Nuwe e-boek: Die Storie van ons Volk

Daar is ‘n rede waarom mense sê dat die voltooiing van ‘n nuwe boek soos die geboorte van ʼn baba is. Want dit is. My nuwe boek handel oor ons – die Afrikaners of Boere of Boere-Afrikaners. Dit is ‘n beskrywing van ons kenmerke, ons volkskarakter, ons kultuur en sulke dinge.

Ek het al in die vroeë 1990’s begin met my studie van hierdie onderwerp. In daardie dae was ek aangewese op die plaaslike biblioteek – waar ek nogal heelwat oor die onderwerp kon kry.

My boekelys het meer as ‘n honderd werke  waar ek inligting kon bekom. Dan was daar ook sienings en inligting uit koerantuitknipsels en algemene webwerwe wat ek geraadpleeg het.

‘n Deel van die inhoud van die boek het ek ook as artikels hier gepubliseer, maar binne ‘n ander konteks. Die boek bevat alles wat ons as volk uniek maak. Gewoonlik kan mens ‘n volk beskryf tot by die vorige geslag, dit wil sê tot so 25 jaar gelede – toevallig 1994. Nogtans het ek my bes probeer om ons tot vandag toe te beskryf. Dit is moeilik om presies te sê hoe ons vandag is, want ons is nog in ‘n veranderingsproses.

Dit is uiters belangrik dat ons ons in etniese terme moet kan beskryf, want dit is slegs op grond van ons etnisiteit dat ons kan aanspraak maak op ons voortbestaan as ‘n volk.

Om ‘n beter idee te gee van die boek se inhoud, sluit ek die inhoudsopgawe hier in.

INHOUDSOPGAWE

  1. Die eerste 50 jaar
  2. Ons Volksnaam
  3. Ons voorgeskiedenis

3.1 Waar kom Europeërs vandaan?

3.2 Ons is van Germaanse afkoms

3.3 Die nageslag van Geuse

3.4 Die nageslag van Platduitsers

3.5 Die nageslag van Hugenote

3.6 Die nageslag van Nonkonformiste

3.7 Die nageslag van latere aankomelinge

  1. Een groot familie

4.1 Familie uitleg

4.2 Familiegeskiedenis

4.3 Familiewapens

  1. Ons Volkstaal

5.1 Die voorgeskiedenis van ons volkstaal

5.2 Die ontstaan van ons eie taal

5.3 Hoe ons die volkstaal gebruik

5.4 Van volkstaal tot kultuurtaal

5.5 Ons hou daarvan om nuwe woorde te skep

  1. ʼn Godsdienstige volk

6.1 Die erfenis van ons stamouers

6.2 Die protestantse leefwyse

6.3 Die gelofte

6.4 Afrikaanse kerkgenootskappe

6.5 Andertalige kerkgenootskappe

6.6 Die ware Boerekerk

7 Geesteskultuur     

7.1 Algemeen

7.2 Volksgelowe

7.3 Boerewetenskap

7.4 Boererate

7.5 Van geboorte tot begrafnis

7.6 Hoe ons verjaardae vier

7.7 Plesierige geleenthede

  1. Stoflike kultuur

8.1 Eers was ons plaasjapies

8.2 Toe word ons stadsjapies

8.3 Woningbou

8.4 Volksvervoermiddels

8.5 Volksdrag

8.6 Volkshandwerk

8.7 Boerekos

8.8 Boeredans

8.9 Boerebrandewyn

8.10 Volksmonumente en –museums

8.11 Ons eie volksweermag

  1. Volksimbole

9.1 Het ons ʼn Volksvlag?

9.2 Het ons ʼn Volkslied?

9.3 Het ons ander Volksimbole ook?

10 Volksfeeste         

10.1 Die eiesoortigheid van ons volksfeeste voor 1994

10.2 Feeste wat in 1994 afgeskaf is

10.3 Geloftefees

10.4 Kersfees

10.5 Nuwejaarsfees

10.6 Paasfees

11 Volksaard

11.1 Karakter eienskappe

11.2 Sosiale onderskeid

12 Volksverval         

12.1 Die adder in die boesem

12.2 Sedelike verval

12.3 Godsdienstige verval

12.4 Die gevolge van verval

13 Bedreigings vir ons voortbestaan      

13.1 Kwynende getalle

13.2 Alles is vernietig

13.3 Ons het nie ʼn land nie

13.4 Die verlore vryheidsdrang

13.5 Volksverdeeldheid

14 Die laaste 50 jaar

Boekelys

Indien iemand graag die boek wil bekom maar dit nie kan of wil koop nie, kan ‘n motivering gestuur word aan ons borg by: buitepos@minderheidsverslag.co.za.   

...

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Die invloed van Protestantisme op ons volk

Illustrasie: https://stad.gent/bibliotheek/dossiers/vroeger-en-nu/500-jaar-protestantisme

Daar is hoofsaaklik drie groot vertakkinge in die Christelike geloof: die Ortodokse siening, die Rooms-Katolieke siening en die Protestantse siening.

Ons stamouers was die nageslag van die oorspronklike wegbrekers uit die Rooms-Katolieke Kerk. Ons stamouers het groot geword as Protestante en hulle nageslag ook so opgevoed. Die een geslag het die volgende geslag, tot betreklik onlangs toe, ook so opgevoed. Die Protestantisme is so geheel en al deel van ons volksaard dat ons nie onsself kan verstaan of beskryf daarsonder nie. Protestantisme het nie net ons geloof bepaal nie, dit het ook ʼn invloed op ons kultuur uitgeoefen.

Daar was nog nooit net een Protestantse kerk nie, daar was nog altyd verskillende strominge binne die Protestantisme. Van die strominge wat by ons voorkom is die Gereformeerde, Baptistiese, en Pinkster strominge. Ten opsigte van kerkregering kan ons onderskei tussen die Presbiteriaanse, die Kongregasionalistiese en die Episkopaalse vorms. Die Anabaptisme (Wederdopers) het glad nie by ons voorgekom of invloed uitgeoefen nie.

...

As daar dan soveel verskille tussen Protestante bestaan, wat het hulle dan in gemeen? Die Protestantse leiers het oorspronklik nie bedoel om ʼn nuwe kerk te stig nie, hulle wou die Rooms-Katolieke Kerk van binne af hervorm. Dit het gelei tot konflik tussen hulle en die Rooms-Katolieke Kerk, dit weer het gelei tot vervolging en godsdiensoorloë. Protestante se een gemeenskaplike ooreenkoms is hulle teenstand teen die Roomse kerk. Ondermeer het hulle nie die oppergesag van die Pous erken nie, hulle het nie die verering van Moeder Maria en kerklike heiliges erken nie, hulle het slegs twee sakramente (die doop en nagmaal) as Bybels korrek erken en hulle het nie met die Roomse kerkregering saamgestem nie.

Dit wat alle Protestante onderskryf word saamgevat in vyf Latynse uitsprake, naamlik Sola Christus, Sola Scriptura, Sola Fide, Sola Gratia en Soli Deo Gloria. Hierdie vyf uitsprake is die kernbeginsels van die Protestantisme.

Met Sola Christus word bevestig dat Jesus Christus die enigste middelaar tussen God en mens is. Daarmee verwerp hulle die Roomse sienings ten opsigte van die Pous as Christus se verteenwoordiger, die belangrikheid van kerklike tradisies en kerklike heiliges.

Sola Scriptura is die standpunt dat slegs die Heilige Skrif as gesaghebbend erken word. Sola Scriptura bevat vier belangrike leerstellings: dat die onderrig van die Heilige Skrif noodsaaklik is, dat die Heilige Skrif voldoende is, dat alles in die Heilige Skrif korrek is en dat gelowiges self die Heilige Skrif kan lees en met die hulp van die Heilige Gees kan verstaan. Die Rooms-Katolieke Kerk se siening was dat slegs sekere persone, die ingewydes, ʼn spesiale status het om die Heilige Skrif te kan interpreteer. Leke kon nie. Hulle het ook geglo dat idees wat baie oud is die Heilige Skrif verklaar. Verder het die Roomse kerk boeke in hulle Bybel ingesluit wat Protestante nie as Goddelik geïnspireerd erken het nie.

Sola fide beteken dat die mens slegs deur geloof in Jesus Christus gered kan word. Daar is geen ander manier nie. Hulle het die Roomse stelsel van goeie werke, boetedoening, kwytskelding deur priesters en die vagevuur verwerp.

Met Sola gratia word gesê dat verlossing slegs deur genade geskied. Verlossing kan nie verdien word nie en goeie werke het geen invloed op verlossing nie.

Die uitspraak Soli Deo Gloria beteken dat aan God al die eer toekom vir die redding van mense. Verlossing word slegs deur Sy wil en handelinge bewerk. Dit sluit in die gawe van geloof. Mense, soos die Pous en die kerklike heiliges is nie eer waardig nie.

Die Protestantse lewensuitkyk het die huwelik en gesin, opvoeding, geesteswetenskap en natuurwetenskap, die sosiale en politieke orde, die ekonomie en die kunste ten goede beïnvloed. Protestante se kultuur het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van die Westerse Beskawing.

Omdat hulle mense aangemoedig het om self die Heilige Skrif te lees, het Protestante onderwys op alle vlakke bevorder deur skole en universiteite te stig. Die Protestantse konsep van God en mens het gelowiges toegelaat om al hul Godgegewe fakulteite en talente te gebruik, hulle kon God se skepping verken en verantwoordelik gebruik. Gelowiges is aangemoedig om hardwerkend te wees. Daar word gepraat van die spesifieke werksetiek wat by Protestante voorkom. Die Protestantse morele kode het die luukse afgekeur en spaarsamigheid en verstandigheid aangemoedig. Gevolglik het vakmanne, nyweraars en ander sakelui die grootste deel van hulle winste herbelê in beter gereedskap, beter masjinerie, beter produksiemetodes en beter lone vir hulle werkers. Wetenskaplike navorsing is gestimuleer en verskeie baanbreker uitvindings was deur Protestante gedoen. Dit was Protestante wat die republikeinse ideaal ontwikkel en ondersteun het. Hulle het die konsep van ʼn staatskerk verwerp en geglo daar moet skeiding tussen kerk en staat wees. Protestante was vervolg weens hulle geloof en was voorstanders van godsdiensvryheid. Protestante het ook hospitale, tehuise en ander instellings gestig. Prominente komponiste, skilders en skrywers kon uitstaande werk lewer danksy hulle Protestantse agtergrond.

Dit is ons erfenis en het ons volk gevorm. Dit verhoed nie iemand wat nie ʼn Protestant is om deel van ons volk te wees nie, solank hy aanvaar dat die res van sy volksgenote wel Protestante is. Hy is dus ʼn uitsondering en moet homself sonder kritiek daarby neerlê. Dit beteken ook dat hy die volk se erfenis sal respekteer en nie sal probeer aftakel nie.

Ons moet ons erfenis in stand hou en dit oorlewer aan ons nageslag. Dit moet onthou word dat die Gelofte deur Protestante afgelê is.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Ons latere stamouers

Illustrasie: Duitse Setlaarsmonument, Wikipedia

Sedert 1652, toe van Riebeeck aan die Kaap geland het, tot en met die Groot Trek, was die blanke bevolking aan die Kaap van Goeie Hoop hoofsaaklik Nederlanders, Nederduitsers, Franse Hugenote en 1820-Setlaars. Daar was ook enkelinge en gesinne uit ander Europese lande wat hulle ook hier kom vestig het. Ondermeer uit Portugal, Swede en Oostenryk. Uit hulle het daar ook Boerefamilies ontstaan.

Na die Groot Trek het daar nog nuwe bloed bygekom. Daar is doelbewuste pogings deur die Britse kolonies en die Boererepublieke aangewend om nog blankes uit Europa in Suidelike Afrika te vestig. Daar was ook individue en gesinne wat hierheen gekom en wat nie deel was van die groter groepe nie. Met die ontdekking van minerale het nog blankes van oraloor gekom as fortuinsoekers op veral die diamant- en goudvelde.

Na die Anglo-Boereoorlog het sommige van die Britse soldate agterbly en hulle permanent hier gevestig. Gedurende die tydperk 1910 tot 1961, die tydperk van die Unie van Suid-Afrika, het nog individue en gesinne hulle hier kom vestig.

Nadat Europese lande sedert 1960 hulle Afrika-kolonies prys gegee het, was daar burgeroorloë in hierdie lande en moes van die blankes, wat geslagte lank daar gewoon het, vir hulle lewens vlug. Talle vlugtelinge het na Suid-Afrika gekom, veral vanaf Britse en Portugese kolonies. Tydens die Koue Oorlog was daar ook vlugtelinge uit kommunistiese Oos-Europa wat ook hier ʼn veilige hawe gevind het.

...

Britse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In die jare na die 1820 setlaars na die Kaap gekom het, was daar nog  Britse immigrante wat hulle in Suidelike Afrika kom vestig het.

Tussen 1825 en 1845 was daar geen aanmoediging en hulp vir Britte om na Suidelike Afrika te kom nie. Nogtans het meer as 5 000 op eie koste gekom. Tussen 1847 en 1866 het 11 000 Britse immigrante met hulp van die Britse regering en privaat beleggers hulle in die Kaap en Natal gevestig. Pogings om hierdie mense in die landbou te plaas, het misluk en hulle het later in die stede ‘n heenkome gevind.

In 1857 het 1 000 arm jong ongetroude Ierse vroue met staatshulp na Suidelike Afrika gekom om huisbediendes te wees. Ander skemas het die immigrasie van vroue bevorder om as sendelinge en onderwyseresse te werk.

Tussen 1873 en 1883 het meer as 22 000 Britte met immigrasieskemas na Suidelike Afrika gekom. Van hulle was kunshandwerkers, ambagsmanne, spoorwegwerkers, mynwerkers en ongeskoolde werkers. In 1891 was daar 188 000 mense wat in Brittanje gebore is.

In Suidelike Afrika het ‘n nuwe klasse onderskeid tussen die Britsgebore bevolking ontstaan. Die mynbase en senior bestuurders het ‘n elite gevorm.

Duitse setlaars tussen die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog

In 1857 is 2 000 Duitse Setlaars in Brits-Kaffraria  gevestig om ‘n buffer teen die Xhosas te wees. Uiteindelik het omtrent 4 000 Duitsers hulle in die Oos-Kaap gevestig. Hulle is deur die Britse regering ondersteun. Hierdie groep staan bekend as “die Eerste Golf” van Duitse setlaars.

In 1877 – 1878 is die “Tweede Golf” Duitse setlaars deur ‘n immigrasieprojek op die Kaapse Vlakte gevestig. Nog ‘n groep het in 1883 opgedaag. Hulle was groenteboere. Die meeste was arm kleinboere en ambagsmanne uit Noord-Duitsland.

Die Natal Cotton Company het in Duitsland geskikte immigrante verkry om in Natal met katoen te boer. In 1848 arriveer 35 gesinne en vestig hulle in wat vandag Westville en New Germany is. Die katoenboerdery het misluk en hulle gaan toe oor na groente en suikerriet. Later het ‘n groep van hulle weggetrek en in New Hanover gaan woon.

Die Hermannsburg Sendinggenootskap het ‘n sendingstasie op die grens tussen Natal en Zoeloeland gestig. Saam met sendelinge stuur die genootskap ook koloniste wat by sendingstasies sou help. Die meeste van hulle is Platduitsers. ‘n Hele klomp Afrikaanse vanne is van hulle afkomstig.

In 1853 het die ZAR die Morawiese sendinggenootskap versoek om sendelinge te stuur om onder die Tswanas te werk. In 1857  is die Hermannsburg Genootskap gevra om die Londense Genootskap se ontruimde stasies oor te neem.

In 1882 het ‘n klein groepie Noorse setlaars hulle in Natal gevestig.

Immigrante na die Anglo-Boereoorlog

Tussen 1946 en 1961 het 115 000 Britse burgers hulle in Suid-Afrika gevestig.

Reeds in 1958 het die Viljoen-kommissie bevind dat die ekonomiese groeikoors van daardie tyd net volgehou sal kan word as 25 000 geskoolde immigrante per jaar gewerf kan word. Die Nasionale Party regering het ‘n organisasie gestig met die doel om immigrasie te bevorder. In 1961 is ‘n skema geloods wat finansiële bystand gegee het aan geskoolde immigrante uit Europa.

Tussen 1964 en 1972 was die jaarlikse ekonomiese groei tussen 6 en 8 persent. Gekwalifiseerde persone uit Europa was noodsaaklik. Die jaarlikse aantal Immigrante het van minder as 10 000 in 1960 toegeneem tot 48 000 in 1966.

Amper die helfte van die blanke bevolkingsaanwas tussen 1961 en 1977 was as gevolg van immigrasie.

Blankes in Namibië

In 1884 het Duitsland die gebied wat vandag Namibië genoem word, gekoloniseer as Duits-Wes Afrika. Die nuwe kolonie het immigrante uit Duitsland gelok. Die meeste Afrikaanssprekende blankes is afstammelinge van die Dorslandtrekkers. Die Dorslandtrek was ‘n reeks trekke uit Transvaal na Angola en Duits-Wes wat tussen 1874 en 1927 plaasgevind het. Die Portugese bevolking was vlugtelinge uit Angola.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Die Boerevolk se eie wetenskap

Illustrasie: https://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/oom-herrie-se-kerrie-waterwys/

Kultuur kan ook die beskawingstoestand van ʼn volk beskryf. Volkswetenskap beskryf hoe ons volk sy eie natuurkunde ontwikkel het voordat die moderne wetenskap tot stand gekom het. Dit beskryf die kennis en kundigheid wat tradisioneel eie aan ons volk is en van een geslag na die ander oorgedra is. Volkswetenskap kom tot stand uit waarneming van die natuur. Die moderne wetenskaplike metode gebruik waarneming, eksperimentering, meting, wiskunde en herhaling om kennis te verkry.

Ons stamouers kon nie die waarnemings en kennis wat hulle in Europa gehad het, gebruik nie want die omstandighede in die Kaap was baie anders. Hulle was wel goeie waarnemers van die natuur. Hulle het die grond, die plante, die insekte en die diere se aard en gedrag geken. Die moderne wetenskap het toe nog nie bestaan nie. Natuurlik is daar foute gemaak, maar daar was ook baie korrekte gevolgtrekkings gemaak. Die moderne wetenskap kon van dit later bevestig, alhoewel die metode om daarby uit te kom verskil het.

Ons voorouers was oplettende mense. Jy moes weet wat in die natuur om jou aangaan en dit wat jy oplet, moes jy onthou. Mettertyd kom jy agter dat iets wat jy opgelet het by herhaling gebeur. Jou waarneming is dan dat indien een saak teenwoordig is, dit beteken dat iets anders daarmee verbind kan word. Die versameling van al hierdie gegewens gee dan aan jou natuurkennis wat jy dan weer aan jou kinders kan oordra.

...

Hulle moes hulle goggas ken. Wat is hulle funksies, veroorsaak hulle peste en plae, kan hulle jou wys waar water is en of dit gaan reën? Wat van die voëls? As jy hulle dophou sal een jou wys waar daar heuning is en die kwêvoël sal jou waarsku. Jy moes die wilde diere se gewoontes ken as jy gaan jag vir die pot. Party wilde diere se gedrag kan jou waarsku dat dit gaan reën. Die veeboer moes natuurlik ook sy eie vee goed ken. Hy moes ook veesiektes ken en behandel.

Die beskikbare weiding kan goed of sleg wees vir jou vee. Een soort grond is goed vir ʼn sekere gewas maar sleg vir ʼn ander gewas. Plante kan ook aandui waar daar ondergrondse waterare is. Jy moet weet watter bome se hout jy kon gebruik en natuurlik ook waarvoor jy dit kan gebruik.

Daar was ook ʼn geloof dat vure rondom gesaaides en binne vrugteboorde beter oeste tot gevolg het. Die rook het blykbaar teen ryp en insekte gehelp. Daar word gesê dat muggies nie tussen bloekombome voorkom nie en dat kakiebos ook goggas verdryf.

Die maan speel ʼn belangrike rol in die natuurmens se lewe. Daar word geglo dat die maan alles op aarde beïnvloed, ook die plante, diere en mense. Een waarneming het te doen met die beste tye om te plant, ʼn ander met wanneer die beste snoeityd is. Daar word ook geglo dat die maan ʼn invloed uitoefen op die bloedsomloop van lewende wesens. Met volmaan is die bloed glo op “hoogwatermerk” en met nuwemaan op “laagwatermerk”. Hiervolgens moes jy nooit vee kastreer met volmaan nie en was dit beter om met nuwemaan te slag. Daar is ook geglo dat die maan ook die beste visvangtye aandui.

Die natuurmens glo dat die maan ʼn invloed het op die weer. Kennis van maansveranderinge help met die voorspelling van weersveranderinge. Daar word gelet op die fases van die maan. Sommiges meen dat die halfmaan wat “skep” beteken dat dit nie gaan reën nie en dat die halfmaan wat “gooi” beteken dat dit gaan reën. Daar word geglo dat dit die meeste ryp op maanligaande.

Vir die pioniers in die binneland was die beskikbaarheid van water krities. Die Karoo is droë wêreld, en noord van die Oranje is daar ook dikwels droogtetoestande. Die pioniers het die weer dopgehou en dan waarnemings gemaak. Een metode is om die gesteldheid van die lug waar te neem. Kennis van die wolke is belangrik want dit dui op watter weer later verwag kan word. Hoe hoog die wolke is kan toon of die wolke naby ʼn versadigingspunt is en of reënweer verwag kan word. Die kleur van die hemelruim is ook belangrik. Indien die lug in die oggend rooi is, kan reënweer dieselfde dag verwag word. Indien die lug met sononder rooi is, kan mooiweer verwag word. Weerlig in die middel van die nag voorspel reën vir ʼn paar dae.

Die voorkoms van droogtes het ons protestantse voorouers leer bid vir reën, want hulle het hulle totale afhanklikheid van God besef. Biddae en dankdae is steeds deel van ons kultuur.

As daar nie genoeg bogrondse water beskikbaar is nie, en die reën bly weg, dan moet daar gesoek word na ondergrondse water. Dit word gedoen deur waterwysers. Sommige persone, miskien een uit honderd, het die vermoë om ondergrondse water op te spoor. Daar word gemeen dat die beweging van die water wrywing veroorsaak. Die wrywing veroorsaak dan ʼn magnetiese of elektriese uitstraling wat deur sensitiewe persone aangevoel word. Die waterwyser moet ook kennis van waterare en kruispunte hê.

Meeste waterwysers gebruik apparate in hul soeke na water. Meestal word ʼn mikstok gebruik, die mikstok beweeg wanneer oor die aar geloop word. ʼn Ander apparaat is L-vormige drade wat ook in die waterwyser se hande beweeg wanneer daar oor are geloop word. Nog ʼn apparaat is om ʼn bottel vol water op die handpalm te dra. Daar is ook sekere persone wat met die blote oog water kan opspoor.

Om ondergrondse water op te spoor is reeds ʼn groot hulp. Dit is ʼn verdere hulp om te weet hoe diep en sterk die water is. Sommige waterwysers het vir hulleself tegnieke ontwikkel waarmee hulle diepte en sterkte kan bepaal.

Daar is ʼn minderheid mense wat waterwys as towery of iets dergeliks beskou. Ondervinding toon egter dat waterwysers meer betroubaar is as geoloë.

Die moderne stedeling het nie die voorgeslagte se natuurkennis meer nodig nie want hy het toegang tot die moderne wetenskap. Landbouers het ook toegang tot die moderne wetenskap en gebruik dit ook. Nogtans is daar nog steeds mense wat natuurkennis gebruik om te weet wat die weer gaan doen. Daar is nog steeds waterwysers wat gebruik word.

Die voorgeslagte se natuurkennis is nie vergete en verlore nie, dit word nog steeds oorgedra en gebruik.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Die stamboom van Afrikaans

Illustrasie: http://www.oocities.org/hugenoteblad/geskSA.htm?201921

Ons taal word weereens aangeval en verneder, dikwels ook deur Afrikaanssprekende taalkundiges. Dit het mode geword om Afrikaans die skuld te gee vir politiek van die verlede deur dit politiek van die hede te maak. Daarom is dit nodig dat ons weer onsself moet herinner oor waar ons taal vandaan kom.

Dit is nie net mense wat stambome het nie, tale het dit ook. Afrikaans is ʼn Germaanse taal wat familie is van al die ander Germaanse tale. Germaanse tale is weer familie van ander tale en die stamboom gaan ver terug in die geskiedenis.

...

Hier aanvaar ons die Bybel as gesaghebbend en ons beginpunt is Genesis 10:2-5: Die seuns van Yefet was: Gomer, Magog, Madai, Yavan, Tuval, Meshekh en Tiras. Die seuns van Gomer was: Ashkenaz, Rifat en Togarmah. Die seuns van Yavan was: Elíshah, Tarshish, die Kittiërs en Dodaniete. Vanuit hierdie is die streke van die nasies verdeel in hulle lande, elkeen volgens sy taal, volgens hulle families, volgens hulle nasies. (PWL).

Noag het drie seuns (Sem, Gam en Jafet) gehad waaruit alle mense op aarde afstam. Jafet se afstammelinge het hulle gevestig aan die noordelike kant van die Middellandse See, die hele Europa, die Britse eilande, Skandinawië en die grootste deel van Rusland. Dieselfde familie het hulle ook in Persië en tot in Indië gevestig. Die verwantskap tussen al hierdie volke uit Jafet word bevestig deur die tale wat hulle praat. Aanvanklik het vakkundiges die groep tale Indo-Germaans of Aries genoem. Later is die naam verander na Indo-Europees. Die gemeenskaplike voorouerlike taal word Proto-Indo-Europees (PIE) genoem.

Indo-Europees bestaan uit omtrent 443 tale en dialekte. Dit sluit die meeste van die groot taalfamilies in Europa en westelike Asië in. Indo-Europees bestaan uit twee subgroepe: ʼn Satem- of ‘n Kentumgroep. Die groepe is vernoem na die woord vir 100: centum in Latyn (as ‘kentum’ uitgespreek) en satem in Avesties. Oor die algemeen is die “oostelike” tale Satemtale (Indo-Irans, Balto-Slawies), en die “westelike” tale Kentumtaal (Germaans, Italies, Kelties). Voorbeelde van moderne Satemtale is Hindi, Persies en Russies. Voorbeelde van moderne Kentumtale is Grieks, Spaans en Duits.

Die gemene voorouer van Germaans is Proto-Germaans. Een unieke eienskap van Proto-Germaans is die Tweede Germaanse klankverskuiwing wat tot die totstandkoming van Hoog-Duits gelei het. Die grootste Germaanse tale is Engels en Duits, met onderskeidelik ongeveer 400 en 100 miljoen moedertaalsprekers. Nederlands en Afrikaans is ook Germaanse tale.

Daar is twee groepe Germaanse tale: Wes-Germaans en Noord-Germaans. Wes-Germaans sluit Engels, Duits en Nederlands in. Noord-Germaans is die Skandinawiese tale Deens, Noors en Sweeds. Daar is omtrent 53 verskillende Germaanse tale en dialekte.

Die naam Nederduits of Platduits verwys na dialekte wat in Noord-Duitsland en Nederland deur omtrent 5 miljoen mense gepraat word. Mennoniete-gemeenskappe in Noord- en Suid-Amerika praat nog steeds Nederduitse dialekte wat as Plautdietsch bekend staan. Vroeër is die term Nederduits dikwels ook in Nederland gebruik as sinoniem vir Nederlands.

Nederfrankies is die tale en dialekte wat in Nederland, België, Suriname en Suidelike-Afrika gepraat word. Dit word ook in ʼn deel van Duitsland gepraat. Die moderne Nederfrankiese tale is Standaard-Nederlands en Standaard-Afrikaans. Nederfrankiese dialekte is Brabants, Hollands, Seeus, Suid-Gelders, Limburgs, Wes-Vlaams en Oos-Vlaams.

Taalkundiges sê vir ons daar is drie soorte Afrikaans: Kaapse-Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en Boere-Afrikaans. Al drie het apart uit Nederlands ontstaan.

Kaapse-Afrikaans het by slawe, wat deur die VOC ingevoer is, ontstaan. Hierdie slawe het van verskillende plekke gekom en verskillende moedertale gehad. Maleis-Portugees was die lingua franca van die slawe. Die VOC het dit belangrik geag dat die slawe Nederlands moes leer en het in 1658 ʼn skool gestig vir slawekinders. Verder was dit ʼn vereiste dat slawe Nederlands moes praat indien hulle hul vryheid wou terugkoop. Uit hierdie mengelmoes het ʼn kreoliseringsproses plaasgevind wat tot ʼn nuwe taal, Kaaps-Nederlands of Kaaps-Afrikaans gelei het.

Oranjerivier-Afrikaans het ontstaan uit die kontak van die Khoi-Khoi en Nederlandssprekende veeboere in die noordelike binneland. Hierdie kontak was deur handeldryf en seisoenwerk. Die blankes het dit moeilik gevind om die Khoi-Khoi se taal aan te leer, met die gevolg dat die Khoi-Khoi hulle taal moes leer.

Boere-Afrikaans (wat Standaard-Afrikaans geword het), was ʼn voortsetting van die Nederlands wat die Vryburgers gepraat het. Dit was in wese Suid-Hollands wat vereenvoudig is. Dit is die taal wat aan die Oosgrens gepraat is en wat na die Groot Trek in die Boererepublieke gepraat is. Tot omtrent 1925 was sprekers van Boere-Afrikaans oortuig dat hulle Hollands praat.

Terloops: die name Diets, Duits, Duuts, en Dutch kom van die woord Germaanse woord “diet” wat volk beteken.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Christene buite die kerk: die Waldense

Foto: http://www.lineagejourney.com/reformation/movements/the-waldenses/

Sedert die Apostels tot vandag toe, was daar nog altyd ʼn suiwer getuienis van Yeshua die Gesalfde (Jesus Christus) op aarde. Dit was dikwels buite die kerk, daar was mense wat nie lidmate van die kerke was nie maar wat Yeshua vertrou het, daar was ʼn beter vertaalde Bybel beskikbaar vir die wat soek, en daar was geestelike leiers wat nie wêreldlinge was nie.

Die Apostels het ook ander reise, as wat in Handelinge genoem word, onderneem. Gemeentes het op verskillende plekke in Europa en buite Europa tot stand gekom. In die vierde eeu is die Christelike godsdiens deur die Romeinse Ryk erken en het die Rooms-Katolieke Kerk tot stand gekom. Hoewel kerkgeskiedenis dit laat voorkom of alle Christene in die Rooms-Katolieke Kerk opgeneem is, was daar ook Christene wat hewig van die Roomse kerk verskil het. Baie van hierdie Christene het in afgeleë landelike gebiede, in die wildernis, gewoon. Sulke gemeentes het nie kerkgenootskappe gevorm nie maar het wel met ander saamgewerk. Hierdie gemeentes en groepe het nie aan hulleself name gegee nie en is hoofsaaklik bekend onder name wat hulle vyande aan hulle gegee het.

Die geskiedenis van hierdie Christene het grotendeels verlore geraak. Weens vervolging is hulle eie geskrifte verbrand en is al wat van hulle bekend is dit wat hulle vyande van hulle gesê het. Die Rooms-Katolieke Kerk het die andersdenkendes “ketters” genoem en hulle beskuldig van allerlei dwalinge wat heel moontlik nie waar was nie. Die “ketters” is vervolg en baie het omgekom op brandstapels en deur massamoorde.

Die Christene wat vandag bekend staan as die Waldense, het oorspronklik in die Alpe gewoon, een deel in die suide van Frankryk en een deel in die noorde van Italië. Dit is nie seker of die Waldense, die Vaudois, die Khatare en die Albigensers verskillende bewegings was en of dit een groep was nie. Sommige Hervormers was van mening dat die Waldense al sedert 120 n.C. bestaan het.

Die algemene siening is dat die naam Waldense afkomstig is van ʼn man met die naam Pieter Waldo (Pierre Valdes) van die stad Lyon. Waldo was ʼn welgestelde handelaar in Lyon. Hy het tot die oortuiging gekom om van sy besittings ontslae te raak en die Gesalfde te volg. Matteus 19:21 het ʼn rol gespeel in sy besluit: Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ʼn skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. (AOV). Waldo het dit as ʼn saak van dringendheid gesien om die Bybel te ken en het twee geleerdes betaal om die vier Evangelies te vertaal uit oud-Latyns in sy moedertaal, Romaunt (ʼn algemene taal van die 8ste tot 14de eeue in die suide van Europa). Dit was in die jaar 1173 n.C., omtrent 300 jaar voor die Hervorming. Ander persone het by Waldo aangesluit en hulle het bekend geword as die “Armes van Lyon”.

‘n Alternatiewe siening is dat die naam Waldense afkomstig is van die woord “vallei” in Italiaans (Valdesi), Frans (Vaudois) en Romaans (Waldense). Dus: Die Waldense was “die mense van die valleie”.

Die Waldense het die Bybel as die enigste gesag vir geloof en praktyk beskou en het die Rooms-Katolieke Kerk se leer en gebruike verwerp.  Hulle het die Bybel gesien as die onfeilbare Woord van God en dit bestudeer en gememoriseer. Hulle oorspronklike sienings was soortgelyk aan die sienings van die latere Baptiste. Hulle het geglo verlossing kan slegs deur God se genade plaasvind. Tydens die Hervorming was hulle sienings soortgelyk aan dit wat die Hervormers verkondig het.

Aanvanklik het hulle nie met die Rooms-Katolieke Kerk gebots oor leerstellings nie. Die Kerk se probleem met hulle was dat hulle leke was wat sonder goedkeuring gepreek het. Gevolglik is die “Armes van Lyon” tot ketters verklaar. Hulle het gemeentes gestig in Frankryk, Italië, Duitsland, Switserland en elders. Nog ʼn groep, die “Armes van Lombardye” het ontstaan. Kontak met die Hervormers in Switserland het die Waldense oortuig om in 1532 met die Calvinistiese Hervormers te verenig. Uiteindelik het dit wat ʼn geestelike beweging was, ook ʼn kerkgenootskap geword.  Vandag bestaan daar nog Waldense kerkgenootskappe in Italië, Duitsland, Argentinië, Uruguay en die VSA.

Nadat die Waldense met die Hervormers verenig is, het hulle dieselfde vervolging as die Franse Hugenote deurgemaak. In 1545 is die dorpie Merindol in die Suid-Weste van Frankryk deur die Rooms-Katolieke Inkwisisie vernietig. 2000 mense het omgekom en 700 is na die galeie gestuur. In 1560 het die Inkwisisie ʼn massamoord gepleeg op Waldense in die Italiaanse gebied Kalabrië. Waldense het beide kante van die Kottiese Alpe bewoon. Die aan die Franse kant het aan die Franse Godsdiensoorloë deelgeneem en die tydelike voorregte van die Edik van Nantes geniet. Die Italiaanse kant was deel van die Hertogdom van Savoye. In 1560 het die Hertog ʼn militêre mag gestuur om die Waldense uit te wis. Die Waldense het hulleself verdedig en uiteindelik ʼn gunstige verdrag met die Hertog gesluit. In 1655 is nog ʼn groot massamoord gepleeg op die Waldense van Piëmont in Italië.

Aanvanklik het elke gemeente van die Waldense ʼn groot mate van vryheid gehad in hulle doen en late. Dit wil voorkom of sommiges Saterdag as rusdag gehad het, terwyl ander weer Sondag as rusdag gehad het. Daar was ook onderlinge verskille oor die doop en die “breek van brood”. Voor 1500 n.C. het die Waldense nie iets soos kerkgeboue gehad nie. In een geval word gemeld dat hulle eenkeer per maand, gedurende die dag of aand, ʼn gemeentelike byeenkoms (erediens) gehad het. Hulle het nie geordende geestelike leiers gehad nie en het hulle leiers barbes (“ooms”) genoem.

Die Rooms-Katolieke Kerk het die vertaling van die Bybel in volkstale verbied. Die Bybel wat hulle gebruik het, was die Vulgaat, wat hulle vertaling in Latyn was. Die vertaling van die Bybel in Romaunt is nie gedoen uit die Vulgaat nie, maar uit ʼn oud-Latynse vertaling wat ouer as die Vulgaat was. Die voorlopers van Pieter Waldo het hierdie vertaling gebruik want hulle het gemeen die Vulgaat het te veel foute gehad. Hierdie oud-Latynse vertaling is in Noord-Italië gebruik en het bewaar gebly as ʼn suiwerder vertaling uit die oorspronklike. Hierdie vertaling staan bekend as die Itala en word gedateer uit 157 n.C. Die Peshitta (Aramese Nuwe Testament) word gedateer uit 150 n.C. en word as die oudste volledige Bybel beskou.

In die laat vyftiende eeu is talle Griekse tekste van die Bybel herontdek in die weste van Europa. Die Hervormers het hierdie tekste vergelyk met die Vulgaat en afgekom op verkeerde vertalings en foute in die Vulgaat. Vir hulle was dit onaanvaarbaar en hulle ʼn het uitgebreide studie gemaak om die mees korrekte Bybel te bekom. Dit het daartoe gelei dat hulle die Textus Receptus ontwikkel het as ʼn Griekse Nuwe Testament. Van die Hervormers was self Waldense of het familie gehad wat Waldense was. Toe hulle die vertaling van die Bybel in hulle volkstale gedoen het, was die Waldense se Bybel in ag geneem as ʼn belangrike verwysingsbron.

Volgens ʼn ou tradisie het die apostel Paulus die noorde van Italië tydens sy vierde sendingreis besoek. Die gemeentes wat hy hier gestig het, was later bekend as “Oorspronklike Christene”. Die Malan-familie het ontstaan in Piëmont (Italië) en was Christene lank voor Pieter Waldo. Tydens die vervolging van 1112, het ʼn tak van die Malan-familie gevlug na Merindol in suidwes Frankryk. Sedert 1177 is die Christene hier Waldense genoem en sedert die Hervorming is hulle Hugenote genoem. Tussen 1681 en 1720 het ongeveer 200,000 Hugenote uit Frankryk na veilige lande gevlug. Een van hulle was Jacques Malan, die stamvader van een van die Boerefamilies.

‘n Suiwer en betroubare getuienis van Yeshua was nog altyd te vinde. Die vlam van die getuienis het net so helder gebrand soos die vlamme van die brandstapels.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Sosiale onderskeid in die Boerevolk

https://www.loot.co.za/product/n-seder-val-in-waterkloof/

Om ʼn onderskeiding tussen sosiale klasse in die Boerevolk te maak, is moeilik. Op ʼn manier is ons almal baie verlangs familie van mekaar. Kan jy sê ʼn familie bestaan uit verskillende sosiale stande? Is een broer van die hoër klas, een van die middel klas en die derde een van die laer klas? Indien wel, hoekom? Almal stam van dieselfde ouers af.

Die meerderheid van ons stamouers was uit die middelstand van Europa. Hulle het min of meer dieselfde geskooldheid gehad. Sommiges was meer welvarend, maar het met die lang oorloë en godsdienstige vervolging verarmd geraak. Aan die Kaap het die wat nie voorheen boere was nie, boere geword. Onder die Kompanjie se bewind was die binnelandse boereklas nie welvarend nie.

In Kaapstad en omgewing het daar ʼn klas welvarende handelaars en landgoedeienaars ontstaan. Hulle word soms Patrisiërs genoem. Sommige van hulle was wel uit dieselfde voorgeslagte as die Boerevolk maar het van hulle familie in die binneland vervreemd geraak. Onder Britse bewind het baie van die Hollandssprekendes verengels, byvoorbeeld lede van die Van der Byl, De Villiers en ander families. Daar was ander Kapenaars wat nie verengels het nie, maar wat ook van hulle families in die binneland vervreemd geword het. Hierdie welvarende Kapenaars het nie net ʼn ander sosiale klas geword nie, hulle het eintlik ʼn ander kultuur aanvaar – ʼn kosmopolitiese Britse kultuur. Dit was nie die Engelse of Walliesers of Skotte of Iere se kultuur nie, dit was internasionalisties en nie-etnies. Daar het dus mettertyd ʼn kloof ontstaan tussen sommige van die Kapenaars en die binnelandse Boerevolk.

Dit was eers met industrialisasie en verstedeliking dat die Boerevolk ander beroepe as boerdery begin beoefen het. Aanvanklik was baie net arbeiders, maar mettertyd kon die meeste daarin slaag om hulleself beter te kwalifiseer. Met beter kwalifikasies het hulle inkomstes verbeter en kon verarmdes weer ʼn middelklas lewenspeil handhaaf. Onder Nasionale Party regerings in die 20ste eeu, kon die sonder beter kwalifikasies steeds ʼn goeie bestaan maak in laer poste in die Staatsdiens en Staatskorporasies – ʼn tipe sosialisme.

Nogtans was daar vele lede van die Boerevolk wat daarin kon slaag om ʼn hoër sosiale klas as middelklas te word, party deur akademiese studie, ander deur senior poste in die staatsdiens en staatskorporasies en sommiges deur sukses in die sakewêreld. Van hierdie persone het hulle verbintenis met die Boerevolk behou en op verskillende terreine hulle volksgenote se belange bevorder. Weereens, nes die Kapenaars destyds, het heelwat ander lede van die hoër klas hulle herkoms verlaat en internasionalisties (deesdae globalisties) geword. Hulle denke en waardes het sodanig verander dat hulle van hulle volk vervreemd geraak het.

Om vandag betroubare inligting oor die Boerevolk te verkry, is onmoontlik. In 2006 was die Blankes in Suid-Afrika (uitgesluit die in Namibië en ander lande) verdeel in 17.4% laer klas, 60.1% middelklas en 22.4% hoër klas.

Die laer klas is diegene wat die laagste inkomste verdien en wat ook ongeskoold is. Hulle status mag aangebore of deur omstandighede wees. Dit sluit in hawelose mense en gesinne wat verplig is om swak betalende werksgeleenthede te aanvaar. Baie is afhanklik van staatstoelaes (Sassa) en die staat se mediese dienste.

Die grootste gedeelte van die Boerevolk behoort tot die middelklas. Verskeie teorieë bestaan oor  die onderverdeling van die middelklas. Na my mening is dit nie van toepassing op die Boerevolk nie. By ons bestaan die middelklas hoofsaaklik uit geskoolde mense, persone wat ʼn vorm van beroepsopleiding gehad het. Hulle verwag om ʼn inkomste te verdien wat in ooreenstemming met hulle opleiding en ondervinding is. Hulle verwag ook ʼn lewenstandaard, behuising en vervoer wat hiermee ooreenstem. Hulle verwag verder dat hulle kinders dieselfde of beter sal kan doen.

Die hoër klas het op grond van rykdom en posisie groot invloed in die samelewing. Dit gee aan hierdie persone ook politieke en sosiale mag. By die Boerevolk bestaan die hoër klas uit akademici, senior amptenare, senior bestuurders, en sakelui. Hulle is in staat om in luukser woongebiede te woon en word gereeld as meningsvormers gebruik.

Hoewel daar tans verskillende sosiale klasse bestaan, kan daar nie veralgemeen word nie. Nie almal in ʼn wit plakkerskamp behoort tot die laer klas nie. ʼn Plakkerskamp is eintlik ʼn soort woonbuurt waarvan die inwoners wissel van dwelmverslaafdes, halfgeskooldes, geskooldes tot verarmde professionele lui. ʼn Vriend wat ʼn karwag van beroep is, is ʼn belese persoon wat sy dagtaak met trots en deeglikheid uitvoer.

Onder die Boerevolk is daar nie ʼn sosiale onderskeid tussen blouboortjie en witboortjie werkers nie. Talle blouboortjie werkers het hulle eie suksesvolle besighede gevestig. Dit is vir my interessant om te luister na die suiwer Afrikaans wat deur middelklasmense gebesig word, veral diegene wat uit ʼn blouboortjie agtergrond kom.

Onder die hoër klas is daar twee groepe. Vriende met beter kwalifikasies is dikwels jare lank oorgesien in aanstellings omdat hulle nie met die “binnekring” saamgestem het nie. Die “binnekring” is gewoonlik polities korrek en is aanvaarbaar vir die “regte” mense. Sommiges van die hoër klas het hulle rykdom en status geërf en behoort tot die ou-geld elite.

Elders in die wêreld word mense binne sekere sosiale stande gebore en die meeste bly in sy stand tot by sy dood. By die Boerevolk bestaan dit nie. Voor verstedeliking  plaasgevind het, was familie en afkoms belangrik binne die konteks van familie uitlê. Familie uitlê was gerig op identifikasie van wie ʼn persoon is, waar hy vandaan is en aan wie hy verwant is.

By die Boerevolk hou sosiale klasse hoofsaaklik verband met opleiding en ondervinding en die inkomste wat as gevolg daarvan verdien kan word. Sosiale klasse is derhalwe veranderbaar. Iemand kan opwaarts beweeg deur self-verbetering. Gewoonlik beweeg persone afwaarts as gevolg van eksterne omstandighede.

As volk bly ons dus verlangs familie van mekaar en raak die lotgevalle van elke individuele lid van die volk ons regstreeks. Dit maak dat almal – van laer klas tot hoër klas – vir ons belangrik is. Ons wil graag ons volk bymekaar sien, in staat om mekaar te versorg en op te bou.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Noudat almal regs is

Foto: https://redice.tv/news/

Daar was ‘n tyd toe daar nie Regses was nie. Daar was Afrikaners en Engelse, Natte en Sappe, maar daar was nie Regses nie. Ook nie Nie-regses nie. In daardie dae was dr. Verwoerd die volksleier. Dr. Verwoerd het onder die Afrikaner-elite vyande gehad, maar die volk was bankvas agter hom. Die enigste blanke partye wat van dr. Verwoerd se Nasionale Party (die Nattes) verskil het, was die Verenigde Party (die Sappe) en die Progressiewe Party (die Progge). Die Sappe was meer Engels, maar was nie Links nie. Die Progge was Links, het vir jare net een setel gewen en was die ryk Jode van Houghton se party.

Regses het eers ontstaan nadat dr. Verwoerd vermoor is. Hy is deur adv. John Vorster opgevolg. Waar dr. Verwoerd se leierskap gegrond was op morele beginsels, was adv. Vorster se leierskap gegrond op politieke pragmatisme. Hierdie pragmatisme het veroorsaak dat die Nasionale Party (NP) begin afwyk het van dr. Verwoerd se pad, hulle het begin rondval oor beleid en was nie meer in staat om leiding te gee nie. Die Afrikaner-elite het hier ‘n gulde geleentheid gesien om hulle eie belange te bevorder en het daarin geslaag om groter invloed te kry. Hierdie Afrikaner-elite was hoofsaaklik in die Wes-Kaap en Johannesburg.

Daar was binne die Nasionale Party ‘n groep wat ongelukkig was met die nuwe rigting onder adv. Vorster en het probeer walgooi. Die Afrikaner-elite het hulle as ‘n ernstige gevaar gesien en het ‘n totale aanslag teen hulle geloods. Vir die Afrikaner-elite was hulle ‘n groter gevaar as die Sappe, die Progge, die ANC en die kommuniste. Reeds in 1966 het Willem de Klerk (broer van FW de Klerk) die aanslag begin. Hy het Afrikaners (Afrikaners word hier gebruik as sinoniem vir Boere) verdeel in Verkramptes (die konserwatiewes) en Verligtes (die progressiewes). Die Verkramptes was veronderstel om vooruitgang teen te staan en om enige een wat iets nuuts voorstel, verdag te maak. Die Verligtes was modern, dinamies en ten gunste van hervorming. Eers word daar etikette geskep, dan word ‘n positiewe of negatiewe betekenis aan die etiket gegee, dan word opponente gekoppel aan die negatiewe etiket en vriende aan die positiewe etiket. So het dit gebeur dat persone wat die Afrikaner-elite teengestaan het, bekend geword het as Verkramptes.

Mettertyd is die etiket Verkramp vervang met Regs en Verregs. Dit is merkwaardig dat Regses en Verregses deur die bank Afrikaners (Boere) was wat van die Nasionale Party (wat onder die beheer van die Afrikaner-elite was) verskil het. Hierdie verskil het gehandel oor die toekoms en veiligheid van die Afrikanervolk (Boerevolk). Die Afrikaner-elite was internasionalisties (deesdae globalisties) en het nie die voortbestaan van die Afrikanervolk as belangrik geag nie. Mettertyd het die bekommernis oor die volk se toekoms daartoe gelei dat meer en meer Afrikaners die Nasionale Party verlaat het en nuwe partye en organisasies gestig het.

Wat noem mens Afrikaners wat nie Regs is nie? Blykbaar niks nie. Hulle noem hulleself nooit Links nie, maar wat anders kan hulle wees? Gematigdes? Nog warm, nog koud soos die Bybel sê? Die Nasionale Party was Links en selfs Verlinks, dink aan FW de Klerk en sy trawante. Hulle het eintlik dieselfde sienings aangeneem as wat die Progressiewe Party gehuldig het. Alhoewel die Nasionale Party homself vernietig het, het hulle propaganda bly voortleef. Talle Afrikaners het so ‘n weersin in sy mede-Afrikaner, wat Regs was, gehad dat hulle eerder saam met die Verlinkes sal staan as met sy volksgenoot. In die praktyk, wêreldwyd, moet Gematigdes ‘n keuse maak en hulle kies altyd Links.

Is daar vandag nog dieselfde verdeeldheid of het Afrikaners al tot hulle sinne gekom? Dit wil tog voorkom asof voormalige Nasionale Party ondersteuners ontnugterd is. Waarskynlik sal hulle steeds nie die Regses, wat al lankal bestaan, ondersteun nie. Hulle sal eerder hulle heil in ‘n nuwe organisasie vind. Daar het in die laaste paar jaar nuwe organisasies tot stand gekom wat blykbaar vir baie Afrikaners aantreklik is. Het die gewese Nasionale Party mense nou ook Regses geword?

Die werklike verskil tussen die verskillende groepe Regses is die datum waarop hulle tot ontnugtering gekom het. Die Herstigte Nasionale Party (HNP) het in 1969 weggebreek van die Nasionale Party af, die Konserwatiewe Party (KP) in 1982, die Vryheidsfront (VF) in 1994, ander organisasies het so onlangs as 2016 ontstaan. Enige iemand wat nou nog nie Regs is nie, kan gereken word as Links. Regs en Links is nou duidelik onderskeibaar. Regs is nasionalisties, vir hul eie mense en kultuur. Regs is Bybelgelowig en vir Christelike waardes. Links is globalisties, met geen lojaliteit aan enige groep of kultuur nie. Links is nie christelik nie en ondersteun byvoorbeeld die LGBT groepe.

Afrikaners (Boere) het nog altyd ‘n probleem gehad met dislojaliteit in eie geledere. Dink maar aan die hensoppers van die Anglo-Boereoorlog en die draadsitters van die 1940’s. Ek het iewers gelees dat die hensoppers meestal verarmdes en bywoners was wat afgunstig op hulle meer welvarende volksgenote was. Of dit waar is, kan ek nie sê nie. As dit waar is, gee dit ‘n verduideliking van hoekom een volksgenoot sy mede-volksgenote verraai. Is daar vandag groepe volksgenote waarvoor die volk versigtig moet wees?

Eerstens is daar diegene wat hulleself voorhou as gematigdes. Ons is reeds in ‘n oorlog, daar is reeds ‘n proses van volksmoord teen ons aan die gang. Dink taal, kultuur, onderwys, ensovoorts. Dink plaas- en dorpsmoorde, onteiening sonder vergoeding, ensovoorts. Kan enige volksgenoot hieroor afsydig staan, onbetrokke wees, sy neus optrek vir Regses? In beginsel is ‘n gematigde niks anders as ‘n hensopper nie.

Ons het nog altyd armes en werkloses in ons volk gehad, en sal dit in die toekoms ook hê. In die dae toe ons ons eie regerings gehad het, was daar ‘n verantwoordelikheidsgevoel teenoor hulle. Omdat daar ‘n regering met ‘n belastinginkomste was, kon die staat help met onder andere werkskepping. Die hulp  was nie dieselfde as wat onder sosialisme verstaan word nie. Vandag is die armes van ons volk afhanklik van die toelaes wat die huidige regering gee en op hulp van privaat persone en volksorganisasies. Indien iemand nou moet kies tussen sy staatstoelae en lojaliteit aan sy eie volk, wat sal hy kies? Het iemand wat reeds alles verloor het en geen vooruitsigte het nie, enige belangstelling in die toekoms van volksgenote wat nog besittings en vooruitsigte het?

Ons jeug wat na 1994 op skool was, is deur die skoolstelsel geïndoktrineer. Ondermeer deur die verdraaide geskiedenis wat deur die staat verkondig word. Die skoolstelsel het nie net die jeug se begrip van die verlede verdraai nie, dit het ook ‘n volksvreemde godsdiens en kultuur aan hulle bekend gestel. Meer nog, die jeug se moraliteit en waardes is ook afgetakel. In ‘n militêre situasie is dissipline en respek vir meerderes absoluut noodsaaklik en dit wil voorkom of ons jeug dit nie meer het nie. Indien die jeug voor ‘n keuse gestel word, sal hulle hul eie volk kies? Is hulle nie dalk ‘n verlore geslag nie?

Om vandag Regs te wees, is iets heel anders as in die verlede. Die behoudendes in die westerse wêreld het misluk. Dit het gelei tot die opkoms van Alt Regs. Alt Regs se 16 Punte is die volgende (verkry by Vox Popoli):

  1. Die Alt Regsis polities “regs” in beide die Amerikaanse en Europese sin van die begrip. Sosialiste is nie Alt Regsnie. Kommuniste, Marxiste, Marxistiese ekonome, kulturele Marxiste, en neokonserwatiewes is nie Alt Regs nie.2. Die Alt Regs is ‘n ALTERNATIEF vir die hoofstroom konserwatiewe beweging in die VSA wat nominaal verwoord word deur Russel Kirk se [10 Konserwatiewe Beginsels], maar in werklikheid afgewentel het na progressivisme. Dit is ook ‘n alternatief vir libertarianisme.

    3. Die Alt Regs is nie ‘n defensiewe houding nie en verwerp die konsep van edele en beginselvaste nederlae. Dit is ‘n vooruitdenkende filosofie gefokus op offensief, in elke sin van die woord. Die Alt Regs glo in oorwinning deur volharding en deur in harmonie te verkeer met die wetenskap, realiteit, kulturele tradisie, en die lesse van die geskiedenis.

    4. Die Alt Regs glo die Westerse beskawing is die toppunt van menslike prestasie en ondersteun die drie pilare van sy fondasie: Christendom, die Europese nasies, en die Grieks-Romeinse nalatenskap.

    5. Die Alt Regs is openlik en uitgesproke nasionalisties. Dit ondersteun alle nasionalismes en die bestaansreg van nasies, homogeen en nie vervuil deur immigrasie of besetting nie.

    6. Die Alt Regs is anti-globalisties. Dit verwerp alle groepe wat streef na globalistiese ideale of doelwitte.

    7. Die Alt Regs is anti-egalitaries. Dit verwerp die idee van gelykheid vir dieselfde rede waarom dit die idees van eenhorings, “leprechauns” of die tokkelossie verwerp. Dit neem waar dat daar nie so iets soos gelykheid bestaan in enige waarneembare vorm in die wetenskaplike-, regs-, materiele-, intellektuele-, seksuele of geestelike sin nie.

    8. Die Alt Regs aanvaar die huidige gevolgtrekkings van die wetenskaplike metodiek (in Engels “scientody”), maar verstaan dat a) hierdie gevolgtrekkings onderworpe is aan toekomstige verwysing, b) dat die praktyk van wetenskap (in Engels “scientistry”) vatbaar is vir korrupsie, en c) dat die sogenaamde wetenskaplike konsensus nie gebaseer is op die wetenskaplike metodiek nie, maar op demokrasie, en daarom intrinsiek onwetenskaplik is.

    9. Die Alt Regs glo identiteit > kultuur > politiek.

    10. Die Alt Regs is gekant teen die regering of dominasie van een inheemse etniese groep deur ‘n ander, veral in die soewereine tuislande van die onderdruktes. Die Alt Regs is gekant teen enige nie-inheemse etniese groep wat buitensporige invloed in die samelewing bekom deur nepotisme, stamgebondenheid, of enige ander metode.

    11. Die Alt Regs verstaan dat diversiteit + nabyheid = oorlog.

    12. Die Alt Regs gee nie om wat jy daarvan dink nie.

    13. Die Alt Regs verwerp internasionale vrye handel en die vrye beweging van mense wat deur vrye handel vereis word. Die voordele van intra-nasionale vrye handel tussen lande is nie bewyse van die voordele van internasionale vrye handel nie.

    14. Die Alt Regs glo dat ons die voortbestaan van witmense en ‘n toekoms vir wit kinders moet verseker.

    15. Die Alt Regs glo nie in die inherente oppergesag van enige ras, nasie, volk of subspesie nie. Elke ras, nasie, volk en menslike subspesie het sy eie unieke sterk- en swakpunte en beskik oor die soewereine reg om sonder inmenging van buite te verkeer in die kultuur wat dit verkies.

    16. Die Alt Regs is ‘n filosofie wat waarde heg aan vrede tussen die verskeie nasies van die wêreld en staan geweld om een nasie se waardestelsel op ‘n ander nasie af te dwing teen, sowel as pogings om individuele nasies uit te wis deur oorlog, volksmoord, immigrasie of genetiese assimilasie.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Volksorganisasies vandag – Wie is wie

Foto: http://boervolk.info/manifes-van-die-emigrante-boere/ Standbeeld van Piet Retief

Daar is vreeslik baie organisasies, groepe en indiwidue wat aanspraak maak daarop dat hulle in belang van ons volk optree. Elke dag hoor ons van nog een wat ons voorheen nie van geweet het nie. Onder al hierdie baie is daar ook die wat vals is, wat nie regtig die volk se beste belang soek nie of wat eintlik ‘n vyandige agenda volg. Verder is daar ook die pogings om sekere organisasies, groepe en indiwidue te demoniseer.

Oor wie die volk is, is daar verskillende standpunte. Vir doeleindes van hierdie artikel gebruik ons die breedste definisie, naamlik alle blankes wat ‘n samehorigheidsgevoel het. Voorheen het die idee van selfbeskikking verdeeldheid veroorsaak. Vandag is dit nie meer so nie, almal stem saam dat selfbeskikking die enigste oplossing is as ons wil bly voortbestaan. Dit is inderdaad net volksvyande wat selfbeskikking verwerp. ‘n Ander saak wat al die volksorganisasies oor saamstem, is dat daar ‘n terugkeer na Christelike waardes moet wees.

Die oudste politieke party wat hom vir die volk beywer is die Herstigte Nasionale Party (HNP). Na die moord op dr. HF Verwoerd het daar ernstige verskille binne die regerende Nasionale Party (NP) ontstaan wat in 1969 gelei het tot die stigting van die HNP. Vir die NP (en sy vennote die Broederbond, Nasionale Pers en die Susterkerke) was die HNP sy grootste politieke gevaar en is alles in die stryd gewerp om die HNP te demoniseer. Die HNP beskou die Bybel as die grondslag vir sy beskouings en streef na ‘n soewereine Afrikanerstaat met Afrikaans as landstaal. Die HNP neem nie deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel nie. Die huidige leier is mnr. Andries Breytenbach.

Die Vryheidsfront is ‘n politieke party wat in 1994 onder leiding van genl. Constant Viljoen gestig is. Mettertyd het hulle steun afgeneem en is die party hersaamgestel onder die leierskap van dr. Pieter Mulder as die Vryheidsfront Plus (VF+). Die huidige leier is dr. Pieter Groenewald. Die VF+ glo ondermeer in koalisiepolitiek, moedertaalonderrig, minderheidsregte, selfbeskikking, private eiendomsreg en christelike waardes. Die VF+ neem deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel.

Front Nasionaal (FN) is ‘n politieke party wat in 2013 gestig is en bevorder Afrikaner selfbeskikking en sesessie. Hulle maak nie onderskeid tussen Afrikaners en Engelssprekende Blankes nie. Die FN ondersteun ook samewerking met ander groepe wat selfbeskikking nastreef. Hulle neem ook deel aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. Die FN se leierskap is ‘n spanpoging aangesien hulle nie ‘n kultus om ‘n sekere persoon wil hê nie. Die leierskap verdien nie salarisse nie en die FN vra nie ledegeld nie. In 2014 het FN ‘n grondeis ingedien ten behoewe van die Afrikanervolk.

Die Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) is ‘n politieke party wat in 2016 gestig is. Hulle kernbeleid is selfbeskikking vir Boere-Afrikaners. Ander blanke Suid-Afrikaners is ingesluit by hulle konsep van volk. Die einddoel is eksterne selfbeskikking en sesessie. Hulle beoog om Munisipale verkiesings te gebruik om ooreenkomstig die grondwet nuwe munisipaliteite te skep. Dit is nie duidelik of hulle aan die Suid-Afrikaanse politieke stelsel gaan deelneem nie.

Die oudste weerbaarheidsorganisasie is die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB). Hulle is in 1973 gestig om ‘n teenvoeter te kry vir die Westminster-stelsel wat toe in Suid-Afrika gegeld het. Die eerste hoofleier was mnr. Eugene Terre’Blanche. Net soos die HNP, is die AWB ook deur die regerende NP en sy vennote gedemoniseer. Die AWB was vir die NP ‘n groter gevaar as die ANC. Aanvanklik was weerstand gebied teen alles wat volksvreemd en volksvyandig was. Die AWB is Christelik en beywer hulle vir ‘n Boere volkstaat. Die AWB bied opleidingskampe aan om die weerbaarheid van die volk te verhoog. Hulle ondersteun ook verootmoedigingsaksies en kultuuraktiwiteite. Die huidige leier is mnr. Steyn van Rönge.

Die Kommandokorps (KK) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in ongeveer 2001 gestig is en bied oorlewingskampe (“survivalist camps”) aan. Die opleiding wat hulle aanbied is geskoei op die opleiding van dienspligtiges in die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW). Dit sluit opleiding in selfverdediging in. Die KK poog ook om ‘n opgeleide korps daar te stel wat soortgelyk aan die SAW se kommandostelsel sal wees. Die leier is kol. Franz Jooste. Die KK word dikwels in die Engelse media beskuldig van rassisme.

Die Suidlanders (SL) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in 2006 gestig is onder leiding van mnr. Gustav Müller. Hulle verwag ‘n groot geweldadige aanslag op Blankes en berei voor vir ‘n nasionale ontruiming en beveiliging van Blankes. Die Suidlanders vorm ‘n netwerk van Blankes en het ‘n basiese raamwerk vir ‘n noodplan ontwikkel. Hierdie noodplan bestaan uit ontruiming na veilige plekke, voorsorg vir voedsel en lewensmiddele, plaaslike leierskap strukture en ‘n kommunikasie stelsel. Hulle bied gereeld opleiding aan wat alle fasette hiervan dek.

Die Vryheidsryers (VR) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat deur wettige opleiding sy lede wil oplei tot beskerming van huis en haard. Dit is ‘n gesinskommando en leer hulle lede Christelike waardes en standaarde. Hulle bied vir gesinne selfverdedigingskursusse aan om dan selfbeskermingseenhede te kan vorm. Die VR is in 2006 gestig en die leier is genl. Johan Thorpe. Hulle toekomsvisie is ‘n eie onafhanklike grondgebied vir die volk.

Die Boerelegioen (BL) is ‘n weerbaarheidsorganisasie wat in 2016 gestig is om as ‘n passiewe volksweermag op te tree. Die leier van die BL is genl. Izak van Zyl. Die eerste stap is om ‘n databasis op te stel van weerbare persone in die dorpe en gebiede waar hulle woon. Daarna moet ‘n bevelstruktuur van kundige militêre veterane daar gestel word en moet selfbeskermingseenhede opgelei word. BL sien hulleself as apolities en wil saam met ander ras- en kultuurgroepe werk. Hulle spel nie hulle siening oor selfbeskikking uit nie. Hulle wil Christelike beginsels toepas.

Die Verkennersbeweging (VB) is ‘n kultuurbeweging wat in 1991 gestig is. Hulle sien hulleself as polities neutraal maar streef na ‘n onafhanklike vaderland vir die Boerevolk. Hulle doelstellings is om ‘n Christelike lewenswyse te bevorder en om die Boerevolk se taal, kultuur en identiteit te bevorder. Lidmaatskap word beperk tot Boerevolksgenote en hulle gebruik slegs Afrikaans as taal.

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) is in 2000 gestig deur ‘n groep mense wat besorg was oor die toekoms van Afrikaners se taal, kultuur en identiteit. PRAAG bedryf ‘n webblad en uitgewery wat intellektuele inhoud gee aan die stryd teen Afrikaanssprekende Marxiste. Hulle bevorder ook kontak met oorsese intellektuele wat anti-globalisties is. Hulle neem ook deel aan protesaksies en aksies om die volkserfenis te bevorder. PRAAG beywer hulle vir selfbeskikking in ‘n volkstaat. Die leier is dr. Dan Roodt, ‘n skrywer en filosoof.

Afriforum (AF) beskryf hulleself as ‘n burgerregte organisasie wat ten doel het om die regte van minderhede, veral Afrikaners, te beskerm. Hulle is in 2006 gestig en die Uitvoerende Hoof is mnr. Kallie Kriel. Die organisasie het betaalde amptenare en vra maandelikse lidmaatskapsfooie van sy lede. AF ondersteun selfbeskikking in beginsel maar voorsien probleme met die praktiese toepassing daarvan.

Toekomsvonk is in 2017 gestig om ‘n gebroke volk te herstel tot ‘n selfstandige, onafhanklike en trotse volk. Hulle sien die volk as ‘n Christen Afrikaner groep wat alle mense van Europese herkoms insluit. Sake waaraan hulle aandag gee is selfstandigheid, volhoubaarheid, regshulp, vervolging, besigheidsontwikkeling, aktivisme, maatskaplike sake, kultuur ontwikkeling, onderwys, opleiding en media. Die Besturende Direkteur is Helga Swart. Hulle onderskryf Christelike waardes, familie- en gesinswaardes, integriteit, volkstrots, morele standaarde, respek. Hulle spel nie hulle siening van selfbeskikking duidelik uit nie.

Die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) is na ‘n volksvergadering in 2007 gestig met die doel om selfbeskikking te bekom. Die metode was om deur volksverkiesings ‘n volksverteenwoordigende liggaam te verkies wat namens die volk kan optree. Die eerste verkiesing was in 2011 gehou en ‘n tweede verkiesing word in 2018 gehou. Die volksraad wat verkies word, funksioneer soos in die Boererepublieke. Daar is nie politieke partye nie, volksverteenwoordigers word as indiwidue verkies. Kiesers word geregistreer en word op ‘n kieserslys geplaas, die verkiesing vind plaas by stembusse landswyd en kiesers moet hulle identiteit bewys. Verskeie van die organisasies hierbo genoem, ondersteun die VVK. Die huidige voorsitter van die VVK is mnr. Christo Snyman.

Die verkiesing van 2011 (geadministreer deur die VVK) het gelei tot die totstandkoming van die Boere-Afrikanervolksraad. Die taak van die Volksraad is om territoriale selfbeskikking te verkry binne die bepalings van die Internasionale Reg en die Suid-Afrikaanse grondwet. Die hele volk hoef nie selfbeskikking te eis nie, slegs ‘n deel van die volk kan dit ook doen. Hierdie deel van die volk spreek hulle ten gunste daarvan uit in ‘n volksverkiesing. Die proses wat gevolg word, behels kennisgewing aan die Suid-Afrikaanse regering dat die Volksraad ‘n mandaat het om selfbeskikking op te eis. Indien die regering instem, word daar in onderhandeling getree. Voorstelle oor grondgebied moet deur die volk self by volksvergaderings goedgekeur word. Indien die regering nie die selfbeskikkingseis aanvaar nie, mag die Volksraad die internasionale gemeenskap versoek om te bemiddel. Indien dit ook nie suksesvol is nie, word dit dan aan volksvergaderings voorgelê. Die volk sal dan self kan besluit wat verder moet gebeur.

Hierdie is die meer bekende organisasies wat hulle vir selfbeskikking beywer. Almal het ondersteuners op grondvlak en loods aksies. Almal het ‘n verkose bestuur, strukture en infrastruktuur. Hulle is verder deur alliansies verbind met ander organisasies en groepe. Daar is ook samewerking tussen organisasies oor sake waaroor hulle saamstem. Al hierdie organisasies veg aan dieselfde kant. Hulle veg nie teen mekaar nie. Niks verhinder iemand om aan meer as een organisasie te behoort en meer as een organisasie te ondersteun nie.

Met al die organisasies wat bestaan, en sommiges bestaan al baie lank, waarom is daar steeds so min vordering? Die antwoord is dat die meeste van die volk nie betrokke wil raak nie. Daar is verskeie redes daarvoor. Een rede is die suksesvolle propaganda en breinspoeling deur die media en ander volksvyande. ‘n Ander is vrees om opgestaan en getel te word. Die keuse wat gemaak moet word, is tussen voortbestaan en ondergang. Die wat sal bly voortbestaan, sal soos ons voorgeslagte te hardkoppig wees om in te gee.

(Daar is ook ander groepe wat hoofsaaklik op sosiale media aktief is. Die Boere Krisis Aksie (BKA) bestaan al sedert 1993 en is bekend vir die bewusmaking van plaasmoorde. ‘n Groep bekend as die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA) poog om deur ‘n internet stemmery sesessie te verkry. Hierdie groep het verskeie Facebook bladsye waarvan almal dieselfde logo gebruik.)

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Is dit die einde van die wit volk van Afrika?

Foto: https://saboteur365.files.wordpress.com/2017/06/white-nationalism-poster-precious-possession.jpg

Lank, lank gelede, toe ek begin werk het, het die staat die Blankes aangemoedig om groter gesinne te hê. Dit is ondermeer met belastingtoegewings gedoen (dit was slegs Blankes wat inkomstebelasting betaal het). Op dieselfde inkomste het ‘n ongetroude persoon die maksimum koers betaal, indien getroud het hy minder betaal, indien getroud met een kind het hy nog minder betaal, en so aan verder tot en met ses kinders.

In 1967 kon die regerende Nasionale Party trots verklaar dat, in die vorige vyf jaar, die aanwas van Nie-blankes minder was as die aanwas van Blankes. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika dat dit reggekry kon word. Die Blanke aanwas het ook immigrante uit Europa ingesluit. In daardie tyd was die Suid-Afrikaanse ekonomie sterker as ooit daarvoor of daarna. Daar was meer werksgeleenthede as wat daar werkers was en daar was veral ‘n tekort aan vakmanne. As iemand se baas hom kwaad gemaak het, het hy vir sy baas gesê wat hy met sy werk kan maak en die volgende dag oorkant die straat begin werk teen ‘n beter salaris.

In 1900 was daar 1 miljoen Blankes en 3.2 miljoen Bantoes in Suid-Afrika, dus omtrent 3 Bantoes vir 1 Blanke. In 1945, voor die beleid van Aparte Ontwikkeling, was daar 2.3 miljoen Blankes en 8.5 miljoen Bantoes, amper 4 Bantoes vir elke Blanke. In 1965, net voor dr. Verwoerd vermoor is, was daar 3.4 miljoen Blankes en 14.6 miljoen Bantoes, dit wil sê omtrent 4 Bantoes per Blanke. Vir 20 jaar het die verhouding dus min-of-meer konstant gebly. In 1990 was daar 5 miljoen Blankes en 30 miljoen Bantoes, dus 6 Bantoes vir elke Blanke. Dit was die situasie toe die Nasionale Party gekapituleer het. In 2017 was daar 4.5 miljoen Blankes en 45.6 miljoen Bantoes, derhalwe 10 Bantoes vir een Blanke. Blankes se getalle neem steeds af en Bantoes se getalle neem steeds toe. Wat gaan die situasie oor 20 jaar wees? 20 Bantoes per Blanke?

Dit is nie net in Suid-Afrika waar Blankes se getalle afneem nie, dit gebeur wêreldwyd. Die Westerse Wêreld se bevolkings krimp terwyl die Derde Wêreld se getalle toeneem. Daar word gemeen dat die Blankes in die VSA oor omtrent 20 jaar ‘n minderheid gaan wees. Europa is op dieselfde pad. Nie net neem die Blankes se getalle af nie, hulle laat toe dat reuse getalle immigrante uit die derde wêreld hulle lande instroom. Die Blanke ras se voortbestaan word ernstig bedreig.

Wie nie van hierdie situasie bewus is nie, het geen kennis van wat in die wêreld aan die gang is nie. Suid-Afrikaanse blankes wat nie bewus is van die implikasies hiervan nie, moet liewer hulle opinies vir hulleself hou. Die krimping van Blanke getalle en die toename van Nie-blanke getalle is loshande die belangrikste saak wat ons voortbestaan beïnvloed.

Wat het veroorsaak dat die Blanke ras besluit het om selfmoord te pleeg? In Europa was die aanwas van die bevolking in vroeër eeue deur die natuur gereguleer. Baie kinders is gebore, maar sterftes deur oorloë en siektes het die grootte van gesinne verklein. Toe die mens daarin slaag om die sterftesyfer te verminder, het daar ‘n gevaar van oorbevolking ontstaan. Dit het gelei tot bevolkingsuitbreiding na ander kontinente toe. Steeds het die Blankes toegeneem totdat geboortebeperking moontlik geword het. Geboortebeperking het die grootste invloed gehad op die oorgang tot kleiner gesinne. Voorheen was die grootte van die gesin bepaal deur natuurlike faktore, groot gesinne was deel van die lewe. Geboortebeperking het aan die mens ‘n keuse gebied, mense kon ‘n wilsbesluit neem oor hoe groot die gesin moet wees. Die nywerheidsrevolusie het ook ‘n invloed op die grootte van die gesin gehad.

In ons tyd het die Westerse mense se waardes verander. Die Westerlinge (Blankes) het tradisionele en christelike waardes oorboord gegooi en vervang met ‘n vrysinnige ongodsdienstige lewensuitkyk. Die vrysinnige lewenswyse van ‘n groot aantal Blankes bevorder seksuele losbandigheid en aborsie op aanvraag. Dit bevorder pornografie en nie-reproduktiewe en ongesonde seksuele lewenstyle. Die gebruik van dwelms het ook ‘n invloed op reproduksie. Radikale feminisme en vroue wat loopbane najaag veroorsaak vyandigheid teenoor moederskap. Verder veroorsaak egskeidings en ekonomiese behoeftes dat vroue loopbane moet volg en gevolglik moederskap moet beperk. Kinders uit die huwelike van Blankes met Nie-blankes verswak ook die blanke bevolkingsaanwas. Dit alles, en nog meer, breek die tradisionele gesin en gesinswaardes af.

Hoeveel Blankes in Suid-Afrika die Westerse vrysinnige lewenswyse navolg, is onbekend. Die oorgang van vroeër jare se groot gesinne na die kleiner gesinne van vandag het gebeur as gevolg van verstedeliking. Om uit die stedelike armoede te ontsnap moes meer geld aan opleiding van kinders bestee word. In die stede was die beter betrekkings gereserveer vir geskoolde persone. Minder kinders, wat geskoold was, was beter as meer kinders, wat ongeskoold was. Dit was dus in die hele gesin se belang dat daar minder kinders moes wees. Mettertyd het inkomste verbeter en was ‘n meer gerieflike lewenswyse moontlik. ‘n Beter huis, ‘n tweede motor, ‘n swembad en ‘n jaarlikse vakansie kon bekostig word. Ekonomiese faktore het kleiner gesinne verkieslik gemaak. Die oorgrote meerderheid Bantoes het nie in hierdie welvaart gedeel nie en het steeds groter gesinne gehad. Die verskil in aanwas het verder vergroot.

Hoe gaan die getalleverhouding van Blankes tot Bantoes oor 10 jaar wees? Binnekort gaan jou rugbyspan nie meer as 2 Blanke spelers hê nie, daar gaan net 2 Blankes in jou kind se klas wees, jou gesin gaan die enigste Blankes in jou straat wees. Tensy iets gebeur wat dit verander.

Alles is nie verlore nie. Die White Tribe of Africa kan bly voortbestaan. Dit hang van ons af of ons wil bly voortbestaan, of nie. Dit is ons keuse. Dit sal net nie op dieselfde manier wees as voorheen nie. Daar mag dalk net ‘n beter toekoms wag as wat ons van kan droom.

Om reg te kies sal die Blankes in Suid-Afrika bewus moet word van wat om hulle aangaan. Te veel leef in ‘n droomwêreld waaruit hulle nie wil wakker word nie. Die Blankes sal moet ophou om te luister na die leuens van die media, kerke en die “deskundiges”. Hulle sal moet begin om hulle gesonde verstand te gebruik.

Kies jou gesin, jou familie, jou voorgeslagte en jou nageslagte. Kies jou eie mense, kies jou eie taal en kultuur. Kies jou eie volk. Onthou wat jou voorgeslagte deurgemaak het sodat jy hier kan wees. Dink aan die erfenis wat hulle aan jou nageslag nagelaat het. Of was al die lyding, stryd en opofferings tevergeefs? Ons voortbestaan is nie ‘n politieke saak nie, dit is ‘n saak van fisiese oorlewing.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin