SES!!! weergawes van die Bloedrivier Gelofte

Foto: Pieter Bruwer se gedigte: https://www.facebook.com/105602099564678/posts/1186153381509539/


Dit is al lank bekend dat die Gelofte van 9 tot 16 Desember 1838 wat by meeste Geloftefeeste voorgelees word, foutief is. Nogtans word dit nie reggestel nie en jaar na jaar word die foutiewe Gelofte herhaal.

Daar is ses verskillende weergawes van die Gelofte en hulle verskil van mekaar. Daarom moet ons vasstel wat die verskille is en watter weergawe die korrekte een is.

J.G. (Jan) Bantjes was die klerk van die Volksraad in Natal en is gesekondeer om Hoofkommandant A.W.J. Pretorius se amptelike sekretaris te wees. Hy het ʼn joernaal in die vorm van ʼn dagboek gehou van 27 November tot 27 Desember 1838. Hy was ʼn lid van die Wenkommando en ʼn eerstehandse getuie van wat gebeur en gesê is. Sy joernaal is op 14 Junie 1839 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer soos in die Gelofte onderneem is. Sy weergawe is die oudste en is op 9 Desember 1838, die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is, opgeteken.

A.W.J. (Andries) Pretorius was die Hoofkommandant van die ekspedisie, bekend as die Wenkommando, en doen op 22 Desember 1838 verslag aan die Volksraad. Sy verslag, met die bewoording van die Gelofte word in De Zuid-Afrikaan op 15 Februarie 1839 gepubliseer. Dit stem ooreen met Bantjes se weergawe.

S.A. (Sarel) Cilliers was ook teenwoordig by Bloedrivier. Hy was een van die drie kapelane. Sy herinneringe word omstreeks 1870/1871 (meer as dertig jaar later en kort voor sy dood) deur ds. W.S. Van Rijneveld opgeteken. Die oorspronklike dokument het weggeraak, maar H.J. Hofstede het ʼn kopie bekom. Cilliers se weergawe is sedert 1891 op Geloftefeeste gebruik en het die tradisie geskep dat Geloftedag “as ʼn Sabbatdag” gevier moet word.

H.J. Hofstede publiseer in 1876 sy boek “Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat”. Sy boek bevat ʼn kopie van Cilliers se weergawe. Hofstede het sy weergawe opgestel vir gebruik deur gemeentes op grond van Cilliers se weergawe..

G.B.A. Gerdener publiseer in 1919 ʼn biografie oor Sarel Cilliers: “Sarel Cilliers Die Vader van Dingaansdag”. Hierin verskyn Gerdener se gerekonstrueerde weergawe van die Gelofte.

W.E.G. Louw se verwerkte vertaling van die Gelofte word in 1962 aan die Uitvoerende Raad van die F.A.K. verskaf. Hierdie weergawe verskyn ook op ʼn muurpaneel in die Voortrekker-Gedenkkerk in Pietermaritzburg. Hierdie weergawe is deur die F.A.K. uitgegee en versprei. Dit is ‘n vertaling van Gerdener se Nederlandse weergawe.

Die weergawes van Hofstede, Gerdener en Louw het ontstaan uit die Cilliers-weergawe. As Cilliers en Bantjes se weergawes vergelyk word, kan gesien word hoe groot die verskil werklik is.

Jan Bantjes se joernaal: “dat hy aan den Almagtigen eene gelofte doen wilde (indien allen wel wilden),—“om zoo de Heere ons de overwinning geven mogt, een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal behagen”— en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen, en dat wy den dag der overwinning, in een boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, op dat het ter Eere van God gevierd mag worden.”

Sarel Cilliers se herinnering: “Mijne Broeders en mede-landgenoten, hier staan wij thans, op eene Ogenblik voor een Heilige God, van Hemel en aarde, om een belofte aan hem te beloven, als hij met zijne bescherming, met ons zal wezen, en onze vijand in onze handen, zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag, en de datum, elk jaar als een verjaarsdag, en een dankdag, zoo als een Sabbath, en zijne eere, dienen zal, doorbrengen en dat wij het ook aan onzen kinderen zal zeggen, dat zij met ons er in moeten deelen, tot gedachtenis, ook voor ons opkomende geslagten, en als iemand is die er onder bezwaard bevind, dat die dan van deze plaats, weg moeten gaan, Want de eere van zijn naam, daardoor zal verheerlijk worden, dat de roem en eer van overwinning, aan hem zal worden gegeven, Ik zeide ook verder, dat wij in de gebed zamen moeten deelen, die tot den troon van Zijne Genade zal worden opgezonden, en zoo voor, en ik bereyde mijne handen, na de Hemel uit, in naam van ons allen”

Cilliers se herinnerings is (meer as 30 jaar later) foutief op ʼn paar punte. Die eerste is die invoeging van: “dat wij die dag, en de datum, elk jaar als een verjaarsdag, en een dankdag, zoo als een Sabbath, en zijne eere, dienen zal, doorbrengen”.

Hofstede voeg die volgende by Cilliers:  “een tempel ter zijne eer stichten zoude, waar het Hem zoude behagen,” Dit word dan herhaal deur Gerdener en Louw. Louw se weergawe stel dit so: “dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag”. Die oorspronklike weergawe van Bantjes lui soos volg: “een Huis tot zynes Grooten Naams gedachtenis te stichten, alwaar het Hem zal behagen”. Die oorspronklike gebruik “huis” nie “tempel” nie (dus ook nie kerk nie). Die oorspronklike onderneem om ʼn huis te “stig” en nie die “oprig” van ʼn huis nie. Die oorspronklike bedoeling was iets anders as om ʼn gebou op te rig.

Die derde fout is dat Bantjes se: “in een boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken” weggelaat word by die latere weergawes. Bantjes se Joernaal is gepubliseer en is die “boek” waarvan melding gemaak word. Dit bevestig dat sy weergawe die outentieke weergawe is.

ʼn Verwante kwessie is watter persoon die bewoording van die Gelofte gedoen het. Een bron meen dit was Eerwaarde Erasmus Smit want hy was die Natalse Voortrekkers se predikant. Die probleem is dat hy nie ʼn lid van die kommando was nie. Hy was nie teenwoordig nie.

Gerdener se boek “Sarel Cilliers. Die vader van Dingaansdag” (1919 en 1925) noem Cilliers die geestelik-godsdienstige profeet van die Groot Trek. Cilliers was ʼn ouderling en lekeprediker wat een van die drie kapelane van die Wenkommando was. Hy was blykbaar welsprekend en kon moontlik die Gelofte voorgelees het. Sy rol word dikwels oorskat by Geloftefeeste. Daar word beweer dat hy die bewoording van die Gelofte opgestel het en dat hy die “held van Bloedrivier” was. Gerdener het skynbaar ʼn groot heldeverering vir Cilliers gehad.

Jan Bantjes se joernaal van Sondag 9 Desember 1838 stel die gebeure soos volg: “Des Zondags morgens, vóordat de godsdienst begon, liet de Hoofd-Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht  hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden, om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen ‘n gelofte doen wilde” En dan verder: “De heeren Cilliers, Landman en Joubert, waren opgeruimd in het gemoed, om zulks te horen; zy onderhielden hunne gemeentens hierover en verkregen hunne algemene toestemming.”

Die gedagte aan ʼn Gelofte en die bewoording daarvan moet aan Hoofkommandant Pretorius toegeskryf word. Hy het op voorafgaande dae aan al sy offisiere gemeld dat hulle nie sonder die hulp van God sal oorwin nie en almal aangespoor tot gebed en Christelike gedrag.

Wat nou? Is die presiese woorde van die Gelofte belangrik of nie? Is die presiese nakoming van die Gelofte belangrik of nie? Wanneer gaan die huis gestig word of hoef dit nie gedoen te word nie?

Koning Dawid het ʼn huis gestig, koning Salomo het ʼn tempel opgerig. Daar is ʼn groot verskil.

Die volgende studiestuk bevat verdere inligting: Die outentieke weergawe van die Bloedrivier Gelofte (1838), deur P.R. Swanepoel en P.C. Groenenstein (26 Augustus 2011)

SPESIALE AANBIEDING: GRATIS E-BOEKE

Bestel enige van die boeke aan die regterkant by buitepos@minderheidsverslag.co.za. Kies tussen PDF of EPUB.

Versprei asseblief

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui