Hoe ons die Boeretaal “gooi”

Illustrasie: https://www.wendymaartens.co.za/kinderboeke/afrikaans/

Ons volkstaal, Boere-Afrikaans, is  ʼn aanpassing van 17de eeuse Nederlands (voordat Standaard-Nederlands ontstaan het). Die veranderinge wat hier plaasgevind het, was dat Boere-Afrikaans ʼn vereenvoudiging van Nederlands geword het. Woordgeslag het verdwyn, daar is nie meer persoonsvorms van die werkwoord nie, daar word nie meer onderskei tussen sterk en swak werkwoorde nie, buigingsuitgange van selfstandige naamwoorde het afgeslyt, werkwoordvorms is vereenvoudig en die lidwoord “het” word nie meer gebruik nie. Afrikaanse leenwoorde kom meestal uit Engels, Maleis en Afrikatale terwyl moderne Nederlandse leenwoorde meestal uit Engels en Frans kom.

Ons het ʼn tradisie om nuwe woorde te skep eerder as om vreemde woorde te leen by ander tale. Voorbeelde van meer onlangse nuwe skeppings is megagreep en skootrekenaar.

Ons naamgewing van plante, insekte en diere toon ons skeppingsvermoë met ons taal. Dit toon ook die stadiums van naamgewing waardeur ons voorgeslagte gegaan het. Aanvanklik is name gekies vanuit ons voorouers se Europese agtergrond, byvoorbeeld vaderlandswilg. Latere name het ʼn Afrika agtergrond, soos kafferboom (“kaffer” beteken van Afrika, nie van Europa nie). Daar is ook leenwoorde uit Afrikatale soos boegoe en koedoe. Daarna word name gegee op grond van die eienskappe daarvan, soos byvoorbeeld tolbos.

...

Sommige plekname kom uit stamlande, ander kom uit die Bybel. Eie skeppinge van plekname eindig dikwels met -pan, -vlei, -spruit, -fontein, -rivier. Ander spreek van nood, soos Welgevonden en Moedverloren. Daar is ook name uit geskiedkundige wedervarings soos Vegkop en Weenen. Daar het ook vernoeming van persone plaasgevind, byvoorbeeld Pretoria en Stellenbosch.

Die gee van byname aan mense is ʼn ou volksgebruik. Dit is meestal gegee om persone met dieselfde name van mekaar te onderskei. Liggaamlike en geestelike kenmerke is gebruik vir die vind van byname. Persone se beroepe, gewoontes en ander unieke eienskappe is ook gebruik. Party byname was om ʼn persoon te spot en ander om iemand te huldig.

Ons het ook ons eie gesegdes geskep. Die ouer gesegdes handel hoofsaaklik oor die ossewa, jag, landbou, veeteelt en die omgewing. Byvoorbeeld: Soos ‘n os neerslaan.

Volksverhale is mondelings oorgelewerde stories en moet onderskei word van letterkunde. ʼn Volksverhaal is kultuurbesit en word oorvertel deur een geslag aan die volgende. Daar is verskillende soorte volksverhale wat oorvertel word.

In volksverhale is daar allerlei wonderlike dinge wat nie in die werklikheid gebeur nie. Diere en ander dinge tree op soos mense en kan ook praat. Ouer verhale vertel van dinge van lank gelede. Voorbeelde van verskillende soorte volksverhale is sprokies, spookstories, liegstories en nog meer.

Ons het ʼn tradisie van storievertellers. ʼn Goeie storie kan ʼn ware verhaal wees wat vermaaklik aangebied word. Dit kan ook grootliegstories, jagverhale, en bangmaakstories wees. Stories word vertel om kampvure, op stoepe en oral waar mense op iets wag en die tyd probeer omkry. Ingesluit hierby is ook die vertel van grappe. Ons het ʼn eie onderskeibare sin vir humor.

Humor is ʼn integrale deel van ons volkstaal. As ons ongelukkig is met iets, skerts ons oor dit om van stres ontslae te raak en ons misnoeë met iets aktueel uit te spreek. Taalvaardigheid word gebruik om iemand te vermaak en te laat lag, selfs wanneer daar slegte nuus of ander negatiewe gebeure is. Dit help ons om nie in sak en as te verval nie.

Daar is ʼn verskil tussen ʼn mite en ʼn volksverhaal. In mites word gepoog om verklarings te vind vir onverstaanbare verskynsels en daar is altyd iets bonatuurliks, soos gode, by betrokke. Volksverhale kom voor by plattelanders en poog om samelewingskwessies aan te spreek

ʼn Legende is ʼn verhaal wat binne die geskiedenis plaasvind. Dit kan dalk waar wees of dalk nie. Dit vertel van gebeure wat moontlik kon gebeur het maar wat nie bevestig kan word nie. Die legendes wat by ons bekend is, sluit in Antjie Somers, Die Vlieënde Hollander en Racheltjie de Beer.

ʼn Fabel is ʼn kort storie met ʼn sedeles. Mense se deugde en ondeugde word uitgebeeld met diere as die karakters. Van die bekendste fabels is Die skilpad en die haas en Die wolf en die skaapwagter.

ʼn Sprokie is ʼn storie oor mense en fantastiese wesens soos feetjies, hekse, reuse, kabouters en mense. Dit is kinderverhale en sluit in Rooikappie, Sneeuwitjie en Die drie varkies. Die bekendste sprokies is van Europese herkoms. Hulle het ʼn drieledige bou met die klem in die derde afdeling.

Raaisels was hoog aangeskryf in die kultuur van die Germane. Dit word gebruik om die hoorders se skerpsinnigheid te toets. Vir die persoon wat eerste die raaisel oplos, was daar ʼn beloning. Allerlei kunsgrepe word in raaisels gebruik: beeldspraak, teenstelling, verswyging, verkorting, woordspeling en dubbelsinnigheid.

ʼn Rympie vertel ʼn eenvoudige verhaal en maak gebruik van rym, ritme en klankherhaling. Dit kom uit ons stamlande maar ons het ook ons eie skeppings. Daar is verskillende soorte rympies, soos wiegrympies, minnerympies, babarympies en speletjierympies.

Sommige van ons volksliedjies is gegrond op Engelse modelle (Sarie Marais). Volksliedjies het behoue gebly by Nuwejaarsaand, bruilof en verjaarsdag geleenthede. Daar word onderskei tussen dansliedjies, piekniekliedjies en minneliedjies. Die volkslied se voortbestaan word bevorder by die boeredans, kinderkrans, piekniek en volkspele. Verstedeliking, kultuurbotsing en kommersiële vermaak is nadelig vir volksliedjies.

Volkstoneel het in die verlede ʼn belangrike rol gespeel op die platteland. Om die gehoor te boei was dit nodig dat die toneel die volkstaal moet gebruik. Daar was ook vroeër debatsverenigings wat gedien het as ʼn intellektuele sentrum vir jongmense.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Lig jou glas vir die vertaler

Ek weet nie van jou nie, maar ek het grootgeword met die lees van talle klassieke verhale. Jy weet Die Avonture Van Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Die Swart Tulp deur Alexander Dumas, Die Kon-Tiki Ekspedisie deur Thor Heyerdahl, 20 000 Myl Onder Die See deur Jules Verne, Die Skarlaken Pipernel deur Barones Orczy, Die Gevangene van Zenda deur Anthony Hope en nog baie meer. In Afrikaans.

Nie net hierdie boeke nie, daar is talle meer. Die Tarzan boeke was ook in Afrikaans vertaal. Die boeke van skrywers soos Heinz G. Konzalik, Wilbur Smith, Ian Fleming en nog ander was ook in Afrikaans beskikbaar. Vandag is dit natuurlik nog steeds beskikbaar in biblioteke en tweedehandse boekwinkels. Daar is blykbaar sprake dat daar heruitgawes van sommige van hierdie boeke beplan word.

In daardie dae was daar nie Google Translate nie. Iemand het ‘n boek in ‘n vreemde taal woord vir woord en sin vir sin op ‘n tikmasjien oorgeskryf in Afrikaans. Uit al wat ‘n vreemde taal is. Dit moes ‘n groot werk gewees het. Om te vertaal, moes die vertaler sekerlik meer as net ‘n gangbare kennis van die vreemde taal en ook van Afrikaans gehad het. Wat van woorde in die vreemde taal wat nie in Afrikaans voorkom nie? Wat van vreemde woorde se spelling?

Dit is moontlik gemaak deur uitgewers. Maar wie was hierdie vertalers? Dit staan nie op die voorblad nie. Jy moet soek om die naam te kry, klein gedruk aan die binnekant. Dan as jy die naam het, wat dan? Jy het heel moontlik nog nooit van daardie persoon gehoor nie. Onbekend en onbemind.

Wie is of was A. Crafford? Hierdie persoon het uit Duits vertaal. Ek weet van boeke deur Heinz G. Konzalik en Herbert Kranz wat deur A. Crafford vertaal is. Frans van Zyl het Jan de Hartog se Hollands Glorie in Afrikaans vertaal as Stuurman van die Furie. Ek weet ook nie wie hy is of was nie. A.M. van Schoor onthou ek. Hy was redakteur van Die Vaderland en het ‘n program op die radio aangebied. Hy het die Tarzan boeke vertaal. Dr H.A. Steyn het Ben Hur vertaal. Ek vermoed hy was betrokke by die Skoolwoordeboek. H.J. Pama was blykbaar van Nederlandse afkoms en ‘n entoesiastiese leser van die Duitse skrywer Karl May. Hy het dan ook May se Winnetou in Afrikaans vertaal. S.G. Meiring het Die Kinders van die Groot Sneeuveld deur Laura Fitinghoff vertaal. Die Avonture van Sherlock Holmes en Die Gevangene van Zenda is deur iemand met die naam Jacques van Zijl vertaal. Ek vermoed die woordeboekmaker J. Kromhout was die vertaler van Paddeltjie (oorspronklik Paddeltje – De Scheepsjongen van Michiel de Ruyter), uit Nederlands. Frank S. Stuart se boek City of Bees is uit Engels vertaal deur ene H. v.d. Merwe Scholtz as Byestad. Is dit die bekende H. v.d. Merwe Scholtz wat ook as Merwe Scholtz bekend is?

Die bekende digter, dokter, kok en plantkenner C. Louis Leipoldt was ‘n besige man. Behalwe sy gedigte, toneelstukke, romans, kinderverhale en kookboeke het hy ook speurverhale geskryf. Sy speurder was ‘n afgetrede predikant en fynproewer wat deur navorsing die skuldige vastrek. Hy het ook onder verskeie skuilname geskryf soos Africanus, C.L.L., F.W. Bancombe, F.W. Baxter ensomeer. Leipoldt het ook Alexandre Dumas se Die Swart Tulp en Carl Ewald se Natuursprokies vertaal.

W.O. Kühne was van Duitse afkoms en het gewerk as onderwyser en joernalis. As joernalis was hy ondermeer betrokke by Die Jongspan. Hy is bekend as skrywer van kinderboeke, veral die Huppel boeke. Die karakter Huppel woon by sy Oupa en hy reis gereeld na die fantasiewêreld van Lekkerland. Kühne vertaal onder meer Die wonderbaarlike avonture van Baron von Münchhausen uit Duits. Hy vertaal ook Die Ou Huis deur Hans Christian Andersen en verhale oor persone in die Bybel.

Ray Knox het heelwat boeke vertaal uit Engels, boeke geskryf deur Desmond Bagley, Evelyn Anthony en Wilbur Smith. Onder die naam Johan Strydom het sy Westerns vertaal. Sy het ook haar eie boeke geskryf. Sy is getroud met die skrywer Derick Jacobs.

Derick Jacobs het al op skool begin skryf. Hy het van standerd 9 af sakgeld gemaak deur die skryf van opstelle. Hy sal drie tot vier opstelle skryf, die beste een vir homself hou en die ander aan klasmaats verkoop. Derick Jacobs het by verskillende tydskrifte en koerante gewerk. Die name waaronder hy boeke skryf is Stefan Radlof, Len Anthony, Rena de Kock, Henriette Fouché en Susan Maree. Van sy leermeesters was skrywers soos Dewald Brink, Gerrie Radlof, Adriaan Roodt, Basil Stoltz en Johan van der Post. Benewens sy eie werk, vertaal hy ook boeke van Ian Fleming, Louis L’Amour en nog ander.

Leon Rosseau het seker meer boeke in Afrikaans vertaal as enige iemand anders. Hy was van beroep ‘n skrywer en uitgewer. As skrywer is hy bekend vir sy biografie oor Eugene N Marais, Die Groot Verlange, so ook sy boek oor ‘n eie volkstaat, ‘n Toevlug in die Weste en die wetenskapfiksie reeks Fritz Deelman. As uitgewer was hy ‘n medestigter van Human & Rosseau in 1959. Hy en Gerrit van Zyl (Gerrie Radlof) het Uniale Persdiens saam begin. In 1979 begin hy Ibis-pers en in 1982 Rubicon Pers. Hy het ook in 1983 die Storieman reeks begin, kinderverhale met ‘n kasset (later ‘n CD) wat in die boek ingesluit was. As vertaler vertaal hy meer as ‘n honderd boeke in Afrikaans. Van dit was klassieke verhale soos “’n Reis na die middelpunt van die aarde” deur Jules Verne, “White Fang die wolfhond” van Jack London en “Die muitery op die Bounty” deur Charles Hall Nordhoff en James Norman. Hy het ook kinderverhale en jeugboeke vertaal.

Hierdie is maar enkele van die vertalers. Daar is nog vele ander. Die vertalers het aan ons van die beste en bekendste boeke uit die wêreld gebring in ons eie taal. Daarmee het die aantal Afrikaanse boeke op ons boekrakke vermeerder. Ek glo ook dat die hoë kwaliteit van die oorspronklike verhale aan ons ‘n standaard gestel het om na te volg – wat ons eie skrywers gedoen het.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Nuwe woorde vir nuwe dinge

ba6de60f88c45f403b92d0e67319f107

Toe ek op skool was, was krieket nie een van die sportsoorte wat aangebied is nie. Krieket was wel gespeel by die groot Afrikaanse skole en by Engelse skole. Dit was toe nog hoofsaaklik ‘n Engelse sport.

Teen omtrent 1965, het Peter van der Merwe die kapteinskap van die Suid-Afrikaanse span oorgeneem en het hy en sy span (wat die Pollocks, Eddie Barlow en Dennis Lindsay ingesluit het), groot helde geword. Ewe skielik het die Boertjies begin belangstel. Nie lank nie, toe word krieket op die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai. Daar was net een klein probleemtjie: daar was geen krieketterminologie in Afrikaans nie.

Die Nederlanders het sommer die Engelse terminologie gebruik. Nie ons nie. Ons het ‘n volledige Afrikaanse krieketterminologie geskep. Persone soos Edwill van Aarde het gehelp om hierdie groot werk te doen. Ek kan onthou hoe die omroepers die luisteraars gevra het om voorstelle in te stuur. Die gevolg was dat krieket se gewildheid by Afrikaanssprekendes ontplof het.

Dit was nie net die geval met krieket nie. Ons het ons eie terminologie ontwikkel vir elke ding onder die son. Vandag het ons vaktaalwoordeboeke vir alles en nog wat. Jy kan blomme rangskik, sweiswerk doen, die sterre bestudeer, springstof gebruik, veesiektes behandel – alles in Afrikaans. Hierdie groot taak is gedoen deur toegewyde mense. Dit was nie maklik nie en dit het ‘n lang tyd geneem.

Danksy dit alles, kan Afrikaans op gelyke voet met die wêreldtaal Engels meeding. Daar is niks wat in Engels gesê kan word, wat ons nie ook in Afrikaans kan sê nie. Dikwels is Afrikaans ook meer beskrywend as Engels.

Mens kry die indruk dat Afrikaanssprekendes daarvan hou om nuwe woorde te skep en met woorde te speel. As iemand daarin slaag om ‘n nuwe woord daar te stel, voel hulle trots daarop.

Baie nuwe woorde is nie blywend nie, hulle word nie algemeen gebruik nie en dan verdwyn hulle in die vergetelheid. Dit is eers wanneer ‘n nuwe woord inslag vind by taalgebruikers dat dit in woordeboeke opgeneem word.

Van die bekendste woorde in Afrikaans, wat oorspronklik ‘n nuwe woord was, is onder andere kitskoffie, hysbak en slypskool. ‘n Negejarige dogter is trots daarop dat sy woorde ken wat haar maatjies nie ken nie, byvoorbeeld blaasroertjie en kolwyntjie (danksy ‘n paar ou Afrikaanse storieboeke).

Soos ons almal weet, is daar nou weer ‘n veldtog teen Afrikaans. Afrikaans word oral afgeskaf, selfs in tradisionele Afrikaanse skole en universiteite. Ook in die sakewêreld en werkplek. Hoewel Afrikaans gelyk aan Engels is, word Afrikaans verhinder om tot sy volle vermoë gebruik te word.

Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders ook erwe bly (Die Stem)

 

 

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin