Aan die einde van die bloedspoor is ‘n Boer

Ons kan Herrie die Strandloper (ook bekend as Autsumao van die Goringhaikonas) as die eerste plaasmoordenaar beskou. Op 19 Oktober 1653 vermoor hy en sy maats vir David Jansz, die Kompanjie se veewagter. Hulle steel ook bykans die hele kudde beeste. Hy vlug, maar 2 jaar later kom hy terug en kom skotvry daarvan af. Van Riebeeck straf hom nie vir sy misdade nie en laat hom toe om weer daar te bly.

Mettertyd het ons voorgeslagte ‘n deurgang deur die berge gekry en hulle in die binneland gaan vestig. Hulle beweeg verder ooswaarts en teen 1770 bereik hulle die Sneeuberge. Hierna vestig sommiges hulle in die Zuurveld wat grens aan die Xhosa stamgebiede. Dit is hier waar hulle vir die eerste keer swartmense ontmoet het. Nie lank nie, toe is daar moeilikheid.

Teen 1779 was veediefstal deur die Xhosas so algemeen dat die blankes hulle plase moes verlaat. Optrede deur kommando’s in 1780 slaag om vee terug te kry, maar hulle kon nie die Xhosas van die plase af verdryf kry nie. Die regering in die Kaap het toe vir Adriaan van Jaarsveld as veldkommandant aangestel en sy kommando kon vee terugkry en Xhosas uit die Zuurveld verdryf. Hierdie was die Eerste Grensoorlog en die oorsake was veediefstal en grondroof. Adriaan van Jaarsveld was later een van die leiers wat die republieke van Swellendam en Graaff-Reinet gestig het.

Hierna volg die Tweede, Derde, Vierde en Vyfde Grensoorloë. Die redes bly dieselfde: veediefstal en grondroof. Die owerhede probeer met versoening die saak oplos, en dit werk nie. Eers probeer die Kompanjie en daarna probeer die Britse Empire. Die blankes in die binneland begin besef dat die owerhede nie na hulle omsien nie en die republikeinse ideaal word gebore.

Ten spyte van die vorige oorloë het toestande aan die Oosgrens bly verswak. Die Britte het nie ‘n konsekwente beleid gevolg nie en die Xhosas het dit gesien as swakheid by die blankes. Die Koloniale Regering het troepe in die gebied verminder en beperkings op die kommando’s geplaas. Handelaars het wapens en ammunisie aan die Xhosas verkoop. Gewapende Khoikhoi drosters sluit by die Xhosas aan. Die grensboere en setlaars besef hoe onveilig die situasie geword het. In 1834 bars ‘n groot mag Xhosas oor die grens. ‘n Honderd blankes word vermoor, opstalle word geplunder en afgebrand, 7 000 mense word dakloos. Die grensboere verloor 115 000 beeste, 161 000 skape en bokke, 5 700 perde en 60 waens. Die Britte tree op teen die Xhosas en behaal ‘n klinkende oorwinning. Vir hierdie poging het die Britte voorrade, waens en perde by die grensboere opgekommandeer. Die Britte se vergoeding aan die grensboere was maar karig. Verder het hulle die grensboere daarvan beskuldig dat hulle die Xhosas aanhits deur hulle vee te gaan terugneem. Die Britte se hantering van die grensboere tydens die Sesde Grensoorlog was een van die oorsake van die Groot Trek.

Na my mening was die moorde tydens die Groot Trek in prinsiep dieselfde as vandag se plaasmoorde. Die Voortrekkers het nog nie grond gehad nie, hulle was nog opsoek na grond. Hulle het nie enige iemand bedreig nie, hulle was nie in vyandskap met iemand anders nie. Hulle het nie verwag dat hulle aangeval sou word nie.

Die Van Rensburg-trek het gesoek na ‘n roete na Delalgoabaai. Niksvermoedend het hulle naby die stat van Manukozi uitgekamp. Gedurende die nag word hulle aangeval. Hulle veg verbete terug, maar hulle ammunisie raak op en hulle word uitgemoor. Karel Tregardt vind hulle beendere en begrawe dit.

Van die Potgieter-trek se mense kamp uit naby die Vaalrivier. Stephanus Erasmus en ander het gaan jag. Toe hulle die aand terugkeer, kom hulle af op Matabeles wat hulle kamp aangeval het en die blankes en die nieblanke bediendes vermoor het. Erasmus en sy een seun jaag na die ander Trekkers om hulle te waarsku. Die Liebenbergs trek nie betyds laer nie en word die oggend aangeval. Sommiges het wonderbaarlik ontkom,  maar al die vee word gesteel en twee meisies en ‘n seun word ontvoer. Die lot van hierdie kinders is nie bekend nie. Die slag van Vegkop het hierop gevolg.

Nadat die Zoeloekoning, Dingaan, vir Piet Retief en sy 70 metgeselle laat vermoor het, het hy opdrag gegee dat die res van die Voortrekkers ook uitgewis moes word. Die laers was wyd uitmekaar al langs die Tugelarivier en sy sytakke. Op 16 Februarie 1838 bekruip die Zoeloes die niksvermoedende Voortrekkers. Die nag van die aanval was dit donkermaan. Die Voortrekkers het eers besef wat aangaan toe die Zoeloes tussen hulle was. Twee Bezuidenhout broers kon ontsnap om ander laers te waarsku. Die aanval was op die laers wat by Bloukrans, Moordspruit en Weenen gestaan het. Van die Voortrekkers is 41 mans, 56 vroue, 185 kinders en 200 bediendes uitgemoor. Die aanvalle het met ongekende wreedheid plaasgevind. Die slagoffers se liggame is oopgeskeur, vroue is met skerpgemaakte stokke in die onderlyf deurboor en kinders is teen wawiele doodgeslaan. ‘n Strafekspedisie is uitgestuur maar dit het misluk. Uiteindelik het dit gelei tot Bloedrivier.

Ook tydens die Anglo-Boere Oorlog is geweldsmisdade teen veral kinders en vroue gepleeg. Die Havenga-verslag bevat inligting hieroor. Hierdie misdade was gepleeg deur Britse soldate en Swart troepe wat aan Britse kant geveg het.

Die wreedheid teenoor ons voorgeslagte het ook verkragting ingesluit. Dit word nie uitdruklik so genoem in geskiedenisboeke nie. Die slagoffers wou nie daaroor praat nie. Hulle het ook nie die woord “verkragting” gebruik nie maar eerder gepraat van “ontering”.

Sedert 1994 vind sulke wreedheid weer teen blankes plaas. Die geskiedenis herhaal homself. Dit is nou al 23 jaar later en daar is geen vooruitsig dat dit gestop gaan word nie. Nie deur die owerhede nie.

Kort ons ‘n leier? Ons het leiers. Kort ons ‘n plan? Ons het ‘n plan. Wie gaan ons help? Niemand nie. Moet ons bid? Net as ons ons bekeer en verootmoedig het. By Bloedrivier het ons voorouers geen ander opsies gehad nie. Dit was oorlewing of uitwissing. Ons gaan weer daar kom.

 

 

 

Save

Save

Save

Hy was Swart, nie swart nie

Die Republiek van Suid-Afrika het in 1961 tot stand gekom, nie in 1994 nie. Die eerste president van die republiek was Charles Robberts Swart, nie Nelson Mandela nie. In 1994 was daar ‘n magsoorname, daar was nie ‘n nuwe staat gestig nie. C. R. Swart het Elisabeth II van Brittanje opgevolg as staatshoof van Suid-Afrika.

Die eerste President was ‘n Boer. Charles Robberts Swart (of Oom Blackie soos die volk hom geken het) was in 1894 gebore in Winburg, Republiek van die Oranje-Vrystaat. Tydens die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902), was Oom Blackie in die Konsentrasiekamp op Winburg saam met sy moeder en ander familie en bure. Sy vader was krygsgevange geneem.

Oom Blackie was ‘n besonder skrander persoon. Hy begin skool op sewejarige ouderdom en behaal sy matriek op dertienjarige ouderdom. Hy was te jonk vir toelating tot die universiteit en begin as vyftienjarige werk as magistraatsklerk. In 1910 begin hy met sy studies by die Grey-universiteitskollege en in 1912 behaal hy sy B.A.-graad. Van 1914 tot 1915 was hy ‘n onderwyser op Ficksburg. Van 1915 tot 1918 studeer hy verder en behaal die LL.B graad. In 1918 werk hy as regsassistent by die Bloemfonteinse Munisipaliteit. Van 1918 tot 1948 was hy ‘n advokaat by die Hooggeregshof in Bloemfontein en ook deeltydse dosent in regte.

Met die Rebellie van 1914 was Oom Blackie in hegtenis geneem op aanklagte van spioenasie en dat hy by die rebelle wou aansluit.  Hy was vrygelaat en toegelaat om onderwys te gee, maar was heeltyd onder huisarres.

Gedurende 1921-1922 was hy in die VSA vir studie in joernalistiek. In hierdie tyd het hy op parkbankies geslaap, op straathoeke gesing vir geld en selfs in ‘n rolprent opgetree. Hy het ‘n studietoer onderneem in die VSA, Brittanje, Nederland en België. Later in sy lewe het hy as joernalis en redakteur gewerk.

Oom Blackie Swart het van jongs af in politiek belanggestel en was ‘n stoere republikein. Hy was sedert die stigting van die Nasionale Party in 1914 ‘n lid daarvan. Van 1923 tot 1933 was hy volksraadslid vir Ladybrand. Die smelting van Genl Herzog se Nasionale Party en Genl Smuts se Suid-Afrikaanse Party in 1933, was vir Oom Blackie totaal onaanvaarbaar. Hy sluit toe ook aan by die Gesuiwerde Nasionale Party van Dr D.F. Malan. In 1939 vind die skeuring tussen Hertzog en Smuts plaas en daarna het die Herenigde Nasionale Party tot stand gekom. Die verhouding tussen Oom Blackie en Genl Hertzog (albei Vrystaters) was nie goed nie. In 1941 word Oom Blackie deur Winburg weer tot die Volksraad verkies. Na die oorwinning van die Nasionale Party in 1948, stel Dr Malan hom aan as Minister van Justisie.

In 1939 het Oom Blackie by die Ossewa-Brandwag (OB) aangesluit en op die Groot Raad gedien. Hy het later daaruit bedank omdat die OB nie meer aan sy verwagtinge voldoen het nie. Na die koalisie het hy aangesluit by die Afrikaner-Broederbond (AB) want hy het gemeen hulle streef na volkseenheid.

C.R. Swart was gereken as ‘n besonder bekwame kabinetsminister. Van 1960 tot 1961 was hy die laaste Goewerneur-Generaal van die Unie van Suid-Afrika. Net soos sy voorganger, het hy geweier om ‘n eed van getrouheid aan die staatshoof, Elisabeth II van Brittanje, af te lê. Van 31 Mei 1961 af was hy die eerste president van die Republiek van Suid-Afrika. In 1967 het hy afgetree en hom op sy plaas De Aap naby Brandfort gevestig. In 1982, toe hy 87 was, is Oom Blackie oorlede.

Oom Blackie was nie net in die politiek betrokke nie, hy het heelwat op kultuurterrein gedoen. Hy was betrokke by die Taalfees, FAK, Voortrekkers, Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Nasionale Vrouemonument, Afrikaanse Handelsinstituut en nog meer.

Oom Blackie was ook ‘n skrywer en joernalis. Hy het twee kinderboeke geskryf: Kinders van Suid-Afrika (1933) en Die agterryer (1939). Hy het ‘n aantal artikels vir tydskrifte en koerante geskryf. Hy het ook gedigte en liedere geskryf, ondermeer skoolliedere vir drie verskillende skole.

Verder het Oom Blackie rugby gespeel en was hy ‘n skeidsregter. Hy het ook van jukskei en rolbal gehou. Hy het ook met Afrikanerbeeste geboer. Hy was lank en skraal, meer as twee meter lank.

Oom Blackie was ‘n gewilde en geliefde persoon, altyd toeganklik en jonk van gees. Van die ouer geslag sal sy staaltjies en humorsin onthou. Een staaltjie wat hy vertel het, was van ‘n ernstige toespraak by ‘n volksfees. Hy noem toe die helde van Spioenkop. ‘n Oom wat nie goed kon hoor nie, spring op en skree “Hoor, hoor”. Na die tyd vertel die oom: “O, het jy gesê die helde van Spioenkop, ek het gedink jy sê te hel met die spietkops.” ‘n Ander staaltjie was oor die bewoording van ‘n naambord vir sy plaas. Moet dit lees: C.R. Swart – De Aap of De Aap – C.R. Swart?

Hy was ‘n veelsydige man. ‘n Beginselvaste persoon, hy het nie saam met die wind gedraai nie en nie sy oortuigings prys gegee om sy loopbaan of finansies te bevorder nie. ‘n Man van integriteit, ‘n man uit die volk en vir die volk. Hy het geleef en gestreef in die tyd tussen die generaals en die beroepspolitici, in die tyd van die republikeine.

 

 

Save

Save

Save

Save

Gister se sondes en vandag se sondes

Eens op ‘n tyd was jy jonk en rebels. Toe rebelleer jy teen die establishment van daardie dae. Die hele spul met hulle outydse sienings en met al die onreg wat hulle pleeg. Hoewel jy toe nog jonk was, kon jy onreg op ‘n myl raaksien. Jy kon ook sien wat gedoen moet word om hierdie onreg uit te roei. As jy dit kon sien, hoekom kon hulle nie?

Intussen het die horlosie aangestap. Jy is ouer, jy is wyser, en o wee, jy is nou die establishment. Want jy is ‘n ouer, jy is dalk ‘n onderwyser, jy is ‘n leidende persoon in jou gemeenskap, jy het stemreg en jy stem in verkiesings. Jy het gehelp om die huidige situasie tot stand te bring. Die verantwoordelikheid is joune.

So, hoe het dit toe gegaan met jou rebellie? Is die wêreld nou ‘n beter plek? Is al die onreg toe uitgeroei? Was jou rebellie toe die moeite werd?

Hier, in my omgewing, is daar ‘n omroeper wat gereeld oor die radio dit het teen die verstokte verkramptes. Hy vat hulle gereeld aan oor daardie selfde goed waaroor hy in sy jong dae hulle ook aangevat het. Die probleem is dat die verstoktes van vandag nie meer die verstoktes van gister is nie. Die goed waaroor hy baklei is lankal nie meer omstrede kwessies nie. Another Brick in the Wall is regtig nie meer verbode of ‘n treffer nie. Saambly (onder andere) is nou outyds, dit was ‘n omstrede saak in die jaar toet. Die goed wat in sy jeug warm geskille was, is nou koud.

Dan is daar die blanke anti-apartheid brigade. Eens op ‘n tyd was daar ‘n politieke ideologie wat “apartheid” geheet het. Hulle het gemeen dit is ‘n ideologie van groot onreg en het dit toe hand-en-tand beveg. Toe was hulle dapper stryders teen daardie onreg. Hulle het opgeoffer vir die goeie saak. Maar nou, helaas, bestaan apartheid nie meer nie. Hulle het gewen. Na hulle gewen het, toe weet hulle nie wat nou verder nie. Daar het hulle toe vasgeval. Die arme drommels weet nie wat om nou te doen nie, nou hou hulle maar aan baklei teen die oorlede vyand, apartheid.

Die rebelle wat gewen het, is die establishment van vandag. Hulle dra nou die verantwoordelikheid. In plaas van aan te hou veg teen die verslane vyand, moet hulle kyk na wat hulle vermag het. Die ongeluk is dat die onreg van apartheid vervang is met ‘n groter onreg. Hierdie groter onreg is die resultaat van die blanke anti-apartheid brigade se rebellie. Dit is die vrug van hulle arbeid. Hulle ontken dat daar tans groter onreg gepleeg word en was hul hande in onskuld.

In die wêreld van weleer, was die verkrampte establishment gesien as regs, konserwatief, uit pas en outyds. Hulle was kapitaliste wat nie omgegee het vir hulle medemens nie. Die rebelle was links, liberaal, besorg oor die omgewing en die welstand van die armes en verdruktes. Toe het hulle gewen en aan bewind gekom. Nou is die linkse liberales die nuwe establishment. Doen hulle beter as hulle voorgangers? Die nuwe wêreld wat hulle geskep het, is nog slegter as die vorige wêreld wat hulle beveg het. Daar is meer onreg, daar is minder vryheid, daar is meer verdruktes.

Ons sien dit nou in Amerika, en binnekort, in Europa. Die publiek verwerp nou die links-liberale heerskappy. Dit is ‘n bitter pil om te sluk. Nou doen hulle maar wat hulle voorheen ook gedoen het. Hulle betoog, brand en gebruik geweld.

Wie se skuld is dit dat die wêreld van vandag slegter en boser is as voorheen? Is dit nie juis die oorwinnaars se skuld nie? Maar wat nou as jy weier om skuld te aanvaar? As jy aanhou om te ontken dat jy verkeerd was en steeds is? Wel, dan pak jy die skuld op iemand anders, natuurlik. Dan hou jy aan om te praat van die goed wat lankal verby is en die mense wat lank gelede onreg gepleeg het. Daarom moet die geskiedenis herskryf word, iemand anders moet beskuldig word.

Is dit normaal om nooit te erken dat jy verkeerd was nie? Dat dit altyd iemand anders is wat skuldig is?

“Die vaders het suur druiwe geëet en die tande van die seuns het stomp geword” (Jer 31:29). So het die kinders van Jakob hulleself probeer verontskuldig.

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Die bou van Hoofrifweg

800px-main_reef_roodepoortIn die tydperk 1890 tot 1896 in die Zuid-Afrkaansche Republiek, kon geen Boer, Hollander of Duitser werk kry by die myne of by die Engelse aan die Rand nie. Pas aangekome Uitlanders kon ‘n beter bestaan maak as Boere omdat hulle geskoold was, Engels kon praat en ‘n beter aanvoeling vir die bedryfslewe gehad het. Werkloses van die Boerevolk het verwag dat die regering hulle moet help aangesien hulle burgers van die land was.

In 1896 het ’n ekonomiese ramp ’n groot deel van Suidelike-Afrika getref. Dit is veroorsaak deur die runderpes (die Nederlandse woord vir beeste is “runderen”). ’n Jong veearts van Switserse afkoms, dokter Arnold Theiler van Pretoria, is deur president Kruger geraadpleeg oor stappe wat geneem kon word om die runderpes te bestry. (Theiler was ’n Transvaalse burger wat in die Anglo-Boereoorlog aan Boerekant geveg het). Die Transvaal was te groot en dit was moeilik om effektief op te tree. In April het runderpes in ’n swart gebied in die Marico-omgewing uitgebreek. Binne ’n paar maande het dit deur Transvaal, die Vrystaat en die Kaapkolonie versprei. Die verliese was enorm. Twee-derdes van die Transvaalse veestapel is binne maande verloor. Die verlies van soveel beeste, wat baie mense se enigste bron van rykdom was, het baie veeboere swaar getref.

Net die volgende jaar, 1897, was daar ‘n ekonomiese insinking. Die Boere aan die Rand is besonder hard getref. Teen 1897 was die vraag na arbeid versadig en werkgewers het die lone van hulle werkers verlaag. Kapitaalinvloei uit Europa het afgeneem of is onttrek. Selfs die geskoolde Uitlanders het gesukkel om werk te kry. Werkloosheid het ‘n krisis geword.

In Augustus 1897 is die Rand Hulp Komitee gestig. Hulle besluit op die bou van Hoofrifweg (ook bekend as Main Reef Road) sodat arm Boere werk kan kry. Die mense was gretig om te werk, hulle was stiptelik, hulle het nie siekverlof misbruik nie. Binne ‘n jaar is bykans 48 kilometer voltooi. Die projek moes gestaak word met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899.

‘n Ander projek van die Rand Hulp Komitee was om openbare washuise op te rig om werk aan vroue te voorsien. Die ZAR volksraad het 2 morg grond in Braamfontein beskikbaar gestel. Die projek kon nie uitgevoer word nie weens die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

Die Sendingsusters van die kerke het gekonsentreer op die uitdeel van kos en klere en het ook Sopkombuise in 1898 gestig. Ongelukkig het hulle nie die probleem werklik verstaan nie en het nie werkverskaffing as oplossing gesien nie.

Privaat firmas het probeer om Boereseuns as bodes te gebruik, maar dit het misluk. Volgens hulle was die seuns “badly educated, practically useless, utterly unreliable”. ‘n Soortgelyke poging deur die Engelse aan die Rand om Boeremeisies as diensmeisies te gebruik het ook misluk: “they knew more about inspanning oxen than about domesticity”.

Dit is op hierdie treurige noot wat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Dit was die begin van die armblankevraagstuk wat vir dekades voortgeduur het.

Hier het die Boerevolk hulle eie land gehad met hulle eie regering en hulle eie staatsbestel. Die volk het verwagtinge van hulle regering gehad en die regering het verantwoordelikhede teenoor die volk gehad. Was die ZAR-regering sosialisties? Ek is nie ‘n ekonoom nie, maar vir my klink dit nie sosialisties nie. Die regering het ‘n komitee aangestel om die probleem aan te spreek. Die ZAR-regering (en vermoedelik die publiek) het middele aan die komitee voorsien om te kan optree. Die komitee het die oplossing in werkskepping gesien, nie in die gee van korttermyn hulp nie.

 

Save

Save

Save

Save

Save

Groot Droogtes

obwizpc

Ons in Suidelike-Afrika behoort gewoond te wees aan droogtes, in ons geskiedenis was daar al heelwat droogtes. Daar is tans (2016) ook ‘n ernstige droogte aan die gang.

As iemand praat van “die Groot Droogte”, dink mens eerste aan die tydperk 1932-1933. Voor dit en daarna was daar ook droogtes. Meer onlangs was daar droogtes in die jare 1966-1968, in 1982-1984, weer in 1989-1991 en ook in 2003-2004.

Oor die 1932-1933 Groot Droogte is heelwat bekend. Veeboere het enorme hoeveelhede vee verloor. Die droogte het boonop saamgeval met die Groot Depressie. Die ekonomiese krisis is vergroot omdat Suid-Afrika die goudstandaard verlaat het. Waar daar reeds kapitaal uit die land onttrek was, word toe nog meer onttrek. Dit alles het die armblanke vraagstuk ‘n hupstoot gegee. Dit weer het tot ‘n politieke krisis gelei. Die uiteinde was dat Genl Hertzog en Genl Smuts saam die Verenigde Party gestig het. As gevolg van dit het Dr DF Malan, Adv Hans Strijdom en Adv CR (Blackie) Swart weggebreek van Genl Hertzog af.

‘n Ooggetuie het vertel dat by hom die veld soos woestyn gelyk het. Die vee het oraloor gevrek en die wat oorleef het, was verswak. In Julie 1933 het sterk winde begin waai en in November was daar ‘n verskriklike stofstorm. Dit het begin reën op 13 November 1933, teen middel Desember het die gras sigbaar geword en teen Februarie 1934 het alles herstel. Vir hom was dit ‘n wonderwerk wat hy aanskou het.

Tydens 2003-2004 was daar veral in Wes-Transvaal (tans Noordwes) en Wes-Vrystaat ‘n ernstige droogte. Oppervlaktes waar mielies aangeplant word, het aansienlik verminder. Te min grondvog was ook ‘n probleem. Van 1994 af het die staat langtand geword om die landbou te ondersteun.

Die droogte van 1989-1991 het Suid-Afrika se kwesbaarheid ten opsigte van voedselvoorsiening onderstreep. In die Klein-Karoo was daar geen besproeingswater vir lusern- en groenteboere nie. Verskeie gebiede in die Karoo is tot rampgebiede verklaar. 75% van die graanoes is vernietig. Die destydse staat het ‘n hulpskema vir landbou ingestel en ‘n rekord hoeveelheid mielies moes ingevoer word.

1982-1984 se droogte was beskou as die ergste in 200 jaar. Groot getalle beeste het gevrek en weiding was uitgeput. Die mielieoes en grondbone-oes is verwoes. Omtrent 70% van die boere in die Vrystaat het geen oes gehad nie. Die Hardapdam (Namibië) se waterstand was net 12% en die Vaaldam se invloei het ‘n rekordlaagtepunt bereik. Ander rampe in hierdie tydperk was die vloedramp in Laingsburg in 1981 en die sikloon Demoina in 1984.

Die droogte van 1966-1968 is die Swartdroogte genoem. Verskeie getuies, ekself ook, onthou dit soos gister. Die regering van destyds het ‘n nasionale biddag uitgeroep. Besighede het toegemaak en hulle personeel toegelaat om te gaan bid. Terwyl ons in die kerk sit en bid, het dit begin reën. Nie net by ons nie, maar op verskeie plekke dwarsoor Suid-Afrika.

Droogtes raak natuurlik nie net die mens nie. Die aarde, die plante, die insekte, die diere word daardeur getref. Sulke rampe raak in die eerste plek die indiwidu en sy gesin. Groot getalle mense se lewens word verwoes, baie word in armoede gedompel. Die belangrikste is wat dit aan die binneste van mense doen, daar is geestelike gevolge.

Alhoewel ekself getuig dat gebede beantwoord word, en beleef het dat dit begin reën het terwyl ons gebid het vir reën, dink ek nie dat gebedsveldtogte vandag die regte ding is nie. In die 1960’s het meeste mense nog vertrou op God, ek dink nie dit is vandag nog so nie. Daar het ‘n groot afvalligheid plaasgevind. Die destydse regering het nog bestaan uit morele mense, vandag is dit meer waar nie. Sal vandag se regering ‘n biddag uitroep? Sal die sakesektor hulle besighede toemaak en hulle personeel afgee? Om slegs gebedsveldtogte uit te roep in tye van nood is ook nie reg nie. Wat van tye wanneer daar nie nood is nie?

 

 

 

Save

Save

Save

Save

16 Desember 1899, die Swart Week

images

Ons almal weet wat op 16 Desember 1838 gebeur het. ‘n Klein groepie Voortrekkers was omsingel deur ‘n oormag Zoeloes. Die Voortrekkers het besef hulle staan nie ‘n kat se kans nie, die situasie was onmoontlik. Toe maak hulle in desperaatheid ‘n gelofte aan God. Op die 16de help Hy hulle daar by Bloedrivier.

Hier is iets wat ek nie geweet het nie. Geloftedag was nie net ‘n oorwinning vir die Voortrekkers nie, dit was ook ‘n oorwinning vir die Christendom. Hoewel Britse en Amerikaanse sendelinge al van 1820 af onder die Zoeloes gewerk het, is daar geen rekord van ‘n enkele bekeerde Zoeloe voor die Slag van Bloedrivier nie. Die houvas van die toordokters en bygelowe het daarvoor gesorg dat daar nie eers een Zoeloe in 18 jaar op die evangelie gereageer het nie.

Ten spyte van die grusame moorde op vrouens en kinders by Blauwkrans en elders, het die Boere nie dieselfde gedoen aan die Zoeloes nie. Die Boere het nooit vergeldingsaksies teen die Zoeloevolk geloods nie. In plaas van vergelding, het hulle sendingaksies geloods. Dit was eers na Bloedrivier wat toenemende getalle Zoeloes tot Christus bekeer is. Binne sig van die plek waar Piet Retief en sy manne vermoor is, het Afrikaanse sendelinge ‘n kerk en sendingstasie gebou. (Met dank aan Peter Hammond van die Reformation Society).

42 Jaar later, is weer ‘n gelofte afgelê. Hierdie keer by Paardekraal. Die geleentheid was die anneksasie van die Transvaalse Boererepubliek deur Groot-Brittanje. Weereens was die oormag te groot. Op 13 Desember 1880 het burgers van Paul Kruger ‘n klipstapel opgerig by Paardekraal en daar ‘n gelofte afgelê. Die Eerste Vryheidsoorlog het geduur van 16 Desember 1880 tot 27 Februarie 1881. Groot Brittanje is verslaan deur ‘n klein en onbenullige landjie. Die Britse Empire het hierdie nederlaag as ‘n vernedering ervaar. In ‘n sekere sin was die Tweede Vryheidsoorlog ook bedoel om hierdie nederlaag te wreek. So erg was hierdie wraakbegeerte dat Britse troepe die klippe van Paardekraal in die Vaalrivier gaan gooi het.

16 Desember 1899 is nie voorafgegaan deur die aflê van ‘n nuwe gelofte nie. 16 Desember 1899 was die einde van Groot-Brittanje se Swart Week.

Die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Anglo-Boereoorlog) breek uit op die President se verjaardag, 10 Oktober 1899. In die week van 10 tot 16 Desember 1899, behaal die Boere roemryke oorwinnings oor die Britse Empire. Die veldslae van Magersfontein, Colenso en Stormberg gebeur in hierdie week.

Op 16 Desember 1899 verskyn ‘n buitengewone gratis uitgawe van De Volkstem waarin President Kruger die volgende dag, die 17de, tot nasionale dankdag verklaar. In ‘n artikel in die koerant is parallelle getrek tussen 1838 en 1899. Die Boerevolk is gevra om God te dank vir hierdie oorwinning.

Wat my persoonlik kwel, is die vraag: wat het ná 16 Desember 1899 gebeur?

 

Save