identifiseer haar vader as: Jan Jacobus/Jacobs/Jacobsz, gebore in 1685 en oorlede 1737. Hy was die seun van Jacob van Macassar en Maria van Guinea (albei slawe). Hilletje Agnita se moeder word geïdentifiseer as Anna/Johanna Agnita Pieters/Pietersze, gebore 1695,  dogter van Andreas Pietersze (van Lubeek, Noord-Duitsland) en Maria Domingo, ‘n voormalige slavin (moontlik van Bengaalse afkoms, die Bengale is etnies Indo-Aries). Hilletje Agnita Jacobsz is in 1737 gedoop. Die doopgetuies was Theunis van Aart en Hilletje (Kervel) van Aart. Dit kom voor of Hilletje Agnita vernoem is na Hilletje van Aart (peetma?) en haar moeder Johanna Agnita Pieterze.

Die “gemengde bloedˮ in Jan Gerritze Bantjes se are was so min dat dit eintlik geen effek op hom gehad het nie. Dit het nie van hom ‘n kleurling gemaak nie en hy is nie as een aangesien nie. Dit alles het natuurlik net mooi niks te doen met die Gelofte, Bloedrivier, of die amptelike verslag daaroor nie.

Deur te sê dat hy kleurling was, word geïmpliseer dat kleurlinge minderwaardig is want hulle sou nie in staat gewees het om ‘n betroubare verslag oor die Gelofte en Bloedrivier te gee nie. Aan die ander kant, as hy wel ‘n kleurling was, bewys dit dat die Voortrekkers nie rassiste was nie en ook nie die uitvinders van apartheid was nie.

Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier is die korrekte en amptelike verslag wat die Voortrekkers beloof het om te laat opteken. Hierdie joernaal is die getuienis wat hulle aan hul nageslag nagelaat het.

(Terloops, in die joernaal is geen melding van kersfees nie. Waarskynlik was die Voortrekkers glad nie bekend met kersfees nie.)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Waarom is die woorde van die Gelofte verander?

Oor die laaste klompie jare het ek Geloftefeeste op 5 verskillende plekke bygewoon. Volgens die organiseerders groei die bywoning en is daar elke jaar meer mense as die vorige jaar. Interessant ook is die groot getalle jongmense, met klein kindertjies, wat dit bywoon. Nog iets wat ek waarneem is die Boerestyl kleredrag van die jonger manne.

Mens wonder of daar ‘n oplewing in belangstelling is. Sedert die Groot Verraad was daar ‘n groot aanslag teen die Gelofte en Geloftedag. Die groter kerkgenootskappe, kultuurorganisasies en politici het hulle gedistansieer van hierdie dag. Diegene wat deur die Boerehaat geïntimideer was, het nie meer die dag ondersteun nie. Wat het verander? Moontlik het die besef begin deurdring dat ons as volk tans in ‘n soortgelyke situasie verkeer as waarin die Voortrekkers was by Bloedrivier.

Geloftefeeste was sedert 1838 nog altyd jaarliks gevier. Wat wel verskil het, is die aard van die feeste. Sommige was tuis as ‘n familiefees gevier. Ander was as groot volksfeeste gevier. Daar was ook die wat as kerkdienste gevier was. Die bywoning van feeste het ook gewissel. Soms min mense, ander kere enorme skares.

Die meeste Geloftefeeste word gereël deur ‘n plaaslike Feeskomitee. Die Feeskomitee bestaan uit vrywilligers wat alles beplan en organiseer. Landwyd is daar, volgens een webwerf, meer as 70 onafhanklike Geloftefeeskomitees. Sover ek kan vasstel, is daar nie een saambindende Geloftefees organisasie nie. Die feeste waar ek was, het 4 verskillende elemente: daar is ‘n soort kerkdiens, daarna volg ‘n feesrede, die Gelofte word voorgelees en daar is verskillende kultuuraktiwiteite. Die komitee benodig dus ‘n predikant, iemand wat die feesrede kan lewer, mense wat die verversings verskaf en mense om die kultuuraktiwiteite te behartig. Die aktiwiteite moet ook vir kleiner kinders voorsiening maak. ‘n Perseel word benodig. Sommige komitees beskik oor hul eie persele maar ander moet ‘n plek huur. Alles kos geld en fondse moet verkry word. Om die fees by te woon, is gewoonlik gratis, maar daar word wel ‘n kollekte opgeneem.

Die hou van ‘n kerkdiens as deel van die fees het in 1864 in Natal ontstaan. Van 1910 tot omstreeks 1990 het die groter kerkgenootskappe toenemend betrokke geraak by Geloftefeeste. Sedert 1990 het van die groter kerkgenootskappe hulle onttrek aan Geloftefeeste. Die kerkdiens as deel van die fees het nogtans bly voortbestaan as ‘n tradisie. Derhalwe is dit vir die Geloftefeeskomitees nodig om ‘n predikant te soek wat bereid is om die diens te behartig. Baie predikante stel nie belang nie of dalk verbied hulle kerkgenootskappe dit. Blykbaar is predikante van die Evangelies Gereformeerde Kerk, die Hervormde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Vrye Gereformeerde Kerk meer gewillig om die diens by Geloftefeeste te lei.

In die tydperk na 1880 het die lewering van ‘n feesrede gebruiklik geword. Op 16 Desember is volksvergaderings gehou en het bespreking van aktuele sake plaasgevind. Die gedagte van die feesrede is dat die spreker die eietydse situasie en die gebeure by Bloedrivier met mekaar moet verbind. Om sin en betekenis aan die Gelofte te gee. Om vandag ‘n geskikte spreker te kry is moeilik. Eerstens moet dit iemand wees wat bereid is om dit te doen. Daar is heelwat persone wat bang is om in die openbaar standpunt in te neem. Die spreker moet ook in staat wees om ‘n toepaslike boodskap oor te dra. Hy sal ook interessant moet wees en dit sal help as hy ‘n redelik bekende persoon is. Die feesrede moet nie net nog ‘n vervelige toespraak wees nie, maar dit moet mense kan trek en iets gee om oor te dink.

Die kultuuraktiwiteite wissel volgens die bronne en talente wat plaaslik beskikbaar is. ‘n Boerekommando in tradisionele drag met historiese vlae is altyd gewild. Sommige komitees het ‘n kanon wat gevuur word. Op een plek is daar ‘n demonstrasie van skiet met ‘n voorlaaier, by ‘n ander een ‘n demonstrasie van sweepslaan. Partykeer is daar tradisionele eet- en drinkgoed beskikbaar. Daar is ook Boeresport wat aangebied word. ‘n Ander een het ‘n interessante museum. Baie van die aktiwiteite is in die buitelug. As dit reën moet daar ‘n ander plan gemaak word. Dit is waarskynlik die pret van die kultuuraktiwiteite wat die grootste trekpleister na Geloftefeeste is.

Een item wat by alle Geloftefeeste teenwoordig is, is die lees van die Gelofte. Die weergawe van die Gelofte wat vandag algemeen gebruik word (die Moderne Gelofte), is in die begin van die 20ste eeu inmekaargeflans uit die vier oorspronklike Geloftebeskrywings. Die eerste beskrywing is die amptelike notulering van die Boere Volksraad (Oorspronklike Gelofte), soos opgeteken deur J.G. Bantjes (klerk van die Volksraad) tydens die gebeure by Bloedrivier. Die tweede is die Kommandantsverslag van A.W.J. Pretorius aan die Volksraad twee weke na die Slag van Bloedrivier. Die derde is die brief van die Volksraad aan ‘n Kaapse koerant. Die vierde is die herinneringe van Sarel Cilliers 30 jaar later op sy sterfbed. Die eerste drie stem ooreen met mekaar, Sarel Cilliers se herinneringe verskil daarvan.

Die Oorspronklike Gelofte lui soos volg: “om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ‘n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,” – en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.

Die Moderne Gelofte is so bewoord: Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n Huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.

Soos gesien kan word is daar verskille tussen die Oorspronklike Gelofte en die Moderne Gelofte. Die eerste groot verskil is dat die oorspronklike beloof om ‘n huis te stig (instel of vestig) tot God se gedagtenis, terwyl die moderne ‘n huis wil oprig (bou) tot God se eer. Die betekenis van “huis” is ‘n woonplek, “stig” is om tot stand te bring. Die bedoeling was klaarblyklik dat die Voortrekkers beloof het om ‘n volk tot stand te bring tussen wie daar ‘n woonplek vir God sou wees. Daar is dus nie verwys na die bou van ‘n kerkgebou nie. Ten tyde van die Gelofte was al die Voortrekkers in elk geval onder tug en kerkloos. Hulle het ook nie ‘n predikant gehad nie, ‘n leek het die dienste gelei. Die gebeure van 16 Desember 1838 was nie net die redding van een groepie Voortrekkers nie, dit was ook die geboorte van ‘n volk. Om ‘n volk te wees wat deur ‘n Gelofte tot stand gekom het, is nie ‘n geringe saak nie. Minagting of losmaking van die Gelofte bring die volk se bestaansreg in gedrang.

Die moderne weergawe het die woorde: ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring. Dit staan glad nie in die oorspronklike nie. Dit kan seker nie kwaad doen om Geloftedag as ‘n afgesonderde dag te vier nie. Maar dit is nie beloof nie en word nie vereis nie. Die aard van Geloftedag is ‘n dag van dankbaarheid en blydskap, derhalwe ‘n feestelike geleentheid. In die oorspronklike is die voorneme om die gebeure in ‘n boek op te teken (die Volksraad se Joernaal?), terwyl die moderne weergawe dit weglaat.

Hoe het dit gebeur dat die Gelofte wat voorgelees word (Moderne Gelofte), verskil van die amptelike beskrywing (Oorspronklike Gelofte)? Die een moontlikheid is dat daar mense was wat verkeerdelik vir J.G. Bantjes as ‘n kleurling aangesien het. Gevolglik is die Volksraad se amptelike beskrywing verander omdat die sekretaris as ‘n kleurling aangesien is. Let wel, die Volksraad was self ooggetuies van alles en het die beskrywing van die Gelofte goedgekeur. ‘n Ander moontlikheid is dat daar in die twintigste eeu persone was wat die bewoording verander het om met hul eie ideologie ooreen te stem. Indien dit die geval was, sou dit skandalig wees.

Die Gelofte en die gebeure by Bloedrivier was in meer as een opsig ‘n keerpunt in die geskiedenis. Die militêre oorwinning oor Dingaan het die Zoeloes se tirannie (Mfecane) in Suidelike-Afrika finaal gebreek. Daarna kon ander swart volke bly voortbestaan. Ten spyte van die werk van sendelinge, was daar voor Bloedrivier geen bekeerlinge tot Christus onder die Zoeloes nie. Bloedrivier het die deur tot die kerstening van die Zoeloes oopgemaak. Na Bloedrivier het die meerderheid Nederlandssprekendes van Suidelike-Afrika besef dat hulle ‘n gesamentlike lotsverbondenheid het. 16 Desember 1838 was die geboortedag van die Boerevolk.

Die gebed was om te bly voortbestaan. Die belofte was dat ons onderneem om vir God ‘n woonplek tussen ons te maak. Die nakoming van die Gelofte bepaal of die Boerevolk ‘n toekoms het, of daar ‘n rede is dat ons mag bly voortbestaan.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

‘n Boererepubliek op wiele

Die oomblik toe die Voortrekkers op die oorkantste wal van die Oranje was, dink ek, het hulle seker ‘n groot fees gehou. Hulle was, moes hulle gedink het, uit die kloue van die Britte. Die ding wat hulle wel gedoen het, was om hulle eie regeringstelsel in te stel, ‘n republiek. Hulle het nog nie ‘n grondgebied gehad nie, hulle kon nie eers saamstem oor waar ‘n grondgebied moes wees nie, maar hulle het ‘n eie regering ingestel. Daar is ‘n les of twee wat ons by die Voortrekkers kan leer.

Die Boerevolk was die eerste republikeine in Afrika. Die republikeinse ideaal het hulle in Nederland gekry. Hulle denke kon ook deur die Amerikaanse Revolusie aangevul gewees het. Voor die Groot Trek was daar al pogings in Swellendam en Graaff-Reinet om republieke te stig. Op 2 Desember 1836 het die Voortrekkers hulle eerste republiek gestig op Marokashoek, naby Thaba Nchu. Hierdie republiek is gestig deur die trekgeselskappe van Maritz en Potgieter. Kort daarna het die trekgeselskappe van Uys en Retief ook opgedaag en is daar ‘n nuwe verkiesing gehou. Op 6 Junie 1837 is Piet Retief verkies as Goewerneur (President) en Gerrit Maritz as Regter-President. Die naam van die republiek was De Vrije Provincie van Nieuw Holland in Zuid-Oost Afrika.

Die Voortrekkers het nie die uitvoerende gesag aan net een persoon opgedra nie, maar aan ‘n Raad van Politie. Hulle het ook die uitvoerende en wetgewende funksies geskei. Die beginsels wat by Morakashoek neergelê was, was dat die volkswil deur stemming deurslaggewend sou wees. Hierdie beginsels was die grondslag waarop die latere Boererepublieke gevestig is. Dit het ook later tot gevolg gehad dat die Vrystaat ‘n modelrepubliek genoem is. Dit was ‘n republiek wat nog op pad was na ‘n eie land toe. Dit was ‘n republiek van mense en nie van grond nie. Die republiek se hoofstad en kantore was op ossewaens, die raadsaal was in ‘n tent of onder ‘n boom. Ons van vandag moet oplet. Hulle was nie meer onder vreemde heerskappy nie, dit was ‘n regering uit die volk en vir die volk.

Soos dit met die Boerevolk gaan, was daar onderlinge twiste en faksies oor waarheen hulle moet trek. Potgieter was ten gunste van die binneland en betrekkinge met die Portugese hawe in Mosambiek. Die res was ten gunste van Natal met Port Natal as hawe. Na ‘n ruk is besluit om eers na Natal te trek en daar ‘n gebied te verseker. Potgieter het saam getrek maar het nie sy gekose gebied prys gegee nie. Terwyl Retief sy mense Natal ingelei het, het Potgieter die Matabeles verslaan en Transvaal en Noord-Vrystaat vir bewoning beveilig. In Natal is Retief deur die Zoeloes vermoor, Maritz is dood weens siekte en Uys het by Italeni gesneuwel. Andries Pretorius het hierna in Natal aangekom en is gevra om die leierskap op hom te neem.

Na die Slag van Bloedrivier word die Republiek van Natalia gestig. Hierdie tweede republiek het nou aanspraak gemaak op ‘n definitiewe grondgebied. Die Volksraad het die hele gemeenskap van Voortrekkers as een volk gereken en het nie net aanspraak gemaak op ‘n gedeelte van Natal nie, maar ook op die gebied wat deur Potgieter beveilig is. Die Volksraad het nie in Potgieter se gebied ingemeng nie. Daar was dus twee gebiede binne die een republiek: Winburg-Potchefstroom en Pietermaritzburg. Die Volksraad het 24 lede gehad en het ‘n grondwet opgestel. Die hoofstad was Pietermaritzburg.

Toe die Voortrekkers oor die Oranje was, het hulle gedink hulle is nou verlos van die Britte. Maar die Britte het nie so gedink nie. Hulle het steeds die Voortrekkers as hulle onderdane beskou en in 1836 die Cape of Good Hope Punishment Act uitgevaardig. Hiervolgens sou Britse magistrate steeds jurisdiksie hê oor  “onderdane” in gebiede wat nie deur Brittanje beset was nie. Een van die eerste probleme wat die Republiek van Natalia gekry het, was die Britse besetting van die Port Natal hawe. Dit is gedoen op bevel van die Kaapse Goewerneur Napier, sonder magtiging uit Engeland. Die Volksraad het protesteer, maar die Britte het hulle nie daaraan gesteur nie. Hiermee het die Voortrekkers die beginsel neergelê dat hulle vreemde onderdaanskap verwerp. Hierdie standpunt is volgehou tot by die Konvensie van Sandrivier in 1852. Napier se besettingsmag het ‘n jaar later onttrek.

Die tweede probleem wat dringend deur die Volksraad hanteer moes word, was die onenigheid tussen die Natallers en Potgieter. Hierdie onenigheid kon die voortbestaan van die republiek in gevaar stel. Die President, Andries Pretorius, het dit self hanteer en daarin geslaag om die Voortrekkers te verenig. Pietermaritzburg sou die hoofstad van die Verenigde Burgerij wees. Die Potchefstroom-trekkers sou 12 volksraadslede hê. Hulle sou ook ‘n adjunkraad op Potchefstroom  hê wat hulle plaaslike sake sal hanteer, dit was gesien as ‘n komitee van die Volksraad en nie as ‘n aparte liggaam nie. Dieselfde vlag sal oor al die Voortrekkers waai. Ons merk dat desentralisasie toe die antwoord was, en vandag nog steeds is.

Die Republiek van Natalia het nie lank bestaan nie en het in 1843 ontbind. Die Britte was nie bereid om die Republiek van Natalia te erken nie en Napier het weer in 1842 ‘n besettingsmag na Port Natal gestuur. Andries Pretorius het sy land verdedig en by Congella die Britse mag verslaan. Die Britte het versterkings gestuur en Port Natal verower. In Mei 1843 het die Britte Natal geannekseer. Die Adjunkraad van Potchefstroom het nie die oorgawe onderteken nie en hulle nie aan Britse gesag onderwerp nie. Die Adjunkraad is omskep in ‘n Burgerraad en het weer die Voortrekkerrepubliek ingestel en ‘n grondwet opgestel. Die meeste Voortrekkers in Natal, ook Andries Pretorius, het tussen 1842 en 1847 na die Vrystaat en Transvaal verhuis.

In 1848 slaan die Britte weer toe en annekseer die Vrystaat onder die naam Oranjerivier Soewereiniteit. Nie al die inwoners van die Vrystaat was Voortrekkers nie, sommiges was Trekboere wat hulleself as Britse onderdane gesien het. Daar was ook Griekwas en Basoetoes in die gebied en hulle was verdragstate van Brittanje. Die Voortrekkerrepubliek van Potchefstroom-Winburg is in twee verdeel. Andries Pretorius het probeer om die gebied te herower maar is op Boomplaas verslaan.

In Transvaal was daar verdeeldheid onder die Voortrekkers. Daar was drie hoofsentra: Potchefstroom, Ohrigstad en Zoutpansbergdorp. Pogings om die drie groepe te verenig het aanvanklik misluk. In Mei 1849 is daar ‘n groot deurbraak gemaak met die stigting van die Verenigde Bond onder ‘n verteenwoordigende volksraad. Hiermee is almal Noord van die Vaalrivier verenig.

Die Britte het ernstige probleme uit verskeie oorde gekry. In Brits Kaffraria het die Agste Grensoorlog uitgebreek, die Khoi in die Kaapkolonie was opstandig en die Britte is deur die Basoetoes verslaan. Hierdie situasie was voordelig vir die Vrystaatse Voortrekkers en hulle vra Andries Pretorius om met die Britte ‘n goeie verstandhouding aan te gaan. Die Britte was nou bereid om te onderhandel en hulle ontmoet Pretorius by die Sandrivier. Hier is die belangrike Sandrivier Konvensie onderteken op 17 Januarie 1852. Met hierdie ooreenkoms is die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Voortrekkers Noord van die Vaal deur Groot Brittanje erken. Ongelukkig wou die Britte nie die Voortrekkers in die Oranjerivier Soewereiniteit se onafhanklikheid ook toestaan nie.

Nadat die Britte weereens deur die Basoetoes verslaan is, het hulle genoeg gehad. Op 23 Februarie 1854 word die Bloemfontein Konvensie onderteken. Daarin het die Britte die staatkundige onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje- en Vaalriviere erken. Die Voortrekkers wou oorspronklik net een republiek gehad het. In later jare was daar ‘n ideaal om die twee republieke en die Kaapse binneland te verenig.

Die Groot Trek het in 1835 begin met die trekke van Louis Trichardt en Lang Hans van Rensburg. Die Groot Trek het geëindig toe die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat tot stand gekom het. Vir omtrent 20 jaar het die Voortrekkers gesoek na ‘n eie land en is telkens verhinder. Maar al het hulle nie ‘n eie land gehad nie, wou hulle steeds oor hulleself regeer. ‘n Republiek wat op trek was, maar wat as regering gefunksioneer het.

Blykbaar was meeste van die Voortrekkerleiers nog jong manne in hulle laat dertigs toe die Groot Trek begin het. Met die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van Oranje Vrijstaat 20 jaar later, het hulle die leierskap oorgedra na die volgende geslag toe.

Hierdie drang na ‘n eie land en ‘n eie republiek leef nog steeds in die harte van die Voortrekkers se nasate. Die beginsel dat hulle nie onderdane van vreemdes wil wees nie, is uitgebrei met die beginsel dat hulle nie vreemdes as hulle onderdane wil hê nie. Dit word genoem die reg op selfbeskikking. Dit is waarheen ons op pad is. Die wiele draai en die osse beur vorentoe.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk en sy sondes

Jy kan nie die Boerevolk bepeins, bespreek of beskryf sonder dat godsdiens in ag geneem word nie. Spesifiek kan jy nie by Bloedrivier verby kom nie. Dit was ook so met die Amerikaanse skrywer van historiese romans, James Mitchener. Sy verhaal oor ons se naam is The Covenant. Die Gelofte van Bloedrivier kan selfs gesien word as die oomblik toe ons ‘n volk geword het.

Bloedrivier was ‘n wonderwerk. Hoe jy ook al wil redeneer, iets buitengewoon het daar gebeur. Die Voortrekkers daar het nie oorlewe oor hulle tegnologies gevorderde voorlaaiers nie. Ook nie oor hulle groot spiere gehad het nie. Ook nie omdat hulle so dapper was nie. Hulle was vrek bang. In die dae voor die aanval, het hulle gesien wat by Bloukrans en Moordspruit gebeur het. Hulle kon verwag om op dieselfde grusame manier vermoor te word. Hulle het nie eers die Gelofte gemaak omdat hulle so vroom was nie, hulle het dit gedoen want dit was die laaste uitweg.

Geen kerk het iets met die saak te doen gehad nie. Al die Voortrekkers was onder sensuur en daar was nie eens een predikant daar nie. Hulle was leke en hulle voorgangers was leke. Hulle het niks van teologie af geweet nie. Al wat hulle geweet het, was dat hulle sonder God se ingryping daarmee heen was.

Wie was die God wat die Voortrekkers by Bloedrivier gered het? Dit was die God van die Bybel. Die God van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Hoe het die Voortrekkers die Bybel verstaan? Ons weet nie. Hulle was op hulle self aangewese en kon moontlik gedwaal het. Maar dit maak nie saak nie. Die God van die Bybel het hulle nogtans gered. Hoekom? Het hulle dit verdien? Ek dink nie so nie. Was hulle wonderlike mense? Ek dink nie so nie. Die een ding wat hierdie wonderwerk gedoen het, was om ‘n getuienis te wees vir die God van die Bybel.

As ons vandag nie die Gelofte respekteer nie, respekteer ons nie die getuienis daarvan nie, ons respekteer ook nie die God van die Bybel nie. Is dit nie ons eerste groot sonde nie? Is dit nie afgodery nie?

Een van die klagtes wat vandag teen ons as volk ingebring word, is dat ons valse trots het. Party van ons glo dat die Boerevolk uitverkore is en dat God ons noodwendig sal help. Ons hoef net te bid, of dalk nie eers nie want God het reeds besluit om ons te help. Ons is spesiaal en nie soos die ander volke nie. Wat vir hulle geld, geld nie vir ons nie. Wat beteken dit wanneer ons gebede nie beantwoord word nie? Wat beteken dit wanneer profesieë nie waar word nie? Wat beteken dit wanneer alles net hagliker word? Valse trots is ‘n mensgemaakte godsdiens met ‘n god wat na die beeld van die mens is.

Dan is daar die wat meen dat ons op ons eie vermoëns kan staatmaak. Ons moet iets doen en hoef net te vra dat God dit moet seën. Dit is mos vanselfsprekend dat Hy aan ons kant is, of hoe? Maar ook dit is ‘n mensgemaakte godsdiens. Is ‘n mensgemaakte godsdiens nie ook afgodery nie?

Tog is daar baie van ons volk wat aan ‘n kerk, of iets soortgelyk onder ‘n ander naam, behoort. Ons is, soos Paulus aan die Atheners gesê het, baie godsdienstig. Beteken dit iets? Ek is bevrees nie. Hoewel die kerke die God van die Bybel mag verkondig, beteken dit nie dat hulle noodwendig toepas wat hulle verkondig nie. Kerklikheid is rituele en tradisies, dit wil sê vormgodsdiens.

Ons is besonder godsdienstig. As ons ‘n vergadering hou, begin ons dit met Skriflesing en gebed. Voor ‘n sportbyeenkoms bid ons dat ons span mag wen. Die ander span doen dit ook. Wat beteken dit vir die span wat verloor? Dan is daar die godsdiens in die politiek en die politiek in die godsdiens. Dit ken ons goed. So is die Boerevolk verraai in die naam van godsdienstigheid. Want die godsdiens word verander en aangepas by die politiek van die dag. Is dit nie ook ‘n groot sonde nie?

Hoe werk dit? Doen die kinders minder sonde as hulle ouers, of doen hulle meer? Leer die kinders uit die foute van hul ouers? Neem byvoorbeeld die seksuele. Die God van die Bybel het ‘n definitiewe standpunt hieroor. Het die ouers dit gehoorsaam? Het die ouers hulle kinders reg hieroor onderrig? Doen die kinders dit wat reg is? Of is dit ‘n geval van ons doen wat almal doen? Die slegte nuus is dat dit nie ‘n verskoning is nie. Die ouers dra ‘n dubbele verantwoordelikheid: hulle eie sondes en die onderrig van hulle kinders. Die kinders word nie geoordeel vir die oortredings van hulle ouers nie, maar vir hul eie oortredings. Dit is nie net die seksuele nie. Daar is soveel ander dinge wat gedoen word “want almal doen dit”. Die blindelingse navolging van ander is ook ‘n sonde.

Selfs mense wat dit eers ontken het, besef nou dat die Boerevolk die teiken van ‘n volksmoord is. Binnekort gaan ons presies wees waar die Voortrekkers was op die vooraand van Bloedrivier. Ongelukkig vir ons, kan ons nie gou-gou ‘n gelofte maak om gered te word nie. Ons kom nie eers die eerste Gelofte na nie. Ons besef nie dat ons ons weë sal moet verander nie. Dit is nie die Zoeloes buite die laer wat die probleem is nie, dit is ons binne die laer wat die probleem is.

Wil ons gered word? Hoe graag wil ons gered word?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Voortrekker met die baie boeke

Gerrit Maritz was nie sommer enige hierjy nie. Voor die Groot Trek was hy ‘n gerespekteerde persoon in Graaff-Reinet. Hy was bekend by die sendelinge en het die sendingwerk onder die Khoi en San ondersteun. Hy was ook veldkornet en wykmeester en die owerheid wou graag ‘n goeie verhouding met hom handhaaf. By sy eie mense was hy bekend as ‘n godvresende persoon wat ander gehelp het waar hy kon. Verder was hy ‘n belese persoon, ‘n ware demokraat en gesteld op die handhawing van wet en orde. Dit word vertel dat hy ‘n goeie grap kon waardeer en dat hy lekker kon lag. Maar Gerrit Maritz was ook ‘n Boer: hardwerkend, ongeduldig en kort van draad. Hy was presies met sy werk en het ‘n kreatiewe gees gehad.

Gerhardus Marthinus Maritz (noemnaam Gert of Gerrit) is in 1797 gebore in die Suurveld, Graaff-Reinet distrik. Gedurende sy kinderjare het die Suurveld die aanvalle van Xhosas en Khoi (Hottentotte) beleef. In 1811 het sy vader hom op Graaff-Reinet gevestig as baaspadmaker en timmerman. Gerrit Maritz het hier homself as wamaker bekwaam en ‘n suksesvolle onderneming gevestig. Mettertyd het hy een van die vermoëndste persone op Graaff-Reinet geword. Dit word vertel dat sy waens van die beste kwaliteit was en ook baie mooi was. Waar ander waens groen geskilder was, het hy syne blou geskilder. Ander waens het ronde tente gehad, die Maritzwaens het kaptente gehad.

Op 22 het Gerrit in die huwelik getree met die vyftienjarige Angenitha Olivier. Hulle het 4 seuns en 2 dogters gehad. Hy koop ‘n huis in Caledonstraat vir 2700 riksdaalders en betaal dit kontant in 2 paaiemente. Teen 1830 is die huis te klein en hy bou ‘n groter huis in Noordekantstraat. Hy bekom ook die plaas Welgevonde aan die voet van die Ouberg.

Dit is nie bekend wat die redes was wat Gerrit Maritz laat besluit het om te trek nie. Sy trekgeselsskap het uit 100 waens en 700 mense bestaan. Sy broer het met ‘n tweede groep getrek. Hyself het met 7 waens getrek. Behalwe dat sy mooi waens uitgestaan het, het hy ‘n verskeidenheid goedere saamgeneem. Daar was, onder andere, 2 kanonne en baie boeke. Hy het ‘n verskeidenheid teologiese boeke, woordeboeke en boeke oor die regte saamgeneem.

Die Maritz-trek vertrek September 1836 uit Graaff-Reinet en bereik Sanddrif aan die Oranjerivier in November. Hier verneem hy van die moord op die Liebenbergs aan die Vaalrivier. Daarna ontmoet hy Andries Hendrik Potgieter en verneem van die slag by Vegkop in Oktober. Hierdie skokkende nuus oortuig hom om vinniger te trek en hulp te verleen aan die mense wat in nood is.

In Desember 1836 is ‘n groot groep Voortrekkers bymekaar by Thaba Nchu en verkies hulle hul eerste bestuur. Maritz word verkies as voorsitter en hoof van die bestuur, Potgieter word verkies as laerkommandant. Hulle onderneem ‘n aksie teen die Matabeles en behaal ‘n oorwinning by Mosega in Januarie 1837. In Maart het Piet Retief en sy trek by hulle aangesluit en in April word ‘n nuwe bestuur verkies. Retief word “goewerneur” en Maritz “magistraat”.

Vyf maande later trek Retief na Natal terwyl die res ‘n suksesvolle tweede ekspedisie teen die Matabeles onderneem. Maritz was ook ten gunste daarvan om sy mense in Natal te vestig. In Noord-Natal beplan Maritz en Retief om ‘n sending te stuur na die Zoeloe-koning, Dingane. Hulle het groot meningsverskille hieroor: Retief wil met ‘n groot kommando gaan maar Maritz wil dat net ‘n klein groepie moet gaan. Maritz het nie vir Dingane vertrou nie. Maritz word reg bewys en Retief en sy manne word vermoor in Februarie 1838. Net meer as ‘n week later vind die Groot Moord by Bloukrans en Moordspruit plaas. Maritz se laer word ook aangeval, maar hulle slaag daarin om dit af te slaan. C.R. Swart het vertel van die dapperheid van Maritz se kinders tydens hierdie aanval.

In Mei 1838 gaan Maritz en Karel Landman (die nuwe Hoofkommandant) met 150 man na Port Natal om die Britse Setlaars teen Dingane te help. In Junie vestig Maritz sy laer aan die Klein-Tugela en dit word bekend as Sooilaer en later Saailaer.

Maritz, hoewel nog ‘n jong man, sukkel geruime tyd met sy gesondheid. Middel September 1838 word hy ernstig siek en sterf op 23 September. Hy is aanvanklik by Maritzdam begrawe, maar op Geloftedag 1895 herbegrawe by die Bloukrans-monument. Net voor sy afsterwe, het hy gesê: “Dit het met my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”

Die doel van die Groot Trek was om ‘n nuwe land te stig. ‘n Beskaafde land met goeie bestuur en wet en orde. Hulle het ‘n republiek in gedagte gehad, ‘n beter regering as wat in die Britse kolonie was. Gerrit Maritz se pligte as Voortrekkerleier was juis die bestuur, administrasie en regspraak. Dit het hy met bekwaamheid uitgevoer. Deel daarvan was om voorgenome huwelike te ondersoek, boedels te beredder en as regter op te tree – dinge wat wysheid geverg het. Vir sy mede-Trekkers was hy ‘n bron van krag. Hy het die noodlydendes gehelp en die mismoediges moed ingepraat. Hy het ook, toe dit nodig was, belangrike militêre suksesse behaal.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Aan die einde van die bloedspoor is ‘n Boer

Ons kan Herrie die Strandloper (ook bekend as Autsumao van die Goringhaikonas) as die eerste plaasmoordenaar beskou. Op 19 Oktober 1653 vermoor hy en sy maats vir David Jansz, die Kompanjie se veewagter. Hulle steel ook bykans die hele kudde beeste. Hy vlug, maar 2 jaar later kom hy terug en kom skotvry daarvan af. Van Riebeeck straf hom nie vir sy misdade nie en laat hom toe om weer daar te bly.

Mettertyd het ons voorgeslagte ‘n deurgang deur die berge gekry en hulle in die binneland gaan vestig. Hulle beweeg verder ooswaarts en teen 1770 bereik hulle die Sneeuberge. Hierna vestig sommiges hulle in die Zuurveld wat grens aan die Xhosa stamgebiede. Dit is hier waar hulle vir die eerste keer swartmense ontmoet het. Nie lank nie, toe is daar moeilikheid.

Teen 1779 was veediefstal deur die Xhosas so algemeen dat die blankes hulle plase moes verlaat. Optrede deur kommando’s in 1780 slaag om vee terug te kry, maar hulle kon nie die Xhosas van die plase af verdryf kry nie. Die regering in die Kaap het toe vir Adriaan van Jaarsveld as veldkommandant aangestel en sy kommando kon vee terugkry en Xhosas uit die Zuurveld verdryf. Hierdie was die Eerste Grensoorlog en die oorsake was veediefstal en grondroof. Adriaan van Jaarsveld was later een van die leiers wat die republieke van Swellendam en Graaff-Reinet gestig het.

Hierna volg die Tweede, Derde, Vierde en Vyfde Grensoorloë. Die redes bly dieselfde: veediefstal en grondroof. Die owerhede probeer met versoening die saak oplos, en dit werk nie. Eers probeer die Kompanjie en daarna probeer die Britse Empire. Die blankes in die binneland begin besef dat die owerhede nie na hulle omsien nie en die republikeinse ideaal word gebore.

Ten spyte van die vorige oorloë het toestande aan die Oosgrens bly verswak. Die Britte het nie ‘n konsekwente beleid gevolg nie en die Xhosas het dit gesien as swakheid by die blankes. Die Koloniale Regering het troepe in die gebied verminder en beperkings op die kommando’s geplaas. Handelaars het wapens en ammunisie aan die Xhosas verkoop. Gewapende Khoikhoi drosters sluit by die Xhosas aan. Die grensboere en setlaars besef hoe onveilig die situasie geword het. In 1834 bars ‘n groot mag Xhosas oor die grens. ‘n Honderd blankes word vermoor, opstalle word geplunder en afgebrand, 7 000 mense word dakloos. Die grensboere verloor 115 000 beeste, 161 000 skape en bokke, 5 700 perde en 60 waens. Die Britte tree op teen die Xhosas en behaal ‘n klinkende oorwinning. Vir hierdie poging het die Britte voorrade, waens en perde by die grensboere opgekommandeer. Die Britte se vergoeding aan die grensboere was maar karig. Verder het hulle die grensboere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas aanhits deur hulle vee te gaan terugneem. Die Britte se hantering van die grensboere tydens die Sesde Grensoorlog was een van die oorsake van die Groot Trek.

Na my mening was die moorde tydens die Groot Trek in prinsiep dieselfde as vandag se plaasmoorde. Die Voortrekkers het nog nie grond gehad nie, hulle was nog opsoek na grond. Hulle het nie enige iemand bedreig nie, hulle was nie in vyandskap met iemand anders nie. Hulle het nie verwag dat hulle aangeval sou word nie.

Die Van Rensburg-trek het gesoek na ‘n roete na Delalgoabaai. Niksvermoedend het hulle naby die stat van Manukozi uitgekamp. Gedurende die nag word hulle aangeval. Hulle veg verbete terug, maar hulle ammunisie raak op en hulle word uitgemoor. Karel Tregardt vind hulle beendere en begrawe dit.

Van die Potgieter-trek se mense kamp uit naby die Vaalrivier. Stephanus Erasmus en ander het gaan jag. Toe hulle die aand terugkeer, kom hulle af op Matabeles wat hulle kamp aangeval het en die blankes en die nieblanke bediendes vermoor het. Erasmus en sy een seun jaag na die ander Trekkers om hulle te waarsku. Die Liebenbergs trek nie betyds laer nie en word die oggend aangeval. Sommiges het wonderbaarlik ontkom,  maar al die vee word gesteel en twee meisies en ‘n seun word ontvoer. Die lot van hierdie kinders is nie bekend nie. Die slag van Vegkop het hierop gevolg.

Nadat die Zoeloekoning, Dingaan, vir Piet Retief en sy 70 metgeselle laat vermoor het, het hy opdrag gegee dat die res van die Voortrekkers ook uitgewis moes word. Die laers was wyd uitmekaar al langs die Tugelarivier en sy sytakke. Op 16 Februarie 1838 bekruip die Zoeloes die niksvermoedende Voortrekkers. Die nag van die aanval was dit donkermaan. Die Voortrekkers het eers besef wat aangaan toe die Zoeloes tussen hulle was. Twee Bezuidenhout broers kon ontsnap om ander laers te waarsku. Die aanval was op die laers wat by Bloukrans, Moordspruit en Weenen gestaan het. Van die Voortrekkers is 41 mans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes uitgemoor. Die aanvalle het met ongekende wreedheid plaasgevind. Die slagoffers se liggame is oopgeskeur, vroue is met skerpgemaakte stokke in die onderlyf deurboor en kinders is teen wawiele doodgeslaan. ‘n Strafekspedisie is uitgestuur maar dit het misluk. Uiteindelik het dit gelei tot Bloedrivier.

Ook tydens die Anglo-Boere Oorlog is geweldsmisdade teen veral kinders en vroue gepleeg. Die Havenga-verslag bevat inligting hieroor. Hierdie misdade was gepleeg deur Britse soldate en Swart troepe wat aan Britse kant geveg het.

Die wreedheid teenoor ons voorgeslagte het ook verkragting ingesluit. Dit word nie uitdruklik so genoem in geskiedenisboeke nie. Die slagoffers wou nie daaroor praat nie. Hulle het ook nie die woord “verkragting” gebruik nie maar eerder gepraat van “ontering”.

Sedert 1994 vind sulke wreedheid weer teen blankes plaas. Die geskiedenis herhaal homself. Dit is nou al 23 jaar later en daar is geen vooruitsig dat dit gestop gaan word nie. Nie deur die owerhede nie.

Kort ons ‘n leier? Ons het leiers. Kort ons ‘n plan? Ons het ‘n plan. Wie gaan ons help? Niemand nie. Moet ons bid? Net as ons ons bekeer en verootmoedig het. By Bloedrivier het ons voorouers geen ander opsies gehad nie. Dit was oorlewing of uitwissing. Ons gaan weer daar kom.

 

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

16 Desember 1899, die Swart Week

images

Ons almal weet wat op 16 Desember 1838 gebeur het. ‘n Klein groepie Voortrekkers was omsingel deur ‘n oormag Zoeloes. Die Voortrekkers het besef hulle staan nie ‘n kat se kans nie, die situasie was onmoontlik. Toe maak hulle in desperaatheid ‘n gelofte aan God. Op die 16de help Hy hulle daar by Bloedrivier.

Hier is iets wat ek nie geweet het nie. Geloftedag was nie net ‘n oorwinning vir die Voortrekkers nie, dit was ook ‘n oorwinning vir die Christendom. Hoewel Britse en Amerikaanse sendelinge al van 1820 af onder die Zoeloes gewerk het, is daar geen rekord van ‘n enkele bekeerde Zoeloe voor die Slag van Bloedrivier nie. Die houvas van die toordokters en bygelowe het daarvoor gesorg dat daar nie eers een Zoeloe in 18 jaar op die evangelie gereageer het nie.

Ten spyte van die grusame moorde op vrouens en kinders by Blauwkrans en elders, het die Boere nie dieselfde gedoen aan die Zoeloes nie. Die Boere het nooit vergeldingsaksies teen die Zoeloevolk geloods nie. In plaas van vergelding, het hulle sendingaksies geloods. Dit was eers na Bloedrivier wat toenemende getalle Zoeloes tot Christus bekeer is. Binne sig van die plek waar Piet Retief en sy manne vermoor is, het Afrikaanse sendelinge ‘n kerk en sendingstasie gebou. (Met dank aan Peter Hammond van die Reformation Society).

42 Jaar later, is weer ‘n gelofte afgelê. Hierdie keer by Paardekraal. Die geleentheid was die anneksasie van die Transvaalse Boererepubliek deur Groot-Brittanje. Weereens was die oormag te groot. Op 13 Desember 1880 het burgers van Paul Kruger ‘n klipstapel opgerig by Paardekraal en daar ‘n gelofte afgelê. Die Eerste Vryheidsoorlog het geduur van 16 Desember 1880 tot 27 Februarie 1881. Groot Brittanje is verslaan deur ‘n klein en onbenullige landjie. Die Britse Empire het hierdie nederlaag as ‘n vernedering ervaar. In ‘n sekere sin was die Tweede Vryheidsoorlog ook bedoel om hierdie nederlaag te wreek. So erg was hierdie wraakbegeerte dat Britse troepe die klippe van Paardekraal in die Vaalrivier gaan gooi het.

16 Desember 1899 is nie voorafgegaan deur die aflê van ‘n nuwe gelofte nie. 16 Desember 1899 was die einde van Groot-Brittanje se Swart Week.

Die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) breek uit op die President se verjaardag, 10 Oktober 1899. In die week van 10 tot 16 Desember 1899, behaal die Boere roemryke oorwinnings oor die Britse Empire. Die veldslae van Magersfontein, Colenso en Stormberg gebeur in hierdie week.

Op 16 Desember 1899 verskyn ‘n buitengewone gratis uitgawe van De Volkstem waarin President Kruger die volgende dag, die 17de, tot nasionale dankdag verklaar. In ‘n artikel in die koerant is parallelle getrek tussen 1838 en 1899. Die Boerevolk is gevra om God te dank vir hierdie oorwinning.

Wat my persoonlik kwel, is die vraag: wat het ná 16 Desember 1899 gebeur?

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin