‘n Groot Bybelse vertaalfout

Waar die woord kerk vandaan kom en wat sy oorspronklike betekenis was, is nie absoluut seker nie. Waarom die woord  kerk in die Bybel gebruik word, in plaas van die korrekte woord, is ‘n kwessie van bespiegeling. Waarom dit nie reggestel word nie, kan ek ook nie sê nie.

Die oorsprong van die woord kerk word gegee as afkomstig van dieselfde Germaanse woord waar sirkel ook vandaan kom. Alternatiewelik is dit van ‘n Griekse woord kyriakos wat die heer se huis beteken. Nog ‘n teorie is dat dit van die songodin Cirece afkom. Kom ons aanvaar dus dat kerk van kyriakos afkom want dit is uit Grieks en klink of dit Bybels kan wees.

Die slegte nuus is dat dit nie die woord kyriakos is wat as kerk vertaal word nie. Dit is die woord ekklesia wat as kerk vertaal word. Ekklesia beteken iets heel anders, dit beteken nie die heer se huis nie, dit beteken vergadering van uitgeroeptes. Nou hoekom sal sommige vertalings van die Bybel ekklesia nie vertaal as vergadering van uitgeroeptes nie maar as kerk?

Wat beteken die woord kerk? Taalkundig kan die woord kerk verwys na ‘n kerkgebou, ook na ‘n organisasie van Christene wat ‘n sekere denominasie verteenwoordig, dit kan ook verwys na ‘n sekere groep mense wat gereeld op ‘n plek bymekaar kom en gewoonlik ge-affiliëer is met ‘n sekere denominasie. In die Nuwe Testament was daar nie sulke geboue nie, ook nie denominasies nie en ook nie sulke groepe mense nie. Derhalwe, dit wat die woord kerk beskryf en beteken kom glad nie in die Nuwe Testament voor nie. Die woord kerk is ‘n vreemde woord en behoort nie in die Bybel te wees nie.

Hoe het dit gebeur dat hierdie vreemde woord in die Bybel gekom het? Die oorspronklike Protestantse vertalings was korrek en het ekklesia reg vertaal. Byvoorbeeld die Engelse vertaling van Tyndale het ekklesia vertaal as ”congregation”. Die woord ”congregation” beteken ”to gather into a body”. Die Statenvertaling het ekklesia vertaal as gemeente. Luther het ”gemeinde” gebruik. Die oorspronklike betekenis van gemeente in Nederlands en Duits is ‘n ”eenheid van openbare bestuur” (soos ‘n dorpsbestuur). Die woord ekklesia het in die Ou Testament verwys na ‘n vergadering van die volk. In die Griekse stadstate was dit ‘n vergadering van verteenwoordigers wat die stad bestuur.

Die woord  ”congregation” is in die King James Version vervang met die woord  ”church”. Koning James I van Engeland het opdrag gegee dat ‘n nuwe vertaling van die Bybel gedoen moet word. Hy het aan die vertalers 15 opdragte gegee waaraan die vertaling moes voldoen. Koning James I het vereis dat die nuwe vertaling moes ooreenstem met die ekklesiologie  van die Church of England (Anglikaanse Kerk). Dit moes die kerk se episkopaalse struktuur en ook die kerk se geloof in geordende ampte reflekteer. Gevolglik is die Bybel so vertaal dat dit ‘n kerkgenootskap moes pas. Die woord ”church” beteken dus in die eerste plek kerkgenootskap of denominasie.

Goed, maar dit is in Engels. Hoe raak dit Afrikaans? Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van 1933/1953 het, in die voetspore van die Statenvertaling, ekklesia as gemeente vertaal. Die afwyking in Afrikaans het met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van 1983 gekom. In hierdie vertaling word ekklesia vertaal as kerk. Effektief beteken dit dat die vergadering van uitgeroeptes verander is na die vergadering van die kerkgenootskap se geordende ampsdraers. Dit is ‘n wesentlike verandering van die Bybel.

Watter weergawe van Matteus 16:18 klink korrek: ”En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk (d.w.s. kerkgenootskap) bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (NAV). Of: ”en Ek sê verder vir jou: ‘Jy is Kefa. Op Hierdie Rots sal Ek My vergadering van uitgeroeptes bou en die hekke van Sh’ol sal nie daarteen kan staan nie.” (PWL).

Miskien kan die ekklesia met hierdie voorbeeld verduidelik word. Die Skaapwagter roep die skape wat aan Hom behoort om na Hom toe te kom. Daar is baie skape, maar nie almal behoort aan Hom nie. Die skape wat aan Hom behoort hoor Sy stem en hulle herken Sy stem. Die skape gaan na die Skaapwagter toe en versamel om Hom. Nou lei die Skaapwagter Sy skape na waar daar goeie weiding is.

Ons het tot dusver aanvaar dat die Germaanse woord kerk afkomstig is van die Griekse woord kyriakos wat huis van die heer beteken. Dit verklaar dalk hoekom daar na ‘n kerkgebou verwys word as die ”huis van die Here”. Dit is natuurlik ook foutief.

Indien die vertaling van ekklesia as kerk net ‘n fout was (almal maak foute), hoekom word dit dan nie reggestel nie?

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Volkloses stig ‘n volk

Hoe het dit gebeur dat ons Duitse stamouers hulle aan die Kaap van Goeie Hoop kom vestig het? Wou hulle ‘n kolonie vir Duitsland kom oprig? Was dit so beplan of was dit toevallig? Of was daar vir hulle geen ander keuse nie?

Die wêreld van 1652 het heeltemal anders gelyk as wat dit vandag lyk. Die moderne staat Duitsland het eers in 1871 tot stand gekom toe Otto von Bismarck daarin geslaag het om ‘n klomp kleiner state te verenig. Voor 1871, het “Duitsland” bestaan uit ‘n klomp vorstedomme wat onafhanklik van mekaar was. Die mense van die vorstedomme het kultureel, godsdienstig en taalgewys van mekaar verskil.

Die eerste verskil tussen die noordelike en die suidelike Duitse state was taal. Die Hoogduitse klankverskuiwing het tot gevolg gehad dat die noord-westelike state Nederduits gepraat het en dat die suid-oostelike state Hoogduits gepraat het. Nederduits, ook bekend as Platduits, is naby aan Nederlands. Van hierdie gebiede waar Nederduits gepraat was, sluit in Neder-Sakse, Noordryn-Wesfale, Lippe, Hamburg, Bremen, Schleswig-Holstein, Mecklenburg, Wes-Pommeranië, Sakse-Anhalt, Brandenburg en Pruise. Daar was ook minderhede in Hesse, Nassau, Rynland-Palts wat Nederduits gepraat het. Selfs buite die huidige Duitsland is Nederduits gepraat in Poland, Oos-Pruise, Latvië en Estonië.  Indien ‘n stamouer uit een van hierdie gebiede gekom het, was hy of sy vir alle praktiese doeleindes Nederlands-sprekend.

‘n Tweede verskil tussen die noordelike en suidelike Duitse vorstedomme was godsdiens. Die noordelike state het Protestants geword en die suidelike state het Katoliek gebly. Die Protestante het bestaan uit Lutherane, Calviniste, Mennoniete en Arminiane. Daar was ook minderhede Protestante in Katolieke state. Daar was aanvanklik relatiewe vrede tussen Katoliek en Protestant na die Godsdiensvrede van Augsburg in 1555. Mettertyd het die verhoudings versleg en tot spanning tussen die twee groepe gelei.

Die Dertigjarige Oorlog begin in 1618 en eindig met die vrede van Wesfale in 1648. Die meeste Europese moondhede was betrokke. Die hoofoorsaak was die spanning wat tussen Duitse Katolieke en Duitse Protestantse state geheers het. Die Protestante het hul verenig in die Protestantse Unie en die Katolieke het hulle verenig in die Katolieke Liga. Die Katolieke aanslag was gelei deur die Oostenrykse en Spaanse Ryke teen die Protestantse state. Denemarke, Swede en Frankryk het die Protestante gesteun.

Oorlog het uitgebreek nadat Ferdinand II, koning van Bohemië en toekomstige keiser van die Heilige Romeinse Ryk, probeer het om Katolisisme af te dwing op sy onderdane. Die Protestantse adel in Bohemië het hierteen in opstand gekom en die koning se verteenwoordigers gedefenestreer (by die venster uitgesmyt).

Die Dertigjarige Oorlog was een van die mees verwoestende godsdiensoorloë in Europa, tussen ses en twaalf miljoen mense het gesterf. Hele streke se bevolkings is deur hongersnood en siektes uitgewis. Die soldate, waarvan baie huursoldate was, is gefinansier deur plundery en afpersing. Dit het enorme swaarkry en lyding vir die burgerlikes veroorsaak. Gesinne en hele families is uitgewis. Plase en dorpe was onbewoonbaar. Baie mense het nie meer huise gehad nie, hulle was sonder enige heenkome. Die oorlog het geëindig met die verdrae van Osnabrück en Münster, wat deel was van die Vrede van Wesfale.

Terwyl die Duitse state in ellende gedompel is, het dit met Nederland aansienlik beter gegaan. Die Nederlandse Goue Eeu het in 1648 begin. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie is al in 1602 gestig en was die grootste maatskappy in die wêreld. Die Kompanjie het werksgeleenthede gebied oral waar hulle bedrywig was, ook aan die Kaap van Goeie Hoop.

Baie Duitsers het na die Kaap gekom, maar nie almal het gebly nie. Die wat hulle aan die Kaap gevestig het, het nie net uit die noordelike state gekom het nie, ‘n minderheid het uit die suidelike state gekom. Daar was ook ‘n paar Duitse predikante wat na die Kaap gekom het. Die stamvaders van sommige bekende families was afkomstig uit Noordryn-Wesfale, Hesse, Schleswig-Holstein, Hamburg, Bremen, Magdeburg, en Hameln – dus van die noordelike state.

Die eerste Duitsers aan die Kaap was soldate in diens van die Kompanjie. So gou moontlik het hulle vryburgers geword. Nie almal was landbouers nie. Baie van hulle het ambagte beoefen. Hulle was kleremakers, messelaars, skrynwerkers, skoenmakers, smitte, meulenaars, bakkers, en tuiniers.   Daar was ook dokters en aptekers.  Omtrent die helfte van die onderwysers aan die Kaap was Duitsers.

Dit was meestal Duitse mans wat na die Kaap gekom het. Hier het hulle ondertrou met meisies van Nederlandse en Franse afkoms. Taal was nie ‘n probleem nie, Nederduits en Nederlands (die amptelike taal van die Kompanjie) was baie na aan mekaar. Die Kompanjie het nie godsdiensvryheid toegelaat nie, daar was net een kerk – die Nederduitse Hervormde Kerk wat Calvinisties was. Baie van die Duitsers was waarskynlik reeds Calviniste sodat daar nie ‘n probleem hiermee was nie. Die Duitsers het verspreid tussen die Nederlanders en Franse gewoon en het dieselfde omstandighede en omgewing gedeel. Enige ander kultuurverskille het of aanvaarding by almal gevind, of dit het uitgesterf.

Ons merk dus dat ons vroeë stamouers, hoewel hulle van verskillende streke in Europa gekom het, heelwat eienskappe in gemeen gehad het. Net sommige Franse moes Nederlands leer, die res was eintlik eentalig. Al hierdie stamouers was Calviniste. Normaalweg sal ons Calvinisme as ‘n teologiese stroming beskou, maar in hierdie verband het dit ‘n kulturele rol gespeel. Die lewensbeskouing en waardestelsel van ons stamouers was almal dieselfde en dit was wat hulle aan hulle nageslagte oorgedra het. Verder is dit opmerklik dat hulle almal duur betaal het vir hulle godsdienstige oortuigings.

Dit wil amper lyk asof ons stamouers nie op ‘n lukraak wyse in die Kaap beland het nie. Vir elkeen van hulle was dit uitkoms uit verskrikking, ‘n redding uit nood. Is dit toevallig dat ons wesenlik uit ‘n eensoortige groep mense ontstaan het?  Is daar voorbeelde van ander volke wat so ontstaan het?

Ons stamouers en ook hulle nageslagte het deur groot beproewings gegaan. Dit het hulle gevorm en hulle taai gemaak. Was hulle lyding en standvastigheid vergeefs? Sal die volk wat uit hulle ontstaan het, bly voortbestaan?

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die bloed van die Boer

boer_cape-dutch_afrikaner

In die huidige politieke klimaat hoor mens af en toe dat die Boerevolk ‘n bastervolk is. Die een redenasie is dat die vermenging van Hollander, Duitser en Fransman ‘n verbastering sou wees. Die ander redenasie is dat ons voorouers met slawe en ander nie-blankes ondertrou het.

Die navorsing van H.T. Colenbrander, soos vervat in sy werk De Afkomst van de Boere (1902), is welbekend. Hy het sy monsters op drie verskillende maniere gekies. Eerstens op grond van die Ou-Kaapse families (van 1652 tot omtrent 1807), tweedens op grond van persone wat saam met Retief was en by Bloedrivier betrokke was en derdens op grond van die name van Kaapse Rebelle. Sy werk is dus gerig op die mense wat as die Boerevolk identifiseer, nie op mense wat as Afrikaanssprekend of as Blankes identifiseer nie. Hiervolgens, min of meer, is die Boerevolk saamgestel uit 50% Hollanders, 28% Duitsers, 17% Franse en 5% Engelse en ander.

Dit is nie maklik om te onderskei tussen die verskillende plekke in Europa waar ons voorouers vandaan gekom het nie. Nederland het maar kort voor van Riebeeck tot stand gekom. Duitsland het nog nie bestaan nie. Frankryk was bewoon deur mense van verskillende Europese afkomste. Die Tagtigjarige Oorlog het groot ontwrigting veroorsaak en mense het ‘n nuwe heenkome elders gaan soek. Hoe word ‘n voorouer se afkoms bepaal? Waar hy gebore is, waar hy gewoon het, watter taal hy gepraat het? Hollanders, Duitsers, Skandinawiërs en Engelse is almal van Germaanse afkoms. Vermoedelik was die meeste Hugenote ook van Germaanse afkoms.

Uit ‘n etniese oogpunt kan ons sê dat die Boerevolk van Germaanse afkoms is. Meer spesifiek kan ons beweer dat hulle grootliks afstam van die stamme wat Franke genoem is. Dit was die situasie tot en met die Anglo-Boereoorlog.

Reeds voor die Anglo-Boereoorlog was daar drie groepe wat van Europese afkoms was: Die Boerevolk van die Kaapse binneland en die republieke, die Afrikaanssprekende blankes in die Weskaap en die Engelstalige bevolking. Wat het sedertdien gebeur? Het hierdie samestelling so gebly of het dit verander? Na die oorlog het heelwat Europeërs hulle in Suidelike Afrika kom vestig. Die Suid-Afrikaanse regering het dit aangemoedig vir ekonomiese en politieke redes. Daar het heelwat ondertrouery plaasgevind tussen die verskillende groepe blankes.

Om politieke eenheid onder blankes te bevorder, is daar eerstens gepoog om alle Afrikaanssprekende blankes te verenig onder die naam Afrikanervolk. Daarna is blanke eenheid bevorder onder die begrip Blanke Suid-Afrikaner. Is daar vandag net een blanke etniese groep of is daar verskillende blanke groepe? Die White Tribe?

Die dilemma is dat die naam blanke internasionaal onaanvaarbaar is. Etnisiteit word nie bepaal deur velkleur alleen nie en slegs etniese groepe kan aanspraak maak op onder andere selfbeskikking. ‘n Etniese groep is mense wat sekere eienskappe in gemeen het. Ondermeer dieselfde afkoms, geskiedenis, kultuur en taal.

Ons kan Dr DF Malan aanhaal: Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ons moet ook almal wat bymekaar hoort in dieselfde kraal (of is dit laer?) kry. Ons sal ook afskeid moet neem van ou verskille en twiste. Jou huistaal en jou volkstaal hoef nie dieselfde te wees nie. Jou persoonlike geskiedenis en jou volk se geskiedenis hoef ook nie dieselfde te wees nie.

Ons sal alles wat van ons ‘n volk maak, opnuut moet identifiseer. Ons huis is gebou van fondament tot dak, maar aanbouings mag nodig wees. Dit is ons uitdaging.

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin