Die boeke van die Ou Testament

Christene verskil oor watter boeke in die Ou Testament moet wees, en watter nie. Rofweg sou mens kon sê dat dit hoofsaaklik verskille is tussen Protestante, Katolieke en Ortodokses. Elkeen het natuurlik sy eie redes waarom ‘n boek in die Bybel, of nie in die Bybel nie, moet wees. Daardie boeke wat ingesluit word, word “die kanon” genoem.

Protestante en Mormone (ook bekend as die Heiliges van die Laaste Dae) aanvaar slegs die boeke in die Hebreeuse Ou Testament (die Tanakh) as kanon. Die 24 Hebreeuse boeke is verdeel in 39 verskillende boeke. Die Katolieke, Ortodokse en Oosterse kerke het ander boeke ook in hulle kanons. Protestante noem die boeke wat hulle uitsluit “apokriewe boeke”, Katolieke noem dit “deuterokanoniek”, die Grieks Ortodokses noem dit “anagignoskomena”.

Die boeke wat die Katolieke meer het as die Protestante is Tobit, Judit, 1 Makkabeërs, 2 Makkabeërs, Wysheid van Salomo, Wysheid van Ben Sirag en Brief van Jeremia. Altesaam het hulle 46 boeke in hulle Ou Testament.

Die Ortodokses se kanon bestaan uit die 46 boeke wat die Katolieke erken, plus 1 Esdras, 3 Makkabeërs, 4 Makkabeërs, Gebed van Manasse, Barug en Psalm 151. As ek reg tel, is dit 51 boeke. Hierdie bykomende boeke is opgeneem in die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament wat gedoen is tussen 280 en 130 v.C), maar nie in die Tanakh (die Masorete se Hebreeuse Ou Testament wat tussen die 7de en 10de eeue n.C tot stand gekom het) nie.

Die Septuagint en die Masoretiese teks verskil op baie plekke van mekaar. Aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe Testament, stem oor die algemeen meer ooreen met die Septuagint as met die Masoretiese Teks. Dit is dus duidelik dat die Masoretiese Teks (en dus ook die Tanakh en die Protestantse Ou Testament) nie die beste bron is nie.

In die vroeë jare van die Christendom was die enigste weergawes van die Ou Testament die Griekse Bybel (Septuagint) en die Aramese Bybel (Peshitta). Indien daar toe reeds ‘n kanon bestaan het, moes dit bestaan het uit dieselfde boeke as wat in hierdie twee Bybels was.

In die westelike deel van die Romeinse Ryk het Latyn die algemene taal geword. In omtrent 400 n.C het die Pous aan die geleerde Hiëronymus opdrag gegee om die Bybel in Latyn te vertaal. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat. Hiëronymus het die grootste deel van sy vertaling uit Hebreeus gedoen. Sommige van die boeke wat in die Septuagint is, kon hy nie in Hebreeus opspoor nie en gevolglik het hy daardie boeke uitgesluit uit sy vertaling. Hierna het die Katolieke die boeke in die Vulgaat as kanoniek aanvaar.

Die oudheid van die Peshitta word wyd en syd erken. Die presiese ontstaan van die Siries-Aramese vertaling (uit Hebreeus) is tans onbekend, maar dit word teruggevoer na die 1ste of 2de eeu n.C. Hierdie Ou Testament stem wesentlik ooreen met die Ou Testament wat deur Palestynse Jode gebruik is. Dit sluit ook die Apokriewe Boeke in. Die oorspronklike Ou Testament was nie verdeel in kanonieke en apokriewe afdelings nie, alles was een Ou Testament.

Daar is Afrikaanse vertalings van die Apokriewe Boeke beskikbaar. Die eerste staan bekend as “Ou-Testamentiese Apokriewe” deur PA Verhoef, die tweede is “Apokriewe Ou en Nuwe Testament: Verlore boeke uit die Bybelse tyd” deur Jan van der Watt en Francois Tolmie. Hierdie boeke is nie in Afrikaanse Bybels nie en moet apart aangekoop word. Dit is, sover ek kan vasstel, ook nie elektronies beskikbaar nie. Daar is ook ander boeke wat bemark word as “apokrief”, byvoorbeeld “Die boek van Henog” en “Die boek van Jasher”. Hierdie boeke is nie deel van enige kanon nie en was nie ingesluit in die oorspronklike Ou Testament nie.

Vir diegene wat die Bybel sien as “Die Woord van God” en “Die Heilige Skrif” is dit belangrik om te weet watter boeke gesaghebbend is en watter nie. Dit is immers YHWH se kommunikasie met ons, Sy openbaring van Homself aan ons.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Van prentjies tot letters

Tot en met die toring van Babel, was Adam se taal die enigste taal wat bestaan het. Daarna het hierdie taal, as gevolg van die spraakverwarring, verander in ‘n menigte tale. Dit was natuurlik gesproke taal.

Maar wat van die geskrewe taal? Hoe het skrif ontstaan en hoe het dit verander? Het die spraakverwarring ‘n invloed gehad op skrif?

Niemand weet wie skrif uitgevind het nie. Ons weet ook nie wat die rede was hoekom dit in die eerste plek nodig was om te skryf nie. Miskien het die mense, na hulle vermeerder het, verder uitmekaar begin woon en was dit nodig om met mekaar te kon kommunikeer. Dalk was dit nodig om ooreenkomste eerder skriftelik as mondelings te sluit om dispute uit te skakel. Ek weer dink skrif is uitgevind sodat die Bybel geskryf kon word.

Dink daaraan. Iemand het skrif uitgevind, maar daar was niemand wat dit kon lees nie. Dit sal totaal sinloos wees. Skrif en lees gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie.

Die Bybel vertel die mens se geskiedenis van die begin af en ek is oortuig dat dit die oudste geskrif is wat bestaan. Die heel oudste geskiedenis is opgeteken in die boek Genesis. Genesis bestaan uit 12 antieke boeke wat op mekaar volg. Die oudstes is geskryf op ‘n manier wat soortgelyk is aan hoe ou kleitablette geskryf is. Dus het Moses iewers in besit gekom van ‘n klompie antieke geskrifte (op kleitablette) wat moontlik in ‘n ouer taal en skrif geskryf was. Hy het dit toe oorgeskryf in die taal en skrif van sy tyd. Die skryfmateriaal in Moses se dae was ook anders as wat in antieke tye gebruik is.

Voor die tweede millenium voor Christus, was die taal en skrif proto-Semities (die taal voor Babel). Die skrif van hierdie ou taal was die fondament van alle latere skrifstelsels – ook die Latynse alfabet en Sjinese skrif. Tydens die tweede millenium voor Christus, was die algemene taal in die Midde-Ooste proto-Wes-Semities (Aramees, met Hebreeus wat later uit Aramees ontwikkel het) en die skrif kan dieselfde genoem word. Hierdie was die tydperk van Abraham, Moses en Dawid en die tyd toe ‘n groot gedeelte van die Bybel tot stand gekom het. Die skrif wat van omtrent 1000 v.C. tot omtrent 300 v.C. gebruik was word paleo-Hebreeus genoem. Dit was die skrif wat tydens die tyd van die Profete gebruik is.

Danksy die navorsing van André H Roosma, kan ons nou iets verstaan oor die begin van skrif. Iemand wil iets kommunikeer aan iemand anders, daar is ‘n boodskap wat oorgedra moet word. Die boodskap word opgebreek in begrippe wat voorgestel word deur ‘n prentjie of simbool. Sê maar die boodskap is dat die koning dood is. ‘n Simbool wat “koning” voorstel en ‘n simbool wat “dood” voorstel, word gebruik.

Destyds was die oer-os (aurog) gesien as die sterkste en belangrikste dier. ‘n Prentjie of simbool van ‘n oer-os het die betekenis van “die belangrikste” of “die sterkste” of “die eerste” gedra.  ‘n Ander begrip is “binne” of “deel van” en dit word verteenwoordig deur ‘n prentjie van die binnekant van ‘n tent. Nog ‘n voorbeeld is die prentjie van ‘n deur. Dit verteenwoordig die begrip “ingang” of “beweging”. So het daar 22 simbole ontstaan en hierdie simbole was die begin van skrif. Deur hierdie prentjies op ‘n sekere manier langs mekaar te rangskik, kry dit ‘n groter betekenis.

Die oud-Hebreeuse skrif was oorspronklik ook prentjies. Later het dit verander in ‘n alfabet waar die prentjie ‘n letter geword het. Hierdie alfabet het uit 22 letters, wat almal konsonante was, bestaan. Omdat daar nie vokale was nie, moes uitspraak mondelings oorgedra word. Nog later is begin om die regte vokale en uitspraak aan te dui met diakritiese tekens. Diakritiese tekens is kolletjies en strepies op of in die letters.

Moderne Hebreeus (sedert die Middeleeue) word met vierkantige letters geskryf. Dit verskil aansienlik van die skrif waarmee die grootste deel van die Ou Testament oorspronklik geskryf is.

Ten spyte van al hierdie veranderings in skrif deur die eeue heen, het die boodskap van die Bybel behoue gebly. Die Bybel is YHWH se kommunikasie met ons, Sy skepsels. Dit is goed om te weet dat dit wat ons lees betroubaar en vas is.

Vandag gebruik ons weer prentjies. Dink aan emosiekone (emojis) en ikone.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Die oorspronklike Nuwe Testament

aramees

In die fliek Passion of the Christ praat die Romeine Latyn en die Jode (Judeërs) Hebreeus-Aramees. Hoe sou dit gewerk het as die Jode in die fliek Grieks gepraat het?

Die hoofstroom geleerdes (hulle noem hulleself serious scholars) glo die Nuwe Testament is oorspronklik deur Jode in Grieks geskryf. Hierdie is die gevestigde en wydverspreide siening. Daar word geglo dat Grieks, na Alexander se verowerings (335 – 323 v.C.), die lingua franca van die Midde-ooste geword het.

Daar is ook ‘n minderheidsiening dat die Nuwe Testament oorspronklik in Aramees geskryf is, dit word die Peshitta Primacy genoem. Aramees was die algemene taal in die Midde-ooste sedert die Assiriese Ryk tot die Islamietiese verowerings (omtrent 700 v.C. tot 700 n.C.). Hoewel Grieks meer belangrik geword het, het die gebruik van Aramees toegeneem en was dit die belangrikste taal in daardie gebied.

Volgens ‘n argeoloog wat die Dooie See Rolle bestudeer, Yigael Yadin, was Aramees die skryftaal van daardie tyd. Hy het waargeneem dat die skryftaal van Aramees na Hebreeus verander het teen omstreeks 135 n.C.

Volgens die Joodse historikus Josephus (37 n.C. tot 100 n.), kon hy nie daarin slaag om Grieks te bemeester nie. Dit was ‘n algemene probleem onder sy volksgenote en nie meer as 2 of 3 kon daarin slaag om Grieks onder die knie te kry nie. Dit sou dus vreemd wees as, byvoorbeeld, Joodse vissermanne Grieks kon skryf.

Die pro-Griekse kamp verwys na Paulus wat van Tarsus was en geskryf het aan Christene wat in Griekssprekende stede gewoon het. Dit is vir hulle ‘n bewys dat die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Hier volg ‘n vergelyking van een teks wat lig op die saak werp. (In Engels omdat nie alles in Afrikaans beskikbaar is nie.)

In Efesiërs 4:8 haal Paulus Psalm 68:18 aan: Wherefore he saith, When he ascended up on high, he led captivity captive, and gave gifts unto men. (KJV).

Psalm 68:18 volgens die Masoretiese Teks sê: Thou hast ascended on high, thou hast led captivity captive: thou hast received gifts for men; yea, for the rebellious also, that the LORD God might dwell among them. (KJV).

Dieselfde vers in die Engelse vertaling van die Septuagint lees: Thou art gone up on high, thou hast led captivity captive, thou hast received gifts for man, yea, for they were rebellious, that thou mightest dwell among them. (Die Masoretiese teks stem ooreen met die Septuagint.)

Die voor-Christus Siriese Peshitta stel die psalm soos volg: You ascended on high, led captivity captive and gave gifts to the sons of men (Dit stem ooreen met Paulus se aanhaling.)

Wat leer ons hieruit? Paulus gebruik die Hebreeus-Aramese Ou Testament, nie die Griekse Septuagint nie (natuurlik ook nie die Masoretiese teks nie). Die enigste bron wat Paulus kon gebruik het, was die Siriese Peshitta (of ‘n ander teks wat daarmee ooreenstem).  Die mense aan wie hy skryf, moes sekerlik dieselfde Siriese Ou Testament gebruik het, anders sou hulle hom kon aanspreek dat sy aanhaling verkeerd is en dat hy die Skrif verdraai.

Ons Afrikaanse en Engelse weergawes van die Nuwe Testament is vertaal uit Griekse manuskripte soos The Greek New Testament. Die Griekse manuskripte is op hulle beurt weer vertaal uit Aramees. Dit beteken dat ons vertalings nie uit die oorspronklike gedoen is nie.

Waarom moet ons dit weet? Agtergrond kennis is belangrik by die studie van die Bybel. Dit is ook nodig om hoofstroomdenke te toets en te bevraagteken. Anders word ons passiewe meelopers. Ons kan nooit rus in ons soeke na die beste teks nie, die soeke na die oorspronklike teks van die Bybel.

 

 

Save

Save

Save

Die oorspronklike Ou Testament

2598cf445553998bed16a16e4e1b6758Ons vertalings van die Bybel (Ou en Nuwe vertaling) gebruik die Masoretiese Teks as bron vir die Ou Testament. Ander Prostestantse vertalings doen dieselfde. Die Masoretiese Teks is die werk van Joodse geleerdes tussen die 7de en 10de eeue, d.w.s. 600 tot 900 jaar na Christus.

Die Oorspronkllike Ou Testament is gebruik deur Yeshua (Jesus) en sy apostels. Hulle het hieruit aangehaal en die Skrif verklaar. Die Septuagint is ‘n Griekse vertaling van die Oorspronklike Ou Testament wat in die 3de eeu voor Christus gedoen is. Die aanhalings deur Yeshua en die apostels stem grootliks ooreen met die Septuagint.

Die vraag is hoeverre die Oorspronklike Ou Testament en die Masoretiese Teks ooreenstem. Indien daar verskille is, hoe ernstig is daardie verskille?

In Lukas 4: 18-19 haal Yeshua aan uit Jesaja 61:1-2. (Ek gebruik die AOV hier).

Lukas (4:18) Die Gees van die Here is op My, omdat Hy my gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; (4:19) om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.

In vers 21 sê Yeshua: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. Kort hierna wou almal in die sinagoge Hom van ‘n krans afgooi.

Kom ons kyk nou na Jesaja 61:1-2.

Jesaja (1) Die Gees van die Here HERE is op my, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; (2) om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here …

Daar is verskille tussen die Ou en Nuwe Testamente weergawes, maar die verskille is nie te groot nie. Die verkondiging van sig aan blindes is uitgelaat in die Masoretiese Teks.

Kom ons kyk na ‘n tweede voorbeeld. In Romeine 9:33 haal Paulus Jesaja 28:16 aan.

Romeine (9:33) Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Jesaja (28:16) daarom, so sê die Here HERE: Kyk ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.

Hier is ‘n groot verskille. Die Masoretiese Teks maak die steen van struikeling ‘n hoeksteen. Die steen is ook nie ‘n persoon nie.

Dit is duidelik dat die Masoretiese Teks nie onfeilbaar is nie en gekontroleer moet word teen ander tekste soos die Septuagint. Nou is die vraag: Hoekom verskil die Masoretiese Teks van die Oorspronklike Ou Testament? Van die redes wat aangevoer word, is dat die tekste wat tot hierdie geleerdes se beskikking was, reeds korrup was. Hulle was ook mense wat nie geglo het dat Yeshua die Gesalfde is nie, en kon tekste gekies het wat met hulle sienings ooreenstem. Hulle kon ook doelbewus tekste, wat in Yeshua bewaarheid is, verander het.

‘n Groot probleem is dat daar heelwat christelike geleerdes is wat die Masoretiese Teks nie bevraagteken nie, maar eerder aanprys.

Wat kan ons, wat die Bybel lees in ons eie taal, hieromtrent doen? Seker nie veel nie. Ons kan die PWL-vertaling (die Pad van Waarheid na Lewe, ‘n letterlike vertaling uit die oorspronklike tale) gebruik. Ons kan ook op die Internet tekste (in Engels) met mekaar vergelyk. Ons moet bewus wees dat daar verskille kan wees en ons moet probeer om die mees korrekte tekste te soek en gebruik.

 

 

 

Save

Save