
Wat ons ken as die Ou Testament, word in Hebreeus die Tanakh genoem. Tanakh is nie ‘n naam nie, dit is ‘n akroniem van die drie afdelings van die Hebreeuse Skrifte: Torah, Nevi‘im en Ketuvim (Wet, Profete, Geskrifte). Dit is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf, met dele wat in Aramees geskryf is.
Ons benaming vir die eerste vyf boeke van die Ou Testament is die Pentateug. Pentateug beteken die “Vyf Boeke” in Grieks. In Hebreeus word dieselfde vyf boeke die Torah genoem. Torah beteken instruksie, onderrig of wet. Hierdie eerste vyf boeke word as ‘n eenheid beskou omdat al vyf deur Moses geskryf was. Daar is verskeie plekke in die Ou en Nuwe Testament waar bevestig word dat Moses die skrywer van die Torah is. Geoordeel op grond van die inhoud, moet die Pentateug in drie, en nie vyf nie, boeke verdeel wees: Genesis, Eksodus-Levitikus-Numeri en Deuteronomium. Die boek Genesis sluit slegs gedeeltelik en indirek aan by die ander vier boeke van die Pentateug. Genesis is nie deel van die “Wet van Moses“ nie en is ‘n losstaande boek wat handel oor die menslike geslagte wat lank voor Moses geleef het.
Die eerste boek van die Ou Testament (en die Pentateug) se naam is in Grieks Genesis en in Hebreeus is dit Bereshit. Genesis beteken geslagte of geskiedenis en is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord toledoth wat “geslagte” beteken. Bereshit beteken “begin”, die eerste woord in die boek. Die toledoth voorsien ‘n natuurlike indeling van Genesis. Die eerste voorkoms daarvan is in Genesis 2:4: Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is (alle aanhalings kom uit die OAV). ‘n Soortgelyke uitdrukking kom ook voor in Gen 5:1, 6:9, 10:1, 11:10, 11:27, 25:12, 25:19, 36:1 en 37:2. Elke toledoth volg ‘n soortgelyke patroon: in die eerste plek dui dit ‘n nuwe gedeelte in die teks aan, in die tweede plek is alles wat daarna volg ‘n vertelling van wat deur die genoemde persoon voortgebring is. Die toledoth is die eerste sin van die gedeelte en is ook die titel van die teks wat volg.
Die gebruik van die toledoth is soortgelyk aan die formaat van antieke wigskrif kleitablette. Dit wil dus voorkom of ‘n groot deel van Genesis uit ‘n aantal antieke kleitablette saamgestel is. Indien dit korrek is, kan afgelei word dat Moses in besit van sulke antieke kleitablette gekom het en dit vertaal en oorgesit het in die taal en skrif van sy tyd. Dit beteken dan verder dat elke toledoth ‘n ander boek / dokument (kleitablet) aandui. Hoofstukke is eers in die 13de eeu na Christus aangebring in die Bybel. Die hoofstukke in Genesis stem nie noodwendig ooreen met die indeling volgens die toledoth nie.
Die geslagsregisters in die vroeë hoofstukke van Genesis dui aan dat verskeie van die persone, wat genoem word, se leeftye mekaar oorvleuel het. Adam is eers dood toe Metusalag 243 jaar oud was. Metusalag is in die jaar van Noag se Vloed dood, toe Noag se seun Sem 98 jaar oud was. Gevolglik vorm Metusalag ‘n direkte verbinding tussen Adam en Sem en almal tussenin. Sem is eers dood toe Abraham 150 jaar oud was. Sem kon dus die volle geskiedenis van Adam af persoonlik aan Abraham vertel het. Dit is moontlik dat Genesis uit dokumente bestaan wat deur ooggetuies geskryf / dikteer was en wat bewaar gebly het tot by Abraham se nageslag in Egipte – waar Moses dit kon vind.
Die gebeure in Genesis strek oor ‘n langer tydperk as die res van die Bybelgeskiedenis saam. Volgens die inligting wat in die Bybel gegee word, word die tydperk tussen die skepping van Adam en die geboorte van Moses bereken as meer as 2,500 jaar. Van Moses tot die einde van die Nuwe Testament was minder as 1600 jaar. Dit beteken dat, in die Ou Testament, die tydperk voor die Wet van Moses langer was as die tydperk sedert die Wet van Moses. Hierdie lang tydperk word op ‘n beknopte wyse (veral die tydperk voor Abraham) in Genesis weergegee. Van Adam af tot die Vloed was omtrent 1700 jaar, van die vloed tot by Abraham se roeping was omtrent 400 jaar en van Abraham se roeping tot die Tien Gebooie was omtrent 400 jaar. Die gebeure wat in Genesis beskryf word, vind plaas in drie geografiese gebiede: Die Vrugbare Halfmaan (Gen 1 – 11), Kanaän (Gen 12 – 36) en Egipte (Gen 37 – 50).
Genesis is nie bloot ‘n geskiedenisboek nie. Dit handel oor die Skepper en die verhouding tussen Hom en sy skepsel, die mens. Die mens se rebellie teen sy Skepper vernietig die goeie verhouding wat aanvanklik bestaan het. YHWH (die HERE) stel aan Adam en sy nageslag vereistes om aan te voldoen om vir Hom aanvaarbaar te wees. Die mens faal en YHWH vernietig al die mense op aarde en begin voor met net Noag en sy gesin. YHWH sluit ‘n verbond met Noag en stel vereistes waaraan die mens moet voldoen (die Wet van Noag). Weer probeer die mens om sonder YHWH te leef, YHWH verstrooi hulle in etniese volke oor die aarde. YHWH besluit om ‘n etniese volk van Sy eie tot stand te bring deur ‘n sekere man, Abraham. Hierdie man vertrou geheel en al op YHWH en vertroue word die maatstaf wat vir YHWH aanvaarbaar is. Dit was voor die Wet van Moses gegee was en was van toepassing op alle mense, nie net op sekeres nie.
Daar is geen manier hoe die gevalle mens sy Skepper kan behaag nie. Reeds in Genesis verwys YHWH na ‘n spesiale persoon, die Gesalfde, wat sal kom om die verhouding tussen YHWH en die mens te herstel. YHWH noem Hom die “saad van die vrou”, Hy sal uit Set se nageslag kom, Sem sal Sy voorouer wees, Hy sal afstam van Abraham, Isak en Jakob. In die Nuwe Testament word meer as 200 keer uit Genesis aangehaal. Uit Gen: 1- 11 word meer as 100 keer aangehaal. Dit is woord-vir-woord aanhalings, nie net verwysings nie. Genesis is belangrik in die verstaan van die Nuwe Testament.
Wanneer mens enige boek lees, is dit ‘n groot hulp as daar ‘n inhoudsopgawe voor in die boek is. Die funksie van ‘n inhoudsopgawe word in die Bybel vervul deur die struktuur van ‘n boek. Hier volg Genesis se struktuur:
Deel 1 (Gen 1:1 – 2:4a) In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Deel 2 (Gen 2:4b – 4:26) Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.
Item 1 (2:4 – 2:25): Die skepping van die mens
Item 2 (3:1 – 3:24): Die sondeval van die mens
Item 3 (4:1 – 4:26): Die nageslag en beskawing van die mens
Deel 3 (Gen 5:1 – 6:8) Dit is die stamboom van Adam.
Item 1 (5:1 – 5:32): Set se geslagsregister
Item 2 (6:1 – 6:8): YHWH berou dat hy mense geskep het
Deel 4 (Gen 6:9 – 9:29) Dit is die geskiedenis van Noag
Item 1 (6:9 – 8:22): Die mensdom uitgewis deur die Vloed
Item 2 (9:1 – 9:17): YHWH se verbond met Noag en die “Wet van Noag“
Item 3 (9:18 – 9:29): Die karakter van Noag se seuns
Deel 5 (Gen 10:1 – 11:9) En dit is die stamboom van die seuns van Noag
Item 1 (10:1 – 10:32): Die etniese volke uit Noag se nageslag
Item 2 (11:1 – 11:9): Die taalverdeling van Noag se nageslag
Deel 6 (Gen 11:10 – 26) Dit is die stamboom van Sem
Deel 7 (Gen 11: 27 – 25:11) En dit is die stamboom van Tera
Item 1 (11:27 – 11:32): Die nageslag van Tera
Item 2 (12:1 – 12:20): Die roeping van Abram
Item 3 (13:1 – 13:18): Die skeiding van Abram en Lot
Item 4 (14:1 – 14:24): Abram red Lot en ontvang die seën van Melgisedek
Item 5 (15:1 – 15:21): YHWH se verbond met Abram oor die land
Item 6 (16:1 – 16:16): Abram verwek Ismael
Item 7 (17:1 – 17:27): YHWH se verbond met Abraham oor sy nageslag
Item 8 (18:1 – 19:38): YHWH besoek Abraham
Item 9 (20:1 – 20:18): YHWH beskerm Sara
Item 10 (21:1 – 21:21): Die geboorte van Isak
Item 11 (21:22 – 21:34): Abraham sluit ‘n verbond met die Filistyne
Item 12 (22:1 – 22:24): YHWH toets Abraham se vertroue
Item 13 (23:1 – 23:20): Sara sterf
Item 14 (24:1 – 24:67): Abraham soek ‘n vrou vir Isak
Item 15 (25:1 – 25:11): Abraham se laaste jare en verdere kinders
Deel 8 (Gen 25:12-18) En dit is die stamboom van Ismael
Deel 9 (Gen 25:19 – 35:29) En dit is die geskiedenis van Isak
Item 1 (25:19 – 25:34): Isak se seuns
Item 2 (26:1 – 26:35): YHWH bevestig Sy verbond met Isak
Item 3 (27:1 – 27:46): Isak se dwaasheid en Rebekka se wysheid
Item 4 (28:1 – 28:22): Isak stuur Jakob na Laban
Item 5 (29:1 – 29:30): Jakob se huwelike
Item 6 (29:31 – 30:24): Jakob se kinders
Item 7 (30:25 – 30:43): Die nuwe ooreenkoms tussen Jakob en Laban
Item 8 (31:1 – 31:55): YHWH stuur Jakob terug na die land van sy vaders
Item 9 (32:1 – 32:32): Jakob se naam word verander na Israel
Item 10 (33:1 – 33:20): Jakob en Esau word versoen
Item 11 (34:1 – 34:31): Jakob se seuns Simon en Levi
Item 12 (35:1 – 35:29): God stel Sy verbond in met Jakob
Deel 10 (Gen 36:1-37:1) En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.
Deel 11 (Gen 37:2-50:26) Dit is die geskiedenis van Jakob
Item 1 37:2 – 37:36): Jakob se seun Josef as slaaf verkoop
Item 2 (38:1 – 38:30): Jakob se seun Juda en sy verhouding met Tamar
Item 3 (39:1 – 39:23): Josef in die tronk
Item 4 (40:1 – 41:57): Josef word deur Farao aangestel
Item 5 (42:1 – 42:38): Josef se broers kom koop voedsel by hom
Item 6 (43:1 – 44:34): Josef se broers kom ‘n tweede keer voedsel koop
Item 7 (45:1 – 45:28): Josef en sy broers word versoen
Item 8 (46:1 – 47:12): Jakob en sy nageslag trek na Josef toe in Egipte
Item 9 (47:13 – 47:26): Josef koop grond vir Farao
Item 10 (47:27 – 47:31): Jakob wil by sy vaders begrawe word
Item 11 (48:1 – 48:22): Jakob seën Josef se kinders
Item 12 (49:1 – 49:33): Jakob se profesie oor sy seuns
Item 13 (50:1 – 50:14): Jakob se begrafnis
Item 14 (50:15 – 50:21): Josef maak vrede met sy broers
Item 15 (50:22 – 50:26): Josef se laaste dae








