Uit met die oue, in met die nuwe

Alle mense wat kalenders het, vier die oorgang van die ou jaar na die nuwe jaar. Wat mense sonder kalenders doen, weet ek nie. Die wat wel kalenders het, het nie dieselfde kalenders nie en gevolglik word nuwejaar nie wêreldwyd op dieselfde dag gevier nie. Ons gebruik die Romeinse kalender en die Romeine het besluit die ou jaar eindig op 31 Desember en die nuwe jaar begin op 1 Januarie, vir wat dit werd is.

In die vroeë jare van die Boerevolk, was die viering van Nuwejaar belangriker as die viering van Kersfees. Die maniere waarop Nuwejaar in Europa gehou is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. ‘n Ander faktor in hoe die fees gevier was, was die Boerevolk se godsdienssin, sobere lewenswyse en die ylbevolkte binneland.

Aanvanklik is Nuwejaar gevier met ‘n militêre parade en kerkdiens. Eers van 1698 af, het dit in Kaapstad die gebruik geword om met middernag kanonskote, geweervuur en vuurwerke die Nuwejaar in te lei. Op die platteland was Nuwejaarsdag ‘n gesinsdag met ‘n feesmaaltyd.

Om goeie wense vir die nuwe jaar oor te dra, is ‘n gebruik wat reeds deur die Romeine gedoen is. By ons voorouers was dit die gebruik om Nuwejaarskaarte uit te stuur aan vriende en familie. Die kaartjie is met die hand uitgeskryf en persoonlik afgelewer. ‘n Tipiese Nuwejaarswens was: “Baie heil en seën in die nuwe jaar”. Meer onlangs is gedrukte kaartjies gestuur wat goeie wense vir beide Kersfees en Nuwejaar oordra. Ek vermoed die meeste mense stuur deesdae hulle goeie wense boodskappe elektronies.

Die Boerevolk het in vroeër jare geskenke op Nuwejaar, nie Kersfees nie, gegee. Geskenke is nie net aan familie en vriende gegee nie, maar ook gegee aan nie-blanke werknemers.

Vuur en geraas met die oorgang na die nuwe jaar, word teruggevoer na oud-Germaanse gebruike. Vir die Germane was vuur ‘n simbool van nuwe lewe en is groot vure gemaak om “die son te help”. Lawaai moes bose geeste verdryf sodat hulle nie die nuwe jaar kon bederf nie. Die rondgooi van vuurballe was uit Nederland afkomstig. Ou lappe is in bondels gebind, in lampolie gedoop, aan die brand gesteek en die lug ingegooi. In groter dorpe en stede is lawaai gemaak deur op blikke te slaan en gillend en skreeuend deur die strate te hardloop. Vandag word toeters geblaas, klokke gelui, en fluite geblaas wanneer die horlosie oorslaan na die nuwe jaar. Die gebruik om vuurwerke te skiet word hewig teengestaan deur dierebeskermingsgroepe.

Dit was ook gebruiklik om kwajongstreke op Oujaarsaand aan te vang. Op Oujaarsnag moes die werf skoon en netjies wees want dan loop bose geeste rond om kwaad aan te rig.

Die oudste gebruik by die Boerevolk was om Oujaarsaand as ‘n gesinsfees te vier. Dit was ‘n Nederlandse tradisie wat ook hier nagevolg is. Met die “sit die oujaar uit” is die tyd tot middernag verdryf met speletjies en lekkernye. Wanneer geskenke nie met Kersfees gegee word nie, word dit op Oujaarsaand gegee.

Een van die twee unieke inheemse gebruike is die Boeredans op Oujaarsaand. By die dans is daar ‘n Boereorkes wat Boeremusiek maak. Kenmerkend van Boeremusiek is die speel van die konsertina. Die vrouens het gesorg vir melktert, tertjies, en allerlei ander gebak. Sterk drank sal ook beskikbaar wees. Die volgende dag, Nuwejaarsdag, was ‘n dag vir piekniek, Boeresport en perderesies.

Die ander inheemse gebruik is om die jaarsoorgang kerklik te vier met middernagdienste. Die middernagdiens is ‘n mensgemaakte tradisie en is nie gegrond op ‘n Bybelse voorskrif nie. Die diens strek gewoonlik vanaf die laaste gedeelte van die ou jaar tot die eerste deel van die nuwe jaar. Daar was ook ‘n plegtige aflees van die name van almal wat in die ou jaar oorlede is. By die geleentheid word gelowig teruggekyk na die afgelope jaar en met vertroue uitgesien na die komende jaar.

Baie etniese groepe verloor hulle eie tradisies en gebruike voor die aanslag van internasionalisme, ons ook. Die handlanger van internasionalisme is televisie. Hierdie aanslag raak ook ons feeste en ons maniere van feesvier. Dit is hoofsaaklik plattelandse gebiede wat nog bestand is hierteen en waar eiesoortige gebruike nog gehandhaaf word.

Save

Save

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerevolk en Kersfees

Die viering van Kersfees onder die Boerevolk is nie baie oud nie en daar is ook geen eie tradisie daaromtrent nie. Dit het eers laat in die negentiende eeu inslag gevind, veral as gevolg van Duitse en Engelse invloed. Aanvanklik was dit suiwer ‘n kerklik-godsdienstige fees sonder uiterlike vertoon. Tot omstreeks 1825 was Kersfees ‘n gewone werksdag en is die dag stil by die huis deurgebring.

Engeland het in 1834 Kersfees amptelik erken. Die Calvinistiese kerke in Suidelike-Afrika het die voortou geneem om Kersfees en die geboorte van Christus amptelik erken te kry. In 1865 het die ZAR en in 1891 het die Vrystaat Kersfees amptelik erken. Vir ‘n ruk was dit die gebruik om Kersfees as Nagmaal te vier. Op sommige plekke is pieknieks gehou. Dit het ook ‘n gesellige gesins- en familiefees geword.

Die kersboom het uit Duitsland na die res van Europa versprei. In Engeland het dit in 1841 gewild geword. In 1855 is die eerste kersboom in Kaapstad opgerig. Die Afrikaanse kerke het die kersboom van 1888 af begin goedkeur, hulle het nie ‘n probleem met die boom of geskenke gehad nie, wel met Kersvader.

Die gee van kersgeskenke was algemene gebruik onder Engelssprekendes in Suidelike-Afrika. Die Boerevolk het op Nuwejaar geskenke gegee, nie op Kersfees nie. Dit was in ooreenstemming met die gebruik in verskillende Europese lande.

Die kersmaal het in 1890 gewild geword by Afrikaanssprekendes. Op plekke was daar ook perderesies, skyfskiet en vuurwerke op die dag voor Kersfees. Die sing van kersliedere en die stuur van kerswense is twee ou Engelse gebruike. Die eerste kerskaartjie dateer uit 1846 in Engeland. Die eerste Afrikaanse kerskaartjie verskyn in 1916. In 1949 het “Kersliedere by kerslig” uit Australië oorgewaai. Dit is aanvanklik deur die kerke afgekeur. Vandag is daar ‘n hele bedryf vir kersfeesmusiek.

Aanvanklik het die Afrikaanse kerke hulle verset teen Kersvader / Sinterklaas. Vandag is Kersvader oral te vinde. Die kerskous het nie onder die Boerevolk navolging gekry nie.

Vandag is daar drie verskillende Kersfeeste: die kerklik-godsdienstige model, die heidense model en die geldmaak model. Al drie is dikwels ineengestrengel.

Onder die Boerevolk is die kerklik-godsdienstige Kersfees nog steeds die belangrikste en daar word steeds kerkdienste op kersdag gehou. Die Boerevolk het geen eie tradisies en gebruike omtrent Kersfees nie. Alles is die navolging van gebruike in Westerse lande soos Duitsland, Brittanje en Amerika.

Kerklik-godsdienstig is nie sinoniem met Christelik of Bybels nie. Daar is natuurlik geen regverdiging uit die Bybel vir Kersfees of die vier van Christus se geboorte nie. Dit is ‘n mensgemaakte instelling waarmee simboliese betekenis gegee word aan gebruike en voorwerpe wat ook ander betekenisse kan hê.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die Boerebruilof

proposal-of-marriage-1724676_960_720In wese is die huwelik ‘n kontrak tussen ‘n man en ‘n vrou waarin hulle plegtige beloftes aan mekaar maak. Hierdie beloftes is lewenslank en handel oor getrouheid en saamstaan in alle omstandighede. Die huwelik is die tweede van die drie groot lotsgebeurtenisse (geboorte, huwelik en dood) in elke mens se lewe. Die proses van die huwelik sluit in hofmaak, verlowing en huwelik.

Die tipiese huwelik van vandag is grootliks volgens die Britse tradisie (of is dit Hollywoodtradisie?), dit is dan ook hierdie tradisie wat in tydskrifte bespreek word. Die Oud-Germaanse huwelik was heelwat anders, byvoorbeeld die bruid sou ‘n groen (teken van vrugbaarheid) rok dra. Die huweliksfees sou drie dae duur en iewers tydens die fees sou die bruidspaar aankom. Hulle het ook nie ‘n formulier gehad nie.

Eers was daar die Oud-Germaanse huwelik, toe het dit verchristelik en daarna het dit ‘n Nederlandse karakter gekry. Die huwelik wat van Nederland na die Kaap gebring is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. Die Boerebruilof is daardie gebruike, seremonies en tradisies wat deur die Boerevolk ontwikkel is tydens die pionierstydperk.

‘n Jong kêrel kon na sy aanneming (in die kerk) begin kuier. Meisies het van omtrent 14 jarige ouderdom “oor die onderdeur begin loer”. Daar was verskeie bygelowe en gebruike om vas te stel wie die meisie se “toekomstige deel” sal wees. Jongmense het mekaar leer ken by feesdae, verjaarsdae, nagmaal, pieknieks en Saterdagmiddae. Die ouers van die jongmense het ook belang gestel in die toekomstige skoonfamilies, want ‘n huwelik bring ‘n bloedband tot stand.

As ‘n jongman sy ouers se goedkeuring het, kan hy begin om ‘n sekere meisie se hand te verower. Tussengangers is gebruik om “die water te toets”. Die meisie se gesin (nie syself nie) wag die vryer in en laat hom tuis voel. Hy moet dan hulle toestemming kry om met haar te gesels. Die ouers het vroeg gaan slaap terwyl die paartjie “opsit”. Die ouers het deur die gebruik van die “opsitkers” probeer sorg dat die vryery nie hande uitruk nie. Die jongman het gekyk vir tekens of die meisie van hom hou en of daar mededingers is.

‘n Meisie was hubaar as sy al die take van ‘n boervrou kon doen. ‘n Jongman moes al selfstandig geword het en ‘n eie boerdery kon behartig. Albei ouerpare moes toestemming gee (“ouersvra”) dat die paartjie verloof kan word. Hulle moes skriftelike “consent” kry. Die moeder van die meisie het eerste gehoor en sy moes die vader dan voorberei. Die vader het dan die kêrel ondervra en die leviete voorgelees. Die verlowing het geduur vanaf “consent” tot die huwelik. Die “gebooie” is vir drie Sondae afgekondig in die kerk. Die doel daarmee was dat die algemene publiek kan kennis neem en besware indien. Die kêrel moes persoonlik aan die naaste bloedverwante die nuus gaan oordra. Die kêrel moes op die naaste dorp “die kaart” gaan haal om die meisie se vinger te meet vir die ring. Die verlowing was ‘n ernstige saak en die verbreking daarvan net so ernstig as egskeiding.

Aanvanklik was die troudag Sondae. Daar was strooimeisies, blommemeisies, hofknape en seremoniemeesters. Die bruidsrok was volgens die heersende mode, die bruidegom het ‘n manelpak gedra. Die troukoek was ‘n drielaag vrugtekoek. Die bruid se familie sit links in die kerk, die bruidegom se familie aan die regterkant. Aanvanklik het die bruid op die arm van die bruidegom die kerk ingekom, later op die arm van die strooijonker en nog later op die arm van haar vader. Na die lees van die huweliksformulier is die trouring aangesteek.

Op plase was die bruilofstoet ‘n skouspel met ‘n orkes op ‘n wa en ‘n vlagryer. Sarsies skote is in die lug afgevuur. Daar was ook ‘n ereboom en blomme. Na die feesmaal was daar ‘n dans. Indien daar nie gedans word nie, is daar speletjies gespeel. Behalwe ‘n bruidskat het gaste ook geskenke gebring. Die Wittebrood was onbekend voor die 20ste eeu.

‘n Wewenaar kon na 3 maande hertrou en ‘n weduwee na 5 maande. Egskeidings het min voorgekom.

Volgens die Nederlandse tradisie was die huwelik ‘n burgerlike saak met kerklike inseëning opsioneel. Volgens die Britse tradisie is die huwelik ‘n staatsaangeleentheid en kan slegs ‘n staatsaangestelde bevestiger huwelike voltrek (dit sluit predikante in). Die Boererepublieke het die Nederlandse tradisie gevolg. Later het die staat die huwelikswet ingestel.

Voorhuwelikse seks is nie gesien as ‘n huwelik nie, maar die ouers en gemeenskap het vereis dat verantwoordelikhede nagekom moet word. Wanneer ‘n man en vrou saamgewoon het asof hulle getroud is, was dit ‘n redelike afleiding dat hulle wel getroud is volgens die gemene reg. Hulle is dus getroud geag, al het hulle nie formeel in die kerk of voor die magistraat getrou nie.

Omdat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis is, is die keuse van ‘n lewensmaat een van die heel belangrikste besluite wat iemand kan neem. Daarom is van jongs af daaroor gedink, gepraat en gedroom.

Waar geboorte die begin van iemand se lewe is, is die huwelik die begin van ‘n gesin. Indien jy ‘n kind sou vra: “Wat gaan jy eendag word as jy groot is?” Dan was die antwoord: “‘n pappa of ‘n mamma”. Van kleins af is kinders voorberei vir die huwelik en die gesinslewe. ‘n Kind se toekoms was nie sy beroep nie, dit was sy gesin.

 

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin

Die bloed van die Boer

boer_cape-dutch_afrikaner

In die huidige politieke klimaat hoor mens af en toe dat die Boerevolk ‘n bastervolk is. Die een redenasie is dat die vermenging van Hollander, Duitser en Fransman ‘n verbastering sou wees. Die ander redenasie is dat ons voorouers met slawe en ander nie-blankes ondertrou het.

Die navorsing van H.T. Colenbrander, soos vervat in sy werk De Afkomst van de Boere (1902), is welbekend. Hy het sy monsters op drie verskillende maniere gekies. Eerstens op grond van die Ou-Kaapse families (van 1652 tot omtrent 1807), tweedens op grond van persone wat saam met Retief was en by Bloedrivier betrokke was en derdens op grond van die name van Kaapse Rebelle. Sy werk is dus gerig op die mense wat as die Boerevolk identifiseer, nie op mense wat as Afrikaanssprekend of as Blankes identifiseer nie. Hiervolgens, min of meer, is die Boerevolk saamgestel uit 50% Hollanders, 28% Duitsers, 17% Franse en 5% Engelse en ander.

Dit is nie maklik om te onderskei tussen die verskillende plekke in Europa waar ons voorouers vandaan gekom het nie. Nederland het maar kort voor van Riebeeck tot stand gekom. Duitsland het nog nie bestaan nie. Frankryk was bewoon deur mense van verskillende Europese afkomste. Die Tagtigjarige Oorlog het groot ontwrigting veroorsaak en mense het ‘n nuwe heenkome elders gaan soek. Hoe word ‘n voorouer se afkoms bepaal? Waar hy gebore is, waar hy gewoon het, watter taal hy gepraat het? Hollanders, Duitsers, Skandinawiërs en Engelse is almal van Germaanse afkoms. Vermoedelik was die meeste Hugenote ook van Germaanse afkoms.

Uit ‘n etniese oogpunt kan ons sê dat die Boerevolk van Germaanse afkoms is. Meer spesifiek kan ons beweer dat hulle grootliks afstam van die stamme wat Franke genoem is. Dit was die situasie tot en met die Anglo-Boereoorlog.

Reeds voor die Anglo-Boereoorlog was daar drie groepe wat van Europese afkoms was: Die Boerevolk van die Kaapse binneland en die republieke, die Afrikaanssprekende blankes in die Weskaap en die Engelstalige bevolking. Wat het sedertdien gebeur? Het hierdie samestelling so gebly of het dit verander? Na die oorlog het heelwat Europeërs hulle in Suidelike Afrika kom vestig. Die Suid-Afrikaanse regering het dit aangemoedig vir ekonomiese en politieke redes. Daar het heelwat ondertrouery plaasgevind tussen die verskillende groepe blankes.

Om politieke eenheid onder blankes te bevorder, is daar eerstens gepoog om alle Afrikaanssprekende blankes te verenig onder die naam Afrikanervolk. Daarna is blanke eenheid bevorder onder die begrip Blanke Suid-Afrikaner. Is daar vandag net een blanke etniese groep of is daar verskillende blanke groepe? Die White Tribe?

Die dilemma is dat die naam blanke internasionaal onaanvaarbaar is. Etnisiteit word nie bepaal deur velkleur alleen nie en slegs etniese groepe kan aanspraak maak op onder andere selfbeskikking. ‘n Etniese groep is mense wat sekere eienskappe in gemeen het. Ondermeer dieselfde afkoms, geskiedenis, kultuur en taal.

Ons kan Dr DF Malan aanhaal: Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ons moet ook almal wat bymekaar hoort in dieselfde kraal (of is dit laer?) kry. Ons sal ook afskeid moet neem van ou verskille en twiste. Jou huistaal en jou volkstaal hoef nie dieselfde te wees nie. Jou persoonlike geskiedenis en jou volk se geskiedenis hoef ook nie dieselfde te wees nie.

Ons sal alles wat van ons ‘n volk maak, opnuut moet identifiseer. Ons huis is gebou van fondament tot dak, maar aanbouings mag nodig wees. Dit is ons uitdaging.

 

Save

Save

Save

Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedinyoutube
Facebooktwittergoogle_pluspinterestlinkedin