Asseblief, bewaar ons boeke!

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is NP-VAN-WYK-LOUW-MUSEUMS.jpg
https://npvanwyklouw.org.za/museums-in-suid-afrika-en-die-bewaring-van-westerse-kultuurgoedere-evelyn-ferreira/

Ek bedryf ʼn klein tweedehandse boekwinkel. Dit is amper ʼn biblioteek want jy kan klaar geleesde boeke omruil vir iets wat jy nog nie gelees het nie. Tweedehandse boeke is aansienlik goedkoper as nuwe boeke. Party is nog nuut en mooi opgepas, ander is baie ou boeke waarvan sommiges eers heelgemaak moet word voor dit op die rak geplaas kan word. 

Ek hoop dat hierdie winkeltjie mense sal aanspoor om eerder te lees as om televisie te kyk. As mense meer lees mag hulle spelling en taalgebruik ook verbeter. Dit word gesê dat kinders wat van kleins af kinderstories hoor en lees se verbeeldings beter ontwikkel. “If you want your children to be intelligent, read them fairy tales. If you want them to be more intelligent, read them more fairy tales.” Albert Einstein

Die ouer boeke kan selfs waardevol wees. Ek het byvoorbeeld Johannes van Wyk, Patrys-hulle, en die Toesprake van Dr. Verwoerd in voorraad. (Laasgenoemde moet gerestoureer word). Dit laat my wonder wat van sulke boeke gaan word na dit verkoop is. Daar is selfs ouer skrywers wat nog steeds gewild is – soos Karel Kielblock, Gerrie Radlof, Heinz Konsalik en FA Venter. Daar is ook boeke van nuwer skrywers. Onder andere is Deon Meyer gewild. Daar is ook baie boeke wat nie storieboeke is nie – Christelike boeke, vakkundige boeke (meestal nuwer uitgawes met enkeles wat antiek is) en boeke oor stokperdjies.

Dit is een van die redes waarom ek belangstel in die bewaring van boeke. Veral van ons eie inheemse boeke.

George Orwell skryf in sy boek 1984 “Every record has been destroyed or falsified, every book rewritten, every picture has been repainted, every statue and street building has been renamed, every date has been altered. And the process is continuing day by day and minute by minute. History has stopped. Nothing exists except an endless present in which the Party is always right.” Vir baie van ons klink dit of hierdie woorde vandag waar geword het.

Hier in Suid-Afrika is alles omgekeer en word ons geskiedenis verdraai of doodgeswyg. Ons geskiedenis, ongeag of dit objektief waar is, word uitgebeeld as rassisties. Of anders word alles in die verlede toegeskryf aan apartheid. Dit is ook nie net geskiedenis wat geteiken  word nie, dit is alle Afrikaanse boeke. Die letterkunde  wat by skole en universiteite voorgeskryf word, word gekies om polities korrek te wees.

Boeke wat voor die ontstaan van die internet gepubliseer is, is meestal nie aanlyn verkrygbaar nie. Om sulke boeke op die internet te kry, sal dit geskandeer moet word. Andersins gaan belangrike boeke slegs in private versamelings en by groot biblioteke beskikbaar wees. Die groot biblioteke is gewoonlik in groot stede en plattelanders en persone wat nie ingeskrewe studente is nie, het nie toegang daartoe nie.

Die groot uitgewers van boeke is besighede met ʼn winsmotief en publiseer boeke wat ʼn wins sal toon.  Gevolglik is daar baie waardevolle boeke wat privaat gepubliseer word en nie in boekwinkels beskikbaar is nie, byvoorbeeld kontrei- en familiegeskiedenis.

Al ons Afrikaanse boeke is eintlik betreklik nuut, ons het nie boeke wat eeue oud is nie. Gevolglik behoort die meeste nog iewers te vinde wees.

Hoe kan ons ons boeke veilig bewaar sodat geslagte na ons dit ook kan lees? Ek weet nie of ʼn groot biblioteek van gedrukte boeke die antwoord is nie. Boeke sal met die pos of koeriers versend moet word.  Sal sulke gedrukte boeke nie dalk wegraak of beskadig word nie?Die webwerf gesellig.co.za bied twee oplossings.

Die eerste is argivering: “Indien u oor Afrikaanse inligting beskik wat geargiveer moet word, laat ons asseblief weet. Of dit nou ‘n ou boek, artikels of besprekings is, ons sal graag wil help om dit op die Internet te bewaar. Dit geld veral vir inligting wat nog nie op die Internet beskikbaar is nie, asook inligting op bestaande webtuistes wat die eienaar nie meer kan of wil onderhou nie.”http://gesellig.co.za/t/39302-Argivering_van_Afrikaanse_inligting/

Die tweede is gratis e-boeke: “Ons bied e-boeke aan ons lede. Mense wat op die forum registreer en aangemeld is, kan hierdie e-boeke gratis en verniet aflaai. Ons sal ook maandeliks nuwe e-boeke bylaai, so kom loer gereeld in om te sien wat bygevoeg is.” http://gesellig.co.za/t/26266-Gratis_Afrikaanse_E-Boeke/

Daar is ook enkele uitgewers wat ouer boeke herpubliseer. Ongelukkig moet hulle sulke boeke nagaan vir woorde wat nie tans polities korrek is nie.

Ek hoop daar is nog meer mense wat ons boeke wil bewaar en in staat is om dit te doen.  Dit sal nie net die boeke bewaar nie, dit sal ook ons taal bevorder. Daarmee saam kan ons meer belese en geletterd word.

Dit gaan nie net oor Afrikaanse boeke nie, daar is ook Engelse boeke wat bewaar moet word. Byvoorbeeld Eugene N Marais se Soul of the Ape. Daar is ook Engelstalige fiksie van Suid-Afrikaanse skrywers wat bewaar kan word. Ons moet ook dink aan die bewaring van die Westerse kultuur.

Bestelling van boeke:

My e-boeke kan bestel word by Payhip op die lys boeke. Andersins kan u ‘n e-pos stuur aan buitepos@minderheidsverslag.co.za. My e-boeke is beskikbaar in PDF en EPUB. Meld asb. u voorkeur.

Hardnekkig Afrikaans

ʼn Afrikaanssprekende student het my ingelig dat Afrikaans nie ʼn wetenskaplike taal is nie, dat al hulle voorgeskrewe werke in Engels is en dat Engels ʼn wêreldtaal is. Gevolglik is dit sy geleerde opinie dat Afrikaans belangrik is by die huis en tussen vriende, maar niks meer nie.

Wat natuurlik snert is.

Nou kan ons ʼn ellelange repliek lewer vanuit die Afrikaanse taalgeskiedenis. Ons kan praat van die verdrukking van ons taal onder Britse koloniale heerskappy. Die bordjie om die nek met “donkie” daarop. Ons kan praat van die weerstand, ondermeer deur die kerke, teen die vervanging van Nederlands met Afrikaans. Dan was daar die politieke taalstryd om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Daarna moes ons woordeskat uitgebrei word om alles wat in Engels en Nederlands gesê kan word, ook in Afrikaans te kan sê. Die skepping van vakwoordeboeke kan genoem word.

Nie baie lank gelede nie, was Afrikaans op gelyke voet met Engels en Nederlands. Dit was nie sommer maar net nie, dit was die resultaat van moeite doen om jou eie te ontwikkel en te gebruik. Dit het opoffering en stryd geverg, maar die oorwinning was behaal. Is dit alles van waarde of het ons ons tyd gemors?

Ons het ons taal geërf by ons voorgeslagte. Is dit ʼn geval van erfgoed is swerfgoed? Die taal baanbrekers het nie soveel tyd en energie spandeer uitsluitlik vir hulleself nie, hulle het dit ook gedoen vir ons. Sodat ons in gemak ons eie taal kan gebruik in die moderne lewe. Ons moet net hulle werk in stand hou en daarop uitbrei. Dit is nie net goed soos infrastruktuur wat in stand gehou moet word nie, geestelike goed soos taal moet ook in stand gehou word. Daar rus ʼn verantwoordelikheid op ons.

Taal gaan nie net oor prosa en poësie nie, dit gaan ook oor motorkarre, masjinerie, gereedskap, fisika, wiskunde en ekonomie.

Ons taal gaan net bly voortbestaan as ons dit gebruik. As ons die Afrikaanse terme gebruik as ons ons motorvoertuig diens en herstel. Wanneer ons rekenaars se sagteware in Afrikaans is. Wanneer ons kinders Google Translate moet gebruik om uit te vind wat die Engelse voorgeskrewe boek nou eintlik sê. Ons het ʼn ten volle ontwikkelde taal, ons moet dit net gebruik. Dis al.

Ons moet net ʼn bietjie moeite doen. Is dit te veel gevra?

Wat ons met ons taal (en kultuur) doen, sê baie van onsself. Is ons mense wat in stand hou en ontwikkel, of is ons te gemaksugtig en sal alles prysgee omdat dit te veel moeite is? Dit weer sê iets van ons karakter, wat se soort mense ons eintlik is.

Is ons lojaal aan dit wat ons eie is? Of is ons Joiners en Hensoppers?

SPESIALE AANBIEDING OP E-BOEKE

Bestel enige van my e-boeke by buitepos@minderheidsverslag.co.za en kry dit gratis. Meld asb of dit in EPUB of PDF formaat moet wees

Hoe ons die Boeretaal “gooi”

Illustrasie: https://www.wendymaartens.co.za/kinderboeke/afrikaans/

Ons volkstaal, Boere-Afrikaans, is  ʼn aanpassing van 17de eeuse Nederlands (voordat Standaard-Nederlands ontstaan het). Die veranderinge wat hier plaasgevind het, was dat Boere-Afrikaans ʼn vereenvoudiging van Nederlands geword het. Woordgeslag het verdwyn, daar is nie meer persoonsvorms van die werkwoord nie, daar word nie meer onderskei tussen sterk en swak werkwoorde nie, buigingsuitgange van selfstandige naamwoorde het afgeslyt, werkwoordvorms is vereenvoudig en die lidwoord “het” word nie meer gebruik nie. Afrikaanse leenwoorde kom meestal uit Engels, Maleis en Afrikatale terwyl moderne Nederlandse leenwoorde meestal uit Engels en Frans kom.

Ons het ʼn tradisie om nuwe woorde te skep eerder as om vreemde woorde te leen by ander tale. Voorbeelde van meer onlangse nuwe skeppings is megagreep en skootrekenaar.

Ons naamgewing van plante, insekte en diere toon ons skeppingsvermoë met ons taal. Dit toon ook die stadiums van naamgewing waardeur ons voorgeslagte gegaan het. Aanvanklik is name gekies vanuit ons voorouers se Europese agtergrond, byvoorbeeld vaderlandswilg. Latere name het ʼn Afrika agtergrond, soos kafferboom (“kaffer” beteken van Afrika, nie van Europa nie). Daar is ook leenwoorde uit Afrikatale soos boegoe en koedoe. Daarna word name gegee op grond van die eienskappe daarvan, soos byvoorbeeld tolbos.

...

Sommige plekname kom uit stamlande, ander kom uit die Bybel. Eie skeppinge van plekname eindig dikwels met -pan, -vlei, -spruit, -fontein, -rivier. Ander spreek van nood, soos Welgevonden en Moedverloren. Daar is ook name uit geskiedkundige wedervarings soos Vegkop en Weenen. Daar het ook vernoeming van persone plaasgevind, byvoorbeeld Pretoria en Stellenbosch.

Die gee van byname aan mense is ʼn ou volksgebruik. Dit is meestal gegee om persone met dieselfde name van mekaar te onderskei. Liggaamlike en geestelike kenmerke is gebruik vir die vind van byname. Persone se beroepe, gewoontes en ander unieke eienskappe is ook gebruik. Party byname was om ʼn persoon te spot en ander om iemand te huldig.

Ons het ook ons eie gesegdes geskep. Die ouer gesegdes handel hoofsaaklik oor die ossewa, jag, landbou, veeteelt en die omgewing. Byvoorbeeld: Soos ‘n os neerslaan.

Volksverhale is mondelings oorgelewerde stories en moet onderskei word van letterkunde. ʼn Volksverhaal is kultuurbesit en word oorvertel deur een geslag aan die volgende. Daar is verskillende soorte volksverhale wat oorvertel word.

In volksverhale is daar allerlei wonderlike dinge wat nie in die werklikheid gebeur nie. Diere en ander dinge tree op soos mense en kan ook praat. Ouer verhale vertel van dinge van lank gelede. Voorbeelde van verskillende soorte volksverhale is sprokies, spookstories, liegstories en nog meer.

Ons het ʼn tradisie van storievertellers. ʼn Goeie storie kan ʼn ware verhaal wees wat vermaaklik aangebied word. Dit kan ook grootliegstories, jagverhale, en bangmaakstories wees. Stories word vertel om kampvure, op stoepe en oral waar mense op iets wag en die tyd probeer omkry. Ingesluit hierby is ook die vertel van grappe. Ons het ʼn eie onderskeibare sin vir humor.

Humor is ʼn integrale deel van ons volkstaal. As ons ongelukkig is met iets, skerts ons oor dit om van stres ontslae te raak en ons misnoeë met iets aktueel uit te spreek. Taalvaardigheid word gebruik om iemand te vermaak en te laat lag, selfs wanneer daar slegte nuus of ander negatiewe gebeure is. Dit help ons om nie in sak en as te verval nie.

Daar is ʼn verskil tussen ʼn mite en ʼn volksverhaal. In mites word gepoog om verklarings te vind vir onverstaanbare verskynsels en daar is altyd iets bonatuurliks, soos gode, by betrokke. Volksverhale kom voor by plattelanders en poog om samelewingskwessies aan te spreek

ʼn Legende is ʼn verhaal wat binne die geskiedenis plaasvind. Dit kan dalk waar wees of dalk nie. Dit vertel van gebeure wat moontlik kon gebeur het maar wat nie bevestig kan word nie. Die legendes wat by ons bekend is, sluit in Antjie Somers, Die Vlieënde Hollander en Racheltjie de Beer.

ʼn Fabel is ʼn kort storie met ʼn sedeles. Mense se deugde en ondeugde word uitgebeeld met diere as die karakters. Van die bekendste fabels is Die skilpad en die haas en Die wolf en die skaapwagter.

ʼn Sprokie is ʼn storie oor mense en fantastiese wesens soos feetjies, hekse, reuse, kabouters en mense. Dit is kinderverhale en sluit in Rooikappie, Sneeuwitjie en Die drie varkies. Die bekendste sprokies is van Europese herkoms. Hulle het ʼn drieledige bou met die klem in die derde afdeling.

Raaisels was hoog aangeskryf in die kultuur van die Germane. Dit word gebruik om die hoorders se skerpsinnigheid te toets. Vir die persoon wat eerste die raaisel oplos, was daar ʼn beloning. Allerlei kunsgrepe word in raaisels gebruik: beeldspraak, teenstelling, verswyging, verkorting, woordspeling en dubbelsinnigheid.

ʼn Rympie vertel ʼn eenvoudige verhaal en maak gebruik van rym, ritme en klankherhaling. Dit kom uit ons stamlande maar ons het ook ons eie skeppings. Daar is verskillende soorte rympies, soos wiegrympies, minnerympies, babarympies en speletjierympies.

Sommige van ons volksliedjies is gegrond op Engelse modelle (Sarie Marais). Volksliedjies het behoue gebly by Nuwejaarsaand, bruilof en verjaarsdag geleenthede. Daar word onderskei tussen dansliedjies, piekniekliedjies en minneliedjies. Die volkslied se voortbestaan word bevorder by die boeredans, kinderkrans, piekniek en volkspele. Verstedeliking, kultuurbotsing en kommersiële vermaak is nadelig vir volksliedjies.

Volkstoneel het in die verlede ʼn belangrike rol gespeel op die platteland. Om die gehoor te boei was dit nodig dat die toneel die volkstaal moet gebruik. Daar was ook vroeër debatsverenigings wat gedien het as ʼn intellektuele sentrum vir jongmense.

Taal van digters, vakmanne en geleerdes

Illustrasie: https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_Afrikaanse_vakwoordeboeke_en_terminologielyste

Na die Anglo-Boereoorlog het Lord Alfred Milner sy pogings om die Boerevolk te verengels verskerp. Hy wou graag hê al die Blankes moes goeie Britse onderdane wees en Engels praat, lees en skryf. Om dit te doen het hy gratis onderwys in Engels aangebied. Onderwys in Hollands was net in privaatskole beskikbaar wat die verarmde Boere nie kon bekostig nie. Hy was ook van plan om Engelse Nedersetters in te voer om die Boerevolk te verswelg met getalle. Dit het tot groot ontevredenheid gelei.

Die Boerebevolking het lank reeds twee tale gebruik: Boere-Afrikaans was hulle alledaagse spreektaal (volkstaal) en Nederlands was die geskrewe taal (kultuurtaal). Die ontwikkeling van Boere-Afrikaans tot ʼn volwaardige taal, wat gelykstaande aan Nederlands en Engels sou wees, het begin met die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Kort na die einde van die oorlog begin ʼn nuwe geslag taalstryders te werk vir die erkenning van Afrikaans. Daar was geen spesifieke leier nie, maar die voortou is geneem deur Gustav Preller in Pretoria en JHH de Waal in Kaapstad. Ander persone wie ook genoem moet word, is Johannes Visscher en ds. Willem Postma in Bloemfontein, Johannes SM Rabie in Pietermaritzburg en DP du Toit in Cradock.

In 1905 word die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) in Pretoria en in 1906 die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) in die Kaap gestig. Gustav Preller het die voortou geneem met ʼn reeks artikels in De Volkstem onder die titel Laat’t Ons Toch Ernst Wezen. Dit word beskou as die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Preller se standpunt was dat Afrikaans ʼn beter  kans op voortbestaan het as Nederlands, dat daar geen vyandigheid teen Nederlands is nie en dat daar so na as moontlik gehou moet word aan die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (VNS). Hy het heelwat ondersteuning gekry en dit lei tot die stigting van die ATG in Pretoria en Bloemfontein. Die ATV het hulle beywer vir Afrikaans as skryf- en spreektaal en samewerking met ander liggame wat Afrikaans wou bevorder.

...

Daar was hewige teenstand teen die bevordering van Afrikaans deur De Zuid Afrikaansche Taalbond, predikante, die Afrikaanssprekende elite en Onze Jan Hofmeyr. Die Taalbond het Nederlands as volkstaal beskou. Die teenstanders se argument was dat die Afrikaanssprekendes saam met die Nederlanders en Vlaminge ʼn groter kultuurgroep kon vorm wat beter kultuurprodukte sou kon lewer. Die voorstanders van Afrikaans as kultuurtaal het aangevoer dat Afrikaans sterk van Nederlands afwyk en dat hulle volksgenote nie regtig Nederlands magtig was nie. ʼn Volkstaal word nie bepaal deur die elite nie, dit word bepaal deur die gewone mense.

Die Taalbeweging het dadelik steun gekry deur letterkundige werk van kwaliteit deur persone soos Gustav S Preller, Eugene N Marais, Jan FE Celliers, Totius en C Louis Leipoldt. Van die groepe wat hulle beywer het vir Afrikaans het saamgewerk en die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 gestig. Die Akademie het begin werk aan ʼn Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hierna kon Afrikaans as skryftaal vooruit gaan. In 1914 is Afrikaans erken as skooltaal in die Kaap, Transvaal en Vrystaat. In 1916 word Afrikaans as kerktaal erken. In 1918 het die staat Afrikaans erken, maar nie in wette en amptelike dokumente nie. Van 1925 af erken die staat Afrikaans ook in wette. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is in 1929 gestig.

Die Nederduitse kerke was aanvanklik sterk gekant teen Afrikaans as kultuurtaal. Predikante is opgelei in Nederlands, hulle het ook in Nederlands gepreek. Hulle het Afrikaans as ʼn “barbaarsch patios” beskou. Nadat die staat Afrikaans erken het, is daar in 1919 deur die kerke aanvaar dat Afrikaans naas Nederlands erkenning moes kry. Daar was ook verset teen ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans, maar uiteindelik het daar in 1933 die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit is gevolg deur die Psalmboek in 1937 en die Gesangeboek in 1944.

Die Boere van die 19de eeu was selfonderhoudend en het al die werk self gedoen, hulle moes feitlik alle beroepe beoefen. Hy was veeboer, akkerbouer en veearts. Dan was hy ook smid, wamaker, messelaar en skoenmaker. Verder was hy ʼn jagter, ʼn handelaar en soms ʼn krygsman. Sy vrou was die kok, die kleremaakster, verpleegster en dikwels die onderwyseres. Die vakwoorde van al hierdie beroepe het hulle geken. Hulle het ook die kerk se taal geken. Die Republieke se administrasie en wette was in Nederlands en die Boere het dit ook geken. Afrikaans was ʼn ryk volkstaal met ʼn reeds bestaande en uitgebreide woordeskat.

Nadat Afrikaans staatstaal in 1925 geword het, is besef dat daar baie vertaalwerk gedoen sal moet word. Die wette en staatsdokumente sal nou ook in Afrikaans beskikbaar moes wees. Baie Boere het verstedelik en in die stede was daar gespesialiseerde beroepe met Engelse terminologie. In 1930 word die Sentrale Vaktaalburo gestig. Aanvanklik is staat gemaak op Nederlandse woordeboeke. Vandag is dit moeilik om te onderskei tussen woorde wat reeds in die volkstaal was, woorde wat uit Nederlands geneem is en vindingryke skeppings deur vertalers. In 1948 word die verskillende woordelyste verenig en in 1951 kom die Vaktaalburo tot stand. Hulle koördineer alle terminologiese werk. Hulle gebruik ʼn nuwe werkswyse deurdat die vakman betrek word en medeverantwoordelik word vir die vaktaal. Hulle het ook die publiek en ander taalgebruikers betrek hierby. Sedertdien het daar talle woordelyste en woordeboeke verskyn wat elke vakgebied dek. Boere-Afrikaans het Standaard-Afrikaans geword.

Vandag beskik Afrikaans oor ʼn vakterminologie vir haas elke bedryf en aktiwiteit. Behalwe die terminologie, is ook handboeke van elke beroepsrigting en studierigting beskikbaar. Of dit letterkunde is, of meganika is, of wiskunde is – dit kan in Afrikaans gedoen word. Afrikaans is in staat om in die moderne wêreld alles te doen wat Nederlands en Engels kan doen.

Dit is tragies dat al hierdie werk wat gedoen is, weggesmyt is deur politieke dwaasheid. Weer word Afrikaans bedreig en word die opofferings en werk van vorige geslagte ongedaan gemaak. Dit is ʼn groot skande wat oor ons gekom het en weer reggemaak sal moet word.

Die stamboom van Afrikaans

Illustrasie: http://www.oocities.org/hugenoteblad/geskSA.htm?201921

Ons taal word weereens aangeval en verneder, dikwels ook deur Afrikaanssprekende taalkundiges. Dit het mode geword om Afrikaans die skuld te gee vir politiek van die verlede deur dit politiek van die hede te maak. Daarom is dit nodig dat ons weer onsself moet herinner oor waar ons taal vandaan kom.

Dit is nie net mense wat stambome het nie, tale het dit ook. Afrikaans is ʼn Germaanse taal wat familie is van al die ander Germaanse tale. Germaanse tale is weer familie van ander tale en die stamboom gaan ver terug in die geskiedenis.

...

Hier aanvaar ons die Bybel as gesaghebbend en ons beginpunt is Genesis 10:2-5: Die seuns van Yefet was: Gomer, Magog, Madai, Yavan, Tuval, Meshekh en Tiras. Die seuns van Gomer was: Ashkenaz, Rifat en Togarmah. Die seuns van Yavan was: Elíshah, Tarshish, die Kittiërs en Dodaniete. Vanuit hierdie is die streke van die nasies verdeel in hulle lande, elkeen volgens sy taal, volgens hulle families, volgens hulle nasies. (PWL).

Noag het drie seuns (Sem, Gam en Jafet) gehad waaruit alle mense op aarde afstam. Jafet se afstammelinge het hulle gevestig aan die noordelike kant van die Middellandse See, die hele Europa, die Britse eilande, Skandinawië en die grootste deel van Rusland. Dieselfde familie het hulle ook in Persië en tot in Indië gevestig. Die verwantskap tussen al hierdie volke uit Jafet word bevestig deur die tale wat hulle praat. Aanvanklik het vakkundiges die groep tale Indo-Germaans of Aries genoem. Later is die naam verander na Indo-Europees. Die gemeenskaplike voorouerlike taal word Proto-Indo-Europees (PIE) genoem.

Indo-Europees bestaan uit omtrent 443 tale en dialekte. Dit sluit die meeste van die groot taalfamilies in Europa en westelike Asië in. Indo-Europees bestaan uit twee subgroepe: ʼn Satem- of ‘n Kentumgroep. Die groepe is vernoem na die woord vir 100: centum in Latyn (as ‘kentum’ uitgespreek) en satem in Avesties. Oor die algemeen is die “oostelike” tale Satemtale (Indo-Irans, Balto-Slawies), en die “westelike” tale Kentumtaal (Germaans, Italies, Kelties). Voorbeelde van moderne Satemtale is Hindi, Persies en Russies. Voorbeelde van moderne Kentumtale is Grieks, Spaans en Duits.

Die gemene voorouer van Germaans is Proto-Germaans. Een unieke eienskap van Proto-Germaans is die Tweede Germaanse klankverskuiwing wat tot die totstandkoming van Hoog-Duits gelei het. Die grootste Germaanse tale is Engels en Duits, met onderskeidelik ongeveer 400 en 100 miljoen moedertaalsprekers. Nederlands en Afrikaans is ook Germaanse tale.

Daar is twee groepe Germaanse tale: Wes-Germaans en Noord-Germaans. Wes-Germaans sluit Engels, Duits en Nederlands in. Noord-Germaans is die Skandinawiese tale Deens, Noors en Sweeds. Daar is omtrent 53 verskillende Germaanse tale en dialekte.

Die naam Nederduits of Platduits verwys na dialekte wat in Noord-Duitsland en Nederland deur omtrent 5 miljoen mense gepraat word. Mennoniete-gemeenskappe in Noord- en Suid-Amerika praat nog steeds Nederduitse dialekte wat as Plautdietsch bekend staan. Vroeër is die term Nederduits dikwels ook in Nederland gebruik as sinoniem vir Nederlands.

Nederfrankies is die tale en dialekte wat in Nederland, België, Suriname en Suidelike-Afrika gepraat word. Dit word ook in ʼn deel van Duitsland gepraat. Die moderne Nederfrankiese tale is Standaard-Nederlands en Standaard-Afrikaans. Nederfrankiese dialekte is Brabants, Hollands, Seeus, Suid-Gelders, Limburgs, Wes-Vlaams en Oos-Vlaams.

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was die lingua franca van die slawe. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ʼn skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ʼn vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ʼn kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ʼn nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Nederlandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenwerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ʼn voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Terloops: die name Diets, Duits, Duuts, en Dutch kom van die woord Germaanse woord “diet” wat volk beteken.

Nuwe woorde vir nuwe dinge

ba6de60f88c45f403b92d0e67319f107

Toe ek op skool was, was krieket nie een van die sportsoorte wat aangebied is nie. Krieket was wel gespeel by die groot Afrikaanse skole en by Engelse skole. Dit was toe nog hoofsaaklik ‘n Engelse sport.

Teen omtrent 1965, het Peter van der Merwe die kapteinskap van die Suid-Afrikaanse span oorgeneem en het hy en sy span (wat die Pollocks, Eddie Barlow en Dennis Lindsay ingesluit het), groot helde geword. Ewe skielik het die Boertjies begin belangstel. Nie lank nie, toe word krieket op die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai. Daar was net een klein probleemtjie: daar was geen krieketterminologie in Afrikaans nie.

Die Nederlanders het sommer die Engelse terminologie gebruik. Nie ons nie. Ons het ‘n volledige Afrikaanse krieketterminologie geskep. Persone soos Edwill van Aarde het gehelp om hierdie groot werk te doen. Ek kan onthou hoe die omroepers die luisteraars gevra het om voorstelle in te stuur. Die gevolg was dat krieket se gewildheid by Afrikaanssprekendes ontplof het.

Dit was nie net die geval met krieket nie. Ons het ons eie terminologie ontwikkel vir elke ding onder die son. Vandag het ons vaktaalwoordeboeke vir alles en nog wat. Jy kan blomme rangskik, sweiswerk doen, die sterre bestudeer, springstof gebruik, veesiektes behandel – alles in Afrikaans. Hierdie groot taak is gedoen deur toegewyde mense. Dit was nie maklik nie en dit het ‘n lang tyd geneem.

Danksy dit alles, kan Afrikaans op gelyke voet met die wêreldtaal Engels meeding. Daar is niks wat in Engels gesê kan word, wat ons nie ook in Afrikaans kan sê nie. Dikwels is Afrikaans ook meer beskrywend as Engels.

Mens kry die indruk dat Afrikaanssprekendes daarvan hou om nuwe woorde te skep en met woorde te speel. As iemand daarin slaag om ‘n nuwe woord daar te stel, voel hulle trots daarop.

Baie nuwe woorde is nie blywend nie, hulle word nie algemeen gebruik nie en dan verdwyn hulle in die vergetelheid. Dit is eers wanneer ‘n nuwe woord inslag vind by taalgebruikers dat dit in woordeboeke opgeneem word.

Van die bekendste woorde in Afrikaans, wat oorspronklik ‘n nuwe woord was, is onder andere kitskoffie, hysbak en slypskool. ‘n Negejarige dogter is trots daarop dat sy woorde ken wat haar maatjies nie ken nie, byvoorbeeld blaasroertjie en kolwyntjie (danksy ‘n paar ou Afrikaanse storieboeke).

Soos ons almal weet, is daar nou weer ‘n veldtog teen Afrikaans. Afrikaans word oral afgeskaf, selfs in tradisionele Afrikaanse skole en universiteite. Ook in die sakewêreld en werkplek. Hoewel Afrikaans gelyk aan Engels is, word Afrikaans verhinder om tot sy volle vermoë gebruik te word.

Dat die erwe van ons vadere vir ons kinders ook erwe bly (Die Stem)

 

 

 

Save

Watter Afrikaans praat jy?

germaanse_boom2

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan en daar is nie net een Afrikaanse taal nie.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was ‘n lingua franca. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ‘n skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ‘n vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ‘n kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ‘n nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Hollandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenswerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ‘n voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Na die Anglo-Boere Oorlog is daar begin om Boere-Afrikaans te ontwikkel tot ‘n standaardtaal wat met Engels kon meeding. Daarmee is groot sukses behaal. Mettertyd is die naam van die taal verander van Afrikaans-Nederlands na net Afrikaans toe. Die indruk bestaan nou dat die twee tale, Kaapse-Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans, dialekte van Standaard-Afrikaans is.

Boere-Afrikaans is die moedertaal van die meerderheid van ons volk. Daar is wel ook lede van ons volk wat nie Boere-Afrikaans as huistaal gebruik nie. Terselfdertyd is daar baie mense wat Boere-Afrikaans as huistaal het, maar wat nie deel van ons volk is nie.

Boere-Afrikaans (of Standaard-Afrikaans) kan dus etnies gekoppel word, maar kan nie as ‘n etniese verpligting gesien word nie. Daar is baie meer aan etnisiteit as net taal.

 

Save