Inleiding tot Genesis

Foto: https://creation.com/genesis-in-clay

Wat ons ken as die Ou Testament, word in Hebreeus die Tanakh genoem. Tanakh is nie ‘n naam nie, dit is ‘n akroniem van die drie afdelings van die Hebreeuse Skrifte: Torah, Nevi‘im en Ketuvim (Wet, Profete, Geskrifte). Dit is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf, met dele wat in Aramees geskryf is.

Ons benaming vir die eerste vyf boeke van die Ou Testament is die Pentateug. Pentateug beteken die “Vyf Boeke” in Grieks. In Hebreeus word dieselfde vyf boeke die Torah genoem. Torah beteken instruksie, onderrig of wet. Hierdie eerste vyf boeke word as ‘n eenheid beskou omdat al vyf deur Moses geskryf was. Daar is verskeie plekke in die Ou en Nuwe Testament waar bevestig word dat Moses die skrywer van die Torah is. Geoordeel op grond van die inhoud, moet die Pentateug in drie, en nie vyf nie, boeke verdeel wees: Genesis, Eksodus-Levitikus-Numeri en Deuteronomium. Die boek Genesis sluit slegs gedeeltelik en indirek aan by die ander vier boeke van die Pentateug. Genesis is nie deel van die “Wet van Moses“ nie en is ‘n losstaande boek wat handel oor die menslike geslagte wat lank voor Moses geleef het.

Die eerste boek van die Ou Testament (en die Pentateug) se naam is in Grieks Genesis en in Hebreeus is dit Bereshit. Genesis beteken geslagte of geskiedenis en is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord toledoth wat “geslagte” beteken. Bereshit beteken “begin”, die eerste woord in die boek. Die toledoth voorsien ‘n natuurlike indeling van Genesis. Die eerste voorkoms daarvan is in Genesis 2:4:  Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is (alle aanhalings kom uit die OAV). ‘n Soortgelyke uitdrukking kom ook voor in Gen 5:1, 6:9, 10:1, 11:10, 11:27, 25:12, 25:19, 36:1 en 37:2. Elke toledoth volg ‘n soortgelyke patroon: in die eerste plek dui dit ‘n nuwe gedeelte in die teks aan, in die tweede plek is alles wat daarna volg ‘n vertelling van wat deur die genoemde persoon voortgebring is. Die toledoth is die eerste sin van die gedeelte en is ook die titel van die teks wat volg.

Die gebruik van die toledoth is soortgelyk aan die formaat van antieke wigskrif kleitablette. Dit wil dus voorkom of ‘n groot deel van Genesis uit ‘n aantal antieke kleitablette saamgestel is. Indien dit korrek is, kan afgelei word dat Moses in besit van sulke antieke kleitablette gekom het en dit vertaal en oorgesit het in die taal en skrif van sy tyd. Dit beteken dan verder dat elke toledoth ‘n ander boek / dokument (kleitablet) aandui. Hoofstukke is eers in die 13de eeu na Christus aangebring in die Bybel. Die hoofstukke in Genesis stem nie noodwendig ooreen met die indeling volgens die toledoth nie.

Die geslagsregisters in die vroeë hoofstukke van Genesis dui aan dat verskeie van die persone, wat genoem word, se leeftye mekaar oorvleuel het. Adam is eers dood toe Metusalag 243 jaar oud was. Metusalag is in die jaar van Noag se Vloed dood, toe Noag se seun Sem 98 jaar oud was. Gevolglik vorm Metusalag ‘n direkte verbinding tussen Adam en Sem en almal tussenin. Sem is eers dood toe Abraham 150 jaar oud was. Sem kon dus die volle geskiedenis van Adam af persoonlik aan Abraham vertel het. Dit is moontlik dat Genesis uit dokumente bestaan wat deur ooggetuies geskryf / dikteer was en wat bewaar gebly het tot by Abraham se nageslag in Egipte – waar Moses dit kon vind.

Die gebeure in Genesis strek oor ‘n langer tydperk as die res van die Bybelgeskiedenis saam. Volgens die inligting wat in die Bybel gegee word, word die tydperk tussen die skepping van Adam en die geboorte van Moses bereken as meer as 2,500 jaar. Van Moses tot die einde van die Nuwe Testament was minder as 1600 jaar. Dit beteken dat, in die Ou Testament, die tydperk voor die Wet van Moses langer was as die tydperk sedert die Wet van Moses. Hierdie lang tydperk word op ‘n beknopte wyse (veral die tydperk voor Abraham) in Genesis weergegee. Van Adam af tot die Vloed was omtrent 1700 jaar, van die vloed tot by Abraham se roeping was omtrent 400 jaar en van Abraham se roeping tot die Tien Gebooie was omtrent 400 jaar. Die gebeure wat in Genesis beskryf word, vind plaas in drie geografiese gebiede: Die Vrugbare Halfmaan (Gen 1 – 11), Kanaän (Gen 12 – 36) en Egipte (Gen 37 – 50).

Genesis is nie bloot ‘n geskiedenisboek nie. Dit handel oor die Skepper en die verhouding tussen Hom en sy skepsel, die mens. Die mens se rebellie teen sy Skepper vernietig die goeie verhouding wat aanvanklik bestaan het. YHWH (die HERE) stel aan Adam en sy nageslag vereistes om aan te voldoen om vir Hom aanvaarbaar te wees. Die mens faal en YHWH vernietig al die mense op aarde en begin voor met net Noag en sy gesin. YHWH sluit ‘n verbond met Noag en stel vereistes waaraan die mens moet voldoen (die Wet van Noag). Weer probeer die mens om sonder YHWH te leef, YHWH verstrooi hulle in etniese volke oor die aarde. YHWH besluit om ‘n etniese volk van Sy eie tot stand te bring deur ‘n sekere man, Abraham. Hierdie man vertrou geheel en al op YHWH en vertroue word die maatstaf wat vir YHWH aanvaarbaar is. Dit was voor die Wet van Moses gegee was en was van toepassing op alle mense, nie net op sekeres nie.

Daar is geen manier hoe die gevalle mens sy Skepper kan behaag nie. Reeds in Genesis verwys YHWH na ‘n spesiale persoon, die Gesalfde, wat sal kom om die verhouding tussen YHWH en die mens te herstel. YHWH noem Hom die “saad van die vrou”, Hy sal uit Set se nageslag kom, Sem sal Sy voorouer wees, Hy sal afstam van Abraham, Isak en Jakob. In die Nuwe Testament word meer as 200 keer uit Genesis aangehaal. Uit Gen: 1- 11 word meer as 100 keer aangehaal. Dit is woord-vir-woord aanhalings, nie net verwysings nie. Genesis is belangrik in die verstaan van die Nuwe Testament.

Wanneer mens enige boek lees, is dit ‘n groot hulp as daar ‘n inhoudsopgawe voor in die boek is. Die funksie van ‘n inhoudsopgawe word in die Bybel vervul deur die struktuur van ‘n boek. Hier volg Genesis se struktuur:

Deel 1 (Gen 1:1 – 2:4a) In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Deel 2 (Gen 2:4b – 4:26) Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.

Item 1 (2:4 – 2:25): Die skepping van die mens

Item 2 (3:1 – 3:24): Die sondeval van die mens

Item 3 (4:1 – 4:26): Die nageslag en beskawing van die mens 

Deel 3 (Gen 5:1 – 6:8) Dit is die stamboom van Adam.  

Item 1 (5:1 – 5:32): Set se geslagsregister

Item 2 (6:1 – 6:8): YHWH berou dat hy mense geskep het  

Deel 4 (Gen 6:9 – 9:29) Dit is die geskiedenis van Noag

Item 1 (6:9 – 8:22): Die mensdom uitgewis deur die Vloed

Item 2 (9:1 – 9:17): YHWH se verbond met Noag en die “Wet van Noag“

Item 3 (9:18 – 9:29): Die karakter van Noag se seuns  

Deel 5 (Gen 10:1 – 11:9) En dit is die stamboom van die seuns van Noag

Item 1 (10:1 – 10:32): Die etniese volke uit Noag se nageslag

Item 2 (11:1 – 11:9): Die taalverdeling van Noag se nageslag

Deel 6 (Gen 11:10 – 26) Dit is die stamboom van Sem

Deel 7 (Gen 11: 27 – 25:11) En dit is die stamboom van Tera

Item 1 (11:27 – 11:32): Die nageslag van Tera

Item 2 (12:1 – 12:20): Die roeping van Abram

Item 3 (13:1 – 13:18): Die skeiding van Abram en Lot

Item 4 (14:1 – 14:24): Abram red Lot en ontvang die seën van Melgisedek

Item 5 (15:1 – 15:21): YHWH se verbond met Abram oor die land

Item 6 (16:1 – 16:16): Abram verwek Ismael

Item 7 (17:1 – 17:27): YHWH se verbond met Abraham oor sy nageslag

Item 8 (18:1 – 19:38): YHWH besoek Abraham

Item 9 (20:1 – 20:18): YHWH beskerm Sara

Item 10 (21:1 – 21:21): Die geboorte van Isak

Item 11 (21:22 – 21:34): Abraham sluit ‘n verbond met die Filistyne

Item 12 (22:1 – 22:24): YHWH toets Abraham se vertroue

Item 13 (23:1 – 23:20): Sara sterf

Item 14 (24:1 – 24:67): Abraham soek ‘n vrou vir Isak

Item 15 (25:1 – 25:11): Abraham se laaste jare en verdere kinders

Deel 8 (Gen 25:12-18) En dit is die stamboom van Ismael

Deel 9 (Gen 25:19 – 35:29) En dit is die geskiedenis van Isak

Item 1 (25:19 – 25:34): Isak se seuns

Item 2 (26:1 – 26:35): YHWH bevestig Sy verbond met Isak

Item 3 (27:1 – 27:46): Isak se dwaasheid en Rebekka se wysheid

Item 4 (28:1 – 28:22): Isak stuur Jakob na Laban

Item 5 (29:1 – 29:30): Jakob se huwelike

Item 6 (29:31 – 30:24): Jakob se kinders

Item 7 (30:25 – 30:43): Die nuwe ooreenkoms tussen Jakob en Laban

Item 8 (31:1 – 31:55): YHWH stuur Jakob terug na die land van sy vaders

Item 9 (32:1 – 32:32): Jakob se naam word verander na Israel

Item 10 (33:1 – 33:20): Jakob en Esau word versoen

Item 11 (34:1 – 34:31): Jakob se seuns Simon en Levi

Item 12 (35:1 – 35:29): God stel Sy verbond in met Jakob

Deel 10 (Gen 36:1-37:1) En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.

Deel 11 (Gen 37:2-50:26) Dit is die geskiedenis van Jakob

Item 1 37:2 – 37:36): Jakob se seun Josef as slaaf verkoop

Item 2 (38:1 – 38:30): Jakob se seun Juda en sy verhouding met Tamar

Item 3 (39:1 – 39:23): Josef in die tronk

Item 4 (40:1 – 41:57): Josef word deur Farao aangestel

Item 5 (42:1 – 42:38): Josef se broers kom koop voedsel by hom

Item 6 (43:1 – 44:34): Josef se broers kom ‘n tweede keer voedsel koop

Item 7 (45:1 – 45:28): Josef en sy broers word versoen

Item 8 (46:1 – 47:12): Jakob en sy nageslag trek na Josef toe in Egipte

Item 9 (47:13 – 47:26): Josef koop grond vir Farao

Item 10 (47:27 – 47:31): Jakob wil by sy vaders begrawe word

Item 11 (48:1 – 48:22): Jakob seën Josef se kinders

Item 12 (49:1 – 49:33): Jakob se profesie oor sy seuns

Item 13 (50:1 – 50:14): Jakob se begrafnis

Item 14 (50:15 – 50:21): Josef maak vrede met sy broers

Item 15 (50:22 – 50:26): Josef se laaste dae

Die gratis Afrikaanse Bybel: die PWL

Foto: Pad van Waarheid tot die Lewe

Drie jaar gelede het iets ongewoons met my gebeur. Ek het uit die bloute ‘n tablet as ‘n geskenk ontvang. Ek het nie geweet wat om daarmee te doen nie. In die proses van soek na ‘n nut vir hierdie toestel, het ek gaan kyk of dit vir Bybelstudie gebruik kan word. So het dit gebeur dat ek Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) ontdek het. Dit het toe pas verskyn.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe is ‘n Afrikaanse vertaling van die Heilige Skrifte wat sedert 2015 beskikbaar is. Die Kopiereg behoort aan die Lewende, Skepper God. Hierdie Bybel is gratis en mag nie verkoop word nie. Soos dit hoort. Verder is dit ‘n letterlike vertaling uit Hebreeus en Aramees in Afrikaans. Dit bevat, nes die meeste ander Afrikaanse vertalings, slegs die 66 kanonieke boeke.

In die afgelope drie jaar het ek hierdie nuwe vertaling van begin tot einde deurgewerk. Ek wou slegs die teks bestudeer. Ek het van verklarings gebruik gemaak om my verstaan van die teks te kontroleer. Ek het die beste verklarings wat ek kon kry gebruik. Hierdie verklarings is in Engels en die verklaarders gebruik die mees gerespekteerde Engelse vertalings van die Bybel. Hierdie manier van werk sou, indirek, ook verskille met die PWL kon uitwys.

Wat met die eerste oogopslag vreemd is, is dat die spelling van name anders is. Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) het die Hebreeuse en Aramese name getranslitereer. Derhalwe is Kain en Abel nou Kayin en Hevel, Abraham is Avraham, Moses is Moshe, Johannes is Yoganan, Paulus is Sha‘ul, ensovoorts. Jesus se regte Naam is Y‘shua (uitgespreek as Yeshua). Die standpunt van die PWL is dat sy naam ‘n persoon se karakter verteenwoordig en dus betekenis het. Die herstel van die oorspronklike name was om die betekenisse van name duideliker te maak.

Dit mag wees dat daar mense is wat nie God se eienaam ken nie. In die PWL word dit uit respek in die Hebreeuse skrif geplaas. Dit is die naam YAHUAH, wat dikwels uitgespreek word as Yahweh, met die betekenis EK IS, WAS, SAL WEES WIE EK IS, WAS, SAL WEES. Die Hebreeuse Eloha/Elohim word in die PWL vertaal as “Godˮ.

Dit is van groot belang om te vra watter bronne vertalings gebruik. Die Massoretiese Teks (MT) is die algemene bron vir die meeste moderne vertalings van die Ou Testament. Die nadele van die MT is dat dit eers in die elfde eeu na Christus voltooi is, dat dit foute bevat en dat die Joodse rabbi’s wat dit opgestel het, veranderings aan Messiaanse profesieë gedoen het. Gelukkig is die Oorspronklike Ou Testament nog voor die geboorte van Christus vertaal in Aramees en Grieks. Hierdie vertalings gee ‘n indikasie van wat die teks van die Oorspronklike Ou Testament was. Ek het ‘n aantal Nuwe Testamentiese aanhalings uit die Ou Testament ondersoek en gesien hoe die MT die teks verander het. Die PWL is in hierdie opsig meer akkuraat.

Die grootste verskil tussen die PWL en ander vertalings is die bronne wat vir die Nuwe Testament gebruik word. Die oorgrote meerderheid vertalings is uit Grieks vertaal. Die PWL is vertaal uit Aramees. Daar word gemeen dat die Aramese bronne meer betroubaar is omdat Aramees die skryf- en spreektaal van Jesus en die Apostels was. Daar word verder geglo dat die Aramese bronne ouer en meer betroubaar as die Griekse bronne is. Ek het tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Die idee dat die Nuwe Testament oorspronklik in Grieks geskryf was, word hoofsaaklik in die Westerse kerke gehuldig.

Verskille in die vertaling van die Ou Testament begin by Genesis 1:1. In die oorspronklike Hebreeus is daar nie die woord “die” in “in die begin” nie. Die “die” is vir taalkundige redes ingevoeg. “In begin”, soos die PWL dit vertaal, dui aan dat dit nie die begin van alles was nie, maar eerder dat dit vir God self die begin van ‘n nuwe tydperk was. Met die ballingskap is die gebruik van Hebreeus deur Israel vervang met die gebruik van Aramees. Die vermoede is dat die boeke wat na die ballingskap geskryf is, oorspronklik in Aramees (nie Hebreeus nie) geskryf is.

In die Nuwe Testament is die naam Here/Heer vervang met die Hebreeuse YHWH (in Hebreeuse skrif). Idiome is letterlik vertaal. Die woord “geloof”  is vervang met “vertroue”. Die verduideliking is dat geloof is om te weet, maar vertroue is om te doen. “Heilig” word vervang met “afgesonderd”, “geregtigheid” word vervang met “reg volgens die wet” (onskuldig), “dissipel” word vervang met “studentevolgeling”, ensovoorts.

Die vertalingsverskille is dus nie as gevolg van swak vertaling nie, maar is doelbewus en na deeglike oorweging gedoen. Vir my is dit verfrissend. As ons dieselfde woorde by herhaling hoor, raak ons afgestomp en word dit geykte woorde en uitdrukkings. Wat beteken “genade” nou eintlik? Is “onverdiende guns” nie beter nie?

Ek het ook die kritiek van die akademikus Professor Chris de Wet gelees. Ongelukkig is dit nie ‘n evaluasie van die PWL nie maar ‘n aanval op die PWL, die vertaler en die gebruikers van die PWL. Ek is oortuig dat elke werk wat tot eer van Yeshua is, teenstand uitlok. Vir my is die aanval ‘n bevestiging dat die PWL op die regte pad is.

Daar is verskeie ander vertalings van die Bybel in Afrikaans. Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) is in 1933 gedoen en in 1953 hersien (Bybelgenootskap). Dit is ‘n letterlike vertaling. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) is in 1983 gedoen en is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling (Bybelgenootskap) . Die Boodskap het in 2002 verskyn (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n parafrase. Die Nuwe Lewende Vertaling het in 2006 beskikbaar geword (Christelike Uitgewersmaatskappy). Dit is ‘n dinamies-ekwivalente vertaling. Die Bybel vir Almal het in 2008 uitgekom (Bybelgenootskap). Blykbaar in eenvoudige Afrikaans.  Die Bybel: ‘n Direkte Vertaling is in proses van vertaling en sal blykbaar in 2020 verskyn (Bybelgenootskap). Dan het die Jehovah Getuies hulle eie Nuwe Wêreld-Vertaling. Daar is ook die Dogter van Sion se Boek van Herinnering. Die meerderheid lê die klem op die verstaanbaarheid in moderne Afrikaans en nie die getrouheid aan die teks nie.

My behoefte is aan ‘n letterlike vertaling. In Engels is daar ‘n paar vertalings wat ek al gebruik het, maar dan moet ek woordeboeke byderhand hou. Die PWL het aan my behoeftes voorsien en ek is tevrede daarmee. ‘n PWL-AOV parallel Bybel sal vir my interessant wees.

Die PWL is beskikbaar in verskillende formate. Dit is ingesluit op verskeie elektroniese Bybelstudie hulpmiddels. Daar is ook gedrukte Bybels gratis beskikbaar. Volle besonderhede is op die PWL-webwerf.

Daar is organisasies soos die Gideons en Geopende Deure wat gratis Bybels versprei. Daar is ook elektroniese weergawes van sommige vertalings wat gratis is – mits dit slegs vir persoonlike gebruik is.  Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) is nie net gratis vir eie gebruik nie, maar is ook gratis vir wyer gebruik. Nog meer: die PWL verbied die verkoop van hierdie vertaling, dit mag slegs gratis versprei word.

Om die Bybel te lees

Prent vanaf: Jesus se Kindertjies Blog

Voor die uitvinding van die drukpers (deur Johannes Gutenberg in 1440) was boeke met die hand geskryf en gekopieer. Daar was nie baie boeke nie, min mense het boeke besit, die belangrikste boeke was geskryf in Latyn, Grieks en Hebreeus. Die Heilige Skrif was nie algemeen beskikbaar nie en kon nie deur gewone mense gelees word nie. Die drukwese het vir die eerste keer die Heilige Skrif beskikbaar gestel in ‘n formaat waarin dit rondgedra kon word en op enige plek gelees kon word. Die volgende stap was om dit te vertaal in die Europese volkstale. Dit alles het daartoe gelei dat gewone mense die Bybel kon lees in hulle eie taal en kon sien hoeveel die kerk van die waarheid afgewyk het. Dit is hoe Protestantisme ontstaan het en hoe daar weggebreek is van die Roomse Kerk.

Die Heilige Skrif, ook bekend as die Bybel, was onlosmaaklik deel van die Boerevolk se geskiedenis. Elke huis het minstens een Bybel gehad, soms was dit die enigste boek in die huis. Dit was daagliks gelees tydens Boekevat en ook gebruik om kinders te leer lees en skryf. Die Bybel was met die Groot Trek in die wakis, op kommando was die Bybel in die saalsak.

Mense wat ‘n verhouding met Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) het, het die behoefte om Hom beter te ken en verstaan. Die Bybel is die boek waarin jy kan lees Wie Hy Is, wat Hy al gedoen het en wat Hy nog gaan doen.

Die Bybel is ‘n dik boek met baie bladsye. Die lees van die Bybel is ‘n formidabele taak. Dit maak dat mense na ‘n makliker uitweg soek, ‘n opsomming, ‘n video of so iets. Ongelukkig is daar nie ‘n maklike uitweg nie, die lees van die Bybel verg dissipline, toewyding en deursettingsvermoë. Elke indiwidu moet self besluit of hy daarvoor kans sien. As jy nie vir Yeshua ernstig opneem nie, waarom moet Hy jou ernstig opneem? As jy die Bybel net oppervlakkig ken, ken jy vir Yeshua ook oppervlakkig, en mag Yeshua ook net oppervlakkig in jou belangstel. Wat jy insit bepaal wat jy uitkry. Daar is nie plek vir ligsinnigheid nie, dit is ‘n ernstige saak. Indien jy wel ernstig is met Yeshua, sal jy bereid wees om opofferings te maak vir Hom. As die lees van die Bybel vir jou moeilik is, sal jy moet plan maak, vasbyt en deurdruk.  Jy sal daarby baat.

Wat bedoel word met die lees van die Bybel is dat jy by bladsy een begin en dat jy alles lees tot by die laaste bladsy. Die hele Bybel moet gelees word, nie net hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie nie. Dit wat jy Sondag in die kerk hoor, is net kort gedeeltes van die Bybel. Dit wat jy by jou Bybelstudie hoor is ook net gedeeltes van die Bybel. Hierdie dele wat jy hoor mag van waarde wees, maar dit vervang nie dat jy die Bybel self moet lees nie.

Wanneer jy deur die Bybel blaai, sal jy sien dat daar hoofstukke en verse is. Dit was nie in die oorspronklike manuskripte nie en is later bygevoeg om soek en verwysings makliker te maak. Somtyds is dit in ooreenstemming met die teks, maar nie altyd nie. Sommige Bybels het opskrifte in die teks as hulpmiddel tot die inhoud. Hierdie dinge kan nuttig wees, maar is nie noodwendig korrek nie. Elke boek in die Bybel het sy eie struktuur. Dit is nodig om op te let dat daar verskillende onderwerpe binne dieselfde boek kan wees.

Die boeke wat in die Bybel is, volg nie noodwendig chronologies op mekaar nie. Die Ou Testament  het eers geskiedenisboeke, dan wysheidsboeke en laastens profetiese boeke. Die Nuwe Testament het eers geskiedenisboeke, dan omsendbriewe en laastens ‘n profetiese boek. Hierdie indeling is mensgemaak en jy hoef dit nie na te volg nie. Waar daar in die Ou Testament twee boeke met dieselfde naam is (bv. 1 Samuel en 2 Samuel), beteken dit dat dit oorspronklik een boek was en moet dan as een boek gelees word. Waar daar in die Nuwe Testament twee verskillende briewe met dieselfde naam is, beteken dit nie dat dit na mekaar geskryf is nie, of dat dit oor dieselfde onderwerp handel nie, dit beteken dat die briewe aan dieselfde mense gerig is.

Die inhoud van die Bybel strek oor ‘n lang tyd. Daar kon honderde jare verloop het tussen een gebeurtenis en die volgende gebeurtenis. In die verloop van hierdie geskiedenis het baie dinge verander. Taal kon verander het, skrif kon verander het. Omstandighede het verander. Kultuur kon verander het, mense en volke het verander.

Die Bybels wat ons gebruik is vertaal uit antieke tale wat nie meer gebruik word nie. Daar is twee tale betrokke by ‘n vertaling: die antieke taal waarin geskryf is en die moderne taal waarin gelees word. Daar is verskillende vertaalmetodes en gevolglik verskil vertalings van mekaar. Een vertaalmetode probeer die oorspronklike taal so akkuraat moontlik vertaal en dit word ‘n letterlike vertaling genoem. Die klem val op die oorspronklike taal. Ek is bekend met twee sulke vertalings: die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van 1933/53 en die Pad van Waarheid na Lewe (PWL). ‘n Ander vertaalmetode word ‘n ekwivalente vertaling genoem en probeer om die vertaling meer verstaanbaar te maak. Die klem is op die moderne taal. Twee voorbeelde is die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van 1983 en die Nuwe Lewende Vertaling (NLV). Die vertalers gebruik nie noodwendig dieselfde brondokumente nie en dit kan ook tot verskille tussen vertalings lei.

Daar is ‘n verskil tussen die lees van die Bybel en die bestudering van die Bybel. Om net die Bybel te lees vat nie so lank nie. Een berekening sê daar is 929 hoofstukke in die Ou Testament, indien jy net 3 hoofstukke ‘n dag lees kan jy in 10 maande klaar wees. Om die Bybel deeglik en intensief te bestudeer, sal ‘n paar jaar neem. Indien jy vir die eerste keer die hele Bybel aanpak, sal dit beter wees om net te lees.

Wanneer jy die hele Bybel vir die eerste keer deurlees, sal dit goed wees as jy jou vorige kennis van die Bybel kan vergeet. Alles sal vars en nuut wees. Dit sal ‘n avontuur wees om dinge uit te vind wat jy nie voorheen geweet het nie. Jy sal ook uitvind dat dinge wat jy voorheen nie verstaan het nie, nou sin maak. Dit sal ‘n goeie fondament wees waarop jy dan kan voortbou. Wanneer jy die Bybel ‘n tweede keer deurlees, gaan jy vind dat jy baie leer wat jy die eerste keer gemis het. Elke keer wat jy die Bybel deurwerk ontdek jy iets nuuts en opbouend. Met die eerste deurlees, probeer om niemand te raadpleeg oor die betekenis van wat jy lees nie, probeer net om in te neem wat geskrywe is.

Daar is vreeslik baie verskillende interpretasies van die Bybel. Daar is ook baie verdraaiings en baie dwalinge. Dit is hoofsaaklik so omdat die Bybel nie in konteks gebruik word nie. Hoe lees mens binne konteks? Jy interpreteer nie een vers op sy eie nie. Wanneer jy ‘n teks lees, neem jy die vers voor en die vers daarna in ag. Jy moet ook let op die paragrawe voor en na die vers wat jy lees. Jy moet ook die vorige en volgende hoofstukke in gedagte hou. Daar is vier beginsels wat gevolg moet word: wat is die letterlike betekenis van die gedeelte, wat is die agtergrond (die gebeure, wie praat en wie moet luister), taalgebruik en deur dit met ander gedeeltes (wat oor dieselfde saak handel) te vergelyk. Neem ook die kultuur van die tyd in berekening.

Die grootste gedeelte van die Bybel moet letterlik verstaan word. Wanneer dit nie letterlik verstaan moet word nie, sal dit duidelik uit die teks self blyk. Sommige dinge kan nie letterlik beskryf word nie, dan word daar figuurlike taal gebruik. Om beelde en simbole te herken is belangrik, selfs al verstaan jy nie dadelik wat dit beteken nie. Dit is nie God se bedoeling dat ons nie moet verstaan wat Hy aan ons bekend wil maak nie. Wanneer ons ernstig is om Hom te verstaan, sal Hy ons daarmee help.

Daar is ‘n paar benaderings tot die verstaan van die Heilige Skrif wat vermy moet word. Rasionalisme verhef geleerdheid of wetenskap tot die finale gesag by die verstaan van die Bybel. Mistisisme verhef mistiese ervarings (geestelike belewenisse) tot finale gesag en bykomend tot die Bybel. Kerklikheid verhef die kerk tot enigste vertolker van die Skrif en ag kerklike besluite bykomend tot die Skrif. Die moderne neiging is om te sê dat die Bybel deur mense geskryf is en dat dit feilbaar is.

Ons Protestantse voorouers het die Sola Scriptura beginsel nagevolg. Die Bybel is die onfeilbare Woord van God, die oorspronklike geskrifte is deur die Heilige Gees geïnspireer en is die finale gesag in lering en praktyk.

Dit is die Boerevolk se erfenis.

Die Onveranderbare Getuienis

Behalwe vir Johannes, is al die Apostels dood voor die vernietiging van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C. Hulle was ‘n unieke groep mense wat Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) persoonlik geken het, eerstehandse getuies van Sy woorde en dade was, spesifiek deur die Heilige Gees toegerus is om gemeentes (die Vergadering van Uitgeroepenes) tot stand te bring, en is as Yeshua se verteenwoordigers uitgestuur in al die windrigtings in om die getuienis van verlossing te lewer.

Wat het gebeur na hulle dood is? Wie het die Apostels se werk oorgeneem? Hoe is die redding wat Yeshua bewerk het verder bekend gemaak? Daar is kerke wat glo dat daar ‘n opvolging van die Apostels was, maar dit is volgens hulle selfgemaakte tradisie. Die Apostels het wel ouderlinge in die plaaslike gemeentes aangestel, maar hulle is nie Apostels genoem nie en het ook nie die werk van Apostels gedoen nie. Hierdie ouderlinge was reeds volwassenes toe hulle, nog voor die dood van die Apostels, aangestel is. Hulle moes dus in die eerste eeu geleef en gesterf het. In die tweede eeu het daar nuwe leiers gekom. Die Apostoliese Vaders was leidende ouderlinge en skrywers. Hulle word so genoem want hulle het, toe hulle nog kinders was, van die Apostels persoonlik geken. Die Apologete was skrywers wat valse leerstellings en kettery bestry het. Hulle was goed belese en het ‘n belangrike funksie verrig.

Daar was ‘n gaping van etlike jare tussen die Apostels en die Apostoliese Vaders. Die Apostels het dus nie menslike opvolgers gehad nie. Die Heilige Gees het iets anders in gedagte gehad: die Nuwe Testament. Die Apostels en hul medewerkers het hul herinneringe op skrif gestel. In 2 Petrus 1:14-15 gee die Apostel die rede waarom hy die brief skryf: omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het. En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.

Daar is verskriklik baie godsdienstige geskrifte geskryf in die tyd na Yeshua die Gesalfde se hemelvaart. Net 27 van hulle word in die Nuwe Testament ingesluit. Waarom net hierdie 27, waarom nie die ander ook nie?

Die kerk wil graag die krediet daarvoor neem dat hulle die “kanon” (die 27 boeke) saamgestel het. Hulle het nie. Die aanvaarding en verwerping van godsdienstige geskrifte het lank voor die ontstaan van die kerk (in 325 n.C.) plaasgevind. Die amptelike kerklike “kanon” was eers in 397 n.C. Voor die ontstaan van die kerk was daar net plaaslike gemeentes en elkeen het sy eie besluite geneem. Dit was eintlik as gevolg van ‘n groep ketters dat daar onderskei moes word tussen die baie geskrifte wat in omloop was.

Soos die Apostels gewaarsku het, het dit nie lank geneem voor valse profete en valse leraars hulle verskyning gemaak het nie. Gnostisisme het in die eerste eeue na Christus baie volgelinge gehad en het tot ‘n magtige beweging ontwikkel. Later het die kerk dit tot kettery verklaar en onderdruk. Gnostiese Christene het nie ‘n eie kerkorganisasie gehad nie, hulle het binne die bestaande christelike gemeentes gebly. Hulle godsdiens beskouing was dat mense goddelike siele is wat in ‘n stoflike wêreld vasgevang is. Gnostici het geglo dat die stoflike wêreld deur ‘n bose skeppergod geskep en oorheers word. Daar bestaan ‘n ander, hoër God, wat die goeie beliggaam. Maar hy is moeilik om te ervaar want hy het ‘n onkenbare natuur. Om jou van die stoflike wêreld te bevry benodig ‘n mens gnosis of versteekte kennis wat net vir ‘n geleerde elite beskikbaar is. Hulle het baie boeke geskryf wat skynbaar wyd gelees is. Baie Gnostiese boeke is gevind in die Nag Hammadi Biblioteek wat in 1945 ontdek is. Baie daarvan handel oor Yeshua wat esoteriese vrae van Sy dissipels antwoord. Die oudste Gnostiese boeke is uit die tweede eeu afkomstig, dus lank na Yeshua en die Apostels.

Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke is opgestel deur die ketter Marcion in omtrent 140 n.C. Marcion het onderskeid gemaak tussen die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament. Hy het die hele Ou Testament as Skrif verwerp en alles wat vir hom “Joods” geklink het, uit die Nuwe Testament gehaal. Sy Nuwe Testament het bestaan uit ‘n deel van Lukas se evangelie en 10 briewe van Paulus.

Voor Marcion se lys was daar al ‘n proses aan die gang om te besluit watter geskrifte gelees moet word en watter nie. Sy lys het veroorsaak dat die proses versnel het en dat christene meer bewus geword van die waarde van die Apostels se geskrifte. Vir Apologete was dit nodig om te weet watter boeke die korrekte christelike leer bevat sodat dit gebruik kan word as verdediging teen die groot getal ketters. Dit moes boeke wees wat dieselfde gesag as die Ou Testament het.

Justinus die Martelaar het omstreeks 150 n.C. geskryf dat die “Herinneringe van die Apostelsˮ saam met die Profete in die byeenkomste van christene gelees is. Die Khabouris Kodeks is ‘n afskrif van die oudste Aramese Bybel (dit word Peshitta genoem). Dit bevat ‘n getekende sertifikaat wat bevestig dat dit ‘n afskrif is van ‘n Aramese Nuwe Testament van 164 n.C. Hierdie Nuwe Testament bevat 22 van die boeke wat in ons Nuwe Testament is. Die oudste lys van Nuwe Testamentiese boeke wat deur christene gebruik is, is die Fragment van Muratori. Dit word gedateer in die omgewing van 170 n.C. Die begin en einde is beskadig, maar die lys bevat 22 van ons 27 Nuwe Testamentiese boeke. Daar is ook boeke op die lys wat nie in die Nuwe Testament is nie. Dit blyk dus dat christene teen 170 n.C. reeds ‘n kerngroep boeke gehad het wat hulle as die Nuwe Testament beskou het.

Vandag word die 27 boeke die “kanon” genoem, dit wil sê die finale lys wat nie weer verander nie. Maar daar is nog boeke wat hoog aangeskryf word – Protestante noem dit Apokriewe Boeke en Katolieke noem dit Deuterokanonieke boeke. Hierdie boeke word gesien as nuttig om te lees, maar dit word nie as geïnspireerd erken nie. Die Deuterokanonieke boeke is ingesluit in Katolieke en Ortodokse Bybels, maar nie in Protestantse Bybels nie.

Apokriewe boeke is dikwels pseudepigrafiese boeke, dit wil sê dit word valslik aangebied as die werk van ‘n apostel of ‘n ander bekende persoon. Die werklike skrywer was iemand anders en gebruik die apostel se naam om die boek geloofwaardig te laat lyk. In die Nuwe Testament word min vertel van Yeshua se kinderdae. Baie mense het hierin belang gestel. Ondernemende persone het dan boeke daaroor geskryf wat graag gelees en geglo is, terwyl daar nie werklike bevestiging daarvoor was nie. Daar was ook mense wat ‘n gnostiese boodskap wou verkondig en het dit dan verbloem as ‘n werk van ‘n Apostel.

Die christelike standpunt is dat die Nuwe Testament deur die Heilige Gees geïnspireer is, dat dit die Woord van God is en dat dit onfeilbaar en onveranderbaar is. Dit is belangrik om te kan onderskei tussen ‘n geïnspireerde boek en ‘n ander boek. Is daar riglyne wat gebruik kan word om te weet wat is geïnspireerd en wat nie? Die eerste riglyn is dat die boek deur ‘n Apostel, of in samewerking met ‘n Apostel, geskryf is. Al die Apostels (behalwe Johannes) het voor 70 n.C. gesterf, gevolglik sal so ‘n geskrif ook voor 70 n.C. geskryf moes gewees het. Die vernietiging van Jerusalem en die Tempel was so ‘n traumatiese gebeurtenis dat dit moeilik sal wees om dit nie te noem nie. Nie een van die Nuwe Testamentiese boeke maak melding daarvan nie, dus is hulle voor 70 n.C geskryf. Die Nuwe Testament haal die Ou Testament aan en gee verdere verduideliking – dit weerspreek nie die Ou Testament nie. Die Apostels was self bewus daarvan dat hulle besig was om Heilige Skrif te skryf. ‘n Laaste riglyn is dat gewone christene hierdie boeke aanvaar as die Woord van God.

Die Apostels het nie menslike opvolgers gehad nie. Hulle was die eerstes en die laastes. Die Heilige Gees het gesorg dat ons vandag deur die Nuwe Testament alles het wat ons nodig het. Die Nuwe Testament het die Apostels opgevolg en het hulle getuienis verseël. Die lees en bestudering van die Nuwe Testament behoort een van ons hoogste prioriteite te wees.

Wees op jou hoede vir valse leraars en profete. Hulle is tussen ons.

 

 

 

Die Joodse geloof en Yeshua die Gesalfde

Mens kan nie die godsdiens van Ou Testamentiese Israel Judaïsme noem nie. Die naam Judaïsme kan streng gesproke eers gebruik word nadat Jerusalem die hoofstad van hulle godsdiens geword het. Die godsdiens wat hulle toe beoefen het, was ook nie dieselfde as die Judaïsme van vandag nie. Dit behoort iets anders genoem te word, kom ons noem dit maar die Joodse Geloof.

Na die Vloed van Noag en die Toring van Babel, het God met ‘n nuwe werk onder die mense begin. Daar was ‘n man met die naam Abraham. Hy het God geken en Hom vertrou. Dit was op grond van hierdie man se vertroue op Hom dat God ‘n nuwe rigting met die mens ingeslaan het. YHWH het aan Abraham ‘n nageslag en ‘n eie land beloof en dit bevestig deur ‘n verbond (kontrak) met hom te sluit. By hierdie verbond het YHWH ingesluit dat daar uit Abraham se nageslag ‘n Loskoper sal kom.

Hier is nou iets om te bepeins. Dit is welbekend dat Yeshua die Gesalfde (Jesus die Christus) Homself geïdentifiseer het as YHWH. Eerstens let op Johannes 8:56-59: Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly. Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien? Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek. Die Jode was ontsteld want Yeshua het gesê dat Hy YHWH (EK IS) is. Let ook op Galasiërs 3:7-9: Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. Al die volke is die heidenvolke wat nooit Moses se Wet ontvang het of daarvan geweet het nie.

Van Abraham af tot en met Moses (omtrent 430 jaar), was die godsdiens van Israel: Vertrou YHWH. Die Wet van Moses het eers later gekom. Ek wonder hoe hulle godsdiens gelyk het terwyl hulle slawe in Egipte was. Van waar af het Moses die Wet gekry? In Eksodus 3:14 is die antwoord: En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. In Johannes 18:4-6 lees ons: En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasarener. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.  Yeshua die Gesalfde is EK IS, dit wil sê YHWH. Toe Hy dit sê het hulle terug gedeins en neergeval. Die PWL-vertaling gee Johannes 18:4-6 so weer: Omdat Yeshua alles geweet het wat met Hom sou gebeur, het Hy uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Yeshua, van Natzeret.” Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees.” Y’hudah, die een wat Hom sou oorgee, het by hulle gestaan. Toe Yeshua vir hulle sê: “ אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees,” het hulle agteruit beweeg en op die grond neergeval.

EK IS WAT EK IS het die Wet aan Moses gegee op die berg Sinai. Yeshua die Gesalfde is EK IS WAT EK IS. Derhalwe: Yeshua het die Wet aan Moses gegee.

Israel het die Wet van Moses net nou en dan nagekom. Dit het so gegaan vir omtrent 900 jaar, toe het YHWH genoeg gehad en die Babiloniërs gestuur om Jerusalem en die Tempel te vernietig en die volk in ballingskap weg te voer. Dit word die Eerste Tempel Tydperk genoem. Eers was daar die tydperk voor die tempel gebou is van omtrent 480 jaar. Israel het die tabernakel verwaarloos, die verbondsark gebruik as ‘n gelukbringer en toe veroorsaak dat die Filistyne dit buit. Van die eerste koning af tot die koninklike opvolging beëindig is, was Israel se geloof beïnvloed deur wie aan bewind was. Wanneer die koning YHWH gedien het, het Israel dit ook gedoen. Wanneer die koning afgode gedien het, het die volk dieselfde gedoen.

Na die ballingskap het Israel die Tempel herbou en het sommige van hulle probeer om ernstig oor hulle godsdiens te wees. Die tydperk tussen die vernietiging van die eerste en tweede tempels word die Tweede Tempel Tydperk genoem. Na die ballingskap het Israel teruggekeer na Juda. Die tempel en stad is herbou en daar is gepoog om die volk te suiwer. Daar is besef dat die ramp wat hulle getref het, van God kom. Die Wet van Moses is van toe af met meer erns gelees. Dit is in hierdie tydperk dat die Skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs ontstaan het. Die studie van die Wet en die interpretasie daarvan het aandag gekry. Dit is hierdie mense se interpretasies waaroor Yeshua met hulle gebots het. Hulle het ‘n mensgemaakte godsdiens ingestel.

Nadat Israel vir Yeshua die Gesalfde verwerp het, is die tempel en stad deur die Romeine vernietig. Met die vernietiging van die tempel, het die bring van offerandes onmoontlik geraak. Daar was nie meer priesters nodig nie. Dit was nie meer moontlik om alles wat die Wet van Moses vereis het na te kom nie. Die invloed van Skrifgeleerdheid het toegeneem en teen die 6de eeu na Christus het die Rabbynse Judaïsme ontstaan. Rabbynse Judaïsme is vandag die hoofstroom in die Joodse geloof. Volgens hulle is daar ‘n geskrewe Wet en ‘n mondelingse Wet en hulle erken albei. Voorheen het groepe soos die Sadduseërs en Hellenistiese Judaïsme die bestaan van ‘n mondelingse Wet teengestaan.

Yeshua die Gesalfde het dikwels met die Joodse voormanne gebots oor hulle interpretasie van die Wet. In Sy Bergpredikasie het Hy Sy verduideliking gegee van wat die Wet eintlik beteken. Verder sê Hy in Matteus 5:17: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Wat het Hy daarmee bedoel? Hy het die Wet gegee, die Wet het na Hom verwys, Hy het alles gedoen wat die Wet vereis. Met Sy dood en opstanding is al die vereistes van die Wet nagekom. Hy het die Wet vervul. Vir diegene wat Hom vertrou, is die Wet nagekom in Hom en deur Hom. Nou is dit slegs Hy op wie ons ons oë moet rig.

Daar is ‘n wydverspreide siening onder Jode en Christene dat Yeshua die Wet afgeskaf of verander het. Yeshua het wel met die godsdienstige leiers se interpretasies verskil, maar Hy het nie met die Ou Testament verskil nie. Dit is belangrik om te onderskei tussen wat Yeshua regtig gesê het en dit wat mense dink Hy gesê het.

Vroeg in die Nuwe Testament lees ons van die Judaïseerders. Hulle was Christene wat Joodse gebruike en praktyke in die gemeentes wou inbring. Spesifiek wou hulle hê dat Christene wat nie Jode was nie (dus uit die heidenvolke) die Jode se godsdienspraktyke moes navolg. Onder meer wou hulle vereis dat gelowiges uit die heidenvolke besny moes word. Hulle wou die Wet van Moses en die Evangelie van Christus verenig. Vir hulle was die kruisiging en opstanding van die Gesalfde nie voldoende nie, hulle wou iets daarby voeg. Yeshua kon op Sy eie nie die mens red nie, die mens kon nie net deur vertroue op Yeshua gered word nie, die mens moes self daarvoor werk deur ook iets te doen.

Die waarheid is dat die wat Yeshua vertrou, die Heilige Gees ontvang. Die Heilige Gees gee aan die mens ‘n nuwe natuur wat in staat is om God tevrede te stel. Lewe in die Gees is vry van wettisisme en wetteloosheid. Die Gees van God is in die mens en produseer die vrugte van die Gees. Die mens wat onder beheer van die Heilige Gees is, het nie die geskrewe Wet nodig nie.

Jannes en Jambres in die laaste dae

Daar is mense wat glo dat alles in die wêreld net beter word en gaan aanhou beter word. Die Bybel sê die teenoorgestelde. As mens die Bybel lees, verneem jy dat daar ‘n tyd sal kom wanneer alles ‘n toppunt van slegtheid gaan bereik. Dit word genoem  die laaste dae.

Daar word in die Bybel verwys na tekens wat sal aandui dat dit die laaste dae is. Een van hierdie tekens is hoe die mense in daardie tyd gaan wees. Dit vind ons in 2 Timoteus 3:1-9: Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof. Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het. (OAV)

Die PWL-Vertaling praat van  “harde tye”, die King James van  “perilous times”. Buitengewoon moeilike tye wat sal kom. Moeilik om ‘n egte christen te wees.

Die Apostel sê die laaste dae sal uitgeken word aan hoe sleg mense gaan word en dan noem hy die eienskappe wat die slegte mense sal hê. Dit begin met: mense sal liefhebbers van hulleself wees. Die res van die slegte eienskappe vloei hieruit voort. Wanneer mense se eie belange, hulle eie begeertes, hulle eie menings meer sal saak maak as enige iets anders. Hulle sal geen gevoel vir ander hê nie, geen empatie hê nie. Mense sal meen dat hulle altyd reg is, nooit verkeerd is nie, nie nodig het om skuld te erken nie, nie nodig het om vergifnis te vra nie. Hulle sal selfs dink hulle is belangriker as God.

Eintlik was hierdie kenmerke nog altyd teenwoordig by die ganse mensdom. Die van ons wat langer in die tand is, meen ons kan sien hoe die mensdom agteruitgaan. Mense is nie meer soos vroeër nie. Die wêreld is slegter as voorheen. Wat veroorsaak dit? Daar word alhoemeer aan mense gesê: dit is nie jou skuld as jy sleg is nie. Dit is iemand anders of iets anders se skuld. Dit is jou ouers se skuld, dit is iets wat in jou kleintyd gebeur het se skuld, dis ‘n aangebore toestand wat jy het, dit is iemand wat iets aan jou gedoen het, dit is die omgewing, dit is die onreg van die gemeenskap, ensovoorts. Die slegte mens het ‘n verskoning vir hoekom hy sleg is: dit is nie sy skuld nie. Hy het nie nodig om ‘n beter mens te word nie. Derhalwe het hy ook nie nodig om te verander nie, hy het nie genade en vergifnis nodig nie, hy het nie nodig om ‘n goeie verhouding met God te hê nie.

Maar die Apostel skryf nie aan die mensdom nie, hy skryf ook nie van die ganse mensdom nie. Hy skryf aan sy vriend en helper oor hoe dit binne die christendom sal word. Sommige christene sal in die laaste dae ‘n vorm van godsdiens hê, maar hulle sal ver van God se krag af wees. Dit is vanselfsprekend dat as iemand meen hy is altyd reg, dan sal selfs God verkeerd wees. Die krag van God werk om slegte mense te red, los te koop, te bevry uit die mag van die bose. Iemand kan slegs vergewe word vir iets as hy erken dat hy verkeerd is. As hy nie skuld erken nie, waarvoor moet hy dan vergewe word? Dit sal mense wees wat hulleself christene noem en wat dink hulle kan voor God staande bly, dat hulle mag besluit wat reg en verkeerd is en dat God daarby moet inval. Christene wat ontken dat God die gesag het om aan hulle voor te skryf.

Paulus sê aan Timoteus om waaksaam te wees. Hy moet bedag wees op die werkswyse van hierdie slegte mense in die christendom. Hulle wil graag die ander gelowiges oorhaal om soos hulle te wees. Hulle teiken die vroue van die gemeente. Sommige vroue is goedgelowig en word maklik vasgevang in die leuens wat verkondig word. Timoteus moet daarop let dat daar christene is wat leer en leer en niks vorder nie. Dit wat hulle leer sink nie in nie en hulle lewenswyse verander nie. Hulle beoefen nie dit wat hulle leer nie, hulle dink geestelike groei het met vermeerdering van kennis te doen, of hulle dink dit is ‘n emosionele belewenis. Dit is alles tekenend van hoe die laaste dae sal wees.

Om Timoteus te help om beter te verstaan, noem Paulus die voorbeeld van Jannes en Jambres. Net hier hak ons vas. Wie was Jannes en Jambres? Hulle word nêrens elders in die Bybel genoem nie. Timoteus het sekerlik geweet van wie Paulus praat, maar ons weet nie. As hulle as voorbeeld gegee word, moet ons ten minste weet wie hulle was en wat hulle gedoen het. Is daar dalk buite die Bybel enige inligting oor hulle?

Daar is inderdaad brokkies inligting oor hulle in Judaïstiese legendes. Sommige daarvan is redelik vergesog. Plinius die Ouere, die Romeinse geskiedkundige, maak melding van Moses, Jannes en Lotapea as Joodse towenaars uit die ou tyd. Die christelike teoloog Origenes het verwys na ‘n boek oor Jannes en Jambres wat Paulus se bron kon gewees het. Meer onlangs is daar fragmente van ‘n ou manuskrip gevind wat bekend staan as: The Apocryphon of Jannes and Jambres the magicians, vertaal deur Albert Pietersma.

Blykbaar was hierdie Jannes en Jambres twee van die towenaars of wyse manne wat vir die Farao van Egipte gehelp het om Moses teen te staan. Volgens Plinius was hulle, nes Moses, Israeliete. Hulle het nie net vir Moses teengestaan nie, hulle het ook hul eie volk teengestaan en het uiteindelik vir YHWH teengestaan. Paulus sê dat in die laaste dae daar mense soos Jannes en Jambres onder die christene sal wees: so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof.

Paulus se raad aan Timoteus is: Keer jou ook van hierdie mense af. Wie is hierdie mense? Hulle is nie politici, bankiers of die mafia nie. Hulle is christelike predikers en leiers wat verskillende titels gebruik. Hulle verkondig nie ‘n ander godsdiens nie, hulle verkondig ‘n verdraaide vorm van die christelike geloof. Hulle is soos geheime agente, insypelaars wat voorgee om eg te wees. Hulle is lief vir die kalklig, vir geld en vir invloed. Hulle maak aanspraak daarop dat hulle wonderwerke kan doen. Hulle verkondig die dinge van die gevalle wêreld. Hulle verkondig sukses in die wêreld, en sukses word gemeet aan geld en roem. Dit is ‘n vals en verdraaide evangelie. Hulle is die Jannes en Jambres van die laaste dae.

 

 

Vreemde gebeure met die verwoesting van die Tweede Tempel

Die Tweede Tempel in Jerusalem is in die jaar 70 na Christus verwoes en verbrand en niks het oorgebly nie. Dit was maar omtrent 37 jaar na die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus). Die Nuwe Testament was toe al (behalwe miskien vir Openbaring) klaar geskryf. Baie van die apostels was al dood. Die meeste volgelinge van Yeshua het alreeds uit Jerusalem gevlug weens vorige vervolging deur hulle volksgenote. Dit was die einde van ‘n era en ‘n belangrike gebeurtenis om van te weet.

Daar het eienaardige goed gebeur met die vernietiging van die stad en van die tempel. Die tempel is vernietig op die 9de van die maand Av in die jaar 70 na Christus. “Toevallig” is die Eerste Tempel vernietig op die 9de van die maand Av in die jaar 587 voor Christus. Maar dit is nie al nie. Na die Eksodus stuur Moses verkenners na Kanaan, hulle kom terug en 10 uit die 12 rapporteer dat Kanaan nie verower kan word nie. Die Israeliete weier om na Kanaan te gaan – op die 9de dag van die maand Av – en moet 40 jaar in die woestyn rondswerf. Toe die Jode in 133 na Christus teen die Romeine rebelleer, rig die Romeine ‘n slagting onder hulle aan. Natuurlik op die 9de van die maand Av. In 1290 na Christus word Jode uit Engeland gesit op die 9de van die maand Av. In 1492 word Jode uit Spanje verban, weereens op die 9de van die maand Av. Die Jode herdenk hierdie datum as ‘n dag van hartseer.

Aan Daniël, die profeet, is geopenbaar dat die Jode uit ballingskap sal terugkeer na die Eerste Tempel verwoes was in 587 voor Christus. Dan sal hulle Jerusalem en die tempel herbou. Daarna sal die Gesalfde kom en deur Israel verwerp word. Nadat die Gesalfde verwerp is, sal Jerusalem en die tempel weer verwoes word. Let op dat die Gesalfde dus voor 70 na Christus moes gekom het. Daniël 9:26: Ná die twee en sestig tydperke van sewe weke sal Die Gesalfde Een doodgemaak word en die stad sal sonder ‘n heerser wees en die afgesonderde stad sal saam met die komende koning vernietig word en die einde daarvan sal ‘n reuse verbanning wees en aan die einde van die oorlog, word verlatenheid vasgestel. (Aanhalings uit die PWL-vertaling).

Yeshua het oor Jerusalem en die tempel geprofeteer in Lukas 21:5-6: Toe sommige oor die tempel praat, sy mooi klippe en versierings van geskenke, sê Yeshua vir hulle: “Die tyd sal kom dat al hierdie dinge wat julle na kyk afgebreek sal word en daar nie een klip op ‘n ander gelaat sal word nie.”  En ook in Lukas 21:20: en wanneer julle sien dat Yerushalayim omsingel is deur troepe, dan moet julle weet dat sy vernietiging naby is. Ek is van mening dat hierdie profesie aansluit by die gelykenis in Lukas 20:9-16 en veral vers 16: Hy sal kom en daardie werkers vernietig en die wingerd aan ander gee.”

Die Joodse historikus, Flavius Josephus, was in Jerusalem tydens die val van die stad. Hy was ‘n ooggetuie van alles wat plaasgevind het. Hy het alles wat gebeur het, opgeteken in sy werk The Jewish War. Onder andere rapporteer hy dat daar, voor die verwoesting begin het, allerlei vreemde tekens plaasgevind het. Hy het hierdie tekens gesien as afkomstig van God, maar dit was deur die meeste mense en hul leiers geïgnoreer.

Daar was ‘n sekere Jesus, die seun van Ananus, wat vier jaar voor die oorlog begin het, in ‘n tyd toe daar vrede en voorspoed was, Jerusalem toe gekom het vir die Huttefees. Hy het onverwags begin uitroep: “’n Stem uit die Ooste, ‘n Stem uit die Weste, ‘n Stem uit die Vier Winde, ‘n Stem teen Jerusalem en die Heilige Tempel, ‘n Stem teen hierdie hele volk!”. Hy het dit dag en nag in al die strate van die stad gedoen. Sommige vooraanstaande mense was verontwaardig hieroor. Hulle het die man laat vang en hom laat slaan. Ten spyte daarvan het hy aangehou om deur die strate te loop en roep. Hierop het die heersers gedink dat daar iets boos in die man was en het hom na die Romeinse Prokurator geneem. Die Prokurator het hom verder laat slaan totdat die bene in sy liggaam sigbaar was. Tog het die man nie gepleit of trane gestort nie. By elke slag van die sweep was sy antwoord: “Wee, wee Jerusalem!” En toe die Prokurator hom uitgevra het, het hy niks geantwoord nie. Die Prokurator het tot die gevolgtrekking gekom dat die man mal is. Hierdie man Jesus het vir sewe jaar en vyf maande hiermee aangehou sonder om hees of moeg te word.

Tydens die Pesag was ‘n ster wat na ‘n swaard gelyk het bokant die stad. Daar was ook ‘n komeet wat vir ‘n hele jaar gesien kon word. Op die 8ste van die maand Nissan, teen die negende uur van die nag, was daar ‘n sterk lig wat vir ‘n halfuur lank rondom die altaar binne die tempel geskyn het. By dieselfde fees was daar ‘n koei, wat deur die hoëpriester gelei is om geslag te word, wat binne die tempel geboorte gegee het aan ‘n lam.

Die oostelike hek van die binnehof was van koper en baie swaar. Dit het twintig mans gevat om met moeite die hek oop en toe te maak. Hierdie hek het op die sesde uur van die nag vanself oopgegaan. Die wagte in die tempel het na die owerste van die tempel gegaan en hom daarvan vertel. Die owerste het gaan kyk en die hek kon nie weer sonder groot moeite toegemaak word nie. Die meer ernstige mense het dit verstaan as ‘n teken dat die veiligheid van die heilige tempel beëindig was en dat die poort vir hulle vyande oopgemaak is. Hulle het openlik daaroor gepraat en gesê dat verwoesting oor hulle kom. ‘n Paar dae later het ‘n ongelooflike verskynsel plaasgevind. Net voor sonsondergang kon strydwaens en gewapende soldate gesien word wat tussen die wolke beweeg en die stad omsingel.

Tydens die Pinksterfees, toe die priesters in die binnehof van die tempel ingaan om hul gebruiklike werk te doen, het hulle ‘n aardskudding gevoel en ‘n harde geluid gehoor. Daarna hoor hulle stemme binne die tempel wat sê:  “Laat ons hiervandaan weggaan”. Dit herinner aan Esegiel 10:18: Toe het die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van YHWH vanaf die drumpel van die tempel vertrek en oor die gérubs gaan staan.

Die opstand van die Jode teen die Romeine het in 66 na Christus begin toe die Prokurator beslag gelê het op die silwer in die tempel. Die Romeine het, in die proses om die opstand te onderdruk, 3,600 burgerlikes dood gemaak. Nie lank nie, toe is Judea en Galilea ook in opstand. Daar was verskeie Joodse faksies en hulle het teen mekaar begin veg. Daar was swak dissipline, swak leierskap en swak voorbereiding. Op een stadium het hulle, heel onverklaarbaar, hul eie voedselvoorraad vernietig. Die Romeine het die stad omsingel en geïsoleer. Niks kon in of uit nie. Mense het van hongersnood en siektes gesterf. Die hoëpriester se vrou moes oorskiet kos op straat bedel. Daar was kannibalisme. Uiteindelik het die Romeine deur die mure gebreek en ‘n groot slagting onder die Joodse bevolking aangerig. Wie nie gesterf het nie, is as slawe verkoop.

Die Jode het eerste met brandstigting begin, en die Romeine het daarmee voortgegaan. Toe daar niks meer was om te plunder nie en niemand meer om te vermink en dood te maak nie, het die Romeinse soldate die stad verwoes en die tempel aan die brand gesteek. Toe hulle klaar was, was daar niks oor om te wys dat daar ‘n stad was nie. Die bome, tuine en versierings was nie meer daar nie. Feitlik alle tekens dat daar ‘n groot en belangrike stad bestaan het, was uitgewis.

Die Romeinse soldate het die bevel van hulle generaal verontagsaam deur die tempel aan die brand te steek. Daar was groot hoeveelhede goud en silwer wat in die tempel bewaar was. Die hitte van die vuur het die goud en silwer gesmelt en dit het in die krake tussen die klippe ingeloop. Die soldate, in hulle gierigheid, het die reuse klippe losgebreek om by die goud en silwer uit te kom. Toe hulle klaar was, was daar letterlik nie meer een steen op ‘n ander oor nie.

Vir ons is dit belangrik om kennis te neem dat die argiewe ook vernietig is. Die argiewe sou oorspronklike manuskripte van die Ou Testament, manuskripte van ander boeke, geslagsregisters en so meer bevat het. Die oorspronklike rekords van die Jode se geskiedenis, kultuur en godsdiens was daarmee heen.

Waaraan skryf die Jode die verwoesting van Jerusalem en die tempel toe? Hulle gee toe dat die Eerste Tempel verwoes was omdat die volk skuldig was aan afgodery, losbandigheid en moord. Israel het God verwerp. Volgens hulle is die Tweede Tempel verwoes as gevolg van onderlinge haat onder mekaar. Dit was nie omdat hulle God verwerp het nie.

70 na Christus was ‘n draaipunt. Daar het ‘n verdere verwydering tussen Judaïstiese Jode en Christen Jode gekom. Verder het die nie-Joodse christene meer dominant as die Joodse christene geword.

Het die apostel Paulus persoonlik vir Jesus geken?

Die oorweldigende meerderheid  “deskundiges“ sal onmiddellik sê  “nee“. Daar is nêrens in die kanonieke (en apokriewe) boeke ‘n uitdruklike stelling dat Paulus (ook bekend as Saul) vir Yeshua (Jesus) geken het voor die kruisiging nie. Maar dan is daar ook nêrens ‘n uitdruklike stelling wat sê dat Paulus nie vir Yeshua voor die kruisiging geken het nie.

Nogtans, wanneer mens die Nuwe Testament lees, kry mens ‘n “aanvoeling“ dat Paulus wel vir Yeshua geken het en na Hom geluister het. Natuurlik bewys die “aanvoeling“ net mooi niks. Waar kom die “aanvoeling“ vandaan?

Van al die apostels is Paulus die bekendste. Dit is te danke daaraan dat hy prominent in die laaste deel van die boek Handelinge genoem word en ook dat hy in sy briewe soms iets oor homself sê. Nogtans is al hierdie inligting skraps en is daar baie vrae oor hom wat nie beantwoord kan word nie. Die boek Handelinge behoort eintlik die “Handelinge van die Heilige Gees“ genoem te word aangesien dit eintlik vertel wat die Heilige Gees deur mense gedoen het. Met ander woorde, Paulus as persoon is nie belangrik nie, wat die Heilige Gees deur hom gedoen het, is belangrik. Paulus het nie graag oor homself gepraat nie, hy het deurgaans oor Yeshua gepraat. Yeshua is belangrik, nie Paulus nie.

So ook in sy briewe. Paulus het geweldige teenstand beleef. Hy as persoon was dikwels die teiken van vyandige aanslae teen Yeshua. In sulke omstandighede was hy geforseer om sekere dinge oor homself te sê ter wille van sy getuienis van Yeshua. Derhalwe gee hy slegs die minimum inligting oor homself.

Paulus het in Jerusalem groot geword. Hy het ook daar onder Gamaliël studeer. Met die steniging van Stephanus was hy ook daar. Hy het ook ‘n suster gehad wat daar gewoon het. Hy sou ook as Fariseër Paasfees bygewoon het. Dit sou verbasend wees as hy nie van Yeshua se besoeke aan Jerusalem geweet het nie. As Fariseër en onderhouer van die Wet van Moses, sou mens dink dat hy sou belangstel in wat Yeshua gesê en gedoen het. In teendeel, mens sal wonder hoe dit moontlik kon wees dat Paulus nie vir Yeshua gesien en gehoor het nie.

In 2 Korintiërs 5:16 sê Paulus: Van nou af ken ons niemand meer na die uiterlike nie. Selfs al het ons ook Die Gesalfde Een na die uiterlike geken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Dit is nie deurslaggewend nie, maar wel moontlik dat hy hiermee sê dat hy Yeshua geken het. Ook in 1 Korintiërs 9:1 sê hy: Is ek nie vry nie? Is ek nie ‘n afgevaardigde nie? Het ek Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester, nie gesien nie? Is julle nie my werk in my Meester nie? In Handelinge 9:4-5 gee Yeshua nie net sy naam aan iemand wat Hom nie ken nie, maar maak Hy Sy ware identiteit bekend: Hy val op die grond neer en hoor ’n stem vir hom sê: “Sha’ul, Sha’ul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.” Hy sê: “Wie is U, my Meester?” Ons Meester antwoord: “אנא אנא – Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, Yeshua van Natzeret, wat jy vervolg.”  (Aanhalings uit die Bybel is uit die PWL-vertaling). Ons kan ook vra: teen watter prikkels het Paulus geskop?

Die volgende gedeeltes uit Paulus se briewe klink of Paulus eerstehands Yeshua se leringe gehoor het: Romeine 12:9-21, Romeine 13:8, Galasiërs 5:14, 1 Korintiërs 7:10-11, 1 Korintiërs 9:14, 1 Timoteus 5:18. 1 Tessalonisense 4:15-17 is interessant, Paulus haal iets aan wat Yeshua gesê het, maar wat nie deur enige ander evangelis of apostel vermeld word nie: want dit sê ons vir julle na aanleiding van die boodskap van ons Meester, dat ons wat in die lewe oorbly wanneer ons Meester kom, die wat dood is, nie sal vóór wees nie, want Hy, ons Meester, sal vanaf die hemel afkom met ‘n bevel, met die stem van die hoof engel en met die geklank van die trompet van God en dié wat in Die Gesalfde Een gesterf het, sal eerste opstaan en dan sal ons wat nog in die lewe is, saam met hulle as een in die wolke ingedra word na ‘n ontmoeting met ons Meester in die lug en op die manier sal ons vir altyd by ons Meester wees.

Een van die belangrikste redes waarom die moontlikheid dat Paulus vir Yeshua geken het nie vandag bespreek of oorweeg word nie, is te danke aan die invloed van die moderne teologie. Dit lyk dikwels of dit die doel van die moderne teologie is om aan te voer dat die Bybel ‘n menslike boek is en foutief is. Gevolglik word daar baie aandag gegee aan allerlei redenasies wat die boodskap van Yeshua ongedaan wil maak. Die vraag of Paulus vir Yeshua geken het, is deur vroeëre geleerdes ernstig opgeneem. Vandag is hierdie werke vergete.

Indien dit waar sou wees dat Paulus wel vir Yeshua voor die kruisiging geken het, wat sal die betekenis daarvan vir ons wees? In Galasiërs 1:15 noem Paulus dit dat God hom reeds in die baarmoeder afgesonder het. Hy was toe al bestem om ‘n apostel van Yeshua te word. Daar word nie voor sy Damaskuspad ervaring gesê dat Paulus ‘n probleem met Yeshua gehad het nie. Dit was vir hom ‘n skok toe Yeshua vra waarom vervolg jy My? Hy was bekend met Yeshua en Sy boodskap en het nie ‘n probleem daarmee gehad nie. Hy het eers na Yeshua se opstanding ‘n probleem ontwikkel. Hierdie probleem was nie met Yeshua nie, maar blykbaar met die mense wat verkondig het dat Yeshua uit die dood opgestaan het. Op die pad Damaskus toe, besef Paulus dat Yeshua werklik leef en dat Hy die Gesalfde is. Hierna het Paulus in sy getuienis altyd klem gelê op die werklikheid van die opstanding. Keer op keer het hy die opstanding van die dooies beklemtoon en bevestig dat Yeshua, die Gesalfde, die eerste Een was wat uit die dood opgestaan het.

Het Paulus vir Yeshua in die vlees geken? Besluit maar self.

Save

Save

‘n Groot Bybelse vertaalfout

Waar die woord kerk vandaan kom en wat sy oorspronklike betekenis was, is nie absoluut seker nie. Waarom die woord  kerk in die Bybel gebruik word, in plaas van die korrekte woord, is ‘n kwessie van bespiegeling. Waarom dit nie reggestel word nie, kan ek ook nie sê nie.

Die oorsprong van die woord kerk word gegee as afkomstig van dieselfde Germaanse woord waar sirkel ook vandaan kom. Alternatiewelik is dit van ‘n Griekse woord kyriakos wat die heer se huis beteken. Nog ‘n teorie is dat dit van die songodin Cirece afkom. Kom ons aanvaar dus dat kerk van kyriakos afkom want dit is uit Grieks en klink of dit Bybels kan wees.

Die slegte nuus is dat dit nie die woord kyriakos is wat as kerk vertaal word nie. Dit is die woord ekklesia wat as kerk vertaal word. Ekklesia beteken iets heel anders, dit beteken nie die heer se huis nie, dit beteken vergadering van uitgeroeptes. Nou hoekom sal sommige vertalings van die Bybel ekklesia nie vertaal as vergadering van uitgeroeptes nie maar as kerk?

Wat beteken die woord kerk? Taalkundig kan die woord kerk verwys na ‘n kerkgebou, ook na ‘n organisasie van Christene wat ‘n sekere denominasie verteenwoordig, dit kan ook verwys na ‘n sekere groep mense wat gereeld op ‘n plek bymekaar kom en gewoonlik ge-affiliëer is met ‘n sekere denominasie. In die Nuwe Testament was daar nie sulke geboue nie, ook nie denominasies nie en ook nie sulke groepe mense nie. Derhalwe, dit wat die woord kerk beskryf en beteken kom glad nie in die Nuwe Testament voor nie. Die woord kerk is ‘n vreemde woord en behoort nie in die Bybel te wees nie.

Hoe het dit gebeur dat hierdie vreemde woord in die Bybel gekom het? Die oorspronklike Protestantse vertalings was korrek en het ekklesia reg vertaal. Byvoorbeeld die Engelse vertaling van Tyndale het ekklesia vertaal as ”congregation”. Die woord ”congregation” beteken ”to gather into a body”. Die Statenvertaling het ekklesia vertaal as gemeente. Luther het ”gemeinde” gebruik. Die oorspronklike betekenis van gemeente in Nederlands en Duits is ‘n ”eenheid van openbare bestuur” (soos ‘n dorpsbestuur). Die woord ekklesia het in die Ou Testament verwys na ‘n vergadering van die volk. In die Griekse stadstate was dit ‘n vergadering van verteenwoordigers wat die stad bestuur.

Die woord  ”congregation” is in die King James Version vervang met die woord  ”church”. Koning James I van Engeland het opdrag gegee dat ‘n nuwe vertaling van die Bybel gedoen moet word. Hy het aan die vertalers 15 opdragte gegee waaraan die vertaling moes voldoen. Koning James I het vereis dat die nuwe vertaling moes ooreenstem met die ekklesiologie  van die Church of England (Anglikaanse Kerk). Dit moes die kerk se episkopaalse struktuur en ook die kerk se geloof in geordende ampte reflekteer. Gevolglik is die Bybel so vertaal dat dit ‘n kerkgenootskap moes pas. Die woord ”church” beteken dus in die eerste plek kerkgenootskap of denominasie.

Goed, maar dit is in Engels. Hoe raak dit Afrikaans? Die Ou Afrikaanse Vertaling (OAV) van 1933/1953 het, in die voetspore van die Statenvertaling, ekklesia as gemeente vertaal. Die afwyking in Afrikaans het met die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV) van 1983 gekom. In hierdie vertaling word ekklesia vertaal as kerk. Effektief beteken dit dat die vergadering van uitgeroeptes verander is na die vergadering van die kerkgenootskap se geordende ampsdraers. Dit is ‘n wesentlike verandering van die Bybel.

Watter weergawe van Matteus 16:18 klink korrek: ”En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk (d.w.s. kerkgenootskap) bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (NAV). Of: ”en Ek sê verder vir jou: ‘Jy is Kefa. Op Hierdie Rots sal Ek My vergadering van uitgeroeptes bou en die hekke van Sh’ol sal nie daarteen kan staan nie.” (PWL).

Miskien kan die ekklesia met hierdie voorbeeld verduidelik word. Die Skaapwagter roep die skape wat aan Hom behoort om na Hom toe te kom. Daar is baie skape, maar nie almal behoort aan Hom nie. Die skape wat aan Hom behoort hoor Sy stem en hulle herken Sy stem. Die skape gaan na die Skaapwagter toe en versamel om Hom. Nou lei die Skaapwagter Sy skape na waar daar goeie weiding is.

Ons het tot dusver aanvaar dat die Germaanse woord kerk afkomstig is van die Griekse woord kyriakos wat huis van die heer beteken. Dit verklaar dalk hoekom daar na ‘n kerkgebou verwys word as die ”huis van die Here”. Dit is natuurlik ook foutief.

Indien die vertaling van ekklesia as kerk net ‘n fout was (almal maak foute), hoekom word dit dan nie reggestel nie?

Save

Save

Wanneer jy jou eie kop wil volg

Aanvanklik, voor ek begin het om op te let, het ek nogal simpatie met koning Saul van Israel gehad. Ek het al ongeduldig geword, oorhaastig gewees, verkeerde besluite geneem. Dit het vir my geklink asof dit Saul se oortredings was en dat hy as gevolg daarvan die koningskap verloor het.

Plaas jou in sy skoene. ‘n Oormag Filistyne was op pad om Israel aan te val. Saul se manne was besig om te dros, party het gaan wegkruip,die res was bewend van vrees. Hy moes iets doen. Die mense het van hom, die koning, verwag om beslissend op te tree. Maar hy moet wag tot Samuel kom, en Samuel sloer om te kom. Dit was ‘n krisis. Het hy nie maar net ‘n menslike fout gemaak nie? Was hy nie dalk net oorhaastig nie? Is hy nie onregverdig behandel nie?

Saul se geskiedenis begin toe Israel ‘n koning wou hê. Die regeringsvorm wat deur YHWH aan hulle gegee was, was ‘n teokrasie. Geen regering deur ‘n koning nie, geen regering deur priesters nie, geen regering deur stamhoofde nie. Slegs God regeer. Dit het wel van tyd tot tyd gebeur dat YHWH vir hulle ‘n rigter gegee het, maar dit was net tydelik en was bedoel om slegs op ‘n sekere situasie van toepassing te wees. Na amper 400 jaar van teokrasie wou Israel toe ‘n monargie hê.

Om ‘n koning te hê is baie duurder as om ‘n rigter te hê. Met ‘n rigter is daar nie ‘n paleis, ‘n staatsdiens, staande mag, raadgewers en personeel nodig nie. ‘n Koning sal dit alles nodig hê en sal ook vergoeding moet ontvang. Gevolglik sal die koning belasting moet instel om die koste van regering te dek.

YHWH het voorsien dat dit mag gebeur en het in Deuteronomium 17:14-20 Sy vereistes gestel waaraan ‘n toekomstige koning moet voldoen. Ten eerste mag die koning nie ‘n uitlander wees nie. Tweedens mag hy nie homself verryk met baie perde, baie vroue, baie silwer en goud nie. Derdens moet hy ‘n afskrif van die wet maak deur dit in ‘n boek te skryf. Ten laaste moet hy sy lewe lank die Bybel (toe was dit seker net die eerste 8 boeke van die Ou Testament gewees) gereeld lees.

Hoe vind jy iemand uit jou eie volk om koning van die volk te word? Dit is ‘n permanente aanstelling, ‘n koning kan nie weer afgedank word nie. As ‘n monargie eers ingestel word, is dit oorerflik en sal die koning se kinders hom opvolg. Al is die volk tevrede met die huidige koning, mag sy opvolgers dalk glad nie soos hy wees nie.

Daar is op 3 maniere bevestig dat Saul die keuse vir koning was. Hy was YHWH se keuse en YHWH het dit aan Samuel, die laaste rigter, gesê. 1 Samuel 9:17: Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers. Tweedens moes Saul oortuig word dat hy inderdaad YHWH se keuse vir die koningskap is. Samuel gee aan Saul drie tekens wat sy keuse as koning sal bevestig. Laastens moet die volk oortuig word dat Saul die regte persoon vir die koningskap is. Deur die lot is almal uitgeskakel todat Saul alleen oorgebly het. 1 Samuel 10:24: En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe!

In 1 Samuel 10:8 het Samuel die volgende opdrag aan Saul gegee in geval van oorlog: En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan, en kyk, ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.

Blykbaar het daar niks noemenswaardig gebeur in die eerste jare van Saul se bewind nie. Sy seun Jonatan het ‘n volwasse man geword en was een van die aanvoerders van Saul se staande mag van 3,000 man. Dit was dan ook Jonatan en sy 1,000 man wat die eerste aanval teen die Filistyne geloods het. 1 Samuel 13:3-4: En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor! En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe. Saul het die eer van Jonatan vir homself gevat. 

Saul het die reserviste opgeroep en hulle moes by Gilgal aanmeld. In 1 Samuel 13:5-14 word vertel wat gebeur het en waar Saul gefaal het. Saul was onder groot druk. ‘n Groot mag Filistyne was in aantog. Die Israeliete het hulle wit geskrik, hulle dros en kruip weg. Die wat oorgebly het, was bewend van vrees. Saul het 7 dae lank gewag, maar Samuel kom nie. Hy kon nie langer wag nie, en offer toe self die brandoffer en dankoffer. Net toe daag Samuel op. Saul se verduideliking is nie vir Samuel aanvaarbaar nie. 1 Samuel 13:13: Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.

Wat was nou so erg hieraan? Goed, hy het nie Samuel se opdrag uitgevoer nie, maar hy was onder groot druk. Wat moes hy doen as Samuel glad nie opdaag nie? Hierdie opdrag van wag vir sewe dae was nie net ‘n opdrag van Samuel nie, dit was ‘n opdrag van YHWH. Saul was dus ongehoorsaam aan YHWH. Slegs die priesters was toegelaat om offers aan YHWH te bring, die koning mag dit nie gedoen het nie. Saul het die offers onteer. Saul het skynbaar gedink dat die offers net ‘n seremonie was. Hy het nie veel gedink oor die betekenis daarvan nie. Het hy ooit die wet, wat hy moes ken, gelees? Het hy gedink hy en sy soldate sal die oorlog in eie krag wen, dat YHWH se hulp nie nodig is nie? Saul het nie op YHWH vertrou nie. Saul het nie goeie oordeel gebruik nie. Saul was ‘n dwaas.

Hierna was dit afdraend vir Saul. In 1 Samuel 14 lees ons van die nuwe laagtepunte in sy koningskap. Hy stuur sy manne teen die vyand sonder dat hulle mag eet. Hy hou ook die Verbondsark by hom op die slagveld.

Dan kom ons by die heel ergste in 1 Samuel 15. Israel veg teen Amalek. YHWH gee duidelik opdrag aan Saul wat hy moet doen. Saul doen dit nie. Vir sy oorwinning oor Amalek rig hy ‘n gedenkteken vir homself op. Ergste van alles, hy sê aan Samuel dat hy YHWH se opdrag uitgevoer het. Dit was opsigtelik onwaar. Hoekom doen hy dit? Sê hy maar net so om Samuel tevrede te stel of glo hy werklik dat hy die opdrag uitgevoer het? Dit is verstaanbaar as iemand oor iets lieg en hy weet hy lieg. Dit is ‘n heel ander saak as iemand lieg en hy glo sy eie leuen.

So het dit gebeur dat ‘n man wat in sy jeug groot belofte ingehou het, te gronde gegaan het. Hy het nie vir YHWH ernstig opgeneem nie.

Save