Die onderskeid tussen Israel en die Gemeente van Christus

Illustrasie: https://www.chabad.org/library/article_cdo/aid/913023/jewish/The-Second-Temple.htm

Meer as die helfte van die Heilige Skrif handel oor een enkele volk: die volk Israel. Hulle het ʼn duidelike plek in God se raadsplan. Hulle is deur God afgesonder van die ander volke op aarde, God het ʼn verbond met hulle gesluit en spesifieke opdragte en beloftes aan hulle gegee. As hulle getrou is en die opdragte nakom, sal God hulle met aardse voorspoed seën, as hulle dit nie doen nie sal hulle teenspoed ontvang. As hulle getrou en gehoorsaam is, beloof God om aardse grootheid, rykdom en mag aan hulle te gee. As hulle ontrou en ongehoorsaam is, sal God hulle verstrooi onder die mensdom, van een einde van die aarde tot die ander. Hulle is ook die volk deur wie God homself aan die mensdom wil openbaar.

Die Skrif behandel nog ʼn groot groep mense: die Christene (die Gemeente van Christus). God het ook ʼn spesiale verhouding met hulle en het ook spesifieke beloftes aan hulle gemaak.

Maar daar eindig die ooreenkoms tussen Israel en die Christene, en ʼn opvallende kontras begin. In plaas daarvan dat gehoorsaamheid die beloning van aardse grootheid en rykdom meebring, word die Christene geleer om tevrede te wees met voedsel en klere, om vervolging en haat te verwag, en word ​​die Christene verbind met geestelike en hemelse dinge.

Elkeen van die twee groepe het nie altyd bestaan nie, elkeen het ʼn afsonderlike opgetekende begin gehad. Die van Israel was in die roeping van Abram, Isak en Jakob. Die begin van die Christendom word beskryf in Handelinge 2, toe die Heilige Gees vir die eerste keer uitgestort is. 

Die Christendom het nie in die Ou Testament bestaan nie, ook nie tydens die aardse lewe van Jesus Christus nie. Mat. 16:18: En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Die Gemeente sal in die toekoms gebou word. Die Gemeente van Christus was verborge in die Ou Testament. Ef. 3:9-10: … en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, … Die Gemeente van Christus het ook ʼn spesifieke einde wat verskil van die van Israel: 1Tes. 4:16-17: Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 

ʼn Verdere ondersoek van die Skrif toon dat die oorsprong, roeping, belofte, aanbidding, beginsels van gedrag en toekomstige bestemming van Israel en die Gemeente alles in teenstelling met mekaar is.

Israel ontvang aardse voorspoed. Deut. 8:7-10: Want die HERE jou God bring jou in ʼn goeie land, ʼn land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom;  ʼn land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ʼn land van olieryke olyfbome en heuning;  ʼn land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ʼn land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het. Van Abraham lees ons: Gen. 24:35: En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee. 

Van die Gemeente word gesê: Fil. 3:20-21: Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp. Die gemeente ontvang aardse teenspoed en vervolging. 1Kor. 4:11-13: Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe. Christus se gemeente is voorberei vir wat op hulle wag. Joh. 16:2: Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ʼn uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ʼn diens aan God bewys. 

Die manier hoe God aanbid moet word, verskil ook. Israel kon net op een spesifieke plek aanbid: die tempel met priesters as tussengangers. Die Gemeente kan in gees en waarheid God op enige plek aanbid.

Israel kon onderskei tussen wat vir God reg en verkeerd was deur die Wet van Moses. Aan die Gemeente is die Heilige Gees gegee. Joh. 16:7-11: Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. 

Die Apostels het reeds met mense te doen gekry wat die Gemeente wou “Judaïseer”. Hulle wou hê dat Christene wat nie van Israelitiese afkoms was nie, die wette en gebruike wat op Israel van toepassing is, moes nakom. Die antwoord hierop was: Han. 15:28-29: Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!

Deur die eeue heen het die onvermoë om tussen Israel en die Gemeente te onderskei veel gedoen om die Gemeente se vordering te belemmer, die missie van die Gemeente te verdraai en om die Gemeente se ware spiritualiteit te vernietig. Die Gemeente se doel is verlaag tot die beskawing van die wêreld, die verkryging van rykdom, die gebruik van rituele, die oprigting van manjifieke geboue, die bid vir God se seën op militêre konflikte en die verdeling van die broederskap van gelykes in geestelikes en leke.

SPESIALE AANBOD OP E-BOEKE:

Stuur asb. ‘n e-pos aan buitepos@minderheidsverslag.co.za om ‘n gratis e-boek te bestel. Noem in die e-pos die formaat (pdf of e-pub).

...

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui