Die weg van die vlees of die weg van die Gees

Keer op keer beland mens in ‘n moeilike situasie waarop jy moet reageer. Hoe jy reageer is vir jou om te besluit. As jy op Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) vertrou en jy het die Heilige Gees ontvang, hoef jy nie meer op te tree soos voorheen nie. Jy kan nou optree en reageer op ‘n manier wat Yeshua vir jou moontlik gemaak het.

Jy kan kies of jy volgens die vlees reageer of volgens die Gees reageer. Dit is ‘n keuse. Maar hoe doen jy dit? Yeshua het ‘n voorbeeld vir ons gestel. Om Sy voorbeeld te volg is moeilik want Hy is sondeloos, ons is sondig. In die Bybel word daar vertel van gewone sondige mense soos ons wat dit reggekry het. Nie altyd nie, maar meestal. Ons kan sekerlik ook na hulle kyk en by hulle leer. Maar as dit net ‘n geval is van probeer om ‘n voorbeeld te volg, dan is dit nog steeds in ons eie krag.

Wat is die vlees en wat is die weg van die vlees? Vlees is vleis, die liggaam. Die vlees is iets anders. Dit is die menslike natuur, die ou sondige natuur. Dit is die deel van die mens wat opstandig is, hardnekkig is, weier om gekorrigeer te word, beterweterig, selfsugtig en wil self in beheer wees. Die weg van die vlees is om op eie krag en wysheid staat te maak.

Die Bybel beskryf die mens as bestaande uit ‘n liggaam, ‘n siel en gees. Die gees van die mens is die gedeelte waar daar ‘n bewustheid van God moet wees. Dit is daar waar die mens besef dat daar iets groter en meer aan menslike lewe is as die liggaamlike. Maar die gevalle mens se gees is beperk tot die dinge van die mens en is nie in staat om die dinge van God te ken nie. Dit is eers wanneer die mens se wil dit toelaat dat die Heilige Gees in die mens se gees kom woon. Die weg van die Gees is die weg van die Heilige Gees. Die weg van die Gees is om God te vertrou.

Van die eerste dag af wat jy die pad van Yeshua die Gesalfde volg, ondervind jy moeilikheid. Dit is asof daar ‘n woede teen jou uitbreek. Asof iets of iemand jou wil verhinder om voort te gaan. Op hierdie pad van Yeshua kan jy seker wees dat jy gereeld sulke moeilikheid gaan kry.

Miskien het jy al agtergekom dat wanneer daar by jou geestelike vordering is, dan tref teenspoed en teenstand jou. Uit die bloute, sonder dat jy bewus is van enige iets wat jy kon gedoen het om dit te veroorsaak. Is daar ‘n rede of is dit toevallig? Nog meer, wanneer jy regtig besig is met iets wat werklik tot eer van Yeshua is, dan is daar mense wat vyandig word teenoor jou. Daar is geen direkte verband tussen wat jy doen en die persone wat vyandig is nie. Is dit toevallig? Hierdie vyandigheid kan wees by jou familie, jou vriende of by jou werk.

Die teenstand wat jy beleef is nie in die eerste plek teen jou as persoon nie, dit is eintlik teen Yeshua, die Gesalfde. Jy is in ‘n oorlog, ‘n geestelike oorlog. Die eerste doelwit is om te verhoed dat jy deur Yeshua gered word. As dit misluk, moet daar gekeer word dat jy in die nuwe lewe vordering maak. Jy moet nie groei nie en jy moet nie oorwin nie.

Min mense het soveel moeilikheid en teenstand gehad as Paulus, die apostel. In 2 Korintiërs 11:24-30 (PWL) vertel hy van dit: Vyf maal het ek veertig houe op een na van die Jode gekry. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek sonder ‘n skip op die diepsee deurgebring, gereeld op reis in gevaar van riviere, in gevaar van rowers, in gevaar van my eie mense, in gevaar van die ander nasies, in gevaar in die stad, in gevaar in die wildernis, in gevaar op see, in gevaar onder vals broers, in harde werk en in uitputting, gereeld in slapeloosheid, in honger en dors, dikwels sonder kos, in koue en naaktheid, behalwe dit alles en die skares wat om my is, my daaglikse bekommernisse en die omgee vir al die gemeentes. Wie ly en ek ly nie ook nie? Vir wie word ‘n struikelblok in die pad gesit en ek is nie aan die brand (woedend) nie? As daar geroem moet word, sal ek in my swakheid roem. Nadat hy hierdie brief geskryf het, het hy nog verdere moeilikheid beleef. Al hierdie dinge het een ding bewys: Paulus was ‘n ware volgeling van Yeshua, hy was nie ‘n valse apostel nie. Niemand sal dit alles beleef net om iets voor te gee nie.

Indien Paulus die weg van die vlees gevolg het, wat sou hy gedoen het? Hy sou bang geword het, hy sou toegegee het aan intimidasie, hy sou ‘n lae profiel gehandhaaf het. Hy sou sekerlik nie kon doen wat hy wel gedoen het nie. Maar hy het die weg van die Gees gevolg. Sonder vrees, altyd gedryf deur hoop en liefde, altyd vertrouend op sy Meester.

Hy het nog ‘n probleem gehad, ‘n probleem wat nog groter as al sy beproewinge was. Hy vertel daarvan in 2 Korintiërs 12:7-9 (PWL): ’n Doring is vir my in die vlees gegee sodat ek nie grootkop sou kry oor die uitermatige grootheid van die openbaringe nie, ’n boodskapper van die teëstander, om my met die vuis te slaan sodat ek nie grootkop sou kry nie. Hieroor het ek drie maal van my Meester gevra om dit van my weg te vat en Hy het vir my gesê: “My onverdiende guns is vir jou genoeg, want my wonderwerkende krag word in swakheid volmaak gemaak.” Ek sal daarom met blydskap in my swakhede roem sodat die krag van Die Gesalfde Een op my kan rus. Die doring was waarskynlik ‘n persoon, iemand wat iets persoonlik teen hom gehad het en orals gegaan het en hom probeer afbreek het. Aan hierdie persoon kon hy niks doen nie, hy was magteloos. Maar Paulus se beloning was die buitengewone openbaringe wat hy ontvang het. Wat sou ek en jy kies: die openbaringe met die doring of geen doring en geen openbaringe nie?

Die weg van die Gees was vir Paulus om stil te bly. Hy het nooit hierdie persoon se naam genoem nie, hy het beslis ook nie homself verdedig nie. Hy het hieroor gebid en hom by sy Meester se besluit neergelê. Dit hom swak gemaak dat hy niks kon doen nie, maar dit het die Gesalfde sterk gemaak in hom.

Die weg van die vlees is die eie ek, die eie krag, die eie wysheid. Die weg van die Gees is Yeshua die Gesalfde, Sy krag en Sy wysheid.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die moeilikheid met christene

Daar is ‘n probleem met die naam christen. Ten eerste is daar mense wat hulleself christene noem, maar dit nie is nie. Daarmee ontstaan daar die persepsie by buitestaanders dat almal wat hulleself christene noem dieselfde is en dat daar geen verskille tussen hulle is nie. As gevolg hiervan is daar mense wat waarlik op Yeshua, die Gesalfde, (Jesus Christus) vertrou en verkies om hulleself iets anders as christene te noem en hulle op hierdie manier te onderskei van die wat nie op Yeshua vertrou nie.

Die oorspronklike naam christene het ontstaan in Handelinge 11:26: En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem. (AOV) In die Nuwe Testament, voor die naam christen in gebruik gekom het, was die volgelinge van Yeshua bekend as Dissipels en mense van die Weg. Hulle was ook bekend as die Nasareners en die Sekte.

‘n Algemene kort beskrywing van christene is: Hulle glo in ‘n God wat die Skepper van hemel en aarde is en dit ook onderhou. Reg aan die begin het die mens God verwerp (die sondeval) en het daar ‘n verwydering tussen God en mens gekom. God reik egter uit na die mens en openbaar Homself in die Bybel. Hierdie openbaring vertel van Yeshua, die Gesalfde, wat omtrent 2000 jaar gelede deur die mense van daardie tyd doodgemaak is. Maar Hy het uit die dood opgestaan en aan baie mense verskyn. Hierna het hy opgevaar na die hemel, waar Hy vandaan gekom het, en sal daarvandaan terugkeer om die mensdom te oordeel. Slegs deur Hom kan mense God ken en met God versoen word. Wanneer iemand sy vertroue op hierdie Yeshua plaas, vind daar ‘n wedergeboorte in daardie persoon plaas en word hy vervul met die Heilige Gees. Hierdie persoon ontvang ‘n nuwe lewe en het die vooruitsig op nog groter dinge wanneer Yeshua terugkeer.

Almal wat aan hierdie beskrywing voldoen is dus die ware christene. Diegene wat nie hieraan voldoen nie is vals christene. Daar is baie mense wat hulleself christene noem, maar wat op een of meer maniere nie voldoen aan bogenoemde beskrywing nie en in werklikheid vals christene is.  Dit word vererger deur die bestaan van kerkgenootskappe. Sommige kerkgenootskappe se leer en dade is in stryd met bogenoemde beskrywing, maar hulle noem hulleself christelik en hulle lidmate noem hulleself christene. Ander kerkgenootskappe se leer mag ooreenstem met bogenoemde beskrywing, maar hulle lidmate voldoen nie noodwendig daaraan nie. Daar is dan ‘n onskeibare vermenging van ware christene en vals christene. Dit veroorsaak groot verwarring.

Ten einde hierdie verwarring teë te werk, gebruik ware christene dikwels ‘n byvoeglike naamwoord om hulleself te beskryf: wedergebore christene, evangeliese christene, Bybelgelowige christene en nog meer. Mense van Hebreeuse afkoms wat op Yeshua vertrou, noem hulleself Hebreeuse christene of Messiaanse Jode om hulle te onderskei van nie-Hebreeuse christene.

Omdat buitestaanders nie ware christene en vals christene kan onderskei nie, veronderstel hulle dat almal dieselfde is. Hulle veroordeel die onskuldige saam met die skuldige. Volgens hulle is christene mense wat voorgee om beter as ander te wees (met die Bybel onder die arm), maar dit nie is nie. Hulle aanvaar dat almal wat waarlik op Yeshua, die Gesalfde, vertrou ook vals en skynheilig is. Dit hinder die ware christene en maak hulle getuienis tot niet. Dit is hier waar daar ‘n behoefte aan ‘n ander naam ontstaan.

Die ware christen beoefen nie ‘n godsdiens nie. Hy het ‘n persoonlike verhouding met Yeshua, die lewende Gesalfde. Die ware christen getuig daarvan dat daar in sy gees ‘n nuwe geboorte plaasgevind het. Iets tasbaar en daadwerklik het in hom gebeur. Dit waarvan hy getuig is hier en nou en nie iets wat eers aan die einde van tyd gaan gebeur nie. ‘n Godsdiens se hoofkenmerke is reëls en rituele. Die reëls is dit wat die mens moet nakom om in die regte verhouding met sy god te wees. Die rituele is die seremonies wat nagekom moet word om die god tevrede te stel. Die ware christen het ‘n verhouding met God wat berus op liefde en vertroue en nie op nakoming van reëls en rituele nie.

Die ware christen is nie volmaak nie en is nie sonder sonde nie. Dit is maklik om die vinger na hulle te wys en verkeerde dinge by hulle te vind. Die ware christen is in ‘n proses van verandering wat begin op die dag wat hy in ‘n verhouding met Yeshua kom. Dan begin Yeshua, deur die Heilige Gees, met hierdie persoon werk. Mettertyd verander hierdie persoon innerlik en word hierdie verandering merkbaar by hom. Elke verandering is ‘n oorwinning oor die ou gevalle menslike natuur. Angs en woede verdwyn en word vervang met vrede en blydskap. So word hy stap vir stap verander. Dit gebeur nie alles oornag nie, dit neem tyd en dit duur lewenslank. Op enige gegewe oomblik mag die ware christen nog steeds ‘n sekere sonde doen, maar dit is tydelik en sal nog aangespreek word.

Waar sal jy ‘n ware christen raakloop? Hy kan in ‘n kerk wees, maar hy kan ook in ‘n kroeg wees. Waaraan kan jy ‘n ware christen uitken? Aan sy getuienis.

Wat kan ‘n ware christen doen om hom te onderskei van ‘n vals christen? Ek weet nie of ‘n ander naam sal werk nie. Nie lank nie dan word die nuwe naam ook verkeerd gebruik. Ek meen deur sy leefwyse. Hy moet weet dat hy ‘n verantwoordelikheid het om ‘n betroubare getuie van Yeshua te wees. Hy moet let op sy woorde en dade en homself dissiplineer. Dit is belangrik om eg en opreg te wees. Sal Yeshua kan trots wees op hom, of sal Hy hom skaam?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk en sy sondes

Jy kan nie die Boerevolk bepeins, bespreek of beskryf sonder dat godsdiens in ag geneem word nie. Spesifiek kan jy nie by Bloedrivier verby kom nie. Dit was ook so met die Amerikaanse skrywer van historiese romans, James Mitchener. Sy verhaal oor ons se naam is The Covenant. Die Gelofte van Bloedrivier kan selfs gesien word as die oomblik toe ons ‘n volk geword het.

Bloedrivier was ‘n wonderwerk. Hoe jy ook al wil redeneer, iets buitengewoon het daar gebeur. Die Voortrekkers daar het nie oorlewe oor hulle tegnologies gevorderde voorlaaiers nie. Ook nie oor hulle groot spiere gehad het nie. Ook nie omdat hulle so dapper was nie. Hulle was vrek bang. In die dae voor die aanval, het hulle gesien wat by Bloukrans en Moordspruit gebeur het. Hulle kon verwag om op dieselfde grusame manier vermoor te word. Hulle het nie eers die Gelofte gemaak omdat hulle so vroom was nie, hulle het dit gedoen want dit was die laaste uitweg.

Geen kerk het iets met die saak te doen gehad nie. Al die Voortrekkers was onder sensuur en daar was nie eens een predikant daar nie. Hulle was leke en hulle voorgangers was leke. Hulle het niks van teologie af geweet nie. Al wat hulle geweet het, was dat hulle sonder God se ingryping daarmee heen was.

Wie was die God wat die Voortrekkers by Bloedrivier gered het? Dit was die God van die Bybel. Die God van die Ou Testament en van die Nuwe Testament. Hoe het die Voortrekkers die Bybel verstaan? Ons weet nie. Hulle was op hulle self aangewese en kon moontlik gedwaal het. Maar dit maak nie saak nie. Die God van die Bybel het hulle nogtans gered. Hoekom? Het hulle dit verdien? Ek dink nie so nie. Was hulle wonderlike mense? Ek dink nie so nie. Die een ding wat hierdie wonderwerk gedoen het, was om ‘n getuienis te wees vir die God van die Bybel.

As ons vandag nie die Gelofte respekteer nie, respekteer ons nie die getuienis daarvan nie, ons respekteer ook nie die God van die Bybel nie. Is dit nie ons eerste groot sonde nie? Is dit nie afgodery nie?

Een van die klagtes wat vandag teen ons as volk ingebring word, is dat ons valse trots het. Party van ons glo dat die Boerevolk uitverkore is en dat God ons noodwendig sal help. Ons hoef net te bid, of dalk nie eers nie want God het reeds besluit om ons te help. Ons is spesiaal en nie soos die ander volke nie. Wat vir hulle geld, geld nie vir ons nie. Wat beteken dit wanneer ons gebede nie beantwoord word nie? Wat beteken dit wanneer profesieë nie waar word nie? Wat beteken dit wanneer alles net hagliker word? Valse trots is ‘n mensgemaakte godsdiens met ‘n god wat na die beeld van die mens is.

Dan is daar die wat meen dat ons op ons eie vermoëns kan staatmaak. Ons moet iets doen en hoef net te vra dat God dit moet seën. Dit is mos vanselfsprekend dat Hy aan ons kant is, of hoe? Maar ook dit is ‘n mensgemaakte godsdiens. Is ‘n mensgemaakte godsdiens nie ook afgodery nie?

Tog is daar baie van ons volk wat aan ‘n kerk, of iets soortgelyk onder ‘n ander naam, behoort. Ons is, soos Paulus aan die Atheners gesê het, baie godsdienstig. Beteken dit iets? Ek is bevrees nie. Hoewel die kerke die God van die Bybel mag verkondig, beteken dit nie dat hulle noodwendig toepas wat hulle verkondig nie. Kerklikheid is rituele en tradisies, dit wil sê vormgodsdiens.

Ons is besonder godsdienstig. As ons ‘n vergadering hou, begin ons dit met Skriflesing en gebed. Voor ‘n sportbyeenkoms bid ons dat ons span mag wen. Die ander span doen dit ook. Wat beteken dit vir die span wat verloor? Dan is daar die godsdiens in die politiek en die politiek in die godsdiens. Dit ken ons goed. So is die Boerevolk verraai in die naam van godsdienstigheid. Want die godsdiens word verander en aangepas by die politiek van die dag. Is dit nie ook ‘n groot sonde nie?

Hoe werk dit? Doen die kinders minder sonde as hulle ouers, of doen hulle meer? Leer die kinders uit die foute van hul ouers? Neem byvoorbeeld die seksuele. Die God van die Bybel het ‘n definitiewe standpunt hieroor. Het die ouers dit gehoorsaam? Het die ouers hulle kinders reg hieroor onderrig? Doen die kinders dit wat reg is? Of is dit ‘n geval van ons doen wat almal doen? Die slegte nuus is dat dit nie ‘n verskoning is nie. Die ouers dra ‘n dubbele verantwoordelikheid: hulle eie sondes en die onderrig van hulle kinders. Die kinders word nie geoordeel vir die oortredings van hulle ouers nie, maar vir hul eie oortredings. Dit is nie net die seksuele nie. Daar is soveel ander dinge wat gedoen word “want almal doen dit”. Die blindelingse navolging van ander is ook ‘n sonde.

Selfs mense wat dit eers ontken het, besef nou dat die Boerevolk die teiken van ‘n volksmoord is. Binnekort gaan ons presies wees waar die Voortrekkers was op die vooraand van Bloedrivier. Ongelukkig vir ons, kan ons nie gou-gou ‘n gelofte maak om gered te word nie. Ons kom nie eers die eerste Gelofte na nie. Ons besef nie dat ons ons weë sal moet verander nie. Dit is nie die Zoeloes buite die laer wat die probleem is nie, dit is ons binne die laer wat die probleem is.

Wil ons gered word? Hoe graag wil ons gered word?

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die soektog na ‘n eerbare lewe

Word mense nog skaam? Rooi in die gesig, verleë. Is daar vandag nog iets om oor skaam te word? Is daar nog skaam mense? Wat beteken die woord “skaam”? Iemand kan ‘n skaam persoon wees, dit wil sê iemand is bedees of skugter. Om skaam te kry beteken jy voel verleë of verneder omdat jy iets verkeerd gedoen het. Of jy kry skaam omdat jy in ‘n situasie van oneer verkeer. Om skaam te wees is nie noodwendig ‘n skande nie.

As daar nie skaamte is nie, is daar nie oneer nie. As daar nie oneer is nie, is daar nie eer nie. As daar nie skaamte is nie, is daar nie ‘n besef dat daar verkeerd gedoen is nie. As niemand iets verkeerd doen nie, is daar nie skuld en onskuld nie. As niemand skuldig is nie, het niemand vergifnis nodig nie.

Skaamte is nie presies die teenoorgestelde van eer nie, maar is naby verwant daaraan. Skaamte is nou verwant aan skande en blootstelling. Skande is wanneer goedkeuring, status en respek verloor word. Sommige dinge is nie bedoel om in die openbaar vertoon te word nie, en blootstelling daarvan lei tot skaamte. Skaamte kan verwoestend wees en lei tot gevoelens van waardeloosheid. Daar moet onderskei word tussen skaamte en skuld. Iemand mag onskuldig wees en nogtans onder skaamte ly.

Die moderne Westerse wêreld verstaan nie meer die konsep van eer nie. Ook nie van skaamte nie. Hoofsaaklik omdat hulle nie meer die tradisionele christelike moraliteit erken nie. Verder erken hulle ook nie meer verskillende groepe en kulture nie. Elkeen van ons behoort aan een of meer groepe en elke groep maak aanspraak op ‘n goeie naam en reputasie. Daar is ook individue wat hulle eie persoonlike kode van eer het en nastreef. By so ‘n persoon is die verkryging van eer en skaamte ‘n privaat saak.

Eer gaan oor respek en ordentlikheid. Iets of iemand is eerbaar en kan aangeprys word. Eer verwys na ‘n groep se gedeelde moraliteit. Dit moedig die nakoming van algemeen aanvaarde gedragstandaarde aan. Eer is ‘n manier waarmee ‘n groep sy goeie naam handhaaf. Dit is ook, deur middel van skaamte en skande, ‘n manier hoe ‘n groep dissipline toepas.

Eer kan toegeskryf of verwerf word. Eer word toegeskryf aan persone wat tot ‘n sekere stand of status behoort, op grond van die posisie wat hulle in die samelewing beklee. Dit is waarom ouer mense en meerderes geëer word. Sommige mense streef na ‘n hoër status want dan kan hulle aanspraak maak daarop dat ander mense hulle moet eer. Ander persone verwerf eer op grond van sy gedrag in uitdagende omstandighede. So word iemand dan geëer vir byvoorbeeld dapperheid. Eer word verwerf by minderes, gelykes en meerderes.

Die ridders in die middeleeue het ‘n kode van eer gehad. Ondermeer moes ‘n ridder die swakkes en weerloses beskerm, weduwees en wese help, nie moedswillig aanstoot gee nie, nie hulp verleen teen betaling nie, gehoorsaam wees aan diegene wat in gesag geplaas is, onbillikheid en bedrog vermy, altyd die waarheid te praat, volhard tot die einde toe. Om dapper te wees het groot eer ingehou, maar om nie dapper te wees nie was nie ‘n skande nie. Lafhartigheid was wel ‘n groot skande.

‘n Ware heer (gentleman) tree ridderlik op. Hy behandel vroue en ouer persone met respek ongeag hoe hulle hulself gedra. Hy is altyd beleefd en geduldig. Hy praat nie heeltyd oor homself nie, en kan in ‘n gesprek gemene grond met ander vind en iets opbouend bydra. Hy vind nie fout met ander nie want hy onderskryf die standpunt van “niemand kwaad aandoen nie”. Hy sal aan ander die voordeel van twyfel gee. Hy skinder nie en hou intieme sake privaat. Hy is betroubaar en kom sy verpligtinge na. Hy bied, sonder om gevra te word, aan om te help.

Sommige akademiese instellings het ‘n kode waarmee studente onderneem om nie te lieg, kul, steel of te bedrieg nie.

Die christelike konsep van die bewys van eer is dat dit nie ‘n plig is nie, maar ‘n keuse is om ander persone goed te behandel. Om mense selfs met meer respek te behandel as wat hulle verdien. Indien nederigheid die manier is hoe ons ons eie reputasie moet benader, dan is eer die manier hoe ons ander mense se reputasie moet benader. Ons eer ook ander persone deur diskreet te wees. Eerstens omdat die ander persoon ook na die beeld van God geskape is. Tweedens omdat dit ‘n liefdesdaad is om iemand anders te beskerm teen die wat liefdeloos teenoor hom of haar optree.

Ou verhale vertel hoe die hoofkarakter op ‘n soektog vertrek om iets te vind. Iets soos die Heilige Graal of sy fortuin of homself. Daar is avonture om te beleef, vyande om te verslaan, ‘n mooi meisie om te ontmoet. Voor hy kon vertrek, moes hy twee vrae kon beantwoord: Waarna soek hy? Wat is sy Kode van Eer? Die Kode van Eer is die padkaart wat hy volg. In werklikheid is sy soektog eintlik na homself en na die doel waarvoor hy lewe. ‘n Kode van Eer is daardie morele of etiese beginsels wat ‘n individu sy lewe mee inrig. Dit is daardie persoon se vrywillige keuse of hy ‘n eerbare of eerlose mens wil wees.

Hierdie persoonlike beginsels neem hy met hom saam op sy reis deur die lewe. As hy daarin slaag om getrou aan sy beginsels te wees, is sy lewe in sy eie oë ‘n sukses. As hy nie daarin slaag nie, is hy in sy eie oë ‘n mislukking, sy persoonlike skande. Die vraag is of hy getrou aan homself kan wees. Kan hy die tipe mens wees wat hy graag wil wees?

Dit mag wees dat ‘n indiwidu se Kode van Eer, wat vir hom onbreekbaar en ononderhandelbaar is, verskil van die norme van die samelewing waarbinne hy leef. Daar is ‘n botsing tussen die eer wat hy nastreef en die leefwyse van ander mense met wie hy te doen kry. Hy sal dan die innerlike krag moet hê om nie net sy eie kode na te kom nie, maar ook om dit wat daarmee bots teen te staan. Dit is waar sy karakter getoets word, waar hy gemeet en geweeg word.

Uiteindelik is die soektog om ‘n mens van eer te wees, ‘n eensame pad. Jy sal mense op die pad ontmoet wat jou goedgesind is en wil help. Maar jy sal ook vyande ontmoet wat jou ondergang wil bewerk. Jou sukses of mislukking is in jou hande.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Watter kerk is die Boerekerk?

Is daar iets soos ‘n Boerekerk of volkskerk? Die ding is dat alle kerkgenootskappe eintlik internasionalisties is. Dit is om twee redes so. Die eerste is dat die Evangelie vir alle mense van alle etniese groepe is, sendingwerk moet gedoen word. Die tweede is dat kerkgenootskappe gewoonlik bande het met ander kerke en organisasies wat in ander lande is en wat ander tale praat. Nasionalisme is boonop ‘n politieke begrip en kerke behoort nie politiek te bedryf nie.

Nog iets om in gedagte te hou, is dat kerkverwantskap nie deur volkskunde ingesluit word nie. Dit sal wel aandag gee aan ‘n volk se geestelike kultuur, wat byvoorbeeld spookstories insluit, maar nie kerklikheid as sodanig nie. As ek aan die Iere dink, dan dink ek Katoliek. Hoewel die oorgrote meerderheid Iere Katoliek mag wees, word dit nie as ‘n etniese eienskap gereken nie. Een rede daarvoor is dat dit nie net Iere is wat Katoliek is nie, daar is ander lande en volke wat ook Katoliek is. As ‘n Ier ophou om ‘n Katoliek te wees, hou hy nie op om ‘n Ier te wees nie.

Tydens die bewind van die Kompanjie was daar nie godsdiensvryheid nie, hulle het slegs die Nederduitse Gereformeerde Kerk toegelaat. Dit was nie ‘n probleem nie, want die Vryburgers was hoofsaaklik vlugtelinge wat aan soortgelyke kerke behoort het. Die Kompanjie het die aanstelling van predikante en die vestiging van gemeentes beheer. Daar is tydens die Kompanjie se bewind slegs 5 gemeentes gevestig – almal nie verder as 130 kilometer van Kaapstad af nie. Die Pioniers in die binneland het die predikant en kerk maar min gesien en moes self die Bybel lees en probeer verstaan.

Nadat die Britte die Kaap gekoloniseer het, is godsdiensvryheid ingestel. Die Kaapse Nederduitse Gereformeerde Kerk het uitgebrei en het in 1824 reeds 14 gemeentes gehad. Die houding van hierdie kerk teenoor die pioniers in die binneland was teleurstellend. Ondermeer het hulle die Groot Trek afgekeur, Voortrekkers is onder sensuur geplaas en nie een van hulle predikante wou die Voortrekkers bedien nie. Hulle het hul eie mense in die steek gelaat.

Die Voortrekkers het dus hulle eie kerk in 1837 gestig – die Nederduits Hervormde Kerk. In opdrag van Piet Retief is Erasmus Smit in 1837 as predikant georden. ‘n Amerikaanse sendeling, ds. Daniel Lindley, het tussen 1841 en 1846 ook gehelp. Van 1882 af was daar samesprekings tussen die Nederduits Hervormde Kerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk oor kerkvereniging. Dit is in 1885 deurgevoer. Baie lidmate het verkies om nie deel van die vereniging te wees nie en die Nederduits Hervormde Kerk het bly voortbestaan.

In die vroeë 1800’s het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaapkolonie die “nuwe” Psalmboek ingevoer. Vir sommige lidmate was van hierdie liedere onaanvaarbaar. Verder is daar in die regering van die kerk meer mag aan die staat en sinodes gegee en is die gesag van plaaslike kerkrade ondergeskik gemaak. In 1859 is ‘n vergadering belê waar 300 lidmate hulle laat inskrywe het as lidmate van die Gereformeerde Kerke in Suidelike-Afrika.

Die Afrikaanse Baptiste Kerk is in 1867 op Cornelia in die Vrystaat gestig. Dit was die direkte gevolg van een persoon, JD Odendaal, se strewe om te weet wat God omtrent die doop verwag. JD Odendaal het self die Bybel bestudeer om ‘n antwoord te soek. Hy het self nog nooit van die Baptiste gehoor nie. Hy ontmoet toe ‘n perdeverkoper wat sy begrip van die Bybel as tipies Baptisties herken het. Hy word in 1867 gedoop en in 1875 tot die bediening georden as leraar. Die Afrikaanse Baptiste Kerk het ‘n tipiese Afrikaanssprekende kultuur en ‘n evangelies-behoudende benadering tot kerkwees.

Die Sewendedagadventistekerk in Suidelike-Afrika het in 1887 ontstaan. Pieter Wessels het in 1885 uit die Gereformeerde Kerk bedank om Saterdag as die sabbatdag waar te neem. Eindelik het agt gesinne sy voorbeeld gevolg. Die Sewendedagadventisme glo dat Yeshua (Jesus) in die nabye toekoms na die aarde sal terugkeer. Hulle onderhou Saterdag as hul godsdienstige rusdag.

Die Christelike Vereniging van Suid-Afrika is gestig in 1892. ‘n Klompie mense in die Wes-Transvaal het die behoefte gehad aan ‘n dieper geloofslewe en het begin met die hou van gereelde bidure. By een so ‘n biduur was daar ‘n manifestasie van die Heilige Gees. Dit het tot gevolg gehad dat bywoning van die bidure vermeerder het. Dit was die begin van die Pinksterbeweging. Nie lank nie, toe is daar teenstand uit die kerk en is die persone wat die bidure bywoon onder sensuur geplaas. Dit het gelei tot die stigting van ‘n nuwe kerk.

Hierdie was die kerklike toneel tot en met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog.  Lidmate van al die kerke het op die slagveld gesneuwel en in die konsentrasiekampe gesterf. Predikante en ouderlinge is as krygsgevangenes weggestuur en verskeie kerke en argiefstukke is verbrand. Na die oorlog was daar groot geestelike behoeftes by die Boerevolk.

In Suidelike-Afrika het die 1860-herlewing in die Kaapse Nederduits Gereformeerde Kerk, die heiligheidsbeweging van Dr Andrew Murray en die Sionistebeweging van John Alexander Dowie die pad voorberei vir die Pinksterbeweging. Die armblankevraagstuk na die Anglo-Boere Oorlog het ook ‘n rol gespeel. Die Apostoliese Geloofsending het in 1908 ontstaan. Daar was nie ‘n kerkskeuring nie, dit was as gevolg van ‘n ondervinding van vervulling met die Heilige Gees. Die Volle Evangelie Kerk het ‘n groot aanhang onder Afrikaanssprekendes. Die kerk het in 1910 ontstaan toe ‘n groep weggebreek het uit die AGS. Die Spadereën Kerk het in 1928 van die AGS afgeskei. Die Pinkster-Protestantse Kerk het in 1958 van die AGS afgeskei.

Die Heiligheidsbeweging het onder invloed van John Wesley in Amerika ontstaan. Dr Andrew Murray het in Suidelike-Afrika ook ‘n soortgelyke invloed gehad. Die Kerk van die Nasarener het hieruit ontstaan en is in 1917 gestig. Die Heilsleër het ook uit die Heiligheidsbeweging ontstaan.

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk is in 1944 gestig weens ‘n siening dat daar afvalligheid binne die NG Kerk was. Die Vrye Gereformeerde Kerke het saam met immigrante uit Nederland gekom en is in 1950 gestig.

Die Charismatiese beweging het in die 1960’s ontstaan binne die historiese kerke. Hulle het ook die doop met die Heilige Gees verkondig. In die 1970’s het daar ook onafhanklike Charismatiese Kerke ontstaan. Oor die algemeen is hulle veelrassig en Engelstalig, nogtans het hulle ook heelwat Afrikaanssprekende lidmate.

Die Afrikaanse Protestantse Kerk is in 1987 gestig deur ontevrede lidmate van die NG Kerk. Verskeie sake het ‘n rol gespeel: die NG Kerk se politieke standpunte, die 1983-bybelvertaling en sekere leerstellige verskille. Die Afrikaanse Protestantse Kerk se standpunt is dat die Kerk van Christus onder elke volk en kultuur verinheems moet word. Om dieselfde taal te praat, beteken nie noodwendig dat mense aan dieselfde kultuur behoort nie. Dit was die kerklike toneel onder Afrikaanssprekende Blankes voor die magsoorgawe.

Al meer mense het ‘n weerstand ontwikkel teen die dogma en rituele van die gevestigde kerkgenootskappe. Hulle is organisasies en nie organismes nie. Daar is ‘n gebrek aan die ervaring van ware geestelike lewe. Die boodskap van bekering en wedergeboorte word nie verkondig nie. Dit het gelei tot die ontstaan van “huiskerke”. Sommiges steeds onder toesig van ‘n kerkgenootskap, ander heeltemal los van kerkgenootskappe.

Daar is ook mense wat, om verskeie redes, nie kerklik inskakel by enige van die bogenoemde nie. Dit beteken nie noodwendig dat almal van hulle geen godsdiens het nie. Ook nie dat hulle ‘n ander godsdiens as die christelike geloof aanhang nie. Daar is wel onder die kerkloses volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, maar hulle kon nog nie ‘n groep opspoor wat aan hulle behoeftes voldoen nie.

Die Boerevolk is verspreid onder baie verskillende kerkgenootskappe en kerkbewegings. Nie een van hierdie kerkgenootskappe kan aanspraak daarop maak dat hy die volk verteenwoordig nie. Die een gemeenskaplike kerklike kenmerk is die protestantisme. Ons sou dus kon sê dat die Boerevolk van vandag Protestants is, maar niks meer nie. Om te sê dat die volk Calvinisties is, is nie korrek nie. Sommige kerkgenootskappe mag Calvinisties wees, maar nie almal nie. Dink byvoorbeeld aan die groot getal mense in die pinkstertradisie. Die gewone lidmate weet ook nie wat Calvinisme nou eintlik is nie.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Het die apostel Paulus persoonlik vir Jesus geken?

Die oorweldigende meerderheid  “deskundiges“ sal onmiddellik sê  “nee“. Daar is nêrens in die kanonieke (en apokriewe) boeke ‘n uitdruklike stelling dat Paulus (ook bekend as Saul) vir Yeshua (Jesus) geken het voor die kruisiging nie. Maar dan is daar ook nêrens ‘n uitdruklike stelling wat sê dat Paulus nie vir Yeshua voor die kruisiging geken het nie.

Nogtans, wanneer mens die Nuwe Testament lees, kry mens ‘n “aanvoeling“ dat Paulus wel vir Yeshua geken het en na Hom geluister het. Natuurlik bewys die “aanvoeling“ net mooi niks. Waar kom die “aanvoeling“ vandaan?

Van al die apostels is Paulus die bekendste. Dit is te danke daaraan dat hy prominent in die laaste deel van die boek Handelinge genoem word en ook dat hy in sy briewe soms iets oor homself sê. Nogtans is al hierdie inligting skraps en is daar baie vrae oor hom wat nie beantwoord kan word nie. Die boek Handelinge behoort eintlik die “Handelinge van die Heilige Gees“ genoem te word aangesien dit eintlik vertel wat die Heilige Gees deur mense gedoen het. Met ander woorde, Paulus as persoon is nie belangrik nie, wat die Heilige Gees deur hom gedoen het, is belangrik. Paulus het nie graag oor homself gepraat nie, hy het deurgaans oor Yeshua gepraat. Yeshua is belangrik, nie Paulus nie.

So ook in sy briewe. Paulus het geweldige teenstand beleef. Hy as persoon was dikwels die teiken van vyandige aanslae teen Yeshua. In sulke omstandighede was hy geforseer om sekere dinge oor homself te sê ter wille van sy getuienis van Yeshua. Derhalwe gee hy slegs die minimum inligting oor homself.

Paulus het in Jerusalem groot geword. Hy het ook daar onder Gamaliël studeer. Met die steniging van Stephanus was hy ook daar. Hy het ook ‘n suster gehad wat daar gewoon het. Hy sou ook as Fariseër Paasfees bygewoon het. Dit sou verbasend wees as hy nie van Yeshua se besoeke aan Jerusalem geweet het nie. As Fariseër en onderhouer van die Wet van Moses, sou mens dink dat hy sou belangstel in wat Yeshua gesê en gedoen het. In teendeel, mens sal wonder hoe dit moontlik kon wees dat Paulus nie vir Yeshua gesien en gehoor het nie.

In 2 Korintiërs 5:16 sê Paulus: Van nou af ken ons niemand meer na die uiterlike nie. Selfs al het ons ook Die Gesalfde Een na die uiterlike geken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Dit is nie deurslaggewend nie, maar wel moontlik dat hy hiermee sê dat hy Yeshua geken het. Ook in 1 Korintiërs 9:1 sê hy: Is ek nie vry nie? Is ek nie ‘n afgevaardigde nie? Het ek Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester, nie gesien nie? Is julle nie my werk in my Meester nie? In Handelinge 9:4-5 gee Yeshua nie net sy naam aan iemand wat Hom nie ken nie, maar maak Hy Sy ware identiteit bekend: Hy val op die grond neer en hoor ’n stem vir hom sê: “Sha’ul, Sha’ul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” Hy sê: “Wie is U, my Meester?” Ons Meester antwoord: “אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, Yeshua van Natzeret, wat jy vervolg.”  (Aanhalings uit die Bybel is uit die PWL-vertaling). Ons kan ook vra: teen watter prikkels het Paulus geskop?

Die volgende gedeeltes uit Paulus se briewe klink of Paulus eerstehands Yeshua se leringe gehoor het: Romeine 12:9-21, Romeine 13:8, Galasiërs 5:14, 1 Korintiërs 7:10-11, 1 Korintiërs 9:14, 1 Timoteus 5:18. 1 Tessalonisense 4:15-17 is interessant, Paulus haal iets aan wat Yeshua gesê het, maar wat nie deur enige ander evangelis of apostel vermeld word nie: want dit sê ons vir julle na aanleiding van die boodskap van ons Meester, dat ons wat in die lewe oorbly wanneer ons Meester kom, die wat dood is, nie sal vóór wees nie, want Hy, ons Meester, sal vanaf die hemel afkom met ‘n bevel, met die stem van die hoof engel en met die geklank van die trompet van God en dié wat in Die Gesalfde Een gesterf het, sal eerste opstaan en dan sal ons wat nog in die lewe is, saam met hulle as een in die wolke ingedra word na ‘n ontmoeting met ons Meester in die lug en op die manier sal ons vir altyd by ons Meester wees.

Een van die belangrikste redes waarom die moontlikheid dat Paulus vir Yeshua geken het nie vandag bespreek of oorweeg word nie, is te danke aan die invloed van die moderne teologie. Dit lyk dikwels of dit die doel van die moderne teologie is om aan te voer dat die Bybel ‘n menslike boek is en foutief is. Gevolglik word daar baie aandag gegee aan allerlei redenasies wat die boodskap van Yeshua ongedaan wil maak. Die vraag of Paulus vir Yeshua geken het, is deur vroeëre geleerdes ernstig opgeneem. Vandag is hierdie werke vergete.

Indien dit waar sou wees dat Paulus wel vir Yeshua voor die kruisiging geken het, wat sal die betekenis daarvan vir ons wees? In Galasiërs 1:15 noem Paulus dit dat God hom reeds in die baarmoeder afgesonder het. Hy was toe al bestem om ‘n apostel van Yeshua te word. Daar word nie voor sy Damaskuspad ervaring gesê dat Paulus ‘n probleem met Yeshua gehad het nie. Dit was vir hom ‘n skok toe Yeshua vra waarom vervolg jy My? Hy was bekend met Yeshua en Sy boodskap en het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. Hy het eers na Yeshua se opstanding ‘n probleem ontwikkel. Hierdie probleem was nie met Yeshua nie, maar blykbaar met die mense wat verkondig het dat Yeshua uit die dood opgestaan het. Op die pad Damaskus toe, besef Paulus dat Yeshua werklik leef en dat Hy die Gesalfde is. Hierna het Paulus in sy getuienis altyd klem gelê op die werklikheid van die opstanding. Keer op keer het hy die opstanding van die dooies beklemtoon en bevestig dat Yeshua, die Gesalfde, die eerste Een was wat uit die dood opgestaan het.

Het Paulus vir Yeshua in die vlees geken? Besluit maar self.

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Het die Boerevolk nog deugde?

Eens op ‘n tyd was die Boerevolk aangeprys vir ondermeer die deugde van dapperheid, vryheidsliewendheid, pligsgetrouheid en lojaliteit. Westerlinge het toe ander waardes gehad as wat hulle vandag het. Toe was sulke deugde bewonderenswaardig en ‘n voorbeeld om na te streef. Dit was een van die hoofredes waarom daar soveel mense in Europa was wat die Boeresaak tydens die Anglo-Boereoorlog ondersteun het. ‘n Klein volkie was in ‘n desperate stryd teen ‘n oormag gewikkel vir die behoud van hulle deugde en waardes.

Hoe staan sake vandag? Het ons as volk nog deugde? Wat presies is deugde en is daar in die moderne wêreld nog tyd en plek vir deugde?

In die Westerse wêreld is die denke oor deugde te danke aan wysgere uit die antieke tyd. Dit het gelei tot die formulering van die vier kardinale deugde. Die woord “kardinaal” kom van die Latynse woord vir  “skarnier”. Alle ander deugde wentel om hierdie vier. Hierdie deugde is ‘n voorvereiste vir elke ander deug om te bestaan. Hierdie vier is: Prudentia (versigtigheid, verstandigheid, wysheid), Iustitia (regverdigheid, regskapenheid), Fortitudo (moed, sterkte) en Temperantia (gematigheid, matigheid, selfbeheersing).

Met die koms van die christendom, is daar drie teologiese deugde bygevoeg, naamlik geloof, hoop en liefde. Saam met die kardinale deugde vorm dit die Sewe Deugde. Vir elke deug is daar ook ‘n ondeug. Die sewe ondeugde is hoogmoed, afguns, woede, luiheid, gierigheid, gulsigheid en onkuisheid. Dit word ook die Sewe Hoofsondes genoem. In die klassieke deugetiek is gemeen dat die besit van deugde tot die geluk sou lei, waar hulle gemeen het dat geluk die hoofdoel van die lewe is. Vir die kerk was deugde ten nouste verbonde aan goeie werke en sonde.

Die Protestants-Calvinistiese siening van deugde word ook die Pruisiese deugde genoem. Hierdie siening is sedert Frederik Wilhelm I van Pruise se bewind verkondig en bevorder. Hierdie deugde sluit in: opregtheid, beskeidenheid, eerlikheid, fluksheid, reglynigheid, geregtigheid, pligsgetrouheid, pligsbewussyn, ordelikheid, stiptelikheid, redelikheid, netheid, spaarsamigheid, onkreukbaarheid, betroubaarheid, dapperheid, selfdissipline, gehoorsaamheid en doelgerigtheid. Ook die Boerevolk het hierdie eienskappe as deugde beskou.

In Galasiërs 5:19-26 word die gevolge van die sondige natuur vergelyk met die gevolge van ‘n lewe wat deur die Heilige Gees beheers word: … maar julle ken die dade van die menslike natuur; dit is: seksuele oortredings, onreinheid, wellustigheid, aanbidding van afgode, towery, vyandskap, tweedrag, jaloesie, woede, hardkoppigheid, misleiding, valse leringe, afguns, moord, dronkenskap, orgies en soortgelyke dinge en dat die wat hierdie dinge doen, soos ek vroeër gesê het en nou weer sê, nie die Koninkryk van God sal erf nie. Die vrugte van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, sagte omgee, goedheid, vertroue, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet in plek nie, maar dié wat aan Die Gesalfde Een behoort, het die menslike natuur met al sy passies en begeertes gekruisig. Ons moet daarom in die Gees leef en aan die Gees oorgee en laat ons nie sonder lof en eer wees nie; mekaar slegmaak en jaloers wees op mekaar nie. (PWL). Alhoewel hierdie eienskappe soortgelyk is aan deugde en ondeugde, is daar een groot verskil. Deugde is van toepassing op almal, ook heidene, maar die vrugte van die Gees is slegs van toepassing op persone wat die Pad van Lewe volg.

Ons eerste waarneming is dat deugde en ondeugde van toepassing is op individue. ‘n Groep sal sulke deugde en ondeugde slegs kan vertoon indien die meeste lede van die groep dit vertoon. Byvoorbeeld: die Japannese is bekend vir netheid. Dit is slegs moontlik omdat die meeste Japannese netheid beoefen. Daar is seker lui Duitsers ook, maar as volk is hulle bekend vir hul hardwerkendheid. In die geval van die Boerevolk beteken dit dat wanneer die meerderheid lede van die volk ‘n bepaalde deug vertoon, daar gesê sal kan word dat dit ‘n deug van die volk is.

Hoe gebeur dit dat iemand deugde het? Jy word nie daarmee gebore nie, jy moet dit aanleer. Meestal begin die leerproses van kindsbeen af by jou ouers en die gemeenskap waarin jy groot word. Aanvanklik sal dit dalk moeilik gaan en sal jou boude dikwels brand. Later kom dit vanself, dit het deel geword van wie jy is. Die volwassenes sal doelbewus deugde moet bevorder en ondeugde moet afkeur.

Kan mens ondeugde afleer? Ek is seker daarvan, maar dit sal moeilik wees. Mens sal eers jouself moet ken, iets wat nie vanselfsprekend is nie. Meeste mense sal nie sukkel om hul sterkpunte te ken nie, maar dit is makliker om iemand anders se swakpunte raak te sien as jou eie. Om jou swakpunte te herken en erken kan net gebeur indien jy brutaal eerlik met jouself is. Gewoonlik moet daar eers ‘n krisis wees wat jou dwing om jouself te ondersoek.

Mens kan ook kies om deugde aan te leer en ondeugde af te leer. Sommige persone volg ‘n program van selfverbetering waarmee daar gepoog word om ‘n beter mens te word.

Het die Boerevolk nog dieselfde deugde as wat ons voorouers met die Groot Trek en Anglo-Boereoorlog gehad het? Of het ons dit op die platteland agtergelaat toe ons verstedelik het? Sedert 1902 het ons baie veranderinge beleef. Ons staan dikwels verslae as ons lelike goed in ons eie geledere oplet. Waar kom dit vandaan?

Om Boer en Boerevolk te wees is nie net iets uiterlik nie, dit is ook innerlik. Ons het nie net ‘n stoflike kultuur nie, ons het ook ‘n geestelike kultuur. Ons geestelike kultuur sluit deugde en ondeugde in. Ons behoort, soos van ouds, herkenbaar te wees aan ons deugde.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Wie se skuld is dit?

Stel jou die volgende situasie voor. Ons is by iemand, kom ons noem hom Piet, se begrafnis. ‘n Fratsongeluk, of ‘n ongeneeslike siekte, het Piet se dood veroorsaak. Die oorledene het niks gedoen om self sy dood te veroorsaak nie, daar was ook nie ‘n ander persoon by sy dood betrokke nie. Niemand kan beskuldig word nie. Miskien het Piet ‘n blink toekoms gehad. Ons verstaan nie hoe dit kan wees nie, ons soek ‘n verduideliking. Ons probeer dit verwerk en sê vir mekaar “dit was God se wil”. Of ons sê “die Here het hom kom haal”. Of iets dergeliks.

Wat ons sê, is onwaar.  Piet se dood was nie God se wil nie. God het nie opdrag gegee dat Piet moet sterf nie. Piet het gesterf as gevolg van ‘n siekte of ‘n ongeluk, die Here wou nie gehad het dat hy moet sterf nie. Dit wat ons sê om te verstaan en te verwerk is nie net onwaar nie, dit is lasterlik. Ons beskuldig God dat Hy verantwoordelik is vir Piet se onnodige dood.

Hoekom dink ons so? Want ons dink dat God Piet se dood moes verhoed het. God moes geweet het dat Piet gaan doodgaan en moes iets gedoen het om dit te keer. Dit is nie God se wil waarvan ons praat nie, dit is ons wil want ons wou nie hê dat Piet moet sterf nie.

Wat is God se wil? Dat daar nie ‘n sondeval moes wees nie. Hy het nie die mens geskep sodat die mens Hom moet verwerp nie.  Wat die mens geword het, is nie Sy wil nie. Hy is nie tevrede daarmee nie, Hy aanvaar dit nie so nie. As ‘n mens deur God aanvaar wil word, sal dit nie God wees wat moet verander nie, dit sal die mens wees wat moet verander.

Hoekom dink mense dat God nie mense mag laat doodgaan nie? Natuurlik mag Hy, Hy het hulle geskep. Hy mag iets skep en dan weer vernietig, dit is Syne om mee te maak soos Hy wil. Maar dit is nie waar die dood vandaan kom nie. Die dood is die resultaat van die sondeval. Die skuld vir die dood is die mens s’n. Ons probleem is nie dat mense doodgaan nie, maar dat ‘n sekere persoon dood gegaan het. Vir hierdie persoon moes ‘n uitsondering gemaak geword het.

Wat van siektes, peste en rampe? Dit het nie met die Skepping ontstaan nie. Die mens se rebellie teen God het dit veroorsaak. Wat van lyding? Is dit nie dalk God se skuld nie? In die boek Job lees ons van Job se verskriklike lyding en die rampe wat hom getref het. Job en sy vriende voer lang gesprekke oor wat die oorsaak daarvan kon wees. Maar die leser van die boek weet iets wat Job en sy vriende nie weet nie. Die leser weet, reg van die begin van die boek af, dat Job se lyding direk veroorsaak is deur Satan. God het dit wel toegelaat, want God het ‘n spesiale doel met Job gehad.

Wat is wreed en volgens wie se definisie is iets wreed? Wat is onmenslik? Eintlik is dit net mense wat wreed kan wees. Wreedheid is wanneer niks ontsien word om leed aan ‘n ander lewende wese aan te doen nie.  God weet alles hiervan want Hy was self die slagoffer van die mens se wreedheid. In Yeshua, die Gesalfde, het God ‘n mens geword en is wreedaardig deur mense doodgemaak. Die dood van Yeshua bewys die mens se onreg en dat dit die mens is wat skuldig is.

Word gebede dan nie beantwoord nie? Miskien was daar ‘n gebedsaksie terwyl Piet op sy laaste was. Maar ten spyte daarvan, is Piet toe nogtans dood. Was God verplig om ons gebede te gehoorsaam? Daar is baie mense wat kan getuig dat God hulle gebede beantwoord het. Maar God beantwoord nie alle gebede nie, soms sê hy nee. Vir seker vind daar wonderwerke plaas. ‘n Wonderwerk is wanneer God ingryp en die natuurlike verloop van sake verander. Dit is wanneer God Sy eie natuurwette tydelik in ‘n sekere situasie opskort om Sy eie doelwitte te bereik. Hy doen nie wonderwerke elke keer wanneer ons dit wil hê nie nie, Hy doen dit slegs wanneer dit Hom behaag en Hy ‘n spesifieke doelwit wil bereik.

Die fout wat ons maak, is dat ons nie reg verstaan Wie God is en wie ons is nie. God skuld ons niks en is nie verleë oor ons nie.  Al wat God ons wel skuld is die oordeel, die straf, die ewige dood.

Die begin van wysheid is om te weet wie Hy is. Hy is nie ons maatjie nie, Hy is God. Wanneer jy dit besef, val jy voor Hom neer want jy besef jy is verlore.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die getuienis van ‘n sondaar

Ek is ‘n sondaar. As jy ook ‘n sondaar is, dan het ons heelwat in gemeen. Waarskynlik verskil my sondes en jou sondes van mekaar. My sondes is dalk erger as jou sondes, daarom moet ek liewer stilbly oor jou sondes. Oor my eie sondes moet ek ook stilbly want ek skaam my daaroor.

Mens kan op ‘n algemene manier weet jy is ‘n sondaar. Jy weet dit want die Bybel sê so. Of iemand anders sê so. Dan is daar ‘n ander manier hoe jy weet jy is ‘n sondaar. Diep binne in jou is jy bewus daarvan dat daar iets verkeerd is binne in jou wese. Daar is in jou iets wat nie so moet wees nie. As jy in jou siel inkyk, sien jy ‘n verskrikking. Dit is oor hierdie soort sondaar waaroor dit hier gaan. By hierdie sondaar is daar ‘n besef van verlorenheid. Daar is ook ‘n worsteling oor doelloosheid. Is dit moontlik dat dinge anders kan wees? Dat ‘n mens anders kan wees as wat hy nou is?

Ek het ‘n storie gehoor van ‘n sendeling wat gesukkel het om die evangelie aan heidene te verkondig. Hy verander toe van taktiek. Hy vra die mense wie, volgens hulle, is die grootste sondaar van almal. Hulle gee toe ‘n naam en adres. Die sendeling gaan soontoe en vra die man of dit waar is dat hy die grootste sondaar is. Die man bars in trane uit en erken dat hy die grootste sondaar is. Hy was die sendeling se eerste sukses en as gevolg van hom het baie ander gevolg.

Die sondaar moet weet hy is ‘n sondaar. Hy moet weet hy is verlore. Hy weet nie of hy uit sy ellende bevry kan word nie. Hy weet ook nie wat bevryding hom gaan kos nie. Gaan bevryding die moeite werd wees? Die sondaar sal baie desperaat moet wees om gered te word.

Sonde is nie net dat jy vloek, steel of seksueel losbandig is nie. Sulke goed is net simptome van ‘n groter probleem. Die groot probleem is die verwydering tussen jou en YHWH, jou Skepper. Jy is vervreemd van Hom, jy ken Hom nie, jy respekteer Hom nie. Hierdie verwydering geld vir elke mens vanaf sy geboorte. Dit het ontstaan by die eerste mense, by die sondeval van Adam en Eva. Toe het daar vyandskap tussen die mens en YHWH gekom. Die sondaar se groot probleem is dat hy ‘n vyand van YHWH is.

Wanneer die sondaar tot die besef kom van die duisternis en vuilheid binne in homself, dan eers word hy bereid om gered te word. Want sien, iemand kan net gered word as hy gered wil word. As hy nie gered wil word nie, dan kan niks vir hom gedoen word nie. Die sondaar moet op sy knieë neerval en smeek om gered te word want dan wys hy dat hy dit opreg bedoel. Dit is die begin.

Die vyandskap tussen die sondaar en YHWH moet beëindig word en vervang word met ‘n nuwe verhouding. Die nuwe verhouding sal gebou moet word op die besef van Wie en Wat YHWH is. YHWH is nie ‘n mens nie, die sondaar moet voor Hom neerval en in ontsag Sy gesag erken. Maar die mens is ‘n bedrieglike wese. Hy sal vandag in sy nood enige iets sê en doen om gered te word, môre het hy dit vergeet en val weer terug in sy vorige manier. Daarom sal die sondaar wat smeek om gered te word ook getoets moet word of hy in die nuwe verhouding kan volhard. Die pad van redding is nie maklik nie, dit was duur om daar te stel.

Redding is nie vanselfsprekend nie. YHWH stel vereistes wat nagekom moet word. Daar is net een pad wat gevolg kan word. Vir die wat eerlik en ernstig is, is die beloning groot. In die eerste plek word die sondaar se vyandskap met YHWH beëindig. Die resultaat daarvan is dat die sondaar innerlike vrede ontvang. Wat voorheen onmoontlik was, word nou moontlik. Nou word dit moontlik dat hy sy privaat sondes kan oorwin en laat vaar.

Die pad van redding is ook die pad van lewe. Redding lei tot ware lewe en ware lewe is om in die regte verhouding met YHWH, jou Skepper, te wees. Dan kry jou lewe doel en betekenis. Dan eindig alles nie in die graf nie, die graf word die begin van iets nuuts. YHWH is nie ver weg nie, Hy is naby en Hy wil hê dat sondaars, soos ek, Hom moet vind. YHWH word gevind in Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus). Hy is die Pad van Lewe. In Hom is daar redding vir sondaars. In Hom word die gyselaars van die sondeval vrygelaat.

Wat beleef die sondaar wanneer hy gered word? Eerstens is hy gevul met ‘n groot vreugde. Dan beleef hy ‘n innerlike vrede wat nie beskryf kan word nie. Die groot las wat op hom was, het verdwyn. Die groot duisternis binne hom is nou lig. Die gevoel van verlorenheid is nie meer daar nie. Sy lewe kry nou betekenis. Hierdie verandering binne hom is so groot dat dit ondenkbaar is dat hy sy ou lewe sal wil terug hê.

Nadat die sondaar gered is, is hy nog steeds sondig. As hy voorheen gevloek, gesteel en seksueel losbandig was, is hy nog steeds so. Vir YHWH is dit onaanvaarbaar. Gevolglik begin daar nou ‘n proses om hierdie sondigheid uit te roei. Met wortel en tak, net soos onkruid. Stukkie vir stukkie, stap vir stap, word die geredde sondaar verander. Die vieslikheid en vuilheid moet weg.

Al het die sondaar ‘n godsdienstige agtergrond, moet hy nuut begin. Hy word nou ‘n student en moet onderrig word in die nuwe lewe. Dit is praktiese kennis wat opgedoen moet word. Die onderrig is nie net vir ‘n rukkie nie, dit is lewenslank. Die sondaar gaan ook nie ‘n kwalifikasie kry nie, en van ‘n salaris is daar geen sprake nie. Die leerplan is om sy Redder en sy Skepper persoonlik te leer ken.

Moet nie dink dat almal verheug is wanneer ‘n sondaar gered word nie. In die hemel is daar wel groot blydskap, maar nie op aarde nie. Die geredde sondaar moet weet dat hy teenstand gaan kry. Teenstand uit alle oorde. Hy gaan nou in ‘n groot oorlog wees en hy sal krag en deursettingsvermoë nodig hê.  In hierdie oorlog sal daar nederlae en oorwinnings wees. Maar hy sal hulp kry wanneer dit nodig is. Sy redding is te belangrik om prys te gee.

Die probleem van die mens is geleë in die diepste wese van die mens. Dit is waar sonde is. Redding moet daar plaasvind. Die stryd vind daar plaas. Die oorwinning word daar behaal. Die beloning is daar. Die sondaar se getuienis is van dit wat daar, in sy diepste wese, gebeur het en nog steeds gebeur.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Daar staan ‘n huis op die voorposte

Die Boerevolk het allerlei goed wat eie aan ons is en waarna ons met trots kan wys. Die vraag is of die Boerevolk ook ‘n eie huisbou-styl ontwikkel het as deel van ons kultuur. Het ons ‘n eie unieke boustyl wat nêrens anders voorkom nie? Die probleem is dat die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog ‘n groot deel van ons erfenis afgebrand het. Gevolglik is daar min voorbeelde in die Vrystaat en Transvaal van ‘n eiesoortige huisbou-styl.

Hoe ‘n volk se bouwerk lyk, wys ook iets van die volk se karakter – wie hy is en waar hy vandaan kom. ‘n Volksboustyl het uit ‘n sekere volk ontwikkel om aan praktiese behoeftes, in ‘n bepaalde tydvak en omstandighede, te voldoen. Dit volg nie die style wat elders in gebruik is nie, dit volg ook nie die modes nie, en dit volg ook nie die nuutste boumetodes nie. Daar is ‘n verskil tussen welgestelde mense se argiteksontwerpte huise en huise wat self gebou word met materiaal wat plaaslik beskikbaar is.

Die eerste huise aan die Kaap was tydelike plankhuise. Later was daar Kaapse kothuise met een deel die kombuis en sitkamer en die ander deel die slaapvertrek. Dit was van klei of klip, het dik mure gehad met rietdakke. Hierdie styl was die voorloper vir die Kaaps-Hollandse styl. Die Kaaps-Hollandse styl het teen die einde van die Kompanjiestydperk ontwikkel. Welvarende mense aan die Wes-Kaap het argitekte gehuur en swierige wonings opgerig. Kenmerkend van hierdie styl is die Nederlandse gewel, groot vensters met klein ruite, bolig, staldeur, luike, houtwerk groen geverf, staandak en die huis naby aan die hoofweg.

Op die voorposte in die binneland is hierdie styl nie nagevolg nie. Die pioniers het, by aankoms op ‘n nuwe plek, net tydelike huisvesting opgerig – hulle het nie eiendomsreg op die grond gehad nie. Aanvanklik was die wa die woning. Dan is ‘n kookskerm gebou met pale in die grond en toegemaak met lang gras en velle. Binnekant die skerm is klei teen die pale gegooi en glad gepleister. Droë velle is gebruik vir die deur.

Wanneer hulle lank op een plek gebly het, het hulle hartbeeshuise gebou. (Die naam kom waarskynlik van harde+bies+huis). Die afmetings van die beplande huis is op die grond geteken, dan is vore al met die buitelyn gegrawe. Binne die vore is lang slap pale geplant. Die twee rye pale se bopunte is na mekaar toe gebuig en aan mekaar vasgemaak. Dit was die kantmure en dak. Tussen die pale is kleiner latte ingevleg om die mure te vorm. Dit is dan met klei bedek. Bolangs is harde biesies en gras gebruik as dekking. Sommige hartbeeshuise het regop mure gehad met ‘n aparte gras- of rietdak. Binne is dit dan verdeel in slaapkamers en voorhuis, met die kookskerm buite. ‘n Hartbeeshuis was vinnig om te bou maar nie baie sterk nie.

Wat maak mens as jy op ‘n plek is waar daar nie bome en biesies is nie? Dan bou jy ‘n kleihuis. Daar word ‘n voor gegrawe vir die fondament, dit word met klippe opgevul. Die mure word bo-op met klein klippe en klei gebou. ‘n Alternatiewe boumetode was om lae klei bo-op die fondament te bou. Die klei is gemaak van grond en beesmis en word getrap tot dit soos ‘n deeg is. Miershope is gebruik om ‘n klei te maak vir die vloer. Die vloer is dan met beesmis gesmeer. As daar nie gras vir ‘n grasdak was nie, is ‘n platdak opgesit. Die platdak het ‘n helling gehad sodat reënwater kan afloop. Die platdak is gemaak van pale wat teen mekaar gepak is en toegesmeer is met klei. Nog ‘n manier was om roustene te maak en daarmee te bou. Houtkissies word gemaak waarin gebreide klei gedruk is. Dit word dan gelos tot dit goed droog is en gebruik om mure te bou.

Sommige pioniers het dadelik ‘n permanente huis gebou. Die ander het eers vir ‘n ruk in ‘n tydelike huis gebly en dan later ‘n permanente huis gebou. Die boumateriaal het gewissel volgens wat in die omgewing beskikbaar was. Gewoonlik het die eienaar self die huis ontwerp en gebou.

Voordat ‘n plaashuis gebou kon word, moes daar besluit word waar op die plaas die werf gaan wees. Die werf bestaan nie net uit die huis nie, maar daar is ander geboue – soos waenhuis en skure – ook nodig. Die beskikbaarheid van water was die belangrikste oorweging van waar die werf uitgelê gaan word. Die helling van die grond was ook belangrik vir die afloop van reënwater. Dikwels is die geboue op die werf so geplaas dat dit vir verdediging gebruik kon word.

Die Diepkloof Plaasmuseum (Suikerbosrand Natuurreservaat, Heidelberg, Transvaal) is die oorspronklike werf en geboue wat ‘n Marais-gesin in die 1850’s opgerig het. Die plaas was een van die min wat nie tydens die Anglo-Boere Oorlog afgebrand is nie. Dit is gerestoureer tot so na moontlik aan die oorspronklike. Die geboue is die hoofhuis, ‘n tweede huis vir die oudste seun, ‘n skool en ‘n waenhuis met ‘n werkswinkel. Voor die geboue is ‘n stroompie met ‘n klein dammetjie. Daar is ‘n tuin, ‘n vrugteboord en krale – almal met klipmure rondom. Vir my onkundige oog lyk die boustyl soos die Karoo-boustyl.

Omtrent 1873/74 het Paul Kruger, die latere president van die ZAR, ‘n verdiepinghuis op sy plaas Boekenhoutfontein (naby Rustenburg) gebou. Eenvoudige boumetodes en materiaal uit die omgewing is gebruik. Die mure is dik en ru afgewerk, die vloere was perskepitte en in ‘n ander deel beesmis en bloed. Die huis het ‘n portaal, voorhuis, kombuis, drie slaapkamers, kelder en solder. Ander geboue was ‘n waenhuis, buitegeboue, varkhok en lemoenboord. Die huis word beskryf as Karoo-styl en is vandag ook ‘n museum.

Vir ‘n dorpshuis was leiwater belangrik. Daarvoor is kanale aangelê en was daar ‘n waterfiskaal aangestel om leibeurte te administreer.  ‘n Dorpshuis het gewoonlik aan die straat gegrens en die groot agterplaas was gebruik vir tuine. Die sakedeel was uitgelê op die droë erwe. Daar was plek gemaak vir ‘n kerk, winkel, poskantoor, polisie, landdros en skool. Daar was ook ‘n kerkplein waar waens parkeer kon word. Die markplein was vir produkverkope en die dorpsmeent was die openbare weiveld.

Die Karoo het nie deurgeloop onder die verskroeide aarde taktiek van die Britte nie. Daar staan nog baie ou huise wat deur pioniers gebou is. Hierdie huise is van natuurlike materiale soos roustene, klei en klippe gebou. Die vloere was ondermeer met perskepitte gemaak. Die vensters het skuiframe en hortjies. Die deure is “kruisdeure”. Die plafonne is hoog en die stoepdakke is geboë. Die huise is aangenaam om in te woon en is aantreklik vir die oog. Dit is dieselfde soort huise as wat op Diepkloof en Boekenhoutfontein gebou is. Blykbaar staan hierdie boustyl bekend as die Karoo-styl. In Oranië word nuwe huise en woonstelle in hierdie styl gebou met groen dakke en wit mure.

Die Kaaps-Hollandse styl is te danke aan Wes-Kaapse patrisiërs. Die Karoo-styl is ontwikkel deur die Oos-Kaapse pioniers en saam met die Groot Trek geneem. Die Karoo-styl is die volksboustyl van die Boerevolk.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin