Ons stamouers was vlugtelinge

Wat op aarde het die Hugenote besiel om na die Kaap te kom? Hulle het tog nie ‘n kolonie kom stig nie. Hulle was nie setlaars nie. Hulle was ook nie fortuinsoekers nie. Hulle was opgevoede en opgeleide mense in beskaafde Europa, hoekom het hulle na wilde Donker Afrika gekom? Sekerlik nie vir avontuur nie, hulle was gesinsmense wat na die toekoms van hulle kinders moes omsien. Ek, met my Franse van, is van Hugenote afkoms. Omtrent almal van die Boerevolk, al het hulle nie ‘n Franse van nie, het ook Hugenote bloed in hulle are.

Ons Hugenote voorouers was vlugtelinge. Of hulle word in Frankryk uitgemoor of hulle vlug, dit was die keuses voor hulle. Hulle was nie politieke vlugtelinge nie, ook nie misdadigers nie. Volgens hulle koning, het hulle die verkeerde godsdiens beoefen en moes hulle uitgeroei word. Watter soort koning, van alle dinge, laat sy volksgenote uitmoor? Die koning was Rooms-Katoliek en die Hugenote was Protestante. Hulle kon ook nie na enige land toe vlug nie, hulle is slegs toegelaat om na Protestantse lande te vlug. Switserland, Duitssprekende state, Engeland, Nederland en enkele ander was veilig. As vlugtelinge was hulle armoedig, hulle het al hulle besittings verloor. Hulle was middelklas mense met huise, plase of besighede. Van hulle kon in die veilige lande geakkommodeer word, ander is aangemoedig om na nedersettings in Amerika, Afrika en die Ooste te gaan. So het dit gebeur dat ‘n klein klompie na die Kaap gekom het om met niks van voor af te begin. My eie stamvader wou nie Kaap toe kom nie, maar hy het met die seereis so siek geword dat hy nie verder kon nie. Hy was verplig deur omstandighede om aan die Kaap te bly.

Die moeilikheid in Frankryk het begin toe mense die Bybel begin lees het. Dit is gevaarlik wanneer daar Bybels beskikbaar is, dit is hoogs gevaarlik wanneer dit wel gelees word. Voorheen, voor die Bybel vertaal was en voor die drukpers uitgevind is, was die Bybel slegs in Latyn beskikbaar en daar was maar net hier en daar ‘n Bybel op ‘n boekrak. In omtrent 1294 het ‘n priester, Guyard de Moulin, ‘n Franse vertaling gedoen. In die 12de eeu het Pierre de Vaux (ook bekend as Pieter Waldo) ‘n Provensaalse vertaling gedoen. Die moeilikheid met Waldo was dat hy nie net die Bybel gelees het nie, maar dat hy oortuig was dat dit in die praktyk toegepas moes word. Hy word dikwels beskou as die een wat die kerkhervorming vooruitgegaan het. Olivetan het in 1488 ‘n Franse Bybel vir die Waldense gepubliseer. Jacques Lefevre het in 1523 die Nuwe Testament in Frans vertaal en in 1528 die hele Bybel. Nie almal kon lees en skryf nie, maar die adel en middelklas kon. Hulle het die Bybel begin lees en dit met mekaar bespreek. Toe hulle self die Bybel lees, sien hulle alles wat verkeerd en onbybels was in die die Rooms-Katolieke Kerk. Van die Katolieke praktyke was as afgodery beskou. Hulle het standpunt ingeneem en hewige kritiek uitgespreek. Die getalle mense wat wou hê dat die kerk hervorm moet word, het toegeneem en hulle vyande het hulle “Hugenote” genoem. Waar die benaming vandaan kom is onseker.

Die Protestante se invloed en ywer teen wat hulle as afgodery beskou het, het toegeneem en die Katolieke teenreaksie het meer gewelddadig geword. Daar het uiteindelik agt burgeroorloë uitgebreek (die Godsdiensoorloë). Twee belangrike adelike families het betrokke geraak. Die Huis van Guise was Katoliek en die Huis van Bourbon was protestants. Die Hugenote het ‘n gedugte weermag, onder die leierskap van Admiraal Gaspard de Coligny, op die been gebring. Hendrik van Navarre en die Bourbons het hulle ondersteun. Die massamoord op Hugenote vind plaas op Bartholomeüsnag in 1572. Die massamoord was uitgevoer op bevel van Koning Karel IX.

In 1589 word Hendrik van Navarre koning van Frankryk as Hendrik IV. In 1598 het hy die Edik van Nantes uitgereik wat ‘n einde aan die vyandelikhede gemaak het. Dit het geduur tot sy kleinseun, Lodewyk XIV, aan bewind gekom het. Lodewyk XIV het die Edik van Nantes herroep in 1685. Hierna het Hugenote in groot getalle (skattings wissel van 200,000 tot 1,000,000) gevlug uit hulle geboorteland.

Nederland het toe 2.5 miljoen inwoners gehad en word toegeval met tussen 50,000 en 70,000 vlugtelinge. Daar was groot meegevoel by die Nederlanders teenoor die Hugenote en hulle het veel gedoen om die vlugtelinge te help. Die VOC (Verenigde Oos-indiese Kompanjie) het, onder meer, ‘n verversingstasie aan die Kaap van Goeie Hoop bedryf. Hoewel dit ‘n maatskappy met ‘n winsmotief was, het hulle gekyk hoe hulle die Hugenote vlugtelinge kon akkommodeer. Die eerste groot groep Hugenote het in 1688/89 in die Kaap aangekom. Voor 1688 was daar reeds enkele Hugenote vryburgers. Na die aankoms van die groot groep het kleiner groepe gevolg.

Die Boerevolk stam van hierdie Hugenote af. Die dogters van die Hugenote het met Hollanders en Duitsers ondertrou en hulle kinders was gevolglik ook Hugenote-afstammelinge. Hierdie voorsate van ons het hulle geloof belangriker geag as hulle aardse besittings en hulle liggaamlike veiligheid. Hulle sou eerder omkom as om hulle oortuigings af te sweer.

Daar word soms die romantiese idee geopper dat van die Hugenote adelikes was. Ongelukkig nie, hulle was almal van die middelklas. Dit beteken hulle kon lees en skryf. Voorheen was hulle van beroep boere en vakmanne, opgeleide en geleerde mense. Die mense wat gewoonlik as die rugmurg van ‘n volk beskou word.

Die Hugenote was die mense wat die Bybel gelees het, tot die gevolgtrekking gekom het dat dit ernstig opgeneem moet word en die oortuiging gehad het dat dit in die alledaagse lewe prakties toegepas moet word. Die meeste ander Europeërs aan die Kaap het presies dieselfde siening gehad en die Hugenote kon gemaklik by hulle aansluiting vind.

Save

Save

Dag Neef. Wie se neef is jy?

By die Boerevolk was familie uitlê ‘n algemene praktyk. My oupa het dit nog gedoen. Vir verskillende redes was dit destyds ook noodsaaklik. Om te weet wie jou eie familie is en wat hulle verwantskap met jou is, moes jy familie kon uitlê. Gesinne was groot en families nog groter. Wanneer jy ‘n vreemdeling ontmoet, wou jy graag weet waar hy inpas en gevolglik was familie uitlê ‘n waardevolle hulpmiddel.

‘n Meisie bring ‘n nuwe kêrel, wat sy op universiteit ontmoet het, huistoe. Oupa sal vra: “Van watter Smitte is jy?” Die jongman sal dan antwoord: “Oom, ek kom van Bloemhof af.” Oupa sal wil weet wie sy ouers is. Die kêrel sal hulle name noem. Oupa wil dan weet of hulle dalk familie is van Jan Smit van Kromdraai. Kêrel sal antwoord dat dit sy pa se neef is. Nou begin dinge vir Oupa in plek val. Hy onthou Jan se oupa en sy kinders en wie nou eintlik wie is.

Vandag doen ons nie meer familie uitleg nie. Ons het nou ‘n ander manier om ‘n nuweling te leer ken. Ons sal wil weet wat die jongman studeer, waar hy woon en sal ander soortgelyke vrae stel. Andersins vra ons waar werk hy en wat sy beroep is. Wanneer dit kom by vreemdelinge ontmoet, was familie uitleg bloot ‘n manier om iemand te leer ken. Daar was nie bybedoelings nie. Op grond van hierdie inligting kon jy dan ‘n verdere gesprek voer.

Wanneer dit by eie familie kom, is dit om persone binne hulle verwantskappe te kan plaas. Daar is twee soorte verwantskappe: bloedverwante en aanverwante. Jou bloedverwante is almal wat dieselfde voorouers het as jy, wat ten minste een voorouer met jou deel. Aanverwante is aangetroude familie. Dit is persone wat met een van jou bloedverwante getroud is of iemand wat ‘n bloedverwant van jou man of vrou is. Jou vrou se broer is ‘n aanverwant, maar sy vrou se broer is nie.

Bloedverwantskap word uitgedruk in grade van verwantskap. Tussen ouer en kind is dit die eerste graad, tussen grootouers en kleinkind is dit die tweede graad. Verwantskappe sywaarts word gevind deur die aantal geboortes te tel van jou af tot by die eerste gemeenskaplike voorouer en dan van daar af na die ander persoon. Broers en susters is in die tweede graad verwant, ooms en tantes in die derde graad en vol neefs en niggies in die vierde graad. Kinders van jou broer of suster is in die derde graad aan jou verwant.

By aanverwantskap bestaan dieselfde grade van verwantskap. Swaer en skoonsuster is aanverwant in die tweede graad, aangetroude ooms en tantes in die derde graad ensovoorts. Die aangetroude verwantskap word nie deur egskeiding tot niet gemaak nie.

‘n Halfbroer of -suster is in grade van verwantskap dieselfde as ‘n volbroer of -suster. Stiefouers en -kinders is aanverwante. ‘n Aangenome kind is vir alle praktiese doeleindes ‘n bloedverwant. ‘n Buite-egtelike kind is ‘n halfbroer of -suster.

In Afrikaans het “neef” twee betekenisse. Dit is die seun van jou broer of suster of die seun van jou swaer of skoonsuster (Engels nephew). Dit kan ook die seun van jou oom of tante wees (Engels cousin). Die seun van jou neef word kleinneef of agterneef genoem. Met niggie is dit dieselfde as met neef, net vroulik. (Neef en niggie is ook ‘n beleefde aanspreekvorm vir persone van ongeveer dieselfde ouderdom, net soos oom en tannie is vir ouer persone).

Ons gebruik die term agterneef en -niggie wanneer die verwantskap verder terug is. Ons praat ook van oupa- en oumagrootjie. Verder terug is dit oorgrootjies.

By die Boerevolk was familie verwantskap, voor ons verstedelik het,  belangrik. Die families was groot en het dikwels in dieselfde omgewing gewoon en waar nodig saamgestaan. Met die Groot Trek het families dikwels saam getrek en saam laer opgeslaan. By ons is families amper soos die Skotse clans.

Dit is nogal merkwaardig dat blanke Suid-Afrikaners oor sulke omvattende geslagsregisters beskik. Hoewel daar nog baie is om na te vors, kon baie van ons families ons voorgeslagte tot in Europa terugspoor.

Teoreties behoort elke indiwidu aan ‘n gesin, elke gesin aan ‘n familie en elke familie aan ‘n volk. Ongelukkig is dit nie in die praktyk so nie. Indiwidue en gesinne het vir die volk verlore geraak. Dit wil sê dat gedeeltes van families, en miskien selfs hele families, vir die volk verlore is.

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Families en familiewapens

Familiewapens bestaan en bestaan ook nie.

By ons volk bestaan daar ‘n idee dat families wapens of embleme van hulle eie het. Dat dit ‘n soort logo is wat deur almal wat aan ‘n sekere familie behoort, gebruik kan word. Wie lede van daardie familie is, word bepaal deur wie hulle stamouers was en hulle word uitgeken daaraan dat hulle almal dieselfde van het.

In die heraldiek bestaan daar nie so iets soos ‘n familiewapen nie. Daar is slegs geregistreerde wapens en ongeregistreerde wapens. ‘n “Familiewapen” is ‘n wapen wat aan ‘n lewende persoon toegeken is. Hierdie persoon se wapen mag wel deur sy eie nasate oorgeërf word.

Die Boerevolk se regstelsel is die Romeins-Hollandse reg. Daarvolgens word almal toegelaat om wapens te voer, dit mag net nie op ander se regte inbreuk maak nie. Tydens die V.O.C. se bewind het baie burgers familiewapens gehad. Sommige van hierdie wapens word nog steeds deur hulle nasate gebruik. Die Britse reg is heel anders. Vir die Britte is ‘n wapen ‘n eerbewys wat deur ‘n owerheid aan ‘n persoon toegeken is. Na die Britse Besetting het die Boere se heraldiek en die Britte se heraldiek langs mekaar bestaan. Na die Anglo-Boereoorlog, het die Unie-regering aandag aan heraldiek begin gee. Gedurende die 1930’s en 1940’s was daar ‘n poging om die volkserfenis te bevorder en is daar heelwat geskryf oor families en familiewapens.

Heraldiek is nie net op wapens van indiwidue gerig nie, maar ook wapens van owerhede, skole, kerke, korporasies en so meer. Na Republiekwording, is die Heraldiekwet van 1962 ingestel. Hierdie wet was op die Sweedse model gebou. Hierna is die Buro vir Heraldiek en die Heraldiekraad ingestel. Om volgens die Heraldiekwet geregistreer te word, moet wapens heraldies korrek wees. ‘n Wapen wat by die Buro van Heraldiek geregistreer is, word beskerm en mag nie deur iemand anders sonder toestemming gebruik word nie.

Cornelis Pama word beskou as die vader van heraldiek in Suid-Afrika. Hy is bekend as heraldikus en genealoog in beide Nederland en Suid-Afrika. Hy het heelwat boeke oor hierdie onderwerpe in Nederlands en Afrikaans gepubliseer. Hy was betrokke by die ontstaan van die Heraldiekraad en het ook van die Republiek (1961) se kentekens ontwerp. Hy was ook voorsitter van die Heraldiese Genootskap en ‘n stigterslid van die Genealogiese Genootskap. Hy het ook, onder andere, Ons Familiewapens (1943) (dus lank voor die Heraldiekwet) en Die Groot Afrikaanse Familienaamboek (1983) gepubliseer.

Na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n reeks artikels in die Brandwag verskyn wat familiewapens bevat het. Die artikels is deur N.H. Theunissen geskryf. Hierdie wapens is deur mense as die korrekte familiewapens aangesien en kort voor lank is hierdie wapens op allerlei voorwerpe aangebring en as aandenkings verkoop. Ongelukkig was die saak nie so eenvoudig nie. Een van die probleme hiermee was dat daar dikwels verskillende families is wat dieselfde van het, maar nie dieselfde stamouers het nie. Gevolglik was baie van hierdie wapens foutief. Op daardie stadium was daar nog nie ‘n Heraldiekwet nie en dus was al hierdie wapens ongeregistreerde wapens.

Dr Pama het begrip gehad vir die probleem van ongeregistreerde familiewapens en het daarvan in sy boek ingesluit. Hy het nie hierdie wapens verwerp nie, maar was nietemin van mening dat jy jou wapen moet registreer as jy ‘n wettige reg daarop wil hê.

Die naaste wat ‘n familie vandag kan kom om ‘n wetlik erkende familiewapen te hê, is om ‘n familiebond te stig. Almal van ‘n sekere familie wat belangstel, werk saam en vorder geld in om ‘n wapen te ontwerp en te registreer. (Dit is nogal duur). Hierdie wapen mag nou wettiglik deur die lede van die familiebond gebruik word. Die familiebond se bedoeling is gewoonlik om ‘n wapen vir die hele familie te bekom, hulle mag dalk nie omgee as nie-lede dit ook gebruik nie.

Die Skotte is trots op hulle clans (stamme of families) en tekens en embleme wat hulle verwantskap aandui. Clans het stamhoofde en is geregistreer by ‘n spesiale hof. Die stamhoof mag ‘n bepaalde tartan ontwerp amptelik erken en lede van die clan mag dit dan gebruik vir hulle kilts. Lede van die clan kan ook hulle verbintenis met die stamhoof vertoon deur die dra van ‘n crest badge. Daar is by die mens die behoefte om te behoort en identifikasie deur familieverwantskap is een manier om hierdie behoefte te bevredig.

By ons word indiwidue as regspersone erken, maar nie families nie. Dit is waarskynlik die kern van die probleem met familiewapens. Ons het ook nie familiehoofde wat namens hulle families optree nie, net familiebonde. Ons het ook nie ‘n stamstruktuur nie.

Familiewapens is waarskynlik net belangrik vir familienavorsers. Vir ander lede van die familie is dit net ‘n aardigheid.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Die Boerebruilof

proposal-of-marriage-1724676_960_720In wese is die huwelik ‘n kontrak tussen ‘n man en ‘n vrou waarin hulle plegtige beloftes aan mekaar maak. Hierdie beloftes is lewenslank en handel oor getrouheid en saamstaan in alle omstandighede. Die huwelik is die tweede van die drie groot lotsgebeurtenisse (geboorte, huwelik en dood) in elke mens se lewe. Die proses van die huwelik sluit in hofmaak, verlowing en huwelik.

Die tipiese huwelik van vandag is grootliks volgens die Britse tradisie (of is dit Hollywoodtradisie?), dit is dan ook hierdie tradisie wat in tydskrifte bespreek word. Die Oud-Germaanse huwelik was heelwat anders, byvoorbeeld die bruid sou ‘n groen (teken van vrugbaarheid) rok dra. Die huweliksfees sou drie dae duur en iewers tydens die fees sou die bruidspaar aankom. Hulle het ook nie ‘n formulier gehad nie.

Eers was daar die Oud-Germaanse huwelik, toe het dit verchristelik en daarna het dit ‘n Nederlandse karakter gekry. Die huwelik wat van Nederland na die Kaap gebring is, moes aangepas word by plaaslike omstandighede. Die Boerebruilof is daardie gebruike, seremonies en tradisies wat deur die Boerevolk ontwikkel is tydens die pionierstydperk.

‘n Jong kêrel kon na sy aanneming (in die kerk) begin kuier. Meisies het van omtrent 14 jarige ouderdom “oor die onderdeur begin loer”. Daar was verskeie bygelowe en gebruike om vas te stel wie die meisie se “toekomstige deel” sal wees. Jongmense het mekaar leer ken by feesdae, verjaarsdae, nagmaal, pieknieks en Saterdagmiddae. Die ouers van die jongmense het ook belang gestel in die toekomstige skoonfamilies, want ‘n huwelik bring ‘n bloedband tot stand.

As ‘n jongman sy ouers se goedkeuring het, kan hy begin om ‘n sekere meisie se hand te verower. Tussengangers is gebruik om “die water te toets”. Die meisie se gesin (nie syself nie) wag die vryer in en laat hom tuis voel. Hy moet dan hulle toestemming kry om met haar te gesels. Die ouers het vroeg gaan slaap terwyl die paartjie “opsit”. Die ouers het deur die gebruik van die “opsitkers” probeer sorg dat die vryery nie hande uitruk nie. Die jongman het gekyk vir tekens of die meisie van hom hou en of daar mededingers is.

‘n Meisie was hubaar as sy al die take van ‘n boervrou kon doen. ‘n Jongman moes al selfstandig geword het en ‘n eie boerdery kon behartig. Albei ouerpare moes toestemming gee (“ouersvra”) dat die paartjie verloof kan word. Hulle moes skriftelike “consent” kry. Die moeder van die meisie het eerste gehoor en sy moes die vader dan voorberei. Die vader het dan die kêrel ondervra en die leviete voorgelees. Die verlowing het geduur vanaf “consent” tot die huwelik. Die “gebooie” is vir drie Sondae afgekondig in die kerk. Die doel daarmee was dat die algemene publiek kan kennis neem en besware indien. Die kêrel moes persoonlik aan die naaste bloedverwante die nuus gaan oordra. Die kêrel moes op die naaste dorp “die kaart” gaan haal om die meisie se vinger te meet vir die ring. Die verlowing was ‘n ernstige saak en die verbreking daarvan net so ernstig as egskeiding.

Aanvanklik was die troudag Sondae. Daar was strooimeisies, blommemeisies, hofknape en seremoniemeesters. Die bruidsrok was volgens die heersende mode, die bruidegom het ‘n manelpak gedra. Die troukoek was ‘n drielaag vrugtekoek. Die bruid se familie sit links in die kerk, die bruidegom se familie aan die regterkant. Aanvanklik het die bruid op die arm van die bruidegom die kerk ingekom, later op die arm van die strooijonker en nog later op die arm van haar vader. Na die lees van die huweliksformulier is die trouring aangesteek.

Op plase was die bruilofstoet ‘n skouspel met ‘n orkes op ‘n wa en ‘n vlagryer. Sarsies skote is in die lug afgevuur. Daar was ook ‘n ereboom en blomme. Na die feesmaal was daar ‘n dans. Indien daar nie gedans word nie, is daar speletjies gespeel. Behalwe ‘n bruidskat het gaste ook geskenke gebring. Die Wittebrood was onbekend voor die 20ste eeu.

‘n Wewenaar kon na 3 maande hertrou en ‘n weduwee na 5 maande. Egskeidings het min voorgekom.

Volgens die Nederlandse tradisie was die huwelik ‘n burgerlike saak met kerklike inseëning opsioneel. Volgens die Britse tradisie is die huwelik ‘n staatsaangeleentheid en kan slegs ‘n staatsaangestelde bevestiger huwelike voltrek (dit sluit predikante in). Die Boererepublieke het die Nederlandse tradisie gevolg. Later het die staat die huwelikswet ingestel.

Voorhuwelikse seks is nie gesien as ‘n huwelik nie, maar die ouers en gemeenskap het vereis dat verantwoordelikhede nagekom moet word. Wanneer ‘n man en vrou saamgewoon het asof hulle getroud is, was dit ‘n redelike afleiding dat hulle wel getroud is volgens die gemene reg. Hulle is dus getroud geag, al het hulle nie formeel in die kerk of voor die magistraat getrou nie.

Omdat die huwelik ‘n lewenslange verbintenis is, is die keuse van ‘n lewensmaat een van die heel belangrikste besluite wat iemand kan neem. Daarom is van jongs af daaroor gedink, gepraat en gedroom.

Waar geboorte die begin van iemand se lewe is, is die huwelik die begin van ‘n gesin. Indien jy ‘n kind sou vra: “Wat gaan jy eendag word as jy groot is?” Dan was die antwoord: “‘n pappa of ‘n mamma”. Van kleins af is kinders voorberei vir die huwelik en die gesinslewe. ‘n Kind se toekoms was nie sy beroep nie, dit was sy gesin.

 

 

Save

Save

Save

‘n Bekende onbekende man

1317745545_boon-001

Meeste mense het seker nog nooit van hom gehoor nie. Tog het hy ‘n unieke bydrae tot ons volk se geskiedskrywing gemaak. Hy was die opsteller en skrywer van die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën. Hy was ook die uitvinder van die De Villiers-Pama nommerstelsel. Danksy hom, is dit vir ons moontlik om ons geslagsregisters na te vors.

Coenraad Coetzee de Villiers is in 1850 gebore te Swellendam. Hy is later getroud met Sara Susanna Cilliers, ‘n tante van die digter Jan F Cilliers. Hy is in 1887 oorlede op die ouderdom van 37 jaar. Hy het veel vermag in sy kort lewenstyd.

CC de Villiers het op eie inisiatief en koste die doop- en trouregisters van die grootste ou-Kaapse gemeentes deurgewerk en die inligting per familienaam gesorteer. Sommige gemeentes se inligting was onvolledig en hy het sy inligting aangevul met navorsing by die kantoor van die weesheer en die staatsargief.

Hy is op ‘n jong ouderdom oorlede en kon nie sy taak voltooi nie. Die Kaapse Parlement het die belangrikheid van sy navorsing besef en toe ‘n som geld beskikbaar gestel om die werk af te handel. Die historikus George McCalle Theal het toe de Villiers se taak voltooi en Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën is van 1893 af gepubliseer. In 1966 is dit bygewerk en herdruk. Hierdie uitgawe staan bekend as De Villiers-Pama.

Cornelis Pama is in 1916 in Rotterdam gebore en in 1994 oorlede. Hy was bekend as geskiedkundige, genealoog en heraldikus in beide Nederland en Suid-Afrika. Hy het verskeie genealogiese en heraldiese boeke geskryf.

Die De Villiers-Pama nommerstelsel gebruik alfabetiese letters om die geslagte aan te dui en gebruik syfers om die kinders volgens volgorde van geboorte te sorteer. Die stamvader is a, die eerste geslag na hom (sy kinders) is dan b, sy kleinkinders is c, en so verder. Die kinders van die stamvader – in volgorde van geboorte – is dan b1, b2, b3, ensovoorts. Die kinders van b1 is dan c1, c2, ensovoorts. Hierdie is die standaardstelsel wat deur genealoë in Suid-Afrika gebruik word.

Hierdie ou-Kaapse families is vandag die oudste en grootste families van ons volk. Hierdie werk begin by die stamouers en eindig teen omtrent 1806, dit dek dus die eerste 170 jaar van ons geskiedenis. Dit bevat nie net name van persone nie, maar ook plekname en datums. So kan ons sien waar ‘n stamvader in Europa vandaan kom, waar en met wie hy getroud was, waar en wanneer hulle in die Kaap gevestig is. Ons kan ook sien hoe hulle nageslag die binneland ingetrek het en in watter distrikte hulle burgers was. Daar is ook geboortedatums, waar en wanneer hulle gedoop is en waar en wanneer hulle oorlede is.

Coenraad Coetzee de Villiers het net een ding vir ons nagelaat, die Geslachtregister der oude Kaapsche Familiën. Daarsonder kan ons nie ons familiegeskiedenis navors nie. Nogtans is hy onbekend en is daar min oor hom bekend. Hy was die vader van genealogie in Suid-Afrika.

Ons volk is in die gelukkige posisie dat ons geslagsregisters baie deeglik nagevors word. Ons is miskien van al die groepe in die wêreld wat van Europese afkoms is, die groep wie se geslagsregisters die volledigste is.

 

 

 

 

 

 

Save

Save

Save

Save

Save

Save

Stamboek mense

images-duckduckgo-com

Wat besiel iemand om familiegeskiedenis na te vors? Is hulle van lotjie getik? Ja, nogal. Dit is ‘n gogga wat jou byt, ‘n ongeneeslike siekte, ‘n verslawing.

Die meeste mense kry nie hierdie siekte nie, hulle stel nie belang in geslagsregisters nie, hulle vind dit vervelig. Dit is vir hulle net ‘n lys name en datums wat niksseggend is. Hulle sal wel vaagweg belangstel indien  daar ‘n interessante storie is om te vertel.

Daar is slegs enkele persone wat genealogiese navorsing doen as ‘n beroep. Die oorweldigende meerderheid is amateurs, hulle doen dit op eie koste en in hulle vryetyd vir die liefde vir die saak. Hulle het geen vooraf opleiding gehad nie, hulle leer soos hulle aangaan. Die amateur moet nuwe vaardighede aanleer, hy moet geskiedenis en aardrykskunde leer, hy moet leer hoe om geslagsregisters te skryf. Hy moet weet hoe en waar om navorsing te doen, hy moet konferensies bywoon, begraafplase besoek, hy moet foto’s kan neem. Hy moet sy familie besoek en ondervra en weet hoe en wat om te vra.

Die genealogie navorser se werk is om dokumente en ander bewysstukke te soek en op grond daarvan die familiegeskiedenis op te teken. Onbevestigte inligting en hoorsê is nie aanvaarbaar nie. Navorsing het reëls en metodes.

Daar is ‘n verskeidenheid redes waarom familiegeskiedenis nagevors word. Die hoofrede is om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom. Nog ‘n rede is dat jy dit vir jou kinders en kleinkinders se onthalwe doen. Dit is ook ‘n manier om geskiedenis te bestudeer. (Die geskiedenis wat jy op skool leer is nie die geskiedenis van gewone mense nie.) Nog ‘n rede is dat jy daarvan hou om legkaarte te bou, geheime te ontrafel en speurder te speel.

Een van die instansies wat oor enorme databasisse beskik, is die Mormoonse Kerk (LDS – Latter Day Saints). Hulle glo in die doop van die afgestorwenes en sien dit as hulle plig om hierdie navorsing te doen.

Dan is daar etniese-genealogie. Dit is waar geslagsregisters en familiegeskiedenis ten nouste saamhang met etnisiteit. Dit is van toepassing op ons volk. Die mense wat hulle na 1652 aan die Kaap van Goeie Hoop kom vestig het, was individue en gesinne. Hierdie mense het met mekaar ondertrou en so het families ontstaan. In ons volk het families (uitgeken deur familiename of vanne) die funksie van etniese stamme.

Indien jy jou familiegeskiedenis wil navors, is daar ‘n menigte hulpmiddels en bronne tot jou beskikking. Die beste raad is om by ‘n genealogie-vereniging in jou omgewing aan te sluit.  Dit verskaf groot plesier om die legkaart te voltooi.

 

 

 

 

 

Save