Regte-egte Christene

Illustrasie: https://www.abebooks.com/book-search/title/die-pelgrim-se-reis/

Voordat ons oor Christene kan praat, moet ons eers verduidelik van wie ons praat.

Daar is mense wat ʼn probleem met Christene het, soos ateïste en so. Hulle het skynbaar nie ʼn probleem met Boeddhiste, Hindoes, Jode en Moslems nie. Hulle het net ʼn probleem met Christene. Moslems het ook ʼn groot probleem met Christene.

Wat bedoel hulle as hulle van Christene praat? Moslems sien Kersfees as ʼn christelike fees (wat dit nie is nie) en beskou mense wat Kersfees vier as Christene. Daar word ook aanvaar dat iemand wat aan ʼn kerk behoort ʼn Christen is – al sou daardie persoon nooit ʼn voet in ʼn kerk sit nie. Daar is natuurlik ook baie persone wat, as jy hulle vra, hulleself beskryf as Christene – maar daar is niks aan hulle wat van hulle Christene maak nie. Daar is ook sulke halwe-Christelike groepe en mense wat baie godsdienstig is, maar eintlik nie werklik Christene is nie.

Dit alles is ʼn baie groot probleem vir regte-egte Christene. Sê jy vir iemand dat jy ʼn Christen is, dink hulle jy is dieselfde as al die ander wat ook so sê. Is daar nie ʼn ander naam wat jy kan gebruik om regte-egte Christene van die res te onderskei nie? Dit is al probeer, maar dit werk nie baie goed nie. Noem jy jouself byvoorbeeld ʼn Nasarener, word jy misverstaan of iemand anders begin ook die naam gebruik. Ons hou dus maar by die naam Christene en probeer om die regte-egte Christene te beskryf.

ʼn Regte-egte Christen is in die eerste plek ʼn selferkende sondaar. ʼn Sondaar is iemand wat ʼn mislukking is. Hy besef hy is ʼn oortreder. Hy skiet te kort. Hy voldoen nie aan die Skepper se vereistes nie en is ʼn teleurstelling vir Hom. Hy weet hy doen en dink verkeerde goed. Hy doen ook verkeerd aan ander mense. Hoewel hy weet hy is ʼn sondaar, wil hy nie so wees nie. Hy wil graag ʼn goeie verhouding met sy Skepper en ander mense hê, maar hy kan nie. Daar is by hom ʼn onvermoë om nie sleg te wees nie. Op sy eie, op eie stoom, met die beste wil in die wêreld, kan hy nie ʼn beter mens wees nie. Hy besef hy is verlore. Dit is onmoontlik vir hom om te dink hy is beter as ander mense, hy kan nie neersien op ander mense nie, hy kan nie ander mense verwyt vir hulle sondes  nie.

Die regte-egte Christen wil uit sy verlore toestand gered word. Hy kan nie homself red nie, hy het iemand nodig wat hom kan red. Die regte-egte Christen het uitgevind dat daar wel ʼn redder beskikbaar is. Hy het uitgevind dat Jesus Christus (Yeshua die Gesalfde) gekom het om mense soos hy te red. Deur Jesus Christus kan hy ʼn nuwe lewe kry, daar is hoop vir hom en hy kan in die regte verhouding met sy Skepper en ander mense kom.

Daar is net een persoon wat hom kan red, slegs Jesus Christus kan hom red. Net Hy en niks en niemand anders nie. Jesus Christus is die enigste weg tot vergifnis, versoening en verandering. Dit help nie om ʼn goeie mens te wees nie, dit help ook nie om goeie dade te doen nie, lidmaatskap van ʼn kerk kan dit nie doen nie, afgestorwe heiliges kan dit nie doen nie, geen godsdiensleier kan dit doen nie. Dit help ook nie om die Ou-Testamentiese wette te onderhou nie. Slegs Jesus Christus.

Om deur Jesus Christus gered te word, is daar net een ding wat jy moet doen: jy moet Hom vertrou. Die tweede kenmerk van die regte-egte Christen is dat hy vir Jesus Christus ten volle vertrou en op Hom staat maak. Hy hoef niks meer en niks anders te doen nie. Jy word alleenlik deur vertroue gered. Die woord “geloof” het nie meer dieselfde betekenis as vroeër nie. Jy kan glo dat Jesus gebore is, gekruisig is, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel maar dit beteken nie dat jy Hom vertrou nie.

Die regte-egte Christen wil nie bly soos hy is nie. Hy wil verander. Hy wil nie meer slegte gedagtes en emosies hê nie, hy wil nie meer verkeerde dinge sê en doen nie. Hy wil wees soos sy Skepper wil hê hy moet wees. Die regte-egte Christen wil verander. Daar is wel ʼn proses van verandering tot sy beskikking: dit word “heiligmaking” genoem. Jesus Christus het na Sy hemelvaart ʼn Helper gestuur: die Heilige Gees. Met Sy hulp gebeur dit dat die regte-egte Christen stukkie vir stukkie verander – van binne af buite toe. Hierdie proses duur lewenslank en daar is dikwels terugslae wat oorkom moet word. Hierdie proses bly jou herinner aan wie jy was en dat jy steeds nie beter as ander mense is nie.

Hoe kan ons weet wat ons Skepper van ons verwag? Hoe weet ons wat Jesus Christus gedoen en geleer het? Slegs die Heilige Skrif het die antwoorde. Die regte-egte Christen hoor die stem van sy Meester in sekere boeke. Hierdie boeke is deur God geïnspireer, hulle is anders as ander boeke. Hierdie boeke word die Bybel genoem en bevat die boeke wat van omtrent 200 n.C. tot vandag toe gebruik word. Die regte-egte Christen doen moeite om hierdie boeke te bestudeer, hy neem hulle ernstig op en probeer sy lewe daarvolgens inrig. Die regte-egte Christen is ook gesteld op die akkuraatheid van vertalings en interpretasies. Hy is ʼn lewenslange student van die Heilige Skrif en gebruik slegs die Heilige Skrif.

Die regte-egte Christen weet dat hy dit nie verdien het om gered te word nie. Dit is ʼn geskenk wat hy ontvang het, dit is ʼn onverdiende guns wat hy ontvang het. Sy redding was slegs deur genade. Hy kan nie self daarop roem nie. Hy kan slegs aan Jesus Christus die eer daarvoor gee.

Die regte-egte Christen kry teenstand van sy gesin, sy familie, sy vriende en sy kollegas. As die regte-egte Christen ʼn Jood was, word hy ʼn uitgeworpene by sy eie volk. As hy ʼn Moslem was, kan hy doodgemaak word. As hy in ʼn kommunistiese land gewoon het, kon hy tronk (of strafkamp) toe gaan. Party is selfs geestelik versteurd verklaar. Behalwe vir ander regte-egte Christene, hou ander mense nie van iemand wat ʼn regte-egte Christen word nie. Al doen hy niks aan hulle nie, al hou hy by homself, mense voel geïrriteerd deur hom. Hulle hou ook nie daarvan dat hy verander nie, dit maak hulle ongemaklik.

Om ʼn regte-egte Christen te wees, is nie maklik nie. Dit is ʼn moeilike pad maar dit is die moeite werd. ʼn Regte-egte Christen wil sy nuwe lewe nooit verloor nie. Hy wil nie weer terugkeer na sy ou lewe nie.

...

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Seuns van God en dogters van mense

Illustrasie: https://e-watchman.com/noahs-flood-and-kangaroo-migration/

Genesis 6 verse 1 tot 8 vertel van hoe יהוה spyt was dat Hy mense geskape het en hoe Hy toe alle lewende wesens op aarde – behalwe Noag, sy gesin en die diere op die ark – uitgewis het deur middel van die vloed. Hierdie gedeelte is baie kort, uiters kompleks en moeilik om te verstaan.

Volgens die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL) vertaling, lees Gen. 6:1-8 soos volg: Dit het gebeur dat die mense oor die oppervlakte van die aarde begin vermeerder het en toe daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was en hulle het vir hulle almal wat hulle verkies het, as vroue gevat. יהוה het gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie omdat hy ook vlees is; laat sy tyd een honderd en twintig jaar wees.” Daardie dae was daar reuse op die aarde en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit. יהוה het gesien dat die boosheid van die mens groot was op die aarde en dat elke vorming van ’n gedagte in sy gedagtes en wil, altyddeur boos was en יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. יהוה sê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het van die aarde af vernietig, die mens sowel as die diere, die reptiele en die voëls van die hemel; Ek is spyt dat Ek hulle gemaak het.” Noag het egter guns gevind in die oë van יהוה.

Die eerste probleem is: wie is die seuns van God en wie is die dogters van mense? Die persoonlike naam יהוה word deurgaans in die teks gebruik, hoekom is vers 2 anders deur van “seuns van God” te praat – beteken dit hulle is nie seuns van יהוה nie? יהוה se eerste reaksie was om Sy Gees in mense te beperk en die mens se leeftyd te verminder. Die kinders van die seuns van God en die dogters van mense was reuse. Wat presies was hierdie reuse? Was net hierdie vermenging die groot boosheid in die mens, of was daar ander dinge ook? Wat het die diere, die reptiele en die voëls met die mens se boosheid te doen?

...

Die goue reël met die verstaan van die Bybel is dat die Skrif die Skrif verklaar. Met ander woorde, as jy ʼn gedeelte nie verstaan nie, moet jy ʼn ander gedeelte raadpleeg wat meer lig op dieselfde saak werp. Ongelukkig kan ons dit nie doen met hierdie gedeelte nie want daar is nie elders in die Bybel meer inligting oor hierdie saak nie. Daar is wel ʼn paar tekste wat na iets hiervan verwys, maar dit verklaar nie hierdie gedeelte nie. Dit as asof יהוה nie dink ons hoef meer te weet nie. As gevolg hiervan word verklarings op ander maniere gesoek. Een metode is om apokriewe boeke te raadpleeg. ʼn Ander is om ʼn studie van die Hebreeuse woorde te maak. Daar is selfs pogings om Hollywood flieks te gebruik as verklaring (dat die seuns van God  ruimtewesens was).

Die gewildste verklarings van die “seuns van God” is dat hulle gevalle engele is, of dat hulle magtige menslike regeerders was of dat hulle die afstammelinge van Adam se seun Set was. Die “dogters van mense” word gesien as menslike vrouens in die algemeen of dan die vroulike nageslag van Adam se seun Kain. Die reuse word gesien as werklike reuse wat bestaan het, of as net baie groot mense, of as magtige mense. Die verdeeldheid hieroor is baie groot, vir elke standpunt wat geopper word, is daar ʼn sterk beswaar daarteen.

Die argument vir engele as die “seuns van God” berus daarop dat die “seuns van God” en die “dogters van mense” twee verskillende wesens beskryf, naamlik nie-menslike wesens en menslike wesens. Hulle kinders is ʼn vermenging van die twee soorte wesens. Satan sou op hierdie manier gepoog het om te verhoed dat die Gesalfde gebore kan word. Die apokriewe boek van Henog volg hierdie siening. Besware hierteen is dat daar nooit in die verdere geskiedenis van die mensdom so iets gebeur het nie, elders in die Bybel word engele beskryf as geestelike wesens wat geslagloos is, dit is nie vir een spesie moontlik om met ʼn heeltemal ander spesie te vermeng nie en Hebreeuse Ou Testamentiese geleerdes het dit heeltemal verwerp. In Lukas 3:38 word Adam beskryf as die seun van God en Jesus word in Lukas ook die Seun van God genoem.

ʼn Baie ou siening onder Joodse en Christelike geleerdes is dat die “seuns van God” die afstammelinge van Adam se seun Set is wat met Adam se seun Kain se nageslag ondertrou het en wie se kinders reuse was. As Adam die seun van God is, dan is al sy kinders dit ook. Kain het wel eenmaal gesondig, maar dit maak hom nie ʼn ander spesie as sy broer Set nie. Gevolglik kan daar niks verkeerd wees as hulle nageslag met mekaar ondertrou nie.

Die Hebreeuse woord nephilim word dikwels vertaal as “reuse”. In Genesis 6 is dit nie baie duidelik of die reuse die seuns van God is en of dit hulle kinders is nie. Hierdie reuse is met die vloed uitgewis en gevolglik kan die Enakiete nie hulle afstammelinge wees nie. In Numeri 13:32-33 rapporteer die 12 spioene dat die Enakiete reuse (nephilim) is, dit beteken waarskynlik buitengewoon groot en sterk mense waarvoor hulle bang is. In Esegiël 32:27 word indirek na nephilim verwys met die woorde “gevalle helde”. Een vertolking van hierdie vers uit Esegiël lees: They lie with the warriors, the Nephilim of old, who descended to Sheol with their weapons of war. They placed their swords beneath their heads and their shields upon their bones, for the terror of the warriors was upon the land of the living. (Ronald S Hendel). Dit wil dus voorkom of die reuse die persone is wat beskryf word as: Hulle was die kragtige vegters uit die ou tyd, die manne van eer en outoriteit.

In die tydperk voor Noag het mense baie oud geword, baie het 900 jaar gehaal. Dit het beteken dat iemand ʼn verskriklike groot nageslag gehad het toe hy gesterf het. Meer nog, wat het so ʼn persoon alles in sy lewe vermag? As hy hom dit ten doel gestel het om goeie dinge te doen, moes hy verskriklik baie goeie dinge in sy leeftyd gedoen het. As hy egter net boosheid nagejaag het, moes hy ontsettend baie bose dinge gedoen het, die een erger as die ander. Dit is waarom יהוה besluit het om die mens se leeftyd korter te maak, ʼn persoon van 120 jaar kan nie soveel boosheid pleeg as wat ʼn persoon van 900 jaar kon nie.

Van Adam tot die vloed was omtrent 2,500 jaar en van die vloed tot vandag toe omtrent 3,500 jaar. Die 2,500 jaar was ʼn baie lang tyd waarin die mens enorme vooruitgang kon gemaak het en ook enorme boosheid kon gepleeg het. Die populêre siening van die eerste mense as grotbewoners wat moes leer om vuur te maak is in stryd met die Bybel. ʼn Paar terloopse opmerkings in Genesis 4 dui daarop dat daar ʼn groot beskawing voor die vloed was. Hoeveel mense daar op aarde was en waar hulle gewoon het, weet ons nie. Om hierdie lang tydperk te verstaan kan ons dit vergelyk met die geskiedenis van 500 voor Christus tot vandag. Ons kan sien hoe bevolkingsgetalle toegeneem het, hoe die wetenskap gevorder het, ensovoorts.

Wat die presiese boosheid van die mens voor die vloed was, weet ons nie. Dit was duidelik baie erg. יהוה was spyt dat Hy die mens op die aarde gemaak het en daar was pyn in Sy binneste. Daar is ook ʼn aweregse verklaring van Gen. 6:1-8 wat nie veel steun het nie. Dit sien die “seuns van God” as mense wat deur God geskape is en die “dogters van mense” as wesens wat deur mense “geskep” is. Daar was ʼn gepeuter met mense, diere, reptiele en voëls se DNA en daar het wesens ontstaan wat teen יהוה se skeppingsorde ingedruis het. In die proses het mensagtige wesens ontstaan. In vandag se lewe is daar reeds cyborgs en word daar gestreef na die verbetering van die mens en onsterflikheid. Wetenskapfiksie wat waar word. ‘n Groot boosheid in ons tyd.

Daar is nie ʼn verklaring vir hierdie gedeelte waaroor almal saamstem nie, en elke verklaring is eintlik maar net ʼn opinie. Die feit is dat יהוה alles voor Hom uitgewis het en van voor af begin het met die nageslag van Noag.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Konings

Illustrasie: https://en.wikipedia.org/wiki/Kingdom_of_Israel_(united_monarchy)

Oorspronklik was 1 en 2 Samuel een boek en 1 en 2 Konings een boek, dus die vier boeke in ons Bybels was twee boeke in Hebreeus. Dit het verander met die Septuagint, die vertaling uit Hebreeus in Grieks wat ʼn paar eeue voor Christus gedoen is. In die Septuagint het Samuel 2 boeke geword en het Konings ook 2 boeke geword. Dit is nagevolg in die Latynse Vulgaat en ook in meeste moderne Protestantse Bybels. Die verhouding tussen hierdie vier boeke is in die Septuagint beklemtoon deur die benamings Eerste, Tweede, Derde en Vierde Boek van Koninkryke. Die Vulgaat het dit ook nagevolg. Die vier boeke saam behels die hele geskiedenis van die koningshuise van Israel, vandat dit deur die Rigter Samuel ingestel is tot en met die val van die laaste koning.

ʼn Goeie benaming vir die vier boeke gesamentlik sal “Die geskiedenis van die koninkryke van Israel” wees. Die boeke volg opmekaar en vorm ʼn volledige geskiedkundige verslag. Die verdeling tussen 1 en 2 Konings is arbitrêr gedoen en veroorsaak dat sekere persone in albei boeke voorkom. Die leser moet daarop let dat die val van die koninkryke ʼn einde gebring het aan eie regerings oor die volk en land Israel, wat tot in 1948 geduur het. Hoewel selfregering in 1948 ingestel is, het dit nie die koninkryke herstel nie.

Wie die skrywers van hierdie boeke was, is nie bekend nie. Tradisies daaroor is nie noodwendig betroubaar nie. Dit is oor ʼn tydperk van omtrent 500 jaar deur verskillende persone geskryf. Hierdie persone het toegang gehad tot ander geskrewe dokumente wat hulle as bronne kon gebruik. Van hierdie bronne word in die Bybel genoem. (Die Kronieke wat genoem word, is nie 1 en 2 Kronieke in die Bybel nie. Die verwoesting van Jerusalem in 2 Konings 25 word ook in Jeremia 39 beskryf.). Die bronne wat in hierdie vier boeke genoem word, is:

2Sa 1:18  en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is geskrywe in die Boek van die Opregte.

1Kn 11:41  En die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?

1Kn 14:19  En die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

1Kn 14:29  En die verdere geskiedenis van Rehabeam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

In die Bybelboeke 1 en 2 Kronieke word nog ʼn aantal bronne vermeld wat destyds bestaan het en gebruik kon word:

1Kr 27:24  Joab, die seun van Seruja, het begin tel, maar nie voleindig nie, omdat hieroor ʼn toorn oor Israel gekom het; daarom is die getal nie opgeneem in die optelling in die Kronieke van koning Dawid nie. 

1Kr 29:29  En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad

2Kr 9:29  En die verdere geskiedenis van Salomo, die vroeëre sowel as die latere, is dit nie beskrywe nie in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Profesie van Ahia, die Siloniet, en in die Gesigte van die siener Jedi oor Jerobeam, die seun van Nebat? 

2Kr 12:15  En die geskiedenis van Rehabeam, die vroeëre en die latere, is dit nie beskrywe in die Geskiedenis van die profeet Semaja en van die siener Iddo, volgens geslagsregister nie? En daar was gedurigdeur oorloë tussen Rehabeam en Jerobeam. 

2Kr 20:34  En die verdere geskiedenis van Josafat, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Jehu, die seun van Hanani, wat opgeneem is in die Boek van die konings van Israel.

2Kr 24:27  En sy seuns en die baie godsprake teen hom en die grondvesting van die huis van God – kyk, dit is beskrywe in die Uitleg van die boek van die konings. En sy seun Amasia het in sy plek koning geword. 

2Kr 26:22  En die verdere geskiedenis van Ussia, die vroeëre en die latere, het die profeet Jesaja, die seun van Amos, beskrywe. 

2Kr 32:32  En die verdere geskiedenis van Jehiskia en sy vrome dade, kyk, dit is beskrywe in die Gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en Israel

Die Bybelboek 1 Samuel volg, ten opsigte van geskiedenisvertelling, op die boek Rigters. In ons Bybels word Rut na Rigters geplaas want die gebeure daarin vind plaas tydens die tydperk van die Rigters. 1 Samuel begin met die geboorte en afsondering van Samuel, wat die heel laaste Rigter was. Die boek verhaal verder die instelling van ʼn monargie in Israel. Tydens die tydperk van die Rigters was Israel ʼn teokrasie en die oorgang tot monargie was ‘n groot verandering. Die boek 2 Samuel handel oor die koningskap van Dawid en die instelling van YHWH se verbond met Dawid. Die boeke 1 en 2 Konings begin met die koningskap van Salomo en eindig met die ballingskap in Babilonië. Dit beskryf hoe daar twee koninkryke ontstaan het en die geskiedenis van al die konings van die twee koninkryke. Elke koning se goedheid of boosheid word bekend gemaak.

Die leser sal merk dat Dawid die mees prominente persoon in die vier boeke is. Dawid was ʼn man na die hart van YHWH en dien as maatstaf vir al die konings wat na hom gekom het. YHWH het met Dawid ʼn verbond gesluit wat verband hou met die koms van die Messias. Dawid se psalms is van profetiese belang. Dawid het ook gruwelike sondes gepleeg, maar hy het nie afgode gedien nie. Daar moet gelet word op hoe Dawid gereageer het in oorwinning en nederlaag, hoe hy Saul gerespekteer het, hoe hy sy sondes en mislukkings hanteer het.

Dit is ook opmerklik dat die twee profete, Elia en Elisa, meer aandag in die vier boeke kry as meeste van die konings. Hulle doen en late was buitengewoon en het die mag van YHWH en die onmag van die afgode gedemonstreer. Hulle was hoofsaaklik gestuur na die konings van Noordelike Israel (ook bekend as Samaria) wat van die begin af afgodery beoefen het.

Die struktuur van die vier boeke (gesien as ʼn eenheid) is soos volg:

DEEL 1: SAMUEL, DIE LAASTE RIGTER (1 SAMUEL 1 – 7)

  1. Samuel se geboorte en afsondering vir YHWH (1 Sam 1:1-2:11)
  2. Die verval van die priesters ( 1 Sam 2:12-36)
  3. Die roeping van Samuel (1 Sam 3:1-21)
  4. Israel minag die Verbondsark ( 1 Sam 4:1-22)
  5. Die Filistyne vrees die Verbondsark (1 Sam 5:1-6:12)
  6. Israel keer terug na YHWH (6:13-7:17)

DEEL 2: SAUL, DIE EERSTE KONING VAN ISRAEL (1 SAMUEL 8 – 15)

  1. Israel se behoefte aan ʼn koning (1 Sam 8:1-22)
  2. YHWH kies Saul as koning (1 Sam 9:1-17)
  3. YHWH bevestig aan Saul dat hy gekies is (1 Sam 9:18-10:16)
  4. YHWH bevestig aan Israel dat Saul gekies is (1 Sam 10:17-11:15)
  5. Samuel oorhandig die leisels aan Saul (1 Sam 12:1-25)
  6. Saul verbeur die reg tot opvolging (1 Sam 13:1-23)
  7. Saul verloor sy volk se respek (1 Sam 14:1-52)
  8. Saul se koningskap word weggeneem (1 Sam 15:1-35)

DEEL 3: DAWID AS ONDERDAAN VAN SAUL (1 SAMUEL 16 – 31)

  1. Dawid word gesalf om koning te word (1 Sam 16:1-13)
  2. Dawid ontmoet Koning Saul (1 Sam 16:14-23)
  3. Dawid word ʼn held (1 Sam 17:1-58)
  4. Saul word agterdogtig oor Dawid (1 Sam 18:1-9)
  5. Saul probeer om Dawid dood te maak (1 Sam 18:10-13)
  6. Saul stel ʼn strik om van Dawid ontslae te raak (1 Sam 18:14-30)
  7. Saul gee opdrag dat Dawid doodgemaak moet word (1 Sam 19:1-24)
  8. Jonatan se verbond met Dawid (1 Sam 20:1-42)
  9. Dawid op vlug (1 Sam 21:1-22:5)
  10. Saul neem wraak op die priesters wat Dawid gehelp het (1 Sam 22:6-23)
  11. Dawid verlos die dorp Kehila (1 Sam 23:1-13)
  12. ʼn Nuwe verbond tussen Dawid en Jonatan (1 Sam 23:14-18)
  13. Dawid het oral vyande (1 Sam 23:19-29)
  14. Dawid stel sy saak aan Saul (1 Sam 24:1-25:1)
  15. Abigail verhoed dat Dawid dwaas optree (1 Sam 25:2-44)
  16. Dawid bewys sy onskuld (1 Sam 26:1-25)
  17. Die Filistyne teen Israel: Dawid in die land van die Filistyne (1 Sam 27:1-28:2)
  18. Die Filistyne teen Israel: Saul raadpleeg ʼn medium (1 Sam 28:3-25)
  19. Die Filistyne teen Israel: Dawid word verhinder om deel te neem (1 Sam 29:1-30:31)
  20. Die Filistyne teen Israel: Die einde van Saul (31:1-13)

DEEL 4: DAWID AS KONING (2 SAMUEL 1 – 10)

  1. Dawid verneem van Saul se dood (2 Sam 1:1-27)
  2. Dawid se koningskap word teengestaan deur Saul se familie (2 Sam 2:1-32)
  3. Dawid en die moord op Abner (2 Sam 3:1-39)
  4. Dawid en die moord op Isboset (2 Sam 4:1-12)
  5. Dawid word koning oor die hele Israel (2 Sam 5:1-16)
  6. Dawid verslaan die Filistyne (2 Sam 5:17-25)
  7. Dawid bring die Verbondsark na Jerusalem (2 Sam 6:1-23)
  8. YHWH se verbond met Dawid (2 Sam 7:1-29)
  9. Die resultaat van Dawid se koningskap (2 Sam 8:1-18)
  10. Dawid kom sy verbond met Jonatan na (2 Sam 9:1-13)
  11. Dawid word beledig (2 Sam 10:1-19)

DEEL 5: DAWID SE PERSOONLIKE MISLUKKINGS (2 SAMUEL 11 – 20)

  1. Dawid se mislukking met Batseba (2 Samuel 11:1 – 12:31)
    1.1 Dawid pleeg owerspel en moord (2 Sam 11:1-27)
    1.2 YHWH straf Dawid (12:1-31)
  1. Dawid se mislukking met Absalom (2 Samuel 13:1 – 20:26)
    2.1 Dawid se seun Amnon verkrag Dawid se dogter Tamar (2 Sam 13:1-22)
    2.2 Absalom vermoor Amnon (2 Sam 13:23-39)
    2.3 Dawid laat Absalom terugkeer (2 Sam 14:1-24)
    2.4 Dawid en Absalom word versoen (2 Sam 14:25-33)
    2.5 Absalom se opstand teen Dawid (2 Sam 15:1-12)
    2.6 Dawid vlug voor Absalom (2 Sam 15:13-37)
    2.7 Dawid word gevloek (2 Sam 16:1-14)
    2.8 Absalom in Jerusalem (2 Sam 16:15-23)
    2.9 Absalom se aanval op Dawid (2 Sam 17:1-29)
    2.10 Absalom word verslaan (2 Sam 18:1-33)
    2.11 Hoe Dawid optree in oorwinning (2 Sam 19:1-43)
    2.12 Die laaste teenstand teen Dawid (2 Sam 20:1-26)

DEEL 6: BYKOMENDE INLIGTING OOR DAWID (2 SAMUEL 21 – 24)

  1. Dawid herstel Saul se onreg (2 Sam 21:1-14)
  2. Dawid se liggaamskrag neem af (2 Sam 21:15-22)
  3. Dawid se koningskap in sy eie woorde (2 Sam 22:1-51)
  4. Dawid se laaste woorde (2 Sam 23:1-7)
  5. Dawid se magtige manne (2 Sam 23:8-39)
  6. Dawid se sensus (2 Sam 24:1-25)
  7. Dawid word oud (1 Kon 1:1-4)
  8. Adonia se ambisie (1 Kon 1:5-27)
  9. Salomo gesalf as koning (1 Kon 1:28-53)
  10. Dawid se laaste opdragte aan Salomo (1 Kon 2:1-11)

DEEL 7: SALOMO AS KONING (1 KONINGS 2:11 – 11:43)

  1. Salomo se teenstanders (1 Kon 2:12-46)
  2. Salomo vra YHWH vir verstandigheid (1 Kon 3:1-28)
  3. Oorsig van Salomo se regering (1 Kon 4:1-34)
  4. Salomo verkry boumateriaal vir die bou van die tempel (1 Kon 5:1-18)
  5. Salomo bou die tempel (1 Kon 6:1-38)
  6. Salomo bou die koninklike paleis (1 Kon 7:1-12)
  7. Versiering van die tempel (1 Kon 7:13-51)
  8. Die inwyding van die tempel (1 Kon 8:1-66)
  9. YHWH verskyn vir die tweede keer aan Salomo (1 Kon 9:1-9)
  10. Salomo se koningskap nadat die tempel voltooi is (1 Kon 9:10-28)
  11. Salomo word ondervra deur die koningin van Skeba (1 Kon 10:1-13)
  12. Salomo se rykdom (1 Kon 10:14-29)
  13. Salomo se sonde (1 Kon 11:1-8)
  14. Salomo se straf (1 Kon 11:9-43)

DEEL 8: DIE EEN KONINKRYK VAN ISRAEL WORD TWEE (1 KONINGS 12 – 16)

  1. Die Koninkryk van Dawid skeur in twee (1 Konings 12 – 14)
    1.1 Salomo se seun verloor die koningskap oor die noordelike deel van Israel (1 Kon 12:1-24)
  2. 1.2 Jerobeam die eerste koning van Noordelike Israel (1 Kon 12:25-33)
    1.3 ʼn Profeet waarsku Jerobeam (1 Kon 13:1-34)
    1.4 Jerobeam soek hulp by YHWH (1 Kon 14:1-20)
    1.5 Die koningskap van Rehabeam van Juda (1 Kon 14:21-31)
  1. Juda se konings van tot Asa en Israel se konings tot Agab (1 Konings 15 – 16)                                                                                                                                                  2.1 Die koningskap van Abia van Juda (1 Kon 15:1-8)
    2.2 Die koningskap van Asa van Juda (1 Kon 15:9-24)
    2.3 Die koningskap van Nadab van Israel (1 Kon 15:25-31)
    2.4 Die koningskap van Baesa van Israel (1 Kon 15:32-16:7)
    2.5 Die koningskap van Ela van Israel (1 Kon 16:8-14)
    2.6 Die koningskap van Simri van Israel (1 Kon 16:15-22)
    2.7 Die koningskap van Omri van Israel (1 Kon 16:23-28)
    2.8 Die koningskap van Agab van Israel (1 Kon 16:29-34)

DEEL 9: DIE PROFEET ELIA (1 KONINGS 17 – 2 KONINGS 2)

  1. Die verskyning en verdwyning van Elia (1 Kon 17:1-24)
  2. Die herverskyning van Elia (1 Kon 18:1-15)
  3. Elia verneder die Baal aanbidders (1 Kon 18:16-46)
  4. Elia gaan na Horeb (1 Kon 19:1-18)
  5. Elia salf Elisa tot profeet (1 Kon 19:19-21)
  6. Agab weier om Benhadad dood te maak (1 Kon 20)
  7. Agab roof Nabot se wingerd (1 Kon 21)
  8. Miga en die dood van Agab (1 Kon 22:1-40)
  9. Koning Josafat van Juda (1 Kon 22:41-51)
  10. Koning Ahasia van Israel (1 Kon 22:52-53)
  11. Elia en Ahasia van Israel (2 Kon 1)
  12. Elia word weggeneem (2 Kon 2)

DEEL 10: DIE PROFEET ELISA (2 KONINGS 3 – 10)

  1. Elisa en Joram van Israel (2 Kon 3:1-27)
  2. Elisa en die vermeerdering van olie (2 Kon 4:1-7)
  3. Elisa en die Sunamitiese vrou (2 Kon 4:8-37)
  4. Elisa en die pot bredie (2 Kon 4:38-44)
  5. Elisa en Naaman die Arameër (2 Kon 5:1-27)
  6. Elisa en die geleende byl (2 Kon 6:1-7)
  7. Die Arameërs probeer Elisa en gevange neem (2 Kon 6:8-23)
  8. Elisa en die blokkade van Samaria (2 Kon 6:24-7:20)
  9. Joram koning van Noordelike Israel neem kennis van Elisa (2 Kon 8:1-6)
  10. Elisa en die koning van Aram (2 Kon 8:7-15)
  11. Jehoram die slegte koning van Juda (2 Kon 8:16-24)
  12. Ahasia koning van Juda (2 Kon 8:25-29)
  13. Jehu gesalf as koning van Israel (2 Kon 9:1-29)
  14. Koningin Isebel word deur honde gevreet (2 Kon 9:30-37)
  15. Jehu wis Agab se nageslag uit (2 Kon 10:1-17)
  16. Jehu wis Baal aanbidding uit (2 Kon 10:18-28)
  17. Oorsig van Jehu se regering (2 Kon 10:29-36)
  18. Die suiwering van die koningshuis van Juda (2 Kon 11:1-21)
  19. Joas koning van Juda (12:1-21)
  20. Joahas koning van Israel (13:1-9)
  21. Joas koning van Israel (13:10-13)
  22. Elisa se laaste dae en dood (13:14-25)

DEEL 11: VAN DIE PROFETE TOT DIE VAL VAN ISRAEL (2 KONINGS 14 – 17)

  1. Amasia koning van Juda (2 Kon 14:1-22)
  2. Jerobeam II koning van Israel (2 Kon 14:23-29)
  3. Ussia (Asarja) koning van Juda (2 Kon 15:1-7)
  4. Sagaria koning van Israel (2 Kon 15:8-12)
  5. Verskeie konings van Israel (2 Kon 15:13-31)
  6. Jotam koning van Juda (2 Kon 15:32-38)
  7. Agas koning van Juda (2 Kon 16:1-20)
  8. Hosea die laaste koning van Noordelike Israel (2 Kon 17:1-4)
  9. Die einde van die koninkryk van Noordelike Israel (2 Kon 17:5-41)

DEEL 12: VAN DIE VAL VAN ISRAEL TOT DIE VAL VAN JUDA (2 KONINGS 18 – 25)

  1. Hiskia word koning van Juda (2 Kon 18:1-8)
  2. Hiskia en die aanslag van Assirië (2 Kon 18:9-19:37)
  3. Hiskia se siekte (2 Kon 20:1-11)
  4. Hiskia word deur amptenare van Babel besoek (2 Kon 20:12-21)
  5. Manasse koning van Juda (2 Kon 21:1-18)
  6. Amon koning van Juda (2 Kon 21:19-26)
  7. Koning Josia van Juda herstel die aanbidding van YHWH (2 Kon 22:1-23:30)
  8. Joahas koning van Juda (2 Kon 23:31-33)
  9. Eljakim / Jojakim koning van Juda (2 Kon 23:34-24:6)
  10. Jojagin word koning van Juda (2 Kon 24:7-10)
  11. Jerusalem word verower deur Nebukadnesar van Babel (2 Kon 24:11-17)
  12. Sedekia die laaste koning van Juda (2 Kon 24:18-20)
  13. Die verwoesting van Jerusalem (2 Kon 25:1-30)
Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Christene buite die kerk: die Paulisiane

Illustrasie: http://www.onegodonelord.com/theos-7/

Wat is die waarheid oor die Paulisiane: was hulle volgelinge van Yeshua, die Gesalfde, of was hulle ketters? Is dit wat die Kerk van hulle sê waar, of is dit ʼn verdigsel?

Die Paulisiane was ’n Christelike beweging wat in Kappadosië (Armenië)  ontstaan het en wat uitgebrei het na ander lande, ondermeer Bulgarye. Tot die twintigste eeu was die enigste inligting oor hulle dit wat deur die Kerk van hulle gesê is. Sedert die ontdekking van die boek “Die Sleutel tot die Waarheid” in 1893, en die vertaling daarvan in Engels, het hulle eie weergawe van hulle leringe en gebruike bekend geword.

Die Bisantynse Kerk het die Paulisiane beskuldig dat hulle ʼn gnostiese beweging was (wat glo mense is goddelike siele wat in ʼn stoflike wêreld gevange is). Hulle is beskuldig dat hulle dualisme aanhang (twee gode – een goed en een kwaad). Hulle is ook manicheërs genoem (ʼn heidense godsdiens wat ʼn bietjie Christelikheid insluit). Verder was hulle beskuldig dat hulle die leer van docetisme volg (Christus het net skynbaar ʼn vleeslike liggaam gehad). Daar is ook gesê dat hulle die Ou Testament verwerp en net ʼn deel van die Nuwe Testament aanvaar. Hulle is tot ketters verklaar en vervolg.

Die bestaan van ʼn boek van die Paulisiane, “Die Sleutel tot die Waarheid”, was tot in die elfde eeu bekend, maar dit het verlore geraak. In 1893 is  “Die Sleutel tot die Waarheid” in ʼn biblioteek in Armenië ontdek deur Frederick Cornwallis Conybeare. Die manuskrip is ʼn kopie van ʼn teks uit omstreeks 800 n.C. Hierdie teks gee ʼn heel ander weergawe van die Paulisiane se leringe en praktyke. Daar is geen sprake van enige iets wat op gnostiese of manichese opvattings dui nie. Die Ou Testament, die vier kanonieke Evangelies en die Briewe van Paulus word gebruik.

Daar word gemeen dat die Paulisiane uit die vroegste Apostoliese gemeentes gekom het. In 1 Petrus 1:1-2 word verwys na Kappadosië (die ou naam van Armenië): Petrus, ʼn apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië, uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Hulle was veral bekend tussen die middel van die sewende eeu en die einde van die negende eeu. Die naam Paulisiane is aan hulle gegee omdat hulle die briewe van die Apostel Paulus hoog geag het.

Die Paulisiane het bekend geword na die bekering in 660 n.C. van ʼn jong Armeniër met die naam Konstantyn. Hierdie Konstantyn was aanvanklik ʼn aanhanger van die heidense godsdiens manicheïsme. Op ʼn dag het ʼn Christen wat vir Moslems gevlug het, by hom skuiling teen sy agtervolgers gesoek. Uit dankbaarheid het die Christen ʼn afskrif van die vier evangelies en die briewe van die Apostel Paulus aan Konstantyn geskenk. Konstantyn (hy het sy naam verander na Silvanus) het hierdie boeke bestudeer en hom geroepe gevoel om die Christene te laat terugkeer na die oorspronklike leringe en praktyke van die Nuwe Testament. Hy was suksesvol en het ʼn probleem vir die Bisantynse Kerk geword omdat hy hulle leerstellings en praktyke verwerp het en as afgodery bestempel het. Hy is deur die kerk tot ketter verklaar en in 685 n.C. gevonnis tot steniging. Slegs een persoon kon gevind word wat bereid was om hom te stenig. Hierdie gebeure het daartoe gelei dat die keiserlike offisier, Simeon, tot bekering gekom het en later ʼn Paulisiaanse leier geword het.

Weens vervolging moes die Paulisiane vlug en het in Armenië verstrooid geraak. Ten spyte van vervolging, het hulle getalle steeds toegeneem omdat talle lidmate van die Kerk by hulle aangesluit het. In die negende eeu het vervolging so toegeneem dat die Paulisiane oorgegaan het tot gewapende verset. Die gevolg was dat die regentes Theodora II ʼn grootskaalse vervolging beveel het. 100,000 Paulisiane het omgekom en hulle grond en eiendom is deur die Bisantynse Ryk gekonfiskeer. Weer moes die Paulisiane na nuwe plekke toe vlug. Tussen die 7de en 12de eeue het die Paulisiane versprei in Armenië. In die 10de eeu het hulle ook versprei na Bulgarye en daarvandaan weswaarts. Aan die einde van die 17de eeu was daar nog Paulisiane wat in Bulgarye gewoon het.

In die teks van “Die Sleutel tot die Waarheid” word die Paulisiane se sedes en gebruike beskryf as soortgelyk aan dit wat in die eerste eeue by die meeste Christene voorgekom het. Uit die teks is dit ook duidelik dat hulle die doop van kinders verwerp. Slegs volwassenes wat  tot geloof gekom het en gevra het om gedoop te word, is gedoop. Persone wat uit ʼn ander geloofsgroep (byvoorbeeld die Ortodokse Kerk) gekom het, is herdoop.

Hulle was hewig gekant teen die verering van ikone, relieke en heiliges. Die verering van hierdie voorwerpe en persone dateer uit die vierde eeu en kom voor by die Katolieke en Ortodokse Kerke. Die Paulisiane het dit as afgodery beskou.

Daar was nie verskillende klasse gelowiges nie. Hulle leiers was van dieselfde klas as die gewone lidmate en het nie titels of onderskeidende kleredrag gehad nie. Gemeentes was onafhanklik en het oor hulleself regeer. Omdat hulle as ʼn beweging nie eiendom kon besit nie, het hulle nie geboue opgerig nie. Hulle het nie instellings soos sinodes of konsilies gehad wat hoër as die gemeentes was nie.

Uit die beskrywings in die “Die Sleutel tot die Waarheid” kry mens die indruk dat die Paulisiane baie naby aan die Nuwe Testamentiese gemeentes was. Dit is heel moontlik dat toe Konstantyn op die toneel verskyn het, daar nog steeds ou gemeentes was wat nooit deel van die Kerke geword het nie. Indien dit waar is, het die oorspronklike Nuwe Testamentiese gemeentes nog steeds onafhanklik van die Kerke bestaan en ʼn suiwer getuienis vir Yeshua gelewer.

Die meerderheid kerkhistorici verbind die Paulisiane met die Bogomils, Kathare en Albigense. Al drie hierdie groepe word beskou as gnosties en is ook tot ketters verklaar. Die verbinding tussen hierdie groepe lyk onwaarskynlik want dit berus op aannames en veronderstellings.

Wat is die waarheid? Kerk en staat het saamgewerk om die Paulisiane te vernietig. Om dit te regverdig is allerlei vals aantygings teen hulle gemaak. Vandag kan ons sien dat hulle getuienis ʼn lamp was wat helder in die duisternis gebrand het.

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot Rut

Illustrasie: http://www.freebibleimages.org/illustrations/ruth-3/

Die geskiedenisboeke van die Ou Testament kan verdeel word in Die Geskiedenis van die Twaalf Stamme van Israel (Joshua tot 2 Konings) en Die Geskiedenis van Juda (1 Kronieke tot Ester). Die boek Rut is deel van die Die Geskiedenis van die Twaalf Stamme van Israel en word geplaas na Rigters en voor 1 Samuel. Dit is onbekend wie die boek geskryf het en wanneer dit geskryf is. Die geslagsregister aan die einde van die boek strek tot by Dawid. Gevolglik moes die boek gefinaliseer gewees het nadat Dawid gebore is.

Die gebeure in Rut het plaasgevind in die tydperk van die Rigters. Rut was koning Dawid se oumagrootjie en die boek dien as ʼn oorbrugging vanaf Rig 21:25 (In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë) tot by 1 Sam 13:14 (Die HERE het vir Hom ʼn man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie).

Die doel van die boek is om ʼn gedeelte van Dawid se geslagsregister aan te vul en sy aanspraak op die koningskap te versterk. Dit hou ook verband met die vervulling van ʼn profesie aangaande Yeshua, die Gesalfde. Die eiendomsreg op ʼn bepaalde stuk grond, Efrata in Bethlehem, word deur die gebeure in Rut bevestig. Rut 4:11: Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Efrata en maak ʼn naam in Betlehem! Dawid verwys na sy kinderjare in Ps. 132:6: Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär. Die profeet Miga verwys na Efrata as die geboorteplek van die Gesalfde. Miga 5:2: En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ʼn Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Die boek Rut begin met die geskiedenis van ʼn man van Bethlehem in Juda wat sy land en erfgrond verlaat het en hom en sy gesin in die land Moab gaan vestig het. Sy naam was Elimeleg. Dit wil voorkom of hy hom en sy gesin permanent daar wou vestig want hy het sy twee seuns met Moabitiese meisies laat trou. Deut. 23:3-4 bevat instruksies omtrent ondertrouery met Moabiete: Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die HERE kom nie; omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bileam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotamië, teen jou gehuur het om jou te vloek. Elimeleg het dus ʼn verkeerde besluit geneem. Sy twee seuns het in Moab gesterf. Vir sy weduwee, Naomi, was dit rampspoedig. Sy kon nie in die vreemde land bly nie, maar terselfdertyd het sy geen heenkome in Juda gehad nie. Omdat haar seuns gesterf het, was daar nie meer ʼn erfgenaam vir haar man se eiendom nie, dit sou oorgaan na ʼn naby familielid van Elimeleg. Hierdie erfreg bepaling was belangrik om te verhoed dat ʼn stam se grondgebied nie vervreem word nie.

Die Wet van Moses het voorsiening gemaak vir gevalle waar iemand sonder erfgename sterf.  Deut. 25:5-6: As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ʼn seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ʼn vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie. Kortliks maak dit daarvoor voorsiening dat Elimeleg se erfenis behoue kan bly as Naomi nog ʼn kind kon hê by ʼn broer van hom. Die kind sou dan Elimeleg se erfgenaam wees. Hierdie bepaling is uitgebrei sodat Naomi se oorlede seun op dieselfde manier ʼn seun kon hê wat dan Elimeleg se erfgenaam kon wees. Indien Naomi se skoondogter, Rut, met ʼn familielid trou en ʼn seun het, sou hierdie seun die erfgenaam van Elimeleg se seun wees.

In Israel was die familieverwant wat as loskoper opgetree het, iemand wat die verantwoordelikheid gehad het om namens ʼn familielid wat in die moeilikheid was, op te tree. In Hebreeus was die loskoper goel genoem. Dit was moontlik dat die loskoper sy verantwoordelikheid kon oordra aan ʼn ander familielid, indien omstandighede dit vereis. Die familielid van Elimeleg wat die loskoper was, wou nie die swaershuwelik met Rut sluit nie en het sy reg oorgedra aan Boas.

Die boek Rut beeld liefde en lojaliteit in menslike verhoudings uit. Eerstens Rut se onbaatsugtige en onwrikbare toewyding aan Naomi in haglike omstandighede, tweedens Boas se vriendelikheid en hulpvaardigheid aan die twee hawelose weduwees. Hulle demonstreer hiermee die omgee wat YHWH van Sy mense verwag.

Daar is kommentators wat meen dat Boas se vader Salmon getroud was met Ragab die hoer van Jerigo. Hierdie mening is onwaarskynlik.

Rut is ʼn voorbeeld van die beste in Hebreeuse verhaalkuns. Dit is kompak, helder en doeltreffend. Die geskiedenis word simmetries aangebied. Dit begin met ʼn kort beskrywing van nood en word afgesluit met ʼn kort beskrywing van hoop. Die hele geskiedenis word in tien dele vertel met ʼn keerpunt in die middel. Kontras word ook gebruik: Rut en Orpa, Boas en die naamlose bloedverwant. Rut is ʼn jong behoeftige vreemdeling, Boas is ʼn middeljarige, welgestelde Israeliet.

Hier volg die struktuur van Rut:

RUT 1: VAN MOABIET TOT ISRAELIET

Elimeleg verlaat Israel (1:1-4)

Naomi besluit om na Juda terug te keer (1:5-14)

Rut kies om saam met Naomi te gaan (1:15-22)

RUT 2: RUT SE ONTMOETING MET BOAS

Rut en Boas ontmoet (2:1-16)

Rut vertel Naomi van Boas (2:17-23)

RUT 3: RUT VRA BOAS OM DIE SWAERSHUWELIK MET HAAR TE SLUIT

Naomi se raad aan Rut (3:1-5)

Boas onderneem om lossing vir Rut te bekom (3:6-18)

RUT 4: RUT EN HAAR TOEKOMSTIGE SEUN WORD LOSGEKOOP

Boas word die losser (4:1-12)

Boas trou met Rut en hulle het ʼn seun (4:13-17)

Stamboom van Dawid (4:18-22)

 

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot Rigters

Foto: https://heartofashepherd.com/2017/02/14/faith-is-the-victory/

Die boek Rigters is die tweede boek van daardie gedeelte van die Ou Testament wat handel oor Die Geskiedenis van die Twaalf Stamme van Israel. Hierdie gedeelte begin met Joshua en eindig met 2 Konings. Die gedeelte wat daarop volg is Die Geskiedenis van Juda wat begin met 1 Kronieke en eindig met Ester. Rigters volg dus op Joshua en word gevolg deur Rut.

Die Hebreeuse naam van die boek is Shophetim, dit beteken “regters, regeerders, verlossers of redders”. Die rigters se take was eerstens om hulle mense te verlos, daarna om oor hulle te regeer deur te sorg dat reg en regverdigheid geskied.

Die tydperk van die rigters begin na die dood van Joshua en strek tot Saul koning oor Israel geword het. Die laaste twee rigters, Eli en Samuel, se geskiedenis word vertel in die boek 1 Samuel. Die totale tydperk van die rigters was 346 jaar. In hierdie tyd was Israel ʼn teokrasie, YHWH het oor hulle regeer en Hy het slegs menslike leiers opgeroep waar en wanneer Hy hulle wou gebruik.

Die geskiedenis van die rigters is nie aaneenlopend nie, daar was tye wanneer daar geen rigter was nie. Die rigters was ook nie nasionale leiers nie, hulle was slegs leiers in ʼn sekere stam gewees en het binne ʼn bepaalde gebied opgetree. Daar was nie ʼn sentrale regering nie en elke stam het oor homself regeer en nie in mekaar se sake ingemeng nie. Stamme het wel vrywillig gesamentlik opgetree wanneer dit nodig was.

Die skrywer van die boek is onbekend. Volgens Joodse tradisie was Samuel die skrywer. Die meeste van die gebeure in Rigters het plaasgevind voor Samuel se geboorte, gevolglik is dit moontlik dat hy ou geskrifte kon versamel en georden het. Wanneer die boek geskryf of saamgestel was, is ook onbekend. ʼn Uitdrukking wat herhaaldelik in die boek voorkom is: In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. Hierdie woorde gee die indruk dat die boek tot stand gekom het toe daar reeds ʼn monargie was.

Rigters bestaan uit drie dele: ʼn proloog, ʼn hoofdeel en ʼn epiloog. Die proloog het twee onderdele wat nie met mekaar verband hou nie en wat elkeen ʼn ander doel het. Hulle volg ook nie chronologies opmekaar nie. Die eerste deel gee die historiese oorsig van die verowering van die verbondsland. Die tweede deel gee ʼn toeligting op die tydperk tussen Joshua en die eerste koning, Saul.

Die hoofdeel van die boek vertel die geskiedenis van twaalf van die rigters. Ses meer prominent en ses minder prominent. Dit is nie noodwendig al die rigters wat daar was nie en die verskillende rigters volg ook nie noodwendig chronologies op mekaar nie. Die hoofdeel van die boek is so saamgestel dat elke verhaal ʼn bepaalde siklus volg. Die siklus bestaan uit: afvalligheid van YHWH af, gevolg deur YHWH wat hulle oorgee aan onderdrukking, gevolg deur nood en gebed om hulp, gevolg deur YHWH wat bevryding bewerk deur middel van ʼn rigter. Elke siklus het ʼn soortgelyke begin (Israel het in die oë van YHWH kwaad gedoen) en ʼn soortgelyke resultaat (YHWH het ʼn tydperk van vrede of leierskap gegee).

Die epiloog bestaan ook uit twee dele wat nie chronologies is nie en wat ook geen verband met mekaar het nie. Die eerste deel vertel van die stam Dan wat ʼn verdorwe godsdiens aangeneem het en hulle erfgrond verlaat het. Die tweede deel vertel van die stam Benjamin wat ʼn verdorwe deel van die stam verdedig het en as gevolg daarvan byna uitgewis is.

Nadat YHWH sy verbond met Abraham nagekom het en die verbond met Israel by berg Sinai ingestel het, was teokrasie die regeringsvorm wat Hy aan hulle gegee het. YHWH was hulle koning en het oor hulle regeer deur hulle te tugtig en te dissiplineer.  Israel het nie lank geneem om van YHWH afvallig te word nie. Dit was in alle streke en in elke stam. Eers wanneer hulle tot berou gekom en dit bely het, was YHWH genadig en het redding vir hulle bewerk. Die manier hoe Hy hulle te hulp gekom het, was om ʼn menslike leier te roep deur wie Hy dan gewerk het. YHWH se hulp aan so ʼn menslike leier was dikwels bonatuurlik. Derhalwe is hulle deur die krag van YHWH, nie deur die vermoë van ʼn mens nie, gered. Die helde in Rigters is slegs helde in soverre as wat hulle YHWH vertrou en gehoorsaam het. Die rigters het ook voete van klei gehad en het ook verkeerd gedoen en misluk. Daarvoor moes hulle die prys betaal.

Die struktuur van die boek is soos volg:

DEEL 1: (RIG 1:1 – 3:6) DIE TOENEMENDE AFVALLIGHEID VAN ISRAEL

  1. Israel versuim om die hele verbondsland in besit te neem (Rig 1:1 – 1:36)
  2. YHWH se handelswyse met Israel (Rig 2:1 – 3:6)

2.1 Die laaste dae van Joshua se leierskap (Rig 2:1 -2:10)

2.2 Israel dien afgode, YHWH se woede en die opwekking van rigters (Rig 2:11 – 2:19)

2.3 YHWH laat van die heidenvolke oorbly in die land (Rig 2:20 – 3:6)

DEEL 2: (RIG 3:7 – 16:31) DOEN EN LATE VAN VERSKILLENDE RIGTERS

  1. Othniël van Juda (Rig 3:7 – 3:11)
  2. Ehud van Benjamin en Samgar (Rig 3:12 – 3:31)
  3. Debora van Efraim en Barak van Naftali (Rig 4:1 – 5:31)

3.1 Debora stel Barak aan (Rig 4:1 – 4:9)

3.2 Barak behaal die oorwinning (Rig 4:10 – 4:24)

3.3 Die lied van Debora (Rig 5:1 – 5:31)

  1. Gideon van Manasse (Rig 6:1- 9:57)

4.1 YHWH stuur ʼn profeet (Rig 6:1 – 6:10)

4.2 Die roeping van Gideon (Rig 6:11 – 6:32)

4.3 Gideon maak seker dat YHWH sal help (Rig 6:33 -6:40)

4.4 YHWH verslaan Midian (Rig 7:1 – 7:25)

4.5 Onwillige menslike leiers (Rig 8:1 – 8:21)

4.6 ʼn Strik vir die huis van Gideon (Rig 8:22 – 8:35)

4.7 Gideon se seun Abimeleg wil koning wees (Rig 9:1 – 9:57)

  1. Tola van Issaskar en Jair van Gilead (Rig 10:1 – 10:5)
  1. Jefta van Gilead (Rig 10:6 – 12:6)

6.1 Israel, die hoer van valse gode (Rig 10:6 – 10:18)

6.2 Jefta, die seun van ʼn hoer word rigter (Rig 11:1 – 11:11)

6.3 Jefta se boodskap aan die koning van Ammon (Rig 11:12 – 11:28)

6.4 Jefta se gelofte en die vernedering van Ammon (Rig 11:29 – 11:40)

6.5 Die broedertwis (Rig 12:1 – 12:7)

  1. Ebsan van Bethlehem, Elon van Sebulon en Abdon van Pireaton (Rig 12:8 – 12:15)
  1. Simson die Nasireër van Dan (Rig 13:1 – 16:31)

8.1 Die geboorte van Simson (Rig 13:1 – 13:25)

8.2 Simson se huwelik (Rig 14:1 – 15:20)

8.3 Simson en die hoer (Rig 16:1 – 16:3)

8.4 Simson en Delila (Rig 16:4 – 16:31)

DEEL 3: (RIG 17 – 21) VERDORWENHEID IN ISRAEL

  1. Miga, sy priester en die stam Dan (Rig 17:1 – 18:31)

1.1 Miga, sy afgod en sy priester (Rig 17:1 – 17:13)

1.2 Dan verlaat hulle stamgebied en steel Miga se afgod en priester (Rig 18:1 – 18:31)

  1. Benjamin word byna uitgewis (Rig 19:1 – 21:25)

2.1 Die verkragting van ʼn reisiger se vrou (Rig 19:1 – 30)

2.2 Die stam Benjamin beskerm die verkragter teen die ander elf stamme (Rig 20:1 – 20:48)

2.3 Vroue vir die 600 oorblywendes van Benjamin (Rig 21:1 – 21:25)

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot Joshua

Foto: http://www.biblebios.com/joshua/joshua.htm

Die Bybelboek Joshua is die sesde boek in die Ou Testament en volg chronologies op Numeri en Deuteronomium. Deuteronomium is die laaste van die boeke wat in die Griekse vertalings die Pentateug genoem word. Die boeke wat op die Pentateug volg, is by ons bekend as die Geskiedenisboeke. In Hebreeus word dit die Profete genoem. Joshua is die eerste van die Geskiedenisboeke. In Hebreeus staan die boek Joshua bekend as Yehoshua.

Die naam van die boek is afkomstig van die leier van Israel op hierdie stadium, ʼn man met die naam Joshua. Sy naam is ʼn kombinasie van Jahweh en Hosea en beteken Jahweh Redder. Dit is die selfde naam wat as Jesus of Yeshua in die Nuwe Testament vertaal word. Joshua was uit die stam Efraim en hy was die seun van Nun. Hy is in Egipte gebore as ʼn slaaf en was omtrent 40 jaar oud tydens die Eksodus. Hy was omtrent 80 jaar oud toe hy Moses as leier opgevolg het. Hy het gesterf toe hy omtrent 110 jaar oud was. Joshua was aanvanklik Moses se regterhand, hy het homself bewys as ʼn bekwame militêre aanvoerder en was een van die 12 verkenners wat na Kanaän gestuur is. Hy en Kaleb was die enigste verkenners wat ʼn gunstige verslag gelewer het.

Die boek Joshua noem nie self die naam van die skrywer nie. Volgens tradisies van Judaïsme was die man Joshua, behalwe vir gedeeltes wat na sy dood gebeur het, self die skrywer.

Die boek handel oor die inbesitneming en verdeling van die land Kanaän deur die volk Israel. Dit was ʼn integrale deel van YHWH se groter en langtermyn doel. Hierdie langtermyn doel het YHWH bekend gemaak in ʼn verbond wat hy met Abraham gesluit het (Genesis 17). In Gen. 17:8 sê YHWH aan Abraham: En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ʼn ewige besitting; en Ek sal vir hulle ʼn God wees. Abraham het uiteindelik ʼn baie groot nageslag gehad, maar die verbond is slegs van toepassing op die (toe nog ongebore) seun Isak en sy nageslag.  Isak het 2 seuns gehad, Esau en Jakob. In Gen. 35:9-29 gee YHWH aan Jakob die naam Israel en bevestig hom as die erfgenaam van die verbond. Gen. 35:12: En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.

Om die boek Joshua te verstaan, moet die meer onlangse geskiedenis ook in gedagte gehou word. Jakob en sy gesin het in Egipte gaan woon en later het sy nageslag daar slawe geword. Na etlike honderde jare het YHWH ʼn man met die naam Moses geroep. Eks. 3:8: Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ʼn goeie en wye land, na ʼn land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete. By die berg Sinai het YHWH weer Sy verbond met die nageslag van Jakob herbevestig. In Deut. 10:11 word die opdrag om die land in besit te neem weer herhaal: Maar die HERE het vir my gesê: Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders met ʼn eed beloof het om aan hulle te gee. 

Die verowering van Kanaän, wat in Joshua beskryf word, kon bykans 40 jaar vantevore al plaasgevind het indien die volk Israel hulle nie teen YHWH verset het nie. Dit word beskryf in Numeri 13 en 14. YHWH was so woedend dat Hy die hele volk wou vernietig. Slegs as gevolg van Moses se pleidooi het YHWH besluit om hulle te begenadig. Israel sal ʼn tweede kans kry nadat al die opstandiges uitgesterf het. Van die oorspronklike 12 verkenners het net Joshua en Kaleb oorgebly.

Die doel van die boek is tweërlei: eerstens is dit ʼn verslag met belangrike geskiedkundige inligting vir die nageslag, tweedens (en ook die belangrikste) is dit ʼn verslag van hoe YHWH Sy verbond nagekom het. Die verowering van die land was nie te danke aan menslike vernuf en krag nie, die boek toon duidelik dat YHWH voor Israel uitgegaan het en dit vir hulle moontlik gemaak om die vyandige volke te verdryf. Wanneer Israel gehoorsaam was, het hulle die oorwinning behaal. Wanneer hulle ongehoorsaam was, het hulle nederlae gelei. Israel het nie die land op ʼn skinkbord gekry nie, hulle moes met YHWH saamwerk.

YHWH het aan Israel die land Kanaän gegee in ʼn onvoorwaardelike verbond, hulle moes dit net in besit neem. Om die land te behou was voorwaardelik: hulle moes YHWH se instruksies nakom in die land wat Hy aan hulle gegee het. In Deuteronomium 27 en 28 het Moses die aardse seëninge en vervloekinge uitgespel wat deur hulle gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal sou word.  in Joshua 8:30-35 het die volk hierdie voorwaardes aanvaar.

Die struktuur van Joshua is:

DEEL 1: (JOS 1-12) DIE VEROWERING VAN KANAӒN

  1. Opdrag om te trek ( Jos 1)
  2. Die verkenners en die hoer (Jos 2)
  3. YHWH maak ʼn pad deur die rivier (Jos 3)
  4. Die gedenkteken van 12 klippe (Jos 4)
  5. Die tekens van die verbond (Jos 5)
  6. YHWH verower Jerigo (Jos 6)
  7. Israel se nederlaag by Ai (Jos 7)
  8. YHWH se oorwinning van Ai (Jos 8)
  9. Joshua vra nie YHWH se raad nie (Jos 9)
  10. Toe YHWH na die stem van ’n man geluister het (Jos 10)
  11. Die verowering van die Noorde (Jos 11)
  12. Die gebied wat verower is (Jos 12)

DEEL 2: (JOS 13-22) DIE VERDELING VAN KANAӒN

  1. Opdrag om die land te verdeel (Jos 13:1-7)
  2. Die twee-en-’n-half stamme oos van die Jordaan (Jos 13:8-33)
  3. Kaleb die verkenner se erfdeel (Jos 14)
  4. Juda se erfdeel (Jos 15)
  5. Die erfdeel van Efraim en Manasse (Jos 16)
  6. Die verdere erfdeel van Manasse (Jos 17)
  7. Traagheid om die land te verower (Jos 18:1-10)
  8. Benjamin se gebied (Jos 18:11-28)
  9. Simon se gebied (Jos 19:1-9)
  10. Sebulon se gebied (Jos 19:10-16)
  11. Issaskar se gebied (Jos 19:17-23)
  12. Aser se gebied (Jos 19:24-31)
  13. Naftali se gebied (Jos 19:32-39)
  14. Dan se gebied (Jos 19:40-48)
  15. Joshua se stad (Jos 19:49-51)
  16. Vlugtelingstede (Jos 20)
  17. Levi se stede (Jos 21)
  18. Die stamme oos van die Jordaan gaan huis toe (Jos 22)

DEEL 3: (JOS 23-24) JOSHUA NEEM AFSKEID

  1. Doen so voort (Jos 23)
  2. Laaste vermanings (Jos 24)
Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Die verlore Sabbat

Foto: https://www.worldslastchance.com/yahuwahs-calendar/die-skepper-se-kalender-a.html

Mense wat die Bybel glo, weet waarom daar weke is. Gen 2:2-3: En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. (Alle aanhalings is uit die AOV.) Die naam Sabbat beteken rus.

Mense wat nie die Bybel glo nie, weet nie waar weke vandaan kom nie. Die week het niks met sterrekundige of natuurlike verskynsels te doen nie en daar is ook geen ander rede waarom daar weke moet wees nie. Ten spyte daarvan was daar deur die geskiedenis heen pogings (deur mense wat nie die Bybel glo nie) om weke in te stel. Party weke was vyf dae lank, ander was ses dae of agt dae lank. Blykbaar wou nie een van hierdie mensgemaakte weke goed werk nie.

Dit is nie seker of die mensdom in die 2500 jaar voor Moses die sewende dag as rusdag onderhou het nie. Daar is geen melding in die boek Genesis wat toon dat mense die Sabbat onderhou het nie. Dit is eers wanneer die volk Israel ter sprake kom dat daar van Sabbat gepraat word. Die Vierde Gebod, in Eks 20:8-11, het dit ingestel: Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Die Sabbat was deel van die verbond wat YHWH met die volk Israel gesluit het, Eks 31:13-17: Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik. Die onderhouding van die Sabbat was ook ‘n verpligting vir elke individuele lid van die volk Israel. ‘n Persoon wat dit nie onderhou het nie, moes die doodstraf ontvang.

Presies wanneer dit die sewende dag was, was vir Israel baie belangrik. In die Ou Testament het Israel ‘n lunisolêre kalender gebruik, soos hulle dit van Moses ontvang het. Kalendermaande het met die nuwe maan begin. Van een nuwe maan tot die volgende duur 29.5 dae, gevolglik het kalendermaande altyd 29 of 30 dae. In ‘n jaar is daar dan 354 dae, 11 dae minder as die sonkalender se 365 dae. Die belangrike Pesagfees moes in die lente plaasvind en die Loofhuttefees in die herfs. ‘n Regstelling vir die 11 dae was gedoen deur ‘n skrikkelmaand by te voeg. Elke maand begin met die nuwe maan (wat ‘n aanbiddingsdag van sy eie is), dan volg 6 werksdae en daarna die Sabbat op die agste dag van die maand. Sabbat val dus altyd op die 8ste, 15de, 22ste en 29ste van elke maand. In die vierde eeu n.C. word die Voorsitter van die Sanhedrin, Hillel II, deur die Romeine gedwing om die lunisolêre kalender te laat vaar en om voortaan die Juliaanse kalender te gebruik.

In Judaïsme is die onderhouding van die Sabbat op die sewende dag van die week ‘n verpligting. Die oorgang na die Juliaanse kalender het beteken dat niemand meer geweet het wanneer die Ou Testamentiese sewende dag was nie. Sedert Konstantyn se hervorming van die Juliaanse kalender onderhou Judaïsme die Romeinse sewende dag, Saterdag, as die Joodse sewende dag. Nog ‘n belangrike gevolg van die kalender verandering was dat weke nou aaneenlopend geword het. Die eerste dag van ‘n nuwe maand (sê maar Woensdag) volg nou direk op die laaste dag van die vorige maand (sê maar Dinsdag). Dit was ‘n totale afwyking van die Ou Testamentiese kalender.

Die moderne sewedag week het ons by die Romeinse Keiser Konstantyn gekry. Hy het in 321 n.C. die Juliaanse kalender verander van ‘n agt dae week na ‘n sewe dae week. Hy het daarin geslaag om met sy hervorming die meerderheid van sy onderdane tevrede te stel. Elke dag van die week is na een van die heidene se gode vernoem, in volgorde van belangrikheid. Vir Christene het hy die eerste dag van die week, die Songod se dag, gegee as ‘n spesiale dag. Vir die Jode het hy die sewende dag van die week, die god Saturnus se dag, gegee as hulle Sabbat. Let wel: die eerste en sewende dae van die Romeine se week – nie die Bybelse week nie.

Die grootste deel van die Christendom het nooit gedink dat Sondag die Ou-Testamentiese Sabbat is nie. Hulle het gemeen die eerste dag van die week is die dag waarop Yeshua opgestaan het uit die dood en het dit die “dag van die Here” genoem en as ‘n heilige dag beskou. Die opstanding van Yeshua was immers die belangrikste dag in die geskiedenis van die mensdom. Verder het hulle op die eerste dag van die Joodse week byeengekom en dit as ‘n dag van aanbidding beskou. Na die kalenderhervorming het hulle ook die Romeinse eerste dag gebruik.

In die Christendom is daar van vroeg af vertoë tot die staat gerig om Sondag ‘n rusdag te maak. Dit het algemeen geword in lande wat nominaal christelik was dat die staat Sondagwette gemaak het. Tot betreklik onlangs was daar in Suid-Afrika ook sulke wette en het kerke gereeld met die regering van die dag oor hierdie wette beraadslaag. Of hierdie wette sedertdien afgeskaf is en of dit net nie meer toegepas word nie, weet ek nie. Slegs noodsaaklike werk is op Sondae gedoen, die meeste mense het nie op Sondae gewerk nie en was tuis by hulle gesinne. Jy kon nie op Sondae gaan inkopies doen nie want die winkels was toe. Dit was ‘n goeie geleentheid om dorp toe te gaan en te sien wat in winkelvensters uitgestal word. Voor die koms van televisie was kuier by vriende en familie gewild. Daar was parke waar mense kon gaan piekniek hou en ontspan. Aangesien die regering al die burgers van die land se belange moes behartig en godsdiensvryheid moes waarborg, was wetgewing nie gemik daarop om gewetensvryheid te beperk nie. Sport op Sondae is toegelaat ten spyte van die teenkanting van kerke.

Alhoewel die meeste Christene die eerste dag van die week, Sondag, as ‘n rusdag gesien het, was daar ook Christene wat gemeen het dat die Ou-Testamentiese Sabbat steeds onderhou moet word. Hulle word dikwels Sewedaags-Sabbatariërs genoem. Vir hulle is Sondag as rusdag nie Bybels korrek nie. Hulle siening is dat die Ou-Testamentiese Sabbat nie net vir Israel bedoel is nie, maar vir alle mense. In navolging van Judaïsme, onderhou hulle ook Saterdae as Sabbat. Kritici sien dit as ‘n vermenging van Judaïsme met die Christendom.

Talle Christene wat Sondag as rusdag toepas, raak verward en dink verkeerdelik dat Sondag die Sabbat is. Hulle wil die eerste dag op dieselfde wyse onderhou as die Bybelse Sabbat.

Die Fariseërs het gereeld strikke vir Yeshua probeer stel. In een so ‘n geval het Hy (Mark 2:27-28) hulle geantwoord: En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.

In Hebreërs 4:3-11 word die betekenis van die Sabbat soos volg gegee: Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie. 

Die weergawe van die Bloedrivier Gelofte wat sedert die 1930’s algemeen gebruik word, is foutief. Daarin word ondermeer gesê: “ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring”. In die amptelike notule van die Volksraad word niks gesê van Sabbat nie. Die amptelike notule het gesê: “dat wy de dag der overwinning, in ‘n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden”.

(Met dank aan Sousiewa wat my aandag hierop gevestig het)

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot Deuteronomium

Foto: http://www.disciplemagazine.com/www/articles/216.1423

Die Bybelboek Deuteronomium word somtyds die Boek van die Verbond  genoem. Anders as Eksodus-Levitikus-Numeri wat die bepalings van die Wet (Instruksies) bevat, is Deuteronomium Moses se verduideliking van hoe dit toegepas moet word.

Deuteronomium is die laaste van Moses se vyf boeke. Hierdie vyf boeke word in Grieks die Pentateug genoem en in Hebreeus word dit Torah genoem. In Deuteronomium self en elders in die Bybel word Moses as die skrywer aangewys. Die Griekse naam Deuteronomium is afkomstig van ‘n foutiewe vertaling en beteken  “afskrif van die wetˮ. Die Hebreeuse naam is elleh haddebarim wat “dit is die woordeˮ (die eerste woorde in die eerste vers van die boek) beteken.

Die gebeure in Deuteronomium vind 40 jaar na Israel se uittog uit Egipte plaas. Na Israel uit Egipte is, het hulle by die Berg Sinai vertoef om YHWH se instruksies te ontvang. Hierna moes hulle die beloofde land, Kanaan, binnegaan en beset. Ten spyte van YHWH se beloftes en versekerings, het Israel nie op Hom vertrou nie en geweier om die land in besit te neem. As gevolg daarvan moes Israel 40 jaar in die wildernis vertoef tot die geslag wat teen YHWH in opstand was, uitgesterf het. Daar was nou ‘n nuwe geslag wat weer die geleentheid gekry het om die beloofde land in besit te neem.

Die boek Deuteronomium bestaan uit ‘n aantal toesprake wat Moses tot Israel gerig het. Dit is Moses se afskeidswoorde aan sy volk en hy wil seker maak dat die nuwe geslag die verbond wat YHWH met hulle gesluit het, ken en verstaan. Moses en die volk Israel bevind hulle in Moab, op die grens met Kanaan, die beloofde land. Moses gaan nie verder saam met hulle nie, Joshua gaan nou hulle nuwe leier wees. Waar die vorige drie boeke, Eksodus-Levitikus-Numeri, ‘n chronologiese geskiedenis vertel het, onderbreek Deuteronomium dit. Die verdere verloop van die geskiedenis word voortgesit in die boek Joshua.

Die verbond wat YHWH met Israel gesluit het, is ‘n voorwaardelike verbond. YHWH stel sekere voorwaardes wat Israel moet nakom. In ruil gee YHWH aan hulle die land wat Hy aan Abraham beloof het. Die instruksies wat Hy aan hulle gee, moet in die beloofde land toegepas word. Die seën en straf wat aan Israel voorgehou word, hou direk verband met voorspoed en teenspoed in die beloofde land. Moses se profesie verwys daarna dat die beloofde land weer van hulle af weggeneem kan word.

Gevolglik is Deuteronomium nie ‘n wetboek nie, dit is ‘n verbondsboek. Dit omskryf die verhouding wat tussen die twee partye moet bestaan. Dit is ‘n oproep tot ‘n lewenswyse wat Israel moet navolg om YHWH tevrede te stel. Dit vereis gehoorsaamheid aan YHWH as antwoord op YHWH se liefde en genade. YHWH verwag die totale lojaliteit van die volk wat Hy vir Homself gekies het. Dit sal vir Israel lewe en voorspoed bring, maar dislojaliteit en ongehoorsaamheid sal teenspoed oor hulle bring. Moses is besorg daaroor dat die volk mag misluk. Indien dit sou gebeur, sal YHWH hulle verwerp. Nogtans sal YHWH hulle genadig wees indien hulle tot Hom terugkeer. Die verbond lê ook klem op die onderlinge verhoudings tussen die lede van die volk. Dit sluit in versorging van die swakkeres en onderlinge regverdigheid. Die verbond sluit instruksies oor regspleging, sedes en huwelike in.

Die doel van die verbond is dat Israel deur YHWH afgesonder word om eksklusief Sy volk te wees. Dit is nie omdat hulle beter as ander volke is nie, dit is omdat Hy dit aan hulle Vaders beloof het. YHWH stel dit uitdruklik aan Israel dat hulle nie met die ander omringende volke mag vermeng nie. Al hierdie volke aanbid afgode en het godsdienstige praktyke wat vir YHWH onaanvaarbaar is. YHWH onderneem om hierdie volke bietjie-vir-bietjie uit die beloofde land uit te dryf. Israel moet die heidense godsdienstige plekke en voorwerpe heeltemal uitwis. Hulle is nie net afgesonder om die land van heidene te reinig nie, maar om anders te wees as die ander volke. Dit is sodat ander volke kan sien dat YHWH die enigste ware God is.

YHWH se verbond het aardse voordele vir Israel, sien ondermeer Deut 7:12-15: En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee. Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat. (AOV). Die verbond beloof nie ewige lewe of redding uit die mens se verlore toestand nie.

Deuteronomium se invloed in die verdere geskiedenis van Israel (van Joshua tot 2 Konings) is aansienlik. Israel word deurgaans gemeet aan die instruksies wat in Deuteronomium vervat is. Deuteronomium word ook dikwels in die Nuwe Testament aangehaal.

Die struktuur van Deuteronomium is die volgende:

DEEL 1: (DEUT 1 – 4) OM DIE BELOOFDE LAND IN BESIT TE NEEM

  1. Die eerste bevel om die land in besit te neem: Israel weier (Deut 1)
  2. Die tweede bevel om die land in besit te neem: Vermanings (Deut 2 – 4)

DEEL 2: (DEUT 5 – 11) DIE VERHOUDING TUSSEN YHWH EN ISRAEL

  1. Herhaling van die 10 gebooie (Deut 5)
  2. Die belangrikste opdrag (Deut 6)
  3. Israel moet ‘n afgesonderde volk wees (Deut 7)
  4. YHWH onderrig deur dissipline (Deut 8)
  5. Israel het niks om op te roem nie (Deut 9)
  6. Israel moet hulle harte verander (Deut 10:1 – 21)
  7. Die Verbondsland: seëninge en vloeke (Deut 10:22 – 11:32)

DEEL 3: (DEUT 12 – 26) IN DIE BELOOFDE LAND

  1. Slegs aanbidding op die een plek wat YHWH sal aanwys (Deut 12)
  2. Slegs die aanbidding van YHWH mag toegelaat word (Deut 13)
  3. Slegs sekere diere mag vir voedsel gebruik word (Deut 14)
  4. ‘n Nuwe begin elke sewende jaar (Deut 15)
  5. Drie feeste per jaar op die plek wat YHWH sal aanwys (Deut 16)
  6. Die regsproses in die verbondsland (Deut 17)
  7. Die erfenis van die Leviete (Deut 18:1 – 8)
  8. Die Profeet wat kom (Deut 18:9 – 22)
  9. Beskerming van die onskuldige (Deut 19)
  10. Vertrou YHWH in oorlog (Deut 20)
  11. Verskeie gedragsreëls (Deut 21)
  12. Verskeie ander instruksies (Deut 22:1 – 12)
  13. Verlowing en huwelik (Deut 22:13 – 30)
  14. Wie mag toegelaat word in die vergadering van YHWH (Deut 23)
  15. Hertrou en die beskerming van armes en vreemdelinge (Deut 24)
  16. Die erfenis van ‘n oorlede broer (Deut 25)
  17. Laaste opdragte (Deut 26)

DEEL 4: (DEUT 27 – 30) SEËN EN VLOEK

  1. Wat eerste gedoen moet word nadat hulle oor die Jordaan is (Deut 27)
  2. Verdere seëninge en vervloekings (Deut 28)
  3. Waarskuwings (Deut 29)
  4. Profesie van verwoesting en ballingskap (Deut 30)

DEEL 5: (DEUT 31 – 34) MOSES NEEM AFSKEID

  1. Oordrag van gesag aan Joshua (Deut 31)
  2. Die lied van Moses (Deut 32)
  3. Moses seën die stamme van Israel (Deut 33)
  4. Moses sterf (Deut 34)
Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin

Inleiding tot Eksodus, Levitikus en Numeri

Foto: Berg Sinai https://wyattmuseum.com/mt-sinaijebel-lawz

In die Ou Testament is die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri drie verskillende boeke. Dit is ook so in die Hebreeuse Ou Testament (die Tanakh). Indien ons na die inhoud van die boeke kyk, behoort dit eintlik net een boek te wees. In die tyd waarin hierdie boeke oorspronklik geskryf was, is dit geskryf op leer wat aanmekaar gelas is en dan opgerol is. Sulke boekrolle was moeilik hanteerbaar as dit te groot word en is dan verdeel in twee of meer rolle. As gevolg hiervan is die een boek verdeel in drie. Vir studiedoeleindes is dit beter om die drie boeke as een aaneenlopende boek te bestudeer.

Die name wat aan die drie boeke gegee is, is in Grieks Exodus (=Uittog), Leuitikon (=Boek van Leviete), arithmoi (Latyn Numeri) (=Getalle). Die Hebreeuse name kom van die eerste woorde in elke boek: Eksodus is Sjemot (=naam), Levitikus is Wajkira (=hy het geroep) en Numeri is Bemidbar (=in die woestyn). Indien ons ‘n gesamentlike naam vir net hierdie drie boeke wil gebruik, sou dit die  “Boek van Instruksies” wees – ooreenstemmend met die Hebreeuse woord Torah. Die grootste deel van die boeke handel oor instruksies wat YHWH (die HERE) aan die volk Israel gegee het.

Die eerste vyf boeke van die Ou Testament (in Grieks die Pentateug en in Hebreeus die Torah) word elders in die Bybel en deur Yeshua (Jesus), die Gesalfde, toegeskryf aan Moses. Dit sluit die moontlikheid in dat dit onder toesig van Moses geskryf is. Die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri is ook in dieselfde tydvak geskryf as die gebeure wat daarin voorkom. Al drie boeke kan as ‘n ooggetuie verslag beskou word.

In die eerste boek van die Ou Testament, Genesis, het YHWH ‘n verbond met Abraham gesluit waarin hy ondermeer aan Abraham ‘n nageslag en ‘n land van hul eie belowe het. Abraham se kleinseun Jakob en sy gesin, wat een gedeelte van Abraham se nageslag was, het in ‘n deel van Egipte, wat aan die Farao behoort het, gaan woon. In Eksodus word vertel wat van Jakob se nageslag, nou bekend as die volk Israel, geword het. Hulle het vermeerder in getalle maar het in slawerny verval. YHWH het Sy verbond met Abraham onthou en besluit om hulle te bevry en te neem na die land wat Hy aan Abraham beloof het. In Eksodus ontmoet YHWH die volk Israel by berg Sinai en sluit ‘n verbond met hulle. Hy gee aan hulle Sy vereistes van hoe hulle moet leef, besonderhede van ‘n ontmoetingsplek wat hulle moet bou en aanwysings van hoe om Hom te aanbid. In Levitikus gee Hy die offerstelsel en die pligte van die priesters aan hulle. In Numeri word die volk Israel opgestel om die beloofde land te gaan beset, maar hulle weier om te gaan en dwaal vir 40 jaar rond in die woestyn. Hierna is Moses oorlede en word Joshua die nuwe leier.

Die boeke Eksodus, Levitikus en Numeri is gerig aan die volk Israel. Die doel daarvan is om die ontstaan en die afgesonderde aard van die volk op te teken sodat dit ‘n ewige herinnering vir hulle nageslag kan wees. Dit vertel van YHWH se stryd om hulle los te kry uit slawerny en om ‘n verbondsverhouding met hulle te sluit. Die verbond tussen YHWH en Israel is ‘n voorwaardelike ooreenkoms waarin YHWH vereistes stel wat die volk moet nakom, iets wat die nageslagte ook sal moet doen. Terselfdertyd is daar waarskuwings dat indien die volk nie die vereistes nakom nie, YHWH teen hulle sal optree. Dit alles moet opgeteken en bewaar word sodat die volk dit kan onthou en dit as ‘n getuienis gehou kan word.

Daar is dikwels verwarring oor die tydperk wat Israel in Egipte was. Gen 15:13 en Hand 7:6 noem 400 jaar wat Abraham se nageslag in ‘n vreemde land sou woon.  Die tydperk wat die kinders van Israel (Jakob) in Egipte gewoon het, was 430 jaar (Eks 12:40-41). Die wet van Moses het 430 jaar na die roeping van Abraham gekom (Gal 3:17-17). In Gen 15:16 sê YHWH dat hulle vir 4 geslagte in die vreemde land sou wees. Die nageslag van Jakob se seun Levi (Eks 6:16-20) was Kehat, Amram, Moses – vier geslagte. Daar is ook verskillende ander gegewens wat die tyd tussen Jakob se vestiging in Egipte en die Uittog uit Egipte onder Moses as 215 jaar bereken. Die probleem met hierdie syfers kom in by die Massoretiese Teks (wat as grondteks vir ons vertalings dien). Die Samaritaanse Pentateug en die Septuagint (albei antieke vertalings uit die oorspronklike) se weergawe van Eks 12:40 lees: En die verblyf van die kinders van Israel, en hulle vaders, waar hulle as vreemdelinge vertoef het in die land Kanaän en in Egipte, was 430 jaar. (Let op: Kanaan EN Egipte). Dit word ook deur die historikus Josephus bevestig. Dus 215 jaar van YHWH se belofte aan Abraham tot Jakob se vestiging in Egipte, en 215 jaar van Jakob se vestiging in Egipte tot die Uittog onder Moses, 430 jaar in totaal. Die tydperk van 400 jaar is ‘n ander tydperk wat begin met Abraham se saad Isak en duur tot die Uittog.

Nog iets waaroor daar verskillende menings is, is die roete wat Israel gevolg het. Die roete wat Israel gevolg het, was van Raamses (Avaris) af tot by die berg Sinai. Die ligging van die berg Sinai is dus van groot belang. Hierdie berg was geleë in die land Midian (Eks 3:12), wat vandag deel is van Saoedi-Arabië. Die regte berg Sinai is eers in 1984 deur ‘n amateur argeoloog ontdek en dit is vandag bekend as Jabal al-Lawz. Die roete uit Egipte het deur die Rooi See, dit wil sê die Golf van Akaba, gelei tot by berg Sinai. Daar is oorblyfsels van strydwaens op die bodem van die see gevind. Van die berg Sinai af het hulle getrek na Kades-Barnea, die Wildernis van Paran en die Wildernis van Sin.

Die getal van die volk Israel wat uit Egipte gekom het en in Kanaan gaan woon het, is belangrik in die verstaan van verskeie gedeeltes. In Numeri word gemeld dat twee sensusse gehou is. Die eerste sensus (Num 1:1-4) word gehou in die tweede jaar na die Uittog net voor hulle vertrek na die Beloofde Land. Die tweede word gehou in die veertigste jaar na die Uittog en net na die omswerwinge in die wildernis. Met die eerste is 603,550 krygsmanne van 20 en ouer getel.  Met die tweede is 601,730 krygsmanne getel. Indien hierdie syfers korrek is, sou die hele volk wat uit Egipte gekom het omtrent 2,5 miljoen moes gewees het. Daar is heelwat redes waarom dit onwaarskynlik klink: die logistieke probleme van soveel mense met hulle vee, die vrees vir vyande wat meer en sterker as hulle is, hulle onvermoë om Kanaan ten volle in besit te neem, ensovoorts. Die Hebreeuse woord ehlef word vertaal as duisend, maar kan ook hoofman of leier beteken. Indien ehlef verkeerd vertaal is, sal die totale bevolking van Israel nie meer as 400,000 gewees het nie. Toe Jakob na Egipte verhuis het, was hulle 70 persone. Hulle het vir vier geslagte daar gewoon. Om in vier geslagte te vermeerder tot 2,5 miljoen lyk onwaarskynlik.

Hoewel dit nie werklik van hulp is vir die bestudering van Eksodus nie, is dit wel interessant om Eksodus te vergelyk met Egiptiese geskiedenis. Farao Thutmoses I (Amenoteb) het ‘n dogter Nefure (Hatsheput) gehad wat kinderloos was. Tog is daar standbeelde van haar met ‘n babaseuntjie. Hierdie baba se naam was Senmut en hy dra ‘n versiering wat sy status as erfgenaam van die troon aandui. As volwassene was hierdie Senmut ‘n hoogs opgevoede persoon wat saam met Farao Hatsheput regeer het. Senmut het, toe hy 40 jaar oud was, onder geheimsinnige omstandighede verdwyn. Sy grafkelder was nooit gebruik nie. Na sy verdwyning is amper elke beeld van Senmut se neus afgebreek as simboliese gebaar om sy gees dood te maak. Daar is een oorblywende standbeeld van Senmut waarin getoon word dat hy ‘n arendsneus gehad het – iets wat nie kenmerkend van Egiptenare was nie, maar wel kenmerkend van Israeliete was.

Hier volg die struktuur van die  “Boek van Instruksiesˮ:

BOEKROL 1: EKSODUS

Deel 1: Israel en die roeping van Moses (Eks 1 – 5)

Deel 2: YHWH se stryd teen Farao (Eks 6 – 12)

Deel 3: YHWH lei Israel uit Egipte tot by Sinai (Eks 12 – 18)

Deel 4: Die eerste verbond tussen YHWH en Israel (Eks 19 – 24:11)

Deel 5: ‘n Plek waar Israel vir YHWH kan ontmoet (Eks 24:12 – 31)

Deel 6: Israel verbreek die eerste verbond en sluiting van die tweede verbond (Eks 32 – 34)

Deel 7: Die bou van die Tabernakel (Eks 35 – 40)

BOEKROL 2: LEVITIKUS

Deel 1: Die offers wat Israel aan YHWH moet bring (Lev 1 – 7)

Deel 2: Die inwyding van die Priesterhoof en sy seuns (Lev 8 – 10)

Deel 3: Instruksies oor reinheid (Lev 11 – 15)

Deel 4: Die Dag van Toedekking (Yom Kippur) (Lev 16)

Deel 5: Instruksies aan Israel om as afgesonderde volk te leef (Lev 17 – 22)

Deel 6: Tye wat deur YHWH vasgestel is (Lev 23-25 )

Deel 7: Nakoming van die Verbond – Voorspoed en Teenspoed (Lev 26-27 )

BOEKROL 3: NUMERI

Deel 1: Voorbereidings om na Kanaan te trek (Num 1 – 10:10)

Deel 2: Die trek vanaf Sinai na Kades Barnea (Num 10:11 – 12)

Deel 3: Israel weier om Kanaan binne te gaan (Num 13 – 14)

Deel 4: In die wildernis: ‘n Nuwe geslag moet gereinig word (Num 14 – 20)

Deel 5: Die trek van Kades Barnea na Moab (Num 21)

Deel 6: Bileam, die profeet (Num 22 – 25)

Deel 7: Israel gereed vir die beloofde land (Num 26 – 32)

Deel 8: Bylaes oor verskillende sake (Num 33 – 36)

Facebooktwitterpinterestlinkedinyoutube
Facebooktwitterpinterestlinkedin