Hoe ons die Boeretaal “gooi”

Illustrasie: https://www.wendymaartens.co.za/kinderboeke/afrikaans/

Ons volkstaal, Boere-Afrikaans, is  ʼn aanpassing van 17de eeuse Nederlands (voordat Standaard-Nederlands ontstaan het). Die veranderinge wat hier plaasgevind het, was dat Boere-Afrikaans ʼn vereenvoudiging van Nederlands geword het. Woordgeslag het verdwyn, daar is nie meer persoonsvorms van die werkwoord nie, daar word nie meer onderskei tussen sterk en swak werkwoorde nie, buigingsuitgange van selfstandige naamwoorde het afgeslyt, werkwoordvorms is vereenvoudig en die lidwoord “het” word nie meer gebruik nie. Afrikaanse leenwoorde kom meestal uit Engels, Maleis en Afrikatale terwyl moderne Nederlandse leenwoorde meestal uit Engels en Frans kom.

Ons het ʼn tradisie om nuwe woorde te skep eerder as om vreemde woorde te leen by ander tale. Voorbeelde van meer onlangse nuwe skeppings is megagreep en skootrekenaar.

Ons naamgewing van plante, insekte en diere toon ons skeppingsvermoë met ons taal. Dit toon ook die stadiums van naamgewing waardeur ons voorgeslagte gegaan het. Aanvanklik is name gekies vanuit ons voorouers se Europese agtergrond, byvoorbeeld vaderlandswilg. Latere name het ʼn Afrika agtergrond, soos kafferboom (“kaffer” beteken van Afrika, nie van Europa nie). Daar is ook leenwoorde uit Afrikatale soos boegoe en koedoe. Daarna word name gegee op grond van die eienskappe daarvan, soos byvoorbeeld tolbos.

...

Sommige plekname kom uit stamlande, ander kom uit die Bybel. Eie skeppinge van plekname eindig dikwels met -pan, -vlei, -spruit, -fontein, -rivier. Ander spreek van nood, soos Welgevonden en Moedverloren. Daar is ook name uit geskiedkundige wedervarings soos Vegkop en Weenen. Daar het ook vernoeming van persone plaasgevind, byvoorbeeld Pretoria en Stellenbosch.

Die gee van byname aan mense is ʼn ou volksgebruik. Dit is meestal gegee om persone met dieselfde name van mekaar te onderskei. Liggaamlike en geestelike kenmerke is gebruik vir die vind van byname. Persone se beroepe, gewoontes en ander unieke eienskappe is ook gebruik. Party byname was om ʼn persoon te spot en ander om iemand te huldig.

Ons het ook ons eie gesegdes geskep. Die ouer gesegdes handel hoofsaaklik oor die ossewa, jag, landbou, veeteelt en die omgewing. Byvoorbeeld: Soos ‘n os neerslaan.

Volksverhale is mondelings oorgelewerde stories en moet onderskei word van letterkunde. ʼn Volksverhaal is kultuurbesit en word oorvertel deur een geslag aan die volgende. Daar is verskillende soorte volksverhale wat oorvertel word.

In volksverhale is daar allerlei wonderlike dinge wat nie in die werklikheid gebeur nie. Diere en ander dinge tree op soos mense en kan ook praat. Ouer verhale vertel van dinge van lank gelede. Voorbeelde van verskillende soorte volksverhale is sprokies, spookstories, liegstories en nog meer.

Ons het ʼn tradisie van storievertellers. ʼn Goeie storie kan ʼn ware verhaal wees wat vermaaklik aangebied word. Dit kan ook grootliegstories, jagverhale, en bangmaakstories wees. Stories word vertel om kampvure, op stoepe en oral waar mense op iets wag en die tyd probeer omkry. Ingesluit hierby is ook die vertel van grappe. Ons het ʼn eie onderskeibare sin vir humor.

Humor is ʼn integrale deel van ons volkstaal. As ons ongelukkig is met iets, skerts ons oor dit om van stres ontslae te raak en ons misnoeë met iets aktueel uit te spreek. Taalvaardigheid word gebruik om iemand te vermaak en te laat lag, selfs wanneer daar slegte nuus of ander negatiewe gebeure is. Dit help ons om nie in sak en as te verval nie.

Daar is ʼn verskil tussen ʼn mite en ʼn volksverhaal. In mites word gepoog om verklarings te vind vir onverstaanbare verskynsels en daar is altyd iets bonatuurliks, soos gode, by betrokke. Volksverhale kom voor by plattelanders en poog om samelewingskwessies aan te spreek

ʼn Legende is ʼn verhaal wat binne die geskiedenis plaasvind. Dit kan dalk waar wees of dalk nie. Dit vertel van gebeure wat moontlik kon gebeur het maar wat nie bevestig kan word nie. Die legendes wat by ons bekend is, sluit in Antjie Somers, Die Vlieënde Hollander en Racheltjie de Beer.

ʼn Fabel is ʼn kort storie met ʼn sedeles. Mense se deugde en ondeugde word uitgebeeld met diere as die karakters. Van die bekendste fabels is Die skilpad en die haas en Die wolf en die skaapwagter.

ʼn Sprokie is ʼn storie oor mense en fantastiese wesens soos feetjies, hekse, reuse, kabouters en mense. Dit is kinderverhale en sluit in Rooikappie, Sneeuwitjie en Die drie varkies. Die bekendste sprokies is van Europese herkoms. Hulle het ʼn drieledige bou met die klem in die derde afdeling.

Raaisels was hoog aangeskryf in die kultuur van die Germane. Dit word gebruik om die hoorders se skerpsinnigheid te toets. Vir die persoon wat eerste die raaisel oplos, was daar ʼn beloning. Allerlei kunsgrepe word in raaisels gebruik: beeldspraak, teenstelling, verswyging, verkorting, woordspeling en dubbelsinnigheid.

ʼn Rympie vertel ʼn eenvoudige verhaal en maak gebruik van rym, ritme en klankherhaling. Dit kom uit ons stamlande maar ons het ook ons eie skeppings. Daar is verskillende soorte rympies, soos wiegrympies, minnerympies, babarympies en speletjierympies.

Sommige van ons volksliedjies is gegrond op Engelse modelle (Sarie Marais). Volksliedjies het behoue gebly by Nuwejaarsaand, bruilof en verjaarsdag geleenthede. Daar word onderskei tussen dansliedjies, piekniekliedjies en minneliedjies. Die volkslied se voortbestaan word bevorder by die boeredans, kinderkrans, piekniek en volkspele. Verstedeliking, kultuurbotsing en kommersiële vermaak is nadelig vir volksliedjies.

Volkstoneel het in die verlede ʼn belangrike rol gespeel op die platteland. Om die gehoor te boei was dit nodig dat die toneel die volkstaal moet gebruik. Daar was ook vroeër debatsverenigings wat gedien het as ʼn intellektuele sentrum vir jongmense.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Taal van digters, vakmanne en geleerdes

Illustrasie: https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_Afrikaanse_vakwoordeboeke_en_terminologielyste

Na die Anglo-Boereoorlog het Lord Alfred Milner sy pogings om die Boerevolk te verengels verskerp. Hy wou graag hê al die Blankes moes goeie Britse onderdane wees en Engels praat, lees en skryf. Om dit te doen het hy gratis onderwys in Engels aangebied. Onderwys in Hollands was net in privaatskole beskikbaar wat die verarmde Boere nie kon bekostig nie. Hy was ook van plan om Engelse Nedersetters in te voer om die Boerevolk te verswelg met getalle. Dit het tot groot ontevredenheid gelei.

Die Boerebevolking het lank reeds twee tale gebruik: Boere-Afrikaans was hulle alledaagse spreektaal (volkstaal) en Nederlands was die geskrewe taal (kultuurtaal). Die ontwikkeling van Boere-Afrikaans tot ʼn volwaardige taal, wat gelykstaande aan Nederlands en Engels sou wees, het begin met die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Kort na die einde van die oorlog begin ʼn nuwe geslag taalstryders te werk vir die erkenning van Afrikaans. Daar was geen spesifieke leier nie, maar die voortou is geneem deur Gustav Preller in Pretoria en JHH de Waal in Kaapstad. Ander persone wie ook genoem moet word, is Johannes Visscher en ds. Willem Postma in Bloemfontein, Johannes SM Rabie in Pietermaritzburg en DP du Toit in Cradock.

In 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) in Pretoria en in 1906 die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Kaap gestig. Gustav Preller het die voortou geneem met ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die titel Laat’t Ons Toch Ernst Wezen. Dit word beskou as die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Preller se standpunt was dat Afrikaans ʼn beter  kans op voortbestaan het as Nederlands, dat daar geen vyandigheid teen Nederlands is nie en dat daar so na as moontlik gehou moet word aan die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS). Hy het heelwat ondersteuning gekry en dit lei tot die stigting van die ATG in Pretoria en Bloemfontein. Die ATV het hulle beywer vir Afrikaans as skryf- en spreektaal en samewerking met ander liggame wat Afrikaans wou bevorder.

...

Daar was hewige teenstand teen die bevordering van Afrikaans deur De Zuid Afrikaansche Taalbond, predikante, die Afrikaanssprekende elite en Onze Jan Hofmeyr. Die Taalbond het Nederlands as volkstaal beskou. Die teenstanders se argument was dat die Afrikaanssprekendes saam met die Nederlanders en Vlaminge ʼn groter kultuurgroep kon vorm wat beter kultuurprodukte sou kon lewer. Die voorstanders van Afrikaans as kultuurtaal het aangevoer dat Afrikaans sterk van Nederlands afwyk en dat hulle volksgenote nie regtig Nederlands magtig was nie. ʼn Volkstaal word nie bepaal deur die elite nie, dit word bepaal deur die gewone mense.

Die Taalbeweging het dadelik steun gekry deur letterkundige werk van kwaliteit deur persone soos Gustav S Preller, Eugene N Marais, Jan FE Celliers, Totius en C Louis Leipoldt. Van die groepe wat hulle beywer het vir Afrikaans het saamgewerk en die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 gestig. Die Akademie het begin werk aan ʼn Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hierna kon Afrikaans as skryftaal vooruit gaan. In 1914 is Afrikaans erken as skooltaal in die Kaap, Transvaal en Vrystaat. In 1916 word Afrikaans as kerktaal erken. In 1918 het die staat Afrikaans erken, maar nie in wette en amptelike dokumente nie. Van 1925 af erken die staat Afrikaans ook in wette. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is in 1929 gestig.

Die Nederduitse kerke was aanvanklik sterk gekant teen Afrikaans as kultuurtaal. Predikante is opgelei in Nederlands, hulle het ook in Nederlands gepreek. Hulle het Afrikaans as ʼn “barbaarsch patios” beskou. Nadat die staat Afrikaans erken het, is daar in 1919 deur die kerke aanvaar dat Afrikaans naas Nederlands erkenning moes kry. Daar was ook verset teen ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans, maar uiteindelik het daar in 1933 die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit is gevolg deur die Psalmboek in 1937 en die Gesangeboek in 1944.

Die Boere van die 19de eeu was selfonderhoudend en het al die werk self gedoen, hulle moes feitlik alle beroepe beoefen. Hy was veeboer, akkerbouer en veearts. Dan was hy ook smid, wamaker, messelaar en skoenmaker. Verder was hy ʼn jagter, ʼn handelaar en soms ʼn krygsman. Sy vrou was die kok, die kleremaakster, verpleegster en dikwels die onderwyseres. Die vakwoorde van al hierdie beroepe het hulle geken. Hulle het ook die kerk se taal geken. Die Republieke se administrasie en wette was in Nederlands en die Boere het dit ook geken. Afrikaans was ʼn ryk volkstaal met ʼn reeds bestaande en uitgebreide woordeskat.

Nadat Afrikaans staatstaal in 1925 geword het, is besef dat daar baie vertaalwerk gedoen sal moet word. Die wette en staatsdokumente sal nou ook in Afrikaans beskikbaar moes wees. Baie Boere het verstedelik en in die stede was daar gespesialiseerde beroepe met Engelse terminologie. In 1930 word die Sentrale Vaktaalburo gestig. Aanvanklik is staat gemaak op Nederlandse woordeboeke. Vandag is dit moeilik om te onderskei tussen woorde wat reeds in die volkstaal was, woorde wat uit Nederlands geneem is en vindingryke skeppings deur vertalers. In 1948 word die verskillende woordelyste verenig en in 1951 kom die Vaktaalburo tot stand. Hulle koördineer alle terminologiese werk. Hulle gebruik ʼn nuwe werkswyse deurdat die vakman betrek word en medeverantwoordelik word vir die vaktaal. Hulle het ook die publiek en ander taalgebruikers betrek hierby. Sedertdien het daar talle woordelyste en woordeboeke verskyn wat elke vakgebied dek. Boere-Afrikaans het Standaard-Afrikaans geword.

Vandag beskik Afrikaans oor ʼn vakterminologie vir haas elke bedryf en aktiwiteit. Behalwe die terminologie, is ook handboeke van elke beroepsrigting en studierigting beskikbaar. Of dit letterkunde is, of meganika is, of wiskunde is – dit kan in Afrikaans gedoen word. Afrikaans is in staat om in die moderne wêreld alles te doen wat Nederlands en Engels kan doen.

Dit is tragies dat al hierdie werk wat gedoen is, weggesmyt is deur politieke dwaasheid. Weer word Afrikaans bedreig en word die opofferings en werk van vorige geslagte ongedaan gemaak. Dit is ʼn groot skande wat oor ons gekom het en weer reggemaak sal moet word.

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Volksorganisasies vandag – Wie is wie

Foto: http://boervolk.info/manifes-van-die-emigrante-boere/ Standbeeld van Piet Retief

Daar is vreeslik baie organisasies, groepe en indiwidue wat aanspraak maak daarop dat hulle in belang van ons volk optree. Elke dag hoor ons van nog een wat ons voorheen nie van geweet het nie. Onder al hierdie baie is daar ook die wat vals is, wat nie regtig die volk se beste belang soek nie of wat eintlik ‘n vyandige agenda volg. Verder is daar ook die pogings om sekere organisasies, groepe en indiwidue te demoniseer.

Oor wie die volk is, is daar verskillende standpunte. Vir doeleindes van hierdie artikel gebruik ons die breedste definisie, naamlik alle blankes wat ‘n samehorigheidsgevoel het. Voorheen het die idee van selfbeskikking verdeeldheid veroorsaak. Vandag is dit nie meer so nie, almal stem saam dat selfbeskikking die enigste oplossing is as ons wil bly voortbestaan. Dit is inderdaad net volksvyande wat selfbeskikking verwerp. ‘n Ander saak wat al die volksorganisasies oor saamstem, is dat daar ‘n terugkeer na Christelike waardes moet wees.

Die oudste politieke party wat hom vir die volk beywer is die Herstigte Nasionale Party (HNP). Na die moord op dr. HF Verwoerd het daar ernstige verskille binne die regerende Nasionale Party (NP) ontstaan wat in 1969 gelei het tot die stigting van die HNP. Vir die NP (en sy vennote die Broederbond, Nasionale Pers en die Susterkerke) was die HNP sy grootste politieke gevaar en is alles in die stryd gewerp om die HNP te demoniseer. Die HNP beskou die Bybel as die grondslag vir sy beskouings en streef na ‘n soewereine Afrikanerstaat met Afrikaans as landstaal. Die HNP neem nie deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel nie. Die huidige leier is mnr. Andries Breytenbach.

Die Vryheidsfront is ‘n politieke party wat in 1994 onder leiding van genl. Constant Viljoen gestig is. Mettertyd het hulle steun afgeneem en is die party hersaamgestel onder die leierskap van dr. Pieter Mulder as die Vryheidsfront Plus (VF+). Die huidige leier is dr. Pieter Groenewald. Die VF+ glo ondermeer in koalisiepolitiek, moedertaalonderrig, minderheidsregte, selfbeskikking, private eiendomsreg en christelike waardes. Die VF+ neem deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel.

Front Nasionaal (FN) is ‘n politieke party wat in 2013 gestig is en bevorder Afrikaner selfbeskikking en sesessie. Hulle maak nie onderskeid tussen Afrikaners en Engelssprekende Blankes nie. Die FN ondersteun ook samewerking met ander groepe wat selfbeskikking nastreef. Hulle neem ook deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. Die FN se leierskap is ‘n spanpoging aangesien hulle nie ‘n kultus om ‘n sekere persoon wil hê nie. Die leierskap verdien nie salarisse nie en die FN vra nie ledegeld nie. In 2014 het FN ‘n grondeis ingedien ten behoewe van die Afrikanervolk.

Die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) is ‘n politieke party wat in 2016 gestig is. Hulle kernbeleid is selfbeskikking vir Boere-Afrikaners. Ander blanke Suid-Afrikaners is ingesluit by hulle konsep van volk. Die einddoel is eksterne selfbeskikking en sesessie. Hulle beoog om Munisipale verkiesings te gebruik om ooreenkomstig die grondwet nuwe munisipaliteite te skep. Dit is nie duidelik of hulle aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel gaan deelneem nie.

Die oudste weerbaarheidsorganisasie is die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB). Hulle is in 1973 gestig om ‘n teenvoeter te kry vir die Westminster-stelsel wat toe in Suid-Afrika gegeld het. Die eerste hoofleier was mnr. Eugene Terre’Blanche. Net soos die HNP, is die AWB ook deur die regerende NP en sy vennote gedemoniseer. Die AWB was vir die NP ‘n groter gevaar as die ANC. Aanvanklik was weerstand gebied teen alles wat volksvreemd en volksvyandig was. Die AWB is Christelik en beywer hulle vir ‘n Boere volkstaat. Die AWB bied opleidingskampe aan om die weerbaarheid van die volk te verhoog. Hulle ondersteun ook verootmoedigingsaksies en kultuuraktiwiteite. Die huidige leier is mnr. Steyn van Rönge.

Die Kommandokorps (KK) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in ongeveer 2001 gestig is en bied oorlewingskampe (“survivalist camps”) aan. Die opleiding wat hulle aanbied is geskoei op die opleiding van dienspligtiges in die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Dit sluit opleiding in selfverdediging in. Die KK poog ook om ‘n opgeleide korps daar te stel wat soortgelyk aan die SAW se kommandostelsel sal wees. Die leier is kol. Franz Jooste. Die KK word dikwels in die Engelse media beskuldig van rassisme.

Die Suidlanders (SL) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in 2006 gestig is onder leiding van mnr. Gustav Müller. Hulle verwag ‘n groot geweldadige aanslag op Blankes en berei voor vir ‘n nasionale ontruiming en beveiliging van Blankes. Die Suidlanders vorm ‘n netwerk van Blankes en het ‘n basiese raamwerk vir ‘n noodplan ontwikkel. Hierdie noodplan bestaan uit ontruiming na veilige plekke, voorsorg vir voedsel en lewensmiddele, plaaslike leierskap strukture en ‘n kommunikasie stelsel. Hulle bied gereeld opleiding aan wat alle fasette hiervan dek.

Die Vryheidsryers (VR) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat deur wettige opleiding sy lede wil oplei tot beskerming van huis en haard. Dit is ‘n gesinskommando en leer hulle lede Christelike waardes en standaarde. Hulle bied vir gesinne selfverdedigingskursusse aan om dan selfbeskermingseenhede te kan vorm. Die VR is in 2006 gestig en die leier is genl. Johan Thorpe. Hulle toekomsvisie is ‘n eie onafhanklike grondgebied vir die volk.

Die Boerelegioen (BL) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in 2016 gestig is om as ‘n passiewe volksweermag op te tree. Die leier van die BL is genl. Izak van Zyl. Die eerste stap is om ‘n databasis op te stel van weerbare persone in die dorpe en gebiede waar hulle woon. Daarna moet ‘n bevelstruktuur van kundige militêre veterane daar gestel word en moet selfbeskermingseenhede opgelei word. BL sien hulleself as apolities en wil saam met ander ras- en kultuurgroepe werk. Hulle spel nie hulle siening oor selfbeskikking uit nie. Hulle wil Christelike beginsels toepas.

Die Verkennersbeweging (VB) is ‘n kultuurbeweging wat in 1991 gestig is. Hulle sien hulleself as polities neutraal maar streef na ‘n onafhanklike vaderland vir die Boerevolk. Hulle doelstellings is om ‘n Christelike lewenswyse te bevorder en om die Boerevolk se taal, kultuur en identiteit te bevorder. Lidmaatskap word beperk tot Boerevolksgenote en hulle gebruik slegs Afrikaans as taal.

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) is in 2000 gestig deur ‘n groep mense wat besorg was oor die toekoms van Afrikaners se taal, kultuur en identiteit. PRAAG bedryf ‘n webblad en uitgewery wat intellektuele inhoud gee aan die stryd teen Afrikaanssprekende Marxiste. Hulle bevorder ook kontak met oorsese intellektuele wat anti-globalisties is. Hulle neem ook deel aan protesaksies en aksies om die volkserfenis te bevorder. PRAAG beywer hulle vir selfbeskikking in ‘n volkstaat. Die leier is dr. Dan Roodt, ‘n skrywer en filosoof.

Afriforum (AF) beskryf hulleself as ‘n burgerregte organisasie wat ten doel het om die regte van minderhede, veral Afrikaners, te beskerm. Hulle is in 2006 gestig en die Uitvoerende Hoof is mnr. Kallie Kriel. Die organisasie het betaalde amptenare en vra maandelikse lidmaatskapsfooie van sy lede. AF ondersteun selfbeskikking in beginsel maar voorsien probleme met die praktiese toepassing daarvan.

Toekomsvonk is in 2017 gestig om ‘n gebroke volk te herstel tot ‘n selfstandige, onafhanklike en trotse volk. Hulle sien die volk as ‘n Christen Afrikaner groep wat alle mense van Europese herkoms insluit. Sake waaraan hulle aandag gee is selfstandigheid, volhoubaarheid, regshulp, vervolging, besigheidsontwikkeling, aktivisme, maatskaplike sake, kultuur ontwikkeling, onderwys, opleiding en media. Die Besturende Direkteur is Helga Swart. Hulle onderskryf Christelike waardes, familie- en gesinswaardes, integriteit, volkstrots, morele standaarde, respek. Hulle spel nie hulle siening van selfbeskikking duidelik uit nie.

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) is na ‘n volksvergadering in 2007 gestig met die doel om selfbeskikking te bekom. Die metode was om deur volksverkiesings ‘n volksverteenwoordigende liggaam te verkies wat namens die volk kan optree. Die eerste verkiesing was in 2011 gehou en ‘n tweede verkiesing word in 2018 gehou. Die volksraad wat verkies word, funksioneer soos in die Boererepublieke. Daar is nie politieke partye nie, volksverteenwoordigers word as indiwidue verkies. Kiesers word geregistreer en word op ‘n kieserslys geplaas, die verkiesing vind plaas by stembusse landswyd en kiesers moet hulle identiteit bewys. Verskeie van die organisasies hierbo genoem, ondersteun die VVK. Die huidige voorsitter van die VVK is mnr. Christo Snyman.

Die verkiesing van 2011 (geadministreer deur die VVK) het gelei tot die totstandkoming van die Boere-Afrikanervolksraad. Die taak van die Volksraad is om territoriale selfbeskikking te verkry binne die bepalings van die Internasionale Reg en die Suid-Afrikaanse grondwet. Die hele volk hoef nie selfbeskikking te eis nie, slegs ‘n deel van die volk kan dit ook doen. Hierdie deel van die volk spreek hulle ten gunste daarvan uit in ‘n volksverkiesing. Die proses wat gevolg word, behels kennisgewing aan die Suid-Afrikaanse regering dat die Volksraad ‘n mandaat het om selfbeskikking op te eis. Indien die regering instem, word daar in onderhandeling getree. Voorstelle oor grondgebied moet deur die volk self by volksvergaderings goedgekeur word. Indien die regering nie die selfbeskikkingseis aanvaar nie, mag die Volksraad die internasionale gemeenskap versoek om te bemiddel. Indien dit ook nie suksesvol is nie, word dit dan aan volksvergaderings voorgelê. Die volk sal dan self kan besluit wat verder moet gebeur.

Hierdie is die meer bekende organisasies wat hulle vir selfbeskikking beywer. Almal het ondersteuners op grondvlak en loods aksies. Almal het ‘n verkose bestuur, strukture en infrastruktuur. Hulle is verder deur alliansies verbind met ander organisasies en groepe. Daar is ook samewerking tussen organisasies oor sake waaroor hulle saamstem. Al hierdie organisasies veg aan dieselfde kant. Hulle veg nie teen mekaar nie. Niks verhinder iemand om aan meer as een organisasie te behoort en meer as een organisasie te ondersteun nie.

Met al die organisasies wat bestaan, en sommiges bestaan al baie lank, waarom is daar steeds so min vordering? Die antwoord is dat die meeste van die volk nie betrokke wil raak nie. Daar is verskeie redes daarvoor. Een rede is die suksesvolle propaganda en breinspoeling deur die media en ander volksvyande. ‘n Ander is vrees om opgestaan en getel te word. Die keuse wat gemaak moet word, is tussen voortbestaan en ondergang. Die wat sal bly voortbestaan, sal soos ons voorgeslagte te hardkoppig wees om in te gee.

(Daar is ook ander groepe wat hoofsaaklik op sosiale media aktief is. Die Boere Krisis Aksie (BKA) bestaan al sedert 1993 en is bekend vir die bewusmaking van plaasmoorde. ‘n Groep bekend as die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA) poog om deur ‘n internet stemmery sesessie te verkry. Hierdie groep het verskeie Facebook bladsye waarvan almal dieselfde logo gebruik.)

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Lig jou glas vir die vertaler

Ek weet nie van jou nie, maar ek het grootgeword met die lees van talle klassieke verhale. Jy weet Die Avonture Van Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Die Swart Tulp deur Alexander Dumas, Die Kon-Tiki Ekspedisie deur Thor Heyerdahl, 20 000 Myl Onder Die See deur Jules Verne, Die Skarlaken Pipernel deur Barones Orczy, Die Gevangene van Zenda deur Anthony Hope en nog baie meer. In Afrikaans.

Nie net hierdie boeke nie, daar is talle meer. Die Tarzan boeke was ook in Afrikaans vertaal. Die boeke van skrywers soos Heinz G. Konzalik, Wilbur Smith, Ian Fleming en nog ander was ook in Afrikaans beskikbaar. Vandag is dit natuurlik nog steeds beskikbaar in biblioteke en tweedehandse boekwinkels. Daar is blykbaar sprake dat daar heruitgawes van sommige van hierdie boeke beplan word.

In daardie dae was daar nie Google Translate nie. Iemand het ‘n boek in ‘n vreemde taal woord vir woord en sin vir sin op ‘n tikmasjien oorgeskryf in Afrikaans. Uit al wat ‘n vreemde taal is. Dit moes ‘n groot werk gewees het. Om te vertaal, moes die vertaler sekerlik meer as net ‘n gangbare kennis van die vreemde taal en ook van Afrikaans gehad het. Wat van woorde in die vreemde taal wat nie in Afrikaans voorkom nie? Wat van vreemde woorde se spelling?

Dit is moontlik gemaak deur uitgewers. Maar wie was hierdie vertalers? Dit staan nie op die voorblad nie. Jy moet soek om die naam te kry, klein gedruk aan die binnekant. Dan as jy die naam het, wat dan? Jy het heel moontlik nog nooit van daardie persoon gehoor nie. Onbekend en onbemind.

Wie is of was A. Crafford? Hierdie persoon het uit Duits vertaal. Ek weet van boeke deur Heinz G. Konzalik en Herbert Kranz wat deur A. Crafford vertaal is. Frans van Zyl het Jan de Hartog se Hollands Glorie in Afrikaans vertaal as Stuurman van die Furie. Ek weet ook nie wie hy is of was nie. A.M. van Schoor onthou ek. Hy was redakteur van Die Vaderland en het ‘n program op die radio aangebied. Hy het die Tarzan boeke vertaal. Dr H.A. Steyn het Ben Hur vertaal. Ek vermoed hy was betrokke by die Skoolwoordeboek. H.J. Pama was blykbaar van Nederlandse afkoms en ‘n entoesiastiese leser van die Duitse skrywer Karl May. Hy het dan ook May se Winnetou in Afrikaans vertaal. S.G. Meiring het Die Kinders van die Groot Sneeuveld deur Laura Fitinghoff vertaal. Die Avonture van Sherlock Holmes en Die Gevangene van Zenda is deur iemand met die naam Jacques van Zijl vertaal. Ek vermoed die woordeboekmaker J. Kromhout was die vertaler van Paddeltjie (oorspronklik Paddeltje – De Scheepsjongen van Michiel de Ruyter), uit Nederlands. Frank S. Stuart se boek City of Bees is uit Engels vertaal deur ene H. v.d. Merwe Scholtz as Byestad. Is dit die bekende H. v.d. Merwe Scholtz wat ook as Merwe Scholtz bekend is?

Die bekende digter, dokter, kok en plantkenner C. Louis Leipoldt was ‘n besige man. Behalwe sy gedigte, toneelstukke, romans, kinderverhale en kookboeke het hy ook speurverhale geskryf. Sy speurder was ‘n afgetrede predikant en fynproewer wat deur navorsing die skuldige vastrek. Hy het ook onder verskeie skuilname geskryf soos Africanus, C.L.L., F.W. Bancombe, F.W. Baxter ensomeer. Leipoldt het ook Alexandre Dumas se Die Swart Tulp en Carl Ewald se Natuursprokies vertaal.

W.O. Kühne was van Duitse afkoms en het gewerk as onderwyser en joernalis. As joernalis was hy ondermeer betrokke by Die Jongspan. Hy is bekend as skrywer van kinderboeke, veral die Huppel boeke. Die karakter Huppel woon by sy Oupa en hy reis gereeld na die fantasiewêreld van Lekkerland. Kühne vertaal onder meer Die wonderbaarlike avonture van Baron von Münchhausen uit Duits. Hy vertaal ook Die Ou Huis deur Hans Christian Andersen en verhale oor persone in die Bybel.

Ray Knox het heelwat boeke vertaal uit Engels, boeke geskryf deur Desmond Bagley, Evelyn Anthony en Wilbur Smith. Onder die naam Johan Strydom het sy Westerns vertaal. Sy het ook haar eie boeke geskryf. Sy is getroud met die skrywer Derick Jacobs.

Derick Jacobs het al op skool begin skryf. Hy het van standerd 9 af sakgeld gemaak deur die skryf van opstelle. Hy sal drie tot vier opstelle skryf, die beste een vir homself hou en die ander aan klasmaats verkoop. Derick Jacobs het by verskillende tydskrifte en koerante gewerk. Die name waaronder hy boeke skryf is Stefan Radlof, Len Anthony, Rena de Kock, Henriette Fouché en Susan Maree. Van sy leermeesters was skrywers soos Dewald Brink, Gerrie Radlof, Adriaan Roodt, Basil Stoltz en Johan van der Post. Benewens sy eie werk, vertaal hy ook boeke van Ian Fleming, Louis L’Amour en nog ander.

Leon Rosseau het seker meer boeke in Afrikaans vertaal as enige iemand anders. Hy was van beroep ‘n skrywer en uitgewer. As skrywer is hy bekend vir sy biografie oor Eugene N Marais, Die Groot Verlange, so ook sy boek oor ‘n eie volkstaat, ‘n Toevlug in die Weste en die wetenskapfiksie reeks Fritz Deelman. As uitgewer was hy ‘n medestigter van Human & Rosseau in 1959. Hy en Gerrit van Zyl (Gerrie Radlof) het Uniale Persdiens saam begin. In 1979 begin hy Ibis-pers en in 1982 Rubicon Pers. Hy het ook in 1983 die Storieman reeks begin, kinderverhale met ‘n kasset (later ‘n CD) wat in die boek ingesluit was. As vertaler vertaal hy meer as ‘n honderd boeke in Afrikaans. Van dit was klassieke verhale soos “’n Reis na die middelpunt van die aarde” deur Jules Verne, “White Fang die wolfhond” van Jack London en “Die muitery op die Bounty” deur Charles Hall Nordhoff en James Norman. Hy het ook kinderverhale en jeugboeke vertaal.

Hierdie is maar enkele van die vertalers. Daar is nog vele ander. Die vertalers het aan ons van die beste en bekendste boeke uit die wêreld gebring in ons eie taal. Daarmee het die aantal Afrikaanse boeke op ons boekrakke vermeerder. Ek glo ook dat die hoë kwaliteit van die oorspronklike verhale aan ons ‘n standaard gestel het om na te volg – wat ons eie skrywers gedoen het.

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Van prentjies tot letters

Tot en met die toring van Babel, was Adam se taal die enigste taal wat bestaan het. Daarna het hierdie taal, as gevolg van die spraakverwarring, verander in ‘n menigte tale. Dit was natuurlik gesproke taal.

Maar wat van die geskrewe taal? Hoe het skrif ontstaan en hoe het dit verander? Het die spraakverwarring ‘n invloed gehad op skrif?

Niemand weet wie skrif uitgevind het nie. Ons weet ook nie wat die rede was hoekom dit in die eerste plek nodig was om te skryf nie. Miskien het die mense, na hulle vermeerder het, verder uitmekaar begin woon en was dit nodig om met mekaar te kon kommunikeer. Dalk was dit nodig om ooreenkomste eerder skriftelik as mondelings te sluit om dispute uit te skakel. Ek weer dink skrif is uitgevind sodat die Bybel geskryf kon word.

Dink daaraan. Iemand het skrif uitgevind, maar daar was niemand wat dit kon lees nie. Dit sal totaal sinloos wees. Skrif en lees gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie.

Die Bybel vertel die mens se geskiedenis van die begin af en ek is oortuig dat dit die oudste geskrif is wat bestaan. Die heel oudste geskiedenis is opgeteken in die boek Genesis. Genesis bestaan uit 12 antieke boeke wat op mekaar volg. Die oudstes is geskryf op ‘n manier wat soortgelyk is aan hoe ou kleitablette geskryf is. Dus het Moses iewers in besit gekom van ‘n klompie antieke geskrifte (op kleitablette) wat moontlik in ‘n ouer taal en skrif geskryf was. Hy het dit toe oorgeskryf in die taal en skrif van sy tyd. Die skryfmateriaal in Moses se dae was ook anders as wat in antieke tye gebruik is.

Voor die tweede millenium voor Christus, was die taal en skrif proto-Semities (die taal voor Babel). Die skrif van hierdie ou taal was die fondament van alle latere skrifstelsels – ook die Latynse alfabet en Sjinese skrif. Tydens die tweede millenium voor Christus, was die algemene taal in die Midde-Ooste proto-Wes-Semities (Aramees, met Hebreeus wat later uit Aramees ontwikkel het) en die skrif kan dieselfde genoem word. Hierdie was die tydperk van Abraham, Moses en Dawid en die tyd toe ‘n groot gedeelte van die Bybel tot stand gekom het. Die skrif wat van omtrent 1000 v.C. tot omtrent 300 v.C. gebruik was word paleo-Hebreeus genoem. Dit was die skrif wat tydens die tyd van die Profete gebruik is.

Danksy die navorsing van André H Roosma, kan ons nou iets verstaan oor die begin van skrif. Iemand wil iets kommunikeer aan iemand anders, daar is ‘n boodskap wat oorgedra moet word. Die boodskap word opgebreek in begrippe wat voorgestel word deur ‘n prentjie of simbool. Sê maar die boodskap is dat die koning dood is. ‘n Simbool wat “koning” voorstel en ‘n simbool wat “dood” voorstel, word gebruik.

Destyds was die oer-os (aurog) gesien as die sterkste en belangrikste dier. ‘n Prentjie of simbool van ‘n oer-os het die betekenis van “die belangrikste” of “die sterkste” of “die eerste” gedra.  ‘n Ander begrip is “binne” of “deel van” en dit word verteenwoordig deur ‘n prentjie van die binnekant van ‘n tent. Nog ‘n voorbeeld is die prentjie van ‘n deur. Dit verteenwoordig die begrip “ingang” of “beweging”. So het daar 22 simbole ontstaan en hierdie simbole was die begin van skrif. Deur hierdie prentjies op ‘n sekere manier langs mekaar te rangskik, kry dit ‘n groter betekenis.

Die oud-Hebreeuse skrif was oorspronklik ook prentjies. Later het dit verander in ‘n alfabet waar die prentjie ‘n letter geword het. Hierdie alfabet het uit 22 letters, wat almal konsonante was, bestaan. Omdat daar nie vokale was nie, moes uitspraak mondelings oorgedra word. Nog later is begin om die regte vokale en uitspraak aan te dui met diakritiese tekens. Diakritiese tekens is kolletjies en strepies op of in die letters.

Moderne Hebreeus (sedert die Middeleeue) word met vierkantige letters geskryf. Dit verskil aansienlik van die skrif waarmee die grootste deel van die Ou Testament oorspronklik geskryf is.

Ten spyte van al hierdie veranderings in skrif deur die eeue heen, het die boodskap van die Bybel behoue gebly. Die Bybel is YHWH se kommunikasie met ons, Sy skepsels. Dit is goed om te weet dat dit wat ons lees betroubaar en vas is.

Vandag gebruik ons weer prentjies. Dink aan emosiekone (emojis) en ikone.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Watter Afrikaans praat jy?

germaanse_boom2

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan en daar is nie net een Afrikaanse taal nie.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was ‘n lingua franca. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ‘n skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ‘n vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ‘n kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ‘n nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Hollandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenswerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ‘n voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Na die Anglo-Boere Oorlog is daar begin om Boere-Afrikaans te ontwikkel tot ‘n standaardtaal wat met Engels kon meeding. Daarmee is groot sukses behaal. Mettertyd is die naam van die taal verander van Afrikaans-Nederlands na net Afrikaans toe. Die indruk bestaan nou dat die twee tale, Kaapse-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans, dialekte van Standaard-Afrikaans is.

Boere-Afrikaans is die moedertaal van die meerderheid van ons volk. Daar is wel ook lede van ons volk wat nie Boere-Afrikaans as huistaal gebruik nie. Terselfdertyd is daar baie mense wat Boere-Afrikaans as huistaal het, maar wat nie deel van ons volk is nie.

Boere-Afrikaans (of Standaard-Afrikaans) kan dus etnies gekoppel word, maar kan nie as ‘n etniese verpligting gesien word nie. Daar is baie meer aan etnisiteit as net taal.

 

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin